Vyf en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In die Markusteks verwys Jesus na die toekoms wanneer die tempel afgebreek en allerlei rampe en vervolging sal losbars. Die tekste uit 1 Samuel handel oor die kinderlose Hanna se versugting om ‘n kind te hê en haar lofsang oor die geboorte van haar seun Samuel. Die Hebreërsteks handel oor die eenmalige offer van Christus wat vrye toegang tot God bewerkstellig.

Ander tekste

1 Samuel 1:4-20
Elkana en sy vrouens
1 Daar was ’n man uit Ramatajim, ’n Suffiet uit die Efraimsberge. Hy was Elkana seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf uit Efrata. 2Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna en die ander s’n Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie.

3Elkana het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. Eli se twee seuns, Hofni en Pínehas was in Silo priesters van die Here.

4Elkana het gewoonlik op die dag wanneer hy geoffer het, dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee. 5Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly. 6Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het. 7So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie. 8Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?”

Hanna lê ’n gelofte af
9Op ’n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het. 10Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.

11Sy het ’n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ’n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.” a

12Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. 13Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk.

14Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!”

15Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net ’n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. 16Moet tog nie dink ek is ’n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.”

17Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” 18En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.”

Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie. 19Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe.

Die geboorte van Samuel
Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink. 20By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het ’n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”

21Toe Elkana en sy hele gesin gaan om die jaarlikse offer aan die Here te bring en sy gelofte te betaal, 22het Hanna nie saamgegaan nie, want sy het vir haar man gesê: “Wanneer die seun gespeen is, sal ek hom wegbring dat hy voor die Here verskyn en altyd daar bly.”

23Haar man Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy dit goedvind. Bly totdat jy hom gespeen het. Mag die Here sy woord bevestig!”

Hanna het toe gebly en haar kind gevoed totdat sy hom gespeen het.

1 Samuel 2:1-10
2 En Hanna het gebid:
“Ek jubel in die Here,
ek is sterk in die Here.
Ek lag my vyande uit,
ek is bly oor die uitkoms
wat U gegee het.
2Daar is geen heilige
soos die Here nie,
buiten U is daar nie een nie,
daar is geen rots soos
ons God nie.
3“Julle moenie in hoogmoed
bly praat nie,
moenie aanmatigende dinge sê nie,
want die Here is ’n God
van diepe kennis,
dade word deur Hom getoets.
4“Die boog van die magtiges
is verbreek,
dié wat gestruikel het,
het nuwe krag gekry.
5Wie versadig was, moet hulle nou
vir brood verhuur,
wie honger was,
het oorgenoeg om te eet.
Die onvrugbare bring sewe
in die wêreld,
die een met baie kinders kwyn
weg.
6“Die Here maak dood
en Hy maak lewend,
Hy laat afdaal na die doderyk toe
en Hy laat daaruit opkom.
7Die Here maak arm en Hy maak ryk,
Hy verneder,
ook gee Hy aansien.
8Hy laat die geringes
uit die stof opstaan,
Hy hef die armes op
van die ashoop af
om hulle by vername mense
te laat sit;
Hy skenk hulle ’n ereplek.
Aan die Here behoort die pilare
van die aarde;
Hy het die aarde daarop
gegrondves.
9“Hy beskerm sy troue dienaars
op hulle pad,
maar die goddeloses word
stil gemaak in die duisternis
van die graf.
’n Mens oorwin nie deur
eie krag nie!
10Dié wat teen die Here
in opstand kom, word vernietig,
van bo uit die hemel
verbrysel Hy hulle.
Die Here spreek reg tot by
die eindes van die aarde,
Hy verleen krag aan sy koning,
Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”

Hebreërs 10:11-14, (15-18), 19-25
Die offer van Jesus Christus
11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.

15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:
16“Dit is die verbond
wat Ek met hulle
na daardie dae sal sluit,
sê die Here.
Ek sal hulle my wette
in die hart gee,
in hulle verstand
sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes
en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.
Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Fokusteks

Markus 13:1-8
Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word
(Matt 24:1–2; Luk 21:5–6)
13 Toe Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!”

2Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”

Die profetiese rede: rampe en vervolging
(Matt 24:3–14; Luk 21:7–19)
3Jesus het op die Olyfberg gaan sit, regoor die tempel. Toe hulle alleen was, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom: 4“Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?”

5Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. 6Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei.

7“En wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. 8Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

9“En julle moet teen julleself op julle hoede wees. Mense sal julle aan die geregshowe oorlewer; in die sinagoges sal julle geslaan word, en voor goewerneurs en konings sal julle oor My teregstaan. Dit sal ‘n getuienis voor hulle wees. 10En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. 11Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. 12Die een broer sal die ander oorlewer om doodgemaak te word, en selfs ‘n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. 13Ja, julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.”

Ekstra stof

Markus 13:1-37 – Rampe en Vervolginge, die Groot Verdrukking en die Koms van die Seun van die Mens
Dit is belangrik om die profesieë oor Jerusalem in die konteks van die eindtyd te verstaan. Sommige profesieë rondom Jerusalem is in die leeftyd van die dissipels bewaarheid. Ander wag nog steeds om finale vervulling. Matteus sê dit baie helder “wat sal die teken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”

In 5 dele lig Jesus die gordyn oor die toekoms:
1. Rampe en Vervolginge
Die Olyfberg is aan die oostekant van die stad geleë. Jesus lewer hierdie profetiese rede terwyl hulle na die tempel kan kyk. Die klippe waarvan die tempel gebou is, was regtig besonders. Een klip wat opgegrawe is, was 4x6x12 meter groot. Die tempel was op dié stadium nog nie eers voltooi nie. Bouwerk het in 15 vC ‘n aanvang geneem onder Herodes die Grote en is in 67 nC eers voltooi – ironies genoeg, net voor dit vernietig is in 70 nC deur keiser Titus.

Die tempel, sê Jesus, sal afgebreek word, klippe en al, sowel as die “gewyde geskenke” daarbinne vernietig word (Lukas). Daar is nie meer ‘n omkeer moontlik vir Jerusalem nie. Let op hoe die eerste geroepe dissipels, twee pare broers – hier in ‘n ander volgorde as in Markus 1:16-20 genoem – met Jesus in gesprek is. Matteus en Lukas het dit dat al die dissipels hierna geluister het.

Jesus het klaar gepraat met die skares en die Joodse Raad en sal hulle eers weer met die verhoor en kruisiging ontmoet. Op die dissipels se vraag na die tyd en teken van die vernietiging, gee Jesus twee antwoorde:

 1. Hulle moet versigtig wees vir misleiding oor Jesus self. Mense sal voorgee hulle is Hy. Die begeleidende tekens van die eindtyd: oorloë, hongersnood en aardbewings (Lukas voeg epidemies by) moet hulle nie verskrik nie. Dit is geboortepyne van die nuwe tyd wat kom.

2. Hulle moet versigtig wees vir wat met hulleself kan gebeur in teenstand. Hulle sal geregtiglik, godsdienstig en polities vervolg word. Maar dit alles sal as getuienis vir Jesus dien en deel wees van die verkondiging van die evangelie aan alle nasies.

As bemoediging en motivering praat Hy oor die wysheid wat die Heilige Gees vir hulle in dié situasies sal gee, soos ook letterlik gebeur het voor die Joodse Raad in Handelinge 4. Matteus praat nie hieroor in hierdie konteks nie, terwyl Lukas verder uitbrei daaroor en aan Jesus self koppel: “Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee …”. Dit wys op die integrale eenheid tussen Jesus en die Gees.

Jesus waarsku egter ook dat die vervolging ook teenstand binne families sal insluit (vgl Mark 3:31!), en bemoedig hulle om tot die einde te volhard, al sluit dit die dood in. Lukas het ‘n interessante byvoeging: “daar sal nie eens ‘n haar van julle kop af val nie,” waarmee Hy heel moontlik bedoel dat hulle steeds in die hande van God sal wees, en nie uit hulle verhouding met Hom geruk sal word nie, dws dat hulle nie geestelik deur fisiese lyding en die dood sal skade ly nie. Kyk ook na Luk 12:8 vir ‘n soortgelyke stelling, waar duidelik gesê word dat die fisiese dood nie ‘n ewige skade aan gelowiges kan berokken nie. Paulus gebruik ook ‘n variasie van die stelling in Hand 27:34. Daar word dit egter letterlik bedoel.

2. Die groot verdrukking
Jesus se visier verskuif na die tyd van die tempel vernietiging self. Sy raad aan gelowiges is om in daardie tyd te vlug, omdat dit ‘n tyd van groot verdrukking sal wees. As teken van die verwoesting wat kom, sal “die ding wat ‘n gruwel is vir God” op die “plek waar hy nie moet wees nie”, dws die tempel, opgerig word. Weereens waarsku Jesus teen vals christusse en vals profete waarvoor hulle op hulle hoede moet wees.

Matteus verbind hierdie gebeure aan die soortgelyke gebeure wat in Daniël se profesie voorspel is, waar ook van die gruwelike ding gepraat word wat in die “heilige plek” opgerig sal word (Dan 12:11 – dit is vervul in 168 vC met die Siriese Antiogus Epifanes IV se altaar aan Zeus wat in die tempel opgerig is – 1 Makkabeërs 1:54,59). Hy verduidelik verder dat die valse christusse en profete se aansprake getoets kan word aan die lokale en geheime aard daarvan, iemand moet jou inlig oor die detail: in die woestyn of in die slaapkamer. Die koms van die Seun van die mens sal egter oombliklik, publiek en globaal sigbaar wees, soos ‘n weerligstraal wat van oos na wes alles verlig.

Dit is moontlik om hier ‘n verdere betekenis in te lees, dat hier van die eindtyd en die wederkoms gepraat word, soos baie geleerdes doen, veral as jy dit met ander eskatologiese gedeeltes vergelyk (bv. 2 Tess 2, waar van die Antichris gepraat word wat in die tempel sy troon sal oprig). ‘n Mens moet egter onthou dat die profesie vir die dissipels egter iets was wat in hulle leeftyd betekenis gehad het. Dit was duidelik voorop in Markus se oorvertelling hiervan, heel moontlik net ‘n paar jaar voor dit inderdaad in vervulling gegaan het.

Lukas vertel nie van die tempel ontheiliging, maar wel van leërs wat Jerusalem sal omsingel. Hy verbind die verdrukking aan God se straf oor hierdie volk, wat Hy deur die heidennasies sal uitvoer. Lukas gee dus ook duidelik ‘n Joodse interpretasie aan hierdie verdrukking wat direk met die gebeure in 70 nC verbind kan word.

3. Die koms van die Seun van die mens
Jesus verstel weer sy versier en fokus nou op sy Wederkoms, die klimaks van hierdie profetiese rede. Sy koms sal gepaard gaan met kosmiese tekens – ontwrigtings aan die son, maan, sterre, en ander kragte in die hemelruim (Jes 13:10: Joel 2:10, 31; 3:15 – vgl Petrus in sy toespraak op Pinksterdag in Hand 2 wat ook hierna verwys en dit verbind aan die uitstorting van die Heilige Gees). Met die Seun van die mens (Dan 7:13) kom ook die engele wat die uitverkorenes versamel.

Matteus brei uit oor die verslaentheid wat oor die volke van die aarde sal kom en praat ook van die groot trompet wat dit alles sal aankondig. Lukas praat ook van die radeloosheid en angs van die mense vir die “gebulder van die see en sy vloedgolwe” (tsunamis?). Hy bemoedig die gelowiges egter met die boodskap dat hierdie dinge eintlik ‘n teken is dat hulle verlossing naby is. Daarom moet hulle regop staan en hulle koppe oplig!

4. Die voorbeeld van die vyeboom
Jesus gebruik dan die voorbeeld van die vyeboom se seisoenale verandering in die lente wat as teken dien dat die somer naby is, om die dissipels op die regte wyse na dié tekens te laat kyk. “Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur,” sê Jesus. Die natuurlikste interpretasie van “hierdie geslag” is dat dit na die Jode van Jesus se tyd verwys (vgl Mark 8:12). Dws, die profetiese rede sal in die Joodse volk van daardie tyd se leeftyd vervul word. En dit op sigself is ‘n teken dat die Wederkoms naby is.

Matteus neem Markus net so oor en Lukas noem dit ‘n gelykenis eerder as ‘n voorbeeld. Hy praat ook van die tekens as tekens van die koninkryk van God.

5. Die tyd en datum van die wederkoms
Jesus sluit die profetiese rede af deur sy oproep tot gereedheid en waaksaamheid te herhaal, want die tyd en datum van die wederkoms is net bekend vir Sy Vader. Hy gebruik die voorbeeld van ‘n deurwagter wat nie weet wanneer die huiseienaar weer terug kom nie, en daarom sal wakker bly.

Matteus gebruik ook die voorbeeld van die situasie in die tyd van Noag wat as wekroep vir die dissipels moet dien om waaksaam te wees. Hy praat ook van die onderskeid wat met die wederkoms tussen mense getref sal word, waarskynlik op grond van hulle waaksaamheid al dan nie. Die deurwagter voorbeeld van Markus word anders deur hom vertel. By Matteus is dit die huiseienaar self wat waaksaam is terwyl hy vir ‘n dief wag.

Lukas verbind die oproep tot waaksaamheid baie spesifiek aan die gevaar dat hulle gees deur onmatige etery en drinkery en die sorge van die lewe afgestomp sal word, en die dag hulle soos ‘n vangnet kan oorval. Hy roep hulle ook op tot voortdurende gebed.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: (1 Samuel 2)

Seëngroet: (Openbaring 1)

Lied 175 “Majesteit vs 1”

Wet: (Markus 12:28-34)

Skuldbelydenis: Lied 250 “God’s wet vra al ons liefde 1,2,3,4,5”

Vryspraak: (Hebreërs 10)

Toewyding: (Uit 1 Samuel 2)

Loflied 590 “Het jy gehoor dat eenmaal 1,2”

Epiklese

Skriflesing: Markus 13:1-8

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: (1 Samuel 2)
Daar is geen heilige
soos die Here nie,
buiten U is daar nie een nie,
daar is geen rots soos
ons God nie.

Seëngroet: (Openbaring 1)
Genade en vrede vir julle
van Hom wat is en wat was en wat kom,
en van die sewe Geeste voor sy troon,
en van Jesus Christus die geloofwaardige getuie,
die eerste wat uit die dood opgestaan het,
die heerser oor die konings van die aarde.

Lied 175 “Majesteit vs 1”

Wet: (Markus 12:28-34)

Die vraag oor die grootste gebod
(Matt 22:34–40; Luk 10:25–28)
28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ’n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ u 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ vGeen ander gebod is groter as dié twee nie.”

32“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ wen ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ x33En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ yen ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ zis van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

34Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”

Niemand het dit toe meer gewaag om Hom ’n vraag te stel nie.

Skuldbelydenis: Lied 250 “God’s wet vra al ons liefde 1,2,3,4,5”

Vryspraak: (Hebreërs 10)
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Toewyding: (Uit 1 Samuel 2)
“Ek jubel in die Here,
ek is sterk in die Here,
ek is bly oor die uitkoms
wat U gegee het.
Daar is geen heilige
soos die Here nie,
buiten U is daar nie een nie,
daar is geen rots soos
ons God nie.
Die Here is ’n God
van diepe kennis,
dade word deur Hom getoets.
Die Here maak arm en Hy maak ryk,
Hy verneder,
ook gee Hy aansien.
Hy laat die geringes
uit die stof opstaan,
Hy hef die armes op
van die ashoop af
om hulle by vername mense
te laat sit;
Hy skenk hulle ’n ereplek.
Aan die Here behoort die pilare
van die aarde;
Hy het die aarde daarop
gegrondves.
Die Here spreek reg tot by
die eindes van die aarde…

Loflied 590 “Het jy gehoor dat eenmaal 1,2”

Liedere

F120. “Hy Is Heer ” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se heerskappy / Wederkoms)
Musiek & teks: Onbekend
Afrikaanse Teks: AP van der Colf
© Tradisioneel / Geen inligting
(Opgeneem in Jeugsangbundel I)

1. Hy is Heer!
Hy is Heer!
Hy’s oorwinnaar oor die dood en Hy is Heer!
Elke knie sal buig,
elke mens erken:

Hy, Jesus, is die Heer.
2. Hy regeer,
Hy regeer
van die regterhand van God
want Hy is Heer!
Elke knie sal buig
elke mens erken:
Hy, Jesus, Hy regeer!

3. Hy kom weer,
Hy kom weer,
op die wolke – om te oordeel –
Hy is Heer!
Elke knie sal buig,
elke mens erken:
Hy, Jesus, Hy kom weer!

F35. “Jesus Kom Weer”
(RUBRIEK: Flammikidz – Wederkoms / Hoop en Voleinding)
Teks en Musiek: Hanneke Engelbrecht
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

1. Jesus is ons Koning, Heer,
en ons weet Hy sal t’rugkeer.
Soos hul Hom sien opvaar het,
sal Hy kom om ons te red.

Refrein:
Ja, Jesus kom weer!
Ja, Jesus kom weer!
Ek en jy behoort aan Hom.
Ons glo dat Hy weer sal kom.

2. Jesus is ons Koning, Heer.
Ek en jy behoort aan Hom.
Soos hul Hom sien opvaar het,
glo ons dat Hy weer sal kom.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle God,
As niemand anders na ons luister nie,
hoor U ons as ons ons hart voor U uitstort.
As niemand anders ons raaksien nie,
sien U ons nood en vul U ons met vreugde.
As almal anders van ons vergeet,
onthou U ons en roep U ons by die naam.
U is die Here, ons God.
U is hier by ons om deur u Woord met ons te praat.
Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor
en om u boodskap ter harte te neem.
Amen.

Skriflesing: Markus 13:1-8

Prediking

Familie-oomblik

Hierdie is ‘n moeilike gedeelte vir kleiner kinders om te verstaan… Lees die perikoop uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Swaarkry Wag
13 1 Terwyl Jesus van die tempel af wegstap, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk net hoe groot is die klippe waarmee die tempel gebou is. Wat ’n mooi gebou is dit nie!”

2 “Sien julle al hierdie groot geboue?” vra Jesus hulle. “Een van die dae sal dit tot op die grond toe afgebreek word. Daar sal niks van oorbly nie.”

3–4 ’n Rukkie later het Jesus op die Olyfberg gaan sit. Van daar af kon mens die tempel* mooi sien. Hulle was alleen. Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vra Hom toe: “Wanneer gaan al hierdie slegte dinge gebeur? Hoe sal ons weet wanneer die einde* van die wêreld naby is?”

5–8 “Julle moet versigtig wees,” sê Jesus. “Daar sal mense kom wat sê dat hulle Ek is. Baie sal hulle glo*. Mense sal ook teen mekaar oorlog maak. Moenie skrik as dit gebeur nie. Hierdie dinge moet gebeur, maar die einde* van die wêreld sal nog nie aanbreek nie. Baie volke sal ook met mekaar baklei. En daar gaan te min kos wees. Op baie plekke in die wêreld sal daar aardbewings wees. Hierdie dinge is die eerste tekens dat die einde* naby is.

Die inkleurprent is hier beskikbaar.

Preekriglyn

[Nota: Vir die doel van hierdie preek word Markus 13:1-13 as eenheid hanteer.]
Die eerste teken van die sneeustorting wat sy motor oor die veiligheidsreëling op die snelweg in Denver, Colorado sou slinger, het soos ‘n damp wit poeier gelyk. Na die poeierdamp het ‘n rukwind die motor buite beheer geruk. “Toe tref iets soos ‘n vragtrein ons, ‘n berg ys,” vertel Dave Boon.

Boon was op reis met sy vrou, June, en ‘n jong vriend Gary Martinez (13) na ‘n ski-kamp vir jongmense. Op pad het hulle nogal gesels oor die moontlikheid van ‘n sneeustorting. Daar was soveel sneeu op die berge waartussen hulle gery het. Toe hulle om ‘n draai in die pad kom, sien hulle die poeierdamp, en word binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde oor die veiligheidsreëling langs die pad geslinger.

Die muur van sneeu het die motor ‘n paar honderd meter teen die styl berghang laat afrol. Gelukkig is die motor teen ‘n groot boom vasgeslinger, en het soos aan die malende sneeumassa ontkom. Die motor het op sy dak geëindig, en het in die rigting van die bergpiek gewys.

As ervare skiërs was Boon gelukkig goed opgelei. Hy het sy sitplekgordel losgemaak en dadelik ‘n lugtonnel deur die sneeu gemaak. Boon en Martinez kon uit die motor kom, en het June losgesny. Ten spyte van verskeie knoppe, skrape en kneusplekke het nie een van die drie hospitalisasie benodig nie.

Vir Dave Boon is die ervaring ‘n teken dat waarskuwings en gevaartekens daar is om gerespekteer te word. Die tekens langs die pad het gesê “Sneeustortings, moenie stilhou nie.” “Ons het al honderde kere op daardie pad gery. Ons het al in geski in die berugte klofies waar stortings plaasvind. Ons dra altyd noodliggies, beepers en sneeugrafies terwyl ons ski. In ons wildste drome het ons nie gedink dit gaan ons motor tref nie,” vertel hy.

Jesus teenoor die tempel

In ons teks gaan Jesus van die tempel af weg. Dit is sterk taal, want veel meer sê as maar net dat Jesus fisies weggestap het.

In die vorige gedeelte van Markus was Jesus deurgaans op die terrein van die tempel. Hy het die tempel gereinig en verskeie gesprekke daar gevoer. Sy gesag moes Hy daar verdedig. Die Fariseërs en Sadduseërs het Hom probeer vasvra en slaggate vir Hom gegrawe. Daar was gesprekke oor belasting en die opstanding uit die dood. Hy het die tempel met ‘n verdroogde vyeboom vergelyk. ‘n Skrifgeleerde het met Hom oor die wet gesels. Hy het die weelde gesien en hoe ‘n arm weduwee klein geldstukkies in die offerkis gooi. Jesus het die gelykenis van die boere wat die wingerd by die eienaar steel en selfs nie sy seun ontsien nie, maar doodmaak, vertel.

Die woorde “Toe Jesus van die tempel af weggaan…” (1) simboliseer Jesus se finale en beslissende breuk met die tempel. Jesus het die tempel reeds veroordeel as ‘n rowersnes (11:17). Sy afwysing van die tempel het ook ‘n rol gespeel in sy doodsvonnis (14:58; 15:29-30).

Jesus verlaat die tempel, om nooit weer terug te keer nie. Praat van waarskuwings. Die tempel met al sy mag en weelde verloor sy rol as konneksiepunt tussen God en mens. Jesus self word nou die weg tot die Vader.

Geweldige klippe en geboue

Wanneer hulle wegstap, verwys een van Jesus se dissipels na die geweldige klippe en geboue.

Op hierdie stadium was die tempel reeds 50 jaar in aanbou, en nog steeds was dit nie klaar nie. Herodes die Grote het Salomo se ou tempelplan vergroot. Die tempelterrein was nou groot genoeg om 12 rugbyvelde te bevat. Die steunmuur vir die tempelterrein aan die suidooste, na die Kedronvallei se kant, was 15 verdiepings hoog. Enorme steenblokke, sommige tot byna 20 meter lank, is in die konstruksie gebruik. Josefus, Joodse geskiedskrywer, vertel hoe die pilare van die ingangsportaal so groot was dat drie mans met uitgestrekte arms skaars rondom een van die pilare kon hande vat. Die heiligdom is met goud en silwer versier. Die luister en weelde van die tempelprojek was groter as enige ander tempel in die antieke wêreld.

Net so indrukwekkend as die gebou, is Jesus se kommentaar: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word” (2). Praat van stormwaarskuwings!

Veertig jaar later vertel Josefus, die Joodse geskiedskrywer, hoe die keiser bevel gee dat die tempel verwoes moet word. Die tempel en die stadsmure is gelyk gevee, omdat die Jode teen Rome in opstand gekom het. Josefus sê die verwoesting was so volkome dat niemand ooit weer eers sou kon glo dat die prag en praal ooit bestaan het nie.

Regoor die tempel

In Jesus se tyd het God se goeie bedoeling met ou Israel, ‘n volk wat Hy seën, sodat ander geseën kan word; ‘n volk wat Hom as Koning aanvaar, sodat sy koningskap oor die wêreld kan uitbrei, met kanker besmet geraak.

Die Jode het God se wingerd, Israel in die rigting van hul eie belange gesnoei. Hulle het God se karakter van liefde, trou, geregtigheid en omgee misverstaan. Vroeër, in 586 v.C., is hulle om soortgelyke redes in ballingskap weggestuur. Hulle het ander gode aanbid, hul naaste uitgebuit, en hulle eie koppe gevolg. Ook in hierdie dae het hulle die destydse tempel ‘n rowerspelonk gemaak, sê die profeet Jeremia (7:11).

Na hulle reggesnoei is in Babel, kom ‘n klein oorblyfsel terug. Die tempel word herbou, en in Herodes se tyd word dit ‘n sentrum van prag en praal.

Markus vertel hoe Jesus op die Olyfberg gaan sit, “regoor die tempel.” Die Olyfberg word van die tempelberg geskei deur die Kedronvallei, en is sowat 100 meter hoër. Van hul uitkykpunt sien Jesus en sy dissipels die oostekant van die tempel. Jesus gaan sit, wat beteken Hy neem die gesaghebbende houding van ‘n leermeester in. Betekenisvol genoeg, voorspel Sagaria dat die oordeel van God oor die tempel van die Olyfbverg af uitgespreek sal word (Sag 14:1-8).

Jesus is gesagvol besig om God te verteenwoordig. Hy neem posisie in regoor, teenoor die tempel.

Watter teken?

Vier van Jesus se dissipels vra Hom uit oor die verwoesting van die tempel. Hulle wil weet watter teken sal aandui wanneer die tempel vernietig gaan word, en wanneer alles voleindig sal word.

Hulle vraag lê op twee vlakke:

  • Wanneer sal die verwoesting van die tempel aanbreek (4a)
  • Wanneer sal alles voleindig word? (4b)

Die woord “voleindig” dui dikwels in die Bybel op die vervulling van alle dinge aan die einde van die tyd. Vir die dissipels is die voorspelde verwoesting van die tempel ‘n teken van iets groter: die voleinding van die wêreld.

Die dissipels vra ‘n “teken.” Drie keer in gesprekke met die Jode het die Fariseërs Jesus vir ‘n teken gevra (vgl. 8:11-12). Elke keer weier Jesus om ‘n teken te gee: “Jesus het diep gesug en gesê: ‘Waarom wil hierdie geslag ‘n teken hê? Dit verseker Ek julle: Aan hierdie geslag sal beslis nie ‘n teken gegee word nie'” (8:12).

Wanneer die dissipels ‘n teken vra, sê Jesus in ons teks hulle moet versigtig wees. Tekens kan mense mislei. Hulle moet versigtig wees vir misleiding, want baie mense sal kom om voor te gee hulle is Messiasse en redders. Tekens kan mens maklik mislei.

Dit het inderdaad gebeur. In die aanloop tot die Joodse opstand in 66 n.C. het daar baie Messiaanse figure verskyn wat aanspraak gemaak het dat hulle die Jode op die regte pad lei. Hulle was almal vals. Hulle optrede het tot die verwoesting van die tempel in 70 n.C. gelei.

Pas op vir valse Messiasse!

“Pas op!” (Grieks: Blepete) is die kernwoord in vers 5. Die dissipels vra vir ‘n teken oor die toekoms, maar Jesus vestig hulle aandag op die hede: “Pas op dat niemand julle mislei nie!”

Jesus se argument is dat mense graag oor die toekoms spekuleer en tekens daarvoor soek. Die spekulasie lei die aandag af van getroue gehoorsaamheid in die hede. Die wesenlike vraag is of jy vandag getrou aan Jesus bly, die geregtigheid, liefde en gehoorsaamheid wat God vra doen? Die vraag is nie hoe gesaghebbend jy die tekens oor die einde kan voorspel nie.

Die gevaar van die misleiding is dat mense hulle as die ware Messias sal voordoen. Pas op, baie sal onder Jesus se Naam kom en sê “Dit is Ek!,” d.w.s. “Ek is” God se verteenwoordiger, “Ek is” God.

Die eintlike vraag is of die dissipels hulle steeds aan Jesus se leer en voorbeeld sal bly steur wanneer die tempel val en die voleinding van die wêreld nader kom.

Oorloë en ander tekens

Naas die gevaar van misleiding, is daar ook die angs en vervreemding wat vyandskap, oorloë, aardbewings en hongersnode sal bring (7-8). Hierdie dinge is tekens dat die einde kom, maar dit is tekens wat in elke geslag voorkom. Dit is tekens wat herinner dat die einde gaan kom, maar nie tekens wat sê die einde gaan netnou kom nie.

Die lyding en swaarkry pas op elke geslag en elke kontinent. Dit was dalk veral waar van die eerste eeu, die eeu waarin Jesus geleef het. Daar was die vrees vir oorlog toe Caligula, die Romeinse keiser (37 – 41 n.C.), ‘n standbeeld van homself in die tempel wou oprig. Hongersnode het tussen 41-54 n.C. voorgekom (Handelinge 11:28). Aardbewings het Frigië getref en Pompeii in 63 n.C. verwoes.

Doel van die tekens

Die doel van die tekens is nie om gelowiges te verlei tot allerhande spekulasie oor die einde nie. Jesus herinner hulle aan die tekens van die tye om hulle te anker in getrouheid, versigtigheid, waaksaamheid en gehoorsaamheid in die hede.

Dwarsdeur al die tye moet die herhalende tekens ons aandag op Jesus fokus. Die slegte tekens moet die dissipels daarom nie met vrees vul nie. In die swaarkry mag dit na doodspyne, ‘n roggeling van die sterwende wêreld klink. Dit is egter nie sterwenspyne nie: dit is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

Rol van Jesus se dissipels

Wat met Jesus se dissipels gebeur, sal ook ‘n teken van die tye wees.

Jesus se dissipels sal die boodskap van Jesus se gesag, koningskap en verlossing uitdra. Hulle sal dit doen omdat die Heilige Gees deur hulle werk en hulle dring (11-12).

Al die oorloë, hongersnode, pyn en stryd – ook die weerstand van regerings en familie – sal ‘n ongelooflike geleentheid wees om die evangelie van Jesus se verlossende koningskap te verkondig. God is self in hierdie aksie teenwoordig. Trouens, die Heilige Gees sal self in krisistye aan die woord kom en namens die gelowiges praat.

Die waarheid van Jesus sal deurgaans bestry word. Die dissipels moet egter weet dat God in hulle getuienisaksie teenwoordig is. Die evangelie sal eers aan al die nasies verkondig word. Dit is die teken van God se nuwe wêreld.

Watter teken?

Die Joodse tempeldiens het gemeen die vorm van die tempel is ‘n teken van die toekoms wat wag. Die Joodse geloof is voorspoedig, alles loop reg. Die glans van die tempel is die teken van goeie tye wat wag. Die Jode was egter verkeerd. Die tempel was nie die teken van God se toekoms nie.

Hierdie dinge wat “moet kom” (7) net soos die Seun van die Mens wat moet ly, skryf teoloog Lesslie Newbigin, wys op ‘n geskiedenis wat in die teken van die kruis en opstanding van Jesus sal verloop. Jesus projekteer die vorm van die kruis op die toekoms van die wêreld:

The form of the cross is projected across the picture of world history. It is not to be a smooth story of successful struggle leading directly to victory. Rather it is a story of tribulation and faithful witness, of death and resurrection.

Die verloop van die geskiedenis, sê Newbigin, veronderstel die verkondiging van die regering van God. God se koninkryk is inderdaad naby ons, die hele tyd. God is aktief in die geskiedenis. Maar God se aksie is versteek in dit wat na die teenoorgestelde daarvan lyk. God word koning deur die getuienis en lyding van sy dissipels.

Hierdie geheim is toevertrou aan Jesus se dissipels, hulle wat die geboortepyne kan sien wanneer ander net sterwenspyne sien. Die dissipels weet dat die kruis uitloop op die opstanding, dat die oorvertel van Jesus se evangelie mense rig op die geboorte wat aan die einde op God se wêreld wag.

Toepassing

Jesus se “pas op” weerklink vanaf die Olyfberg tot vandag. Ons moet versigtig wees om ons lewe nie aan valse waarhede en valse messiasse te verbind nie. Daar is baie dinge wat kan voorgee om God te wees, en vir ons sekuriteit te gee. Troos buite Jesus om, is geen troos nie. Wanner ons geloof bloot moraliteit word, of die bewaking van mense se regte, of maatskaplike invloed, en die verbintenis aan Jesus verdwyn, is ons op ‘n glibberige pad.

Ons moet ook aanvaar dat getrouheid aan Jesus Christus vir ons lyding gaan inhou. Westerse Christene dink as ons ly en teenstand ervaar, is daar fout. Ons het die misplaaste behoefte om altyd te wil inpas by die heersende kultuur. Op onlangse besoek aan Suid-Afrika het Nik Ripken, kenner op die gebied van die vervolgde kerk, onlangs gesê die kerk in die Weste wil ten alle koste pyn verlig, eerder as om die pyn te vat van gehoorsaamheid aan die Here. Ons het veel om by die vervolgde kerk te leer.

Hoeveel pyn dit ook al inhou, is die enigste keuse wat toon jy verstaan die tekens van die tye ‘n keuse vir gehoorsaamheid aan Jesus Christus, die Here.

Jesus se veroordeling van die Jode se hoogste kulturele prestasie, die tempel en die pragtige Jerusalem, moet ook nie te vinnig by ons verby gaan nie. Tot vandag toe stroom ons as toeriste om die vergange glorie van Jerusalem te besigtig. Vir Jesus was dit ‘n leë prestasie. Dit is nie standhoudend nie.

Hoeveel van ons moderne kulturele prestasies, ons beskawing, ons nasionalisme en trots, hou na Jesus se mening stand?

Wel, ons is gewaarsku. Die wêreld wat buite God se prioriteite om gebou word, is op losse skroewe. Pas op! Die wêreld wat standhou het die vorm van ‘n kruis, word gebore uit die oordra van Jesus se boodskap, en is onherroeplik op pad. Laat ons ag slaan op die waarskuwingborde, nie afvallig word nie, en onsself aan Jesus se komende wêreld oriënteer.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3′

Seën
Voorganger: Kyk, Hy kom met die wolke,
en al die mense sal Hom sien,
ook hulle wat Hom deurboor het;
en al die volke van die aarde
sal voor Hom neerval
en Hom aanbid.
Gemeente: Ja, dit is seker!

Voorganger: Uit liefde vir ons het Hy ons
deur sy bloed van ons sonde verlos
en ons sy koninkryk gemaak,
priesters vir God sy Vader.
Gemeente: Ja, dit is seker!

Voorganger: Aan Hom behoort die heerlikheid
en die krag tot in alle ewigheid!
Gemeente: Amen.
of
Voor die seën
Gaan nou terug na die lewe van elke dag en leef met die verwagting dat God se goedheid altyd weer in jou lewe en omstandighede sal verskyn. Gaan lewe met die seën van die Here.

Die seën
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Korintiërs 13 NAV)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.