Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Amos 7:7-17
Ander tekste: Psalm 82; Kolossense 1:1-14; Lukas 10:25-37

Inleiding

Die Here sal sy volk en die koningshuis van Jerobeam nie meer spaar nie. Hy gaan met die swaard optree. Amos bots met priester Amasia en koning Jerobeam.
God is moeg vir onregverdige beslissings.
Die Kolossense is bekend vir hulle liefde.
Die barmhartige Samaritaan – hoe ’n medemens is jy?

Dienorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Sien Basisliturgie vir tekste uit Amos.

Wet
Lukas 10:25-37 – Barmhartige Samaritaan

Vryspraak/Genadeverkondiging
Kolossense 1:12-14

Diens van die Woord

Gebed
God van geregtigheid, U het deur die eeue u profete geroep om vol te hou om u Woord te verkondig ten spyte van mense se hardheid van hart; om veerkragtig aan te hou glo ten spyte van mense se onnosele papheid van gees.

Daarom bid ons vandag weer vir almal wat die moed openbaar om nié stil te bly oor onreg nie; vir almal wat herhaaldelik weggestuur of geïgnoreer word, maar tog nie ontmoedig raak nie; wie se onverskrokke geloof magtiges laat weifel het en wie se koppige humor in die haglikste situasies hulle broers en susters nuwe moed gee. Kortom Here: Ek bid dat U die aarde vol sal maak van die kennis van die Here soos die see vol water is. Amen.
Anoniem (uit Naude, P: Gebedeboek vir die lewe. LUX VERBI.BM 2007, bl 287

Kindertyd

Diens van die tafel

Formulier
Voorganger: Die Here vra ons om uit dankbaarheid sy gebooie te gehoorsaam.
Gemeente: Wat is die grootste en eerste gebod?

Voorganger: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand en jou naaste soos jouself.
Gemeente: En wie is my naaste?

Voorganger: (Gee ’n kort opsomming van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan en eindig met die vraag (soos in die gelykenis): Wie is volgens julle die naaste van hom wat onder die rowers verval het?
Gemeente: Die wat aan hom medelye bewys het.

Voorganger: Gaan maak julle ook so
(uit: Wepener, Cas: Aan tafel met Jesus BM 2010,bl 67-6).

Uitsending

Seën
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef;
Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede;
Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar, sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander;
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie (Ou Franciskaanse seënbede).

Musiek en sang

Toetrede/Drumpellied: Psalm 33:1-2; 471; 504; NSG 149
Aanbidding/Lofsang: Lied 186; 190; 203; 270; 282; NSG 33
Skuldbelydenis: Lied 338
Lied na die formulier: Liedboek 353:1-2
Toewyding/Slotlied: Lied 283; 326

Preekstudie - Amos 7:7-17

Teks

Amos is deel van die sogenaamde klein profete. Hy word bekendgestel as ’n landbouer uit Juda wat opgetree het in Israel tydens die regering van koning Jerobeam II (786-746 vC). In die groter politieke arena het die Assiriese mag toegeneem en sou hulle verantwoordelik wees vir die vernietiging van Israel in 722 vC. Volgens die Deutronomis (2 Kon 14:23-29) was Jerobeam nie ’n goeie koning nie en het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. As mens egter sy regering vanuit politieke en ekonomiese oorwegings beoordeel, het hy Israel ’n fase van groei en voorspoed laat beleef. Hy het die grense in die Noorde en Suide herstel. Jerobeam het dus oor ’n tyd van vrede heen regeer en in vrede gesterf. Sy seun is egter vermoor en jare se politieke omwentelinge het gevolg tot en met die ballingskap in 722 vC. Hierdie tydperk van vrede en voorspoed het egter gemaak dat die gaping tussen ryk en arm groter geword het. Volgens argeologiese opgrawings is daar in dié tyd groter huise gebou as vroeër. Amos self praat van winters- en somershuise (3:15). Die kultus het floreer rondom die heiligdomme en die offersisteem. Bet-El was die hoofheiligdom, gekoppel aan die koningshuis van Jerobeam. Die woord van ’n man vanuit die buurstaat wat homself ’n profeet noem, sou nie so goed ontvang gewees het nie, veral nie omdat dit ’n woord van oordeel was nie.

Die boek Amos bestaan uit orakels (1:2-6:14), asook eerstepersoonsvertellings van gesigte (7:1-9; 8:1-3), ’n derdepersoonsnarratief (7:10-17) en poëtiese orakels (8:4-14; 9:7-15). Soos meeste Ou-Testamentiese literatuur is die finale vorm van die boek die produk van ’n periode van byvoegings en interpretasies. Volgens McCann was die boek moontlik geredigeer na die val van die Noordryk en gebruik om ook die Suidryk van Juda op te roep tot bekering.

Die perikoop vir die spesifieke Sondag is die derde gesig wat Amos ontvang het. In die eerste twee gesigte (7:1-6) het Amos vir die volk ingetree en God het van sy voorneme afgesien om Israel te straf. In die derde en die vierde gesigte het God egter nie van sy oordeel afgesien nie.

Vers 7-8. “. . . en daar was ’n skietlood in my hand”. Vertalers het al deur die jare kopgekrap om die gedeelte te verstaan. Die woord vertaal as “skietlood” kom nêrens anders in die Ou Testament voor nie. Dat Amos die Here sien by ’n loodregte muur het vir baie vertalers moontlike kontekste oopgemaak vir vertaling. Die Akkadiese woord waar die verband gesoek gaan word (anak) is meestal vertaal met lood of “lead plummet”, as metafoor van God as bouer wat die bouwerk afkeur. ’n Skietlood (plumbline) was ’n instrument met ’n stuk lood aan die punt wat gebruik is om te bepaal of ’n muur vertikaal is, anders moet dit afgebreek en oor gebou word.

’n Ander moontlike vertaling is: “stood by a wall of tin with tin in his hands.” Hierdie vertaling open verstaanshorisonne rondom ’n wapen- en oorlogvoeringsmetafoor. Die Here plaas wapens in die midde van sy volk. Binne die groter oordeelsboodskap van die perikoop word die mag wat eers beskerm is, nou ’n destruktiewe mag. God wat eers nie wou straf nie, word nou die Een wat oordeel. Die vertaling pas by die woorde in vers 9, waar die swaard teen Jerobeam se huis gebruik sal word.

Stuart (Word Bible Commentary) vertaal dit ook as “tin” en beskou skietlood as “never more than a guess”. Die “tin” word egter deur hom nie geïnterpreteer op grond van die idee van wapens nie, maar as tipe paronomasia. Die Akkadiese anak van tin, is gekoppel aan die woord “anap/anah”, met die betekenis van kla (“moaning”). Ook in die vierde gesig in Amos 8 is daar woordspel tussen dit wat Amos sien en die betekenis daarvan.

Die Direkte Vertaling (soos op webtuiste van Bybelgenootskap) vertaal dit met “harde metaal” en kies juis eerder vir die oorlogsmetafoor as die boumetafoor: “Dit het my laat sien: ‘Kyk, my Heer het gestaan by ’n muur van harde metaal. In sy hand was daar ’n voorwerp van harde metaal’.”

Vers 8. Amos word op sy naam aangespreek. Die gesig word op ’n intieme manier bemiddel. Amos bevestig net wat aan hom gewys word. Baie kommentare wys daarop dat Israel nog steeds deur God “my volk” genoem word, te midde van oordeel.

Vers 9. Stuart beklemtoon die drievoudige oordeel wat gepaard gaan met die noem van drie name: Isak, Israel en Jerobeam. Die hoogtes dui op aanbiddingsplekke wat nie noodwendig vir Jahwe was nie. Die fokus is die koningshuis van Jerobeam. Jerobeam II se voorvader, Jerobeam I, het ’n klomp staatsheiligdomme opgerig na die verdeling van die stamme, Israel en Juda in 922 vC. Die heiligdomme, veral in Dan en Bet-El (Noorde), moes kompeteer met Jerusalem in die Suide. Hy het goue kalwers opgerig as kultiese simbole. Hy het ook die Levitiese priesterskap afgewys, asook priesters uit die bevolking bevestig en ander tye ingestel vir die Herfsfees. Die staatsgodsdiens het sodoende bloot ’n verlenging geword van sy eie dinastie. Die heiligdom by Bethel was dus die heiligdom van die koning, met ’n sterk politieke betekenis.

Vers 10-13. Die verse bevat die enigste biografiese narratief in die boek. Die woorde teen die hoogtes en heiligdomme het konfrontasie veroorsaak met Amasia. Amasia, die priester by Bet-El die staatsheiligdom, het Jerobeam II gewaarsku teen Amos. Amasia het Amos aangekla van sameswering teen die koningshuis. Amasia wil Amos weghou van die heiligdom en wys so dat sy lojaliteit by die koning lê; nie noodwendig by die woord van God nie. Hy maak Amos af as “siener” en dat hy nie “pas” by die heiligdom nie.

Vers 14-15. Amos plaas homself buite die profetekring. Daar is baie geskryf oor die presiese aard van sy boerdery en agtergrond, maar dit is belangriker om te hoor hoe hy sy eie identiteit verstaan het. Amos beskou homself nie as ’n betaalde amptenaar nie. Hy is die ontvanger van God se woord.

Vers 16-17. Parallelisme met Israel en Isak. Die oordeel oor Amasia vertoon redelik die standaardinhoud van sulke oordele. Die kern is dat die priester wat reinheid in stand moet hou, in ’n onrein land gaan sterf.

Konteks

Van die ander RCL-tekste vir dié Sondag in Koninkrykstyd, is veral Lukas 10 en Psalm 82 van belang. Psalm 82 is van die oudste psalms waarin die optredes van die goddelose duidelik uitgewys word. Dit stem baie ooreen met dit wat Amos gepreek het. Die psalm kan met vrug in die liturgie ingeweef word. Lukas 10 vertel die gelykenis van die barmhartige Samaritaan wat in die lig van die Amos-perikoop die optrede van die “heiligdom” (priester en Leviet) ontbloot dat hulle nie die ware wil van God verstaan nie. Die oordeel van God staan sentraal in die perikoop. Oordeel en straf is altyd ’n sensitiewe tema. Ook in die prediking van die perikoop moet die prediker verstaan dat die oordeel nie buite die konteks van die hele Amosboek verstaan kan word nie. Die motivering word tog in die groter konteks van Amos se dag en sy voorafgaande woorde gevind.

Enige lees van hierdie “gesig” van Amos moet tog begin met die woorde: “Hoekom oordeel?” Dit moet die leser weer terugvat na voorafgaande hoofstukke. Amos se woorde skets ’n samelewing waar reg en geregtigheid nie nagejaag is nie. Mense is in hulle weerloosheid op verskillende maniere uitgebuit. Die heiligdomme het floreer maar mense het krepeer, terwyl weelde en oorvloed die wet van God verberg het. Finley skryf dat Amos gepraat het met mense wat “religious” was maar nie “righteous” nie.

Blenkinsopp verstaan Amos se aanklagte in lig van die riglyne in die Verbondskode. Hy beskou Amos as “much more concerned to excoriate a violent, oppressive, and exploitative society”. Vir Blenkinsopp bevat die oordeelgesigte in Amos die boodskap: “. . . that a society which neglects justice and righteousness does not deserve to survive.” Amos het die aanbidding by Bet-El as waardeloos beskou, want dit het nie ekonomiese geregtigheid ingesluit nie.

Die oordeel is dus gekoppel aan hierdie insigte. God het nie teen Israel gekies nie, Israel het teen God gekies en hulle gaan die gevolge van hulle ongeregtigheid ervaar. Die oordeelsboodskap help ons ook om God se wil te verstaan; wat vir God belangrik is. Die skrywer het insig dat die misbruik van die kultus en die uitbuit van armes genoegsame grond is vir God se oordeel. Miskien lê die insig nie in die debat of God se straf nie, maar eerder in wat Bybelskrywers as verkeerd identifiseer het om sodoende God se hart te verstaan. Woede openbaar ons harte. Dit waaroor ek kwaad word, sê iets oor wie ek is.

Verstaan van die perikoop het ook te make met die vertaling van Amos se derde gesig of visioen. Is dit skietlood of is dit harde metaal? Is dit ’n boumetafoor of ’n wapenmetafoor? Op grond van die verskille in vertalings is dit miskien eerder belangrik om daarop te fokus dat die gesig God se oordeel teenoor die koningshuis van Jerobeam en die hele Israel beskryf. Die oordeel is hier gegrond op die vervanging van die ware aanbidding van God in reg en geregtigheid, met die oorneem van die heiligdom deur die belange van die koning. Die ander tema wat dwarsdeur Amos voorkom, is Israel se spesiale verantwoordelikheid, as deur God gekies, maar dat hulle nie die verantwoordelikheid nagekom het nie.

Die gemeente lees heel moontlik die 1983 Afrikaanse Vertaling van die Bybel, wat hier vertaal met die “muur” en die “skietlood”. In terme van die boumetafoor hoor ons God se oordeel dat die muur nie die toets slaag nie. Luister hoe Ferdinand Deist dit verwoord in sy boek, ’n Veesmous preek in Samaria. Dit is ’n narratiewe oorvertelling van die boek Amos: “God meet die ‘volk’ met sy skietlood, wat sy Wet is. Hy het ons fondamente gelê die dag toe ons voorvaders uit Egipte hier aangekom het. ‘Ons’ was van toe af die mense wat op daardie fondament gebou het. Nou kom God kyk hoe ons gebou het, en Hy vind dis alles knoeiwerk. Die muur wat ons opgetrek het, gaan omval en baie mense doodval.” En later: “Maar die bouwerk wat ons vir God moet doen, is om reg te doen teenoor ander mense en geregtigheid te laat regeer in alles wat ons doen.”

Die oomblik as die harde metaal of “tin” die gekose vertaling word, dan klink dit asof God die wapens toelaat in die stad. Hy wat hulle beskerm het, word nou die vyand. Beide die vertalings bring ons egter weer op ’n plek waar daar ’n krisis in die verhouding tussen God en Israel is en dat God Israel oorlaat aan hulle eie dade. In die geheel herinner die profesie van Amos Israel daaraan dat God ook die God van die nasies is en nie net die God van Israel nie.

Brueggemann praat van die “default of the potter, gardener, shepherd, mother, or doctor that brings trouble on Israel”. Daar waar ’n spesifieke orde nie geëer word nie, kom oordeel. Een so ’n voorbeeld volgens Brueggemann is Amos 7. Ons kan dan amper sê dat God die bouer of God die kryger, nou teen Israel draai. Die sorgmetafoor word nou een van oordeel.

Brueggemann maak ook die opmerking dat ’n profeet soms ’n krisis skep. Eintlik het dit op die oog af goed gegaan in Israel; voorspoedig en vol vrede. Amos kom wys net op dit wat misgekyk is, naamlik dat God se wil nie gerealiseer het nie. Brueggeman skryf: “Or perhaps it is better to say that the appearance and utterance of the prophets evokes a crisis circumstance where none had been perceived previously. That is, the prophets not only respond to crisis, but by their abrupt utterance, they generate crisis.” Amasia probeer hierdie krisis keer, deur Amos weg te stuur sodat die koningshuis nie gesteur word nie.

Limburg skryf in hierdie verband: “Authentic ministry . . . ought to comfort the afflicted but also afflict the comfortable.” Amos het juis dit gedoen. Dit is ’n uitnodiging aan elke prediker vir elke generasie. Hoe lyk outentieke bediening vandag?

Daar is baie temas in die boek Amos opgesluit. Ons perikoop fokus veral op die verhouding tussen die kultus en die politieke mag; mag begin om God se woord te verdring, godsdienstige praktyke verhinder die ware aanhoor van God se woord. Hoe lyk profetiese prediking vandag? Is dit gewortel in die woord van God? Is ons hier te lande bewus van wat gebeur as kerk en staat te naby mekaar is? Die Woord word onderdruk as mense se agendas belangriker word. Bet-El wat aan God behoort het, is deur Amasia vir Jerobeam oorgeneem.

Van Leeuwen herinner dat God soms praat deur iemand anders as die instituut, in terme van direkte eietydse taalgebruik. Die gevaar is dat die instituut godsdiens tydloos kan maak en sodoende nie die konteks van die dag aanspreek nie. Volgens hom kan die profete ons leer om in die prediking nie te vlug na die sakrale en geykte algemene waarhede nie, maar die spesifieke probleme van die kontemporêre lewe aan te spreek. So kan die prediker ook sy of haar konteks in ag neem en met erns aanspreek.

Preekvoorstel

Amos het opgetree in ’n tyd van voorspoed en vrede vir die Noordryk Israel onder die koningskap van koning Jerobeam II. Dit het op die oog af ekonomies en polities goed gegaan. Daarom kan ons die woede van Amasia, die hoofpriester van Bet-El, verstaan as Amos, ’n “nobody” van Juda, daar aangeloop kom en God se oordeel aankondig.

Die perikoop vir vandag bevat Amos se derde gesig sowel as sy konfrontasie met Amasia. Om die gesig en Amasia se reaksie te kan verstaan, vra om die groter prentjie in ag te neem. Amos se boodskap dwarsdeur die hele boek is dat die voorspoed van Israel gepaardgegaan het met die uitbuiting van die weerloses. Die uitbuiting is ook gekoppel aan die heiligdomme wat as besighede funksioneer het.

Jerobeam se voorvader Jerobeam I het juis Bet-El as heiligdom van die Noordryk begin om as opposisie te dien vir Jerusalem in die Suide. Met tyd het Bet-El die politieke heiligdom geword wat die Jerobeam-dinastie bevestig het. Uiteindelik het dié dinastie belangriker geword as God se Woord.

Te midde hiervan ontvang die profeet sy gesigte. Die derde gesig het baie vertalers al laat kop krap. In die 1983 Afrikaanse Vertaling is die woord “skietlood” wat dui op ’n boumetafoor met die bedoeling dat ’n muur nie regop genoeg is nie. Ander vertalers vertaal dit met “tin” of “harde metaal”. Die rede vir die verwarring is dat die woord nêrens anders in die Ou Testament voorkom nie. Die belangrike punt is dat God nie tevrede is nie. Israel is nie meer sy beskerming waardig nie. Dit is juis hierdie woorde van oordeel wat Amasia ontstel.

Dit was deur die eeue nog altyd moeilik vir die kerk om haar profetiese rol te vervul. Om die magte van die dag aan te vat en te herinner aan wat reg is. Dit is ten diepste die rol van ’n profeet. ’n Profeet herinner aan die wil van God. ’n Profeet onderskei tussen God se wil en die politieke of ekonomiese agendas van die dag. So ken ons baie profete wat sogenaamde “Christelike” regerings deur die jare gekonfronteer het juis omdat hulle hulle ware roeping begin vergeet het. Ons kan hulle opnoem: Oscar Romero, Martin Luther King, Beyers Naude, en so meer.

Amos was egter nie by die paleis nie. Hy was by die heiligdom. Die plek van aanbidding wat suksesvol en besig was. Een kommentaar het geskryf: “. . . meanwhile they worshipped up a storm at Bethel.” Tog, te midde van al die kultusbedrywighede, het hulle die Woord van Amos afgemaak en weggewys. Eintlik die Woord van God.

Die boek Amos kan ons lank besig hou en aanspreek. Die onderskeidingsvermoë van elke generasie geestelike en politieke leiers word gekonfronteer. Dit bevat die uitdaging om die belange van die kerk en die self gedurig te weeg. Amos laat ons nie toe om sagkens te praat nie. Hy herinner ons aan Jesus in die tempel. Jesus wat woedend die geldmakers se tafels omgooi.

Limburg het geskryf: “Authentic ministry . . . ought to comfort the afflicted but also afflict the comfortable.” Miskien moet ons vandag onsself afvra: Wat sien ons raak in hierdie oordeelsboodskap? Wat sê dit vir ons van God se hart? Sy hart kan nie anders as om kwaad te word as die weerloses in sy Naam uitgebuit word nie. Hoe ernstig neem ons nog ons eie verantwoordelikheid op om God se woord gedurig profeties te laat praat, ten spyte van die ongemak en woede wat dit loslaat?

Maar, bowenal, moet ons onthou dat profetiese optrede nie slegs vir spesifieke mense beskore is nie. Ons almal, elke dag, word uitgenooi om te sif tussen God se woord en politieke en ekonomies mag. Om nie altyd saam te praat of bloot stil te bly nie. Miskien is dit goed om te weet dat Amos eintlik ’n “nobody” was, om elke gelowige te herinner dat profetiese dade ook klein is, klein simboliese keuses wat die instellings en magsbasisse van ons dag relativeer.

Bibliografie

Brueggemann, W 1997. Theology of the Old Testament. Testimony, Dispute, Advocacy. Minneapolis: Fortress Press; Deist, F 1991. ’n Veesmous preek in Samaria. JL van Schaik; Finley, T J 1990. Joel, Amos, Obadiah. An exegetical commentary; Jeremias, J 1998. “The Book of Amos. A Commentary” in Old Testament Library; Konig, A 1974. Profeet Amos. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers; Limburg, J 1988. “Hosea-Micah”. Interpretation. A Bible Commentary for teaching and preaching. Atlanta: John Knox Press; McCann, J C 2001 in Van Harn, R E (ed) The Lectionary commentary. William B Eerdmans; Stuart, D 1987. “Hoseah to Jonah.” in Word Biblical Commentary. Waco, Texas: Word Books; Van Leeuwen, C 1985. “Amos” in De Prediking van Het Oude Testament. Callenbach.

© Missio 2024 | All rights reserved.