Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

God wil ons onderrig en lei sodat ons lewens vrug kan dra. Die liturgie vier vandag dié God wat ons deur Jesus en die Gees onderrig. Die fokusteks bring ons by ‘n sentrale motief van die Matteusevangelie, naamlik Jesus se bediening as leermeester. In die laaste opdrag (Matt 28) word die dissipels en kerk ook as leermeesters “georden”. Esau se verhaal waarsku (as negatiewe aanmoediging) dat mens voorregte wat God gee, nie moet minag nie. Daarteenoor is die motivering in die gedeeltes uit die Nuwe Testament baie positief met die beloftes van vrug.

Ander tekste

Genesis 25:19-34
Hier volg besonderhede oor Isak seun van Abraham: Abraham was Isak se pa, en toe Isak veertig jaar oud was, het hy met Rebekka getrou. Sy was die dogter van Betuel, ‘n Arameër uit Paddan-Aram, en ‘n suster van Laban die Arameër. Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy vrou Rebekka het swanger geword. Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?” Sy het toe die Here gaan raadpleeg, en Hy het vir haar gesê: “Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.” Toe Rebekka haar kinders in die wêreld bring, was dit tweelingseuntjies. Die eerste is gebore: rooi, vol hare soos ‘n veljas, en hy is Esau genoem. Sy broer is na hom gebore en dié se hand het aan Esau se hakskeen vasgehou. Hy is Jakob genoem. Isak was sestig jaar oud toe hulle gebore is. Die seuns het grootgeword. Esau was ‘n ervare jagter, ‘n man van die veld; Jakob was ‘n rustige mens, hy het tuis gebly. Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildsvleis gehou. Rebekka weer het vir Jakob voorgetrek. Op ‘n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die veld daar aan en sê vir Jakob: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg!” Daarom is hy Edom genoem. Toe sê Jakob vir hom: “Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my.” Esau het geantwoord: “Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om die eersgeborene te wees?” Jakob sê toe vir hom: “Beloof my nou met ‘n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my oormaak.” Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop. Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap. Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.

Psalm 119:105-112
U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Ek het ‘n eed afgelê, en daarby sal ek bly, om my aan u bepalings te hou; hulle is regverdig. Ek ly swaar, Here, hou my in die lewe, soos U beloof het. Neem tog my dank aan, Here. Leer my u bepalings. My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie. Die goddeloses stel vir my ‘n strik, maar van u bevele wyk ek nie af nie. U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my ‘n vreugde. Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer, tot die einde toe.

Romeine 8:1-11
Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Fokusteks

Matteus 13:1-9, 18-23
Ons gee die hele konteks van Matteus 13 hier.

Die gelykenis van die saaier
(Mark 4:1–9; Luk 8:4–8)
13 Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2 ‘n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in ‘n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê:

3“ ‘n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en 4die voëls het gekom en dit opgepik. 5 ‘n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7 ‘n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8Die ander saad het in goeie grond geval en ‘n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.
9“Wie ore het, moet luister!”

Die doel van die gelykenisse
(Mark 4:10–12; Luk 8:9–10)
10Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”

11Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 13Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. 14In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:
‘Julle sal hoor en hoor
en tog niks verstaan nie,
en kyk en kyk
en tog niks sien nie.
15Hierdie volk se verstand
is afgestomp:
hulle het hulle ore toegedruk
en hulle oë toegemaak
sodat hulle nie met hulle oë
kan sien en met hulle ore kan hoor
en met hulle verstand kan verstaan
en hulle bekeer,
en Ek hulle gesond maak nie. ‘

16“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

Jesus verklaar die gelykenis van die saaier
(Mark 4:13–20; Luk 8:11–15)
18“Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring
24Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan? ‘28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk. ‘ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek? ‘29Nee, sê hy, as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.”

Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg
(Mark 4:30–32; Luk 13:18–21)
31Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33Hy het hulle nog ‘n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

Die gebruik van die gelykenisse
(Mark 4:33–34)
34Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder ‘n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. 35So moes vervul word wat die Here deur ‘n profeet gesê het:
“Ek sal gelykenisse gebruik
as Ek praat;
Ek sal bekend maak
wat geheim gebly het
van die skepping af.”

Verklaring van die gelykenis van die onkruid
36Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”

37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele.

40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, 42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.
“Wie ore het, moet luister.”

Drie kort gelykenisse
44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

47“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ‘n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. 48As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. 49So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies 50en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Ou en nuwe skatte
51“Verstaan julle al hierdie dinge?”
“Ja,” antwoord hulle Hom.

52Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ‘n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”

Jesus word in Nasaret misken
(Mark 6:1–6; Luk 4:16–30)
53Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan. 54Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: “Waar kry hy hierdie wysheid vandaan en die vermoë om die kragtige dade te doen? 55Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? 56En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie? Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?”

57En hulle wou niks van Hom weet nie.
Jesus sê toe vir hulle: “ ‘n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.”

58Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie.

Ekstra stof

Ons plaas hier ekstra stof oor die hele hoofstuk om ‘n breër konteks vir die gelykenis van die saaier te verskaf.

Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse
Hierdie gedeelte van Matteus – wat ‘n mens kan tipeer as die weerspieëling van die gemengde ontvangs wat Jesus onder die Joodse volk gehad het, hfst. 11-13 – word nou afgesluit met die derde toespraak van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede van hoofstuk 13.

Dit bestaan uit ‘n reeks van agt gelykenisse, ingelei deur die toonaangewende gelykenis van die grond, waarskynlik beter bekend as die gelykenis van die Saaier (of die saad). As jy dit egter wil tipeer in terme van die funksie van die gelykenis, dat dit op die ontvangs van die koninkryk fokus, is dit beter om dit die gelykenis van die grond te noem. Dit maak veral sin omdat die res van die gelykenisse in die hoofstuk almal ‘n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk beklemtoon, met die een oor die onkruid tussen die koring wat ook besonder prominent is, en ook apart aan die dissipels verklaar word.

Dit is ook belangrik om die volgende in ag te neem in jou interpretasie van gelykenisse. Gelykenisse word deur baie geleerdes beskou as ‘n verhaal wat net een punt wil maak wat ‘n mens deur goeie eksegese en goeie kennis van die wêreld waarvoor dit geskep is, kan agterkom. Dié manier van lees, word egter toenemend bevraagteken in studies oor metafore en die teorieë oor die betekenis wat lesers aan ‘n teks gee. Dit beteken dat ‘n mens met reg die veelvlakkige betekenis van die onderskeie gelykenisse kan ontgin, om só ‘n ryk en gevarieerde boodskap daaruit te put. Die gelykenisse interpreteer immers ook vir ons, nie net ons die gelykenisse nie. Dit is ‘n lewende woord aan ons wat deur God se Gees gebruik word om met ons te praat.

Net so is daar baie pogings al aangewend om die onderliggende struktuur van die rangskikking van die gelykenisse in hierdie hoofstuk te beskryf. Hoewel die idee – dat die gelykenis van die saad die toon aangee – redelike steun geniet (met die ander gelykenisse wat dan verdere perspektiewe daarop verleen) is daar nóg ‘n belangriker indeling wat ‘n mens help om die hoofstuk te verstaan.

JESUS ONTMAGTIG DIE SKARE MET GELYKENISSE: Jesus is in die eerste helfte van die hoofstuk, vers 1-36, meesal met die skare langs die see op die strand besig (vgl. 13:2,34). Soms het Hy, waarskynlik terwyl die skare nog daar was, net met die dissipels gepraat, toe hulle nader gekom het aan Hom, om sy dieper verklaring te hoor (13:10-23). Maar in die breë is Hy met die skare besig. In totaal het hy dus vier gelykenisse hier met die skare gedeel sonder verdere verduidelikings aan hulle – die gelykenis van die grond, die onkruid tussen die koring, die mosterdsaad en die suurdeeg. “Sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie,” sê Matteus, sodat die Skrif vervul sou word uit Ps. 78:2, hoewel die gelykenisse aan die skare op ‘n negatiewe aanwending van die Psalm dui.

JESUS BEMAGTIG DIE DISSIPELS MET GELYKENISSE: In die res van die hoofstuk, vers 36-53, is Jesus net met die dissipels binne die huis besig, nadat die skare weggestuur is (13:36). Hy verklaar die gelykenis van die onkruid tussen die koring en gebruik nog vier gelykenisse – die gelykenis van die skat, die pêrel, die treknet en die skrifkenner met nuwe en ou skatte. Die laaste een kan ook net ‘n beskrywende opmerking wees, maar het met die tema van die koninkryk te make en word dus as gelykenis interpreteer.

Dit bevestig ook die veelvlakkige betekenis van die gelykenisse.
Die laaste perikoop van die hoofstuk handel oor die verwerping in Nasaret wat nie deel van die koninkryksrede vorm nie.

Die gelykenis van die grond – 13:1-9
Jesus lewer dié gelykenis langs die See van Galilea vanuit ‘n skuit op die see aan ‘n skare wat op die strand bly staan het. Die detail van die gelykenis van die grond is vir ons baie bekend. Die saad word in vier kontekste, vier tipes grond, gesaai. Die voëls pik die saad langs die pad op. Die son verskroei die saad in rotsagtige plekke dat dit verdroog. Die dorings verstik die saad wat tussen hulle val. Die goeie grond lewer ‘n goeie tot uitstekende opbrengs. Die effektiwiteit van die saad hang dus af van beide die werk van die Saaier, sowel as die ontvanklikheid van die grond.

Jesus som dit op met sy woorde: “Wie ore het, moet luister.” Dit gee ons ‘n sleutel vir die wyse waarop die gelykenisse beide ontmagtigend sowel as bemagtigend in die res van die hoofstuk werk.

Die ontmagtigende effek van die gelykenisse – 13:10-18
Die dissipels ontvang ‘n verklaring van die doel van die gelykenisse. Dit is God se manier om sy boodskap verstaanbaar te maak vir sy dissipels – “omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die koninkryk van die hemele te verstaan”. Maar terselfdertyd, met dieselfde gelykenis, maak Hy dit nie verstaanbaar vir die skare nie: “omdat hulle siende blind en horende dood is en dus nie verstaan nie.” Dit, sê Jesus, is ‘n vervulling van die profesie van Jesaja 6:9-10 (aangehaal uit die Griekse vertaling van die OT, die Septuaginta of LXX – vgl. ook Joh. 12:40 waar Johannes ook Jesaja aanhaal, sowel as Hand. 28:26-27 waar Paulus dit ook doen).

Daarmee gee Jesus uitdrukking aan die misterieuse kant van die genade. God gee ontvanklikheid vir wie Hy wil. ‘n Mens kan net dankbaar wees as jy genade ontvang, nie regtig dit ten diepste begryp nie. Genade is per definisie onverdiend en afhanklik van God se besluit. Maar, die ander kant is ook waar. Die onbegrip is ook te wyte aan die tipe grond en die gesindheid van “siende blind” en “horende doof”. Gelykenisse help en bemagtig dus dié wat gehoorsaam en ontvanklik is. Gelykenisse dwarsboom en ontmagtig dié wat nie gehoorsaam en ontvanklik is nie.

Die bemagtigende verklaring van die gelykenis van die grond – 13:19-23
Jesus se verklaring van die gelykenis van die grond bevestig die feit dat gelykenisse veelvlakkig is. Hy verduidelik die redes waarom die grond op spesifieke maniere op die saad reageer.

  • Die grond van die pad dui op mense wat die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie. Die Bose roof wat in hulle harte gesaai is.
  • Die rotsagtige grond dui op mense wat die woord met vreugde hoor, maar struikel as gevolg van verdrukking of vervolging, sogenaamde “mooiweer Christene”. Hulle hou net ‘n rukkie.
  • Die doringagtige grond dui op mense wat die woord hoor, maar nie vrug dra nie as gevolg van bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom, sogenaamde “materiële Christene”. Die wêreld en die sug na welvaart verstik die woord.
  • Die goeie grond dui op mense wat die woord hoor en begryp en daarom vrug dra.

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:24-30
Jesus verduidelik die gemengde werklikheid waarbinne gelowiges moet saamleef met ongelowiges met die gelykenis van die onkruid tussen die koring. Die gelykenis het dus nie dieselfde betekenis as dié van die derde tipe grond van die vorige gelykenis van die grond nie. Dié gelykenis kom ook net in Matteus voor.

Daar is in dié gelykenis nie net ‘n man wat goeie saad saai op die land nie, ook ‘n vyand, wat onkruid tussen die koring saai. Die problematiek is dan hoe om die koring tussen die onkruid te hanteer, want die tipe onkruid waarvan hier gepraat word, het baie soos koring gelyk, totdat die koring uiteindelik are geskiet het, gereed vir die oes. Uit vrees dat daar dus van die koring verlore sal gaan, omdat hulle só eenders gelyk het, beveel die eienaar dat albei gelos moet word tot die einde toe. Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal word en verbrand word. Dan sal die koring in die skuur bymekaargemaak word.
Die betekenis hiervan sal eers aan die dissipels verduidelik word as hulle alleen terug in die huis is.

Die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg – 13:31-33
Jesus sluit sy lering van die skare af met twee gelykenisse.

Die gelykenis van die mosterdsaad dui op die groei van die koninkryk van die hemele wat van ‘n klein begin ‘n omvattende ruimte vir al God se mense verskaf.

Die gelykenis van die suurdeeg dui ook op die groei van die koninkryk van die hemele van ‘n klein begin af, maar lê meer klem op die “aansteeklike krag” wat in die evangelie opgesluit lê.

Die openbaarmakende karakter van die gelykenisse – 13:34-35
In dié gedeelte haal Jesus uit Ps. 78:2 aan en interpreteer die gelykenisse aan die skare as ‘n vervulling daarvan, hoewel dit die Psalm in die lig van die gebrek aan ontvanklikheid by die skare op negatiewe manier op die gelykenisse betrek. Die positiewe betekenis van die Psalm kan egter wel deeglik by die gelykenisse aan die dissipels gesien word. God maak Homself bekend aan dié wat ontvanklik is daarvoor. Die omgekeerde gebeur met dié wat nie ontvanklik is vir Hom nie.

Die verklaring van die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:36-43
Jesus stuur die skare weg en gaan met sy dissipels in die huis in, waarskynlik Kapernaum en verklaar, op hulle versoek, vir hulle die gelykenis van die onkruid tussen die koring en vertel nog vier ander gelykenisse om die idee van die koninkryk van die hemele nog verder vleis te gee in hulle begrip daarvan.

Hy lê die eienaar uit as die Seun van die Mens, wat natuurlik weereens sy identifikasie met hulle op die tafel sit. Die goeie saad is die kinders van die koninkryk. Die onkruid is die kinders van die Bose. Die oes is die voleinding van die wêreld waar die kinders van die Bose met vuur verbrand sal word en die regverdiges, die kinders van die koninkryk, sal skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.

Met hierdie gelykenis motiveer Jesus dus die gemengde werklikheid van gelowiges en ongelowiges wat langs mekaar bestaan as ‘n feit wat aanvaar word, en dat die inherente konflik tussen hulle in terme van waardestelsels en geloof eenvoudig verduur sal moet word, totdat geregtigheid uiteindelik seëvier. Daarmee hou Jesus die hoop op God se toekoms aan die brand.

Die gelykenisse van die skat, die pêrel en die treknet – 13:44-50
Met dié drie gelykenisse gee Jesus ‘n glorieryke prentjie van wat die koninkryk van die hemele vir die kinders van die koninkryk, die dissipels en die ander volgelinge van Jesus, sal inhou. Dit is noodsaaklik in terme van die uitdaging wat dit vir hulle inhou om uit te hou en aan te hou in ‘n tyd waarin onreg en ongeregtigheid baie keer seëvier.

Die eerste twee, die gelykenis van die skat in die veld, sowel as die kosbare pêrel, dra beide die betekenis van die allesoortreffende betekenis en belang van die koninkryk van die hemele. Dit is alles wat jy besit, werd.

Die derde een, oor die treknet wat goeie en slegte visse gevang het, versterk die boodskap van die gelykenis van die onkruid tussen die koring en verseker die gelowiges dat die regverdiges nie dieselfde lot as die bose mense te beurt sal val nie.

Die gelykenis van die skrifkenner met nuwe en ou skatte – 13:51-53
Die koms van die koninkryk laat jou alles herwaardeer. Daarom vra Jesus of sy dissipels verstaan. En om seker te maak, vertel hy die gelykenis van die skrifkenner (sommige dink dat Matteus hier van homself praat!) se nuwe en ou skatte as hy ‘n leerling raak in die koninkryk van die hemele.

  • Daar is diskontinuïteit – dinge werk anders in die teenwoordigheid van Jesus. Daar is dus nuwe skatte vir die skrifkenner.
  • Daar is egter ook kontinuïteit – dinge wat dieselfde is as in die ou bedeling. Daar is dus ook ou skatte vir die skrifkenner.

Dit is ‘n baie belangrike afsluiting van hierdie toespraak van Jesus, een wat ons eintlik met reg ter harte kan neem as ons dink aan die blywende impak van die OT:

  • Daar is dinge wat net so voortgaan in die NT: God se genade en liefde, sy eis tot geloof en gehoorsaamheid.
  • En daar is dinge wat tot ‘n einde gekom het, die versoening deur offers, die onderhouding van die wet in terme van die besnydenis en die Sabbat.
  • En daar is natuurlik nuwe dinge, soos die doop en die nagmaal wat die unieke uitkomste van die bedeling van die NT verteenwoordig.

Jesus word in Nasaret verwerp – 13:54-58
Die ontvangs van Jesus se boodskap in Nasaret, sy tuisdorp, kom vervolgens onder die vergrootglas en dit illustreer die oorwegend negatiewe ontvangs wat Hy onder die Joodse volk, sowel as spesifiek die Joodse leiers, geniet het. Sy wysheid en kragtige dade word gediskrediteer omdat hulle hom kan etiketteer as deel van die familie van die skrynwerker (waarskynlik eintlik ‘n bouer) wie se vrou by die naam genoem word, Maria, maar nie meer sy pa Josef nie, omdat hy waarskynlik teen dié tyd oorlede is.

Hulle neem dus aan Hom aanstoot, soveel só dat Hy vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade daar gedoen het nie.

Ons leer hier dat Jesus vier broers gehad, Jakobus, Josef, Simon en Judas, asook nog ‘n paar susters. Ons weet dat Jakobus nie net later ‘n belangrike Christelike leier in Jerusalem geword het nie, maar ook die brief van Jakobus geskryf het en wat in die NT opgeneem is. Ons weet ook dat Judas die brief geskryf het wat sy naam dra en ook in die NT opgeneem is. Dit sê nogal iets van die impak wat Jesus ná sy opstanding ook op sy eie familie gehad het. Uiteindelik is Hy dus ten minste in ‘n deel van sy huis geëer, al was dit nie die geval in sy tuisdorp nie.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord
Seëngroet

Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Verootmoediging

Wet: uit 1 Johannes 4

Skuldbelydenis

Vryspraak: uit Romeine 8:1-11

Lofliedere
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 220 “Met ons harte sing ons Here 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 13:1-9, 18-23

Prediking
Gebed
Geloofsbelydenis
Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord 
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar
vir my hulp kom?
2My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
(Psalm 121)

Seëngroet
Aan almal in ……………………… vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Uit Romeine 1)

Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Verootmoediging

Wet: uit 1 Johannes 4
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God,
en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God.
8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.
9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar:
sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.
10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.
18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Skuldbelydenis
Voorganger (V): Voor God en saam met die gemeente
van God bely ek my gebrokenheid:
dat ek op verskillende maniere my eie
lewe verwond;
die lewe van ander
en die lewe van die wêreld.
Gemeente (G): Mag God jou vergewe,
mag Christus jou vernuwe
en mag die Gees jou help om te groei in liefde.

V: Amen.
G: Voor God en saam met die gemeente
van God bely ek my gebrokenheid:
dat ek op verskillende maniere my eie
lewe verwond; die lewe van ander
en die lewe van die wêreld.

V: Mag God jou vergewe,
mag Christus jou vernuwe
en mag die Gees jou help om te groei in liefde.
G: Amen.
(Iona Community, Skotland)
(Uit Bybelmedia se Vir die erediens- ‘n Handleiding, 2007)

Vryspraak: uit Romeine 8:1-11
Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.
Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.
Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.
Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.
Dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees.
Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde.
Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Lofliedere
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 220 “Met ons harte sing ons Here 1,2,3”

Liedere

F159. “Leef In My”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding)
Oorspronklike titel: Live In Me
Teks en Musiek: Stass van Veuren
Afrikaanse vertaling: Anita Erasmus
© 2006 MAR Gospel Music Publisher

Ek is honger en ek dors na U, o Heer
U maak als, buig af
en roep my op my naam
Kom vloei deur my en
stap nou met my saam
Ek gee my hart, kom leef U droom deur my
Leef in my, leef in my
Ek nooi U uit, kom leef in my, in my
Ek nooi U uit, kom leef in my, in my
Ek nooi U uit, kom leef in my, in my

F172. “Meer En Meer”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Teks en Musiek: Elsche van Wyk
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Meer en meer, Vader, meer soos U
Meer en meer soos U, Heer
Meer en meer, Jesus, meer soos U
Meer en meer buig ek voor U neer

1. Meer en meer, Vader, meer soos U
Ek vra myself elke dag: Laat my lewe U glimlag?
Meer en meer, Christus, meer soos U
Heer, ek gee myself aan U meer en meer

Refrein:

Meer en meer, Vader, gee my meer van U
Meer en meer smag ek na U
Meer en meer, Here, meer van u Beeld
Deur u Gees word ek meer en meer soos U

Brug:
U’s die pottebakker, ek die klei
Vorm my net soos U wil

God praat met ons en ons luister

Epiklese
5As ek tog maar net
op ’n vaste koers kan bly
en my aan u voorskrifte kan hou!
6As ek al u gebooie in ag neem,
sal ek nooit raad-op wees nie.
7U bepalings is regverdig;
as ek hulle ter harte neem,
sal ek U loof met ’n opregte hart.
8Ek sal my aan u voorskrifte hou:
10Ek wil aan U gehoorsaam wees
met my hele hart,
laat my nie afwyk van u gebooie nie.
11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.
14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom
van die wêreld.
15U bevele bly my altyd by. Amen
(Uit Psalm 119)

Skriflesing: Matteus 13:1-9, 18-23

Prediking

Familie-oomblik

Wys vir die kinders verskillende pakkies saad van blomme of kruie of groente (vryelik beskikbaar).

Wie van julle het al saadjies gesaai wat opgekom en gegroei het? Dis mos ‘n lekker beloning as jy die vrug op jou handewerk kan sien groei.

Maar vir saadjies om goed te groei is dit baie belangrik om die grond voor te berei, nie waar nie?

Mense wat in die stad woon kan gewoonlik goeie grond en kompos by die kwekery gaan koop- sulke deursigtige plastieksakke met goeie grond.

Ander wat dalk op ‘n plaas boer en wat in elk geval saaiboere is het dikwels goeie grond daar beskikbaar. Soms is dit ook vir ‘n saaiboer nodig om sy grond voor te berei sodat dit goeie grond is.

Maar ons stem almal saam- vir saadjies om te ontkiem, op te kom en goed te groei is dit baie belangrik om die grond voor te berei. Goeie grond sal altyd bydra tot goeie groei!

Jesus het eenkeer ‘n storie vertel wat oor saad en grond en groei gehandel het- kom ons luister wat hy vertel het…

Vertel die verhaal van die saaier ahv Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

’n Verhaal van Iemand wat Saad Saai
13 1–2 Later die dag is Jesus na die See van Galilea toe. Baie mense het daarheen gekom om te hoor wat Hy sê. Later was daar soveel mense dat Jesus in ’n bootjie geklim het en ’n ent van die land af weggevaar het om met hulle almal te kan praat.

Jesus vertel toe vir hulle ’n storie oor God se nuwe wêreld:
3–8 “Eendag het ’n boer saad in sy land gaan saai.

’n Deel van die saad beland toe op die pad. Die voëls het dit vinnig opgepik.

’n Ander deel het tussen ’n klomp klippe geval. Omdat daar ’n klein bietjie grond tussen die klippe was, het die saad gou begin groei. Maar die saad se wortels kon nie diep groei nie. Daarom het die son die plantjies gou dood gebrand.

Van die ander saad het tussen die dorings en die bossies beland. Dit het die plantjies doodgegroei.

’n Ander deel van die saad het in goeie grond geval. Dit het begin groei en groot plante geword. Hierdie plante het baie meer graan gegee as wat almal gedink het.

Volgens hierdie storie is mense die grond! En die saad wat gesaai word is die lesse en verhale wat Jesus geleer het. As die saad in goeie grond val sal dit ontkiem en opkom en goed groei. Maar daar is soorte grond waar die saad nie kan groei nie. Kom ons luister na Jesus se verduideliking:

Wat Beteken die Verhaal van die Saaier?
18–23 “Kom Ek sê vir julle wat die verhaal beteken van die boer wat saad gesaai het,” sê Jesus.

• “Onthou julle die eerste saad het op die pad geval? Dit is iemand wat hoor wat God sê, maar wat nie daarna luister nie. Die duiwel maak dat hy gou vergeet wat hy gehoor het.

• Ander saad het tussen die klippe geval. Dit is daardie persoon wat hoor wat God sê en met groot blydskap in Hom begin glo. Maar wanneer dit nie meer so maklik is om ’n Christen te wees nie; wanneer hy begin swaar kry vir sy geloof, hou hy vinnig op om te glo.

• Die derde klomp saad het tussen bossies en dorings beland. Dit is daardie mens wat in God begin glo, maar na ’n rukkie raak hy lief vir dinge soos vir geld en klere. Later is hy so besig om geld en nuwe klere in die hande te probeer kry dat hy niks tyd meer vir die Here het nie.

• Die laaste saad het op die goeie grond geval. Dit is iemand wat die Here se Woord hoor en elke dag net vir Hom leef. Sy lewe is soos ’n goeie boom wat baie vrugte dra. Die Here is sommer baie tevrede met hom.”

Die Here wil hê dat ons soos goeie grond sal wees wanneer verhale oor Jesus en God aan ons vertel word- of dit nou by die huis is of by Kinderkerk tyd of in die Kategese klas. Want goeie grond beteken dat ons fyn sal luister na die verhale oor God en oor Jesus.

Ons kan dus kies om goeie grond te wees…

By hierdie webtuiste  is ‘n groot verskeidenheid inkleurprente oor die gelykenis van die saaier beskikbaar.

Preekriglyn

‘n Vrou droom een nag oor Jesus. In haar droom loop sy by ‘n winkel in ‘n groot sentrum in, en kry Jesus agter die toonbank. “Jy kan enigiets kry wat jou hart begeer,” sê Jesus.

Verstom, maar baie bly, vra die vrou vir vrede, vreugde, wysheid en om vry van vrees te wees. En sy voeg by: “Nie net vir my nie, maar vir die hele wêreld.”

Jesus glimlag in haar droom en sê: “Ek dink jy verstaan my verkeerd. Ons verkoop nie vrugte nie, net saad.”

Ontvangs van die koninkryk

Jesus praat in ons teks oor die koninkryk van God wat in die vorm van saad na mense kom. Saad moet reg ontvang word om te kan ontkiem, groei en vrug dra.

Ons teks kom uit ‘n gedeelte in Matteus – hoofstukke 11-13 – waar dit gaan oor die gemengde ontvangs wat Jesus onder die Jode gehad het. Die gedeelte word afgesluit met die sogenaamde koninkryksrede van Jesus.

Die koninkryksrede bestaan uit ‘n reeks van agt gelykenisse, ingelei deur die toonaangewende gelykenis van die grond, waarskynlik beter bekend as die gelykenis van die Saaier (of die saad). Aangesien die gelykenis op die ontvangs van die koninkryk fokus, is dit waarskynlik beter om dit die gelykenis van die grond te noem. Dit maak veral sin omdat die res van die gelykenisse in die hoofstuk almal ‘n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk beklemtoon, met die een oor die onkruid tussen die koring wat ook besonder prominent is, en ook apart aan die dissipels verklaar word.

Inhoud en omgewing

Jesus lewer dié gelykenis langs die See van Galilea vanuit ‘n skuit op die see aan ‘n skare wat op die strand bly staan het. Die detail van die gelykenis van die grond is vir ons baie bekend. Die saad word in vier kontekste, vier tipes grond, gesaai:

  • Die voëls pik die saad langs die pad op.
  • Die son verskroei die saad in rotsagtige plekke dat dit verdroog.
  • Die dorings verstik die saad wat tussen hulle val.
  • Die goeie grond lewer ‘n goeie tot uitstekende opbrengs.

Die effektiwiteit van die saad hang dus af van beide die werk van die Saaier, sowel as die ontvanklikheid van die grond.

Jesus som dit op met sy woorde: “Wie ore het, moet luister.” Daarmee beklemtoon hy die belang van selfondersoek. Indien die saad nie in jou lewe groei en opbrengs lewer nie, het dit dalk met jou te doen?

Daarmee sê Jesus vir die Jode wat Hom as Messias betwyfel dat hulle hulself moet ondersoek. As Jesus nie sin maak nie, en nie herkenbaar is as Messias nie, lê die fout by Hom, of by die Jode wat Hom nie herken en erken nie?

Begin dinge nou reg loop?

Die gesig van so ‘n groot skare moes balsem vir die dissipels se onrustigheid gewees het. Immers moes hulle teen dié stadium meer as effens bekommerd gewees het. In die vorige hoofstukke het Matteus enkele voorvalle opgeteken wat vir hulle tot kommer moes stem – konflikte met die Fariseërs; sameswerings tot moord; verwerping deur onboetvaardige dorpe; twyfel by Johannes die Doper of Jesus werklik die Christus is; selfs beskuldigings dat Hy in diens van die duiwel is.

Maar hier op die strand lyk dit nou asof Jesus se bediening uiteindelik begin stoom optel. ‘n Groot skare is byeen – Hy moet van ‘n bootjie ‘n preekstoel maak. Ons kan amper die dissipels se kollektiewe sug van verligting hoor.

Raaisels wat ontstig?

Feitlik dadelik kan ‘n mens ook hoor hoedat hulle weer hulle asems intrek. Jesus besef skynbaar nie die grootheid van die oomblik nie en laat hierdie gulde geleentheid deur die vingers glip. Vanuit die boot kom daar ‘n stroom raaisels, wat die skare eerder ontstig as stig.

Daarom vra hulle hom: ‘Hoekom gebruik U gelykenisse … ‘ Hoekom nie prontuit sê wat U bedoel nie? Jesus antwoord dat sy gelykenisse ‘n respons op die geestelike blindheid en doofheid van die mense is. En amper onheilspellend haal Hy Jesaja aan – daardie profeet aan wie die opdrag gegee is om ‘n volk aan te spreek wat nie wil luister, verstaan of glo nie.

As gelykenisse Jesus se respons tot die skare se botheid is, dan wonder ‘n mens wat Hy daarmee wou bereik? Wat moet die gelykenisse vir, of dalk, aan die skare doen? Dalk moet ons die vraag ook vir onsself vra, ons ‘ken ‘ mos die gelykenisse, veral die gelykenis van die Saaier. Ons ‘ken ‘ die gelykenisse so goed, dat ons die gevaar loop dat hulle by ons verby kan gaan.

Treffende stories?

Gebruik Jesus die gelykenisse as ‘n kuur vir die skare se doofheid en blindheid? Miskien was die gelykenisse ‘n besondere effektiewe manier om die eenvoudige mense met behulp van treffende stories en lewende beelde uit hulle alledaagse lewe te leer. Die probleem met hierdie oplossing is dat dit nie die dissipels se verwarring verklaar nie. As Jesus die gelykenisse gebruik het om die skare te leer, dan sou die dissipels nie na sy gebruik daarvan gevra het nie. Indien dit bedoel was om op ‘n treffende wyse te leer, sou dit mos duidelik wees hoekom Jesus daarvan gebruik maak.

Om te verblind?

Gebruik Jesus dalk die gelykenisse om geestelike blindheid en doofheid te veroorsaak? Miskien kan Jesus se woorde ‘Aan julle is dit gegee … maar aan hulle is dit nie gegee nie … ‘ (v. 11 ev.) op dié wyse interpreteer word. Die oomblik as ons dit sê dan stuit ons oor ‘n paar vraagstukke. As God dan sy Seun gestuur het, nie om te oordeel nie, maar om te red, en as God nie die dood van die sondaar wil nie maar sy bekering tot Hom wil, hoe is dit moontlik dat die Seun van God opsetlik mense daarvan weerhou om tot kennis van die redding te kom? Ook dié oplossing deug nie.

Ontmaskerend?

Ons is nader aan die kol as ons sê dat Jesus gelykenisse gebruik om die skare op hulle botheid te wys, om hulle traagheid van begrip te ontmasker. Miskien sal dit help om ons in die skoene van iemand in die skare te stel. Gestel ek sou ver gereis het om na Jesus te kom luister want ek is ten minste half oortuig dat hierdie man die Messias is. Ek vind nou dat ek geen snars verstaan van wat Hy sê nie. Dit bring my voor ‘n keuse. Óf daar is iets fout met Jesus as spreker óf daar is iets fout met my as luisteraar; ek het óf ‘n fout gemaak deur hom as Messias te beskou, óf daar lê vir my ernstige selfondersoek voor oor hoekom ek Hom nie verstaan nie.

Die wyse waarop ek hierdie dilemma gaan oplos, gaan aantoon Wie of wat die sentrum van my lewe is. Indien ek self die hoogste gesag in my lewe is, dan gaan ek hierdie Messias as ‘n bedrieër beskou en teleurgesteld huiswaarts koers kies. Op hierdie manier word die een wat self die gesag in sy lewe is se bietjie geloof weggeneem.

Indien geloof in Jesus – vertroue in Hom en sekerheid dat Hy die Messias is – die sentrum van my wese is, dan sal daardie oortuiging my optrede bepaal. Eerder as om my geloofsoortuiging in Jesus te laat vaar, sal ek eerder die probleem in myself soek. Op die manier sal aan dié wat het, gegee word.

Hoe die gelykenis ons help

As ons verstaan dat Jesus met gelykenisse ons wil laat sien waaraan ons ons harte opgehang het, dan kan die gelykenis van die saaier dalk opnuut vir ons iets beteken. Vir hulle wat besluit het dat die fout by hulleself lê, is die gelykenis ‘n uitnodiging en ‘n riglyn wat kan help in die proses van self ondersoek wat tot bekering en hernieude dissipelskap kan lei.

Daarom moet ons vra na ons eie dissipelskap. In welke mate het beredeneerde kennis en abstrakte beginsels die persoonlike verbintenis aan die lewende Here uit die sentrum van ons lewe gestoot? Beteken dissipelskap net instemming met die regte leer? Beteken dissipelskap net om moreel-eties goed te leef? Is dit al vrug wat die woord in my lewe dra?

En as die vrug ontbreek, waar lê die fout? Dalk moet ek aan die hand van die gelykenis begin vra na wat die struikelblokke is. Miskien kan Jesus se beelde die struikelblokke vir sy woord in my lewe ontmasker. Om waarlik te luister na die gelykenis vra dat ons ons daarin sal inleef, sal ontdek; vra dat ek sal ondersoek doen na die voëls wat die saad wegraap; dat ek die onkruid sal definieer; dat ek die diepte van my verbintenis sal ondersoek; dat ek die Bose nie sal toelaat nie. Voordat ek nie dit gedoen het nie, het ek nog nie die gelykenis gehoor nie.

Op die manier kom die woord van die koninkryk in my lewe te lande. Op die manier val die saad op vrugbare grond. Op die manier dra dit vrug.

Wie ore het, moet luister.

En: uitgenooi om morsige saaiers te word
Ons kan dié gelykenis ook hoor as ‘n uitnodiging om soos Jesus die saad van die koninkryk te begin saai. Sou ons Jesus agter die toonbank van ‘n groot saadwinkel kon herken (soos die vrou met haar droom in die inleiding hierbo), en van Hom die saad van die lewe ontvang, sou ons dit kon beginne saai.

Ons word genooi om die goeie nuus oral te bring en in alle omstandighede. Ons kan ruim en amper morsig daarmee saai. Die voorbeeld van die saaier is om die saad oral te gooi, sodat alle soorte mense in alle soorte situasies die geleentheid kan kry om daarop te reageer.

Dis duidelik die saaier maak nie sy arbeid afhanklik van die sukses daarvan nie. In soveel gemeentekontekste is dit maar ‘n handjie vol mense wat getrou die goeie nuus verkondig en poog om dit uit te leef. Soms, te midde van ons beste pogings, is daar meer mislukking as goeie opbrengs. Dit is in die geval van die saaier juis ook die geval as drie groepe beskryf word wat nie enige oes lewer nie. Soms en vermoedelik teen ons verwagting in lewer die gesaaide saad ‘n oorweldigende oes op.

Die resultaat van die saaier se arbeid is onbekend as hy/sy die waagstuk onderneem om die saad te saai. Dit is dan juis hierdie waagstuk waartoe ons genooi word as ons morsig omgaan met liefde, genade, deernis en sorg. As ons sonder om terug te hou goedheid en liefde laat reën op hulle wat oor ons pad kom, of ons nou dink hulle verdien dit al dan nie. As ons so leef, met ‘n ruim oop hart en hand, word die koninkryk van God sigbaar in die hier en nou en leef ons soos die ruim saaier van ouds in wie se voetspore ons volg.

God stuur ons om te leef

Gebed
Heil’ge God, herskep ons lewe,
en laat groei die goeie saad;
maak ons heilig in ons strewe,
in gedagte, woord en daad;
Ons wil U ons danklied bring,
en u lof, o Jesus, sing.
Laat u Gees ons lei, o Here,
om te lewe, U ter ere. Amen
(Lied 231:3)

Geloofsbelydenis
Voorganger (V): Ek glo in Jesus Christus, die Woord wat mens geword het.
Gemeente (G): Ons het sy heerlikheid gesien, vol genade en waarheid.

V: Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
G: Hy is die Seun van God.

V: Hy is die brood wat lewe gee.
G: Wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger ly nie; en wie in Hom glo, sal nooit weer dors kry nie.

V: Hy is die lig vir die wêreld.
G: Wie Hom volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

V: Hy is die goeie Herder.
G: Hy lê sy lewe af vir sy volgelinge (skape). Hy ken sy volgelinge (skape) en hulle ken Hom.

V: Hy is die opstanding en die lewe.
G: Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe Hy ook.

V: Hy is die weg, die waarheid en die lewe.
G: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur,Hom nie.

V: Hy is die ware wingerdstok.
G: As ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons baie vrugte dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
(Uit die Evangelie van Johannes)
(Uit Bybelmedia se Vir die erediens- ‘n Handleiding, 2007)

Offergawes

Wegsending Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën
Aan Jesus is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.
19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense Sy dissipels:
doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees,
en 20leer hulle om alles te onderhou wat Hy ons beveel het.
En onthou: Hy is met ons al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (Uit Matteus 28 en 2 Korintiërs 13)

Musikale Amen Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.