Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Koninkrykstyd vestig ons aandag op die betekenis daarvan om Jesus Christus as ons Koning en Heerser te bely. God se heerskappy in ons lewe laat ons anders leef. Dit gaan nie net oor die belydenis met die tong nie, maar ook oor die belydenis met ons dade … hoe ons kyk en wat ons doen.

Die uitdaging vir hierdie week is om die liturgiese elemente te laat meewerk aan die verstaan en belewenis dat verlossing veel meer inhou as ons plek in die hemel wat verseker is. Die roeping van gelowiges om die hemelse heerlikheid, die koninkryk van God, sigbaar te maak in ons dade van liefde en sorg teenoor die hulpeloses en noodlydendes, kan liturgies kreatief beklemtoon word. Die vrae in die teks: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” en: “Wie is my naaste?” kan gebruik word om erediensgangers in te lei in die waarheid van God se koninkryk. Dit is ook ‘n gulde geleentheid om kinders te begelei in die betekenis van die koninkryk van God.

Sleutelteks

Lukas 10:25-37
25En kyk, ‘n sekere wetskenner het opgestaan om Jesus te toets en Hom gevra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” 26Jesus sê toe vir hom: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?” 27Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” 28“Jy het reg geantwoord,” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit, en jy sal leef!” 29Maar hy wou homself regverdig, en het toe vir Jesus gevra: “En wie is my naaste?”

30Hierop het Jesus geantwoord: “‘n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo, en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan, en hom half dood agtergelaat. 31‘n Priester het onvoorsiens met daardie pad langs afgegaan en toe hy hom sien, het hy aan die ander kant verbygegaan. 32En net so het ook ‘n Leviet by die plek aangekom, en toe hy hom sien, het ook hy aan die ander kant verbygegaan. 33Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daaroor gegiet. Toe help hy hom op sy eie rydier, neem hom na ‘n herberg en versorg hom daar. 35Die volgende oggend haal hy twee denarius uit, gee dit vir die herbergier en sê, ‘Versorg hom, en wat jy ook al bestee, sal ek jou betaal wanneer ek terugkom.’ 36Wie van hierdie drie, dink jy, was ‘n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?” 37En hy het geantwoord: “Die een wat ontferming aan hom betoon het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

Ander tekste

Amos 7:7-17
Die derde gesig: ’n Skietlood

7Hy het my ’n gesig laat sien: Die Here het by ’n loodregte muur gestaan, en daar was ’n skietlood in sy hand. 8Hy het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? en ek het gesê: “’n Skietlood.”
Toe sê die Here vir my:
Ek gaan ’n skietlood aanlê
in my volk Israel,
Ek gaan hom nie meer spaar nie.
9Die hoogtes van Isak sal verwoes word,
die heiligdomme van Israel
sal in puin gelê word,
en Ek sal met die swaard optree
teen die koningshuis van Jerobeam.

Amos en Amasia
10Die priester Amasia van Bet-El het vir koning Jerobeam van Israel laat weet: “Amos is besig om hier in Israel ’n komplot teen u te smee. Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie. 11Amos het gesê Jerobeam sal deur die swaard sterf, en Israel sal uit sy land in ballingskap weggevoer word.”

12Amasia het vir Amos gesê: “Maak dat jy wegkom, siener, gaan na Juda toe en verdien jou brood daar, tree daar as profeet op! 13In Bet-El mag jy nie meer as profeet optree nie, want dit is die koninklike heiligdom, die staatstempel.”

14Amos het toe vir Amasia geantwoord: “Ek is nie so ’n profeet nie en ek behoort nie tot die profetekring nie, ek boer met vee en kweek wildevye. 15Maar die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel.

16“Hoor dan nou die woord van die Here! Jy sê ek moenie as profeet optree teen Israel nie, ek mag nie as siener teen die nageslag van Isak praat nie. 17Maar so sê die Here:
Jou vrou sal ’n prostituut word
in die stad,
jou seuns en jou dogters sal
met die swaard afgemaai word,
jou grond sal tussen ander verdeel word,
jy sal in ’n onrein land sterf,
en Israel sal in ballingskapweggevoer word uit sy land uit.”

Psalm 82
God beskik oor al die nasies
82 ’n Psalm van Asaf.
In die hemelse vergadering,
tussen die hemelwesens,
staan God op om uitspraak te lewer:
2“Hoe lank gaan julle nog
onregverdige beslissings vel,
nog partydig wees vir die goddelose? Sela
3Julle moet reg laat geskied
aan die mens in nood
en aan die weeskind,
’n regverdige uitspraak vir die hulpelose
en die behoeftige lewer,
4julle moet die mens in nood
en die arme bevry,
hulle uit die mag van die goddelose red;
5maar julle weet niks,
julle verstaan niks,
julle gaan eenvoudig in duisternis voort,
en so word die fondamente
van die wêreld geskud.
6Ek het wel gesê:
Julle is almal gode,
almal met mag beklee.
7Maar nou, julle sal elkeen sterwe
soos ’n mens
en aan julle einde kom
soos enige maghebber.”
8Kom tog, o God! Lewer uitspraak
oor die wêreld,
want al die nasies
behoort aan U.

Kolossense 1:1-14
1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.
2Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

Ons dank God vir julle
3Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle 4omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. 5Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. 6Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. 7Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en ’n getroue dienaar van Christus in julle belang. 8Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.

Ons bid vir julle
9Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. 11Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. 12Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. 13Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. 14Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes

Ekstra stof

Teks en konteks
10:25 Let op hoe dié vraag kom net ná die Here Jesus Hom verheug het dat God diep geheime vir eenvoudiges bekend gemaak het. ‘n Wetgeleerde (nomikos –”legal expert”) het opgestaan en hom probeer slim hou, slim genoeg om Jesus te probeer uitvang.

Die wetgeleerde noem Jesus “Leermeester” – wat ‘n bietjie van ‘n heuningkwas impliseer – en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te kan ontvang.

10:26 Jesus antwoord soos ‘n goeie Leermeester met ‘n weervraag om agter te kom wat die wetgeleerde dink. Hy verwys die wetgeleerde na die wet – siende dat hy ‘n ekspert in die reg is – om die essensie daarvan met Jesus te deel.

10:27 Die wetgeleerde antwoord dan met ‘n opsomming uit die wet, die dubbele liefdesgebod. Hy noem die normale drie dimensies uit die wet waarmee God liefgehê moet word – hart, siel en krag – en voeg “hele verstand” by (Deut. 6:5 – onthou dat die hart vir die gedagtewêreld in Hebreeus gebruik is). Daarby kom die gebod tot naasteliefde (Lev. 19:18).

Jesus het natuurlik presies hierdie selfde antwoord gegee aan ander persone (Mark 12:28-34; Matt 22:34-40; vgl. Jos 22:5). Wat dui daarop dat dié opsomming ‘n wye aanvaarding geniet het.

10:28 Jesus prys hom dat hy reg geantwoord het. Doen dit en jy sal lewe.

10:29 Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf deur te vra wie is sy naaste. Hy het waarskynlik vergeet dat die wet reeds baie helder is oor wie die naaste is (Lev. 19:20). Meer nog, die gebod om die naaste lief te hê is reeds in dieselfde hoofstuk in Levitikus 19 uitgebrei om die vreemdelinge in te sluit (Lev. 19:34). Die naaste was dus van die begin af universeel bedoel.

10:30-35 Waarop Jesus die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan vertel en die vraag van die wetgeleerde omkeer na: “Vir wie is jy ‘n naaste?”

‘n Man – sonder identiteit, Jan Alleman, die universele naaste – is gewelddadig aangeval deur rowers op die pad van Jerusalem na Jerigo in die noorde. Die pad daal so ‘n 1 000 meter en is ongeveer 24 km ver. Ironies genoeg, dieselfde pad wat Jesus binnekort sou aandurf. Hulle het hom halfdood en nakend agtergelaat.

Jesus kies dan mense vir sy gelykenis wat direk tot dié wetgeleerde sal spreek – mense uit sy eie omgewing, mense vir wie hy sou bewonder en soos wie hy selfs sou wou wees. Die priester en die Leviet. Albei gaan egter aan die anderkant verby en help nie die man wat onder rowers deurgeloop het nie. Hulle was besig om van die tempel af weg te gaan. So, rituele reinheid was nie ‘n kwessie nie. Hulle wou die man doodeenvoudig nie help nie.

Jesus kies ook die barmhartige Samaritaan, mense wat die wetgeleerde sou verafsku en wat hy self sou wou vermy. Dit is hy wat die man innig jammer kry, nadergaan, sy wonde versorg met olie en wyn, en hom op sy eie rydier tot by ‘n herberg vervoer waar hy vir hom betaal dat hy daar kon herstel.

Deur hierdie mense te kies, kan Jesus die wetgeleerde se gebrek aan omgee op die beste diepsinnige wyse illustreer. Want, anders as wat die wetgeleerde sou verwag het, is dit die gehate Samaritaan, die een wat van gemengde afkoms is, die een wat nie die hele Skrif as God se Woord aanvaar het nie, wat die held in die verhaal is.

10:36 Jesus draai dan die vraag van die wetgeleerde om en vra daarom wie die naaste geword het van die man wat onder rowers beland het. Die man kon nie anders as om die Samaritaan uit te wys nie. Let egter op dat hy net praat van die “een wat barmhartigheid aan hom bewys het.” Dit is egter genoeg vir Jesus om hom aan te raai om self so te leef, om ‘n naaste te wees, want dit is wat die tweede liefdesgebod van ons vra.

Boodskap en betekenis
Die dubbele liefdesgebod kan natuurlik op verskillende maniere verstaan word.

Die wetgeleerde het dit moontlik as ‘n pad gesien waarop jy God se genade kan verdien. Vandaar sy volgende vraag oor sy naaste, omdat hy waarskynlik geweet het dat die antwoord op daardie vraag baie bepalend kan wees vir jou sukses op só pad.

Jesus het daarom in sy laaste gesprekke met sy dissipels ‘n nuwe liefdesgebod vir hulle gegee. Om mekaar lief te hê soos Hy hulle liefgehad het (Joh. 13:34). Ons liefde is ‘n reaksie op sy liefde. Dit word uit dankbaarheid gebore, nie uit plig nie. Dit is ook hoe die Tien Gebooie vroeër aan die volk verkondig is. Dit is omdat hulle God se volk is, en Hy hulle uit Egipte gered het, dat Hy van hulle kan verwag dat hulle Hom sal liefhê en hulle naaste soos hulleself.

Die Barmhartige Samaritaan
Hoe voel jy oor mense wat jou te na kom? Wat jou inloop? Wat jou verneder? Wat jou as minderwaardig beskou?

Aan die een kant is die Skrif duidelik daaroor dat jy sulke mense moet uitlos. Hulle aan die Here moet oorgee. Nie jou tyd moet mors om hulle anders te probeer oortuig nie. Soos Jesus aan die begin van Lukas 10 gesê het met die uitsending van die sewentig dissipels: “as julle in ‘n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle.'” (Luk 10:10-11). Jesus het daarby gevoeg dat sulke mense aan die einde van die tyd hulle oordeel sal ontvang: “Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” (Luk 10:16).

Aan die ander kant is die Skrif ook duidelik daaroor dat ‘n mens nooit iemand in nood kan uitlos nie. As ‘n vyand se donkie gaan lê onder sy las, mag jy hom nie aan sy lot oorlaat nie, sê die Here vir Moses (Eks 23:5).

Die gevaar was daar dat die dissipels hierdie strategie van laat-los só omarm dat hulle al hoe meer mense aan hulle lot sou oorlaat, selfs waar hulle moontlik ontvanklik vir die evangelie kon wees. Die dissipels het immers net voor hulle groot sending uitreik ‘n probleem opgetel in Samaria. Daar was ‘n dorpie van die Samaritane wat die dissipels nie wou toelaat om vir Jesus daar verblyf te reël nie (Luk 9:51-55). Die Samaritane het agtergekom dat Jesus na Jerusalem op pad was. Hulle het ‘n hewige renons in Jerusalem gehad, omdat hulle Samaria as hoofstad beskou het. Hulle het Jerusalem gehaat en alles waarvoor dit gestaan het.

Dit was boonop ‘n wedersydse haat. Die Samaritane was van ‘n gemengde afkoms, en die Jode het soveel waarde geheg aan hulle suiwer stambome. Hulle kon dit nie verdra dat die Samaritane ‘n mengsel van Jode was wat met ander nasies ondertrou het in die tyd na die eerste ballingskap nie.

So, Jesus kon nie by die Samaritane oorbly nie. Hy was vir hulle net nie aanvaarbaar nie. Hulle het Hom weggejaag. Die dissipels was briesend daaroor. Hulle wou die Samaritane ‘n les leer. Jakobus en Johannes – die twee broers wat Jesus “die seuns van die donder” genoem het (Mark 3:17) – wou vuur uit die hemel laat neerdaal om hulle te verteer, soos ‘n Elia van ouds (2 Kon 1).

Jesus het hulle egter tereg gewys daaroor. Die tyd vir oordeel sou kom, maar eers aan die einde van die tyd. Dit was nou die tyd van genade. Jesus wil nie hê sommige mense moet verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal tot bekering moet kom (2 Pet 3:9).

Dit is waarom hierdie verhaal van die Barmhartige Samaritaan vertel word, om die dissipels te help om die tyd van genade te kan verstaan.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 526 of Vonkk 243 [bekend]

Votum: Klaagliedere 3:22-23 BDV

Seëngroet: (n.a.v. Kolossense 1:2)

Lofsang: Lied 334 of Flam 144

Wet: Heidelbergse Kategismus 4

Verootmoediging: VONKK of Lied 250 of Flam 145

Genadeverkondiging: Kolossense 1:3-5, 9-14

Geloofsbelydenis: Flam 5 [bekend]

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 10:25-37

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang: Lied 530 of VONKK 158 [bekende melodie] of Flam 517 [waarskynlik bekend – Amazing Grace]

Wegsending

Respons: Lied 533

God nooi ons uit en ons kom tot rus

 Rus

Toetrede
Lied 526 “Ubi Caritas” of
Vonkk 243 Laat my nooit die grond verlaat nie [bekend]

Votum
(Klaagliedere 3:22-23 BDV)
Dit is deur die troue liefde
van die Here dat ons
nie omgekom het nie,
ja, sy ontferming ken geen einde nie.
Dit is elke oggend weer nuut –
groot is u getrouheid.

Seëngroet: (n.a.v. Kolossense 1:2)
Aan almal in [gemeente] wat aan God behoort, getroue broers en susters in Christus. Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

Lofsang
Lied 334 “God is Liefde!” juig ons harte”
Flam 144 God Is Liefde

Wet
Heidelbergse Kategismus 4: Liturg: Wat eis die wet van God van ons?
Gemeente: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Verootmoediging
VONKK 57 Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod of Lied 250 “Gods wet vra al ons liefde” of
Flam 145 Hier Is Ek

Genadeverkondiging
Kolossense 1:3-5, 9-14

Geloofsbelydenis
Flam 5 Daar is geen grens [bekend]

Liedere

VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod”
Johannes 13:34-35 Teks: A new commandment I give unto you – Roy Crabtree; Afrikaanse teks: Daleen Kruger 2008 (Pro Deo)
Melodie: NEW COMMANDMENT – Roy Crabtree Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Andy Silver Kantoryverwerking: Albert Troskie 2011 (Pro Deo) © Melodie en klavierbegeleiding: Roy Crabtree
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Die Wil van God / Liefde, Dankbaarheid en Diens

Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê,
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.

VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe” 
Teks: Jacques Louw 2011 © Melodie: ELLACOMBE – Wurtemberg 1784; Mainz 1833 Orrelbegeleiding: Tradisioneel
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

VONKK 243 “Laat my nooit die grond verlaat nie”
Teks: Koos du Plessis 1983
Melodie: GEBED – Koos du Plessis 1983
Orrelbegeleiding 1: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
Klavierbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2014 ©
© Orrelbegeleidings, klavierbegeleiding, kantory-verwerking en musikale verryking: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Teks en melodie: Incline House. Met toestemming gebruik.
RUBRIEK: Kontemporêr – Gebede / Oggend- en Aandliedere

1. Laat my nooit die grond verlaat nie.
Laat my in u skadu bly.
Gee dat elke aardse vreugde en vrees
eind’lik nietig word vir my.
Elke afdraaipaadjie ken ek.
Elke keer het ek gedwaal.
Elke keer het U my iewers kom haal.
Maak dit, Heer, die laaste maal.

2. Elke dag is ’n gedagte,
elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem,
net ‘n skadu teen die muur.
Wat ek is, is net genade,
wat ek het, is net geleen.
Eintlik smag ek na u waters van rus.
Lei my, Heer, vanaand daarheen.
Lei my, Heer, vanaand daarheen.

F5. “Daar Is Geen Grens
(RUBRIEK: Flam – Verwondering)
Oorspronklike titel: The Steadfast Love
Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1974, 1975 Celebration
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagl 3:22,23)

Daar is geen grens aan u guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is u trou, o Heer, my God;
groot is u trou, o Heer.

F144. “God Is Liefde “
(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

God is liefde,
juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef,
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

F145. “Hier Is Ek”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Teks en musiek: Retief Burger
© 2005 Urial Publishing
(Luk 15:11-32, Jer 3:19-22, Jes 1:18, Ps 130)

1. Hier is ek met my sondesak en die stof klou aan my kleed.
Ek’t ver gekom en die reis het my gebreek.
Die verbode land van skuld en seer het my alleen gelos
en ek soek weer na my Pa se diepe sielekos …

Refrein:
Hier is ek, gebroke,
hier is ek, verlore in myself,
hier is ek, by u voete Heer,

2. Soveel keer het ek geval en my skouers deurgeskaaf
want ek bly nog glo die las moet ek self dra.
Tog is dit weer U wat na my toe aangehardloop kom
en u arms van liefde en vergifnis om my vou.

Refrein:

F517. “Ek’s losgekoop”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en vertroue)
Oorspronklik: Amazing Grace (My chains are gone)
Teks en musiek: John Newton en Chris Tomlin
Afr teks: A. Van der Colf (Genade, onbeskryflik groot, Liedboek 510) en Sonja Pieters (refrein)
Kopiereg: © 2006 Sixsteps Music

1. Genade onbeskryflik groot,
het U aan my bewys
Verlore seun, ‘n wegloopkind,
weer in die Vaderhuis

2. Ek is die naam van kind nie werd,
wou self my sake reël
My lewe kanse tyd en geld,
is nutteloos verspeel

Refrein 1
Ek’s los gekoop, geen kettings meer
My God my Redder, het reeds betaal
U liefde reën nou op my neer
Genade onbeskryflik groot

3. Maar U sien ver oneindig ver,
U sien my honger, dors
Want toe ek kom, my skuld bely,
druk U my aan die bors

Refrein 2 (x2)

My las is weg, ek’s vrygemaak
My God my Redder, het my losprys betaal
Genade reën nou op my neer
Genade onbeskryflik groot

4. Genade, onbeskryflik groot –
Daar’s fees, ek is weer tuis.
U Seun bring my – verlore mens –
Weer in die vaderhuis. (x3)

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
Lukas 10:25-37

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Vertel die storie van Emily Hobhouse: Sy was ‘n Brit – van Engeland af, wat geleef het in ‘n tyd toe die Engelse hier in Suid-Afrika kom oorlog maak het. Oorlog is altyd baie erg, baie wreed. Terwyl die boere gaan veg het in die oorlog, het die Engelse die boere vroue en kinders gevat en toegesluit in wat mense “konsentrasiekampe” genoem het. Konsentrasiekampe is soos tronke, maar dis eintlik maar net tente waar duisende mense, ook kinders en babatjies, woon. In die kampe is mense baie, baie sleg behandel. Hulle het nie kos gehad nie, nie seep nie. Dit was baie warm, of baie koud. Party mense sê dat daar in sommige van die kampe tot 50 kinders per dag dood is.

Emily was van Engeland. Sy kom in Suid-Afrika. Sy is Engels. Die Engelse en die boere maak oorlog. Emily sien hoe lyk dit in die kampe, hoe die mense – haar vyande – daar behandel word.  Nou sal ‘n mens dink sy sal lekker kry. Dis mos haar vyande! Maar Emily het gesê, “Nee! Dit kan nie so werk nie. Ons kan mense nie so behandel nie. Dit is nie reg volgens die Bybel nie.” En sy het begin werk om die omstandighede te verbeter. Sy het verslae geskryf, het vir die mense in Engeland gesê wat aangaan.

Toe die oorlog oor is, het sy vir lank in SA gebly om die mense wat deur die oorlog seergemaak is – die mense wat eintlik haar vyande moes wees – te help. Sy het vir jong meisies geleer weef en handwerk doen, sodat mense weer kon geld verdien.

So Emily het die mense gehelp wat eintlik haar vyande moes wees.

Hier is ‘n oulike inkleurprent oor vandag se Skrifgedeelte.

Bybel-Media se Woord en Fees stel voor:
Die kinders kan die bekende verhaal van die Barmhartige Samaritaan opvoer. Kies kinders om die karakters te verteenwoordig en, terwyl jy die verhaal vertel, moedig hulle aan om die rol van hulle karakters te speel. Gesels ná die uitbeelding met die kinders oor die teenstelling tussen die priester en die Leviet aan die een kant en die Samaritaan aan die ander kant. Wys laastens op die betekenis van verlossing wat nie van ons dade losgemaak kan word nie.

In 2012 se Preekriglyne het ons voorgestel:
Vertel gewoon die verhaal!

Druk die 10 Gebooie op 10 verskillende papiere. Lees die opsomming van die wet en vra die gemeente (of net die kinders) om jou te help om dit te rangskik in twee hopies: een liefde vir God en die ander liefde vir jou naaste.

Laat die kinders (en gemeente) idees noem van manier waarop ’n mens liefde kan betoon. As jy lekker kreatief wil raak, laat kinders hul hande in verf druk en dan op papier. Skryf in elke hand iets wat ’n mens kan doen.

Kinders is mal oor pleisters. Jy kan pleisters uitdeel om hulle te herinner aan die gelykenis en hulle eie roeping om soos die barmhartige Samaritaan te wees. Daag die kinders uit om nie die pleisters op hulleself te plak nie, maar vier iemand anders te gee wat seer het.

Preekriglyn

Ons teks begin met ‘n wetgeleerde wat Jesus vra hoe om die ewige lewe te verkry, Jesus se gesprek met hom, waarna die gelykenis van die barmhartige Samaritaan Jesus se bedoeling toelig. Dit sluit dan af met Jesus se aanmoediging: “Gaan doen jy ook so”.

Hierdie teks is ‘n eenheid – ons kan nie oor die wetsgeleerde se vraag en Jesus se antwoord los van die gelykenis nadink nie.

“Doen”

Dit is opvallend hoe ‘n belangrike rol die woordjie “doen” in hierdie gedeelte speel:

  • Vers 25: “Wat moet ek doen …? “
  • Vers 28: “Doen dit …”
  • Vers 37: “… die een wat … gedoen het … Gaan doen jy ook so “

Die wetgeleerde se vraag is “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” ‘n Bekende teoloog skryf dat die doen van God se Woord Sentraal in hierdie Skrifgedeelte staan. Ek moenie net sekere dinge weet nie, ‘n dissipel doen ook.

Wat moet gedoen word? Vers 28 se woorde van Jesus, “doen hierdie”, verwys duidelik terug na die wetgeleerde se woorde in vers 27: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself” (‘n resitasie van die “Shema”, Deut. 6:5, gekoppel aan ‘n aanhaling uit Lev. 19:18).

Dit gaan dus oor die doen van liéfde.

Barmhartige Samaritaan

Jesus se gelykenis in Lukas 10:30-35 is ‘n reaksie op die wetgeleerde se vraag: “Wie is my naaste?” Die gelykenis fokus die doenigheid baie duidelik op barmhartige optrede teenoor iemand wat hulpeloos in nood verkeer.

Dit gaan dus oor die doen van liefde teenoor ons nááste.

Bekyk ‘n mens die gelykenis van naderby, is dit opvallend dat die priester en die Leviet albei nié barmhartigheid doen nie: Hulle kom, sien en gaan aan die ander kant verby die man wat langs die pad lê. Die Samaritaan kom en sien ook, maar gaan nié verby sonder om iets te dóén nie. Inteendeel: Die Samaritaan kom – let wel: tot by hom – sien, en dan volg ‘n hele rits werkwoorde om aan te dui wat die Samaritaan wél doen:

  • esplanchnistē – hy het innig jammer gekry
  • proseltōn – nadat hy nader gegaan het
  • katedēsen – hy het verbind (die man se wonde)
  • epicheōn – terwyl hy oorgegooi het (olyfolie en wyn oor die wonde)
  • epibibasas – nadat hy opgehelp het (die man op die rydier)
  • ēgagen – hy het geneem (die man na die herberg)
  • epemelēthē – hy het versorg (die gewonde man)
  • ekbalōn – nadat hy uitgehaal het (twee denarius; dit is gelykstaande aan twee daglone)
  • edōken – hy het gegee (aan die herbergier)
  • eipen – hy het gesê (hy het opdragte aan die herbergier gegee oor die verdere versorging van die man)

Die Samaritaan verseker die herbergier dat hy later nóg twee dinge sal doen, naamlik:

  • epanerchesthai – om terug te keer (na die herberg)
  • apodōsō – ek sal betaal (enige addisionele onkoste wat nie deur die twee denarius gedek kon word nie)
“Doen ook so”

Jesus se aansporing – “Gaan doen jy ook so” – verwys na die wetgeleerde se erkenning dat die Samaritaan “barmhartigheid gedoen het” (v 37). Die twaalf werkwoorde hierbo teken ‘n konkrete prentjie van wat die doen van barmhartigheid heel moontlik vir ons sal inhou:

  • Dit begin met die raaksien van nood, om tot by jou naaste te kom, wat bes moontlik empatie of medelye by jou wek.
  • Dit vra dat jy waagmoedig nóg nader sal gaan aan die mens in nood (al sou dit moontlike sosiale of veiligheidsrisiko’s inhou).
  • 3-4. Dit beteken dat jy erns maak met die naaste se nood, oftewel wond of trauma (die Grieks vir “wonde” is traumata).
  • 5-7. Dit meen jy help die gewonde ook vérder, versorgend.
  • 8-9. Dit raak moontlik die bronne tot jou beskikking – jou beursie – en vra dat jy sal uithaal en weggee.
  • 10-12. Dit vra vir ‘n volgehoue persoonlike verbintenis tot jou naaste.

Dit gaan dus oor die doen van liefde teenoor ons naaste deur waagmoedig en selfopofferend betrokke te raak – sonder om eers die sosiale grense af te baken, ons eie veiligheid voorop te stel of die persoonlike koste of duur van ons verbintenis alte netjies te bereken. Dit het natuurlik radikale implikasie – Jesus is, soos gewoonlik, stroomop: dit is juis ‘n gehate Samaritaan wat as voorbeeld voorgehou word.

Geen begrensing

Klaarblyklik soek die wetgeleerde met sy selfregverdigende vraag: “En wie is my naaste?” (v 29), ‘n wegkomkans om sy naasteliefde te begrens. Hy hoop dat as dit nou regtig neerkom op liefde dóén, dat daar ‘n klompie ongewildes is wat hy met goeie rede uit sy liefdeslysie kan weglaat. Maar in die lig van die voorafgaande is die priester en die Leviet se “niksdoen”, oftewel “nie-doen van liefde”, soveel meer opvallend.

Wat saak maak in hierdie gelykenis, is wat mense doen. Die priester en die Leviet sien die man en gaan dan aan die ander kant verby. Jesus stel nie belang of daar enige rede is vir die feit dat hulle aan die anderkant verbygaan nie. Die wetgeleerde lê hierin my en jou liefdeloosheid bloot. Ons soek dikwels skuiwergate vir die weglaat van sommige uit ons liefde-doenlysies. Ons wil weet of dit oukei is dat ons by sommige aan die ander kant verbygaan; ons gaan hulle nie skop, op hulle spoeg of hulle vloek nie. Ons wil net nie naby genoeg kom dat ons hoef om te gee en liefde teenoor hulle hoef te doen nie.

‘n Lewe in God se koninkryk – wat in gehoorsaamheid aan die Messias-Koning geleef word – sal dus hand aan hand gaan met daadwerklike liefde vir ons naaste. Dit kan ook anders gestel word: Die doen van liefde teenoor die naaste is ‘n uitvloeisel van die koms van God se koninkryk in Jesus, en onderwerping aan sy heerskappy.

Wat staan ons nou te doen?

Jesus sou miskien ander rolspelers vir my en jou gekies het:

  • As Jesus dié gelykenis vir jou as groot besigheidsman vertel het, het hy waarskynlik ‘n kleinsake onderneming as Samaritaan gekies – die Griek of die Portugees op die hoek uit jou kinderjare, óf die Chinees vandag in die platteland.
  • As Hy dit vir jou as huisvrou vertel het, het hy waarskynlik die Samaritaan ‘n huiswerker gemaak.
  • As Hy dit vir jou as man vertel het, het hy waarskynlik die Samaritaan ‘n vrou gemaak, en omgekeerd.
  • As Hy dit vir jou as geleerde wou vertel, het hy waarskynlik die Samaritaan ‘n ongeleerde gemaak.
  • As Hy dit vir jou as ou man wou vertel, het hy die Samaritaan waarskynlik ‘n tiener gemaak.

Die punt is dat Jesus iemand sou gekies het wat jóú situasie aanspreek, sodat jy beweeg sou word om te begin omgee. Want, dit is wat Jesus wil hê dat ons moet hoor. HY wil omgee vir mense, en HY wil dit deur jou doen.

En Hy kan dit nie doen as jy jouself probeer regverdig nie, as jy jouself probeer handhaaf en daarom doof bly vir sy hart wat omgee nie.

Ons weet wat ons nou te doen staan.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 530 “Praat ek mense-, eng’letale”
VONKK 158 Ons Wy Onsself Aan Christus Toe [bekende melodie]
Flam 517 Ek’s losgekoop [waarskynlik bekend – Amazing Grace]

Wegsending
“Gaan maak jy ook so.”

Respons
Lied 533 Stuur ons, Here