Vyf en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Christus se offer is totaal anders as menslike offers. Daarom laat dit ons met ’n vaste geloof uitsien na die eindtyd wanneer Hy weer sal kom. Net soos God in die tyd van Rut en Boas ’n nageslag voorsien het, so voorsien Hy ook vandag vir ons. Daarom kan ons in afhanklikheid ons huise bou en ons lewe inrig. Op die manier offer ons ook ons lewe aan Hom.

Ander tekste

Rut 3:1-5; 4:13-17
Rut en Boas by die dorsvloer
3 Rut se skoonma Naomi het vir haar gesê: “My dogter, dit is my verantwoordelikheid om vir jou ’n heenkome te soek sodat dit met jou goed kan gaan. 2Kyk, Boas saam met wie se werksters jy gewerk het, is mos familie van ons. Hy dors vannag gars op die dorsvloer. 3Was jou, maak jou mooi en trek jou netjies aan en gaan na die dorsvloer toe. Moenie dat hy jou gewaar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. 4Wanneer hy gaan slaap, sorg dat jy weet waar hy gaan lê. Dan gaan jy soontoe en kruip by sy voete in. Hy sal jou dan sê wat jy moet doen.”

5Toe antwoord Rut: “Ek sal doen wat u gesê het.”

13Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ’n seuntjie in die wêreld gebring. 14Die vrouens sê toe vir Naomi: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ’n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 15en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring.”

16Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem.

17Haar buurvroue het die seuntjie toe ’n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “’n Seun is vir Naomi gebore.”

Obed was die voorvader van Dawid.

Psalm 127
As die Here die huis nie bou nie
127 ’n Pelgrimslied. Van Salomo.
As die Here die huis nie bou nie,
swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie,
waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan
en laat gaan slaap
om met moeite ’n bestaan te maak.
Vir dié wat Hy liefhet,
gee die Here dit in hulle slaap.
3Seuns is geskenke van die Here,
kinders word deur Hom gegee.
4Soos pyle
in die hand van ’n krygsman,
so is seuns wat gebore is
toe hulle vader nog jonk was.
5Dit gaan goed met die man
wat sy pylkoker so gevul het!
Sulke mense het niks te vrees
as hulle met die vyand
in die stadspoort onderhandel nie.

Markus 12:38-44
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes
(Matt 23:1–36; Luk 20:45–47)
38Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word, 39wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê. 40Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Die arm weduwee se gawe
(Luk 21:1–4)
41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe ’n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Fokusteks

Hebreërs 9:24-28
Die aardse heiligdom en sy offers
9 Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens gehad, en ook ’n aardse heiligdom. 2Die verbondstent is opgerig, en in die voorste gedeelte daarvan, wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. 3Agter die tweede voorhangsel was die gedeelte wat die Allerheiligste genoem word.

4Daarin was die goue wierookaltaar en die verbondsark, wat in sy geheel met goud oorgetrek was. In die ark was die goue kruik met manna, die kierie van Aäron wat gebot het, asook die plat klippe met die wet van die verbond daarop geskrywe. 5Bo-op die ark het die gerubs wat die heerlikheid van God voorstel, hulle vleuels oor die versoendeksel uitgestrek. Op die besonderhede kan ons nie nou verder ingaan nie.

6Met die dinge só ingerig, het die priesters gereeld die voorste gedeelte van die verbondstent binnegegaan om die dienste te verrig. 7Maar in die agterste gedeelte het alleen die hoëpriester ingegaan, en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het. 8Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na die Allerheiligste toe nie oop is solank as die voorste gedeelte van die verbondstent bestaan nie. 9Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, ’n volkome skoon gewete kan gee nie. 10Dit het net betrekking op voedsel, drank en ’n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God ’n beter orde sou instel.

11Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.

15Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. 16Dit is soos met ’n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, 17want ’n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie. 18Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie. 19Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel 20en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het.” x21Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed besprinkel. 22Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.

Christus die volkome offer
23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.

24Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ’n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Ekstra stof

9:15-22 – Jesus is nou ’n Middelaar van ’n nuwe verbond
Daarom kan Jesus dié wat geroep is die belofte van die ewige erfenis gee.  Sy dood het dié testamentêre bemaking bekragtig.  Soos Moses die wetboek met bloed besprinkel het om die bepalinge daarin van krag vir die volk te maak, só het Christus die beloftes van God bekragtig deur die offer van sy eie bloed.  Hy het dus die onvervreembare reg om vir elkeen van ons wat in Hom glo, die ewige lewe te gee.  Hy kán tussen ons en God staan en ons aan mekaar verbind, presies wat ’n Middelaar doen.

Boodskap
Dit is interessant dat die apostel Petrus die reiniging van die gewete aan die doop verbind in 1 Pet. 3:21 en die doop “as ’n gebedsversoek tot God om ’n skoon gewete op grond van die opstanding van Jesus Christus“, beskryf.  Soos Maarten Luther gesê het:

There is no greater weapon for the troubled conscience than one’s Baptism.  We must humbly admit, ‘I know full well I cannot do a single thing that is pure, But I am baptized and through my Baptism God, who cannot lie, has bound Himself in a covenant with me. He will not count my sin against me, but will blot it out’” (Luther’s Works, Vol 29, bl. 36).

Hebreërs 9:23-10:18 – Jesus Christus verskyn in die heiligdom voor God ter wille van ons
Die skrywer kom nou by die derde gevolg van Jesus se Hoëpriesterskap:

  • Benewens die feit dat Jesus in die eerste plek tussen ons en God staan as Middelaar om ons met Hom te versoen (Hebr. 8:1-13),
  • benewens die feit dat Hy in die tweede plek ons gewete reinig van dooie werke om die lewende God vandag te dien (Hebr. 9:1-22),
  • verskyn Hy in die derde plek in die hemelse heiligdom voor God ter wille van ons totdat Hy weer kom om ons te verlos (Hebr. 9:23-10:18).

En dít doen Hy vir ewig.

Die skrywer spel hierdie derde gevolg van Jesus se Hoëpriesterskap in twee perikope uit:

  • Jesus reinig die hemelse heiligdom deur sy bloed – 9:23-28
  • Jesus maak ons heilig eens en vir altyd – 10:1-18

9:23-28 – Jesus reinig die hemelse heiligdom deur sy bloed
Let op dat sonde hier nie net as iets geteken word wat ’n effek op die sondaar en sy gemeenskap het nie, maar dat dit inderdaad ’n invloed in die hemel gehad het.  Sonde het ’n wig ingedryf tussen ons en God, want dit het sy verhouding met ons besoedel.  Daarom was dit nodig dat Jesus ’n offer bring wat die afstand tussen God en ons kon oorbrug, en so “die sonde ter syde te stel“, waarna Hy die voorreg kon benut om “nou ter wille van ons voor God te verskyn“.

Dít kon die aardse rituele van die aardse heiligdom nooit regkry nie, want dit het beperkinge in terme van ruimte en tyd gehad.  Dit was uiteraard aardsgebonde, maar ook lewensduurte gebonde – die hoëpriesters het immers almal gesterwe!  Jesus daarenteen is die Een wat ewig lewe.  Met Sy kruisdood, opstanding en hemelvaart het Hy die hemelse heiligdom gereinig en God se guns vir mense verwerf.  Met Sy wederkoms sal Hy die proses voltooi, waarmee ons, wat Hom verwag, nie maar net van ons sondes bevry sal word nie – Hy het immers reeds daarvoor gesorg – maar volkome verlos sal word (9:28).

10:1-18 – Jesus maak ons heilig eens en vir altyd

Die skrywer hak by wyse van vergelyking aan by die offerkultus van die OT wat sy waarde gehad het, maar nooit die aanbidders tot volmaaktheid kon bring nie.  Die offers van die OT kultus kon nie die besef van sonde uitwis nie, iets wat inderdaad moontlik is in die nuwe bedeling wat Jesus gebring het.  Trouens, die gedurige offers het juis die aanbidders aan hulle sondes herinner, want die bloed van die diere offers kon per slot van sake onmoontlik hulle sondes weggeneem het.

Daarom was die offer van Jesus nodig met die liggaam wat God vir Hom voorberei het: “Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God!” aangehaal uit Psalm 40:7-9 as heenwysing na Jesus Christus.  Die Levitiese offerstelsel is daarmee beëindig met die volmaakte offer van Christus: “Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd.

Sedertdien wag Jesus totdat sy vyande “’n voetbank vir sy voete gemaak word, want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak.”  Dít is die erfenis van elkeen wat in Hom glo.  Dít is die verbond wat met ons gesluit word dat God nie net sy wette in ons harte gee en op ons verstand neerskryf nie, maar glad nie meer aan ons sondes en ons wettelose dade dink nie!

Die besef van sonde is dus uit God se geheue weggeneem deur die offer van Jesus … dit is die omvattende betekenis van hierdie boodskap.  Dít is waarom daar ook nie meer ’n offer vir ons sondes nodig is nie, want die vergifnis wat Jesus gebring het, het God se geheue vir ons sonde uitgewis: “Ek sal glad nie meer aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade dink nie.

Boodskap
Die werk van Jesus Christus in elkeen van ons se lewe is van onskatbare waarde.  Dit omvat ons hele lewe.  Daar is niks waarvoor Jesus nie verantwoordelikheid vat in ons lewe nie:

  • Jesus het afgehandel met ons verlede deur ons met God te versoen (Hebr. 8). Ons kan daarop staatmaak!
  • Jesus stel ons in staat om God te dien vandag, omdat ons gewete gereinig is en ons sonder skroom voor God kan staan (Hebr. 9). Al wat nodig is om die waarde hiervan te geniet, is om ons skuld voor Hom te bely en sy belofte om ons gewete te reinig, vir onsself toe te eien en God dan met alles in ons te dien (vgl. ook 1 Joh. 1:9: “As ons ons sondes erken – Hy is getrou en regverdig en daarom sal Hy ons ons sondes vergewe en ons van alle kwaad reinig.“).
  • Jesus neem verantwoordelikheid vir ons toekoms deurdat Hy 1) vir altyd voor God verskyn ter wille van ons en 2) ons heilig maak eens en vir altyd (Hebr. 10). En daarmee sal Hy nooit ophou nie, totdat Hy weer kom ons te verlos en Hy ons aan God bekend sal stel met die woorde: “Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het!” (Hebr. 2:13).

Dít is natuurlik ook waarom ons niks anders as Hy nodig het nie.  Jesus is genoeg.  Hy handel met verlede, hede en toekoms.  Jesus is meer as genoeg.  Hy sal ons nooit in die steek laat nie.  Hy sal ons verlos.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 168 “Heilige Jesus, Heer v/d Here vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 127

Seëngroet: Galasiërs 1:3-4

Lied 148 “Prys uit die hemele die Heer vs 1,3,4,5,9”

Wet: Markus 12

Skuldbelydenis: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Vryspraak: Hebreërs 9

Geloofsbelydenis            

Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Hebreërs 9:24-28

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 462 “Aan U, ons Vader, lof en dank 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 168 “Heilige Jesus, Heer v/d Here vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 127
As die Here die huis nie bou nie,
swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie,
waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
of
Voorganger: As die Here die huis nie bou nie, swoeg die wat daaraan bou, tevergeefs.
Gemeente: As die Here die stad nie beskerm nie, waak die wat dit beskerm tevergeefs

Seëngroet:
Galasiërs 1:3-4
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring.

Lied 148 “Prys uit die hemele die Heer vs 1,3,4,5,9″

Wet: Markus 12
Die arm weduwee se gawe
(Luk 21:1–4)
41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe ’n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Skuldbelydenis: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Vryspraak:
Hebreërs 9
11Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring.

15Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.

Geloofsbelydenis
Enigste Here, enkele Wese,
ons glo in U met ons hele hart.
Heerlik bely ons, vry-uit getuig ons:
U is vir ewig God en Heer.
U, onbegryplik, U is onsienlik,
altyd dieselfde, oneindig groot.
U is almagtig, wys en regverdig,
U is die bron van alle goed.
(Lied 265)

Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Liedere

F126. “Jesus, Lig in die duisternis “
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding & Verwondering)

Jesus, weg waarop U my lei
Jesus, waarheid, U maak vry
Jesus,  lewe by U te kry
ek prys U

Refrein:
Waar sou ek gaan sonder U?
waarom bestaan sonder U?
Jesus, my hoop en my krag
U is my Heer,
U is my Heer

Jesus,  tot die tyd só bestem
Jesus,  totdat ek U kan ken
Jesus,  gee ek my hart en stem
Ek prys U

Refrein:
Waar sou ek gaan sonder U?
waarom bestaan sonder U?
Jesus, my hoop en my krag
U is my Heer,
U is my Heer

F139. “Genade Verniet!”
(RUBRIEK:  Kontemporêr – Lof)
Teks en Musiek: Mynhardt van Pletzen (Addisionele teks: Elsabé Viviers)
© 2005 Mastermax Publishing

Genade verniet
Oor my uitgegiet.
Ek skuld U al my dae oor en oor
My wysheid my wins
Help my net mooi niks
Ek smag na U en U alleen
My hart, Jesus, sing

Deur die koudste nag
Deur die langste dag
Elke oomblik sal ek onthou
Van u trou, o Heer
In my tyd van seer
Was u liefde om my gevou

U liefde in my lewe
Gaan my verstand te bowe
Geen ander belofte
As dit wat U belowe

God praat met ons en ons luister

Epiklese
God van ons tyd en alle ander tye,
God van ons wêreld en alle ander wêrelde,
magtige en liefdevolle God,
ons aanbid U en eer U.
Jesus Christus, Seun van God, ons broer en vriend.
U is die Woord wat na die wêreld gekom het, mens geword het, gesterwe het en begrawe is. Ons tot heil en hoop.
Ons aanbid U en eer U.
Heil’ge Gees, U is in ons en tussen ons.
U wys ons onsself en open ons oë vir ons naaste.
U vul ons met liefde en bemagtig ons om elke dag te leef vanuit U toekoms.
Ons aanbid U en eer U.
O God, groter as ons verstaan en nader as ons asem.  Open nou ons harte en u Woord sodat ons u beter kan eer, beter kan liefhê en beter kan dien. Amen.

Skriflesing: Hebreërs 9:24-28

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Hebr. 9:20-25  Die Eiffel toring in Parys
Vra vir die kinders wat dit is:
Dis die Eiffel toring.  Vra nou vir hulle of daar iemand is wat weet waar dit staan: (As die kinders nie weet nie, laat die grootmense antwoord)

Die antwoord is Las Vegas! Nie Parys nie.  In Las Vegas is daar ’n afbeelding/ namaaksel van die regte een wat in Parys is.
Hieronder is die regte een wat amper meer as dubbeld so groot is as die een in Las Vegas.  Parys s’n is voltooi in 1889 en Las Vegas s’n eers in 1999, meer as honderd jaar later.

Die Eiffel toring is die bekendste simbool in Parys en het die Franse rewolusie 100 jaar later herdenk – die bevryding van die Franse onder die onderdrukking van die konings.

Die tabernakel was ook maar net ’n afbeelding/namaaksel van die hemelse. Maar dis al waar die mense verlossing kon kry.  Hulle moes maar tevrede wees met ’n hoëpriester wat ’n namaaksel van die Here is, wat in ’n allerheiligste ingaan wat ’n  namaaksel van die hemel is (vers 23).

Maar gelukkig weet ons Jesus is hemel toe om die ware ding te gaan doen.  Die ware God wat in die ware Hemel ingaan en ons saak bepleit by die Vader.

Jesus is ook ons bekendste simbool wat ons bevryding uit onderdrukking is.

Gee vir die kinders namaaksel lekkers (elke crazy store het sulke klippies en knopies wat lyk soos lekkers) as hulle besef mens kan dit nie eet nie, gee dan vir hulle die ware jakob.

Preekriglyn

Die Hebreërbrief bring die evangelie van Jesus Christus aan sy lesers tuis op ’n unieke manier aan mense in hulle unieke omstandighede.

Dit is gerig aan mense wat deur geloofsbeproewing gaan. Hierdie beproewing lei tot vertwyfeling en wanhoop. Die eerste lesers het in hulle swaarkry vasgekyk en hulle visie op Jesus Christus verloor.

Wanhoop word hoop

Die skrywer wil Jesus Christus aanbied as oplossing vir hulle wanhoop en vertwyfeling. Hy wil die wanhoop vervang met hoop op Christus. Daarom dring die skrywer reeds in hoofstuk 3:1 by sy lesers aan: “Julle moet noukeurig let op Jesus.” Die idee is om Jesus Christus in sy heerlikheid aan hulle voor te hou: dat Hy die volmaakte hoëpriester is wat die volkome offer gebring het; Hulle moet vashou aan hierdie belydenis; Jesus se eenmalige offer stel hulle in staat om met vrymoedigheid na God te gaan.

Die Hebreërbrief is geskryf vir tweede en derde generasie gelowiges wat begin twyfel in hulle geloof in Christus vanweë hulle swaarkry. Hulle worstel met die vraag of dit nog die moeite werd is om te glo. Hulle ervaar die toekoms as uitsigloos. Hulle leef tussen halfhartige hoop en vrees. Hul halfhartige hoop word vervang met vaste hoop op Christus. Daar bestaan ’n geestelike vakuum op die geloofspad, want hulle sien nie die onmiddellike vervulling van die beloftes waarvan hulle geleer is nie. Daarom bevat Hebreërs ’n vermaning/oproep tot volharding in die geloof en Christelike lewenswandel.

Ons teks

Die goeie nuus van God se totale en ewige vergifnis deur Jesus Christus word in ons teksgedeelte  uitgespel. In hierdie verse kontrasteer die skrywer die erediens onder die ou verbond met diè onder die nuwe verbond. Hy lig die volmaaktheid en die uniekheid van die erediens onder die nuwe verbond uit. Hy bevestig in hierdie gedeelte die nuwe orde wat ’n ewige verlossing bring deur Jesus Christus se offer. Daarom staan Christus absoluut sentraal in hierdie gedeelte.

Dit is belangrik om op die taalgebruik en die oorredende styl van die skrywer te let. Die skrywer gebruik verskillende literêre tegnieke om sy boodskap effektief tuis te bring:

  • Eerstens gebruik hy die tegniek van  vergelyking tussen twee sake om sy standpunt duideliker uit te bring. Die skrywer wil byvoorbeeld die groter waarde van Jesus Christus se offer bo die offers van die ou verbond beklemtoon. ’n Ander voorbeeld is in Hebreërs 7:11-28, waar die outeur ’n agvoudige vergelyking tref tussen Christus en die hoëpriester Melgisedek, om te wys dat Jesus soveel meer uitnemend is as Melgisedek.
  • ’n Tweede literêre tegniek is ’n lys voorbeelde wat mekaar opvolg as  verwysingsraamwerk, soos in Hebreërs 11. Dit bevat ’n lys name van God se diensknegte.
  • ’n Derde literêre tegniek wat die skrywer gebruik is om te beweeg van lig na swaar, of van min na baie. Die skrywer beweeg van ’n ligte argument na ’n swaar argument. In Hebreërs 10:28-29 beweeg hy vanaf Moses na Jesus Christus. In ons Skrifdeel gebruik die skrywer hierdie tegniek om sy boodskap tuis te bring. Hy praat van die hemelse realiteit en die einde van die tyd, asook oor die tweede koms van Jesus Christus (24). Dis nie ’n alledaagse gesprek nie, maar eerder eskatologiese taal wat die skrywer besig.
Tabernakel

Hebreërs 9:24-28 verwys na die tydperk in die geskiedenis van Israel toe die plek van aanbidding die tabernakel was. Dit was die heiligste van heilige plekke, die plek waar die hoëpriester een maal ’n jaar ingegaan het om ’n offer, namens die volk, vir hulle sondes te bring.

Die skrywer sê vir sy lesers hierdie heiligdom is ’n afbeelding van die hemelse realiteit (23). Hierdie offer was eintlik minderwaardig teenoor Jesus Christus se offer aan die kruis op Golgota. Jesus Christus se eenmalige offer is nie ’n plaasvervanger vir iets soos die priester se offer waarvan die bloed simbolies is nie, maar Christus is die ware offer (25). Sy offer was uniek, nie-herhaalbaar en eenmalig (26). Hy was self as offer genoeg om totale versoening vir die mens met God te bring.

Jesus se eerste verskyning en selfopoffering, is ’n teken van die einde van die tyd. Christus sal die tweede keer kom om diegene te red wat sy koms verwag het.

Wie Jesus is

In hierdie gedeelte word ons gekonfronteer met die volle inhoud van wie Jesus is, vandag nog is. Die teks staan in die teenswoordige tyd. Die effek van hierdie eenmalige offer was nie net vir ’n spesifieke historiese moment bedoel nie. Die resultaat van Jesus se opstanding is steeds geldend vandag en sal dit wees in die toekoms (26).

Dit is slegs hier in die Hebreërboek dat Jesus die outentieke titel van Hoëpriester ontvang. Die skrywer beklemtoon so dat Jesus as Hoëpriester bo die Levitiese priesterdom staan. Die offer wat Jesus gebring het, was nie op ’n afstand nie. Hy het voor God verskyn namens die mensdom (24). Hy het die offer eenmaal gebring namens almal.

Die boodskap in vers 28 is ’n heenwysing na die aard van Jesus se salwing. Hy het tot op die vlak van die mens gekom sodat Hy deur elke menslike ervaring kon gaan. Hy het dus eenmaal gesterf vir almal. Die offer was eenmalig, waarna Hy terug is na God toe.

Jesus Christus sal ook vir ’n tweede keer kom, nie as ’n offer nie, maar as verlossing vir diegene wat Hom verwag en as regter (28).

Toepassing

Hierdie teks het ‘n duidelike boodskap wat fokus op wie Jesus is en wat Hy vir ons doen.

Volmaakte offer

Eerstens het Christus ons sonde oorwin sonder dat ons mekaar moes offer. Christus het dit een keer vir almal gedoen. Die klem val op Christus se enkele selfoffer wat in kontras staan met die herhalende Ou-Testamentiese offers in die tabernakel. ’n Menslike offerstelsel sal herhaaldelik moes wees terwyl Christus se offer net eenmalig is. Christus het die hemel ingetree vir alle mense deur sy eenmalige offer aan die kruis.

Die skrywer kontrasteer die erediens onder die ou verbond met dié onder die nuwe verbond. In hoofstuk 9:23-28 lig hy die volmaaktheid en die uniekheid van die erediens onder die nuwe verbond uit. Hy verduidelik waarom die offers van die ou verbond ’n mens nie van jou sondelas kan bevry nie. ’n Uiterlike offer kon nie vir die mens geloofsekerheid bring nie. Daar moes ’n ander moontlikheid kom wat net deur God bewerk kon word. Die beter moontlikheid was Jesus Christus as Hoëpriester wat vir die sondaarmens twee dinge doen:

  • Hy bring vergifnis en genade;
  • Sy offer is ’n waarborg dat ons nie weer in die sonde hoef terug te val nie.

Hierdie nuwe ordereëling van God het ewige verlossing gebring.

Namaaksel en werklikheid

Tweedens lig die skrywer die kontras tussen namaaksel en realiteit (oorspronklike) uit. Die aardse tabernakel is ’n namaaksel van die hemelse model. Hier is ’n verwysing na ’n tyd in Israel toe die plek van aanbidding ’n heiligdom was waar die hoëpriester een keer per jaar ingegaan het om offers aan God te bring vir homself en die volk. Die skrywer van die Hebreërbrief sê dit is net ’n namaaksel van die hemelse realiteit. Hierdie namaaksel is ’n minderwaardige afbeelding van die werklike offer van Jesus Christus. Die teksgedeelte praat oor die aard van Christus se salwing terwyl Hy op aarde was. Die skrywer van die brief moedig sy lesers aan om hierdie beeld van Christus na te streef.

Daar is altyd die stryd tussen die namaaksel en die oorspronklike. Daar is ’n hemelse verskil tussen ’n afbeelding en ’n oorspronklike. In Hebreërs 9:24-28 word die lesers aan twee fundamenteel teologiese sake herinner, naamlik: die sfeer van die hemel; en die funksionele plek van Christus in die hemel, nadat Hy sy werk op aarde afgehandel het. Hierdie “werk” op aarde is gedoen met die oog op die hemel.

God se troon is in die hemel gesetel vanwaar Hy sy kinders aanspreek en beskerm. Dit is die sentrum vanwaar Jesus ook bemagtig is. Jesus Christus het ook nie na die hemel vertrek om aanhoudende rituele te gaan uitvoer nie. Sy eenmalige ritueel aan die kruis is afgehandel. Sy stryd en lyding is verby en nie weer herhaalbaar nie. Hy het hom slegs een keer as offer gegee en dit was genoeg. Alles is klaar hier op die aarde gedoen. Die skrywer beklemtoon dit is die plek waar Jesus gesalf (annointed) is, iets wat nie in enige aardse tabernakel gedoen kon word nie. Met sy eenmalige offer het die ou era geëindig. Die nuwe era begin met Jesus Christus se offer.

Eenmalige sterwe

Derdens sê die skrywer Jesus Christus het eenmaal gesterf. Daarom sal alle mense ook net eenmaal sterwe voordat die oordeel kom. Elke mens sal vir sy eie sondes geoordeel word en hierdie keer sal Hy, die offer, ook regter wees.

Die teksverse herinner ons aan twee dinge:

  • Die sentrum van die hemel. God se troon is in die hemel vanwaar Hy met ons kommunikeer;
  • Die funksionele plek van Jesus Christus. Die hemel is ook die plek vanwaar Jesus Christus bemagtig word. Die skrywer sê dit is die plek waar Jesus gesalf is, iets wat nie in ’n aardse tempel gedoen kon word nie. Jesus Christus het die hemel betree. Sy handeling was ’n eenmalige daad, uniek, onherhaalbaar en effektief.

Jesus se eerste verskyning is die begin van ’n era. Met sy tweede koms sal Hy verskyn om diegene te red wat Hom verwag het. Die skrywer van die brief deel ons mee dat Christus ’n tweede maal sal kom, maar nie as offer nie. Sy offer was eenmalig, waarna Hy na God toe is. Hy het net een maal gesterf. Hy het neergedaal tot die vlak van menslikheid. Hy het elke ervaring van die dood deurgemaak. Die skrywer laat geen twyfel oor die werklikheid van ’n toekomsbestemming en ’n toekomstige oordeel nie.

Ons ou en nuwe lewe

Teen hierdie agtergrond kan ons dink aan die twee fases of bestaanswyses in die mens se lewe: die ou en die nuwe lewe.

Hierdie twee bestaanswyses/nature is gedurig met mekaar in konflik. Die ou mens, die fisieke geboorte, was eerste. Die nuwe mens (tweede fase/natuur), die nuwe geboorte deur die Heilige Gees, was tweede.

Die wet van die natuur sê die eerste geboorte is dominant oor die tweede bestaanswyse. Die apostel Paulus beskryf dit in Galasiërs 5:17:

Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar. Daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.”

Die ou natuur veg vir beheer oor die nuwe natuur.

Die genade van God wat deur die eenmalige offer van Jesus Christus kom, keer dit totaal om. In die genadeoffer van God kom die tweede natuur eerste en die eerste natuur tweede.

Op grond van Christus se offer kan ons nuut lewe.

Inhoud van ons geloof

Die skrywer wil die lesers in hierdie gedeelte bemoedig deur hulle aan te moedig om te fokus op die inhoud van hulle geloof. Die inhoud van hulle geloof waarvan hulle moet kennis neem is dat Jesus Christus gekom het as vervulling van die wet. Christus kom as die Een wat die sondeskuld betaal het. Hy kom as die Een wat verlossing gebring het. Hierdie verlossing is ’n geskenk van genade.

Hierdie tweede en derde geslag Christene kan nie die onmiddellike beloftes waarvan hulle geleer is, in vervulling sien kom nie. Die verbond van genade wat Jesus met sy eenmalige, onherhaalbare dood moontlik gemaak het, was finaal en onveranderlik. Dit was Jesus se Nuwe Testament wat die Ou Testament vervang het. Sy dood en sy bloed het die onbreekbare seël geword van hierdie Nuwe Testament, bedoel vir diegene wat in Hom glo.

Testament

Hoor Hebreërs 9:16-18:
Dit is soos met ’n testament: Daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, want ’n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker, dit word nooit van krag solank as hy nog leef nie.

Christus se bloed was die bewys van sy dood. Daarom bekragtig sy dood die testament. Wanneer iemand vandag sterwe word so ’n persoon se testament deur ’n eksekuteur behartig. Somtyds kan die eksekuteur die bedoeling van die testamentmaker mis-interpreteer, sodat die testament deur ander betwis kan word. Christus het egter sy testament klaar bemaak in geen onduidelike taal nie. Toe Jesus sterf, het Hy dit ook met sy bloed beseël.

Anders as by ’n gewone testament, het Jesus Homself as eksekuteur aangestel, sodat Hy seker kon maak diegene wat die erflating verdien, verkry hulle regte deel. Daarom sit Hy aan die regterhand van God as regter en as eksekuteur. Hy stuur egter nou alreeds sy agent, die Heilige Gees na die wêreld om te waarborg sy laaste wense word uitgevoer.

Ons word dus die begunstigdes van Jesus Christus se testament. Diegene wat hulle geloof in Jesus Christus bely, deur ’n lewe van geloof, hoop en liefde, kan seker wees van hulle erfdeel. Die skrywer doen dus ’n beroep op Christene om ’n Christus georiënteerde lewenspad te loop, ten einde te kwalifiseer as begunstigdes van hierdie nuwe testament. Jesus Christus se eenmalige offer was God se perfekte plan om die mens te laat deel in die voordele van ’n nuwe testament. Die sirkel van die Ou-Testamentiese offerstelsel vir sonde het met die offer van Jesus Christus tot ’n einde gekom. Sy eenmalige offer het ons erflating van ’n nuwe hemel en ’n ewige lewe gewaarborg.

Verwagting

Hoofstuk 9 eindig met die woord “verwag”. Daar is ’n aanmoediging/appèl om voortdurend in die verwagting van Christus se wederkoms te leef.

Hierdie verwagting verander ons hele lewe. Dit bou op Christus se afgehandelde, eenmalige offer. En dit verwag die heerlike vervulling van ons geloof wanneer Jesus weer kom. Ons het ‘n anker en ‘n toekoms.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here God van liefde,
waar ons ook mag gaan,
wil ons in u skadu by U staan.
Hoor ons dankgebede,
hoor ons loflied styg
as ons aan U ons dank betuig.
Here, u genade het ons hier behou,
in u hand van liefde vasgehou.
Moet nooit van ons wyk nie,
skenk aan ons u seën, Here,
laat ons nooit alleen.
Heer Jesus, laat ons nooit alleen,
ons wil vir ewig op u almag steun;
want elke knie sal buig
en elke hart sal juig,
Here Jesus, neem ons bede aan.
(Lied 286)

Offergawes

Wegsending: Lied 462 “Aan U, ons Vader, lof en dank 1,2,3”

Seën
Die Here bou ons huise, daarom bou ons nie tevergeefs nie;
die Here beskerm ons stad, daarom waak en beskerm ons nie tevergeefs nie.
So seën die drie-enige God ons, nou en vir altyd.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.