Vyf en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Vyf en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: 1 Samuel 1:4-20
Ander tekste: 1 Samuel 2:1-10; Hebreërs 10:11-14 (15-18), 19-25; Markus 13:1-8

Inleiding

Dit is die derde Sondag van die Seisoen van Voleinding. Volgende week begin 16 Dae van aktivisme: Geen geweld teen vroue en kinders.

Vandag se sleutelteks vertel die verhaal van Hanna wat by God gepleit het om ’n kind. Wees asseblief sensitief met sowel die liturgie as prediking vir vroue in die gemeente wat nie kon kinders hê nie of wat dalk tans sukkel om swanger te word en vir wie hierdie teks diep seer kan besorg. 1 Samuel 2 sluit aan hierby. Dit is Hanna se loflied nadat sy vir Samuel na die tempel geneem het. Hebreërs 10 gaan oor die een offer wat Christus gebring het en Markus 13 gaan oor die eindtyd en volharding.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangswoord en seëngroet
Sien basisliturgie.

Aanvangslied
Lied 163 “Soos ’n wildsbok”

Wil van God
Hebreërs 10:19-25

Diens van die Woord

Skriflesing
Kombineer die twee Samuel-tekste vir vandag of lees 1 Samuel 1:4–2:10. Laat ’n jong vrou die verhaal lees. Gebruik dan verskeie en uiteenlopende vroue- en meisiestemme om Hanna se gebed te lees.
1 Samuel 2:2-10 (Hanna se gebed)
L1: My hart juig in die Here, ek is sterk in die Here.
L2: Ek spog luidkeels teenoor my vyande,
want ek verheug my in u verlossing.

L3: Niemand is heilig soos die Here nie, ja, daar is niemand buiten U nie; daar is geen rots soos ons God nie.

L4: Julle moet nie verwaand bly praat nie,
nie vermetele woorde oor julle lippe laat kom nie;
want ’n God van kennis is die Here; deur Hom word dade geweeg.

L5: Die boë van helde is verpletter,
maar dié wat struikel, omgord hulleself met krag.

L6: Hulle wat versadig was, verhuur hulleself vir brood,
maar hulle wat honger was, het oorvloed.

L7: Selfs die onvrugbare gee geboorte aan sewe,
maar die vrou met baie seuns kwyn weg.

L8: Die HERE maak dood en Hy maak lewend;
Hy laat na die doderyk afdaal en Hy laat daaruit opkom.

L9: Die HERE maak arm en Hy maak ryk;
Hy verneder, ook verhoog Hy.

L10: Hy laat armes uit die stof opstaan,
van die ashoop af hef Hy behoeftiges op
om hulle by vooraanstaande mense te laat sit
en ’n ereplek hulle erfdeel te maak.

L11: Ja, aan die Here behoort die pilare van die aarde,
Hy het die wêreld daarop geplaas.

L12: Die voete van sy troue volgelinge beskerm Hy,
maar goddeloses – in duisternis word hulle vernietig.

L13: Ja, dit is nie deur krag dat iemand seëvier nie.

L14: Die Here – wie teen Hom te staan kom, word verpletter;
oor hulle laat Hy dit dreun uit die hemel.

L15: Die Here spreek reg tot by die uithoeke van die aarde.
L16: Hy gee krag aan sy koning, Hy gee sterkte aan sy gesalfde.

Kindertyd
Vir idees hoe om met die kinders oor hierdie teks te praat sowel as ’n storie wat daarby pas, besoek Carolyn C Brown se blog: http://worshipingwithchildren.blogspot.com/2015/10/year-b-proper-28-33rd-sunday-in.html

Diens van die Tafel

Gebed
V: Here, ons samelewing stuur op verskeie maniere boodskappe
G: wat sê dat ons nie goed genoeg is nie.
V: Ons ekonomie probeer heeltyd aan ons goed verkwansel
G: wat ons skynbaar waardig sal maak.
V: Dit, terwyl die volle waarheid en die boodskap van Christus is
G: dat die gemeenskap van God hier en nou is.
V: En dat ons alles het wat ons nodig het om daarin te lewe
G: sodat ons vervul kan wees met liefde.
V: Ja, natuurlik is daar dinge wat ons wil hê en doen in hierdie lewe,
G: maar niks daarvan maak ons liefde waardig nie.
V: Ons waardigheid en geliefdheid is ingeskape.
G: Die liefde van God vir ons is ’n gegewe.
V: Baie van die werk wat ons hier moet doen,
G: is om te leer om liefde raak te sien.
V: Hoe dit alreeds oorvloedig is,
G: alreeds duidelik,
V: alreeds die stof waaruit die heelal bestaan,
G: alreeds deelbaar.
V: Ons geliefdheid en die bronne wat ons het,
G: is wat ons moet raaksien
V: sodat ons die stemme wat ons onteer en vernietig, kan stil maak
G: sodat ons mense kan wees wat in liefde wandel.
V: Deur al die geraas hoor ons God se stem wat sê:
G: “Jy is geliefd.”
V: “Jy is liefde.”
G: “Jy het lief.”
Almal: Amen.
– Fran Pratt

God stuur ons uit

Voorbidding
Ons bid vandag spesifiek vir vroue en mans wat graag ouers wil wees,
maar vir wie dit weens verskeie redes nie eenvoudig is nie.
Ons bring hulle pyn en vrees voor U.
Ons weet tekste soos vandag s’n ontlok dikwels seer en hartseer.
U is die groot Geneser – skenk aan hulle genesing.
Gee aan hulle die onderskeidingsvermoë om u wil te bly soek
in die verskilende opsies wat hulle oorweeg.
Gee dat hulle geduldig sal bly wag en soek
en op u tydsberekening sal vertrou.
Gee dat hulle die vervulling van u planne vir hulle as ouers sal bly soek –
hetsy dit is deurdat U hulle ’n kind gee deur swangerskap,
’n kind aan hulle stuur of deurdat U hulle na ’n kind toe stuur.
Vul die leë holte in hulle harte, maak vol hulle leë hande,
wat alreeds oop en ontvanklik wag om ’n kind vas te hou en lief te hê.
Skenk aan hulle hoop, selfs wanneer dit hooploos lyk.
Skenk bowenal aan hulle u vrede, vrede wat alle verstand te bowe gaan. Amen.

Slotlied
Lied 573 “Ruwe storme breek in woede”

 Preekstudie – 1 Samuel 1:4-20

Teks

Vers 3-8 skets die toneel van ’n vrou wie se onvrugbaarheid alles in haar lewe oorskadu. Die liefde wat Elkana (haar man) vir haar het, word oorskadu deur die onvrugbaarheid wat sy van God beleef en die vernedering wat sy aan die hand van Peninna ervaar. Sy is nie in staat om te eet nie en is bitter ongelukkig en hartseer.

Vers 9-18 bevat drie toesprake. Die eerste is Hanna se gesprek met God, dieselfde God wat vir haar onvrugbaarheid verantwoordelik is. Hanna bid en vra ’n geskenk van God en beloof ook om hom dan ook aan God te wy. Dit is ’n tipiese versoekgebed: God word gevra om haar bitterheid en hartseer in geluk te verander deur haar gebed te verhoor. In hierdie geval is die versoek dat God sal gehoor gee in die vorm van ’n kind.

Die tweede toespraak is Hanna se verdediging nadat Eli gedink het sy is dronk. Sy is hartseer en desperaat en wys hier dat sy weet met wie om daaroor te praat.

Die derde toespraak is Eli se priesterlike antwoord dat God haar gehoor het. Dit is belangrik vir die ontwikkeling van die verhaal. Die priesterlike optrede en bevestiging van God se verbondsgetrouheid is die draaipunt in die gebeurtenis.

Vers 19-20. In hierdie kort gedeelte lees ons hoe God Hanna se gebed verhoor het. Volgens Bruegemann is dit die tipiese verloop van hierdie soort narratief. Die opbou tot die klimaks is lank, maar wanneer die uitkoms bereik word, kan die verhaal vinnig vloei.

Konteks

In inleidende hoofstukke is Samuel duidelik die hoofkarakter. Hoofstuk 1-7 handel oor Samuel se geboorte tot sy posisie as ’n leier van Israel. Hy word in hoofstuk 3 as die draer van God se woord erken. In hoofstuk 7 is hy die administrateur van geregtigheid. Sameul word gekarakteriseer as ’n persoon wat verantwoordelikheid in elke aspek van Israel se lewe neem.

Volgens Bruegemann bestaan die opvatting dat hoofstuk 1-7 waarskynlik as drie verskillende literêre gedeeltes ontwikkel het: Sameul se geboorte en jeug (1-3), die verhaal van die verbondsark (4-6) en Samuel se loopbaan as regter (7). Wat duidelik is, is dat die samestelling en ontstaan van hierdie hoofstukke fokus op die geloof, mag, leierskap en kritiese rol van Samuel in die geloof en lewe van Israel. Samuel is die vergestalting van Israel se tradisionele verbintenis en gehoorsaamheid aan die verbond met God, baie belangrik vir hulle openbare en politieke lewe.

Regdeur 1 Samuel, asook in hierdie eerste gedeelte, word nie net op Sameul gekonsentreer nie, maar ook op die toekoms van Israel en op die koms van ’n koning. Deurgaans word klem op God se rol in Israel se nuwe begin geplaas. Al die karakters in hierdie boek speel ’n rol in die planne wat God vir Israel se toekoms het. Die boek wys hoe God Israel vorm en hervorm vir die koms van ’n koning en koninkryk. Samuel is ’n gawe van God wat ’n rol speel in die planne van God vir die koms van die koninkryk.

Dit is merkwaardig dat 1 en 2 Sameul die verhaal vertel van ’n arm, onseker, klein volkie wat wag vir ’n koning om hulle te red, legitimiteit aan hulle te verleen, hulle te verlos, te verdedig en bymekaar te hou. Die konings wat hulle uiteindelik kry, lyk aanvanklik soos dit waarvoor gewag is, maar elke keer moet ons leer hulle is ook net mense met baie foute. Die koms en val van die konings, begin egter alles aan die begin van die boek by ’n onvrugbare vrou van ’n klein familie wat ’n seun as ’n gawe van God ontvang.

Die temas van wag op verlossing, afhanklikheid van God om te voorsien en die ingryping van God in die verhaal van Israel, is reeds in die eerste hoofstuk teenwoordig. Dawid is nie die hoofkarakter van hierdie boek nie, al is daar ’n duidelike oorgang na en fokus op die verhaal van Dawid. God se genade en voorsiening, keer op keer, is die tema wat herhaal word en ook in hierdie teks reeds teenwoordig is.

Preekvoorstel

Die hooftema van 1 Samuel is God se sorg en ingryping. Ons lees in hierdie boek van ’n volk wat hulpeloos en desperaat op uitkoms wag en op God om op te tree. In hierdie verhaal is die tema weer duidelik: God tree in ’n hopelose situasie in. Hy gee uitkoms deur gehoor te gee aan ’n onvrugbare vrou – en ’n leier word vir Israel gebore.

Ons almal het ken mense wat hulle in desperate situasies bevind waar dit wil lyk of daar geen uitkoms is nie. Hierdie teks kan ons moontlik help om te evalueer hoe ons in sulke situasies optree en hoe ons ons naastes in sulke situasies kan bemoedig.

Die eerste optrede waarvan ons lees is van Peninna. Wat kan ons van haar leer wanneer ons met ander se pyn en hartseer te doen het?

Die ander manier van optrede is Eli s’n. Kan Eli ons moontlik help om onsself te herinner hoe ons dalk behoort op te tree?

Hanna is hartseer. Sy wil graag kinders hê, maar word herhaaldelik aan haar kinderloosheid herinner. Boonop word sy daaroor gespot en verneder. Dit is maklik om te oordeel en te wonder hoe mense so kan optree. Hoe skop jy iemand skop wat reeds lê? Ons sal dit nooit doen nie, ons weet mos beter!

Dirkie Smit skryf dat daar twee tipes hooploosheid is. Die een is om valse hoop te hê. Dit is wanneer ons hoop eintlik maar op ons besittings gebou is. Ons is redelik seker is dat ons genoeg geld, kos, klere en sekuriteit het, selfs al word ons gebede nie verhoor nie. Dit is ’n vals hoop, omdat daar geen vertroue of afhanklikheidsbesef is nie. Ons hoor dit dikwels wanneer ons ná eredienste saam kuier. Ons sal sing dat ons hoop op Jesus gebou is, ons bely dat ons hoop van God kom wat sal herstel, sal heelmaak en sal intree. By die braaivleisvuur vertel ons egter van ons planne om die land te verlaat as dinge regtig slegter raak, want dit sal sekerlik nie verbeter nie.

As ons hierdie tipe vlak hoop het wat op ons eie vermoëns en besittings gebou is, dan het ons dikwels ook nie die vermoë om empatie met ander te hê nie. Hierdie tipe hooploosheid veroorsaak dalk selfs dat ons dink dat ander wat swaar kry, dit verdien. Ons vergeet dat ons geloof een van afhanklikheid is; dat alles wat ons het, genade is en dat ons lewe en almal anders s’n in God se hande is. Dit is asof Peninna met kinders, nie besef het dat kinders in elk geval ’n geskenk van God is nie. Peninna kon maklik ook in Hanna se situasie gewees het, maar sy vergeet geriefshalwe daarvan omdat sy reeds kinders het. Die kind wat Hanna wel van God ontvang, is die een wat God se sorg bevestig en die volk in ’n nuwe fase van konings en koninkryke in lei.

Ons kan ook so sonder hoop wees dat ons wanhopig is. Ons kan so min hoop hê dat dinge vir onsself beter raak dat ons ook nie glo dit gaan vir enigiemand anders beter raak nie. Wanneer ons nie hoop het nie, het ons ook nie die vermoë om na ander te luister nie. Ons bly so gefokus op ons eie ellende en oorlewing dat ons ook nie hoop het om met ander te deel nie. Het ons almal nie al ander vertrap in hulle tye van seer deur nie regtig te luister nie, of dat ons so besig was met ons eie dinge dat ons nie omgegee het nie?

Die boodskap van die kerk, die evangelie, is dat daar altyd hoop is, dat ons selfs nie die dood hoef te vrees nie omdat die dood oorwin is. Daar is ’n nuwe koninkryk aan’t kom. Daar is reeds tekens daarvan. Ons roeping is om te getuig van die hoop wat in ons leef. Hoe doen ons dit?

Kan Eli dalk as voorbeeld dien? Moet ons dalk vandag herinner word daaraan om mense te begin raaksien? Dat ons dalk ’n tweede keer na mense moet kyk, dalk ander ’n geleentheid gee dat hulle hulle lewensverhale aan ons vertel voordat ons oordeel en veroordeel? Moet ons woorde nie meer soos Eli s’n klink nie: “God het jou gehoor. God weet van jou. God luister na jou in jou pyn.”

Die vraag en uitdaging wat hierdie teks vir ons inhou, is om dalk weer opnuut te kyk na die atmosfeer en ruimte wat ons in ons huise, kleingroepe en kerke skep. Is dit ruimtes waar mense met hulle pyn kan kom vrede vind? Ons sal dalk moet ontslae raak van ons vooropgesette idees oor hoe mense moet en behoort op te tree. Dalk is die vrou wat praat sonder dat daar klank by haar mond uitkom nie dronk nie, maar net hartseer. Dalk is die hawelose mens wat ons tydens ’n uitreik teenkom se begrip van geloof, hoop en die getrouheid van God veel dieper as ons s’n.

Dit gaan van ons vra om soos Eli op te tree, soos ’n priester. Dit gaan ons vra om die wat hoop verloor het, ’n bietjie van ons hoop te gee en hulle weer te herinner aan die hoop waarin ons glo. Die priesterlike optrede van Eli is ’n inleiding vir die priesterlike optrede van Samuel dwarsdeur 1 en 2 Samuel. Samuel, die kind wat in afhanklikheid van God afgesmeek is, getuig en herinner die Israeliete dwarsdeur sy loopbaan aan die verbond, die sorg en die getrouheid van God.

Om deel van die liggaam van Christus te wees, is ook om as priester gesalf te word. Dit beteken dat ons geroep is om as priesters op te tree wanneer mense as gevolg van hulle pyn nie meer kan sien hoe God sorg en omgee nie. Regdeur 1 en 2 Samuel is hierdie tema teenwoordig. Dit begin met die verhoring van ’n gebed van ’n onvrugbare vrou. Hier sorg God. Die volk Israel is ook desperaat en in moeilike omstandighede. Ons sien ons hoe God sorg, ten spyte van die moeilike politieke en ekonomiese omstandighede van hierdie klein groepie mense.

Ons was almal al aan die uitdeel- en ontvangkant van vernedering en seer. Ons het dalk al ervaar hoe dit voel wanneer ander nie regtig omgee of luister nie. Mag Eli ons herinner aan die priester wat ons elke dag roep om Hom te volg. Jesus het altyd tyd gemaak vir ander se pyn en seer. Hy het altyd aandag gegee sonder om te oordeel. Waar teregwysing nodig was, het Hy dit altyd met liefde gedoen.

Mag ons mekaar herinner aan die hoop wat in elkeen van ons leef!

Bibliografie

Brueggemann, W 1990. First and second Samuel. 1st ed. (Interpretation, a Bible commentary for teaching and preaching). Louisville: John Knox Press; 1 Samuel. 2005. [Intyds]. Beskikbaar: https://bibleproject.com/explore/1-samuel [2020, Maart 12]; Smit, J 2013. Nagedink oor identiteit en uitdagings, in Hansen, L (ed) (Opstelle oor gereformeerd-wees Vandag, versamelde opstelle 4). Stellenbosch: SUN PRESS, 333-338

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.