Vyf en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Seisoen van die Voleinding
Novembermaand is ‘n besige tyd; dis skooleksamens, daar word planne gemaak vir die nuwe jaar, aansoek gedoen vir werk en soveel meer. Die fokus van die Skriflesing is om die moed te hê om te begin bou. Hiertoe lewer die erediens ‘n groot bydrae.

Ander tekste

Psalm 145:1-5, 17 -21
Ek wil getuig van u magtige dade
145 ’n Loflied van Dawid.
Ek wil u lof verkondig,
my God en Koning,
ek wil u Naam altyd loof.
2Elke dag wil ek U loof,
ek wil u Naam altyd prys.
3Die Here is groot,
alle lof kom Hom toe,
sy grootheid is ondeurgrondelik.
4Geslag na geslag prys wat U doen
en vertel van u magtige dade,
5van die luister, die heerlikheid
van u majesteit.
Ek wil getuig van u magtige dade,
6sodat die mense
oor u wonderdade sal praat.
Ek wil van u grootheid vertel.

7Sonder ophou moet hulle 
u groot goedheid verkondig 
en oor u reddingsdade jubel. 
8Genadig en barmhartig is die Here,
lankmoedig en vol liefde. 
9Die Here is vir almal goed 
en barmhartig 
oor alles wat Hy geskep het. 
10Almal wat deur U geskep is, 
loof U, Here, 
en u troue dienaars prys U! 
11Hulle vertel van u koninklike mag 
en getuig van u groot krag. 
12Die mense moet weet van sy krag, 
van sy koninklike mag 
en majesteit. 
13U koningskap is ’n koningskap 
vir alle tye, 
u heerskappy strek 
oor die geslagte heen. 
14Die Here help almal op wat geval het. 
Hy ondersteun dié wat bedruk is. 
15Die oë van almal is op U gerig, 
en U gee hulle kos op hulle tyd. 
16U maak u hand oop 
en skenk u guns in oorvloed 
aan al wat leef. 

17Die Here is regverdig
in al sy handelinge,
getrou in alles wat Hy doen.
18Die Here is naby almal
wat Hom aanroep,
almal wat Hom
in opregtheid aanroep.
19Aan dié wat Hom dien,
gee Hy wat hulle vra,
Hy hoor as hulle om hulp roep,
en Hy red hulle.
20Die Here beskerm almal
wat Hom liefhet,
maar al die goddeloses verdelg Hy.
21Ek sal die lof van die Here
verkondig.
Laat al wat leef,
sy heilige Naam vir altyd prys.

Psalm 98
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here
98 ’n Psalm.
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here,
want Hy het magtige dade gedoen,
deur sy krag en Goddelike mag
het Hy oorwin.
2Die Here het sy oorwinning
bekend gemaak,
aan die nasies het Hy
sy reddingsdade geopenbaar.
3Aan die huis van Israel het Hy sy liefde
en sy trou herbevestig;
die hele wêreld het gesien dat ons God
die oorwinning behaal het.
4Juig tot eer van die Here,
almal op aarde,
wees vrolik, juig en sing!
5Sing tot eer van die Here
met begeleiding van die lier,
speel op die lier en sing.
6Blaas die trompet en die ramshoring,
jubel tot eer van die Here,
die Koning.
7Die see en alles daarin moet druis,
die aarde en alles daarop moet juig,
8die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig
9voor die Here,
want Hy kom om oor die aarde te heers;
Hy sal oor die wêreld heers
met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.

2 Tessalonisense 2:1-5, 13-17
Die wettelose mens
2 En nou, broers, wat betref die wederkoms van ons Here Jesus Christus en ons hereniging met Hom, het ek ’n ernstige versoek aan julle: 2Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word as iemand vir julle sou sê die dag van die Here is al hier nie—of dit nou vir julle gesê word in ’n profetiese uitspraak of in ’n preek of in ’n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees. 3Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. 4Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.

5Onthou julle nie dat ek dit herhaaldelik vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?

6En julle weet nou wat hom nog teëhou, sodat hy eers as dit sy tyd is, sy verskyning sal maak. 7Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk, maar die een wat die wettelose teëhou, moet eers uit die weg wees, 8en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig.

9Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders 10en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. 11Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. 12En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.

Aan God die dank
13Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. 14Hy het julle hiertoe geroep deur die evangelie wat ons aan julle verkondig het, sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van ons Here Jesus Christus.

15Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ’n brief was.

16–17En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ’n blywende troos en goeie hoop gegee.

Lukas 20:27-38
Die vraag oor die opstanding uit die dood
(Matt 22:23–33; Mark 12:18–27)
27’n Aantal Sadduseërs—dit is die mense wat ontken dat daar ’n opstanding uit die dood is—kom toe nader en vra vir Jesus: 28“Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand ’n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. 29Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. 30Ook die tweede 31en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. 32Daarna het die vrou ook gesterwe. 33Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

34Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, 35maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. 36Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. 37Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ v38Hy is nie ’n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”

39Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.”

40Hulle het nie meer gewaag om Hom ’n enkele vraag te stel nie.

Fokusteks

Haggai 1:15b – 2:9
Herbou my huis
1 Die woord van die Here het deur die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en tot die hoëpriester Jesua seun van Josadak. Dit was op die eerste dag van die sesde maand in die tweede regeringsjaar van koning Darius.

2So sê die Here die Almagtige: Hierdie volk sê dit is nie nou die tyd om die tempel te herbou nie.

3Toe het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: 4Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê? 5Daarom, so sê die Here die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur.
6Julle het baie gesaai,
maar min geoes;
julle het geëet,
maar nie genoeg gekry nie;
julle het gedrink,
maar dors gebly;
julle het klere aangetrek,
maar nie warm geword nie;
julle is soos ‘n dagloner
wat sy loon
in ‘n stukkende beursie steek.
7So sê die Here die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur. 8Gaan haal hout in die berg en herbou my huis sodat Ek my eer kan ontvang en tevrede kan wees, sê die Here. 9Julle het ‘n groot oes verwag, maar min gekry, en wat julle nog huis toe gebring het, het Ek laat verdwyn. Waarom? vra die Here die Almagtige. Omdat my huis in puin lê, terwyl elkeen van julle hard besig is om aan sy eie huis te werk. 10Dit is oor julle dat die hemel sy reën en die aarde sy opbrengs teruggehou het. 11Ek het droogte laat kom oor die land en oor die berge, oor die koring, die wyn en die olie en oor die opbrengs van die land, oor mens en dier en oor alles waarmee die mens hom besig hou.

12Toe het Serubbabel seun van Sealtiël, en die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en almal wat van die volk oorgebly het, ter harte geneem wat die Here hulle God gesê het, wat die profeet Haggai in opdrag van die Here hulle God gesê het. Die volk was vervul met ontsag vir die Here.

13Haggai die boodskapper van die Here het in opdrag van die Here vir die volk gesê: Ek is by julle, sê die Here. 14Die Here het toe vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het, aangevuur, en hulle het die werk aan die huis van hulle God, die Here die Almagtige, aangepak.

15Hulle het daarmee begin op die vier en twintigste van die sesde maand.

My Gees sal altyd by julle bly
2 Op die een en twintigste van die sewende maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: 2Vra tog vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het: 3Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige nie?

4Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. 5My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!

6So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe. 7Dan sal Ek al die nasies laat wakker skrik en hulle sal met hulle skatte kom en so sal Ek hierdie huis met rykdom vul, sê die Here die Almagtige 8Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige. 9Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.

10Op die vier en twintigste van die negende maand, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here tot die profeet Haggai gekom: 11So sê die Here die Almagtige: Vra tog by die priesters leiding oor hierdie saak: 12As iemand vleis wat aan die Here gewy is, in die sak van sy klere dra, en hy raak met die sak aan brood of groente of wyn of olie of enige ander soort kos, sal dié dinge dan gewy wees?

Die priesters antwoord toe: “Nee!”

13Toe sê Haggai: As iemand wat onrein is deurdat hy aan ‘n lyk geraak het, aan hierdie dinge sou raak, sou hulle dan onrein word?

Die priesters het geantwoord: “Ja, dit sal onrein word!”

14Haggai sê toe: Só is hierdie volk, hierdie nasie in my teenwoordigheid, sê die Here, só is alles wat hulle doen: elke offer wat hulle na my tempel toe bring, is onrein! 15Let daarom op wat in die verlede en tot nou toe gebeur het: voordat julle begin het om die tempel van die Here te herbou, 16het julle by ‘n hoop koring gekom en net die helfte van wat julle geskat het, daaruit gedors. Julle het na ‘n parskuip toe gegaan om vyftig vate vol te skep, maar julle het net twintig gekry. 17Ek het julle oes, die vrug van julle handewerk, swaar getref met brandkoring, heu ningdou en hael, en nogtans het niemand hom tot My bekeer nie, sê die Here.

18Maar nou, let op wat van vandag af en verder sal gebeur, van die vier en twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondamente van die tempel van die Here gelê is. Let op! 19Is daar nog saad in die skuur? Tot nou toe het julle wingerde, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie gedra nie, maar van nou af sal Ek voorspoed gee!

20Op die vier en twintigste van die negende maand het die woord van die Here nog ‘n keer tot Haggai gekom: 21Sê vir Serubbabel die goewerneur van Juda: Ek gaan die hemel en die aarde laat bewe. 22Ek gaan die trone van konings omgooi en die mag van die koninkryke van die nasies vernietig. Ek gaan strydwaens met bemanning en al omgooi. Perde met hulle ruiters sal omkom, die een sal die ander met die swaard doodmaak. 23Daardie dag sal Ek jou vat, sê die Here die Almagtige, en jou, my dienaar Serubbabel seun van Sealtiël, ‘n seëlring maak, want Ek het jou uitgekies, sê die Here die Almagtige.

Ekstra stof

Haggai – Herstel die tempel, want Ek is by julle
Inleiding
Die tiende boek in die ry van Twaalf Kleiner Profete, Haggai, eggo daarom die boodskap van hoop in Sefanja wat vóór die ballingskap gelewer is met ‘n boodskap van bemoediging aan die volk met die herbou van die tempel ná die ballingskap. Hy bemoedig die volk dat hulle kan volhard met hulle werk, want die Here het belowe dat Hy met hulle is. Hy sal dinge laat uitwerk as hulle net naby Hom bly en aan Hom gehoorsaam bly, presies dít wat Sefanja reeds in sy hfst. 3 belowe het.

Ons weet nie veel persoonlike detail van die profeet Haggai af nie, hoewel die boek Esra na hom en Sagaria, sy tydgenoot, verwys (Esra 5:1-2; 6:14). Die datum van Haggai se optrede is egter bekend en kan presies gedateer word. Die vier profesieë van sy boek is gelewer in ‘n vier maande periode in 520 v.C., die tweede regeringsjaar van die Persiese koning Darius, as bemoediging aan die volk wat besig was om die tempel te herbou nadat hulle ongeveer 19 jaar gelede reeds teruggekeer het uit ballingskap. Hy help hulle dus om hulle prioriteite in lyn met God s’n te kry al het dit omtrent twee dekades geneem.

Let op dat die profesieë van sy boek telkens aan ‘n spesifieke adres gerig is waarna soms ook die reaksies aangedui word. Al die belangrike rolspelers van die geloofsgemeenskap word aangespreek.

  • Die eerste profesie was aan die twee leiers, die aangewese goewerneur van Juda, Serubbabel, en die hoëpriester Jesua gerig (1:1). Dit was bedoel om te verduidelik dat hulle slegte situasie aan hulle ongehoorsaamheid t.o.v. die herbou van die tempel verbind is. Almal, ook die volk, het begeesterd daarop gereageer.
  • Die tweede profesie, ‘n maand later, was steeds aan die twee leiers, sowel as aan almal wat van die volk oorgebly het, gerig (2:1). Dit was bedoel om hulle te bemoedig in hulle werk. Hulle reaksie is egter nie aangeteken nie.
  • Die derde profesie, twee maande daarna, was gerig aan die priesterkorps (2:11). Dit word in die vorm van ‘n gesprek tussen Haggai en die priesters aangebied, waarop die Here sy belofte van reiniging en seën aan hulle rig.
  • Die vierde profesie, nog op dieselfde dag, was aan Serubbabel, die goewerneur, gerig om hom van God se omvattende beskerming vir hom as uitverkore seëlring te oortuig (2:22). Sy reaksie word nie aangetoon nie.

Gesamentlik dien die vier profesieë dus as bemoediging van die hele teruggekeerde geloofsgemeenskap van Juda om God hulle prioriteit te maak, soos Hy inderdaad dit met hulle gedoen het.

Indeling
Die indeling van die perikope volg die struktuur van die vier profesieë met die reaksies daarop:

  • 1:1-15 – God bemoedig die leiers om die bou van die tempel ‘n prioriteit te maak
  • 2:1-9 – God bemoedig almal om moed te hou, want Hy is by hulle
  • 2:10-19 – God bemoedig die priesters dat Hy die volk sal reinig en seën
  • 2:20-23 – God bemoedig Serubbabel dat Hy hom gekies het en sal beskerm

‘n Mens moet eintlik die twee hoofstukke as ‘n eenheid lees. Daarom word dit volledig hier gegee.

Haggai 1:1-15 – God bemoedig die leiers om die bou van die tempel ‘n prioriteit te maak
Op 29 Augustus 520 v.C., die eerste dag van die sesde maand, die Joodse maan-maand Elul, 19 jaar ná die volk in 539 v.C. van Babel af teruggekeer het, kom die woord van die Here tot Haggai. Dit is bedoel vir die twee leiers van die volk, die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Jesua.

Dit is belangrik om te onthou dat die Jode dié tyd die fees van die nuwe maan gevier het. Hulle was dus nie te besig om aan die dinge van die Here aandag te gee nie, en sy woorde ter harte te neem nie.

Haggai bevraagteken die standpunt van die volk dat die bouwerk aan die tempel nie ‘n prioriteit is nie. Hy doen dit met ‘n vraag van die Here: “Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê?” Daarmee ontbloot God hulle verkeerde prioriteite wat tot gevolg het dat dinge ekonomies nie vir hulle wil vlot nie, al is hulle nou al amper twee dekades terug in die land: “Julle is soos ‘n dagloner wat sy loon in ‘n stukkende beursie steek.” Uitstekende metafoor wat die strawwe van die verbond uitbeeld (Deut. 28-30)!

Die Here stel dus onomwonde vir hulle die standaard, dít wat Jesus in die Bergrede eeue later ook sou beklemtoon. Dien die Here en sorg dat sy teenwoordigheid bo alles bewaar word in die geloofsgemeenskap. Dan sal hulle die sorg van die Here op alle terreine van die lewe ervaar: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt. 6:33).

Vir Haggai en sy mense was die fokus op die bou van die tempel, die fisiese simbool van God se teenwoordigheid in Jerusalem. Waar dít herstel sou word, dáár sou hulle die seën van die Here ook ekonomies en sosiaal ervaar, trouens: “oor alles waarmee die mens hom besig hou.

Die effek van hierdie boodskap was dat die twee leiers moed geskep het en die volk gemotiveer het om die werk aan die tempel voort te sit en klaar te maak. Hoekom? Want hulle het die woord van die Here “ter harte geneem“. Dit het die volk met soveel ontsag vervul dat hulle ongeveer drie weke later, op die 24ste dag van Ellul, die 21ste September 520 v.C., met die werk begin het. Hulle het dus hulleself in hierdie tyd gereed gekry vir die groot taak wat vir hulle gewag het.

Haggai 2:1-9 – God bemoedig almal om moed te hou, want Hy is by hulle
Op 17 Oktober 520 v.C., die 21ste dag van die sewende maand, die Joodse maand Tishri, kom die woord van die Here weer tot Haggai. Dit is vier weke ná hulle met die werk begin het, waarin hulle waarskynlik die meeste van die tyd aan die opruim van die rommel van die vorige ruïnes spandeer het. Dit is ook aan die einde van die Loofhutte fees wat aan die einde van die oestyd gehou is. Hulle het dus weereens tyd gehad om op die Here te fokus ná al die harde werk tot dusver.

Weereens word die woord van die Here deur ‘n paar vrae ingelei, maar dié keer gerig aan al die mense: “Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige een nie?” Die Here is dus baie bewus van die gesprekke wat onder die volk gevoer is en waarin die moedeloosheid wou-wou oorneem. God se plek sou nooit weer wees soos dit vroeër was nie. En onthou, Salomo se tempel, wat ironies genoeg ook in die sewende maand in gebruik geneem is (1 Kon. 8), was ‘n verstommende luukse gebou.

Die Here praat hulle deur sy profeet egter moed in: “Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here, die Almagtige.” Die bouwerk kan en móét nou in alle erns begin.

Let op hoe die Here hulle met twee sleutelboodskappe bemoedig. Die eerste is ‘n belofte wat van altyd af vir hulle geld en ook nou in hulle lewe bevestig sal word: “My Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie.” Sagaria sou ‘n bietjie later hierby aansluit en vir Serubbabel met dieselfde woorde bemoedig: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees.” (Sag. 3:6).

Die tweede is ‘n toekomsvisie wat die bou van die tempel in ‘n heel ander en heerliker lig stel: “Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede … op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.” Dié visie word in ‘n konteks van eskatologiese tekens beskryf – hemel en aarde, see en land bewe, nasies bring geskenke – wat die eindtyd wat met Jesus aangebreek het en met sy wederkoms voleindig sal word, in die visier van dié profesie bring.

Hoewel die volk van 520 v.C. dié visie beswaarlik volledig kon verstaan, het dit hulle bemoedig. Hulle is uitgenooi om hulle oë te vestig op wat kom, nie net op wat was met Salomo se tempel nie. God se Gees sou hulle na sy toekoms met hulle begelei. Watter bemoediging!

Haggai 2:10-19 – God bemoedig die priesters dat Hy die volk sal reinig en seën
Op 18 Desember 520 v.C., die 24ste dag van die negende maand, die Joodse maand Kislev, kom die woord van die Here vir die derde keer na Haggai. Weereens kon hulle aandag gee aan die woorde van die profeet, want dit was die groeiseisoen waarin die boeregemeenskap nie te besig was nie.

Die fokus dié keer is op die bemoediging van die priesters. In ‘n reeks vrae oor die kwessie van die reinheid al dan nie van die offers wat die volk bring, en waarop die priesters telkens antwoord, help Haggai hulle om te besef dat dit eintlik die volk is wat deur hulle ongehoorsaamheid aan die Here onrein is. Elke offer wat die volk na die tempel toe bring, is daarom eintlik onrein, al word die voorskrifte nougeset nagekom.

Omdat die volk egter gehoorsaam was aan die woord van die Here om die bouwerk aan die tempel ‘n prioriteit te maak – die fondamente was dié dag voltooi – verklaar die Here die volk rein en hulle offers aanvaarbaar vir Hom. Hy sal die tye van droogte en pestilensies staak, omdat dit sy doel gedien het om hulle tot bekering te begelei. Daarby belowe die Here dat Hy van nou af hulle oeste sal seën – onthou dit is die groeiseisoen – en só hulle ekonomiese weerbaarheid sal herstel: “van nou af sal Ek voorspoed gee.

Haggai 2:20-23 – God bemoedig Serubbabel dat Hy hom gekies het en sal beskerm
Op dieselfde dag 18 Desember 520 v.C. kom die woord van die Here vir die vierde keer na Haggai. Hierdie keer is dit aan die goewerneur Serubbabel gerig om Hom nie net aan sy verkiesing deur God tot die leiersposisie te herinner nie – hy is God se seëlring, ‘n kosbare draer van die volmag van God se gesag. Hy word ook verseker van God se beskerming op politiese en internasionale gebied. Die beskrywing dra soos in die tweede profesie ‘n meer eskatologiese en kosmiese karakter wat op ‘n groter toekomsvisie dui as net dít wat Serubbabel ervaar het.

Boodskap
Die tempel is vier jaar later in 516 v.C. voltooi (vgl. Esra 6:15). Sonder hierdie oproep van die profeet Haggai sou dié werk egter nog jare onvoltooid gebly het, moontlik selfs nooit regtig van die grond af gekom het nie. Sy bemoediging gedurende hierdie belangrike vier maande tydperk van Augustus tot Desember in 520 v.C het nie net die verhouding tussen die Here en sy volk herstel nie, maar die leiers – Serubbabel die goewerneur, Jesua die hoëpriester sowel as die gewone priesters – en die gewone lede van die volk geïnspireer om te begin leef as Godsvolk.

Daarmee was die stryd nog nie volledig gewen nie. Esra sou eers ongeveer 60 jaar later in 459 v.C. fokus op die verdere hervormings rondom die wet van die Here, en Nehemia meer as 70 jaar later in 445 v.C. op die herbou van die stad Jerusalem. Sonder die herbou van die tempel in 520-516 v.C. sou hierdie ander hervormings rondom die wet en die stad nie moontlik wees nie.

Dit tref my hoe hierdie opdrag van Haggai aan die volk om die tempel te herbou vóórdat hulle aandag gee aan hulle eie huise en omstandighede in die NT geëggo word in die woorde van die Here Jesus: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt. 6:33). Vir die OT gemeenskap in Haggai se tyd was die fokus op die tempel, die plek waar die geloofsgemeenskap die Here gedien het. Vir die NT gemeenskap, sowel as die Christelike gemeenskap deur die eeue daarna, is die fokus op die koninkryk van God wat in die wêreld moet kom, oral waar die Here gedien móét word. Ons fokus is dus nie op ‘n plek, die kerkgebou, nie, maar op die mense wat die boodskap van die Here moet hoor.

Vir die OT gelowiges het die Here seën belowe as hulle prioriteite reg ingestel is om te fokus op die teenwoordigheid van die Here in die tempel van Jerusalem. Vir die NT gelowiges belowe die Here sy seën as deel van hulle fokus op die teenwoordigheid van die Here tot in die uithoeke van die wêreld. Ons is geroep om getuies te wees nie net in Jerusalem nie, maar ook in Judea, en Samaria en waar daar ook al mense tot aan die eindes van die wêreld is (Hand. 1:8). Laat ons dit inderdaad dan ook nou doen!

Liturgie

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord: Uit Psalm 98

Seëngroet: Uit 2 Tessalonisense 1

Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet: Romeine 12:9-21

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak: Uit Psalm 145

Geloofsbelydenis: (Persoonlike…)

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 2”

Epiklese

Skriflesing: Hagai 1:15b-2:9

Familie-oomblik
Prediking
Gebed

Nav die inleiding tot die preekriglyn is hierdie gebed van Sr Francis Drake (1577) in Afrikaans vertaal:
Offergawes

Wegsending: Lied 513 “Soek in God jou sterkte vs 1,2,3”

Seën: Uit 2 Tessalonisense 2

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord: Uit Psalm 98
4Juig tot eer van die Here,
almal op aarde,
wees vrolik, juig en sing!
5Sing tot eer van die Here
met begeleiding van die lier,
speel op die lier en sing.
6Blaas die trompet en die ramshoring,
jubel tot eer van die Here,
die Koning.

Seëngroet: Uit 2 Tessalonisense 1
Aan die gemeente van die Tessalonisense wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus behoort.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet: Romeine 12:9-21
Riglyne vir die Christelike lewe
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,” w
sê die Here.
20“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink;
want deur dit te doen,
maak jy hom vuurrooi
van skaamte.” x
21Moet jou nie deur die kwaad
laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
deur die goeie.

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak: Uit Psalm 145
8Genadig en barmhartig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
18Die Here is naby almal
wat Hom aanroep,
almal wat Hom
in opregtheid aanroep.

Geloofsbelydenis: (Persoonlike…)
Ek glo in God wat die wêreld geskep het;
in God wat die mens geskep,
wat Abraham en Isak en Jakob gekies het as aartsvaders.
Ek glo in die God wat vir hom ‘n volk versamel het in Egipte,
wat hulle deur Moses bevry het en gevestig het in ‘n beloofde land.
Ek glo in die God wat Sy uitverkore volk nie versaak het nie,
ten spyte van ongehoorsaamheid en sonde en ballingskap.
Ek glo in die God wat telkens deur die stem van sy profete
genade en verlossing en uitkoms aanbied.
Ek glo in die God wat ‘n nuwe verbond skep met die mens
deur die koms van Sy Seun Jesus,
sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie
maar die ewige lewe sal hê.
Ek glo dat Jesus my losgekoop het van die sonde na die ewige dood
deur te sterf aan die kruis,
deur uit die dood op te staan om aan die regterhand van die Vader te regeer.
Ek glo in die alomteenwoordige Trooster,
die Gees van God, wat vir my intree by die Vader.
Ek glo dat die kerk die liggaam is van die hoof, Jesus Christus,
dat Hy weer kom om my te kom haal,
sodat ek vir ewig in God se teenwoordigheid mag wees.

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 2”

Liedere

F90. “Wees Sterk En Vol Moed”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloof / Hoop)
Teks en Musiek: Melanie Steenkamp & Wian Vos
© MAR Gospel Music Publishers
[Teks gewysig deur FLAM met goedkeuring van MAR Gospel Music Publishers]

Wees sterk en vol moed, nie bevrees of verskrik nie,
want die Here jou God, is oral waar jy gaan.
Lyk jou dae soms leeg, is jou lewe soms deurmekaar,
wees sterk en vol moed: Jesus ken jou goed.

Sing ‘n nuwe lied van hoop, sing ‘n nuwe lied.
Sing ‘n nuwe lied van moed, Jesus is so goed.

F269. “Hy Verwelkom My”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toetrede)
Teks en Musiek: Elmarie Wiesner
© Urial Publishing

1. Ek het toegang tot die Vader
en sy heiligdom
Op ‘n weg wat heel nuut is
voorberei deur Hom
Vrygespreek en veilig
want Jesus het betaal
In sy oë heilig,
deur sy liefde so bepaal

2. Vrymoedig, vol vertroue,
nader ek tot God
Hy dink nie aan my sonde nie
Ons het ‘n ewige verbond
Hy het sy wet in my hart gegee
geskryf in my verstand
Sy Heilige Gees getuig in my

Hy hou my in sy hand.
Hy verwelkom my
My plek voorberei
In genade vry
Kom ek nader om te bly.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Die Woord van die Here het na Haggai gekom,
“Skep moed! My belofte sal ek nakom!”
Mag die Woord van die Here vandag na ons kom
en mag elkeen wat dié woord hoor,
die moed skep om die Here te dien.
Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Skriflesing: Hagai 1:15b-2:9

Familie-oomblik

Vraag aan die kinders: Was jy al in jou lewe by ‘n punt waar jy heeltemal moedeloos was? Waar niks vir jou reg verloop nie… Waar jy sommer net wil moed opgee…?

Die Here se volk was by ‘n hele paar geleenthede in so moedelose situasie. In Egipte toe hulle slawe was het hulle met klaagroepe na die Here geroep. En toe die Here Moses stuur om sy volk te gaan uitlei uit Egipte maak hy melding daarvan dat Hy hulle hulpgeroepe gehoor het.

Ons ontmoet die Here in die fokusteks van Haggai waar Hy die moedelose volk bemoedig in hulle sukkelende pogings om die tempel te herbou.

Nadat die Jode (die mense van Jerusalem) uit ballingskap teruggekeer het het alles nie so goed verloop soos hulle gehoop het nie.

Die stad Jerusalem was nog steeds ‘n puinhoop nadat die Babiloniërs dit sowat 50 jaar gelede vernietig het. Daar was ook nie veel opbrengs van die land om in hulle behoefte vir kos te voorsien nie. Destyds is net die ou mense en die swakkes en die gebreklikes agtergelaat. Hulle was nie in staat om regtig die landbou te bedryf sodat daar olywe en druiwe en graan en kleinvee was om van te lewe nie.

Maar die slegste van alles was dat die herbou van die tempel nog maar in sy babaskoene was. En daar was maar min Jode wat teruggekeer het wat hoegenaamd nog die vorige tempel kon onthou. Daarom dat die Here glimlaggend vir hulle vra:

“Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige nie?”

Maar dan bemoedig die Here die moedelose volk. Dan spoor Hy hulle aan om hulle koppe op te tel en Hy belowe om by hulle te wees. Haggai beskrywe dit soos volg…

“… skep moed, sê die Here, julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige.”

Wonderlik om te weet dat die Here ons so goed ken dat Hy selfs weet watter dae vir ons nie goeie dae is nie. Wonderlik dat Hy weet wanneer ek moedeloos is, want hy weet selfs hoeveel hare op my kop groei…

Die teks uit Haggai wil ons bemoedig om moed te skep, want die Here is by ons!
‘n Inkleurprent van ‘n ruïne is hier beskikbaar.
‘n Inkleurprent van ‘n voltooide kerkgebou is hier beskikbaar.

Preekriglyn

[In die preek word na noodsaaklike agtergrond uit Haggai 1 verwys. Dit word aanbeveel dat die Skriflesing uit Haggai 1:1 – 2:9 geneem word.]
Sir Francis Drake, seevaarder en ontdekkingsreisiger van formaat, het in 1577 die volgende gebed neergeskryf:
Disturb us, Lord, when we are too well pleased with ourselves, when our dreams have come true because we have dreamed too little, when we arrive safely because we have sailed too close to the shore.

Disturb us, Lord, when with the abundance of things we possess, we have lost our thirst for the waters of life; having fallen in love with life, we have ceased to dream of eternity; and in our efforts to build a new earth, we have allowed our vision of the new heaven to dim.

Disturb us, Lord, to dare more boldly, to venture on wider seas where storms will show your mastery; where losing sight of land, we shall find the stars. We ask you to push back the horizons of our hopes and to push us into the future in strength, courage, hope, and love.

Daar kom ‘n punt waar mense se durf, moed, energie en visie so taan, dat ons inderdaad moet bid: “Verontrus ons Here, skep ‘n heilige ontevredenheid in ons, sodat ons tot aksie kan oorgaan en u wil kan doen!”

Apatie het die groot vyand van ons tyd geword. Amerikaanse senator, oorlogsveteraan en presidentskandidaat John McCain, het gesê moed en durf is soos ‘n spier in die liggaam:

Hoe meer ons ons durf en moed oefen, hoe sterker word dit. As samelewing word ons kollektiewe durf al hoe swakker omdat ons dit nie gebruik nie. Ons eis nie durf en deursettingsvermoë van ons leiers nie, en ons leiers eis dit nie van ons nie. Die tekort aan moed om uitdagings te takel is beide ons probleem en ons fout. Gevolglik ontbreek dit by te veel publieke leiers, maar ook leiers in die privaatsektor, aan die moed om hulle beloftes uit te voer, die regte dinge te doen, en die wesenlike waardes van leierskap voorop te stel.

‘n Gebed vir ons tyd sal lui: “Help ons om u wil en werk raak te sien. Verontrus ons dan, Here. Maak ons dapper, Here. Gee ons die krag en die durf om op te staan en die regte dinge te doen. Help ons om u wil bo alles te stel en dit daadwerklik te doen.”

In Haggai se tyd

Ons kan Haggai se optrede presies dateer met die inligting wat hy voorsien. Hy het in die jaar 520 v.C. die woord van die Here ontvang – eerstens op 29 Augustus, en daarna by nog drie geleenthede in ‘n periode van vier maande in die jaar 520 v.C.

Haggai tree op ongeveer twee dekades nadat die volk uit ballingskap teruggekeer het. Die Persiese koning, Kores, het Babilonië ingeneem en toegelaat dat die Joodse ballinge na hulle land kon terugkeer. Kores se beleid was godsdiensvryheid en beperkte selfregering. Daarom kon die ballinge selfs hulle tempel in Jerusalem gaan herbou.

Die mense wat teruggekeer het, het baie uitdagings gehad. Die ekonomie het gesukkel om op dreef te kom. Daar was baie teenstand van mense wat in die omgewing gewoon het, om te oorkom.

Haggai 1

Uit Haggai 1 kom ons agter dat die leiers en volk maar min moed gehad het om die probleme te takel. Die uitdagings het te groot gelyk. Daarom het hulle liewers op hulle eiebelang gefokus. In Haggai 1:3 verwyt die Here hulle dat hulle vir hulself pragtige huise gebou het, maar dat die huis van die Here nog in puin lê. Die woorde wat hier vir huis gebruik word, dui op deftige huise met houtplafonne en muurpanele. Dit gaan nie om bloot noodsaaklike en funksionele huisvesting nie.

Hulle plan was om die tempel op die “regte” tyd te herbou, maar die regte tyd het twintig jaar later, sê Haggai, nog nie aangebreek nie. Hulle traagheid het daartoe gelei dat hulle self vooruit gegaan het, maar dat die Here se tempel nie aandag gekry het nie. Prakties beteken dit dat hulle nie hulle verantwoordelikheid teenoor God nagekom het nie. Hulle het die verbond verbreek deur die verbondsverhouding met God te ignoreer.

In Haggai 1 verse 7 tot 11 word pertinent verwys na die eer wat God ontsê is. Die beswaar dat die middele vir tempelbou ontbreek, is ongeldig. Hoewel die goud en silwer dalk ontbreek, is daar hout in die bergland vir konstruksie, hout wat reeds gebruik is vir die “betimmerde” huise (soos die Ou Vertaling dit stel).

Daarom, sê Haggai 1, het die Here ellende oor die volk gebring. Die misoeste was die gevolg van hierdie beledigende laksheid oor God se saak en gepaardgaande met ywer om eie belang. Die volk se sukkelbestaan was straf, nie toeval nie. Klaarblyklik het Haggai se woorde inslag gevind (1:12-15). Mense is weer vervul met eerbied (“vrees”) vir God (12) en het die bouwerk aangepak.

Haggai 2

Hoofstuk 2 begin deur ‘n werklike, eg menslike probleem aan te spreek (1-3). Die volk word gevra om die vorige luister van die tempel met die huidige vervalle toestand daarvan te vergelyk. Sommige ou ballinge het dalk die glorie van die ou tempel onthou. Met hulle beperkte middele kon hulle dit beswaarlik ewenaar. Mense wat heldhaftig teen ‘n oormag sal stry of grootse skeppingswerke sal deurvoer, werk langtand as hulle taak vir hulle tweederangs voorkom.

In verse 4 tot 5 ontvang die leiers en volk tipies Ou-Testamentiese bemoediging: Skep moed; Ek is met julle! Elders word sulke woorde dikwels aan mense wat voor groot uitdagings staan, gerig; hier is dit gerig aan mense wat moet deurdruk met werk wat vir hulle amper onuitvoerbaar lyk. Dit verg ‘n ander soort moed. Is God ook met ons in sleurwerk? Inderdaad, as hierdie sleurwerk verbondswerk is, want die Heer van die groot reddingsdade (die uittog uit Egipte) is ook die Heer van moeisame heropbou. God se Gees is, sonder wondertekens, teenwoordig waar gehoorsaam gewerk word.

In verse 6 tot 9 volg juis die belofte dat die groot dade weer kom – later. Moontlik het die teruggekeerdes onmiddellike wonderdade van God verwag en dus hulle alledaagse godsdienstige pligte verwaarloos. “Ek” (beklemtoon) sal die hemel en die aarde laat bewe, sê God; “myne” (beklemtoon) is die goud en die silwer. Julle werk is om met hout, klip en sweet die tempel te bou (by implikasie). Die “toekoms” van die tempel hang van God af.

Vers 6-7 en vers 8-9 loop parallel met mekaar. God se almag en al-besit staan eerste. Die dade sal die tempel laat vol loop met skatte; die rykdom sal die tempels se oortreffende roem verseker. Eindelik is dit die Here se magtige “teenwoordigheid” wat aan die tempel glorie verleen en aan die aanbidders vrede en omvattende welsyn.

Hier lê onteenseglik die klimaks van die eerste twee hoofstukke. Wat oënskynlik tempel-gesentreerd was, is eintlik God-gesentreerd. Dit gaan nie soseer om die gebou nie, maar die God van die gebou. Die drie swaartepunte is almal God se handelinge:

  • God straf die ongeërgde, selfbehepte volk;
  • God is met die volk wat die skynbaar ondankbare taak aanpak;
  • God se teenwoordigheid span die kroon op die arbeid.
Tipies menslik

Haggai beskryf vir ons tipies hoe ons as mense is. Toe die ballinge terugkom in die land, het dinge maar swaar gegaan. Ons weet die buurvolke was nie opgewonde nie, die ekonomie was swak, die Persiese belasting was hoog, en die werk baie.

Die gevaar is dat mense dan slegs die dinge rondom hulle, en hulle negatiewe omstandighede, begin raaksien. Hulle vergeet God, of verloor die groter perspektief op God wat oor die omstandighede troon. Dan leef mense nie langer vanuit die werklikheid van God nie, maar vanuit die omstandighede rondom hulle.

Ons teks gee ‘n paar voorbeelde van hierdie soort lewe.

Fokus op eie voorspoed en oorlewing

As die uitdagings in die samelewing hoog raak, begin mense op hulle eie voorspoed fokus. Hulle maak vir hulself bymekaar, bou huise en skep vir hulself ‘n toekoms sonder om vir die samelewing om te gee.

Mense kon selfs sê God bring nie sy kant nie. Waar is God se beloftes van herstel en vrede? Omdat God se “dienslewering” gebrekkig was, het die mense van God en God se tempel vergeet.

Niemand sou dit openlik sê nie. Daarom het hulle “in beginsel” besluit om die tempel te herbou; die bouplan was “nog op die agenda”. Maar dit was nie prioriteit nommer een nie. Dit is uitgestel. Uitstel het toe afstel geword.

Dat mense openlik gesê het die tyd is nog nie ryp nie, laat die vermoede dat hulle ‘n verskoning gehad het. “Ons wil nie afskeepwerk doen nie. Vir die tempel is net die allerbeste goed genoeg dus moet ons eers die boufonds verstewig.” Dalk het (onbewuste) luiheid, apatie en selfsug ook ‘n rol gespeel.

Dit lyk of ons ook in so ‘n tyd leef. Dit verg soveel energie om self te oorleef, dat ons die belange van God in die gemeenskap, die diens van die Here deur ons naaste in nood te dien, eerder afskeep. Ons moet eers ons eie opleiding voltooi, voordat ons diensbaar kan wees. Ons moet eers ons eie kinders deur skool en universiteit kry, voordat ons aan ander aandag kan gee, waaronder die Here se gemeente. So word uitstel afstel.

Mismoedig oor eie onvermoë

Mense raak maklik mismoedig omdat hulle dit wat hulle wil of moet doen, nie goed genoeg kan doen nie. Dit is ‘n fout. Chesterton het gesê: “Anything worth doing is worth doing badly”.

In Haggai is die probleem dat die luister en grandeur van die tempel wat die welvarende Salomo gebou het, nie deur ‘n klompie teruggekeerde ballinge geëwenaar kan word nie. Dis egter nie wat God vra nie. God vra die volk om in te spring, selfs sonder Salomo se rykdom en Salomo se bedrewe vakmanne. Gebruik wat beskikbaar is, soos hout uit die berg. Die tempel se uiterlike voorkoms tel minder as God se eer en mense se toewyding.

Nadat die bouwerk begin is, het die beswaar weer opgeduik. “Noem julle dit God se tempel? Ons wat die ou tempel gesien het, weet van beter.” Sulke kritiek sou des te pynliker gewees het vir diegene wat destyds al voorbehoude oor die projek gehad het. “Nes ons gedink het. Sonder die middele, vaardighede en kundigheid is ons bouwerk brouwerk. Ons moes liefs gewag het.”

Dissipline om deur te druk

Nog ‘n tipiese menslike faktor: As die werk nie “uitdagend” voorkom nie, word werkers traag. Om geduldig steen op steen te lê, is makliker as om die wêreld te red of vyande kaalhand te pak. Dit is ook verveliger. Sommige teologiestudente wat alles, selfs hulle lewe, vir God wil opoffer, ontsien die sleurwerk wat nodig is om Grieks 1 deur te kom.

Die dramatiese stryd teen apartheid was meer inspirerend as die tydsame stryd teen armoede, swak opvoeding en werkloosheid. Wat nie goeie beeldmateriaal vir die televisie is nie, wat ongesiens gedoen word, vuur mense nie aan nie.

Tog is God by ons in daardie sleurwerk wat ons dalk nie alte meesterlik of uiters effektief doen nie. Die Heilige Gees werk nie net deur tonge van vuur nie, maar ook deur hande met eelte. Dit hang af waarop (en op Wie) die werk gerig is. As Moeder Theresa geweier het om vir die Here ‘n kersie aan te steek omdat sy liewer ‘n kragstasie sou wou bou, was daar vandag minder lig in die wêreld. Die woorde “Ek is met julle” wat tevore aan krygsmanne op die vooraand van die stryd gerig is, kom nou aan mense wat moeisaam opbouwerk moet doen.

Ons “klein dinge”, God se groot dade. Ons werke steek nie die wêreld aan die brand nie en laat nie almal regop sit nie. Hulle bemiddel nie eens God se “magtige teenwoordigheid” en God se omvattende vrede nie. Dit is deurgaans genade. Nogtans moet ons luister wanneer niks luisterryk bereik kan word nie – hoor en gehoorsaam wees.

Toepassing: ‘n Haggai-tyd

Dit lyk dus asof ons in ‘n Haggai-tyd lewe.

Een voorbeeld: Ons was aanvanklik opgewonde oor die nuwe bedeling in ons land, maar die reënboog het vervaag en die son van geregtigheid het nie deurgebreek nie. Baie gewone Suid-Afrikaners voel, om verskillende redes, steeds magteloos. Ons kampusse gaan deur groot trauma, publieke geld word gruwelik wanbestee en gesteel, dienste verswak en klimaatsverandering laat ons regop sit. Ons land word deur massiewe ongelykheid tussen mense verlam.

Mens raak mismoedig omdat die taak te groot lyk. Dan bou ons, ja, bou ons maar: huise met veiligheidshekke en hoë heinings, “lifestyle enclaves”, selfs in die kerk, of ons bou lugkastele oor ‘n paar biere. Geen plek waar God se magtige teenwoordigheid kan verskyn nie. Die “glory days” van die kerk, die struggle, wit “gracious living” is verby, al mymer ons nog onder mekaar daaroor.

Sulke omstandighede is die teelaarde van apatie en amper “onskuldige” selfsug. Omdat ek nie grootse bouwerke kan aanpak nie, bou ek maar my eie “huis” (loopbaan, bankbalans, vriendekring, stokperdjie). Sonder boosheid, sonder oormatige ywer. Omdat my druppel skaars verskil aan die emmer sal maak, bied ek dit nie aan nie.

Dit verg ‘n rare soort moed om uit hierdie moeras te kom – en besondere geloof.

God hou van mense wat bou

Waar is God wanneer mense onder moeilike omstandighede tog besig is om God se bouwerk voort te sit? Al is dit klein dinge waarmee ons besig is. Waar is die groot God onder hierdie klein dinge?

  • Presies waar mense vervelige sleurwerk doen onder moeilike omstandighede. Waar mense gehoorsaam opbou. Want eers wou hulle nie.
  • God maak mense vry van hul besware teen bou. Let op dat daar geen onmiddellike antwoord op die beswaar is nie. “Bou voort!” is die eerste woord gewortel in God se verbondstrou. Die uittog uit Egipte was geen piekniek, tog het God die volk daardeur gedra. Hy sal hulle nou weer dra.
  • God bevry mense ook van vrees. Moenie bang wees nie. Want hierdie mense was bevrees. Nie vir reuse rampe nie, maar vir nog ontnugtering, mislukking, minderwaardigheid. Bang vir hulle eie kleinheid en onhandigheid. Hulle kyk so “nugter” na wat hulle werk kan bereik, dat hulle miskyk wat God met hulle werk kan bereik. En “hulle” is natuurlik deels ook “ons”.
‘n Nuwe belofte

Mense wat bou, kom agter hulle leef onder God se belofte. Eintlik is dit God wat bou, en in God se genade vir ons klein takies in hierdie bouproses gee (6-9):

So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe. Dan sal Ek al die nasies laat wakker skrik en hulle sal met hulle skatte kom en so sal Ek hierdie huis met rykdom vul, sê die Here die Almagtige 8Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige. Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.

God se “magtige teenwoordigheid” wat beloftes vervul en ons werk vul (vol maak en vervolmaak) kom deur God se amper onbemerkte teenwoordigheid by mense wat God se werk, skynbaar onbenullige werk, doen. Dit kom eindelik deur God se teenwoordigheid by en in die Jesus, die gekruisigde – skaars indrukwekkend.

Hulle (en ons) menslike werk is nie bloot onbaatsugtige opoffering nie, want “op hierdie plek sal Ek my vrede gee”. “Vrede” is (in die Hebreeus) God se laaste woord. Hierdie omvattende heil, die rykdom waarmee goud en silwer nie vergelyk nie, is uiteindelik vir almal – as gawe. Die is nie die resultaat van die werk of die beloning daarvoor nie. Dit is eerder die basis daarvan: omdat God in die belofte – en in Christus – hierdie heil tot stand bring, kan ons moedig werk, al bereik ons skynbaar min.

God stuur ons om te leef

Gebed

Nav die inleiding tot die preekriglyn is hierdie gebed van Sr Francis Drake (1577) in Afrikaans vertaal:
Verontrus ons Here, wanneer ons tevrede is met onsself, wanneer ons drome realiseer omdat ons te klein gedroom het, wanneer ons veilig aan wal stap omdat ons te na aan die kus geseil het.

Verontrus ons Here, wanneer ons weens die oorvloed van ons besittings ons hunkering verloor na die water van die lewe, wanneer ons ophou droom van die lewe hierna in God se teenwoordigheid, wanneer ons pogings om ‘n nuwe aarde te skep ons visie van die hemel laat vervaag.

Verontrus ons Here, om in die geloof te waag met nederige moedigheid, om die oop see aan te durf waar die storms ons vaardighede mag toets, waar ons sig van die land sal verloor maar die sterre sal herken. Ons vra u om die grense van ons horison verder te skuif dat ons dit daar mag waag in krag, geloof, hoop en liefde.

Skep in ons ‘n heilige ontevredenheid met die status quo!

Offergawes

Wegsending: Lied 513 “Soek in God jou sterkte vs 1,2,3”

Seën: Uit 2 Tessalonisense 2
En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ’n blywende troos en goeie hoop gegee.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.