Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In die sleutelteks, sien ons Dawid se reaksie op Saul en Jonatan se dood – hy rou en beveel die hele Israel om dieselfde te doen deur die klaaglied te leer wat hy sing hieroor.

Tesame met hierdie ervaring van die dood in Dawid se lewe, wat steeds ook in elkeen van ons se lewe teenwoordig is. Die ander tekste gaan daaroor om ons vertroue op God stel. Psalm 130 is ‘n hulpgeroep na die Here en uiteindelik stel die digter sy vertroue op Hom.

2 Korintiërs 8:7-15 is ‘n aanmoediging om te deel wat ons het, omdat God sy rykdom met ons gedeel het. In die evangelieteks sien ons hoe ‘n onbekende vrou en een van die raadslede van die sinagoge, Jaïrus, soos Dawid in ‘n ervaring van dood en siekte hulle vertroue in die Here.

Ander tekste

Psalm 130
Ek wag op die Here
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

2 Korintiërs 8:7-15
Die Christelike vrygewigheid
8 Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het. 2Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. 3Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra. 4Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea. 5Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil.

6Daarom het ons vir Titus versoek om hierdie liefdeswerk, waarmee hy vroeër by julle begin het, nou ook te voltooi.
7Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig.

8Ek gee nie ’n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. 9Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

10Nou wil ek julle net raad gee om julle te help. Julle was verlede jaar nie alleen die eerste wat iets gedoen het nie, julle was ook die eerste wat gewillig was om iets te doen. 11Maak die werk nou ook klaar. Die ywer om uit julle beskikbare middele die insameling af te handel, moet net so groot wees as die gewilligheid waarmee julle dit begin het. 12As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie.

13Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15Daar staan ook geskrywe:
“Dié met baie, het nie
te veel gehad nie,
en dié met ’n bietjie,
nie te min nie.” h

Markus 5:21-43
Die dogtertjie van Jaïrus. Die vrou met bloedvloeiing
(Matt 9:18–26; Luk 8:40–56)
21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het ’n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. ’n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.
Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

Fokusteks

Samuel 1:1, 17-27
Dawid verneem van Saul se dood
1 Na die dood van Saul, op die derde dag daarna, het daar onverwags iemand uit Saul se kamp by Dawid aangekom.

Dawid was toe al twee dae terug in Siklag na sy oorwinning oor die Amalekiete. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Toe hy by Dawid aankom, het die man voor hom op sy knieë geval en gebuig.

3“Waar kom jy vandaan?” het Dawid hom gevra.
“Ek het uit die Israelitiese kamp ontvlug,” was sy antwoord.
4“Wat is aan die gang? Vertel my!” het Dawid aangedring.
Hy het toe vertel dat die leër uit die geveg weggevlug het, dat ‘n groot deel van die leër gesneuwel het, en dat Saul en sy seun Jonatan ook dood is.
5“Hoe weet jy dat Saul en sy seun Jonatan dood is?” vra Dawid vir die jongman wat hom dit vertel het.

6Hy het geantwoord: “Ek was heel toevallig op Gilboaberg. Daar merk ek toe dat Saul hom met sy spies om die lewe probeer bring, terwyl die Filistyne se strydwaens en hulle drywers kort op sy hakke was. 7Saul het omgekyk en my gesien. Hy het my nader geroep en ek het gevra: ‘Wat kan ek vir u doen?’8Hy vra my toe: ‘Wie is jy?’ en ek antwoord: ”n Amalekiet.’9‘Kom staan hier langs my en maak my dood,’ beveel hy, ‘want ek leef wel nog, maar my toestand is kritiek.’10Ek het toe nader gestaan en hom doodgemaak, want ek het besef dat hy, nadat hy homself probeer doodmaak het, nie sou bly lewe nie. Ek het die kroon van sy kop af gegryp, ook die armband van sy arm af, en dit vir u gebring.”

11Hieroor was Dawid so ontsteld dat hy sy klere geskeur het, en al sy manskappe ook. 12Hulle het tot die aand gerou en getreur en gevas oor Saul en sy seun Jonatan en oor die volk van die Here, die Israeliete, omdat hulle gesneuwel het.

13Dawid het toe vir die jongman wat hom die berig gebring het, gevra: “Van waar is jy nou weer?”
Hy het geantwoord: “Ek is nie ‘n landsburger nie. Ek is ‘n Amalekiet.”
14Dawid het vir hom gesê: “Dus was jy nie bang om jou hand uit te steek en die gesalfde van die Here om die lewe te bring nie?”

15Toe roep hy een van die manskappe en sê vir hom: “Kom hier! Maak hom dood!”
Die manskap het hom toe doodgemaak.

16Dawid het hom toegevoeg: “Jy het jou dood gesóék, want jy het jouself veroordeel toe jy gesê het: Dit is ek wat die gesalfde van die Here doodgemaak het!”

Dawid se klaaglied oor Saul en Jonatan
17Dawid het toe die volgende klaaglied oor Saul en sy seun Jonatan gesing. 18Hy het opdrag gegee dat hierdie booglied aan die inwoners van Juda geleer moet word. Die lied is ook opgeteken in die Boek van die Opregte.

19“Jou trots, Israel—
op jou hoogtes lê dit verslaan.
Hoe het die helde geval!
20Moet dit nie in Gat vertel nie;
moet dit ook nie bekend maak
in Askelon se strate nie,
anders sal die Filistynse meisies
bly wees
en die dogters van die heidene jubel.
21Gilboaberge! Offerland!
Nòg dou, nòg reën vir julle!
Waarlik, dáár is die heldeskild
besoedel.
Saul se skild—dit is nie
met olie ingesmeer nie
22maar met bloed van gesneuweldes,
met vet van helde!
Jonatan se boog—dit het
pal gestaan.
Saul se swaard—dit het sy werk
goed gedoen.
23Saul en Jonatan, geliefde
en beminde mense—
in lewe en sterwe nie geskei nie.
Hulle was vinniger as arende,
sterker as leeus.
24Israelitiese dogters,
julle moet huil oor Saul!
Hy het julle beklee
met sierlike klere,
goue sierade het hy daarop
laat aanbring.
25Hoe het die helde geval?
In die hitte van die stryd!
Jonatan lê verslaan op die hoogtes,
26Ek is bedroef oor jou,
my broer Jonatan.
Jy was baie na aan my hart.
ou liefde was vir my wonderliker
as die liefde van enige vrou.
27Hoe het die helde geval?
Met die wapen in die hand
het hulle omgekom!”

Ekstra stof

1 en 2 Samuel handel oor die oorgang van die laaste rigter, Samuel, na die eerste koning, Saul en die opkoms en heerskappy van Dawid, in die elfde eeu v.C. Hulle drie is dan ook die vernaamste karakters. Die boeke van 1 & 2 Konings voltooi die verhaal van die konings tot en met die ballingskap in 586 v.C.

Hierdie boeke vorm deel van die Vroeë profete, vertel vanuit God se perspektief op die geskiedenis van sy volk . Profete speel deurgaans ‘n belangrike rol, spesifiek Samuel en Natan.

Histories gesproke was dit ‘n tyd toe geen supermoondheid ‘n rol in Israel gespeel het nie. Dit het dit moontlik gemaak vir plaaslike rolspelers om na vore te tree. Die vernaamste teenstanders waarmee Israel te doen gekry het, was nie meer die Kanaäniete nie, maar die Filistyne (soos alreeds in die verhale van Samgar en Simson in Rigters). Die Filistyne was van die kusstreek aan die Middellandse See met stede soos Gasa, Asdod, Askelon, Gad en Ekron.

Hierdie bedreiging was een van die redes vir die vereniging van die stamme van Israel en vorm ‘n belangrike agtergrond vir die ontvouende verhaal van die boek van Samuel tot by 2 Sam 8, waar vertel word dat Dawid “die mag uit hulle hande geneem het.” (:1)

Daar is talle ooreenkomste, maar ook beduidende verskille tussen 2 Samuel en 1 Kronieke. Die verhaal van Dawid en sy ryk word in beide vertel, maar met verskillende perspektiewe. Waar 2 Samuel – en die verdere verloop (en verval) van Israel se verhaal in 1 en 2 Konings – uiteindelik ‘n belangrike motivering verskaf hoekom ‘n ballingskap nodig was, wil 1 Kronieke, geskrywe ná die ballingskap, die volk juis moed laat skep uit die helde van die verlede.

Betekenisvolle momente in die boek Samuel
1. OORGANGE – Die verhaal is een van oorgange:

  • Van ‘n periodieke, gedeeltelike teokrasie van die rigterstyd, na ‘n geïnstitusionaliseerde afkoms-gebaseerde monargie;
  • Van ‘n koning, Saul, wat soos die tipiese Midde-Oosterse konings optree na ‘n koning, Dawid, wat aan God gehoorsaam is;
  • Van veelvuldige aanbiddingsplekke na die nuwe sentrum in Jerusalem as woonplek van God se Naam.

Hierdie oorgange het natuurlik met baie spanning gepaard gegaan. Dit sien ‘n mens onder andere in:

  • die konflik tussen koningskap en die verbond – vgl. bv. die kontrasterende sentimente tussen Samuel en die volk oor die behoefte aan ‘n koning in 1 Sam 8-12, en Saul wat eerder sy eie kop volg as om lojaal te bly aan God. Vgl. ook Dawid se verhaal, wie se verbondslojaliteit juis ‘n nuwe belofte aan hom en ‘n verbond met God tot gevolg het (2 Sam 7 – let ook op die messiaanse ondertone), waarin koningskap en die verbond geïntegreer word.
  • die konflik tussen Saul en Dawid (1 Sam 16-31) – waar dit uiteindelik nie gaan óf Israel ‘n koning moet hê nie, maar watter tipe koning Israel gaan hê. Die sleutelperspektief hier is of die koning lojaal aan God gaan wees en God se karakter gaan vertoon of nie, omdat die koning God se verteenwoordiger op aarde gaan wees. Saul word verwerp omdat hy dink soos elke ander koning, en dat hy verhewe is bo die wet en onafhanklik van God kan optree. Dit is juis wat die profetiese tradisie telkens onder die volk se aandag gebring het, dat die konings nie outonoom was nie, en dat sy hooftaak was om die mense in gehoorsaamheid aan God te begelei.
  • Die konflik in Dawid se koningskap (2 Sam 1-24) – vgl. hoe kort Dawid se oorwinnings as koning vertel word (2 Sam 8) teenoor hoe lank en vol detail die verhaal van sy sonde en die tragiese gevolge daarvan vertel word (2 Sam 10-20). Dawid se twee grootse gedigte van toewyding en lof aan God word daarom in die laaste deel (2 Sam 22-23) van die boek geplaas, as ‘n belangrike deel van die samevatting van sy lewe. Dit gee ‘n gebalanseerde prentjie van hierdie man van geloof, wat wel aan swakhede toegegee het, maar wanneer daarmee hy gekonfronteer is, deur gebed en offers berou en verootmoediging getoon het.

2. AANBIDDING – ‘n Sentrale fokus in die boek is die ware aanbidding van God. Dit begin met die profesie teen Eli (2:29), wat God se voorskrifte verag het. Dan fokus dit op die verlies van die Ark van die verbond (hfst. 4-7), waarmee die glorie of eer van Israel weggevat is (4:22). Aan die begin van Dawid se heerskappy, is dit dus ‘n sentrale tema om die Ark weer terug te bring na Jerusalem (2 Sam 6), waarna Dawid ‘n tempel vir God (en die Ark) wil bou, wat hom verbied word. En die boek eindig met die altaar wat gebou word op die dorsvloer van Arauna (2 Sam 24) waar lesers sou weet, die tempel uiteindelik gebou sou word (2 Kron 3:1)

3. KONINGSKAP – Nog ‘n sentrale perspektief om in gedagte te hou, is hoe dié verhaal in die Ou Midde-Oosterse konteks inpas. In die Ou Midde-Ooste was ‘n koning beide ‘n verteenwoordiger van die volk by God as ‘n verteenwoordiger van God by die volk.

Israel se storie in die Vroeë Profete het raakpunte hiermee. Die storie van die konings is die storie van die volk. Wat met hom gebeur, het ‘n direkte impak op die volk. Hy kan selfs namens die volk met God praat, soos bv. in die Psalms gebeur. En die koning kan aanspraak maak op die volk se lojaliteit, natuurlik in dié mate wat hyself gehoorsaam is aan God.

Dit loop die Nuwe Testament verhaal van Jesus vooruit, waar die Seun van Dawid gehoorsaam is aan God, as verteenwoordiger van die volk (mensdom). En Hy as koning die volk (Sy liggaam) in die regte verhouding met God kan bring.

4. LEIERSKAP – ‘n Belangrike perspektief in hierdie verhaal is dat God soewerein is en altyd aan die werk is, meesal “behind the scenes”. Dit het ‘n belangrike betekenis vir hoe ons na leierskap kyk. Die boek Samuel wys dat daar maar net een manier is om leierskap te beoefen (Saul, Dawid), of net maar jou lewe effektief te leef (Nabal, Abigajil), en dit is om met God rekening te hou en in afhanklikheid van Hom te lewe.

Die karakters in die boek is soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en in wie se lewens ons lewenslesse leer.

  • Eli se reaktiewe leierskap in sy huis, kos nie net vir hom en sy huis hulle lewens nie, maar veroorsaak baie pyn en donkerte vir die volk van Israel. Hy kon wel vir Samuel aan die Here wy, maar sy blindekol in terme van sy eie seuns, het gekeer dat hy hulle dissiplineer voordat dit te laat was.
  • Samuel weer was ‘n man van integriteit, wat met moed en wysheid die Israeliete gelei het van die Rigtertyd af tot en met die oorgang na die koningstyd. Hy salf beide vir Saul as Dawid as koning, terwyl hy steeds waarsku daarteen dat God nie as die eintlike koning geëer word nie. En hy nooi Israel uit om sy integriteit as leier te toets. Daarbenewens tree hy op as leier van die eerste profeteskool.
  • Saul illustreer baie van die gevare van leierskap. Sy mislukking as leier is ‘n klassieke verhaal van ‘n leier wat opgehou het om te lei, en sy magsposisie begin misbruik het vir sy eie belange.
  • Dawid wys vir ons hoe God iemand wat growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei. En in die tweede boek sien ons hoe Dawid se lewe blom weens sy gehoorsaamheid en dit ‘n ongelooflike bate vir die volk is. Maar na sy ongehoorsaamheid in hoofstuk 10, staan die res van sy koningskap in die teken van dissipline, met konflikte en bedreigings en teleurstellings wat ‘n hard leerskool vorm. Die een reddende eienskap van sy karakter, is dat hy telkens terugkeer na God in berou en boetedoening.

5. ANDER – Let ook op hoe temas wat in die Pentateug ‘n rol gespeel het, ook hier voorkom. Bv. die motief van die kinderlose vrou (Sara, Rebekka, Ragel – Hanna) en die keuse vir die mindere (Jakob – Dawid).

Die twee-deling van die boek dateer eintlik uit die 16de eeu. Dit was aanvanklik een boek, soos ook 1 en 2 Konings. Dele van die boek kom moontlik van die onbekende geskrifte van Samuel en die profete Natan en Dan (1 Kron. 29:29).

Verskeie tradisies kan in die teks onderskei word, soos die Ark narratief in 1 Sam 4-7 en 2 Sam 6, die Opkoms van Dawid in 1 Sam 16 – 2 Sam 5, en die Opvolgingsverhaal van 2 Sam 9-20 wat in 1 Konings 1-2 voortgesit word. Dit kan verband hou met die wyse waarop hierdie verhale by die onderskeie heiligdomme Gilgal, Mispa, en Silo bewaar is. Die finale redaktor het dit egter as een verhaal saamgestel.

2 Samuel 1
In die eerste vier hoofstukke van 2 Samuel wys die skrywer duidelik uit dat Dawid niks te doene gehad het met die dood van Saul nie, onder andere deur die klaaglied in hoofstuk 1 oor die helde wat geval het. Anders as Saul, raadpleeg Dawid die Here met elke besluit, en word gelei om eers in Juda koning te word.

Dit tref ‘n mens dat Dawid so geroer is deur die dood van Saul. Oor Jonatan sou ‘n mens dit nog kon verstaan, maar oor Saul, die een wat verantwoordelik was vir soveel van Dawid se ontberinge?

Dawid teken egter weereens vir Saul as die gesalfde van die Here. Sy respek vir die amp van Saul is dus ten diepste respek vir die Here. En dié grens sou hy nooit oorsteek nie, om die reg in eie hande te neem, die gesalfde van die Here te vernietig, selfs al bedreig hy Dawid se lewe.

Dat die Amalekiet dit moet ontgeld, is grusaam, maar tekenend van Dawid se integriteit en lojaliteit. Niemand mag hulle hand aan die lewe van die gesalfde van die Here slaan nie. Selfs nie aan sy familie nie, sal ons later in hoofstuk 4 lees.

Dawid neem later Mefiboset, seun van Jonatan in sy sorg (hoofstuk 9), hoewel daar egter ook nog die grusame verhaal van die seuns van Rispa en Merab sou kom (hoofstuk 21).

Dawid treur in sy treffende klaaglied roerend oor die verwoesting van die trots van Israel, Saul en Jonatan. Drie keer verwoord hy sy pyn met die frase: hoe het die helde geval. Veral oor Jonatan, die een na aan Dawid se hart, is sy hartseer groot. Dawid sing dié lied dus met ‘n waarderende gesindheid. Hy verlekker hom nie in die ongeluk wat Saul oor sy swakhede en booshede getref het nie, maar laat die volk die goeie oor Saul en Jonatan onthou. Interessant dat die lied in die Boek van die Opregte opgeteken is (vgl ook Jos 10:13) en aan die volk geleer is.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord

Seëngroet
Lied 147 “Dis goed om God se lof te sing 1,2,3,4” (2e Melodie)

Wet: (1 Johannes 4)

Skuldbelydenis
Dele van die die gebed van Manasse (Uit Ou Testament Apokriewe)

Vryspraak: (Psalm 103)

Toewyding: Lied 309 i

Geloofsbelydenis: (ahv Efesiërs 1 en 4)

Epiklese: (Psalm 130)
of
Flam 87. “Maak My Nou Stil, Heer”

Skriflesing: 2 Samuel 1:1, 17-27

Prediking

Gebed: (ahv Lied 292)

Offergawes

Wegsending: Lied 571 “Here hoeveel blye dae 1,2,3,4”

Seën: (2 Korintiërs 13 Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.
(Psalm 130)

Seëngroet
Aan die gemeente van God in ……………………………………….. en aan almal wat aan die Here behoort-
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (2 Korintiërs 1)

Lied 147 “Dis goed om God se lof te sing 1,2,3,4” (2e Melodie)

Wet: (1 Johannes 4)
God is liefde
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Skuldbelydenis
Dele van die die gebed van Manasse (Uit Ou Testament Apokriewe)
Here Almagtige, God van ons vaders, van Abraham, Isak en Jakob,
en van hulle regverdige nageslag;
wat die hemel en die aarde gemaak het en alles wat daaraan toebehoort;
wat die see deur ‘n bevel ingeperk het, wat die watervloed opgesluit
en dit met u vreeslike en heerlike Naam verseël het;
alles sidder en beef ten aansien van u mag,
want ondraaglik is die majesteit van u heerlikheid,
en niemand kan u dreigende toorn teen sondaars verduur nie!
Tog is die genade wat U beloof het, onmeetlik – niemand kan dit peil nie.
Want U is die allerhoogste Here, mededoënd, geduldig en groot van genade,
en u het berou wanneer mense weens hul sondes ly.
Want deur u groot genade, o God, het U bekering en vergifnis belowe aan diegene wat teen U sondig,
en deur u grenslose genade het U bekering vir sondaars, as die weg tot verlossing, aangewys.
My oortredinge het vermenigvuldig, o Here,
my oortredinge het vermenigvuldig,
en ek is dit nie werd om op te kyk en die hoë hemel te aanskou vanweë die omvang van my sondes nie.
Nou neig my hart hom [tot U] en [ek] smeek om u genade.
Ek het gesondig, Here, ek het gesondig, en ek bely my oortredinge.
Ek bid en smeek u, spaar my, o Here, spaar my.
Vernietig my nie met al my oortredinge nog op my hoof nie,
wees nie vir altyd vir my kwaad nie,
moenie die kwade vir my opberg nie!
Moet my nie tot graf veroordeel nie,
want U, o Here, is die God van die berouvolles.
U sal nog u goedheid teenoor my laat blyk,
want U sal my red, hoe onwaardig ek ook al is.
En ek sal u voortdurend prys al die dae van my lewe.
Die leërskare van die hemel lofsing U en u heerlikheid, tot in alle ewigheid!
Amen

Vryspraak
8Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
10Hy handel met ons
nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons
ongeregtighede nie,
11want so groot as die afstand
tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde
vir dié wat Hom dien.
12So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge
van ons af.
13Soos ’n vader hom ontferm
oor sy kinders,
so ontferm die Here Hom
oor dié wat Hom dien.
(Psalm 103)

Toewyding: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Geloofsbelydenis: (ahv Efesiërs 1 en 4)
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
soos Hy dit vooruit al bestem het.
So het Hy Hom dit voorgeneem- Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.
Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
toe ons die waarheid wat aan ons verkondig is,
die evangelie van ons verlossing, gehoor het
en tot geloof gekom het.
In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, ons as die eiendom van God beseël.
Daar is net één liggaam en net één Gees,
soos daar net één hoop is waartoe God ons geroep het.
Daar is net één Here, één geloof, één doop,
één God en Vader van almal:
Hy wat oor almal is,
deur almal werk
en in almal woon.

Liedere

F112. (a) “My Hande Hef Ek Op Na U”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: I Lift My Hands
Teks en Musiek: André Kempen
Afrikaanse vertaling: Vers 1 Jan de Wet & vers 2 Atlanta van Vuuren
© 1989 Kempen Music

1. My hande hef ek op na U
Ek loof U naam en buig voor U
want U is Heer,
die Koning van my hart.
En ek dien geen afgod nie
en niks is meer belangrik nie
as dat U in my hart regeer
daar is geen plek vir ander nie.
Voor U o Heer,
lê ek nou, my lewe neer.

2. O Koning Heer, ek wil U eer
U naam besing, U hulde bring
want U o Heer, bly altyd, in beheer.
U wil ek my lewe wy
gehoorsaam my in U verbly
Laat my lied ‘n loflied wees
aan U o Vader, Seun en Gees.
Ek wil U roem, Vader noem
My God en Heer.

F133. “As Ek Stil Word”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding, Verwondering, toetrede)
Teks en Musiek: Janie de Bruin
© MAR Gospel Music Publishers

As ek stil word
Om by U te wees
Bedaar my hart
Se donker vrees
As ek u hartklop
Teen my wang kan voel
Verstaan ek wat u Woord bedoel
U is wonderbare Raadsman
U is magtige God
U is ewige Vader
U is Vredevors

God praat met ons en ons luister

Epiklese
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here … Amen
(Psalm 130)
of
Flam 87. “Maak My Nou Stil, Heer”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Epiklese gebed)
Oorspronklike titel: Open our eyes, Lord
Teks en Musiek: Robert Cull
Afrikaanse vertaling: 2005 Johan Engelbrecht
© 1976 Maranatha! Music / CCM Music

Maak my nou stil, Heer.
Ek wil na U luister;
my hart vir U oopmaak
dat U my kan aanraak.
Open my oë, my hart en my ore,
dat ek U leer ken, Heer,
en voor U kan lewe.

Skriflesing: 2 Samuel 1:1, 17-27

Familie-oomblik

As jy die reeks oor Dawid gaan doen, stel Carolyn Brown voor dat jy ‘n prent van Dawid gebruik en elke week iets byvoeg soos die storie vorder. Hierdie week twee trane – een vir Jonatan en een vir Saul. (Kyk hier)

Vertel die agtergrond van vandag se skriflesing: wie was Jonatan, hoe is Saul en Jonatan oorlede, ens.
Jy kan gesels oor vriendkap. Fokus op die vriendskap tussen Dawid en Jonatan. Nooi almal om ‘n gedig te skryf oor goeie vriende deur die volgende patroon te volg:
Vriend se naam:
Twee woorde wat vriend beskryf:
Drie goed wat julle graag saam doen:
een woord wat jy graag vir die vriend wil sê:
Jy sou ook die geleentheid kon gebruik om te gesels oor die sterk gevoelens wanneer iemand hartseer is. (Dit help kinders om te besef dat sulke gevoelens normaal is.) Ralph W. Klein sê: “The church should be a place where death can be faced realistically and our grief over loss can be safely expressed. David’s dirge keeps us from moving too quickly to joy and praise after serious loss.” Luister hier Daar is ook genesende krag in die proses van treur en onthou. Oorweeg wie in jul gemeente treur of waaroor jul gemeente treur en watter stories mense het om te vertel. Lees die pragtige storie van TESS’S TREE deur Jess M. Brallier. Tess het ‘n ou boom waaronder sy speel en waaraan sy swaai. Op ‘n dag word die boom afgesaag. Hieroor was Tess eers hartseer en toe kwaad. Uiteindelik besluit sy om ‘n viering van die boom se lewe te hou, waar almal kom stories vertel oor die boom. Jy kan die hele storie met illustrasies  hier kry.

Preekriglyn

Die dood van Diana, prinses van Wallis, op 36-jarige leeftyd het ‘n wêreldwye publieke uitstorting van hartseer en rou veroorsaak. Oral het mense bymekaar gekom om hul verlies uit te druk. Blomme en kaartjies op publieke plekke, soos by Buckingham-paleis, het getuig van die leemte wat sy in mense se harte gelaat het.

Diana se begrafnis, op 6 September 1997 uit die Westminster Abdy, is deur tweeduisend mense bygewoon. Meer as 32 miljoen Britte het die begrafnis op TV gesien, terwyl meer as twee biljoen mense die gebeure wêreldwyd gevolg het.

Elton John, ‘n goeie vriend van Diana, het sy hartseer en verlies tydens haar begrafnis uitgestort met die aangepaste woorde van sy lied uit 1973, Candle in the wind. Hier is ‘n uittreksel uit die teks:
Goodbye England’s rose
May you ever grow in our hearts
You were the grace that placed itself
Where lives were torn apart
You called out to our country
And you whispered to those in pain
Now you belong to heaven
And the stars spell out your name
And it seems to me you lived your life
Like a candle in the wind
Never fading with the sunset
When the rain set in
And your footsteps will always fall here
Along England’s greenest hills
Your candles burned out long before
Your legend ever will
Goodbye England’s rose
From the country lost
Without your soul who missed the wings of your compassion
More than you will ever know
Your footsteps will always fall here
Along England’s greenest hills
Your candle burned out long before your legend ever will

Twee funksies

Elton John se lied het mense woorde en begrip gegee vir die intense emosies wat hulle beleef het. Hy het die smart verwoord. Die verlies aan ‘n jong moeder met klein kinders wat vir baie ‘n simbool van omgee en hoop geword het, kon gesê, gedink, gevoel en gesing word. Elton John het mense se emosie beskryf, uitgedruk en onbeskryflik mooi publiek uitgestort.

Hierdie is ook ‘n politieke lied. Elton se beskrywing van Diana se deernis en meelewing staan in skrille kontras met die publiek se woede oor die afsydige en emosielose reaksie van die Britse monargie op Diana se dood. Sy verteenwoordig die mooiste en beste van Brittanje, maar is gekneus en gebreek deur ‘n harde monargale sisteem wat haar nodig gehad het om kinders voort te bring. Vir haar as mens, en vir ander mense, het die politieke sisteem skynbaar nie veel omgegee nie.

Toe die lied op 13 September 1997 as ‘n enkelsnit uitgegee is, het dit onmiddellik ‘n wêreldwye treffer geword.

Klaaglied oor Saul en Jonatan

Ons teks is ook so ‘n publieke uitstorting van emosie en rou. Hier gaan dit oor die dood van Saul en sy seun Jonatan op Gilboaberg. Dawid gee opdrag dat sy treurlied aan die mense geleer moet word en wyd gesing moet word. ‘n Uittreksel:
Jou trots, Israel —
op jou hoogtes lê dit verslaan.
Hoe het die helde geval!
Israelitiese dogters,
julle moet huil oor Saul!
Hy het julle beklee
met sierlike klere,
goue sierade het hy daarop
laat aanbring.
Hoe het die helde geval?
In die hitte van die stryd!
Jonatan lê verslaan op die hoogtes,Ek is bedroef oor jou,
my broer Jonatan.
Jy was baie na aan my hart. (19, 24-26)

Agtergrond

Ons teks kom uit 2 Samuel hoofstuk 1. Die vorige boek, 1 Samuel, eindig dramaties met ‘n verhaal van Israel se ondergang teen die Filistyne op die berg Gilboa (1 Sam 31:1-13). Om sy eer te spaar vra Saul vir sy wapendraer om hom dood te maak, maar toe hy weier, neem Saul sy lewe deur op sy eie swaard te val. Saul se seuns, Jonathan ingesluit, sterf ook in die vernederende nederlaag teen die Filistyne. Die verhaal eindig in ‘n gespartel om Saul en sy seuns se lyke van vernedering onder die Filistyne te spaar en hulle van ‘n behoorlike begrafnis te voorsien. Hoewel die uiteindelike begrafnis van Saul en sy seuns in Jabes ‘n mate van verligting verskaf, bly die verhaal onopgelos en oop. Hoe gaan hierdie nederlaag Israel as volk beïnvloed? Wie gaan by Saul oorneem as koning? Waar is Dawid?

2 Samuel begin as ‘n “meanwhile, back at the ranch . . .” vertelling, teen die agtergrond van hierdie onopgeloste probleem. 2 Samuel 1:1-16 vertel die einste gebeurtenis waarmee 1 Samuel eindig, maar hierdie keer uit die perspektief van Dawid wat na sy oorwinning teen die Amalekiete deur ‘n vreemdeling van Saul en Jonathan se dood te hore kom. Die jong bywoner Amalekiet wat vir Dawid die nuus bring, vertel egter ‘n ander weergawe van Saul se dood waarin hy self vir die beseerde koning Saul van ‘n genadedood voorsien het. Saam met hierdie verskriklike nuus handig die Amalekiet ook die koninklike armband en kroon wat Saul gedra het oor aan Dawid. Dawid en sy manne reageer tipies deur hulle klere te skeur, te rou en te vas. Die gedeelte eindig met ‘n bevel van Dawid om die Amalekiet dood te maak vir die misdaad waarvan hy self ook getuig het; die moord van die Here se gesalfde.

Binne hierdie verhaal lê ons sleutelteks, naamlik, Dawid se roulied oor Saul en Jonathan (2 Sam 1:17-27). Die teks onderbreek die ritmiese afloop van 1 en 2 Samuel se geskiedskrywing met ‘n stukkie digkuns van hoë gehalte. Dawid se lied van rou oorbrug en verbind die gebeurtenis van Saul se dood en Dawid se salwing tot koning van Juda in die volgende hoofstuk.

Twee funksies

Hierdie besondere lied, wat verhewe digkuns is, het twee betekenisse. Soos Elton John se lied van rou stort dit die hartseer van Dawid se verlies uit. Maar nes Elton John se lied, het dit ook ‘n publieke boodskap oor Dawid se verwagte rol as nuwe koning.

Dawid se onbeskryflike mooi lied is beide poësie en politiek. Oor beide kan ons waarderend oordeel. Dit is goed en reg so. Net soos die meeste mense positief sal oordeel oor die poëtiese en politieke funksies van Elton John se lied by Diana se begrafnis.

Poësie

As poësie is hierdie lied ‘n huldeblyk aan Saul en sy seun Jonatan, ‘n hartsvriend van Dawid. Net soos die verwerkte Candle in the wind is dit bedoel om by ‘n begrafnis gesing te word.

Die lied treur oor Israel se trots wat verslaan lê op die Gilboaberge. Koning Saul se swaard en Jonatan se boog het sy werk goed gedoen, maar is nou verslaan. Saul en Jonatan was vinniger as arende en sterker as leeus, maar nou het die helde geval. Die lied eindig met roerende woorde oor Dawid se verlies met sy vriend Jonatan se dood.

Mense deel die lied gewoonlik in twee dele op, naamlik vers 19-24c en vers 25-27. In die eerste deel betreur Dawid die vernedering van Israel, die val van koning Saul en die verlies van die twee oorlogshelde, Saul en Jonatan. In die tweede, meer persoonlike deel van die roulied, skuif die klem egter onverdeeld na Jonatan.

Politiek

‘n Nota vooraf: Gelowiges oordeel dikwels negatief oor politiek en wil dit nie ‘n verband bring met die kerk en geloof nie. Dit is egter werklik naïef. Die effek is dat gelowiges hulle onttrek aan die openbare lewe, en nie dink geloof het iets daarmee te doen nie. Ons los dan die politiek vir die politici, wat hulle mag misbruik en hulself verryk.

Wie negatief oor politiek en geloof dink, probeer ook vromer as die Bybel wees, probeer dalk selfs heiliger as God wees, en beperk die koningskap van Jesus die Here tot die harte van mense, terwyl Jesus koning oor die ganse kosmos is.

Wanneer ons hier dus oor die politieke doel van Dawid se lied praat, bedoel ons dit as positief en reg. Die vraag is nie of dit politieke gevolge het nie, die vraag is of dit die regte politieke gevolge het, ooreenkomstig die wil van God.

‘n Nuwe koning

Saul was die eerste koning van Israel. Saul het misluk, omdat hy nie die Here se wil vir sy koningskap gesoek het nie, maar sy eie politieke agenda wou dien. Met die instelling van die koningskap in Israel is juis gevrees dat dit sou gebeur. Die koning, die gesalfde van God, sou kon vergeet dat hy God moet dien.

Saul was toe so ‘n koning. Hy het sy eie kop gevolg. Reeds in 1 Samuel 15:23 kondig Samuel aan dat die Here Saul se koningskap verwerp omdat Saul die woord van die Here verwerp het. In 1 Samuel 16 salf Samuel Dawid as koning, terwyl Saul nog lewe.

Daar was intense spanning tussen Saul en Dawid. Dit is geen geheim dat Dawid en Saul nie vir mekaar ooghare gehad het nie. Die dood van Saul sou ‘n draaipunt word in Israel se politieke geskiedenis. Dawid staan hier, hoe hartseer ook al, op die drempel van die koningskap en dit na ‘n lang, bloedige tydperk waarin Saul stadig maar seker van sy troon geval het.

In sy lied vereer Dawid sy dooie opponent en betreur sy dood. So wys Dawid vir sy gehoor dat hy nooit Saul se dood kon begeer het nie. Dit word bevestig deur Dawid wat Saul se lewe spaar in ‘n grot by En-Gedi (1 Samuel 24). Dawid wil bewys dat hy nie magshonger is en nie wil gryp na die koningskap nie. Hy het tot die einde respek vir Saul as gesalfde van die Here gehad.

Terselfdertyd is daar ook kritiek op Saul in Dawid se treurlied:

  • Die verwysing na Jonatan se boog en Saul se swaard (22) as ‘n eerbetoon aan die dooies se militêre sukses, dra ‘n verskuilde verwysing wat vir Saul in ‘n slegte lig plaas. Die laaste keer wat Jonatan se boog ter sprake gekom het, was toe hy ten gunste van Dawid sy vader Saul verraai het (1 Sam 20:18-42).
  • Saul se swaard is nog vars in die leser se geheue as die wapen waarmee hy homself doodgemaak het (1 Sam 31:3-4). Sy swaard is nie net ‘n simbool van dapperheid nie.
  • Daar is ‘n verdere spanning tussen Dawid se herinnering aan Saul en Jonatan; as “die bemindes en lieflikes, is hulle in lewe en in hulle dood nie geskeie nie” en die verhouding tussen vader en seun in regte lewe. “In hulle lewe” was hulle inderdaad geskei en selfs nou “in hulle dood” maak Dawid ‘n skeiding tussen hulle in die uitleg van sy lied.
  • Dawid se emosie is duidelik op Jonatan gerig. Saul se dood vertrap Israel se trots, Jonatan se dood is ‘n persoonlike verlies.
‘n Nuwe begin

Dawid, vanaf die volgende hoofstuk die nuwe koning, sou inderdaad ‘n nuwe begin vir Israel beteken. Dawid se koningskap is gekenmerk deur die soeke na God se wil vir Israel se openbare lewe. Reeds in 1 Samuel 2, onmiddellik na hierdie lied, raadpleeg Dawid die Here oor sy optrede. Hy gaan met God se seën na Hebron en Juda, en word daar deur die inwoners tot hul koning gesalf.

Uiteindelik word Dawid tot koning van die hele Israel gesalf. Hy was sewe en ‘n half jaar koning oor Juda in Hebron, en daarna drie en dertig jaar koning oor die hele Israel.

Dawid het ook enorme foute gemaak, en die wil van God meer as een keer verbreek. Hy het onder andere owerspel en moord gepleeg. Daar is ‘n donker, menslike kant aan sy bewind. Tog was hy ook die man na God se hart. Aan hom het God ‘n ewigdurende koningskap belowe. Dawid se koningshuis en koningskap sal altyd vas bly staan, beloof die Here, sy troon sal altyd voortbestaan (2 Samuel 5:16).

Dawid en sy koningshuis is God se strategie om God se koningskap oor die ganse aarde te vestig. Wanneer Jesus aarde toe kom, word Hy uit die nageslag van Dawid gebore. Hy is die Seun van Dawid. Waar Dawid en die ander konings uit sy huis dikwels gesondig en misluk het, voorsien God in Jesus die volmaakte koning deur wie God se bedoeling met Israel en die nasies volkome uitgevoer word.

Jesus is die koning wat Dawid nooit kon wees nie. Maar Hy is dié koning in die geslagslyn van Dawid, die vervulling van God se beloftes aan Dawid. Deur Jesus word God se koningskap vervul, word al die beloftes van die Ou Testament waar.

Jesus is die kroon, deur God self voorsien, op Dawid se worstelende en mislukkende strewe om God se wil op aarde te doen, soos in die hemel.

Toepassing

Ons moet vra wat hierdie teks vir ons beteken. Die Gereformeerde oortuiging is dat die hele Bybel die Woord van God en God se lig op ons pad is. Wat leer ons uit hierdie teks oor die navolging van die Here?

Waardering en grasie

Wanneer mens iemand opvolg, veral as dit jou opponent was, is jou natuurlike geneigdheid om daardie persoon te “nail.” Daar is baie voorbeelde in die geskiedenis van mense wat hulle opponente se ondergang soek, en hulle uiteindelik verslaan en verneder. Dit is nie net konings en politici nie, maar ook ambisieuse mense by die werk en in groot maatskappye.

Dawid se treurlied is ‘n voorbeeld van iemand wat respek gehad het. Hy het Saul gerespekteer, want Dawid het respek vir die Here gehad. Hy het ‘n morele kompas gehad, wat alles met sy geloof en sy toewyding aan die Here te doen gehad het.

Dawid se lied is ‘n uitdrukking van sy waardering vir Saul – al is dit nie ongekwalifiseerd nie – en sy trou en respek teenoor God se volk, waarvan Saul die koning was. Dawid tree met grasie op.

Ons leef in ‘n tyd waar politici grootskaals droogmaak. Mens hoef maar net die naam Nkandla te noem. Dit is nie mense wat die Here se wil polities soek nie.

Publieke verset teen hierdie vergrype moet egter self moreel wees. Daar is diepe suspisie teenoor leierskap van alle soorte. Hoewel dit verstaanbaar is, is die beledigings en dreigemente teenoor leiers kommerwekkend. Mens staan verstom met hoeveel vrymoedigheid mense bv. op sosiale media leiers kan beledig en verdag maak. Allerhande elektroniese media word gebruik. Enkele resente voorbeelde (ten tye van die skryf van hierdie preek):

  • In ‘n onlangse onderhoud met Beeld vertel Nelus Niemandt hoeveel beledigende, selfs dreigende SMS’e en ander boodskappe, hy in die Artikel 1-proses kry.
  • In ‘n onderhoud met Netwerk 24 vertel Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, van kru boodskappe wat die Solidariteit-beweging uit sekere Afrikanerkringe gekry het toe hulle in 2012 besluit het om ’n kleuterskool in Diepsloot te help opknap. Dieselfde gebeur toe hy onlangs Soweto besoek om die gemeenskap oor die kragkrisis toe te spreek.
  • Dieselfde geld ook nuusberigte in koerante. Op facebook vra Max du Preez waarom Rapport swart rektore konstant deur innuendo, halwe waarhede en naamlose kommentaar in ‘n slegte lig plaas. Dink aan beriggewing oor Russel Botman (Stellenbosch), Jonathan Jansen (Vrystaat) en Dan Kgwadi (Potchefstroom).

Niemand het iets teen die verantwoordbaar hou van publieke figure nie. Die styl en etiek daarvan is egter ontsettend belangrik. Publieke waardering en grasie vir die opponent, selfs die een wat jou onreg aangedoen het, skep ‘n klimaat waarin die samelewing ‘n veiliger, meer liefdevolle plek word.

Die wonde van verskeurdheid

Dawid is ook ‘n voorbeeld van ‘n leier wat die historiese vyandskappe en verdeeldhede van die verlede kon help genees. In sy klaaglied leer ons ‘n toekomstige koning ken wat weet hoe om mense te verenig, te inspireer en te lei.

By die sing van hierdie lied is Israel ‘n diep verdeelde nasie. In Saul se koningshuis is daar diep spanning en verdeeldheid. Na Saul se dood loots sy seun, Is-Boset, met die hulp van ‘n magtige generaal, Abner, ‘n inisiatief om die troon van die noordelike stamme te bekom. Dit lei tot ‘n burgeroorlog waarin intrige, moord en verraad hoogty vier.

Selfs na die stryd besleg en Dawid koning van die hele Israel geword het, was die vrede in die ryk broos. Dawid het egter regverdig, ferm en met wysheid opgetree as koning van die hele ryk, en nie net ‘n segment daarvan nie. Hy het oortreders gestraf, en respek teenoor sy opponente betoon.

Hy het nasionale eenheid in God se volk geskep deur Jerusalem – op die grens tussen die noordelike en suidelike stamme in die ryk – te verower en dit die hoofstad te maak. Jerusalem was ‘n simbool van eenheid, gebou op vertroue in die Here.

Dawid vertoon al hierdie kwaliteite – wysheid, ‘n gesindheid van versoening, ‘n oog vir saambinding en eenheid – in die treurlied wat sing.

Wanneer mens Dawid se verhaal (en sy rouklag) lees, smag jy vir dieselfde kwaliteit van leierskap in Suider-Afrika. Hier moet ons egter na die kwaliteit van ons eie leierskap kyk, en ook ons rol as gemeente en ons gemeentelike leierskap in die samelewing:

  • Is ons mense wat verdeeldheid, wantroue en vrees teenoor ander aanblaas?
  • Streef ons na eenheid, vennootskap, saamstaan?
  • Kweek ons begrip vir die posisie van die ander?
  • Soek ons eers daarna om te verstaan, as om verstaan te word?
Saamgebind deur pyn

Dawid se treurlied is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe mense deur gemeenskaplike pyn en verlies saamgebind kan word. Hier is nie net Dawid die politikus nie, maar veral Dawid die kunstenaar, die digter op die voorgrond.

Wanneer mense saam verlies herken en beleef – al is almal se verlies nie dieselfde nie – en almal dit saam uitstort in ‘n publieke klag, het dit besondere samebindende krag. Dit skep die sosiale kohesie wat gemeentes en samelewings nodig het.

Dawid help ons om die krag van klaagpsalms in ons geloof te herontdek. Hy help ons verstaan hoe publieke rou – dink aan die wêreld net na figure soos Diana en Madela se dood – mense kan saambind, ook in God se Naam.

In alle leierskap – ook gemeentelike leierskap – is die kunste van kardinale belang. Alan Roxburgh, bekende missionale teoloog, verwys na die rol van die poet as leier in gemeentes, naas die profeet, priester en apostel. Die digter help die diepste gevoelens, vrese en oortuigings by mense identifiseer en verwoord. Die digter help ook die diepste samehang van die evangelie ontdek, en help mense om in hulle tyd vanuit die evangelie te leef en te reageer op dit wat God vra.

Dit is wat Dawid reggekry het. In die oomblikke van smart, toe die tafel na Saul se dood gedek was vir verwoestende binnegevegte, help hy mense om hul gevoel te verwoord, die beskaming wat hulle aan die hand van die Filistyne beleef het uit te spreek, en gereed te maak vir die oorgang na ‘n nuwe era van leierskap.

Die onvolmaakte Dawid

Mens moet versigtig wees as jy Dawid net as ‘n rolmodel wil waardeer. Daar is baie skadukante, soos sy sonde met Batseba, sy moord op Uria, die slegte episodes met Tamar en Absalom, om maar enkeles te noem. Dawid was egter iemand wat sonde kon bely en sy skuld kon erken.

Wanneer ons terugkyk op die voorbeeld van Dawid, doen ons dit uit ‘n land en konteks wat self gebroke is. Dis ‘n situasie waarvoor ons verantwoordelikheid moet neem: deur ons eie skuld te erken, maar veral deur verantwoordelikheid vir die heropbou van ons samelewing te neem.

Uiteindelik kyk ons terug op die lewe van Dawid deur die bril van die Een uit geslag van Dawid wat op die troon sit. Jesus is die hoogste voorbeeld en finale openbaring van God wat egte leierskap demonstreer.

Soos Dawid self gedoen het met Saul, kyk ons waarderend terug op die lewe van Dawid. Ons neem die goeie daaruit, en dupliseer wat vir ons tyd nodig is. Ons doen dit onder bewind van Jesus Christus, wat op die troon sit, aan Wie alle mag in hemel en op aarde gegee is.

Leierskap in Suider-Afrika

Ons het ‘n Dawid nodig in Suider-Afrika. Eintlik sommer baie Dawid’s. Politieke figure met sy leierskapskwaliteite. Gemeentelike leiers van sy statuur. Ons het leiers nodig wat ons op God se pad kan vat.

Mag die Here ons help verstaan waar ons self geroep is om so ‘n Dawid te wees.

Wat gaan jy anders doen, en hoe gaan jy jou invloed anders aanwend na die oordenking van vandag se teks?

God stuur ons om te leef

Gebed: (ahv Lied 292)
My enigste troos in lewe en dood
is dat ek aan Jesus Christus behoort.
Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop
dis my anker, my vaste hoop.
Ek behoort aan die Here.
Niks sal my ooit van Hom kan skei.
Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop
dis my anker, my vaste hoop.
U onfeilbare Woord
is die gids wat ons lei;
deur U liefde bewaar U my.
Ek behoort aan die Here.
Niks sal my ooit van U kan skei.
U onfeilbare Woord is die gids wat ons
lei; deur U liefde bewaar U my.

Offergawes

Wegsending: Lied 571 “Here hoeveel blye dae 1,2,3,4”

Seën
“Die goedheid van die Here Jesus Christus, die oorvloedige liefde van God en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees is by julle almal. Amen.” . (2 Korintiërs 13 Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.