Vierde Sondag van Paastyd (Goeie Herdersondag – Arbeidsondag)

Picture of Woord en Fees

Vierde Sondag van Paastyd (Goeie Herdersondag – Arbeidsondag)

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Johannes 10:1-10
Ander tekste: Handelinge 2:42-47; Psalm 23; 1 Petrus 2:19-25

Inleiding

Die deurlopende tema op Goeie Herdersondag is God wat ons tot rus bring, beskerm¸ verkwik, lei en laat feesvier. Ons word opgeroep om dit ook vir mekaar te doen. Dit kos egter iets en ons sal soos Jesus bereid moet wees om ’n lydensweg te loop, soos ’n slagdier behandel te word en groot opofferings te maak. Ons andersheid kan tot gevolg hê dat die gemeenskap van gelowiges ook ander na die magneetveld van God se kudde trek.

Dit is Arbeidsondag. Staan genoeg tyd vir gebed hiervoor af. Gebruik eie inisiatief of kleur dit soos volg in: Bid vir ons land en ekonomie en wys op die nuutste werkloosheidsyfers. Bid vir hulle wat nie werk kry nie en hulle wat gestremd is en nie kan werk nie. Bid vir die wat ongelukkig is in hulle werk, swak arbeids-verhoudinge beleef en stres of uitbranding ervaar. Bid vir hulle wat in die werk as “herders” en mentors optree. Bid dat hulle billik sal wees en ’n goeie voorbeeld sal stel.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Jesus is die Goeie Herder.
Gemeente: Die Goeie Herder lê sy lewe af vir sy
skape (Joh 10:11) .
Almal:  Amen.

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Solank as die mens sy gewaarwordinge in taal bly formuleer Here, laat my taal leef en mag U dit nooit van die liggaam van Afrika amputeer nie – en waar U met U Woord terugsnoei Heer, laat ons u hand herken en rustig weet, U sal iets helder en edel eindelik distilleer. (Gebed van die loot aan die wynstok; Sheila Cussons. Aangepas en verkort).

Diens van die tafel

Psalm 23 is ten diepste ’n geloofsbelydenis.
Lees dit netso by die tafel en bid dan die Ons Vader.
Gebruik die vier “pilare” van die eerste gemeente as koersaanduiding wat ons toekomsverwagting versterk. Brei daarop uit:

  • Laat die onderrig van die apostels, die Skrifte, ons altyd toerus en ons na aan die hart lê.
  • Laat ons uitkyk vir mekaar, mekaar nooit laat los nie, mekaar in nood bystaan, bemoedig wanneer die pad moeilik raak en so ons onderlinge verbondenheid in stand hou.
  • Laat ons soos nou hier en by ander geleenthede saam, die gemeenskaplike maaltyd vier, versterk en met vreugde vervul word.
  • Laat ons volhard in gebed, nooit ophou om God te prys nie en in eenvoud en onderlinge versorging saam leef (uit Hand 2:42-47).
Uitsending

Seën
Die genade van ons Here en Herder, Jesus Christus; die liefde en beskerming van God ons Vader, en die leiding en gemeenskap van die Heilige Gees, sal met ons wees en bly.

Musiek en sang

Aanvangsliedere: Lied184 “Lofsing die Here”; 167 “Jesus bron van al my vreugde”
Lof: 414 “Juig verlostes”; 188 “Kom dank nou almal God”
Diens van die Woord: Lied 157 “Here Jesus, ons is saam”; 308 “Neem my lewe”;  309 “My lewe bly aan U gewy”
By die tafel: Lied 23 “Psalm 23”; Lied 298 “Brood en wyn is tekens”; 299 “Laat ons Heer u dood verkondig”
Uitsending: Lied 273 “Leer my met U verenig lewe”; 269 “God bly met u waar u ook mag gaan”   

Preekstudie: Johannes 10:1-18

Inleiding

Tema: Ek en die Here is herders.

Drie weke gelede, op 16 April, het ons ’n besonderse Sondag gevier, die lekkerste van die hele jaar. Dit was Opstandingsondag. Ons het gevier dat Christus uit die graf opgestaan het, en so vir ons almal ’n nuwe en ’n ander lewe moontlik gemaak het.

Vandag egter, is ’n dubbele viering. Ons vier Goeie Herdersondag wat spesiaal fokus op Jesus Christus as die Goeie Herder. En terselfdertyd vier ons Arbeidsondag. Dis die eerste Sondag na 1 Mei, wat Werkersdag is.

Maar hoe kombineer ’n mens nou die twee? Hoe vier  mens terselfdertyd ’n diep godsdienstige simbool soos Jesus as Herder én die regte van werkers wat ’n moderne menseregte-saak is? Kom ons kyk na Johannes 10:1-18 vir leiding oor hoe om hierdie Sondag te vier.

Agtergrond en konteks

Daar is skaars ’n bladsy in die Ou Testament waar ons nie van ’n herder lees nie. In die Ou Testament is ’n goeie herder altyd die simbool van versorging. Ons lees van drie “soorte“ herders in die Ou Testament. Eerstens is daar gewone herders wat hulle skape opgepas het. Dit was altyd die jong seun se werk om die skape op te pas, tot hy oud genoeg was om slagveld toe te gaan. Dit was nie ’n werk vir sissies om die skape op te pas nie. Hulle moes beskerm word teen wilde diere en ’n skaapherdertjie moes weet om ’n leeu te kan doodmaak. Daar was ook sogenaamde professionele skaapwagters wat boere se skape teen betaling opgepas het. So het Dawid en sy manne – wat later sy leër geword het – skape opgepas. Toe Nabal hulle nie wou betaal nie, was daar mos moeilikheid. Dit was uiteindelik hierdie leër wat Dawid om hom geskaar het, wat hom gehelp het om koning te word en koning Saul se leër te verslaan.

Dawid is ook die een wat in die psalms wat aan hom toegeskryf is, na God verwys as die Goeie Herder. Dis die tweede gebruik van “herder” in die Ou Testament. God is die Goeie Herder wat vir sy skape sorg. Psalm 23 is ’n wonderlike getuienis van God wat die versorgende herder is. Psalm 23 is soos ’n stukkie terapie vir iemand wat moedeloos en depressief is. God bly by jou deur dik en dun, selfs in doodskaduwee. Soos ’n herder sy skape nooit alleen laat nie, en selfs sy eie lewe vir hulle in gevaar stel, soveel gee God om. In so ’n mate sorg Hy vir jou. So sê die psalm.

Die beeld van God as die Goeie Herder word veral gebruik tydens die eksodus en die ballingskap. Dis toe dat daar veral gedink is aan God as die Goeie Herder. In hierdie verskriklike spanningsvolle tye was God vir gelowiges ’n versorger en ’n bevryder. Die Een by wie jy veilig kan voel. Hy verlig jou lyding, en gee leiding.

Die derde verwysing na herders in die Ou Testament, is ook na mense – veral konings – wat hulle mense goed of sleg lei. Party konings en geestelike leiers was slegte herders wat die mense van God mislei het (sien bv Eseg 34); ander was goeie herders wat vir hulle mense geestelik en fisiek gesorg het.

Sorg en leiding. Dit is die kriteria waaraan ’n herder in die Ou Testament getoets is.

In die evangelies van die Nuwe Testament word daar baie van herders gepraat. Die Evangelie volgens Lukas begin so te sê met die herders wat by Jesus se geboorte is. Dis nie dieselfde as die herders in die Ou Testament wat dapper helde en versorgers was nie. Die herders in Jesus se tyd is beskou as vuil en laeklas, en veral nie seremonieel skoon/rein nie. Die herders in Lukas se evangelie is anders as die ryk wyse manne uit die Ooste in die ander evangelies. Hierdie herders verteenwoordig die verskoptes en verstotenes van die samelewing. Wanneer Lukas na die skaapwagters verwys wat by Jesus se geboorte was, sê hy daarmee: Hier word die Messias gebore, ’n herder uit Dawid se geslag wat Homself gaan identifiseer met die armes en magteloses van die samelewing. Die Een wat agter elke verlore skaap sal aangaan en sal feesvier wanneer hy of sy gevind word (Luk 15:5-7).

In die sinoptiese evangelies – dis nou Matteus, Markus en Lukas – is die beeld van Jesus as die Goeie Herder die beeld wat die meeste vir Jesus gebruik word. In Johannes 10:11 (ons teksvers) noem Jesus Homself die Goeie Herder.

Na die evangelies verdwyn die beeld van Jesus as Goeie Herder. In die res van die Bybel word dit nog net drie keer gebruik. Een is in 1 Petrus en nog een is in Openbaring 7:17 waar die Lam ook die Herder is. Paulus verwys glad nie na Jesus as die Goeie Herder nie. Hy praat net ’n keer of wat van (kerk)leiers wat slegte herders is.

Die vroeë Christene het egter baie naby aan hierdie beeld van Jesus gevoel. Jesus word telkemale in die vroeg-Christelike kuns as die Goeie Herder uitgebeeld. Daardie beeld hou tot diep in die Middeleeue aan.

Kom ons kyk nou meer spesifiek wat Johannes 10:1-18 van herderskap sê.

Teks

In hierdie gedeelte gee Jesus drie redes waarom Hy Homself die Goeie Herder kan noem. Hy bou op die Ou-Testamentiese beelde van ’n goeie herder. Eerstens is Jesus ’n goeie herder omdat Hy bereid is om sy lewe vir sy skape af te lê. Hiermee wys Jesus vorentoe na sy dood. Tweedens is Jesus ’n goeie herder omdat Hy en sy skape mekaar ken. Die derde rede wat Jesus gee waarom Hy ’n goeie herder is, is eerder op die toekomstige kerk gerig as op die Ou Testament: ’n Goeie herder hou sy skape bymekaar. Hulle kom nie almal uit dieselfde omgewing nie, maar as hulle leiers behou Hy hulle eenheid.

Hoe kan ons hierdie gedeelte preek?

Preekvoorstel en temas

Kom ons trek hierdie pragtige woorde waarin Jesus Homself beskryf, deur na drie verhoudinge: die verhouding tussen ’n kerkleier en die gemeente; die verhouding tussen die gemeente en God, en; die werksverhouding tussen mense, aangesien dit ook Arbeidsondag is.

1. Eerstens is daar die verhouding tussen ’n kerkleier en die gemeente. Hoe lyk ’n herderleier? Uit ons teksgedeelte lyk dit of die verhouding tussen ’n herderleier en die gemeente een van interafhanklikheid is. Hulle ken mekaar. Hulle kan mekaar vertrou. Hulle erken mekaar se (mens)waardigheid. Hulle loop ’n gesonde pad saam. Hulle versorg mekaar.

Ons het hierbo gesê dat ’n goeie herder in die Ou Testament twee eienskappe gehad het, dat dit in die Nuwe Testament oorgeneem is soos ook in die woorde van Jesus oor Homself as Goeie Herder in Johannes 10. Die eienskappe is versorging en leiding. Ja, ’n goeie herder is ’n goeie leier. Soos iemand gesê het, ’n goeie kerkleier is: (1) ’n visionêre HUB; (2) ’n pastorale fasiliteerder, en; (3) ’n betekenisgewer (a meaning-maker).

Dis natuurlik nie net die dominee wat ’n leier in die gemeente is nie. Elke gemeentelid is op sy of haar manier ’n leier. En dan moet mens onthou watter beeld van ’n herder in die Bybel gegee word en wat Jesus ook vir Homself gee: leierskap is gebaseer op liefde en selfopoffering.

2. Ons leer ook iets uit ons teksgedeelte oor ons verhouding met God as die Goeie Herder. Jesus as God, beklemtoon hierdie een aspek van ons verhouding met Hom: Ons moet ons eenheid bo alles stel. Ons is verskillend van mekaar. Maar in ’n gemeente of kerk waar ons opkyk na God die Goeie Herder, sien ons die dinge raak wat ons aan mekaar en aan Hom bind. Dan gee ons die hoogste prioriteit aan ons eenheid, aan Hom wat ons tot een gemaak het.

3. Vandag, op Arbeidsondag, kan ons ook na ons werksverhoudinge kyk. Ons werk nie noodwendig saam met ander Christene nie, maar ons kan met vrug ons werkverhoudinge op die herdermodel skoei. Hierdie is ’n model waarbinne ons respek vir mekaar het, en ’n gemaklikheid met mekaar het, wat ons in kerktaal “liefde vir mekaar” sou noem. In so ’n model kyk ons wat reg is in mekaar en konsentreer ons nie op mekaar se foute nie.

Jesus, die Goeie Herder, is die voorbeeld vir ons om in velerlei ruimtes – in die kerk, tuis, by die werk – vir mekaar om te gee, mekaar te versorg en mekaar te “ken”.

Bibliografie

Kinnison, Quentin P 2010. Shepherd or one of the sheep: Revisiting the Biblical metaphor of the pastorate. Journal of Religious Leadership 9.1 (2010): bl 59-91; Smith, Steven W 2013. Jesus Christ, the Good to Great Shepherd. Southwestern Journal of Theology 56.1 (2013): bl 54-63; Soucek, J B 1957. The Good Shepherd and his flock. Ecumenical Review (Jan 1957): bl 143-153.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.