Vierde Sondag van Paastyd (Goeie Herdersondag)

Sections

Oorsig

Vandag is Goeie Herdersondag en die sleutelteks gee hieraan uitdrukking met Jesus wat vir die Jode sê dat skape na hulle herder se stem luister.

Die Openbaring- en Handelingetekste volg die lyn van die vorige Sondag se tekste.

Die Openbaringteks verwys na die groot menigte wat deur God gered is en God loof terwyl die Handelingeteks fokus op Petrus se getuienis by die opwekking van Tabita.

Die fokus van hierdie week se tekste is God, die Goeie Herder, wat red en sy kudde beskerm. Die bekende Psalm 23 sal op hierdie Sondag op verskillende maniere gebruik kan word.

Ander tekste

Psalm 23 (OAV)
Die Here is my herder.
’N PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Handelinge 9:36-43
Die opwekking van Tabita
36In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ’n bokamer neergelê. 38Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”

39Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”

Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.

43Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by ’n sekere Simon, ’n leerlooier.

Openbaring 7:9-17
’n Groot menigte
9Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. 10Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

11Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12en gesê:
“Amen! Die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer,
die mag en die sterkte behoort
aan ons God
tot in alle ewigheid. Amen!”
13Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?”
14“Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.”

Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. 15Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, 17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”

Fokusteks

Johannes 10:22-30
Die Jode is nie van sy skape nie
22 Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. 23 Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop. 24 Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.”

25 Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. 26 Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. 27 My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30 Ek en die Vader is een.”

31Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig, 32maar Jesus sê vir hulle: “Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?”

33“Dis nie oor ‘n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,” antwoord die Jode Hom, “maar oor godslastering, omdat jy, wat ‘n gewone mens is, jou as God voordoen.”

34Daarop sê Jesus vir hulle: “Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ nie? 35God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie. 36Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’?37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. 38Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”

39Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip. 40Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly. 41Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het gesê: “Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.”

42Baie mense het daar tot geloof in Hom gekom.

Ekstra stof

Johannes 10:1–42 – Die Goeie Herder se skape ken sy stem
Die eerste deel van hierdie hoofstuk sit die gesprek voort met die Jode na sy genesing van die blinde man, en skets Jesus as die Goeie Herder, hoewel selfs die meesleurende boodskap hiervan hulle nie sovêr kry om in Hom te glo nie. Die tweede deel van die hoofstuk vind plaas tydens die fees van die tempelwyding waar Jesus die rede vir hulle ongeloof uitspel – dat hulle nie van sy skape is nie – hoewel daar tog steeds mense is wat ten spyte van die teenstand in Hom begin glo. Hoofstuk 11 sal Jesus se Goeie Herderskap bewys, met Lasarus wat uit die dood opgewek word.

10:1-21: Jesus gebruik in vers 1-6 die beeld van die herder om sy eienaarskap, versorging en begeleiding van sy mense te beklemtoon. Die Jode verstaan egter nie wat Hy vir hulle daarmee wil sê nie – waarmee veral die leiers onder hulle, hulle valse herderskap bewys. Hulle ken nie vir God nie en werk nie vanuit ‘n verhouding met Hom nie.

In vers 7-18 spel Jesus dit nog dieper uit, deurdat Hy ook die ingang vir die skape is (op soortgelyke wyse is Hy ook die leer na die hemel – Joh 1:51; en die weg na God – Joh 14:6), sowel as die Goeie Herder. Dit beklemtoon dat dit slegs in ‘n verhouding met Hom moontlik is om deel van sy kudde te wees – Sy skape ken Sy stem. Vir dié gelowiges wat in Hom glo en Hom begin gehoorsaam, gee Hy lewe in oorvloed. Die ander skape waarvan hier gepraat word, dui op die heidene wat nog in Hom sou glo.

Om dit nog beter te verstaan: ‘n skaapkraal het in daardie tyd baie keer verskillende kuddes geakkommodeer, veral wanneer dit nie aan ‘n huis vas gebou was nie. ‘n Herder het dus baie tyd met sy skape deurgebring, sodat hulle sy stem kon leer ken. Dit het beteken dat hy hulle dus kon beheer met sy stem – net sy skape het agter hom uit geloop as hy hulle geroep het om uit die kraal te gaan vir weiding.

Dít is die tipe intieme prentjie wat vir ons Jesus se verhouding met ons teken – Hy wil hê elke gelowige moet Sy stem só goed leer ken (Sy Woord), dat Hy letterlik voor kan loop en ons begelei na die lewe en oorvloed wat Hy wil gee. En onthou, dit is met dié stem dat Jesus vir Lasarus uit die graf uit roep en opwek … dit is hoe kragtig Sy stem is!

Maar getrou aan wat Hy reeds met die beeld van die brood wat lewe gee, gesê het, hou Sy herderskap letterlik sy dood in, want Hy lê sy lewe af vir sy skape (Sag 13:7). Let op hoe Hy ook praat van sy lewe weer opneem, soos Sy Vader dit vir Hom moontlik sal maak – waarmee Hy sy eie opstanding uit die dood voorspel.

Die Jode het egter nog meer probleme met hierdie woorde, en dink dat Jesus óf van die duiwel besete is, óf mal – hoewel daar tog ook mense was wat gesê het, sy woorde bewys die teendeel.

10:22-42: Met die fees van die tempelwyding – die herdenking van die verlossing uit Siriese onderdrukking in die 2de eeu vC deur die Makkabeërs – gaan die gesprek voort, hierdie keer oor sy Messiaanse (=Christus) karakter, al dan nie. Weereens beklemtoon Jesus dat ‘n mens sy Messiasskap net kan begryp, as jy in Hom glo, in in verhouding met Hom lewe – dws een van sy skape sou wees. En dit is die ongelowiges Jode nie. Daarom kan selfs die dade wat Jesus doen, wat bewys dat Hy God is, hulle nie oortuig nie.

Tussendeur verseker Hy dié wat wel in Hom glo dat dit vir hulle die ewige lewe beteken en dat niemand hulle uit Sy hand sal kan ruk nie. Dit is die enigste ware basis van sekerheid in hierdie lewe – dat God jou vashou. En Hy bevestig sy goddelikheid deur weer van Sy eenheid met Sy Vader te praat.

Die ongelowige Jode wil Hom egter stenig, selfs al kan Hy uit die einste wet waarop hulle soveel peil trek, bewys dat wat Hy sê waar is – immers, as die OT die benaming “gode” op mense van toepassing kan maak (Ps 82:6), hoeveel te meer kan dit nie op Jesus wat van God af kom, van toepassing gemaak word nie. En sy dade bevestig dit ook nog!

Tog lei dit steeds nie tot geloof by die Jode nie, waarvan die meeste waarskynlik deel van die leierskap was. Gewone Jode het steeds na Jesus gestroom, selfs toe Hy weer by die Jordaan, in die landstreek Perea, vir ‘n tyd gaan bly het, maar die leiers het Sy dood beplan.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord:  (1 Kor 15:20-22).

Seëngroet
Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan vs 1,2,3”

Wet

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afr + Latyn

Vryspraak: gebaseer op Johannes se toekomsperspektief in Openbaring 7:9-17

Geloofsbelydenis: Ahv Psalm 23 (OAV) en Openbaring 7

Lofliedere
Lied 98 “God is my lied 1,2,3” en/of
Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Epiklese: Ahv Psalms 27:4-9 ()

Skriflesing: Johannes 10:22-30

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 511 “Lei U ons lig vs 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord
“Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf so sal almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor 15:20-22).

Seëngroet
Die God van lewe,
Oorwinnaar oor die dood
en Gewer van die Heilige Gees groet ons!
(Bg uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan vs 1,2,3”

Wet
Die toekomsvisie van Openbaring 7 bied ons ‘n geleentheid om die uitsigloosheid van die nou te vergelyk met die hoop van die toekoms.

Lees Romeine 7
14Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos ’n slaaf aan die sonde verkoop. 15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afr + Latyn

Vryspraak: gebaseer op Johannes se toekomsperspektief in Openbaring 7:9-17

’n Groot menigte
9Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. 10Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

11Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12en gesê:
“Amen! Die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer,
die mag en die sterkte behoort
aan ons God
tot in alle ewigheid. Amen!”

13Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?”

14“Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.”

Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. 15Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, 17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”

Geloofsbelydenis: Ahv Psalm 23 (OAV) en Openbaring 7
Die Here is my herder.
’N PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.
Die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer,
die mag en die sterkte behoort
aan ons God
tot in alle ewigheid. Amen!”

Lofliedere
Lied 198 “God is my lied 1,2,3” en/of
Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Liedere

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994 Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën – Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.
As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,  
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

F220. “Die Heer Is My Herder”
(RUBRIEK: Flammikidz / FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: De Heer is mijn Herder
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Faani Engelbrecht
© 2000 Celmar Music

Refrein:
Die Heer is my Herder
Hy is alles wat ek nodig het
Hy bring my tot rus
en Hy gee nuwe krag

Hy lei my steeds verder
op die regte pad wat ek moet gaan
Die Heer is my Herder.

Al gaan ek deur ‘n donker dal
ek hoef nie bang te wees
Ek weet dat U my by sal staan
U is naby, Heer

Want wat ookal met my gebeur
U help my telkens weer
U gee my wat ek nodig het
en nog soveel meer

U goedheid en u liefde, Heer
volg my vir altyd
en ek mag naby aan U bly
tot in ewigheid

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Ahv Psalms 27:4-9
Liewe Heer
net een ding vra ek van U
en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank
in U huis mag woon
om U goedheid te belewe
en daaroor na te dink in U tempel.
5Op die dag van gevaar sal die Here
my wegsteek in sy huis,
my veilig laat skuil in sy woonplek,
my hoog op ’n rots laat staan;
6ek sal in sy woonplek
onder trompetgeklank
my offers bring,
ek sal ’n lied sing,
ek sal sing tot die eer van die Here
7Luister tog na my, Here, as ek roep;
wees my genadig en verhoor my gebed.
8Ek onthou wat U gesê het:
“Julle moet My kom dien!”
Ek is hier om U te dien, Here.
9Moet U tog nie vir my verberg nie,
U was immers nog altyd my hulp.
Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,
want U alleen is die God wat my red.
Amen

Skriflesing: Johannes 10:22-30

Prediking
Gebed

Familie-oomblik

Wys vir die kinders ‘n prent van skape en skaapwagter en vra of hulle weet wat ‘n skaapwagter se werk is.

‘n Skaapwagter, of ‘n herder, kyk na hulle skape amper soos wat jou mamma en pappa na jou kyk:
Hulle weet wie hulle skape is;
hulle weet altyd waar hulle skape is;
hulle sorg dat hulle skape kos en water het;
hulle gaan soek hulle skape wanneer hulle wegraak;
hulle beskerm hulle skape wanneer daar gevare soos wolwe kom;
hulle help hulle skape wanneer hulle seerkry.
Dit werk die beste wanneer die skape na die skaapwagter luister, soos ons vir ons ma’s en pa’s, want hulle wil hierdie goeie dinge vir ons doen.
Die Bybel sê God is ons Goeie Herder en ons sy skape – God weet wat is die beste vir ons en wil dit vir ons gee.
(Bg uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Preekriglyn

Ons teks speel af in die pilaargang van Salomo, in die tempel in Jerusalem. Die geleentheid was die Fees van die Tempelwyding of (ook genoem) die Fees van Hanukka (ligte). Hierdie fees is elke jaar vir agt dae lank gevier om die oorwinning van Judas Makkabeus oor die Siriërs in Desember 164 v.C. in herinnering te roep.

Judas Makkabeus het dus omtrent tweehonderd jaar voor Jesus geleef. “Makkabeus” kan met “hamer” vertaal word. Judas die Hamer was die seun van ‘n Joodse priester, Mattatias, wat teen die Siriërs se ontheiliging van die tempel in opstand gekom het. In daardie tyd het Sirië oor Jerusalem geheers.

Dit was ‘n verskriklike verhaal. Die Siriërs onder leiding van Antiogus Epifanes IV het Jerusalem bestorm en die stad begin afbreek. Hy het meer as 40 000 Jode gedood en ‘n verdere 40 000 as slawe laat wegvoer. Hy het die tempel onteer deur onder andere ‘n varksog op die altaar te offer vir die god Zeus, en ‘n bloedbrousel oor die vloere laat uitgooi. Antiogus het ook ‘n beeld van Zeus in die tempel geplaas. Daarmee was die tempel-ontheiliging volkome.

Vir drie jaar daarna is die tempel nie gebruik nie, totdat Judas Makkabeus op die toneel gekom en die tempel herstel het. Hy het ‘n guerrillastryd teen die Siriërs gevoer en Jerusalem uiteindelik bevry. Die tempel is op 14 Desember 164 v.C. weer geheilig. Van toe af is die Hanukka-fees gereeld gevier.

Die Joodse onafhanklikheid het nie lank geduur nie. Hulle het onder die Romeine se vyandige beheer beland, en weer ‘n Hamer nodig gehad. Die Hannuka-toewydingsfees het vanselfsprekend ‘n politieke kleur gekry en elke keer ‘n opwelling van nasionalisme by die Jode tot gevolg gehad. In Jesus se tyd het hulle steeds gesoek na ‘n held en bevryder soos Judas Makkabeus. Jesus het met sy wonderwerke en optrede van mag gelyk na so persoon.

Wie was Jesus? Was hy moontlik ‘n nuwe Judas die Hamer? Of was Hy dalk ‘n bedrieër? Wie was Jesus regtig?

“Wie is U?”

In ons teks drentel Jesus in die pilaargang van Salomo, die enigste deel van die tempel wat nog uit Salomo se tyd behoue gebly het. Hier druk die Jode Hom letterlik in ‘n hoek, en vra: “As U die Christus is, sê dit reguit vir ons” (24). Jesus word uitgedaag om sy Messiasskap te bevestig.

Dis nie die eerste keer dat gevra word wie Jesus is nie. By ‘n vorige Joodse fees, toe Jesus die verlamde man by die Bad van Betesda genees het, het die Jode ook gevra: “Wie is die man … ?” (5:12). Hier in Johannes 10 word die vraag herhaal en reguit gevra, want hulle is onseker. Hulle is vasberade om hierdie keer ‘n antwoord te kry. Daarom omsingel hulle Hom en druk Hom letterlik vas sodat Hy geen wegkom- kans sal hê nie.

Hulle onsekerheid is veroorsaak deur tekens, wonderwerke, genesings en opwekkings wat hulle sien, maar nie kan verklaar nie. Hy voldoen hoegenaamd nie aan hul vooropgestelde vereistes vir ware Messiasskap nie. Hy kom uit Galilea en het arm en eenvoudig groot geword. Hy was die seun van ‘n timmerman. So iemand kon nie die Messias wees nie.

Reeds in Johannes 10:19-21 is dit duidelik dat daar onder die Jode verdeeldheid was oor wie Jesus is. Vir party was Hy ‘n politieke verlosser of ‘n besetene, maar by party is die saadjie van erkenning tog geplant as hulle sy dade weeg. Miskien is Hy tog die Messias! Toe die hoëpriester en Fariseërs wagte stuur om Hom gevange te neem, het hulle met leë hande teruggekom en gesê: “Niemand het al ooit gepraat soos hierdie man nie” (Joh 7:46). Hy het hulle geleer “soos iemand met gesag en nie soos die Skrifgeleerdes nie” (Matt 7:29). Selfs Sy vyande het gevra: “Waar het hy hierdie wysheid vandaan gekry?” (Matt 13:54).

Die rol van verwagtinge

Hulle onvermoë om Jesus te herken het gelê in die stryd tussen hulle oortuigings (dat Hy die Christus is) en hulle weerbarstigheid (wat dit nie wil erken nie), omdat Hy nie beantwoord aan hulle verwagtinge nie.

Die Jode was seker hulle het geweet wie die Messias is en wat die Messias sou doen as hy kom. Hy sou die volmaakte Judas die Hamer wees. Hy sou die Jode monster om die koninkryk van Israel weer te vestig. Hy sou al die beloftes van ‘n eie land onder eie bewind waar maak.

Soos baie mense vandag, het die Jode net ruimte gehad vir ‘n Messias wat hulle eie verwagtinge bevestig. Baie mense het ‘n Jesus nodig wat welvaart skep (“Hy gaan my seën”), bevryding van onderdruktes bring, of ‘n besondere leermeester is en niks meer nie. Daar is die wêreld se plek vir ‘n Jesus wat ons agenda volg. ‘n Jesus met God se agenda, wel dit is ‘n ander saak.

Die rol van geloof

In sy antwoord beklemtoon Jesus dat Hy inderdaad al dikwels gesê het wie Hy is. Sy dade in die Vader se Naam bevestig ook wie Hy is. Dink net aan die talle geleenthede waar Jesus direk oor sy identiteit gepraat het:

  • aan die Samaritaanse vrou: “Dit is Ek (die Messias), Ek wat met jou praat.” (Joh 4:26)
  • aan die Jode, deur God sy eie Vader te noem en Hom so met God gelyk te stel (Joh 5:17-47)
  • aan die mense wat Hom na die broodvermeerdering gesoek het: “Wat God van julle verlang is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.” (6:29, ook verse 35, 51-65)
  • aan die man wat blind gebore was: “Jy sien Hom (die Seun van die Mens). Dit is Hy wat met jou praat.” (Joh 9:37)
  • in die tempel terwyl Hy die mense geleer het: “Ek is die lig vir die wêreld … oor My getuig Ek sélf en die Vader wat My gestuur het.” (8:12-20, 28, 29, 42, 56-58)

Die Jode weier egter om te glo, en Jesus te volg. Hulle kan nie deur God se agenda in Jesus verras word nie. Die Jode is nie van sy skape wat Hom volg nie. Daarom verwar Jesus se verwysings na Homself as die Goeie Herder (Joh 10:11 en 14) hulle net nog meer. Vanweë hulle ongeloof hoor hulle Hom nie, en meen dat Hy nie duidelik sê wie Hy is nie. Vandaar hulle determinasie om ‘n duidelike antwoord te kry.

Na al die bewyse wat Jesus vir hulle gegee het (sy woorde en dade) wou hulle steeds nie glo nie, bloot omdat hulle nie van sy skape is nie. Was hulle wel, sou sy identiteit vir hulle geen probleem gewees het nie. Sy skape lewe in ‘n verhouding met Hom, ken Hom en volg Hom:

My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.

Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie (10:27-28).

Die dade waarna Hy verwys, is gedoen in die Naam van die Vader. Daarom kon hulle dit toets aan die wil van God soos voorspel in die Ou Testament. Die probleem lê egter by hul eie ongeloof en doelbewuste miskenning van die profesieë waaraan hulle so krampagtig geglo het. Dis juis hulle ongeloof wat ‘n verblindende en ontkragtigende effek op hulle gehad het. Gebrek aan geloof beteken ‘n gebrek aan geestelike verstaan (Joh 8:43).

Die goeie Herder

Jesus se verwysing na Hom as die Herder is ‘n beeld wat uit die Ou Testament oorgeneem is. Die verhouding tussen God en Israel word herhaaldelik beskryf as die verhouding tussen ‘n Herder en ‘n kudde. Dink maar net aan Skrifgedeeltes soos Psalm 95; Jesaja 40; Miga 5 en Esegiël 34.

Die kenmerke van Israel as skape van God se kudde is dat hulle luister, die Herder ken en Hom volg. Die Herder hou hulle vas, versorg hulle en lei hulle. Hierdie Ou Testamentiese blik op God as Herder word in Johannes 10 op Jesus as die Herder wat van God kom toegepas. Jesus beskryf die Herder/kuddeverhouding op ‘n aangrypende manier:

  • My skape luister na My (10:3, 8, 16);
  • Ek ken hulle (10:3 en 14)
  • Hulle volg My (10:4 en 5)
  • Ek gee hulle die ewige lewe, hulle sal nooit verlore gaan nie (10:10)
  • Niemand sal hulle uit My hand ruk nie (10:12).

Die verhouding tussen die Herder en kudde werk op verskillende maniere in die praktyk. Die kudde luister na Jesus se woorde (“Luister na My”) en hulle geloof word deur Jesus erken (“Ek ken hulle”). Luister beteken dat hulle hul geloof daadwerklik uitvoer (“hulle volg My”) en Jesus skenk hulle ‘n wonderlike gawe as erkenning (“Ek gee hulle die ewige lewe”). Die kudde se geloof, luister en gehoorsaamheid geskied onder ‘n belofte (“hulle sal in ewigheid nooit verlore gaan nie”), waarvan die sekerheid deur Jesus self gewaarborg word (“niemand sal hulle uit my hand ruk nie”).

‘n Hamer van ‘n ander kaliber

Uit Jesus se gesprek met die Jode in die pilaargang van Salomo blyk duidelik dat hy geen Judas Makkabeus, geen Hamer met swaard, spies en boog is nie. Hy is die gestuurde van die Vader om die werk van die Vader te kom doen.

In Jesus versamel die Vader ‘n kudde wat aan Hom behoort, en sy koningskap herken. Jesus leer sy skape om Hom te volg en te gehoorsaam. So bring Hy die volheid van lewe, die ewige lewe, vir hulle. Hy beskerm hulle, en hulle gehoorsaam Hom.

God se aksie in die wêreld is om in Jesus geloofsgemeenskap in ‘n dissipelkring te skep. God leer mense deur Jesus om Hom te volg. Jesus is die manier hoe God koning in ons lewens word. Deur ons geloofsgemeenskap in Jesus en deur ons gehoorsaamheid verander God die wêreld.

Ons wêreld is vol mense wat deur geweld hulle ideale wil vestig. Dink aan Hamer George Bush, of Hamer Osama bin Laden. Dink aan die hamers van Parys, Istanboel en Brussels. Tegnologie het soveel sterker hamerslae as ooit moontlik gemaak. Dit verlei ons, want ons meen ons kan ons toekoms en ons voorspoed op ons eie manier skep.

Wil ons deel wees van so ‘n verhaal? Of wil ons deel wees van die verhaal van die goeie Herder, wat sy kudde leer en op die regte pad lei? Die Herder wat roep, insluit, leer, gehoorsaamheid bewerk en vir ons ‘n toekoms gee?

Dan is ons roeping om ons te laat inbind in ‘n intieme verhouding met Jesus. Te let op sy woorde, en dit te doen. Soos Hy ons leer deur sy Woord en Gees.

God stuur ons om te leef

Offergawes

Wegsending: Lied 511 “Lei U ons lig vs 1,2”

Seën
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Korintiërs 13)
of
Mag God ons geestesoog verhelder dat ons kan weet watter hoop sy roeping inhou; en dat ons kan weet hoe geweldig groot die krag is wat God uitoefen in ons wat glo – dieselfde krag waarmee God vir Jesus uit die dood opgewek het;
Amen (Ef 1:18-20).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.