Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jesaja 44:6-8; Psalm 139:1-2,23-24; Romeine 8: 12-25; Matteus 13:24-30,36-43.

Fokusteks

Genesis 28: 10-22
10 Jakob is van Berseba af weg na Haran toe.
11 Teen sononder het hy by ‘n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar ‘n klip vir ‘n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap.
12 Hy het gedroom: ‘n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer.
13 Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee.
14 Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees.
15 Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”
16 Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”
17 Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”
18 Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit.
19 Hy het die plek Bet-El genoem. (Die naam “Bet-El” beteken “huis van God”.) Die stad was voorheen bekend as Lus.
20 Jakob het toe ‘n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee,
21 sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees.
22 Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal ‘n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U ‘n tiende gee.”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

O, hoe salig, Here,
om net by U te sit
en nie hoef te praat nie.
Behaaglik.
In die stil wete dat U alles is:
Rots en ruimte,
vuur en vrede,
Vader, Verlosser, Vriend.
Skuilplek en sterkte,
wind en water,
hemel en hier.
Ek adem U in.
En begeer op hierdie oomblik
niks meer nie.
Amen

Liedere

Aanbidding: Liedboek 266 “Ons Vader”

God praat met ons en ons luister

Verootmoediging
Jesus Losser,
wees ons genadig oor vandag en veral oor gister.
Wees ons genadig.
Dankie vir ‘n vergeefde verlede.
Christus Gesalfde,
lei ons in die onbekendheid van môre en oormôre.
Lei ons.
Dankie vir ‘n geborge toekoms.
Immanuel, God by ons,
sluit ons in van agter en van voor.
Sluit ons in.
Dankie vir u omhelsing – nou.

Danklied: Liedboek 245: 1,2,3 Ek wat vergifnis Here ontvang het.

Familie-oomblik

Ted Williams se verhaal

Laai die volgende twee kort films oor die verhaal oor Ted Williams van Youtube af. Indien julle nie oor ‘n dataprojektor en klankstelsel beskik nie, kan jy die verhaal van die man vertel. Kyk dan self eers na hierdie inspirerende verhaal. Vertel dit in jou eie woorde aan die gehoor.

a) ‘Golden Voice’ homeless man finds job, home after viral video success.

b) Ted Williams kicks off NBC’s Today Show – Homeless man with golden radio voice.

(Een van die maniere om dit te doen, is eenvoudig om in die bogaande skakels die woord youtube met voobys te vervang. Alternatiewelik kan jy ‘n programmetjie vir aflaai op die internet kry, hier is ‘n byvoorbeeld).

Ted Williams het ‘n besonderse gawe, naamlik ‘n besonderse stem. Hierdie stem van hom kon vir hom deure in die advertensie- en uitsaaiwêreld oopgemaak het. Maar sy lewe het vasgeval in dwelms en drank. Ted het alles verloor. Tien jaar lank het hy op straat gebly. Met sy bedelbordjie langs die pad het hy net genoeg gekry om elke dag van hierdie tien jaar te oorleef, iewers onder ‘n plastieksak tussen bosse. Daagliks het hy weer straat toe terugkeer om vir ‘n paar sente te gaan bedel.

Ted se benarde situasie was volledig sy deur eie toedoen. Hy het geen droom gehad nie, behalwe om elke dag te oorleef. En die meeste mense wat by hom verbygery het, het heel moontlik net altyd die vuil ou boemelaar raakgesien.

In Januarie 2011 het sy lewe ‘n totaal verander. ‘n Persoon wat elke dag by Ted verbygery het, het op hierdie dag die moeite gedoen om die woorde op die bordjie om Ted se nek te lees. “A God-given Voice”. Nadat die man Ted ontmoet het, het hy die volgende oggend teruggekom met sy videokamera en ‘n videogreep-stemopname van Ted gemaak het. Daarná het hy die opname gaan laai op Youtube. Binne ‘n dag het die wêreld van Ted en sy ongelooflike stem kennis geneem.

Twee dae later was Ted Williams ‘n gesogte omroeper met aanbiedings van advertensiefirmas, sportstasies en nuuskanale.

Een man het gekies om in Ted méér as ‘n bedelaar te sien – en sy lewe word onherroeplik verander.

Vandag se verhaal uit die Bybel vertel hoe God kom en ‘n loser se lewe vir altyd kom verander het. En ook hoe God losers wat verander het gebruik om ander mense wat soos losers voel, te help verander.

Preekriglyn

Die meeste van ons koester maar iewers in ons agterkop ‘n droom. Of dit nou ‘n droomvakansie, droomkar of droomhuis is. Baie keer is dit daardie droom wat maak dat ek opstaan en wéér werk toe gaan. Nóg ‘n dag gaan leef. Wéér probeer. Van vooraf begin.

Ek kan nie help om ook dadelik op te merk dat daar diegene is wat nie eers lyk of hulle ‘n vinger hoef te verroer om hulle drome te laat waar word nie. Geluk stroom sommer vanself op hulle af!

Esau het net alles aan sy kant gehad. Hy hoef nie ‘n vinger te verroer het om van ‘n sorgelose toekoms verseker te gewees het nie. Toevallig is hy eerste gebore, en daar het hy dit! Alles wat sy pa, Isak s’n is, is syne. Al die rykdom en al die gerief. Hy kon besluit wat sy broer, Jakob, kon kry. So was dit die gebruik. Die reëls van die samelewing verklaar hom geskik om die eersgeboortereg te geniet. Die kultuurgebruike gee aan hom die voordeel om die erfgenaam te wees.

Jakob, die tweelingboetie, kom tweede. En dit kan hy nie net so aanvaar nie. Hy baklei en stoei met elke aanvaarbare gebruik, reël en voorskrif. Jakob wil ook ‘n lewe van geluk, sukses en sekuriteit hê. Watter lewe het jy nou in elk geval as daar vóóraf reeds vir jou besluit is oor die lewe wat jy moet gaan leef? Miskien dáárom dat ‘n mens tóg ‘n stukkie begrip vir hierdie aartsbedrieër kan hê …

Hoeveel keer moet ek van bedrog lees, van moord, armoede en dreigende natuurrampe? Is dít die lewe? Is dít waarmee ek tevrede moet wees? Ek dink ons almal ken daai gevoel van “die-lewe-is-nie-regverdig-nie”. Maar wat maak jy?

Jakob weier om dit so te aanvaar. As dit nodig was, sou Hy elke reël oortree om sy droom te laat waar word. En hy doen dit ook voluit. Vandag lees ons egter hoe dié ingesteldheid van Jakob in sy gesig ontplof.

‘n Per-toeval-plek. ‘n In-die-verby-gaan-plek. ‘n Sonder-naam-plek. ‘n Plek waarvan jy nie notisie neem nie. Dit is hoe Jakob se oornagskuiling geskets word. Jakob – definitief nie die held van ons verhaal nie! ‘n Aartsskelm. En hy verdien eintlik geen simpatie nie. Hy verdien alles wat na sy kant toe kom. Wat jy saai, sal jy maai. Dit is tog die reël.

Maar Jakob se lewe is nou baie méér uitsigloos as wanneer hy tog maar net die grense en reëls van sy lewe sou eerbiedig het. Die basiese sekuriteit van ‘n huis, ‘n familie, ‘n plek om te slaap, ‘n bord kos om te kan geniet – dit alles is nou verlore. Jakob het totale beheer oor die uitkoms van sy lewe verloor. ‘n Voortvlugtende. Sy basiese behoefte is net om die volgende dag te oorleef.

Nou het jy begrip hoekom Jakob se uitkyk op sy lewe met vrees, skuldgevoelens, verlatenheid en “shame” begrens word. Dié dinge is die stemme wat die laaste sê in sy lewe het. Dit bepaal sy keuses, sy gesindheid, sy optredes en sy toekomsverwagting. Dit is ook nie vreemd om ‘n klip vir ‘n kopkussing te gebruik nie; hy het in elk geval niks van sy eie nie. As vlugteling is dit boonop ‘n goeie wapen om byderhand te hê om jou teen ongediertes te beskerm – en jou verlede wat jou onverwags kan inhaal. Jakob se drome van sukses en geluk het aan hulle einde gekom. Al sy streke het nou op niks uitgeloop nie.

Al is elke aspek van Jakob se situasie aan sy eie toedoen toe te skryf, voel ‘n mens tog jammer vir die arme man. Jy kan nie anders om jouself in dié situasies te sien nie – plekke en tye waar jy bewus was van jou eie foute, flaters en verkeerde keuses. Plekke en gebeure wat jy eerder naamloos in die verlede sou wou wegsteek. Plekke en tye in jou lewe waar jy gevoel het die lewe is nie regverdig nie. Plekke en tye wanneer jy wou vlug.

En dan die droom.

‘n Droom is die enigste plek waar jy Jakob kan ontmoet sonder sy vooropgestelde idees, eie planne en grense van vrees en skuld. ‘n Droom wat God gaan gebruik om ‘n sê in Jakob se lewe te kry.

Dit is ironies dat Jakob slaap en droom. Want enigeen wat al ervaar het dat sy lewe in chaos is, sal jou gou verseker dat slaap ‘n luukse is. En as jy nog slaap, kan jy negentig persent seker wees van ‘n rustelose nag met ‘n nagmerrie of twee wat jou elke nou en dan laat wakker skrik. Maar nie vir Jakob nie! Inteendeel, hy beleef ‘n droom wat hom in vervoering bring, ‘n droom wat sy lewe met gerusstelling kom omvou, ‘n droom wat al sy verwagtings oortref.

Terwille van agtergrond kan ons net gou ‘n terugblik gee op die wêreld van daardie tyd. In die ou wêreld van Mesopotamië was in albei die groot stede Ur en Babilon mensgemaakte berge. Heel bo op die berg was die tempel van die stadsgod. Stelle trappe het van onder na bo gelei.

Babilon word afgelei van die woord bab-ilu, wat vertaal kan word as “die hek” of “die deur” van die god. Mense het dus aan sulke deure gedink as plekke waar aarde en hemel mekaar bereik.

Maar dit was net by sekere magtige en noemenswaardige stede waar ‘n mens die voorreg gehad het om die “deur” te kon gebruik. Boonop was die deure net vir uitverkore hoogs heiliges. Iets hiervan is deel van die prentjie wat in Jakob se droom afspeel.

Lees nou:

10 Jakob is van Berseba af weg na Haran toe.

11 Teen sononder het hy by ‘n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar ‘n klip vir ‘n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap.

12 Hy het gedroom: ‘n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer.

13 Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee.

14 Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees.

15 Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”

Die droom kom stel Jakob in staat om hierdie plek-sonder-naam voor hom te sien verander in die tussen-hemel-en-aarde-deur-plek. Sy droom help Jakob om ‘n God te ontmoet wat Hom nie laat voorskryf of aan bande lê deur kultuurgebruike en godsdienstige reëls nie. Hierdie God word nie tot die magtige stede beperk nie. Hierdie God laat hom nie inperk tot die Een waarop die religieuse adel alleenreg het nie. Hierdie God is selfs vir ‘n aartsskelm hier.

Die boodskap is duidelik: Jakob, jy het toegang tot die hemel. Die aarde is nie aan noodlot en toeval uitgelewer nie. Die aarde is nie vasgeteken binne die oorsaak-gevolg-reëlboek nie. Die aarde het toegang tot die hemelse moontlikhede. En hemel is nie ‘n plek daar iewers ver en ontoeganklik vir mens en aarde nie. Die bronne van die hemel is binne bereik van die aarde.

Op-en-af loop die hemelwesens, die boodskappers van God. Hulle bedrywighede is nie tot die hemel beperk nie, maar strek oor die hele aarde sowel as die hemel. God se koninkryk is besig om ‘n werklikheid te word. Soos hulle kom en gaan, is hulle bedrywig met God se plan.

Daarom, die nuwe moontlikheid wat vir Jakob aanbreek, is nie dat sy eng droom van finansiële sekerheid of lewenslange gesondheid waar word nie. Dit is vir hierdie God en sy koninkryk té eng.

Die ou koninkryk van die aarde, gekenmerk deur broederlike haat en vrees, selfsug en eiebelang, is oorwin. Die belofte van ‘n nuwe aarde en nuwe hemel is besig om vorm aan te neem. Dít is die droom wat God vir Jakob se lewe kom bied.

Die belofte is aan ‘t gebeur. Alles wat jy hiervoor benodig, is nou binne bereik van die aarde.

Miskien is dit juis Jakob se onvrede met die grense en die reëls van sy lewe wat hom geskik maak om ‘n beloftedraer te word vir hierdie God wat ook nie vir die korrupte lewe se voorskrifte en reëls tyd het nie. Al wat moet gebeur, is dat God ‘n groter droom in Jakob se hart moet kom plant – ‘n droom wat sy eng-selfsugtige plannetjies, sy strewe na eie gerief en tydelike geluk, kom verbreed om die geluk en die heelheid vir die aarde en almal wat daarop woon, in te sluit.

Soos Ted Williams in die verhaal, staan Jakob ook hier langs die pad van die lewe. Niemand dink anders oor hom as bloot net ‘n loser nie. Inteendeel, Jakob dink dit van homself. Maar dan daag die Beloftegewer self hier by hierdie loser op. Interessant, God staan nie aan die bokant van die trap nie, maar aan die onderkant, by Jakob. Reisgenoot! Vriend! Ook nou jóú God! Dit is hoe God hier opdaag.

En om alle onsekerheid uit die weg te ruim, is dit God wat self sy bedoeling en plan met die aarde aangekondig. “Take-my-word!” Geen twyfel hoef te bestaan oor waarmee God besig is nie, oor watter beloftes Hy gegee het om in vervulling te gaan nie.

Jakob, boemelaar langs die lewenspad, word aangestel om ‘n beloftedraer van God se plan te word. Hy moet self die belofte vir sy tyd en sy omstandighede ‘n werklikheid laat word.

En wat gebeur as God die laaste sê kry in die hart van hierdie korrupte ou? ‘n Ontmoeting met God op die laaste plek waar jy God verwag? Met die laaste mens van wie jy dit sou verwag?

Wanneer God opdaag, word hierdie niksseggende plek beduidend – ‘n crucial plek.

Wanneer God opdaag, verander ‘n vlugteling in iemand beduidend, ‘n crucial rolspeler in die vervulling van die belofte van God.

Verdien Jakob dit? Nee! Kwalifiseer hy hiervoor? Nee! Het Jakob dit van God gevra? Nee! Jakob het nie eers ‘n intensie gehad om God te ontmoet nie. Is dit billik of regverdig? Lees maar weer sy verhaal! Glad nie! Maar God daag op, gereed om aan Jakob baie méér te kom gee as wat hy self met sy slinkse plannetjies kon bekom. Méér as wat sy pa Isak hom kon laat erf. Méér as wat ‘n eersgeboortereg kon gee.

Die rockgroep U2 se hoofsanger, Bono, sing die volgende woorde in die lied getitel “Grace”.

Download die video: Grace by U2

Grace, she takes the blame
She covers the shame
Removes the stain
It could be her name

Grace…
It’s a name for a girl
It’s also a thought that, changed the world
Grace finds goodness in everything

Grace, she’s got the walk
She travels outside of karma, karma
She travels outside… of karma

Grace finds beauty in everything

What once was hurt
What once was friction
What left a mark
No longer stings…
Because Grace makes beauty
Out of ugly things

(God) ”Grace” kom soek Jakob op in sy wêreld van bedrog, shame en seer en rig hom op as “beloftedraer”. ‘n Beloftedraer wat eerstehands kan getuig dat hier ‘n God is wat ‘n sterwende wêreld kan laat opstaan, wat skoonheid voortbring uit die lelikste van lelik. ‘n Beloftedraer wat kan getuig:

“Amazing Grace, how sweet the sound,
That saved a wretch like me ….
I once was lost but now am found,
Was blind, but now, I see.”

Hierdie verhaal kom jou ook uitnooi om jou deur hierdie God te laat vind.

‘n Verhaal wat jou uitdaag om alles wat ‘n aanspraak maak op wie jy is, vir ‘n oomblik uit te sluit, stil te maak en toe te laat dat God ‘n sê in jou lewe kry.

Miskien klim jy nog met ywer die lere van sukses uit. Of miskien voel jy jou leer staan teen die verkeerde muur. Miskien het jy al moed opgegee met die lere van sukses en geluk.

Hier is ‘n verhaal wat jou wil gerusstel: Jy hoef geen leer uit te klim nie. God het afgeklim. God is híér, langs jou. Die uitdaging is om sáám met God die lewe te gaan leef – met ‘n hart en ‘n uitkyk groter as die beperkende reëls en voorskrifte vir sukses en geluk van die ou wêreld.

Dít gebeur met Jakob: As hy wakker word, lyk alles anders. Want hy kyk anders. Hy sien méér raak as voorheen. Hy begryp méér as wat hy voorheen verstaan het. En daarom beplan hy nie ‘n volgende stap nie. Nee, hy aanbid! Hy kondig aan en verklaar ‘n gewone klip tot ‘n gewyde altaar vir die God van nuwe lewe en nuwe moontlikhede.

Lees nou:

16 Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

17 Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

18 Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit.

19 Hy het die plek Bet-El genoem. (Die naam “Bet-El” beteken “huis van God”.) Die stad was voorheen bekend as Lus.

Sy lewe slaan ‘n nuwe rigting in, en daarom ook sy optrede en sy ingesteldheid. Sy tyd en geld sal hy voortaan daarin stort om hierdie nuwe koninkryk vir almal te laat sien en te geniet.

Die “as” van Jakob in sy belofte is miskien steeds iets van die ou Jakob-styl, maar ook miskien ‘n “as” wat verstaan dat as dít die God is wat mý God is, dan kan ek die volgende doen en leef.

Lees nou:

20 Jakob het toe ‘n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee,

21 sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees.

22 Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal ‘n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U ‘n tiende gee.”

Hierdie verhaal wil vir ons tyd en ons wêreld tekens laat sien wat getuig van ‘n nuwe koninkryk wat ‘n sterwende wêreld weer tot lewe kan oprig. Kom ons gaan wees die beloftedraers wat kan getuig: “Grace” het ons gevind! Kom ons gaan soek die boemelaars van die lewe en rig hulle op met die boodskap van “Grace” – om só ook beloftedraers van ‘n nuwe koninkryk te wees.

God stuur ons om te leef

Slotlied: Lied 280: 1,2

Al my hoop is gevestig op u groot genade.
Gee my die genade om te doen wat U beveel
en beveel dan wat U wil.

Amen: Lied 281: 2

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.