Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Die gemeentes in Galasië het deur Paulus se sendingwerk tot stand gekom. Paulus verneem met ontsteltenis die nuus dat Joodse Christene, waarskynlik van Jerusalem, aan die gemeentes in Galasië ’n bykomende vereiste vir verlossing verkondig het, naamlik dat hulle hulle moet laat besny (5:2) en ook die Joodse feeskalender stiptelik moet nakom (4:10).

Paulus se brief is nou daarop gerig om dit wat hy aan hulle verkondig het, naamlik die genade van Christus, sentraal te stel (1:6) en weer te bevestig dat dit wat hy aan hulle verkondig het die ware leer is wat van God kom (1:2; 11-20). Paulus poog om hierdie valse leer te ontmasker. Die Galasiërboek sluit nou aan by Romeine, in die sin dat verlossing uit genade sterk beklemtoon word.

Die presiese jaar van skrywe is onseker. Daar is twee moontlike interpretasies vir Paulus se inleidende verwysing “aan die gemeentes in Galasië” (Gal 1:2). Indien dit verwys na die Romeinse provinsie met die naam Galasië, beteken dit dat die brief rondom 50-52 nC vanuit Korinte aan die gemeentes gestuur is wat hy tydens sy eerste sendingreis (46-48 nC) gestig het. Indien bedoel word die landstreek Galasië in die noordelike deel van Klein-Asië, is die brief vermoedelik effens later (tussen 52 nC en 55 nC) in Efese geskryf.

Fokusteks

Galasiërs 6:7-16

Ander tekste

Jesaja 66 – God is die maker van alles. Hy heers met die hemel as troon (v 1 en 2);
Psalm 66 –prys, dank en eer God vir sy magtige dade.
Lukas 10 – Die Here stuur ons uit om te verkondig. Resultate is of luister of verwerp.

Galasiërs 6:7-16
6 Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. 2Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. 3As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself. 4Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ’n ander te vergelyk. 5Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het.

6Iemand wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het.

7Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. 8Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. 9Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. 10Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.

Laaste waarskuwing en groet
11Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters!

12Daardie mense wat so daarop aandring dat julle julle ook moet laat besny, wil maar net uiterlik ’n goeie indruk maak, sodat hulle nie vervolg sou word ter wille van die kruis van Christus nie. 13Al het hulle hulle laat besny, onderhou hulle self nie die wet van Moses nie, maar hulle wil net hê dat julle julle moet laat besny sodat hulle kan roem oor wat met julle liggaam gebeur het. 14Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. 15Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is. 16En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel—mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys.

17Niemand moet dit vir my verder moeilik maak nie, want ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam.

18Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle gees wees, broers! Amen.

Eksegeties

Verskeie redes is al gegee hoekom Paulus in Galasiërs 6:11 die lesers oproep om te let op die groot letters van sy handskrif. Van die moontlike redes is dat dit ’n manier is om die lesers se aandag daarop te vestig dat hy dit werklik geskryf het en dat dit in kontras was met die kleiner professionele handskrif van die amanuensis (sekretaris) aan wie hy dit moontlik gedikteer het. Ook word gemeen dat hy moontlik ’n oogprobleem gehad het, of dat sy hande as tentmaker vol eelte was en hy nie maklik kon skryf nie. Dalk het hy permanente skade aan sy hande opgedoen toe hy moontlik in Perga gekruisig is. Lategan (1986) (ook Vosloo & Van Rensburg) meen die groot letters dui daarop dat Paulus wou beklemtoon hoe belangrik hy die betrokke opmerkings beskou (soos wanneer ons vandag met die rekenaar woorde in vet sal laat druk).

Vir Paulus was die aandrang op besnydenis deur sommige ’n negering van dit wat hy verkondig het. Die aandrang op besnydenis was uiterlike vertoon wat nie noodwendig die gesindheid van die hart weerspieël nie, en selfs ’n manier om vervolging te voorkom. Dit is nie duidelik vir wie die gemeentelede wou beïndruk nie (Lategan 1986). Moontlik was dit Joodsgesinde groepe. Bruce meen dat daar wel sprake is van militante Seloot-groepe wat in die laat veertigs en vroeg vyftigs baie bedrywig was.

Dit is nie duidelik nie wie die hoi peritemnomenoi (Gr peritomē – besnydenis) is na wie Paulus verwys, wat hulleself laat besny het, maar nie die wet van Moses onderhou het nie (Gal 6:13). Die vraag is of Paulus hier verwys na heidene wat oorreed is om hulle te laat besny, of na Joodse Christene wat as Jode besny is? Of verwys Paulus hier na die Jode self wat die uiterlike teken van die besnydenis beklemtoon, maar nie na die hart besny is nie. Hoewel hier moontlik na Joodse Christene verwys word, is die mees waarskynlike dat na Jode wat vurige voorstanders van die wet is, verwys word. Tog kon hulle in hulle eie lewe nog nie daarin slaag om aan die hoë etiese eise wat die wet stel, te voldoen nie (Lategan 1986; Burton.).

Volgens Paulus is nòg die besnydenis nòg die gebrek aan besnydenis iets om oor te roem, maar alleenlik die kruis van die Here Jesus Christus (6:14) wat dit moontlik gemaak het dat die volgelinge van Christus nuwe mense word (6:15). Die kruis deurbreek die onderskeid wat daar gemaak word tussen “besnedenes” en “nie-besnedenes”. Bruce wys daarop dat hoewel die woord “kruis” vandag algemeen gangbaar in die kerk is, die blote gebruik daarvan in Paulus se tyd ’n groot skande was. “It is difficult . . . to realize the unspeakable horror and loathing which the very mention or thought of the cross provoked in Paul’s day.” Die Romeine het eufemismes gebruik wanneer hulle na iemand verwys wat gekruisig is, soos byvoorbeeld: “Hy is aan ’n ongelukkige boom gehang.” Vir Paulus om dus aan te dui dat hy in die kruis roem, was direk in teenstelling met die destydse samelewing se gebruik van die woord “kruis”.

Die kruis word vir Paulus die punt van oorgang, waar hy beleef dat “die wêreld” (kosmos) vir hom dood is en hy vir die wêreld. Wat bedoel Paulus hier met “die wêreld”? Die woord “kosmos” het baie vertalings- en betekenis- moontlikhede, maar vir Burton beteken dit in hierdie konteks dat Paulus dood is vir die “wêreld” waarin hy hom eers bevind het – Jood, besnedene, Fariseër en onderhouer van die wet – vir wie die wet (besnydenis) as regverdiging voor God gedien het. Hy beteken ook niks meer vir daardie wêreld nie. Bruce sluit nou daarby aan, maar gaan verder wanneer hy sê  Paulus bedoel met “die wêreld” die dominante mag van sonde, dood en die wet: “the sting of death being sin, and the strength of sin being the law (1 Cor 15:56)”. Hierteenoor verteenwoordig die kruis van Christus die wysheid en krag van God.

Daar is meningsverskil of die Griekse kainē ktisis (6:15) as “nuwe skepping” of “nuwe mens” vertaal moet word. Die NAV vertaal dit as “nuwe mens”, terwyl die OAV (1953) dit vertaal as “nuwe skepsel” en die NIV as “new creation”. Burton verkies na ’n lang bespreking “nuwe skepping” en verstaan die frase as uitdrukking van die radikale verandering waarom dit gaan. Bruce verkies ook “nuwe skepping”, maar laat die moontlikheid oop vir “nuwe mensheid” na aanleiding van B D Chilton se argument dat dit kan verwys na beriyyāh in rabbyns-Hebreeus. Burton, daarteenoor, argumenteer dat kainē ktisis nie na die Hebreeuse  beriyyāh  verwys nie

Vir die nuwe skepping of mensheid geld ’n nuwe “beginsel” (6:16). Die OAV vertaal dit met “reël”. Die Griekse woord kanoni wat hier met “beginsel” vertaal word, beteken in sy letterlike betekenis eintlik maatstaf (Eng “measuring rod”), maar word hier in ’n metaforiese sin gebruik (Burton). Die woord word in die Nuwe Testament (2 Kor 10:13, 16) net deur Paulus gebruik en is oorspronklik van Semitiese oorsprong. In die middel van die vierde eeu (nC) gebruik Athanasius dit om die boeke van die Bybel te beskryf. Die nuwe beginsel is volgens Lategan (1986) verlossing uit genade deur die geloof. Dit staan dan teenoor die rol wat die uiterlike, soos in die geval van besnydenis, speel. Burton en ook Bruce sien veral die nuwe beginsel hier as dit wat die Gees kom doen in aansluiting by Galasiërs 5:25: “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” Dit staan dan in teenstelling met die wêreld (Gr kosmos).

Die vertaling van die Griekse voegwoord (Eng conjunction) “kai” in Galasiërs 6:16b lewer ’n vertalingsprobleem aangesien dit die betekenis van die sin kan beïnvloed. Verskillende voorstelle in die verband word in vertalings weerspieël. So word kai dan vertaal as “en” (OAV 1953) of as “even” (NIV); die NAV en so ook die Jerusalem Bible (JB) vertaal glad nie “kai” direk nie; terwyl F C Fensham voorstel dat dit met “naamlik” vertaal word. Saam met die vertaling van “kai” is daar meningsverskil oor hoe die verwysing na “Israel van God”, verstaan moet word. Spreek Paulus hier sy seëninge uit oor dié wat volgens die nuwe beginsel handel én (kai) oor Israel wat nog in die besnydenis glo (OAV)? Alternatiewelik kan “Israel van God” net na die Joodse Christene verwys, of na die totale groep wat die nuwe mensheid uitmaak – Joodse Christene sowel as Christene uit die heidendom. Die NAV verkies die laaste moontlikheid en vertaal dit dan as die “ware Israel”. Lategan (1986) en Cole steun hierdie verstaan, terwyl Burton meen Paulus verwys na die deel van Israel wat wel die Tora na hart en nie net uiterlik volg nie: “by the insertion of kai, to emphasise this expression of his (Paul – FN) true attitude towards his people. It can scarcely be translated into English without overtranslating.” Bruce is van mening dat hier sprake is van ’n eskatologiese hoop vir Israel wat wel tot ander insigte sal kom. F C Fensham, in ’n boekie wat in 1955 uitgegee is met die titel Is Israel nog die uitverkore volk?”, het geen twyfel dat hier na die nuwe Israel (ware Israel – NAV) verwys word nie, dit wil sê die kerk in die Nuwe Testament. “Die sprekendste bewys is egter Galasiërs 6:16. Paulus wys daar dat besnydenis of onbesnedenheid by God geen krag het nie, maar alleen ’n nuwe skepsel in Christus. Almal wat volgens hierdie reël wandel, is die Israel van God.”

Dit is opmerklik dat die seënuitspraak (6:16) eers na “vrede” verwys en dan na “barmhartigheid”; die orde is gewoonlik “barmhartigheid en vrede” of “genade en vrede”. Dit het tot gevolg dat Burton selfs die twee wou skei en van mening is dat “vrede” na die nuwe mensheid verwys, terwyl “barmhartigheid” na Israel verwys. Dit lyk of hy geen steun vir hierdie voorstel kry nie. Bruce wys daarop dat daar wel in Israel voorbeelde is van liturgiese seënspreuke wat “vrede en barmhartigheid” gebruik en dat dit waarskynlik aan Paulus bekend was, gesien sy vlak van geletterdheid.

Hermeneuties

Paulus sluit sy brief af met ’n opsomming van die  kern van sy betoog en beklemtoon die belangrikheid daarvan om nie uiterlike tekens soos die besnydenis as die norm te neem nie, maar die kruisdood van Jesus Christus. Alle aanduidings is dat Paulus die brief met sekere teenstanders in gedagte geskryf het (Gal 1:7). Hierdie teenstanders het verwarring onder die Galasiërs veroorsaak (5:12). Ons is vandag nie absoluut seker oor wie hierdie teenstanders was nie. Daar is verskeie teorieë oor wie die moontlike “teenstanders” kon wees. Lategan (1984) kom wel tot die gevolgtrekking dat die beskikbare inligting oorwegend daarop dui dat dit Christene van Joodse herkoms was wat hul opvattinge in die gemeentes gepropageer het. Dit lyk of hulle nogal taamlik sukses gehad het.

Natuurlik sal ons nooit presies weet hoekom sommige Christene hulle laat verwar het nie, maar Lategan (1984) ondersteun die voorstel van H D Betz dat die ontwikkeling van ’n Christelike vryheidsbegrip moontlik ’n rede kan wees. Die veelvuldige verwysings (Gal 5:13, 17, 19; 6:12, 13) na sarks (vlees) wat daarop dui dat die gemeente met sondes worstel ondanks die feit dat hulle nou die Gees ontvang het (5:16), word hier as argument gebruik. Dis asof daar in hierdie omstandighede – vrygemaak van die wet en met die verantwoordelikheid om na geestelike selfstandigheid in Christus te groei – ’n hunkering is na die vertroude raamwerk wat die wet en die offerpraktyke wat daarmee saamhang, bied: “Die sekuriteit wat die beproefde weg van die Tora bied, kan baie aanloklik wees in ’n bedreigde situasie waar nog die eerste treë op die pad van Christelike vryheid gegee moet word” (Lategan 1984).

Hierby kan moontlik aangesluit word vir prediking in Koninkrykstyd waar die etiese kant van sake meer ter sprake kom. In baie opsigte is dit makliker om binne ’n nougesette raamwerk te funksioneer waar dit nie nodig is om self verantwoordelikheid vir keuses te neem nie. Die openheid in die Suid-Afrikaanse samelewing sedert die negentigerjare en die feit dat ons nou ’n konstitusionele demokrasie het (die waardes van die konstitusie bepaal nou wat wetlik reg of verkeerd is), het ook Christene en kerke onkant gevang. Binne die baie breë raamwerk van die konstitusie moet lidmate en kerke nou self besluite neem.

Teksindeling: Daar is ’n natuurlike verdeling in Galasiërs 6 – tussen die eerste 10 verse, wat deur die  meeste eksegete as ’n eenheid beskou word en vers 11 tot 18, wat as die slot beskou kan word. Lategan (1986) neem Galasiërs 5:25-6:10 as ’n subeenheid van die groter gedeelte oor die Christelike vryheid wat al in Galasiërs 5:1 begin en by Galasiërs 6:10 eindig. So ook Burton, wat Galasiërs 5:1-6:10 as ’n eenheid neem. Interessant is Burton se subindeling van Galasiërs 6:1-5 as ’n eenheid en dan vers 6 tot 10 as ’n volgende eenheid, met die opskrif: “Exhortations having a less direct relation to the principal subject of the epistle.”

Die slotgedeelte (6:11-18) bestaan uit die finale waarskuwing ten opsigte van ’n moontlike dwaling (6:11-16), ’n oproep gebaseer op Paulus se lyding (6:17) en sy gebruiklike seëngroet (6:18).

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema: Dra mekaar se laste as mense wat lewe uit die kruis

Rus

Aanvangswoord 
Voorganger: Kom sing ’n lied met splinternuwe woorde. Eer Hom! Sing en maak musiek uit julle harte! Die Here verdien lof, want Hy doen altyd wat Hy sê (Ps 33:3-4 Die Boodskap).
Gemeente: Ons wil juig en God se Naam groot maak! Ons wil sing tot sy eer. Here, wat U doen is te groot om in mensewoorde beskryf te word (Ps 66:2-3 Die Boodskap).

Lied

Loflied: Lied 198; 200; 202/ NSG 20, 43, 341
Uitsending: Lied 518; 519; 523; 526/ NSG 190
Antwoord op seën: Lied 312

Flam-liedere

F52. “Laat Almal Weet”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Diens / Getuienis)
Teks en Musiek: Deon Roberts
© 2000  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Laat almal weet dat Jesus waarlik liefde is.
Laat almal weet dat Jesus die Koning is.

Ons kan so gou vergeet dat daar ‘n God is wat van alles weet,
Wat almal elke dag van liefde leer, sy vrede gee,
die wêreld in sy hande hou
En soms vergeet ons weer
dat ons ‘n ander van ons God moet leer,
sy wonderliefde wat geen grense ken en harte vir Hom wen.

F212. “Die Here Het Hom Nodig”
(RUBRIEK:  Flammiekidz – Diens & Getuienis)
Musiek: Neil Büchner & Lizette Louw
Teks: Louis Dressel
© 2008 MAR Gospel Music Publishers
Vgl 2 Kon 5:3,15; Joh 6:9; Mark 11:3 (NLV)

1. Naäman het die Here  nodig
Dis wat die dogtertjie hoor.
Ek het ook die Here nodig
Dis wat ek steeds hoor.

REFREIN:
Here, lei my
Heer, gebruik my
Here, stuur my.
Dis wat ek steeds hoor

2. Sy brood en vissies het Hy nodig
Dis wat die seuntjie hoor.
Die Here het my alles nodig
Dis wat ek steeds hoor.

REFREIN:

3. Die Here het ons almal nodig
Dis wat dissipels hoor.
Die Here het ons alles nodig
Dis wat ons steeds hoor.

RFREIN:
Here, lei ons
Heer, gebruik ons
Here, stuur ons
Dis wat ons steeds hoor

Familie-oomblik

Demonstreer die storie van Chris Jones wat in die preekriglyn vertel word.  Kry ‘n kind of twee om eers een emmer te dra, en dan twee, en laat hulle kommentaar lewer oor watter manier makliker is.

“Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (6:2)  “Wanneer ek hierdie opdrag hoor,” vertel hy, “dink ek altyd terug na my kinderdae toe ek ’n swaar emmer water vir my pa moes aandra.  Ek het skeef-skeef aangesukkel.  Die emmer het kort-kort teen my knie gekap en ek het water gemors.  Ek was ongebalanseerd.  Ek het soms van die water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp nie.  Al wat regtig gehelp het, was om nog ’n emmer water op te tel en die twee emmers op een slag te dra.  Op die manier was jy meer gebalanseerd, het jy makliker geloop en niks water gemors nie.”

Pas dit dan toe deur hulle aan te moedig om dieselfde met mekaar se laste te doen.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

“Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (6:2)  “Wanneer ek hierdie opdrag hoor,” vertel Chris Jones, “dink ek altyd terug na my kinderdae toe ek ’n swaar emmer water vir my pa moes aandra.  Ek het skeef-skeef aangesukkel.  Die emmer het kort-kort teen my knie gekap en ek het water gemors.  Ek was ongebalanseerd.  Ek het soms van die water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp nie.  Al wat regtig gehelp het, was om nog ’n emmer water op te tel en die twee emmers op een slag te dra.  Op die manier was jy meer gebalanseerd, het jy makliker geloop en niks water gemors nie.”

’n Lewe wat by die evangelie pas

Liefdevolle omgee vir die medemens bring balans en perspektief in ’n mens se lewe.  Dit is die boodskap van die eerste 6 verse van Galasiërs 6.  Om getrou aan onsself en die evangelie te wees, moet ons bereid wees om goed te doen aan ander mense. Dit mag nie net vir die gelowige oor vormgodsdiens gaan nie, maar dit moet oor daadwerklike toewyding aan God en ons medemens gaan. Ook hulle wat in die een of ander sonde verval het, moet in ’n gees van sagmoedigheid reggehelp word. Die manier waarop ons dit doen, is belangrik. Doen dit op so ’n manier soos jy graag sou wou hê iemand jou met jou las moet help!

Die dien van mekaar skep balans in die lewe.

In elkeen se lewe gebeur dit soms dat die laste van die lewe net aan die een kant van die weegskaal ophoop. Dit trek ‘n mens van balans af. Maar net soos die emmer water, help dit nie om die oortollige gewig aan die een kant weg te neem nie. Baie keer kan jy nie.  Dit is beter om nog laste op die ander kant van die weegskaal te plaas. Dan raak jou lewe weer gebalanseerd. Deur met ander woorde die gewig te verdubbel, het jy jou las ‘ligter’ gemaak.

Hoe dikwels dra ek en jy ons nie dood aan ons eie laste nie? Loop ons nie soms skeef onder ons kruis, ons verdriet, ons teleurstellings en krisisse nie? En dit maak dat ons soms balans verloor. Hoe kan ons hierdie laste ligter maak of balanseer? Deur die laste van ons vriende of die mense rondom ons te dra. Deur iets vir iemand rondom jou te beteken. As jou kruis jou begin skeef trek, tel jou medemens se kruis ook op en so sal jy perspektief kry en verligting ervaar.

Om grensloos vir ander te lewe

Baie keer wil ons ook nie iemand se las dra nie, want ons sê so gou die spesifieke persoon het self die probleem oor hom of haar gebring. Ons moet versigtig wees om so te redeneer. In die storie van die barmhartige Samaritaan vertel Jesus van ’n man wat daardie uiters gevaarlike pad tussen Jerusalem en Jerigo gestap het. As daar een man was wat moes geweet het hy gaan aangeval word, is dit hy. Die priester en Leviet het verbygestap, maar ’n Samaritaan het hom jammer gekry en gehelp. Hy het nie die man verwyt vir die dom ding wat hy gedoen het en hom daarom aan sy ellende oorgelaat nie, maar, so vertel Jesus self, hy het hom onvoorwaardelik gehelp en so sy las op hom geneem.

In verse sewe tot tien vermaan Paulus die gelowiges om goed te doen aan medegelowiges, maar ook aan nie-gelowiges.  Hy voer die argument op ander plekke selfs verder.  Ons moenie net self goed doen nie, maar ook toesien dat ander nie benadeel nie.  Vergelyk 1 Tes 5:15:  “Sorg dat niemand ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie.  Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.”

Daar is soveel bewyse van hoe die vroeë Christene verantwoordelikheid geneem het vir die fisiese nood en behoeftes van mekaar en van ander.  (Hand 2:44-45; 4:32-35; 1 Tim 5:8; Jak 1:27).  Belangrik om te onthou, is dat hierdie verantwoordelikheid teenoor alle mense, dus ook teenoor nie-gelowiges geld.  Romeine 12:20: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet….”  Galasiërs 5:14: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself…”

Ons berei ’n oes voor

In verse 7 tot 10 verduidelik Paulus dat mens met jou lewe saai, en dus ’n oes voorberei.  Die slegte, selfsugtige dinge wat jy saai, sal ’n oes van dood en verderf oplewer.  Wie deur die krag van die Gees liefde en naastediens saai, sal die ewige lewe as oes verwerf (6:8).

Hierdie beginsel geld vir indiwidue en geloofsgemeenskappe.

Die vroeë Christelike kerk, soos ons verlede week in die boodskap rondom Antiogië gehoor het, het lewe en oorvloed geoes omdat hulle grense na alle mense oorgesteek het en die lig van die evangelie oral versprei het.  Hulle was sout en suurdeeg, wierook, wat die omgewing en medemense se nood genees het.  Die vroeë kerk het ook kwessies soos armoede aangespreek. Die vroeë Christene het ook uitnodigings gerig aan mense op die buiterand van die samelewing, vervreemdes het aandag ontvang en klasse-ongelykheid is sover as moontlik uit die weg geruim. Uit die navorsing is dit duidelik dat die vroeë Christendom die mees dinamiese alternatief op ’n sisteem van ekonomiese onreg was!

In ’n stedelike woonbuurt, waar talle ander gemeentes toegemaak het omdat tradisionele lidmate weggetrek het na beter en mooier areas, staan ’n klein NG Gemeente soos ’n pragtige bos rose uit in ’n grou winterlandskap.  Hierdie gemeente het begin uitreik na die nuwe inwoners van die omgewing.  Saterdae gee hulle vir meer as 200 haweloses sop en brood.  Hulle bring hoop deur bemagtigingsprojekte vir vroue aan te bied.  Hulle saal het die plek geword waar die kinders van die gemeenskap Vrydagaand kos vir hulle magies en vir hulle siele kry.  Besighede en sakemanne se harte het begin oopgaan vir hierdie gemeente, omdat hulle werk duidelik uit God gebore is.  Die gemeente het Christelike geloofwaardigheid omdat hulle dien.  Hulle het iets gesnap van die feit dat hulle nie onder die wet van Moses staan nie, maar onder die wet van Christus. En dit beteken om Hom te vergestalt en gevolglik deernis aan ander mense te betoon!

Paulus herinner ons dan ook daaraan dat ons sal oes dit wat ons saai. Ons kan God nie mislei nie. Hy sal ons volgens ons dade oordeel. As ons saai in die land van selfsug, sal ons die dood oes (Rom 8:6,13; Ef 4:22-24; 2 Pet 2:12). As ons saai op die land van Gods Gees, sal ons die lewe oes. Ons moet aan onsself en ons belange sterf sodat Christus in ons gestalte kan kry. Soos Christus sy lewe vir die mens afgelê het, so moet ons ook vir ons medemens leef.

Paulus moedig ons ook aan om nie moeg te word om goed te doen nie (sien ook 2 Tes 3:13; 2 Kor 4:1,16). Dit herinner sterk aan Jesus se storie in verband met die laaste oordeel (Mat 25:31-46). Hierin gaan dit oor eenvoudige alledaagse dade van goedhartigheid wat ons moet doen, soos byvoorbeeld om kos, water, klere en huisvesting te gee aan dié wat dit nodig het. Maar dit wil lyk of dit juis hierdie ooglopende dinge is waarmee ons soms so sukkel.

Ons moet die balans van die tweede emmer leer verstaan.

In vetdruk geskryf!

Paulus sluit die brief aan die Galasiërs af deur eiehandig in vetdruk te skryf.  Hy gebruik, sal ons vandag sê, hoofletters, skryf die letters vet en onderstreep dit.  Dalk gebruik hy ’n rooi pen.  Daar is ’n paar uitroeptekens. Wat nou volg is belangrik!

Wat is so belangrik?  Mense wat met danige godsdienstige reëls leef, en dit op ander van toepassing maak, se godsdiens ’n blote wind.  Hulle druk hulle reëls in ander se kele af, bloot om mag om oor ander te kry.  Hy forseer die besnydenis af, “sodat hulle kan roem oor wat met julle liggame gebeur het”.  Dit gaan oor mag en beheer.  Daarom gryp mense na reëls.

Dis nie die hart van die Christelike geloof nie.  Die hart van die Christelike geloof sien ons in die kruis, waar Jesus, die verhewe Seun van God, sy lewe in die gestalte van ’n slaaf vir mense wat toe nog God se vyande was, gee.

Daarom roem Paulus hom net oor die kruis van ons Here, Jesus Christus (6:14).  Wat van belang is, is nie godsdienstige reëls wat ter wille van die reëls en die egoïsme van die reëlmakers bestaan nie.  Wat van belang is, is dat jy ’n nuwe mens is wat leef in die styl van die kruis.  In ons tyd is die kruis al so geromantiseer, dat ons moeilik verstaan watter skande dit destyds ingehou het.  Die kruis was ’n skandpaal, waar met erge misdadigers afgereken is.  Dit is niks romanties of maklik aan kruisdra nie.  Maar dit is die styl van Christus, en daarom ook vir ons die weg tot lewe en tot ’n wonderlike oes.

Tel jou emmers op en laat waai!

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer

Voorstel 1: Vertoon koerantuitknipsels met behulp van die dataprojektor wat die nood van medemense in julle omgewing uitbeeld.  As alternatief kan foto’s van menslike laste en nood in jul omgewing gebruik word.  Vertoon dit met baie min of geen kommentaar, die bedoeling is bloot om die laste wat julle kan help dra uit te beeld.  Moet veral nie moraliseer oor ander se nood nie (sommige predikers is lief hiervoor) of die foto’s of koerantuitknipsels gebruik om nog mini-prekies af te steek nie.  Dit is kontra-produktief.  Die knipsels of foto’s sal op hul eie bene staan en só kragtiger kommunikeer.

Gee nou geleentheid vir gebed vir die omgewing.

Voorstel 2: Plaas genoeg A5-grootte papier en potlode op die kerkbanke, een vir elke erediensganger.  Gee na die boodskap geleentheid vir elke lidmaat om biddend neer te skryf wie se laste die Here op sy/haar hart druk.  Skryf ook ’n voorneme neer wat jy gaan doen om daardie las te help dra.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.