Vierde Sondag van Paastyd (Goeie Herdersondag)

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag staan bekend as “Goeie Herder”-Sondag. Drie van die Skriflesings fokus op hierdie tema, terwyl die sleutelteks ons aandag vestig op die onderlinge verbondenheid wat die lewe van die Messiaanse gemeenskap (die kudde van die goeie Herder) kenmerk.

Ander tekste

Psalm 23
Die Here is my herder.
’N PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae. (AOV)

1 ‘n Psalm. Van Dawid.
Die HERE is my herder;* ek ly nie gebrek nie.
2 *In groen weivelde laat Hy my rus;
na water waar daar rusplek is, lei Hy my.
3 Hy gee my nuwe lewenskrag;
Hy lei my op die regte paaie
ter wille van sy Naam.
4 Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,
is ek nie bang vir gevaar nie,
want U is by my.
Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.
5 U dek vir my ‘n tafel
voor die oë van my teenstanders.
U verfris my kop met olyfolie;* my beker loop oor.
6 Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe,
en ek sal bly terugkeer nap die huis van die HERE,
tot in lengte van dae.

(Die Bybel Direkte Vertaling 2014)
*23:1 Die Here … herder: Joh 10:11; Op 7:17 *23:2 Op 7:17
*23:5 U verfris … olyfolie: Luk 7:46
p23:6 terugkeer na: Die LXX lui “woon in”.

1 Petrus 2:19-25
Christus die voorbeeld vir dié wat ly

(Vgl Ef 6:5–8; Kol 3:22–25)
18Bediendes, onderwerp julle met die nodige ontsag aan julle werkgewers, of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. 19Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. 20As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. 21Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.
22“Hy het geen sonde gedoen nie
en uit sy mond
het daar nooit ’n leuen
gekom nie.”
23Toe Hy beledig is,
het Hy nie terug beledig nie,
toe Hy gely het,
het Hy nie gedreig nie,
maar alles oorgelaat
aan Hom wat regverdig oordeel.

24Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.

Johannes 10:1-10
Die goeie herder
10 “Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower. 2Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; 3vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. 4Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5Hulle sal nooit ’n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”

6Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.

7Toe het Jesus verder gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Fokusteks

Handelinge 2:42-47
Die eerste bekeerdes
37By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?”

38Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” 40Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.”

41Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg.

42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

Die eerste gemeente
43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Ekstra stof

Die breër konteks van Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies
Die uitstorting van die Heilige Gees – 2:1-13
Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na Sy hemelvaart. Pinksterfees was ’n Joodse oesfees (Lev 23:15-16).

Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die teken dat Hy deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Jesus, die Christus. Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ’n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor. Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.

Petrus se toespraak – 2:14-36
Petrus tree saam met die ander apostels op, hoewel net sy woorde deur Lukas weergegee word. En dit is interessant dat hierdie eerste preek ’n drie-deling het, (wat in die volksmond as ’n goeie dominees preek bestempel word!):

  • Hy verklaar wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees
  • Hy beklemtoon die groot dinge wat God gedoen het, veral deur die opstanding van Jesus Christus
  • Hy spel die implikasies daarvan vir die wêreld, dat Jesus die Here en die Christus is.

Die groot aantal Ou Testament beloftes wat Petrus hier aanhaal en aandui dat dit hier vervul word, is opmerklik en bevestig dat wat gebeur in lyn is met wat God reeds openbaar het in die verlede. Let veral op dat Petrus die profesie van Joël verbind aan die werk en bediening van Jesus, met presies dieselfde woorde: wonders en tekens. Dit wil lyk asof die kosmiese beskrywings met sy kragtige dade verbind word of dit kan natuurlik ook op die eindtyd vervulling dui.

Petrus doen ook moeite om die Skrif se voorspellings aan die opstanding en die hemelvaart van Jesus te verbind en daarmee die band met die Skrif te bevestig.

Die eerste oes – 2:37-42
Die eerste oes word op die Oesfees ingesamel, drieduisend bekeerlinge! Let op dat hulle bekering met drie dinge te make het: ’n wegdraai van die sonde (ook die sonde van die kruisiging), ’n doop in die Naam van Jesus, waarmee hulle aan Hom verbind word, en die gawe van die Heilige Gees (dieselfde Gees as wat hulle so pas gesien en ervaar het in die lewe van die apostels).

Dié boodskap is vir almal, spel Petrus dit vir hulle uit, ook vir dié wat daar ver is, waarmee waarskynlik die nie-Jode en heidene bedoel word, hoewel dit ’n tyd sou duur voor hulle hiervan werk sou maak.

Die eerste gemeente – 2:43-47
Wat vir my veral treffend is, is dat na die oorweldigende positiewe reaksie van die Jode, beskryf Lukas die werk van die apostels in dieselfde woorde as wat in die profesie van Joël gebruik word en met die bediening van Jesus in verband gebring word: wonders en tekens. Daarmee word twee goed gesê: 1) die dissipels sit Jesus se bediening voort in dieselfde krag en met dieselfde impak as wat Hyself dit gedoen het, en 2) die wonders het ’n teken-funksie, dit wys heen na God en verheerlik Hom, en staan dus nie op hulle eie soos wat ’n mens van ’n towenaar sou verwag nie.

Ses geestelike gewoontes vorm hierdie eerste gemeente se lewenspraktyk: die leer van die apostels (didage) wat duidelik die Skrifte ingesluit het, die onderlinge verbondenheid (koinonia), die breek van die brood (eucharistie of nagmaal), gebede, byeenkomste in die tempel en gesamentlike etes. En al was die gemeente nie perfek nie – ons lees van ’n hele paar probleme in hoofstuk 5 en 6 – bly dié ses dissiplines die kern van die lewe van ’n gemeente.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 577 “Die Heer my herder sorg vir my 1,2,3,4,5”

Aanvangswoord
Seëngroet

Loflied 415 “Jesus leef en ons met Hom vs 1,2,3”

Verootmoediging: 1 Petrus 2:20b-24

Skuldbelydenis: (Uit die lirieke van Lied 231)

Vryspraak: (1 Johannes 1:6-9)

Geloofsbelydenis
Epiklese

Skriflesing: Handelinge 2:42-47

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 523 “Goddelike liefdebande vs 1,2,3,4”

Seën
Musikale Amen

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 577 “Die Heer my herder sorg vir my 1,2,3,4,5”

Aanvangswoord
Voorganger: Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan.

Voorganger: God het Hom tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke Naam is.
Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan.

Voorganger: In die Naam van Jesus
sal elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie buig,
en elke tong sal erken:
“Jesus Christus is die Here!”
Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan. Amen.

Seëngroet
Genade en vrede van God,
die Vader wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het,
en van Jesus Christus, die Lewende Here,
en van die Heilige Gees wat ons herskep.
(Votum en seëngroet Uit die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Loflied 415 “Jesus leef en ons met Hom vs 1,2,3”

Verootmoediging
Gebruik die gedeelte uit 1 Petrus as Wet voorlesing:
1 Petrus 2:20b-24
Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. 21Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.

22“Hy het geen sonde gedoen nie
en uit sy mond
het daar nooit ’n leuen
gekom nie.”
23Toe Hy beledig is,
het Hy nie terug beledig nie,
toe Hy gely het,
het Hy nie gedreig nie,
maar alles oorgelaat
aan Hom wat regverdig oordeel.

24Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.

Skuldbelydenis: (Uit die lirieke van Lied 231)
Heilig, heilig, heilig, Here,
U is heilig sonder perk;
Ons onheiligheid, o Heer,
dwing ons op ons knieë neer.
Ons kom pleit om u genade:
Heer, verlos ons van die kwade.
Wat geskep is deur u hande –
dit was heilig, rein en goed;
maar die sonde bring die skande,
bring die seer in ons gemoed.
Heil’ge God, herskep ons lewe,
en laat groei die goeie saad;
maak ons heilig in ons strewe,
in gedagte, woord en daad;
Heilig, heilig, heilig, Here!

Vryspraak
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
(1 Johannes 1:6-9)

Geloofsbelydenis
Ons glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge,
die Bron van ware lewe.

Gemeente sing Lied 405:1
Ons glo in Jesus Christus, die lewende Here,
wat deur mense gekruisig is,
maar deur God opgewek is uit die dood.

Gemeente sing Lied 405:2
Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker,
wat die ganse skepping vul met die lewe van God.

Gemeente sing Lied 405:3 en 4
(Aanpassing van die bydrae uit die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Liedere

F209. “U Het My Vir Uself Gemaak” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: U heeft mij voor Uself gemaakt
Teks en musiek: Peter van Essen
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© 2005 Unisong Music Publishers t/a Samuel Music
Ps 131, Matt 11:28, Ef 1:4, 2:10

Refrein:
U het my vir Uself gemaak
en my hart is onrustig
tot dit rus vind by U
U het my vir Uself gemaak
en my hart is onrustig
tot dit rus vind by U

1. Herder van my siel
wat die duister verlig
Ek soek u aangesig
tot ek rus vind by U
Hoe ek ook al voel
U alleen is my doel
Ek soek u aangesig
tot ek rus vind by U

2. Lei my deur die nag
Heer, U Woord gee my krag
Ek soek u aangesig
tot ek rus vind by U
Dan sal ek U sien
Jesus, Heer, wie ek dien
Ek sien u aangesig
waar ek rus vind by U

F220. “Die Heer Is My Herder”
(RUBRIEK: Flammikidz / FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: De Heer is mijn Herder
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Faani Engelbrecht
© 2000 Celmar Music

Refrein:
Die Heer is my Herder
Hy is alles wat ek nodig het
Hy bring my tot rus
en Hy gee nuwe krag
Hy lei my steeds verder
op die regte pad wat ek moet gaan
Die Heer is my Herder.
Al gaan ek deur ‘n donker dal
ek hoef nie bang te wees
Ek weet dat U my by sal staan
U is naby, Heer
Want wat ookal met my gebeur
U help my telkens weer
U gee my wat ek nodig het
en nog soveel meer
U goedheid en u liefde, Heer
volg my vir altyd
en ek mag naby aan U bly
tot in ewigheid

God praat met ons en ons luister

Epiklese
O Here, ons God!
U weet wie ons is wat hier voor U byeengekom het:
mense met goeie gewetens én met skuldgevoelens;
tevredenes en ontevredenes;
dié wat sekerheid het en ander wat twyfel;
Christene uit oortuiging en Christene uit gewoonte.
Daar is van ons wat glo, wat halfpad glo, en wat glad nie glo nie.
U weet ook waar ons vandaan kom:
uit hegte familie- en vriendekringe,
én uit die diepste ervarings van eensaamheid.
Party van ons kom uit gemaklike welvaartstoestande,
en ander uit situasies van wanhoop en geweld;
uit gesinne wat op geoliede wiele loop,
en dié wat gebuk gaan onder hewige stres of trauma;
ons kom uit die binnekring én
die periferie van die Christelike gemeenskap.
Maar nou staan ons almal saam hier voor U
– met al ons verskille, maar ook in ons eendersheid;
as mense wie se verhouding met U en met mekaar skeef loop,
wat almal eendag moet sterf;
wat almal verlore is sonder u genade;
maar ook mense aan wie U u genade
onverdienstelik skenk in u Seun, Jesus Christus.
Ons is hier saam om U te loof en om te luister na wat U vir ons sê.
Ons bid dat dit in hierdie uur van samesyn sal gebeur.
Ons vra dit in die Naam van ons Here, Jesus Christus.
(Karl Barth 1886-1959)

Skriflesing: Handelinge 2:42-47

Prediking

Familie-oomblik

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999. Terwyl jy die teks lees, laat almal hulle hande opsteek elke keer wat hulle ’n aktiwiteit hoor. Stop telkens die Skriflesing en identifiseer maniere waarop julle gemeente daardie aktiwiteite doen. Onthou om aktiwiteite te noem waarby die kinders ook betrokke is!

Baie Mense sê hulle wil ook Vriende van God Word
37 Petrus het baie goed gepraat. Die mense het ook mooi geluister. Hulle vra toe vir Petrus en die ander vriende van Jesus: “Wat moet ons nou doen? Hoe kan ons ook God se vriende word?”

38–39 Petrus sê toe: “Julle moet ophou om verkeerde dinge te doen. Julle moet eerder vir God lief word. Dan moet julle ook gedoop* word. Mense sal dan kan sien dat God julle sy vriende gemaak het. God sal dan ook aan julle die Heilige Gees* gee. Enigiemand kan so ’n kind van God word. En God sal ook aan elke kind van Hom sy Heilige Gees* gee. God wil nie net vir ons so goed wees nie, maar ook vir julle. En Hy wil ook vir julle kinders goed wees, en vir almal wat Hom nou nog nie liefhet nie. God wil vir elke mens op die aarde die kans gee om sy vriend te word.

40 Petrus het nog lank met die mense gepraat. Hy het vir hulle gesê: “Moenie aanhou om verkeerde dinge te doen soos die mense rondom julle nie. God het julle lief. Hy wil hê julle moet sy vriende word.” 

41 Baie mense het gesien Petrus praat die waarheid. Hulle het alles geglo wat hy gesê het. Hulle besluit toe hulle wil ook Jesus se vriende word. Daarna is hulle gedoop*. Net op daardie dag alleen was daar drie duisend mense wat gesê het hulle wil ook Christene word. En so het hulle God se vriende geword.

Wat die Christene Alles Gedoen het
42–43 Nadat die mense Christene geword het, het hulle elke dag hulle Bybel gelees. Die Christene was ook almal vir mekaar lief. Hulle het saam geëet en vir mekaar gesê dat hulle weet dat Jesus by hulle is. Hulle het ook saamgebid. Die leiers in die kerk het baie wonderwerke* gedoen. Die mense kon nie glo wat hulle alles sien nie. En hulle het baie respek gehad vir God en Hom vir alles dankie gesê.

44–47 Die Christene het almal soos een groot familie gevoel. Daarom het hulle ook hulle klere en kos en speelgoed met mekaar gedeel. Daar was ook Christene wat ryk was en plase en huise besit het. Hulle het dit sommer verkoop. Dan het hulle die geld gevat en vir mense gegee wat nie kos of klere gehad het nie. Die Christene het elke dag kerk toe gegaan om daar te gaan bid. Hulle het ook gereeld by mekaar gaan eet. Die etes was nie spoggerig nie. Die Christene was sommer net baie lief vir mekaar. Saam het hulle vir God dankie gesê dat Hy so goed is vir hulle. Die mense in die stad kon nie glo dat die Christene so mooi leef nie. Elke dag het daar nog meer mense Christene geword.

‘n Inkleurprent van die gebeure in die vroeë kerk is hier beskikbaar.
Verduidelik die “church steeple door people” gediggie met jou vingers:
This is the church (vuis met vingers verstrengel)
This is the steeple (wysvingers reguit)
Open the doors (maak hande oop)
And see all the people (wikkel jou vingers)

Vandag is Moedersdag. Jy kan spesiaal vir alle ma’s bid of ’n beeld van ’n vroulike herder gebruik: http://diglib.library.vanderbilt.edu/act-imagelink.pl?RC=54256

Bobby McFerrin het ’n pragtige weergawe van Ps. 23 wat hy opgedra het aan sy ma.

Preekriglyn

Kevin Harney, ‘n Amerikaanse predikant, vertel van klein Dustin se vrygewigheid as dit by Smarties kom. Die Amerikaanse weergawe van Smarties is ‘n ry kleurvolle, ronde sjokoladelekkers in deurskynende plastiek toegedraai.

Op ‘n dag kom Dustin die kerk binne, met ‘n pak Smarties. Hy loop die dominee raak, en gee vir Kevin een van sy Smarties. Dadelik word dit ‘n gewoonte. Elke keer wanneer Dustin ‘n pakkie Smarties kry, sit hy die eerste lekker opsy vir sy predikant. Elke Sondag voor die erediens soek hy die dominee op en gee vir hom sy Smarty.

Soms kry Dustin sy Smarties deur die week. Dan neem hy die eerste een uit die pakkie en sit dit opsy. Teen die Sondag, was dié Smarty dikwels al deur die meule, vol vasels soos hy dit in sy sak rondgedra het. Tog kry die dominee sy Smarty, wat hy met genot daar en dan eet.

“Om die Smarties te deel, was weekliks soos ‘n nagmaal in die kleine vir my,” vertel Kevin. “Jesus was teenwoordig in die paar oomblikke waarin ons die lekkers gedeel en met mekaar gesels het.”

Dustin se ma het altyd gelag en gesê die Smarty is Dustin se dankoffer. Uit elke tien Smarties kry die dominee een. Vir Kevin was die belewenis groter. “Wat ek gesien het, is ‘n klein seuntjie wat lief was om te deel, en wat die krag van vrygewigheid klein-klein herken en beleef het. Sedertdien vra ek myself gereeld af: ‘Hoe vaar ek met die uitdeel van my eie Smarties?'”

Vrug van bekering

Verlede Sondag het ons aandag gegee aan die dringende, intense boodskap van Petrus oor God se werk in Jesus van Nasaret. Die enigste gepaste reaksie is om jou te bekeer. Bekering beteken om te buig voor Jesus en jou lewe in te rig volgens die leer en voorbeeld van Jesus. Só dra jy vrug wat by die bekering pas. Op hierdie manier word God se koningskap ‘n werklikheid in jou lewe.

Bekering is egter nie net ‘n individuele proses nie. Volgens Handelinge is bekering ook ‘n proses wat jou insluit by God se gemeente. Op die dag van Petrus se boodskap, die dag waarop die Heilige Gees uitgestort is, is omtrent drie duisend mense “by die getal van die gelowiges gevoeg.” (41).

God se werk in Christus, deur die krag van die Heilige Gees, skep altyd nuwe gemeenskap. Dit sluit mense altyd in by God se kerk. Bekering in die kragveld van die Gees is altyd om deel van ‘n geloofsgemeenskap gemaak te word.

In ons teks word die karaktertrekke van die geloofsgemeenskap wat die Heilige Gees deur bekering skep, op ‘n besondere manier beskryf. Dis soos die gemeenskaplike vrug van bekering lyk. Die eerste Pinkstergemeente was volgens vers 42 volhardend toegewy aan:

  • Die leer en onderrig van die apostels
  • Onderlinge verbondenheid aan mekaar
  • Die gemeenskaplike maaltyd
  • Volhardende gebed
Leer en onderrig van die apostels

Jesus is aan die regterhand van die Vader (2:33). Deur die uitstorting van die Heilige Gees het Hy aan die apostels die bevoegdheid gegee om in sy Naam herders en leraars van die gemeente te wees, bevoegdhede wat stelselmatig ook deur die Gees as gawes aan meer gelowiges as slegs die apostels gegee is (Ef. 4:11, 12).

Die geestelike versorging van die gemeente deur haar Hoof is dus vanaf die eerste dag van haar bestaan gewaarborg en daarmee saam is die gesagstruktuur vir die gemeenteliggaam ook vasgelê. Die Here se unieke gawes aan die liggaam van gelowiges is die herders wat direk teenoor Hom verantwoordelik is vir hulle taak om die liggaam van Christus, sy vrygekoopte kudde op te bou. Gehoorsaamheid aan die leer van die apostels is dus gehoorsaamheid aan Christus self.

Dit is hierdie leer wat vir die gemeente van vandag in die Heilige Skrif opgeteken staan. Uiteindelik word die gehoorsaamheid van die gelowiges aan Christus gemeet aan hulle gehoorsaamheid aan die heilige Skrif (2 Tim. 3:14-17).

Onderlinge verbondenheid

Die woord koinonia wat in die OAV met “gemeenskap” vertaal word, is meer as net “onderlinge verbondenheid” (NAV). Dit is ’n onderlinge verbondenheid wat praktiese uitlewing vind in gemeenskaplike verkeer, aanbidding, dienslewering asook bediening van mekaar tot opbou van die liggaam van Christus in liefde (Ef. 4:16b).

Hierdie Pinkstergelowiges het mekaar opreg liefgehad, dikwels onderling gesprek gevoer en voortdurend bymekaar gekom. Hulle het hulle nie as kluisenaars aan die samelewing onttrek nie, maar hulle gemeenskap ook in die openbare plekke beoefen, veral in die tempel waar hulle daaglikse samekoms plaasgevind het (2:46). Hierdie gemeenskapsbeoefening was hulle helderste getuienis van hoe die Goeie Herder verlore en verstrooide skape tot ’n goed-geordende en lewenskragtige kudde wat Hom getrou volg omskep.

Hierdie gemeenskap met mekaar berus op ’n dieper gemeenskap, naamlik die van die gelowiges met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus (1 Joh. 1:3). Gemeenskaplike aanbiddingsgemeenskap met die Vader en sy Seun is die beste gemeenskap wat gelowiges met mekaar kan hê (Matthew Henry).

Die gemeenskaplike maaltyd

Die eerste gemeente is gekenmerk deur die eet van die gemeenskaplike maaltyd (NAV) of te wel die breking van die brood (OAV).

Dit is moeilik om te sê of ons hier te doen het met die nagmaalviering of met die gewone maaltye. Die breking van die brood was ’n handeling deur die hoof van die huis of feesviering wanneer hy die seën oor die gebruik van die voedsel gevra het. Jesus het dit waarskynlik gereeld by die maaltye met sy dissipels gedoen (sien Matt 26:26 en Luk 24:30). Dit is ook deur hierdie handeling dat die Emmausgangers Hom herken het.

Die Verklarende Bybel verklaar:
Dit lyk of die nagmaal en gewone etes in die vroeë kerk nie duidelik geskei is nie. Die daaglikse etes sou waarskynlik ook ’n ‘nagmaalsbetekenis’ gehad het; dit is met ander woorde beleef as ’n herinnering aan die tafelgemeenskap met Jesus.

Die sakramentele aard van hierdie gemeenskap was uiteraard onmiskenbaar. Die gemeente het voortgegaan met die viering van die herinnering aan hulle Meester se dood, as mense wat nie skaam was vir hulle eie verhouding tot Hom en afhanklikheid van Hom, Christus die gekruisigde, nie. Hulle kon sy kruisdood nie vergeet nie, maar het hierdie herdenking daarvan in stand gehou as ’n volgehoue praktyk omdat dit die instelling van Christus was wat aan die kerk deurgegee moes word vir die eeue wat sou volg (Matthew Henry).

Die nagmaal was van die begin van die lewe van die kerk af die liturgiese handeling wat die verhouding tussen Jesus en sy liggaam bevestig.

Volhardende gebed

Voor die uitstorting van die Heilige Gees (die gawe wat die Vader belowe het), op wie die apostels gewag het (Luk 24:49), het hulle saam met ander gelowiges eensgesind volhard in die gebed (Hand 1:14). Gebed in hierdie sin is ’n bewuste wisselwerking van gedagte en woord tussen God en die bidders en die bidders onderling. Dit is die kommunikasiestelsel deur die liefde gedryf wat die ganse funksionering van die Hoof en sy liggaam (1 Kor. 12:12-31; Ef 4:15, 16) rig en beheer.

Na die uitstorting van die Heilige Gees het voortdurende gebed die lewenswyse en uitstaande kenmerk van die Geesvervulde jong kerk geword. So belangrik is hierdie bedrywigheid geag dat Paulus in die eerste sendbrief wat hy aan ’n nuutgestigte gemeente geskryf het die opdrag kon gee: “Bid sonder ophou!” (1 Tess 5:17).

Op hierdie wyse is die gebedskultuur van die eerste oomblikke af deel van die lewe van die kerk. Gedring deur die liefde vir die Here volg die gelowiges Hom na – altyd in gebedsgemeenskap met Hom sonder wie hulle niks kan doen nie (Joh. 15:5).

Gesonde gemeente

Naas vers 42 (waaraan ons nou aandag gegee het), word verdere eienskappe van die eerste gemeente in verse 43 tot 47 uitgespel:

  • God se werk en geloof is met wonders en tekens bevestig
  • Die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel
  • Aandag is aan elkeen se behoeftes gegee, sodat almal versorg was
  • Hulle het getrou as geloofsgemeenskap bymekaar gekom
  • Die gemeenskaplike maaltyd is in stand gehou
  • Hulle was ‘n gemeenskap van lof aan God
  • Die gemeente het gegroei deurdat nuwe gelowiges voortdurend tot hulle kring toegevoeg is.
“Wellness”

Mediese fondse het vandag ook ’n sogenaamde “wellness”-programme wat lede aanmoedig om fiks te bly en gesond te leef. Hierdie programme gaan hoofsaaklik oor ons liggaam – maar wat van ons gees? Hoe lyk ’n gesonde geestelike lewenstyl?

In die Bybel is die Handelingegemeente kort na die uitstorting van die Heilige Gees waarskynlik ’n goeie voorbeeld van ’n groep mense wat geestelik gesond geleef het. Hulle lewenstyl was so aantreklik dat mense graag soos hulle wou geleef het.

Clinton McKinley het in ’n preek oor Handelinge 2 met die titel “Getting W.E.L.L.” die Engelse woord WELL as ’n akroniem gebruik om vier kritiese eienskappe van die eerste gemeente in Handelinge 2 uit te spel:

  • W– Worshipping – hulle het gereeld saamgekom om te aanbid.
  • E – Evangelizing – hulle leefstyl was aantreklik – ander mense wou ook só leef.
  • L – Learning – hulle het God se Woord met daaglikse dissipline verorber.
  • L – Loving – hulle was liefdevol en het regtig omgegee vir mekaar en ander mense.

Gesonde kerke wat groei, vertoon vandag nog steeds dieselfde eienskappe. Om geestelik fiks en gesond te wees, het ons in die lewe ook hierdie dissiplines nodig – ons moet saam aanbid, saam uitreik na mense, saam leer en saam liefhê. Dit beteken dat God se Gees ons gees moet beheer. (Soos aangehaal uit Woord en Fees)

Dustin en sy Smarties

Terug by klein Dustin wat elke week ‘n Smarty met sy predikant gedeel het. Agter hierdie eenvoudige daad van mededeelsaamheid deur ‘n klein seuntjie sit ‘n enorme Bybelse begrip van geloof en geloofsgemeenskap. Dustin het klein-klein al iets verstaan van die lewe van geloof.

Die gesonde lewe van geloofsgemeenskappe word gedra deur duisende dade van omgee en barmhartigheid.

Soos Dustin se dominee, Kevin, kan ons ons gerus gereeld afvra: “Hoe vaar ek met die uitdeel van my Smarties?”

God stuur ons om te leef

Gebed
Ons prys u Naam,
saam met die engelekore,
saam met profete, apostels en martelare
en saam met die gelowiges van elke tyd en plek
wat vir ewig die grootheid van u Naam besing:
Heilig, heilig, heilig, Here die Almagtige,
die hele aarde is vol van u magtige teenwoordigheid.
Hosanna in die hoogste.
Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom.
Hosanna in die hoogste.
Deur Christus, saam met Christus, in Christus,
een met die Heilige Gees,
behoort alle eer en heerlikheid aan U,
almagtige God, van nou af en tot in ewigheid. Amen.
(Uit die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Offergawes

Wegsending: Lied 523 “Goddelike liefdebande vs 1,2,3,4”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God,
Vader, Seun en Heilige Gees,
met ons wees
en vir altyd by ons bly.
Amen
(Uit die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Musikale Ame: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.