Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die God wat ons bevry, staan in die sentrum van die dag se tekste. In die sleutelteks bevry Jesus die besetene om weer ’n sinvolle lewe te kan lei en nie langer te leef asof hy reeds dood is nie. In 1 Konings 19 bevry God Elia van sy uitsigloosheid deur hom te versorg, deur aan hom te verskyn en nuwe opdragte te gee en ’n hulp vir hom aan te stel. Albei psalms is ’n roep om bevryding. Galasiërs 3 toon aan wat die bevryding, die vryspraak deur die geloof behels. Ons het deel aan Christus in die doop, ongeag ons herkoms, geslag of sosiale stand.

Ander tekste

1 Konings 19:1-4 (5-7) 8-15a
Elia vlug vir Isebel
19 Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het. 2Toe het Isebel ’n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.”

3Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. 4Hy self het egter ’n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”

5Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud ’n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”

6Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en ’n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7Die engel het ’n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.”

8Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.

9Hy het in ’n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

10Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

11Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”

Skielik was daar ’n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ’n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar ’n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte.

13Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”

14Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met u verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

15Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram.

Psalm 42
Mens, waarom so in vertwyfeling?
42 Vir die koorleier. ’n Gedig van die
Koragiete.
2Soos ’n wildsbok smag
na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
3Ek dors na God, na die lewende God.
Wanneer kan ek gaan
en voor God verskyn?
4Dag en nag is ek in trane,
want sonder ophou sê hulle vir my:
“En waar is jou God nou?”
5As ek my lewe voor my laat verbygaan,
dink ek daaraan hoe ek opgetrek het
na die woonplek van God,
voor ’n skare uit
na sy huis toe geloop het
met gejuig en lofsang—
’n skare wat feesvier.
6Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.
Hy is my helper 7en my God!
Uit my vertwyfeling roep ek na U
hier van die Jordaangebied,
van Hermonberg,
van die Kleinberg af
8waar die waters teen mekaar raas
en u waterstrome bruis.
U het golf na golf oor my laat slaan.
9Tog sal die Here weer op ’n dag
sy trou laat blyk
en sal ek selfs in die nag
’n lied vir Hom sing,
’n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil vir God sê:
“My Rots,
waarom het U my vergeet?
Waarom moet ek gebuk gaan
onder die smaad van die vyand?”
11Dit sny deur my hele wese
as my teëstanders my spot
en dag na dag vir my sê:
“En waar is jou God nou?”
12Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom
’n loflied sing.
Hy is my helper en my God!

Psalm 43
Stuur u lig en u waarheid
43 Laat tog reg aan my geskied, o God,
behartig tog my saak
teen ’n godlose bende,
red my van vals en misdadige mense.
2Net U is my skuiling, my God;
waarom verstoot U my dan?
Waarom moet ek gebuk gaan
onder die smaad van die vyand?
3Stuur u lig en u waarheid
dat dié my lei
en my bring na u heilige berg,
na u woning!
4Laat my ingaan na die altaar van God,
die God oor wie ek wil jubel en juig,
dat ek U kan loof met die lier,
o God, my God!
5Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom
’n loflied sing.
Hy is my helper en my God!

Galasiërs 3:23-29
23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Fokusteks

Lukas 8:26-39
’n Besetene word van bose geeste bevry
(Matt 8:28–34; Mark 5:1–20)
26Daarna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê. 27Toe Jesus daar aan wal gaan, het ’n man van ’n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het ’n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in ’n huis gebly nie, maar tussen grafte. 28Toe hy Jesus sien, skreeu hy en val op sy knieë voor Hom neer terwyl hy hard uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!”

29Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan. Dit was ’n bose gees wat hom al baiekeer beetgepak het. Al het hulle hom met hand en voetboeie vasgemaak om hom in bedwang te hou, het hy die boeie uitmekaar geruk en is hy deur die bose gees die woestyn in gejaag.

30Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”

“Legio,” antwoord hy, want daar het baie bose geeste in hom ingevaar. 31Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onderaardse diepte toe terug te stuur nie.

32Daar het ’n hele trop varke teen die berg geloop. Die bose geeste het Jesus gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar. Hy het hulle dit toegelaat, 33en die bose geeste het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop sit toe op loop teen die hang af, die see in, en hulle versuip.

34Toe die wagters sien wat gebeur het, hardloop hulle weg en gaan vertel dit in die dorp en op die plase. 35Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, en hulle het bang geword. 36Maar dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene genees is. 37Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan.

38Die man uit wie die bose geeste uitgevaar het, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom weggestuur en gesê: 39“Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het.”

Hy het toe gegaan en die hele dorp deur bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.

Ander tekste

1 Konings 19:1-4 (5-7) 8-15a; Psalm 42 en 43; Galasiërs 3:23-29

Ekstra stof

Lukas 4:15-9:50 fokus op Jesus se bediening in die meer plattelandse streke totdat Hy die reis na Jerusalem vasbeslote aanpak om sy roeping daar te voltooi.

Lukas 8:1-56 – Toegewy aan God in voor- en teëspoed
Hoofstuk 8 begin met ’n kernagtige opsomming van Jesus se bediening. Hy het oral gegaan, die land deurkruis van een stad en dorp na die ander, en oral gepreek en die koninkryk van God verkondig. Die 12 dissipels was ook daar, saam met ‘n hele paar vroue, wat ‘n groot rol gespeel het in die volhoubaarheid van die bediening.

En dit is juis dan wat Jesus die gelykenis van die saaier vertel, waarmee Lukas nie net iets sê oor die koms van die koninkryk nie, maar ook oor die wyse waarop Jesus dit uitgevoer het, want die wêreld was Jesus se saailand.

Die wyse waarop Jesus uitspel hoe ’n mens (100 voudige) vrug dra, tref ‘n mens besonderlik. Wat dié gedeelte sê, is dat vrug gedra word deur 1) bewaring van Sy woorde en 2) volharding in die gehoorsaamheid daaraan. Die geheim van ’n ryk en vol Christelike lewe lê in bewaring of koestering van God se woorde en die volharding daarin.

In kontras met dié wie se vrug verstik word, lyk dit asof vrug-dra beteken om:

  • aan die een kant nee te sê vir die verleiding van die rykdom en die genietinge van die wêreld, sowel as vir die verleiding van sorge oor allerlei – beide voorspoed as teëspoed kan ons in ons toewyding laat verslap! – en
  • aan die ander kant voluit ja te sê vir God se wil deur die woord van God te bewaar, daarin te volhard, en so vrug te dra.

Soos Jesus dit in die Bergrede – volgens Matteus – gestel het: “beywer julle allereers vir die koninkryk en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (6:33).

En dit alles begin by hoe ons luister.
Let op hoe Jesus in die res van die hoofstuk sy eie gehoorsaamheid illustreer deur die goed te hanteer wat God oor Sy pad gebring het: die stilmaak van die storm, die genesing van Legio, die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die opwekking van Jaïrus se dogter.

Let weer op die progressie, soos in die vorige hoofstuk, die wonders neem toe in intensiteit, met die opwekking van die dogtertjie uit die dood, die klimaks. Vir ’n tweede keer suggereer Lukas dus dat die opwekking uit die dood ’n hoogtepunt van Jesus se bediening verteenwoordig … waarvan Sy eie opwekking die finale klimaks sal wees.

Liturgie

Aanvangslied: Lied “177 Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord: Psalm 42

Seëngroet: Galasiërs 1

Lied 449 “Halleluja! Ons loof U Heer vs 1,2,3,4”

Wet

Skuldbelydenis: Lied 271 “Heil’ge Jesus wat my lewe 1”

Vryspraak: Galasiërs 3

Geloofsbelydenis: ahv Johannes 1 met Apostoliese Geloofsbelydenis

Toewyding: Lied 281 “Lei ons Here groot en magtig 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 8:26-39

Familie-oomblik
Prediking
Gebed

Offergawes

Wegsending: Lied 508 “Vaste rots op wie ek bou vs 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord: Psalm 42
2Soos ’n wildsbok smag
na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
3Ek dors na God, na die lewende God.
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.
Hy is my helper 7en my God!

Seëngroet: Galasiërs 1
Aan die gemeente in …………………………………………………
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. 5Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.

Lied 449 “Halleluja! Ons loof U Heer vs 1,2,3,4”

Wet
Voorganger: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
Gemeente: Dankie dat ons U kan erken as die enigste ware God.

V: Jy mag nie enige beeld of afbeelding vereer nie, want Ek eis onverdeelde trou aan My.
G: Dankie dat ons U kan leer ken uit u Woord en die sakramente.

V: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie.
G: Dankie dat ons u heilige Naam mag aanroep.

V: Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.
G: Dankie dat U vir ons sorg en vir tye van rus.

V: Eer jou vader en jou moeder.
G: Dankie vir ons ouers en ander mense wat vir ons omgee.

V: Jy mag nie moord pleeg nie.
G: Dankie dat U vir ons die lewe as ’n waardevolle geskenk gee.

V: Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
G: Dankie dat U dit vir ons moontlik maak om aan mekaar getrou te wees.

V: Jy mag nie steel nie.
G: Dankie dat U vir ons die vermoë gee om te kan werk.

V: Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
G: Dankie dat U ons in die waarheid lei.

V: Jy mag nie iemand anders se besittings begeer nie.
G: Dankie vir wat ons uit u hand ontvang.

Skuldbelydenis: Lied 271 “Heil’ge Jesus wat my lewe 1”

Vryspraak: Galasiërs 3
23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Geloofsbelydenis: ahv Johannes 1 met Apostoliese Geloofsbelydenis
Voorganger: Alles het deur Hom tot stand gekom:
Gemeente: nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

Voorganger: In Hom was daar lewe
Gemeente: en dié lewe was die lig vir die mense.

Voorganger: Die lig skyn in die duisternis,
Gemeente: die duisternis kon dit nie uitdoof nie (uit Joh 1:3-5).

Almal: Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees 2015-16)

Toewyding: Lied 281 “Lei ons Here groot en magtig 1,2,3”

Liedere

F274. “Vrygemaak”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloof & Vertroue)
Teks en Musiek: Tradisioneel
Verwerking (Musiek & teks): Cornel Driessen
© 2001 Urial Publishing

In u hande gee ek my lewe oor
want Here troue God
U’t my vrygemaak (herhaal x4)
U’t my vrygemaak (herhaal x3)
U maak my vry

F327. “Jesus, Rots”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Hoop & Vertroue)
Teks: Attie van der Colf
Musiek: Carli Lessing
© NG Kerk Uitgewers (Liedboek 503); Nuwe verwerking © 2009 deur WINS Music

Jesus, Rots, my hoop vir ewig,
Veilig kan ek op U bou
U is Heer, my anker stewig
Vas kan ek op U vertrou
U, my hoop, my koers op aarde
U gee aan die lewe sin.
Heer, U gee my lewe waarde
Nuut kan ek met U begin

Refrein:
Deur u mag, deur u krag
Dra U my van dag tot dag
Aan U Heer, altyd weer
Lof, aanbidding, dank en eer
Lof, aanbidding dank en eer
U, my hoop, my hede, toekoms
Leer my werk en bid en wag
U gee op my vrae uitkoms
Inspireer my elke dag

Refrein:

Brug:
U vergeef, U laat leef
In U krag kan ek oorwin
U vergeef, U laat leef
In U krag kan ek oorwin, kan ek oorwin

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lewende Here, ons bid nou dat u lewende woorde nie by ons ‘n hart van klip en ‘n kop van yster sal aantref nie, maar ‘n leergierige gees wat werklik soek na die betekenis van die nuwe lewe in U. Laat ons hier werklik ervaar dat U ons Vader is wat ons as u kinders aangeneem het, dat u ons Verlosser is wat namens ons gesterf het en weer opgestaan het en dat U deur u Gees ons harte verlig om u stem te hoor.
Amen.
Johannes Calvyn se Straatsburgse liturgie van 1545
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Lukas 8:26-39

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die fokusteks dramaties uit die Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Die Duiwels Verloor teen Jesus
26–29 Hierna het hulle na die land van die Geraseners gegaan. Daar het ’n man sonder klere aan na Jesus toe gestap. Hy was al lank in die duiwels se mag. Hy het tussen die grafte gebly. Die duiwels het hierdie man baie seergemaak. Die mense het sy hande en voete met kettings vasgebind, maar hy het dit gebreek en weggehardloop. Hy het in die woestyn rondgeswerf.

Toe hierdie man naby Jesus kom, val hy op die grond neer. Hy roep hard uit: “Hoekom kom U na my toe? U is mos Jesus, die Allerhoogste God se Seun! Ek smeek U: moet my nie seermaak nie.”

30 Toe vra Jesus vir die man: “Wat is jou naam?”

“Legio,” antwoord hy. (Die mense het hom so genoem omdat baie duiwels in hom gebly het.)

31–33 Toe vra die duiwels vir Jesus om hulle nie terug te stuur na die doderyk* toe nie. Hulle vra Hom of Hy hulle nie in die groot trop varke sal instuur wat op die berg geloop het nie. Jesus het ja gesê. Dadelik het die duiwels uit die man padgegee en in die varke ingevaar. Die varke het oor die rand van die berg gestorm en in die see geval. Daar het hulle almal verdrink.

34–37 Die mans wat die varke oppas, het groot geskrik. Hulle het teruggehardloop na hulle dorp toe. So ver as wat hulle hardloop, vertel hulle vir almal wat gebeur het. ’n Klomp mense het vinnig na Jesus toe gehardloop. Toe hulle daar aankom, sien hulle die man wat vol duiwels was. Hy was heeltemal gesond en het by Jesus gesit. Toe het die mense bang geword. Hulle sê toe vir Jesus om dadelik pad te gee. Hy het toe besluit om terug te gaan na die oorkant toe.

38–39 Net voordat Jesus weggaan, kom die man uit wie Hy die duiwels verdryf het na Hom toe en vra Hom of hy nie by Hom kan bly nie. Maar Jesus sê vir hom: “Gaan terug na jou mense toe. Vertel vir hulle wat God vir jou gedoen het.” Hierna het die man vir almal gaan vertel hoe Jesus hom vrygemaak* het.

Carolyn Brown suggereer ‘n oefening met verskeie kleure manssokkies wat elke kind oor sy/haar hand trek waarvan een Jesus simboliseer, een Legio simboliseer, en die res is die varke wat teen die helling wei…

Die fokusteks word dan opgevoer met die varke wat almal in ‘n denkbeeldige meer van water duik en verdrink. (Wees voorbereid op totale chaos maar die kinders sal dit geniet en waarskynlik onthou).

Lees meer hieroor.

Preekriglyn

Die klassieke tjellis Yo-Yo Ma het ‘n uitmuntende, maar uitputtende vertoning in New York se Carnegie konsertsaal gelewer, waarna hy huis toe is en dadelik aan die slaap geraak het. Die volgende dag, steeds moeg, bespreek hy ‘n taxi om hom na ‘n ander bestemming in Manhattan te neem. Sy tjello, met die hand vervaardig in Wene in 1733, gewaardeer teen $2.5 miljoen, sit hy toe in die bagasiebak van die taxi.

By sy bestemming aangekom, betaal Yo-Yo die taxibestuurder, maar vergeet sy tjello in die bagasiebak.

Hy kom sy fout agter net toe die taxi om die eerste draai uit sy sigveld verdwyn. Dadelik begin Yo-Yo met ‘n desperate soektog na die verlore instrument. Gelukkig het hy die betaalstrokie met die taxi se unieke identifiseringsnommer by hom. Na ‘n paar uur kon hy die voertuig in ‘n motorhawe in Queens opspoor met die kosbare tjello nog in die bagasiebak. Hy kon nie ‘n breë glimlag verberg toe hy met verslaggewers gesels oor hoe hy die tjello weer opgespoor het nie.

Sy vertoning daardie aand in Brooklyn het voortgegaan soos beplan.

Kan jy aan jouself dink as die hoofkarakter in ‘n Goddelike soektog? Waar jy die kosbare maar verlore item is wat God koorsagtig gesoek het tot God jou gevind het?

In ons Skrifgedeelte lees ons van so ‘n vasberade soektog. Jesus steek land en see oor om ‘n verlore mens en verlore gemeenskappe te vind. Dit is tegelyk ook ‘n verhaal waarin elkeen van ons hoofkarakters is.

Grense oorsteek

Net nadat Jesus die storm op die see stilgemaak het, het Hy en sy dissipels verder gevaar “na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê” (26). Met hierdie inleidende sin herinner Lukas ons dat Jesus gedurig grense oorsteek.

Die stad Gerasa was ongeveer 50 kilometer suidoos van die See van Galilea naby die Hieromaxrivier geleë (sien ook Mark 5:1 en Matt 8:28). Dit is betekenisvol dat Lukas skryf dat die land van die Geraseners reg teenoor Galilea lê.

Gedurende Jesus se bediening was die welvarende Gadara een van die sentrums van die Griekse kultuur anderkant die Jordaanrivier. Gadara was dus nie ‘n Joodse stad nie. Dit was in die volste sin van die woord “aan die ander kant”, ongeveer die teenoorgestelde van ‘n stad waarin Jode tuis sou voel.

‘n Lewende dooie

Toe Jesus daar aan wal gaan, het ’n man van ’n dorp af Hom tegemoet gekom (27). Lukas vertel dat die man van bose geeste besete was en ’n hele tyd al nie meer klere gedra het nie, en ook nie in ’n huis gebly het nie, maar tussen grafte. Stede was plekke van lewe en die lewende. Hierdie man het egter nie tussen die lewendes geleef nie, maar tussen die dooies. Hy het nie in ’n huis geleef soos wat hy veronderstel was om te doen nie, maar tussen grafte. Alhoewel hy tot die menslike spesie behoort het, het hy in eensame afsondering geleef. Alhoewel hy tot ’n plek wat skuiling en gerief gebied het behoort het, het hy in “die land van naaktes” geleef.

Dit was egter nie al nie. Hy het heeltemal beheer oor sy eie persoon verloor. Dit was tot so ’n mate dat hy met disrespek op Jesus geskree het ten spyte daarvan dat Jesus hom van sy toestand probeer bevry het (28). Aanvanklik val hy op sy knieë voor Jesus neer, maar net daarna skree hy op Jesus. Die man se gedrag was só afwykend dat niemand – nie eens hyself nie – in staat was om sy optrede te beheer nie (29). Omdat mense met afwykende gedrag as gevaarlik beskou is en “gewone mense” vir hulle bang was, is hulle dikwels deur gemeenskappe uit hulle midde uit verban.

Legio

In vers 30 verneem ons die man se naam is Legio. Die naam hou met die Romeinse militêre mag verband. ’n Legioen was ’n eenheid in die Romeinse militêre wêreld. Dit het bestaan uit 6 000 soldate en ’n berede mag. Hier dui die woord ’n groot getal aan. Hy is baie, Legio, want baie geeste het in hom ingevaar. Die man was onderdruk en gebroke. Hy kon nie meer onderskei tussen sy eie persoon en die legioen demone nie.

Die geeste op hul plek gesit

Die geeste was ongehoorsaam. Hulle het uit hulle plek – in die wêreld van (die) geeste – uit beweeg en hulleself in die man tuisgemaak. Net soos wat Jesus vroeër op die see orde in die natuur herstel het, herstel hy nou die orde in die geesteswêreld. Hy gaan egter verder. Varke is as onrein beskou. In plaas daarvan dat hulle soos (“ander”) bokke plante moes vreet, het hulle enigiets geëet. Hulle was uit hulle plek uit – net soos die man wat tussen die grafte gewoon het – omdat hulle anders opgetree het as wat van hulle verwag was. Daarom is hulle as onrein diere beskou.

Die feit dat daar in die gebied met varke geboer is, beklemtoon dat daar onder die Romeinse heerskappy teen die tyd van Lukas se skrywe al baie nie-Israeliete in Judea gewoon het. Hierdie “vreemdelinge” is – nes die varke! – as “onrein mense” beskou. Vanweë hulle beskouing oor varke sou ’n Jood nie sommer met varke geboer het nie. Vir hulle was nie net die varke “varke” nie, maar ook die klomp heidene, nie-Jode, wat in hierdie gebied gewoon het.

Jesus uitoorlê die bose geeste, want wanneer hulle in die varke – wat ook onrein is – intrek, hardloop húlle in die see in en versuip. Omdat die Jode geglo het dat die see die geboorte- en woonplek van die chaosmagte was, was dit wat onrein en boos – of te wel uit hulle plek – was, nou weer op hulle plek. Die wanorde wat bestaan het omdat hulle uit hulle plek uit was, is tot orde herstel. Jésus, sou die hoorders van hierdie voorlesing sê, het God se orde herstel. Anders gestel: God se koninkryk ook buite Israel gevestig.

Lukas skets hier presies dieselfde prentjie wat Johannes in Openbaring 21:1 uitbeeld. Toe Johannes die nuwe hemel en die nuwe aarde gesien het, het die eerste hemel en die eerste aarde verdwyn, “en die see het nie meer bestaan nie” (Op 21:1). Jesus bring volgens hierdie gedeelte dus ’n einde aan die etikette boos of goddeloos, vir mens en dier en wat ook al, wat as onrein beskou is.

Eerste getuies

In vers 34 is die wagters die eerste getuies van Jesus se weldade anderkant die Jordaanrivier. Gaan die varkwagters geglo word? Ja! In vers 35 lees ons: “Die mense gaan kyk toe wat gebeur het.” Die mense wat gaan kyk het was natuurlik verbaas. Baie van hulle was waarskynlik ook opgewonde en dankbaar. Maar dan skop die realiteit in. Wat gaan die Romeinse owerhede hiervan maak? Hoe gaan hulle dit vertolk? Sal hulle, omdat hulle Jesus in hulle gebied toegelaat het, vir die varkboerdery se verlies moet kompenseer? Hoe gaan hulle verduidelik wat met die man gebeur het? Dit is verstaanbaar dat hulle bang geword het (35).

Omdat hulle bang was het die inwoners van die gebied van die Geraseners nie gasvryheid aan Jesus bewys deur Hom by hulle in te nooi nie, maar vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan (37). Jesus het dit ook gedoen.

Eerste sendeling

In vers 38 kom die woord “smeek” die derde keer voor (sien 28 en 32). Die man wat besete was, maar nou gesond was, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Jesus het hom egter terug na sy huis (sy plek) toe gestuur met die opdrag om alles te vertel wat God vir hom gedoen het (39). Net soos wat Jesus se dissipels later sou doen, het die geneesde man “toe gegaan en die hele dorp deur bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het” (39).

Die man se situasie ná Jesus se ontmoeting met hom staan in skrille kontras tot sy situasie vóór die ontmoeting. Hy hardloop nie meer deur ’n verlate gebied nie (29), maar sit by Jesus se voete (35). Teenoor die chaos aan die begin van die vertelling, is daar nou kalmte: die man is nie meer naak nie, maar het klere aan (27 en 35). Hy is nie meer onder die mag en bestuur van die bose geeste nie, maar by sy volle bewussyn (27-29 en 37). Vroeër was hy as ’t ware die slaaf van duisende bose geeste, maar nou is hy ’n getuie vir Jesus. As getransformeerde mens kan hy nou weer sy plek tussen die lewendes inneem.

Hy word die eerste gestuurde om van Jesus te gaan vertel. In die volgende hoofstuk lees ons hoe Jesus die twaalf uitstuur, en in hoofstuk 10 hoe die 72 uitgestuur word. Legio was die eerste. Hy word in een moment van aanraking van ‘n ontwortelde mens tot ‘n gestuurde omvorm.

Toepassing:
Een: Die mag van Jesus
Ons teks beeld Jesus as die gesagvolle gestuurde van die Vader uit. Hy spreek, en alles gehoorsaam Hom – selfs die legioen bose geeste. Waar Jesus werk, is God aan die werk, en in God se koninkryk teenwoordig. Daarom gee Jesus Legio ook die opdrag om alles te gaan vertel wat God vir hom gedoen het. Die regering van God is ten volle teenwoordig in die bediening van Jesus.

Dit is vandag nog so. Baie mense kan vertel hoe Jesus hulle gevind en hulle bevry het van watter magte wat hulle ook al gebind het. Vir sommige was dit verslawing, vir ander siekte, vir nog ander absoluut verblindende ongeloof, of twyfel, ontnugtering en sinisme.

Boosheid en binding hou nie stand waar Jesus sy lewegewende woorde spreek nie. Wat is die verhaal wat jy kan vertel oor hoe Jesus jou vrygemaak het? Of mense naby aan jou vrygemaak het toe Hy hulle vind?

Twee: Jesus sluit buitestaanders in
Dit is goed om onsself daaraan te herinner dat ons ook buitestaanders was. Die “oorkant”, die land van die Geraseners, waarheen Jesus hier vaar, is dieselfde “oorkant” waarheen Jesus later sy apostels stuur. Wanneer Jesus aan die oorkant aankom, woon ons voorouers in die noorde van Europa, of in die Ooste, op duisende plekke versprei. Hierdie duisende plekke is almal oorkant-plekke.

Wanneer ons vandag, in navolging van Jesus grense oorsteek, doen ons dit nie maar uit ordentlikheid nie. Ons doen dit uit diepe dankbaarheid dat ons wat eenmaal nie deel was van die volk van God in iewers langs die pad ingesluit is.

Dis nie ‘n grap om na buitestanders uit te reik nie. Hulle is nie altyd skoon of ordentlik nie. Soms dra hulle, soos Legio, nie klere nie of woon op skrikwekkende plekke.

Die uitdaging is of ons Jesus se inklusiewe karakter self baie goed verstaan, en of ons geestelik daardeur gevorm is. Maak ons ‘n gewoonte van insluiting? Soos Jesus?

Drie: Die evangelie ontwrig
Ons kerkkultuur mag ons verlei om te dink dat konflik sleg is. Wanneer iets konflik veroorsaak, is ons geneig om daarmee weg te doen, omdat dit verkeerd en verdelend is. Die vraag is natuurlik of dit wat konflik veroorsaak reg is en volgens die voorbeeld en evangelie van Jesus.

In hierdie gedeelte veroorsaak Jesus se aankoms aan die oorkant geweldige konflik en spanning. Een voorbeeld is die knou wat die plaaslike ekonomie kry wanneer die varke verdrink. Dit herinner mens aan die opstand in Efese later omdat die plaaslike handel rondom die beelde van die tempel van Artemis bedreig is (Hand 19:21-40). Vandaar die begryplike reaksie dat die mense van die omgewing Jesus dringend versoek om uit hulle gebied weg te gaan.

Die uitdaging is om die Here te vertrou dat die konflik rondom Sy persoon die evangelie kan dien. Juis in die smeltkroes van konflik word ons gevorm om beter insig in die werk en werkswyse, die insluiting en die omarming van Jesus te verkry. Die navolging van Jesus beteken dat ons oop moet wees vir verrassing en disoriëntasie.

Vier: Jesus is teenwoordig deur diegene wat Hy aanraak
Jesus verlaat die gebied, maar laat ‘n verteenwoordiger agter in wie Hy die beeld van God herstel het. Legio kry ‘n opdrag by die Here: “Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het” (39) Legio doen dit, en berei só die weg voor vir die latere bediening van Jesus in die Dekapolis-gebied. Ons lees in Markus 6:53-56 dat wanneer Jesus weer daar aankom die mense gereed is om Hom te ontvang, en bring hulle hul siekes vir genesing.

Legio verkondig nie ‘n morele kode nie, of dra nie leerstellige waarhede oor nie. Legio praat van persoonlike ondervinding en vertel wat die Here alles vir hom gedoen het. Dit het trefkrag. Laat ons daarom ook onbeskaamd met mekaar en met ander oor die Here gesels en oor die groot dinge wat Hy doen.

Ons sou op ‘n menslike vlak iemand soos Legio nie ingesluit het in ons getuienisbeplanning nie. Maar Jesus sluit in. Jesus, sy optrede en genesing, en mense se respons daarop bepaal wie is binne en wie is buite.

Ons is almal deel van die storie

Natuurlik is hierdie gebore nie alleen maar die storie van iemand wat “eendag, lank lank gelede in ‘n ver land” gewoon het nie. Dis nie ‘n dromerige sprokie wat ‘n goeie slaaptydstorie maak nie.

Die verhaal gaan ook oor ons. Oor elkeen van ons. Dit vertel hoe Jesus ons gesoek het, totdat ons gevind is. Hoe Jesus ons lewens orden deur die bose van ons weg te neem en God se lig op ons lewe te laat skyn. Sommige van ons mag diep bewus hiervan wees omdat Jesus ons op ‘n radikale wyse gevind en bevry het. Ander mag bevoorreg wees om ‘n goeie, Christelike opvoeding te kon hê waar Jesus maar altyd aanwesig is en ons gevorm het tot wie ons is.

Hoe dit ook al sy, aan elkeen van ons het Jesus ‘n lewe in die land van die lewendes gegee. In hierdie bedeling, asook in die een wat kom.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 508 “Vaste rots op wie ek bou vs 1,2”

Seën
Hy is met julle elke dag tot en met die voleinding van die wêreld. Die genade van ons Here Jesus Christus, die opgestane gekruisigde, die liefde van God ons Vader, en die kragtige gemeenskap van die Heilige Gees lei julle om getroue navolgers van Jesus te wees.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.