Vyf en Twintigste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ons deel aan die heerlikheid van Jesus Christus omdat ons glo. Ons kan verseker wees van die toekoms wat God vir ons beplan. Daarom is allerhande voorspellings oor die wederkoms onnodig. God is ʼn God van die lewe wat doen wat Hy beloof.

Ander tekste

Haggai 1:15b-2:9
My Gees sal altyd by julle bly
2 Op die een en twintigste van die sewende maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: 2Vra tog vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het: 3Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige nie?

4Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. 5My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!

6So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe. 7Dan sal Ek al die nasies laat wakker skrik en hulle sal met hulle skatte kom en so sal Ek hierdie huis met rykdom vul, sê die Here die Almagtige 8Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige. 9Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.

Psalm 145:1-5, 7-21
Ek wil getuig van u magtige dade
145 ’n Loflied van Dawid.
Ek wil u lof verkondig,
my God en Koning,
ek wil u Naam altyd loof.
2Elke dag wil ek U loof,
ek wil u Naam altyd prys.
3Die Here is groot,
alle lof kom Hom toe,
sy grootheid is ondeurgrondelik.
4Geslag na geslag prys wat U doen
en vertel van u magtige dade,
5van die luister, die heerlikheid
van u majesteit.
Ek wil getuig van u magtige dade,
6sodat die mense
oor u wonderdade sal praat.
Ek wil van u grootheid vertel.

7Sonder ophou moet hulle 
u groot goedheid verkondig 
en oor u reddingsdade jubel. 

8Genadig en barmhartig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Die Here is vir almal goed
en barmhartig
oor alles wat Hy geskep het.
10Almal wat deur U geskep is,
loof U, Here,
en u troue dienaars prys U!
11Hulle vertel van u koninklike mag
en getuig van u groot krag.
12Die mense moet weet van sy krag,
van sy koninklike mag
en majesteit.
13U koningskap is ’n koningskap
vir alle tye,
u heerskappy strek
oor die geslagte heen.
14Die Here help almal op wat geval het.
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
15Die oë van almal is op U gerig,
en U gee hulle kos op hulle tyd.
16U maak u hand oop
en skenk u guns in oorvloed
aan al wat leef.
17Die Here is regverdig
in al sy handelinge,
getrou in alles wat Hy doen.
18Die Here is naby almal
wat Hom aanroep,
almal wat Hom
in opregtheid aanroep.
19Aan dié wat Hom dien,
gee Hy wat hulle vra,
Hy hoor as hulle om hulp roep,
en Hy red hulle.
20Die Here beskerm almal
wat Hom liefhet,
maar al die goddeloses verdelg Hy.
21Ek sal die lof van die Here
verkondig.
Laat al wat leef,
sy heilige Naam vir altyd prys.
Lukas 20:27-38

Die vraag oor die opstanding uit die dood
(Matt 22:23–33; Mark 12:18–27)
27’n Aantal Sadduseërs—dit is die mense wat ontken dat daar ’n opstanding uit die dood is—kom toe nader en vra vir Jesus: 28“Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand ’n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. 29Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. 30Ook die tweede 31en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. 32Daarna het die vrou ook gesterwe. 33Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

34Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, 35maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. 36Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. 37Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ 38Hy is nie ’n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”

39Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.”
40Hulle het nie meer gewaag om Hom ’n enkele vraag te stel nie.

Fokusteks

2 Tessalonisense 2:1-5, 13-17
Die wettelose mens
2 En nou, broers, wat betref die wederkoms van ons Here Jesus Christus en ons hereniging met Hom, het ek ’n ernstige versoek aan julle: 2Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word as iemand vir julle sou sê die dag van die Here is al hier nie—of dit nou vir julle gesê word in ’n profetiese uitspraak of in ’n preek of in ’n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees. 3Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. 4Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.

5Onthou julle nie dat ek dit herhaaldelik vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?

6En julle weet nou wat hom nog teëhou, sodat hy eers as dit sy tyd is, sy verskyning sal maak. 7Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk, maar die een wat die wettelose teëhou, moet eers uit die weg wees, 8en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig.

9Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders 10en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. 11Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. 12En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.

Aan God die dank
13Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. 14Hy het julle hiertoe geroep deur die evangelie wat ons aan julle verkondig het, sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van ons Here Jesus Christus.

15Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ’n brief was.

16–17En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ’n blywende troos en goeie hoop gegee.

Ekstra stof

Paulus het eers laat in sy bediening begin om briewe te skrywe.
Hy het Tessalonika (vandag Salonika, tweede grootste stad in Griekeland), die bedrywige hoof- en hawestad in die Romeinse provinsie Masedonië, net ’n paar weke lank besoek, tydens sy tweede sendingreis, net na die eerste “sinode”-sitting in Jerusalem (Handelinge 17:1-9). Dit was saam met Silvanus (Silas) en Timoteus, na die stigting van die eerste gemeente in Europa, Filippi. Lukas het in Filippi agter gebly (Hand 16:40), ten spyte van Paulus en Silas se geseling en kortstondige tronkstraf, en eers weer later saam met hulle verder gereis (Hand 20:6).

Die groot belang van Tessalonika vir die uitbreiding van die evangelie was dat dit geleë was aan die hoofweg (die Via Egnatia) wat die Ooste en Weste met mekaar verbind het. Die hoofstraat was in der waarheid deel van hierdie pad. Die stad was daarby as hawestad ’n verbindingskakel met al die vernaamste hawens van daardie tyd. Gevolglik kon die gemeente ’n invloed uitoefen deur hulle gasvryheid teenoor reisigers wat by hulle stad aangedoen het.

Die gemeente van Tessalonika
Ons lees in Handelinge 17:1-9 van Paulus se bediening in Tessalonika. Ons lei af dat Paulus sy beroep as tentmaker (vgl 1 Tes 2:9) in Tessalonika beoefen het om nie ’n las vir die gemeente te wees nie.

Hy begin soos gewoonlik met ’n besoek aan die sinagoge en fokus 3 sabbatdae na mekaar op die boodskap van die lyding en opstanding van Jesus, wat bewys dat Hy die Christus, die Messias is. En sy hoofargumente kom uit sy lees van die Ou Testament.

’n Aantal Jode, onder andere Jason in wie se huis Paulus tuisgaan, sowel as ’n hele aantal godvresende Grieke en ’n aansienlike aantal vooraanstaande vroue kom tot bekering. “Vooraanstaande” Vroue speel hier, sowel as in Filippi en later in Berea, ’n groot rol, en wys ook op die status wat hulle in die Griekse samelewing geniet het. Interessant is dat die gemeente in Filippi, met Lidia ’n leidende figuur daar, in dié tyd vir hom meer as een maal ondersteun het (Fil 4:16).

Maar die bekering van sommige Jode stuit die meerderheid ander Jode teen die bors. Hulle kom in opstand hieroor en hits die stadsbestuur aan om teen Paulus-hulle op te tree, omdat hulle die “hele wêreld” in beroering sou bring en in stryd met die keiser se wette optree, deur te sê dat Jesus koning is.

Die stadsbestuur weier egter om te streng op te tree en laat die gelowiges vir eers met rus. Paulus-hulle vertrek egter die aand na Berea waar hulle die mense meer ontvanklik vir die evangelie vind, soos ons in Handelinge 17:10-15 lees. Die Joodse oproer teen sy bediening in Tessalonika het egter tog ook oorgespoel na Berea, sodat hy ook vandaar moes vlug na Atene, waar hy sy beroemde toespraak op die Areopagus gehou het.

Daarmee word Paulus effektief eers gestuit in sy voorneme om in die gemeente van Rome uit te kom (Rom 1:10!), want dit is waarheen die Via Egnatia hom sou lei, as hy verder daarop sou reis. Hy sou eers later as gevangene daar uit kom.

Die kern van ’n florende gemeente in Tessalonika was egter in dié kort tydjie gevorm. Nog heidene kom tot bekering en sluit by die gemeente aan (vgl 1 Tes 1:9 “Die mense vertel self … hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het”). En die verbintenis met Paulus bly staan, waarvan sy twee briewe aan hulle getuig. Aristargos en Sekundus reis ook later saam met Paulus (Hand 19:29; 20:4; 27:2; Kol 4:10; Filemon 24) en moontlik selfs ook Jason soos ’n mens uit Rom 16:21 aflei. Dié brief aan die Romeine is waarskynlik ook in Korinte geskryf op Paulus se tweede besoek daar tydens sy derde sendingreis.

Interessant genoeg het die stad later bekend gestaan as die “Ortodokse Stad” weens hulle standvastigheid en evangelisering van ander nasies.

Die briewe
Na Paulus se verdere bediening in Berea en Atene kom hy in Korinte aan waar hy 18 maande lank bly en in die gemeente leiding neem (Hand 18:11). Die brief aan die Tessalonisense, en ook die tweede brief aan hulle, is in dié tyd geskrywe, waarskynlik in die loop van 50-51 n C, omdat ons weet dat Gallio in die tyd goewerneur van Agaje geword het (inskripsie te Delfi) en Paulus voor hom verskyn het in Korinte (Hand 18:12–18). Hy skryf dus die brief uit Korinte.

Omdat hy so min tyd gehad het om die gelowiges te bemoedig (vgl die metafore in 2:7, 11), en onseker was oor die impak wat die evangelie op hulle lewens sou hê – hy is immers beide in Tessalonika en Berea as ’n onrusstoker uitgeskop – het hy eers uit Atene vir Timoteus gestuur om uit te vind hoe dit met hulle gaan (3:1).

Nadat hy berig ontvang het oor hulle standvastigheid in die geloof, skryf hy dus die eerste brief vanuit Korinte (Hand 18; 1 Tes 3). Die terugrapport moes hom self baie bemoedig het, want die Gees het immers op ’n besondere wyse vir hulle daarheen geroep (Hand 16:6-10). Die geloofsgroei by die gemeente het dus vir hom gesê dat hulle werk nie tevergeefs was nie, en hulle het die Gees nie verkeerd gehoor nie.

Uit die onderwerpe wat hy aanraak, kom ’n mens egter ook agter waaroor hulle onseker was, onder andere seksuele sake (4:3-8), die gemeenskapslewe (4:9-12 en 5:14-15), die lewe na die dood (4:13-18), die wederkoms (5:1-11 – waaroor hy weer gaan skrywe in die tweede brief om verdere misverstande op te klaar), hulle leiers (5:12-13) en die gemeentelike lewe (5:16-22).

Dit is ook interessant dat hy, anders as in sy ander briewe, hier in die meervoud skryf “Ons dank God …” (1 Tes 1:2; 2 Tes 1:3). Dit is omdat die briewe afkomstig is van Paulus, Silvanus (Latynse naam vir Silas) en Timoteus (1 Tes 1:1; 2 Tes 1:1) en aldrie ’n sleutelrol in die bediening aan die gemeente gespeel het.

Die tweede brief hak aan by die eerste brief se laaste tema, die wederkoms, en probeer veral misverstande daaroor uit die weg ruim. Hy waarsku hulle om vas te staan ten spyte van vervolging en om hulle selfstandigheid in die werksituasie te behou, en nie leeg te lê weens ’n verkeerde wederkoms verwagting nie, moontlik op grond van ’n brief of profesie wat valslik aan Paulus toegeskryf word (1 Tes 2:2). Let op hoe hy sy outeurskap van die brief bevestig in 3:17!

Belang van die briewe
Prof du Preez skryf dat die twee briewe aan die Tessalonisense die gees en boodskap van die vroegste Christelike kerk beliggaam. Hulle illustreer volgens hom die krag van die evangelie van Jesus Christus om mense uit alle volkere nuwe mense te maak. Dit is ’n bemoediging vir alle mense wat die evangelie wil neem na die uithoeke van die wêreld.

En dit illustreer hoe jy mense wat pas tot geloof gekom het, help om te groei te midde van vervolging. Jy bevestig hulle in hulle geloofservaring en jy spits jou lering toe op die praktiese vrae wat hulle vra. So bou jy gelowiges wat nie net heilig en verantwoordelik lewe in die gemeente nie, maar ook in die gemeenskap.

Dwarsdeur die twee briewe is daar ook ’n duidelike klem op die wederkoms, sodat hulle soms Paulus se eskatologiese of eindtyd briewe genoem word (ta eschata = die laaste dinge). So kom alles wat behandel word in die helder lig van die wederkoms te staan, en word alle gelowiges geleer om te leef, te dink, te praat en te werk in die verwagting van die Here wat kom.

2 Tessalonisense 2:1-12
Wetteloosheid se mag sal gebreek word
Dit is duidelik dat die gemeente in Tessalonika Paulus verkeerd verstaan het. Sy boodskap in sy eerste brief (hfst. 5) dat Jesus onverwags sou kom, is deur hulle geïnterpreteer dat Jesus moontlik reeds gekom het óf binnekort sou kom. Dit kan ook moontlik wees dat daar iemand was wat valslik in sy naam ’n brief geskryf het (2:2) en sommige verwar het met ’n verkeerde interpretasie van sy vorige boodskap oor die wederkoms.

Paulus versoek hulle egter om nie so gou van stryk gebring te word deur misleidende interpretasies oor die wederkoms nie, maak nie saak of dit in ’n profetiese uitspraak gedoen word of deur ’n brief nie. Daarom bevestig Paulus heel moontlik in 2 Tess 3:17 die egtheid van hierdie brief, deur die groete met sy eie handskrif te skryf.

Die wettelose mens (Antichris?) waarvan Paulus praat wat eers moet verskyn, kan óf met ’n demoniese mag óf ’n despotiese leier verbind word, iemand soos bv. die Siriese koning Antiogus Epifanes (175-164 vC – vgl Dan 11:31-39; 12:11 en 1 Makkabeërs 1:54,59) of die Romeinse keiser Gajus (37-41 nC – hy het probeer om ’n standbeeld van hom in die tempel in Jerusalem op te rig, maar is dood voor dit gebeur het), wat albei van hulle onderdane vereis het om hulle te aanbid as gode. Jesus verwys heel moontlik ook na dié wettelose een in sy profetiese rede in Markus 13:14.

As dit ’n despotiese leier sou wees, kan dit miskien dui op keiser Titus wat in 70 nC Jerusalem ingeneem het en die tempel ontheilig het. As dit ’n demoniese mag sou wees, verwys Paulus se uitsprake na die Antichris in die eindtyd net voor die wederkoms van die Here Jesus. Dit is ook moontlik om albei betekenisse te aanvaar, en ’n eerste vervulling met keiser Titus en ’n tweede vervulling aan die einde van die tyd hierin raak te sien (vgl 1 Joh 2:18 – daar is eintlik sprake van ’n hele paar antichriste).

Hoe dit ook al sy, die Tessalonisense het die lering verstaan, want hy het dit blykbaar die vorige keer met hulle deurgepraat. Dit bly egter vir ons onseker presies wat hy bedoel, omdat die NT nie baie meer detail hieroor gee nie. Dit geld ook die betekenis van die “geheime krag wat hom teëhou”. Dit is bv. al met die Romeinse ryk, wat op plekke die evangelie goedgesind was, verbind; ook met die evangelie verkondiging, dws dat deur die verspreiding van geloof, die wettelose teruggedryf word; ook met engele of met die Heilige Gees of God self, hoewel dit nie sin maak dat die Gees eers “uit die weg (moet) wees” nie (vers 7).

Selfs die grote Augustinus het hieroor gesê dat dit vir hom ’n onopgeloste raaisel is (City of God) … en ek dink hy het ’n punt beet! Miskien is William Hendriksen egter reg wat sê dat ons hier met ’n beskrywing van die algemene handhawing van reg en orde deur regerings en ander instansies te make het. Wanneer dit verdwyn, sal die wetteloosheid oorneem, en is dit die einde.

Terloops, dan was daar al tye wat dit byna gebeur het: dink maar net aan die twee Wêreldoorloë van die vorige eeu, en wat tans in soveel dele van die wêreld gebeur: Afganistan, Pakistan, Iran, Irak, en baie dele van Asië en Afrika, selfs in die Amerikas en Europa … Is daar ’n plek waar wetteloosheid nie dreig om oor te neem nie, wonder ek skielik?!

Wat wel seker is, is dat dit die Satan is wat agter die wettelose en die wetteloosheid sit. Let egter op dat hy dit net regkry om dié te mislei wat reeds nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. Die veroordeling kom dus nadat hulle reeds hulle keuse teen God se boodskap in Jesus Christus gemaak en Hom verwerp het.

Die Satan se werk, in die lig van wat die res van die Bybel ook daaroor skrywe, kan in 4 woorde opgesom word: versoeking (Matt 4), misleiding (1 Kon 22:21-22; Ef 6), teenspoed (Open 2:10) en aanklag (Job 1; Open 12:10). Sy werk word daarom ook nie uitgewis deur “duiwel-uitdrywing” in die eerste plek nie, maar deur die waarheid te soek en te leef (Joh 8:31 vv; Ef 6:14,17 – hier word dit met die Bybel verbind) en getuienis te lewer (2 Kor 10:4-5; Ef 6:15,16) en biddend te lewe (Matt 6:13; Ef 6:18).

As ’n mens al die inligting hierbo so beskou, is dit maklik om benoud te raak. Hoe meer jy weet van wat in die wêreld aangaan, hoe meer weet jy van die mag van wetteloosheid. Dan is die woorde waarmee Paulus hierdie perikoop begin en eindig ook vir ons bedoel:

Jesus kom weer en Hy sal ons met Hom herenig na Hy die wetteloosheid uit die weg geruim het! En ’n mens moet waak teen wetteloosheid in jou eie lewe – ’n mens kan nie ’n norm vir jouself word nie, dat wat jy dink goed en sleg is, jou lewe bepaal nie. Dié voorreg behoort net aan die Here.

2 Tessalonisense 2:13-17
God sterk ons in die goeie
Let op hoe God se werk en dié van die gelowiges saamwerk om hulle standvastig te maak.

Aan die een kant het die Here hulle lief, het God hulle uitverkies en gered deur sy Gees. Aan die ander kant is hulle gered deurdat hulle die waarheid glo.

Netso het God hulle geroep deur die evangelie om deel te hê aan Jesus se heerlikheid. Maar Paulus roep hulle ook op om standvastig vas te hou aan die leer wat hy aan hulle verkondig het.

Soos iemand gesê het: “Werk asof alles van jou afhang, dan sal jy agterkom dat alles van God afhang.” Dit is ons troos en hoop.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 178 “Donna Nobis Pacem vs 1”

Aanvangswoord:  (2 Tessalonisense 1)

Lied 499 “Die Heer is God en niemand meer vs 1,2”

Wet: 1 Johannes 4

Verootmoediging: Gebed ahv Lied 231

Vryspraak: Efesiërs 2:8-10 ()

Lofverheffing: (1e persoon aanhalings uit Psalm 145)

Lofliedere
Lied 192 “Grote God U skepperhand 1,2,3” en/of
Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Epiklese

Skriflesing: 2 Tessalonisense 2:1-17

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis: (Uit Psalm 145)

Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Seën

Musikale Amen: Lied 269 “God bly met U waar u ook mag gaan 1,4” (vervang “u” met “ons”) of
F361.
Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 178 “Donna Nobis Pacem vs 1”

Aanvangswoord 
Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep. Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra (Ps 145:18-20a).

Seëngroet 
Aan die gemeente van die Tessalonisense wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(2 Tessalonisense 1)

Lied 499 “Die Heer is God en niemand meer vs 1,2”

Wet: 1 Johannes 4

God is liefde
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Verootmoediging
Gebed ahv Lied 231
Heilig, heilig, heilig, Here,
U is heilig sonder perk;
ons kom sing u Naam ter ere –
bid dat U in ons sal werk.
Ons onheiligheid, o Heer,
dwing ons op ons knieë neer.
Ons kom pleit om u genade:
Heer, verlos ons van die kwade.

Vryspraak: Efesiërs 2:8-10 ()
8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Lofverheffing: (1e persoon aanhalings uit Psalm 145)
Ek wil u lof verkondig,
my God en Koning,
ek wil u Naam altyd loof.
2Elke dag wil ek U loof,
ek wil u Naam altyd prys.
Ek wil getuig van u magtige dade,
6sodat die mense
oor u wonderdade sal praat.
Ek wil van u grootheid vertel.
13U koningskap is ’n koningskap
vir alle tye,
u heerskappy strek
oor die geslagte heen.
15Die oë van almal is op U gerig,
en U gee hulle kos op hulle tyd.
16U maak u hand oop
en skenk u guns in oorvloed
aan al wat leef.
Aan U die eer…

Lofliedere
Lied 192 “Grote God U skepperhand 1,2,3” en/of
Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Liedere

F35. “Jesus Kom Weer”
(RUBRIEK: Flammikidz – Wederkoms / Hoop en Voleinding)
Teks en Musiek: Hanneke Engelbrecht
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

Jesus is ons Koning, Heer,
en ons weet Hy sal t’rugkeer.
Soos hul Hom sien opvaar het,
sal Hy kom om ons te red.

Refrein:
Ja, Jesus kom weer!
Ja, Jesus kom weer!
Ek en jy behoort aan Hom.
Ons glo dat Hy weer sal kom.
Jesus is ons Koning, Heer.
Ek en jy behoort aan Hom.
Soos hul Hom sien opvaar het,
glo ons dat Hy weer sal kom.

Refrein:

F120. “Hy Is Heer”  
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se heerskappy / Wederkoms)
Musiek & teks: Onbekend
Afrikaanse Teks: AP van der Colf
© Tradisioneel / Geen inligting
(Opgeneem in Jeugsangbundel I)

Hy is Heer!
Hy is Heer!
Hy’s oorwinnaar oor die dood en Hy is Heer!
Elke knie sal buig,
elke mens erken:
Hy, Jesus, is die Heer.
Hy regeer,
Hy regeer
van die regterhand van God
want Hy is Heer!
Elke knie sal buig
elke mens erken:
Hy, Jesus, Hy regeer!
Hy kom weer,
Hy kom weer,
op die wolke – om te oordeel –
Hy is Heer!
Elke knie sal buig,
elke mens erken:
Hy, Jesus, Hy kom weer!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lewende Here, ons bid nou dat u lewende woorde nie by ons ‘n hart van klip en ‘n kop van yster sal aantref nie, maar ‘n leergierige gees wat werklik soek na die betekenis van die nuwe lewe in U. Laat ons hier werklik ervaar dat U ons Vader is wat ons as u kinders aangeneem het, dat u ons Verlosser is wat namens ons gesterf het en weer opgestaan het en dat U deur u Gees ons harte verlig om u stem te hoor.
Amen.
Johannes Calvyn se Straatsburgse liturgie van 1545
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: 2 Tessalonisense 2:1-17

Prediking

Familie-oomblik

Vertel kinders in die eenvoudigste taal moontlik van die breë lyne van die wederkoms. Bybelse Ensiklopedie onder redaksie van WH Gispen ea beskryf die kern daarvan soos volg:

Die toekomsverwagting v.d. Christelike geloof is gerig op die—wat die voitooiing v.d. verlossingswerk bring. Daar is ’n onlosmaaklike verband tussen die Opstanding van Christus, sy Hemelvaart, sit aan die regterhand van God en die —, Mt. 26:64; Hd. 1:11; 1 Ts. 1:10. Christus sal in heerlikheid verskyn, Mt. 24:30, en elkeen sal Hom sien, Opb. 1:7. Hy kom om te oordeel, 2 Tm. 4:1. Die dooies sal opgewek word en dan sal dit die einde wees, wanneer Hy koningskap aan God die Vader oordra. Dan sal God alles in almal wees, 1 Kor. 15:23–28. Die oomblik v.d.—is Gods geheim, Mt. 24:36, en is nie te bereken uit die voortekens waarvan die Skrif praat nie. Dit sal onverwags wees, Mt. 24:44; 1 Ts. 5:2. Die gemeente word gevra om met die oog op die —, waaksaam te wees, Mt. 25:1–13, 14–30.

Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, (1999) gee die fokusteks soos volg:

Oppas vir Slegte Mense!
2 1–2 Ek wil met julle praat oor die dag wanneer ons Here Jesus Christus weer terugkom. Ek hoor julle is bang vir daardie dag. Dit is omdat julle alles glo wat party mense vir julle sê. Boonop het iemand julle ook nog omgekrap deur ’n vals brief in my naam na julle toe te stuur. Daarom dink julle die wederkoms* gaan nou enige oomblik plaasvind. Kom ek sê nou vir julle wat alles eers nog moet gebeur:

3–5 Voor die Here kom, gaan baie mense ophou om in Hom te glo. In daardie tyd sal ’n baie slegte mens hier op die aarde begin werk. Hy sal lelike dinge aanvang. Hy sal dink hy is beter as God. Hy sal sommer daar in die plekke waar mense vir God aanbid sê: “Ek is God!”

6–8 Hierdie slegte mens is nog nie hier nie. Want die tyd is nog nie reg vir sy koms nie. Maar ’n klomp duiwels* werk nou hard om te sorg dat hierdie goddelose mens kan begin met sy werk. Moenie julle oor hom bekommer nie: die Here Jesus sal self met hom afreken as Hy die dag terugkom.

9–12 Hierdie goddelose mens kry al sy krag by Satan. Hy sal allerhande wonders doen om mense te mislei om sonde te doen. Almal wat nie in Jesus glo nie sal agter hom aan loop. God gaan hulle swaar straf.

Preekriglyn

Golfspelers weet hoe moeilik ‘n hole-in-one is. Min kry dit reg. Mens moet jou mik ken!

Curiosity, die Mars Ruimtelaboratorium, het verlede jaar veilig in die Galekrater op Mars geland. Die akkuraatheid van hierdie plasing is meer as wat nodig is om in Kaapstad te staan en met een hou ‘n hole-in-one tot in Londen te slaan.

Curiosity is op 26 November 2011 gelanseer, en het eers op 6 Augustus 2012 op Mars geland. Die afstand tussen die twee planete beteken dat radioseine 14 minute neem om die aarde te bereik. Dit het Curiosity net sewe minute geneem om op Mars te land nadat dit die atmosfeer binnegaan het. Toe die radioseine wat vertel Curiosity is in Mars se atmosfeer die aarde bereik, was dié tuig al óf sewe minute veilig op die grond, of sewe minute lank ‘n wrak.

Dit het besondere akkuraatheid geneem om Curiosity presies in die Galekrater, langs ‘n berg wat ses kilometer hoog staan, te laat land. Indien die beplanners se mik ‘n fraksie uit was, het Curiosity Mars totaal gemis, wat nog te sê akkuraat op die regte plek geland.

Ruimtevaarders en golfspelers weet moes moet weet waarheen jy mik. Jy moet die teiken ken en helder kan sien. Jy moet boonop met sekerheid slaan, met net die regte hoeveelheid krag. Anders mis jy totaal.

Waarheen is ons op pad?

In ons teks praat Paulus met die gemeente in Tessalonika oor God se eindbestemming met die wêreld. Dit is duidelik dat daar by hulle verwarring en onsekerheid oor die wederkoms ontstaan het.

In sy eerste brief aan die Tessalonisense het Paulus gesê die wederkoms gaan skielik kom. Toe ontstaan daar wanbegrip weens:

  • verwarrende profesieë,
  • misleidende predikers, en
  • selfs dalk ‘n valse brief wat kwansuis deur Paulus geskryf sou gewees het.

Dit laat die idee in die gemeente posvat dat die wederkoms reeds plaasgevind het. En nie net was daar verwarring daaroor nie, dit sou ook ontsteltenis tot gevolg hê dat dit dalk beteken hulle was nie deel daarvan nie. Daarom skryf Paulus om hulle te verseker: Die wederkoms het vir seker nog nie gekom nie. God het nog nie met sy volk by die eindbestemming, die heerlikheid wat wag, aangekom nie.

Tekens

Trouens, sê Paulus, die wederkoms sal ook nie gebeur voordat sekere duidelike gebeurtenisse plaasvind nie. Watter gebeurtenisse?

  • Daar sal eers ‘n nog groter afval van die Christelike geloof plaasvind.
  • Mense sal verlei word, mislei word en baie sal meegesleur word deur die dwalinge wat verkondig word.
  • Hulle sal die leuen glo.
  • Hulle sal die ongeregtigheid kies.

Dit alles sal saamhang met en meegebring word deur die verskyning van ‘n bepaalde persoon, ‘n mens. Maar nie maar net ‘n bose of slegte mens nie, nie maar net nog iemand wat Christene sal vervolg of God sal haat nie. Hierdie “wettelose mens” is niemand minder as die Antichris self nie.

Hierdie figuur uit die eindtyd word die finale verpersoonliking van alles en almal wat hulle teen God en teen alles wat as heilig beskou word, verset. Voor die eerste koms van Christus het Antiochus Epifanes as teken van sy minagting vir die God van die Jode die tempel in Jerusalem ontheilig. Dit het tot die sogenaamde Makkabese opstand van ‘n groep Jode gelei. Maar net so sal die Antichris voor die tweede koms van Christus verskyn. Sy koms sal gepaardgaan met allerlei tekens en magsvertoon en baie sal daardeur mislei en verlei word.

Nog erger

Anders as sommige populêre preke sê Paulus dus dat dit eintlik nog erger sal word. Dinge sal nog slegter gaan. Die wêreld is op pad na ‘n stadium van totale anargie en verval van reg en orde. Goddeloosheid sal hoogty vier.

Maar juis dit kan gelowiges tot groot onsekerheid en selfs wanhoop dryf. Sou hulle kon staande bly? Sal hulle nie ook mislei word en so uiteindelik saam met hierdie wettelose mens wie se uiteinde weliswaar die verderf is, die ewige oordeel en verdoemenis ingaan nie? Nee, sê Paulus. En dit is eintlik waaroor die brief gaan! Nee, julle is anders. Julle is God se mense.

God bewaar God se mense

Julle gaan nie deur die dwalinge en misleidinge meegesleur word soos diegene wat nie regtig deel was van die geloofsgemeenskap van Christene nie. Vir julle is die hoop op die heerlikheid van Christus verseker. Julle kan aan ‘n blywende troos vashou. En daarvoor kan hy God altyd vir hulle dank!

Maar, hoe is dit moontlik? Hoe kan gelowiges hierdie sekerheid en waarborg hê? Hoe weet ek dat ek nie dalk ook naderhand van die geloof sal verval nie? Hoe kan ek gevrywaar bly van dwaalleer en misleiding, van die verblindende magsvertoon van God se vyande? Hoe gaan ek weet dat ek veilig sal wees wanneer die Antichris kom en soveel mense verlei en van die waarheid afvallig maak?

En dis waar Paulus se trooswoord aan die Tessalonisense ook ons trooswoord word: Die waarborg dat hulle behoue sal bly, lê nie in hulleself of in húlle geloofsvolharding nie. Dit lê primêr by God. Hulle verlossing en saligheid, soos ook hulle volharding en die uiteindelike vervulling van die hoop wat in hulle hart gegee is, kom van God af.

Paulus dit met ‘n hele reeks stellings (verse 13, 14):

  • God het julle lief;
  • God het julle uitverkies as die eerstes van baie wat gelowig gaan word;
  • God het julle gered deurdat sy Gees julle geheilig en afgesonder het om die waarheid te kan glo.
  • God het julle geroep deur die boodskap van die evangelie en God sal julle uiteindelik laat deel in die heerlikheid van Christus, al verduur julle nou hoeveel spot en verguising.
  • Hy bewys aan julle sy liefde (17) en Hy gee deur sy genade ‘n blywende troos en goeie hoop.
  • En in hierdie troue God wat dít alles gedoen het en steeds doen, mag julle julle vertroue stel – enduit, kom wat wil!
Oordeel as goeie nuus

Die troos is nie net dat God ons bemagtig nie. Die troos is ook dat God oor boosheid, die Antichris en ongehoorsaamheid oordeel.

Vir ons is oordeel dikwels ‘n harde woord. Soos ‘n goeie Hollywoodfilm, wil ons graag hê alle dinge moet op ‘n goeie noot eindig, met almal wat almal se pêl is. Dit is ‘n baie naïewe opvatting oor die karakter van boosheid self. Dit verstaan nie wie die Satan is, en waartoe mense aangehits word nie.

Die goeie nuus is dat God boosheid uiteindelik oordeel en tot niet maak (vers 8). Ons troos is dat God dit vir ons doen. Hy maak ons vry van die impak van boosheid.

God bemagtig ons

Paulus gaan ook verder: God neem die inisiatief om ons vas te laat staan. Daarom kan ons nou as bemagtigde mense gelowig met hierdie krag reageer. Uit wat God vir ons gedoen het, volg dat ons in staat is om vas te staan (vers 15).

Daar is twee kante hieraan. Enersyds, die wonderlike versekering aan die Tessalonisense dien as aansporing om inderdaad vas te staan. Om, standvastig teen alle dwaling en gepoogde misleiding, vas te hou aan die waarheid soos wat dit aan hulle oorgedra is. Maar dit beteken nie maar net vasstaan by wyse van vasbyt en uithou en kop toetrek nie.

Andersyds beteken dit ‘n aktiewe en handelende volharding. Paulus bid dat die Tessalonisense, deur “woord” en “daad” goed sal doen. Dit beteken niks minder nie as om as aktiewe getuies in die wêreld te leef, só dat deur hulle woorde en dade die goeie, ook die goeie van die Goeie Boodskap in sy volle omvang, gehoor en gesien sal word.

Ons is dus Woord- en daadgetuies. En so word ons as gelowiges medewerkers van God in sy voortgaande heilswerk in die wêreld, getuies van sy genade, bringers van die goeie nuus; vir armes, ook vir rykes, vir elkeen wat dit nodig het.

Gedra deur God se beloftes

Maar, soos in Matteus 28:20, word ook hierdie getuienislewering gedra deur sy belofte; Christus, saam met God ons Vader, bemoedig en versterk ons. En dít word ‘n blywende “troos” wat ons voortdurend in staat stel om te volhard en om as gelowiges voort te gaan op die pad. Volhardend, getuigend, werkend, te midde en ten spyte van die magte van die Antichris wat om ons druis.

Uiteindelik sál God oorwin, sál sy oordele voltrek word oor die magte van die duister, sál sy koninkryk in al sy volheid kom – by sy wederkoms! En ons mág weet, ons sál dan saam met Hom wees! Ons sál deel in sy oorwinning en in sy heerlikheid.

God se mik is nie uit nie. God is met ons presies op koers, op pad na die heerlikheid wat God vir ons weggelê het.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
8Genadig en barmhartig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Die Here is vir almal goed
en barmhartig
oor alles wat Hy geskep het.
14Die Here help almal op wat geval het.
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
17Die Here is regverdig
in al sy handelinge,
getrou in alles wat Hy doen.
18Die Here is naby almal
wat Hom aanroep,
almal wat Hom
in opregtheid aanroep.
19Aan dié wat Hom dien,
gee Hy wat hulle vra,
Hy hoor as hulle om hulp roep,
en Hy red hulle.
20Die Here beskerm almal
wat Hom liefhet,
maar al die goddeloses verdelg Hy. (Uit Psalm 145)

Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Seën
Skep moed, sê die Here, skep moed almal in die gemeente van _________, sê die Here! Volhard in die geloof, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige (uit Haggai).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Musikale Amen: Lied 269 “God bly met U waar u ook mag gaan 1,4” (vervang “u” met “ons”) of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.