Vierde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Die Vierde Sondag van Paastyd word Jubilate genoem: “Juig” uit Psalm 66:1-2.

Fokusteks

Handelinge 9:36-43

Ander RCL tekste

Psalm 23 (Die Here is ons Herder wat sy kudde lei en versorg.);
Openbaring 7:9-17 (Die hemelse leërskare voor die troon. Die Lam lei hulle na fonteine met lewende water.);
Johannes 10:22-30
(Jesus se skape luister na sy stem. Hy gee hulle die lewe).

Handelinge 9:36-43
Die opwekking van Tabita
36In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ’n bokamer neergelê. 38Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”

39Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”

Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.

43Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by ’n sekere Simon, ’n leerlooier.

Eksegeties

Vers 36: Joppe is die huidige Jaffa. Dit is ’n baie ou stad en is 45 myl noordwes van Jerusalem geleë. Dit dien ook as hawestad  vir Jerusalem.

Tabita (Aramees) en Dorkas (Grieks) is benaminge vir wildsbokkies of gaselle.

Dissipel (Gr mathetria). Dié vroulike vorm van die woord kom net hier in die Nuwe Testament voor.

Vers 37: “Gewas.” ’n Algemene gebruik van beskaafde nasies van daardie tyd wanneer iemand tot sterwe kom.

“Bokamer” is waar ’n liggaam normaalweg gehou sou word. Die vertrek wat die koelste was met die beste ventilasie. Die handeling dui nie noodwendig op ’n verwagting dat Petrus haar sou opwek nie.

Vers 38: “Gelowiges” is heiliges (Gr Hagios). Dit is een van Paulus se geliefde woorde vir Christene, nie noodwendig Lukas s’n nie. Dit word 3 keer in hoofstuk 9 gebruik en nog net een keer in Handelinge 26:10. In die Nuwe Testament word die woord meestal vir ’n groep mense gebruik en nie vir ’n enkel persoon nie. Dit verwys nie na die besondere soort mens, met ’n heilige karakter, soos dit in later tye die betekenis gekry het nie. Dit verwys na die besondere groep mense wat aan God behoort as sy eiendom.

“Stuur twee manne na Petrus.” Dit kom meer keer voor in Lukas se geskrifte om twee manne te stuur (10:7; 11:30). Petrus was naby, sy gawe van genesing waarskynlik bekend en hulle het geglo hy kan haar genees of opwek. Die Griekse uitdrukking me okneseis beteken “moenie vertraag; moenie wag nie”. Dit is ’n formele en hoflike manier om ’n dringende versoek te maak; amper ’n direkte opdrag te gee (Longenecker).

Vers 39: “Al die weduwees” verwys na die vroue vir wie Tabita al gehelp het.

Die uitdrukking “wys die klere” verwys na voorbeelde van dit wat sy van tyd tot tyd vir hulle gemaak het – bokleed en onderkleed.

Vers 40: Die woord “stuur uit” is ’n sterk woord (Gr ekbalon exo pantas). Miskien het Petrus met moeite daarin geslaag om die ander uit te kry (Mark 5:40).

“Staan op” (Gr anastethi) is ’n opdrag in volle geloof, soos Jesus aan Talita (Mark 5:41).

“Sit regop” (Gr anekathisen) – is dikwels deur mediese skrywers gebruik. Die woord kom in die Nuwe Testament net hier en in Lukas 7:15 voor.

Vers  43: “Bly by Simon, ’n leerlooier.” Die Jode het ’n leerlooier se beroep as onrein beskou en hulle het iemand wat die beroep beoefen het, vermy. ’n Rabbi het gesê: “It is impossible for the world to do without tanners; but woe to him who is a tanner.” ’n Jodin kon ’n egskeiding aanvra as sy sou uitvind haar man is ’n leerlooier. Petrus bly by so iemand oor. Dit was waarskynlik sy eerste tree op die pad om later saam met heidene te eet.

Hermeneuties

Van Paulus na Petrus: In die voorafgaande gedeeltes van Handelinge was Paulus in die kollig. Nou word Petrus weer in die middelpunt geplaas. Lukas vertel dat Petrus by al die plekke of gemeentes rondgegaan het; al die gemeentes in Judea, Galilea en Samaria besoek het. Daar is laas van Petrus gehoor toe hy die evangelie aan die Samaritane verkondig het (8:14 ev). Hierdie reis van hom wat nou plaasvind, was dus ’n soort visitasiereis, om hom op hoogte met die toestand in die gemeentes te bring. Op sy reis het hy by die gemeente in Lidda gekom, ’n dorp wat op die pad van Jerusalem na Joppe gelê het, 40 km noordwes van Jerusalem. Voordat Lukas beskrywe hoe die eerste heidene deur die optrede van Petrus in die kerk opgeneem is (Hand 10), vertel hy hier van twee wonderwerke wat deur die apostel verrig is. In die hele Judea het die kerk ’n tyd van rus en vrede geniet, maar deurdat Lidda en Joppe hier genoem word, was dit duidelik dat die grense van Judea bereik is. As die kerk nog verder sou moes uitbrei, sou die evangelie na die land van die heidene gaan. Dit gebeur ook hiervandaan verder. Na die verhale van Petrus se genesings hier in ’n etnies gemengde gebied, beweeg die kerk van Jerusalem na die heidene (10:1–11:18).

Een van die wonderlike gawes van Lukas is dat hy deur enkele penstrepe ons kan neem van die geweldige, aardskuddende moment soos Paulus se bekering, na die klein intieme toneel in ’n bovertrek van ’n arm huishouding wat gevul is met die naald- en breiwerk en waarin ’n goeie vrou so pas gesterf het. Hierdie gedeelte speel sy rol in Lukas se manier van vertel as hy ons nou eers weer terug bring by Petrus, nadat hy die verhaal van Paulus so tussen die vertellings van Jerusalem se apostels ingevoeg het (Wright).

Terwyl die Here besig is om vir Paulus op die pottebakkerswiel te verander en te vorm in die nuwe mens wat hy moet wees, is Hy ook besig om te werk aan die ander reus wat Hy wil gebruik in die vroeë kerk, Simon Bar-Jona. Die Here het ook aan hom ’n nuwe naam gegee; ’n paar jaar tevore – Kepha in Aramees of Petros in Grieks. Dit beteken “rots”. Jesus het gesê: “Op die rots sal ek My kerk bou” (Matt 16:18). Daarmee is nie net die man, Simon, bedoel nie, maar ook sy geloof. “While Saul prayed, Peter was used to open the way for a ministry to the world” (Ogilvie). Deur sy werk en sy geloof en gehoorsaamheid sou die pad na die heidene oopgebreek word.

Die bron van Petrus se krag word op ’n baie definitiewe manier in die gedeelte aangedui. Toe Petrus by die gelowiges in Lidda aankom, ’n dorp tussen Jerusalem en Joppe, het hy ’n verlamde man genaamd Eneas daar raakgeloop (9:33). Petrus het vir Eneas gesê dat dit nie hyself is wat gesond maak nie, maar dat Jesus hom gesond gaan maak. Hy het hom toe beveel om op te staan (9:34). Onmiddellik het die man, wat reeds agt jaar verlam was, opgestaan en begin loop.

Eneas: Die verhaal van Eneas se genesing het soos ’n veldbrand versprei. Die bewoners van Lidda en die omringende Saronvlakte, wat van Lidda tot by Karmel strek, het in groot getalle tot bekering gekom as gevolg van hierdie groot daad wat in die Naam van Jesus verrig is (9:35).

Tabita: Hierna verplaas Lukas ons na die kusstad Joppe wat sowat 17 kilometer noordwes van Lidda af was. Lukas vertel van die afsterwe van ’n gelowige vrou, Tabita, wat hier gewoon het (9:36). Hierdie vrou se Aramese naam, Tabita, sowel as haar Griekse naam, Dorkas, beteken “bokkie”.

Heiliges: Dis tog opmerklik dat Lukas nie die woord “kerk” gebruik om Jesus se volgelinge aan te dui nie. Hy praat van “God se mense” of “heiliges”. Die gelowiges in die gedeelte word twee keer hagios genoem. “Heiliges” kan ook vertaal word as “anders”. Dit is belangrik om die betekenis van die woord in ag te neem. Dit beskryf iets wat anders is as die gewone. ’n Gelowige is iemand wat anders doen en leef en werk. Eers was Israel anders omdat God hulle gekies het – nou is die Christene anders omdat God hulle weer op ’n besondere manier gekies het vir sy spesifieke doel. Christene is mense wat gered is om te dien (Barclay).

Model van omgee: In Dorkas gee Lukas ons ’n model van Christelike omgee in ’n gemarginaliseerde gemeenskap. Weduwees en wese was die mees kwesbare mense in die destydse gemeenskappe (Luk 20:47). Daar was geen regeringsondersteuning of welsynsorganisasies om hul te hulp te kom nie. Dorkas het omgegee en gehelp. Sy het goed gedoen (Larkin).

Eneas was relatief onaktief vir agt jaar omdat hy verlam was (v 33); Tabita daarteenoor, was weer besonder aktief in haar diens aan die behoeftiges (v 36). Met albei se genesing beklemtoon Petrus dat dit Christus is wat die genesing bewerk het. Ons weet nie of Eneas ’n gelowige was nie, terwyl Tabita dit verseker was. Dit is treffend dat dit daar van haar gesê word, maar nie van Eneas nie; dat sy ’n gelowige vrou was. Sy het in die gemeente ’n besondere plek ingeneem deur die baie goeie werke wat sy gedoen het (1 Tim 2:10), en deur haar mededeelsaamheid (De Villiers).

Hiermee word ook aangetoon dat wonders in die nuwe kerk nie net aan ongelowiges gedoen is om mense tot redding te bring nie, maar ook aan gelowiges wat reeds aan die kerk behoort het (Ajith).

Diakones: Dit is nie uit die oorspronklike teks af te lei of Tabita getroud, ongetroud of ’n weduwee was nie. Haar goeie werke en die aalmoese wat sy gegee het, kan ook ’n meer amptelike werksaamheid aandui, waardeur sy dalk ’n voorloper van die latere diakonesse in die Nuwe Testament word (vgl. Rom 16:1, 12; De Villiers).

Aanloop tot die genesing: Na Tabita se dood is haar liggaam volgens die begrafnisgebruike van destyds gewas en uitgelê. ’n Persoon is normaalweg begrawe voor sononder op dieselfde dag van die afsterwe. Die liggaam is in die bokamer neergelê. Hierdie vertrek was die plek wat vir besondere doeleindes en plegtighede gebruik is, en die beste geventileer was; daarom was dit die geskikste plek om die liggaam neer te sit (1 Kon 17:19; 2 Kon 4:21 ev).

Die gelowiges in Joppe het gehoor dat Petrus in die omgewing was. In ooreenstemming met Jesus se gebruik (Mark 6:7; 11:1; 14:13; Luk 10:13; 19:29) en die gebruik van die vroeë Christendom (vgl 11:30; 15:27; 19:22), word twee mans na Petrus toe gestuur om hom te vra om te kom. Die versoek word in die Grieks op ’n baie vriendelike en hoflike wyse gestel (vgl Num 22:16; De Villiers).

Lukas sê nie waarom hulle dit gedoen het nie. Dalk het hulle gehoop dat Petrus die een of ander wonder sou verrig. Heel waarskynlik wou hulle hê dat hy by haar begrafnis aanwesig moet wees om hulle te vertroos. Met Petrus se aankoms in Joppe gaan hy dadelik na die bovertrek waar Tabita gelê het. ’n Aantal weduwees het hier om haar liggaam gestaan. Soos ons vroeër gesien het (vgl 6:1), was weduwees gewoonlik baie arm. Daarom kan ons aanvaar dat hulle onder diegene getel het aan wie Tabita vroeër goed gedoen het (vgl 9:36; 39).

Die werkwoord wat hier vir “ween” of “snik” gebruik word, is ’n sterk woord en dui ’n harde geweeklaag aan. Hierdie weduwees was egter geen betaalde roubeklaers nie (Matt 9:23); hulle het geween omdat hulle hulle weldoener verloor het. Om Petrus te oortuig van Tabita se onmisbaarheid vir hulle, het hulle aan hom die klere gewys wat sy gemaak het toe sy nog geleef het. Waarskynlik was dit die klere wat die weduwees op daardie oomblik gedra het.

Genesing: Petrus stuur almal uit die kamer uit, net soos wat Jesus gedoen het toe Hy vroeër die dogter van Jaïrus lewend gemaak het (Mark 5:40). Daarna kniel hy en bid dat God ’n wonder sal doen. Weer is dit nie op sy eie krag wat hy staat maak nie, maar op die krag van Jesus Christus, sy Here en Meester. Petrus sou nooit aanspraak maak as die bron van die helingskrag nie – hy was alleen die kanaal waardeur die krag sou werk (Barclay). Ootmoedig het Petrus sy knieë gebuig en gebid soos Elia en Elisa gedoen het (1 Kon 17:20; 2 Kon 4:33). Die opdrag wat Jesus aan sy dissipels gegee het om dooies op te wek (Matt 10:8), het nou ’n werklikheid geword.

Dan draai Petrus na die vrou toe (lett na die liggaam toe) en gee die eenvoudige bevel: “Tabita, staan op!”, soos Jesus ook vir die dogtertjie van Jaïrus gesê het (Mark 5:41). In die omgekeerde van die eerste ding wat vir die voorbereiding van die begrafnis gedoen word, die toemaak van die oë van die oorledene, maak Tabita haar oë oop en as sy Petrus sien, sit sy regop.

Petrus roep nou die ander gelowiges nader sodat hulle kon sien watter groot daad God in hulle midde gedoen het. Net soos in die geval van Eneas se genesing, het die nuus oor Tabita deur die hele Joppe versprei sodat baie mense tot bekering gekom het (9:42).

Losmaak van vooroordele: Petrus het ’n geruime tyd daar gebly. Hoe lank, kan nie gesê word nie. Al hierdie tyd het hy in die huis van ’n sekere Simon wat die beroep van leerlooier beoefen het, gebly. Hierdie laaste feit is betekenisvol. Leerlooiery het by die Jode tot een van die veragte beroepe behoort. Dit was so omdat ’n mens in die beroep verplig was om die dooie liggaam van diere aan te raak en sodoende onrein word (Lev 11:39). ’n Leerlooier se huis of werkplek moes op die buitewyke van enige dorp wees as gevolg van die stank wat met die leerwerk gepaard gegaan het. Simon se huis was by die see (10:6) (Ajith).

Aangesien die leerlooiers deur die Grieke en Jode verag is, getuig hierdie optrede van Petrus reeds van die vryer opvattings wat hy gehuldig het teenoor sy volksgenote. Hiermee begin hy hom reeds van die vooroordele van sy volksgenote losmaak. Sy verblyf by Simon berei hom voor vir sy ontmoeting met Kornelius in hoofstuk 10 (De Villiers). “Do not belittle the ministry of stitching, sewing, knitting and generally providing for the needs of the larger community – especially at a time before anyone dreamed of mass-produced clothes. And do not forget to celebrate, as Luke does here, the fact that the apparently ordinary people are not ordinary to God, and that when we tell the story of the great sweep of God’s purposes in history there are, at every point, the Aeneases and the Dorcases who smile out of the page at us, like the robin in the garden, and remind us what it’s really all about. Luke is right to draw our eyes down to the small-scale and immediate, in case we should ever forget that these are the people who form the heart of the church, while the apostles and evangelists go about making important decisions, getting locked up, stoned on, shipwrecked, preaching great sermons, writing great letters, and generally being great and good all over the place (Tom Wright).”

Ekstra inligting

In first-century Rome, women without men topped the list of vulnerable populations. A widow had little access to economic structures. The recurring biblical theme of charitable concern for widows reveals their inferior status and poor treatment in the community.

An argument in the faith community over the care of widows raised such concern that the office of deacon was created to resolve it (Acts 6). Yet despite the churchmen’s concern, they stopped short of imagining the widows free from dependence and powerlessness.

The widows of Joppa had only Tabitha and her faith-based initiative. The only woman in all of scripture to be called a disciple, Tabitha cared for the widows, apparently out of her own resources and in the most practical of ways — she sewed their clothing. Her death was such a crisis that they sent for Peter.

Alone with the body, Peter prayed and then commanded Tabitha to get up. She opened her eyes and, with help, got up. Peter had been on the move, teaching and healing by the power of the Holy Spirit. By that same Spirit he was able to show Tabitha to be alive and well, restored body and soul to the widows who depended on her acts of charity for their survival.

Many who heard about Tabitha’s venture to and return from the other side believed, perhaps because it was a miraculous event. Or perhaps because of what the event revealed about God. The widows would not be abandoned. God would not allow it.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus 

Die Herdermotief kom sterk navore in meeste van die tekste vir hierdie Sondag: Met Psalm 23 bely ons dat die Here ons Herder is, in Johannes 10 belowe Christus dat niemand ons uit sy hand sal ruk nie en in Openbaring 7 lees ons dat die Lam sy kudde na die fonteine met die ewige lewe sal lei en daar alle trane sal afdroog. In Handelinge 9 lees ons van weduwees wat treur oor ’n vriendin wat oorlede is, hoe Petrus bid en God haar uit die dood laat opstaan.

Tema: God gee om vir gewone mense – dit maak die pad vir die evangelie oop

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.  Hier is ‘n paar voorstelle vir hierdie Sondag waaruit jy kan kies:

Aanvangswoord:
Gemeente: Die Here is my Herder, ek het niks meer nodig nie.
Voorganger: Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie.  Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer anders sien.

Gemeente: Die Here is my Herder,  ek het niks meer nodig nie.
Voorganger: Hy gee my krag om reg te lewe.  Soos ’n gids lei Hy my elke dag om volgens sy wil te lewe.

Gemeente: Die Here is my Herder, ek het niks meer nodig nie (uit Ps 23).

Lied

Flam 120 “Hy is Heer”
Flam 237 ‘Hy leef”
Flam 65 “Jesus U naam is ons vryheidslied”
Flam 72 “Ons glo”
Of
Flam 108 “’n Sonstraal”

Familie-oomblik

Ons lees vandag in die Bybel van iemand met die naam Tabita, wat “wildsbokkie” beteken.  ’n Wildsbokkie is klein en fyn, ’n pragtige diertjie.  ’n Wildsbokkie is nie so sterk soos ’n leeu, so groot soos ’n olifant, so vinnig soos ’n luiperd, so vreesaanjaend soos ’n seekoei nie.  Maar ’n bokkie is pragtig!

Tabita laat mens aan ’n pragtige wildsbokkie dink omdat die dinge wat sy gedoen het so mooi was.

Tabita se dade was so mooi soos die Here Jesus s’n.  Ons lees in die Bybel hoe die Here omgegee het vir mense, ook vir mense wat dalk in ons oë nie so belangrik is nie.   Hy was lief vir siekes, kindertjies en onbelangrike mense.  Jesus vat aan siek mense, bid vir hulle, en genees hulle.  Hy gee kos vir mense wat nie kos het nie.  Die wat nie kan loop nie, word gesond gemaak, blindes se oë word genees.

Jesus se liefde is mooi.  Daarom is mense wat Jesus se liefde verstaan, en self liefde betoon ook mooi.  Tabita was so ’n mooi vrou.  Sy was nie belangrik nie.  Niemand sou haar kies vir die parlement, of op die TV met haar gesels oor die probleme van die land nie.  Sy was ’n gewone, onbelangrike mens.

Maar Tabita was mooi, want sy het die mense rondom haar gehelp.  Weduwees, wat niemand gehad het om hulle te versorg nie, het klere by Tabita gekry.  Sy was altyd besig om goed te doen.

Tabita, die wildsbokkie, was binne-in haar hart mooi.  Dit is die mooiste mooi wat daar is.

of Jy kan ‘n uittreksel uit die fliek “Bee Movie” wys en vertel hoe belangrik bye in ons ekologie is.

Bye speel ‘n baie belangrike rol in ons lewe, al is hulle klein en weet ons baie keer nie eers van hulle nie.  Deur plante te bestuif, sorg hulle dat ons kos het.  Natuurlik eet ons nie net die plante nie, maar het plante ook ‘n belangrike rol in die produsering van suurstof.

Volgens Einsten sal die mensdom binne vier jaar uitsterf as bye sou uitsterf.  As dit waar is, is ons letterlik vir ons lewens afhanklik van bye!

Al is hulle klein en skynbaar onbelangrik, gebruik God hulle.  Nes vir Tabita.  En ook elkeen van die kinders.

of Hangman
Het julle al Hangman gespeel?  Dit is as jy net ’n paar letters van ’n woord kry en die ander moet raai.  Elke verkeerde raai teken ’n mens ’n prentjie van ’n man wat gaan hang.

Kom ons speel dit met die volgende woord.  Ek gee vir julle W_D_W__ (Weduwee). (As die kinders ouer is, laat hulle woord Dorkas of Tabita raai)

Wat is ’n weduwee?

Dit is ’n getroude vrou wie se man dood is.

Ken julle sulke mense?

Tabita

Ons lees van ’n vrou in die Bybel wat vir sulke mense gesorg het.  Haar naam was Tabita. Kyk hoe mooi lyk sy (grafika op die web).

En sy kon goed kleremaak en het vir die weduwees in haar dorpie Joppe klere gemaak.  Dit was so wonderlik dat die mense vir haar twee name gegee het.  Die Hebreeuse mense het haar Tabita genoem.  Maar sy het so baie Grieke ook gehelp, dat die Grieke vir haar Dorkas genoem het.

Maar, toe raak sy siek en gaan dood.  En almal was baie hartseer. Hulle stuur toe 2 mans om vir Petrus te gaan roep.  En hulle wys vir hom van die pragtige klere wat sy gemaak het, toe sy nog gelewe het.

En Petrus stuur almal uit en vra vir die Here om Tabita weer lewendig te maak.

En wat gebeur toe?  God antwoord en maak haar weer lewendig.

God wys daarmee dat Hy vir gewone mense omgee, want nou het die weduwees weer iemand gehad wat vir hulle kon sorg.

Ons kan ook soos Tabita vir ander help.  Ek wil graag vra dat julle volgende week klere vir weeskinders bring.

Sal wonderlik wees as julle dit kan doen.  Dan maak ons ’n paar kinderhartjies bly.

Sal julle dit doen?  Ek weet julle sal!

Ek gaan nou vir elkeen van julle ’n papier pop gee (twee prentjies in ’n zipfile op die web).  Haar naam is Tabita.  Julle kan vir haar ’n rokkie aantrek en met haar speel tydens die kerk.  Dit sal julle sommer ook herinner om klere volgende week kerk toe te bring.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Heuningbye speel ’n belangrike rol in lewe soos ons dit ken.  Miljoene nederige heuningbytjies zoem-zoem elke dag die wêreld vol, besig om ’n verskeidenheid plante te bestuif. (Dit staan as entomofilie bekend).  Hierdie bestuiwing maak lewe vir mens en dier moontlik.  Wikipedia lys meer as 130 plantgroepe wat vir bestuiwing primêr van heuningbye afhanklik is.

Sedert 2007 word daar groot byesterftes in die Westerse wêreld gerapporteer, tot soveel as 70% van swerms.  Hierdie sterftes, wat bekendstaan as Colony Collapse Disorder, hou waarskynlik met klimaatsveranderings of veranderende boerderypraktyke verband.  Hoe dit ook al sy, die grootskaalse uitsterf van heuningbye sal katastrofies vir mens, dier en plant wees.  Bye is deel van die plot van die skepping.  Bye is nodig om die wêreld te maak werk.

Heuningbye is ’n simbool van vlytigheid en nederige diensbaarheid.  ’n Besige, diensbare persoon kan as ’n besige heuningbytjie beskryf word!

Dorkas (Grieks) of Tabita (Aramees), wie se naam in albei gevalle wildsbokkie beteken, was ’n besige heuningbytjie.  Haar diensbaarheid het die wêreld vir talle brose weduwees maak werk.  Danksy haar kon talle ander lewe.

Wie was Tabita?

Tabita word in Hand 9:36 betekenisvol as ’n dissipel (Gr mathetria) beskrywe.  In die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) gaan hierdie betekenis verlore wanneer sy ’n gelowige vrou genoem word.  Sy was ’n volgeling en leerling van Jesus van Nasaret (OAV dissipelin) , wat in haar lewe die Here nageboots het.  Hierdie besige by was altyd besig om goed te doen en die armes te help.

Wanneer sy sterf, huil die weduwees omdat Tabita vir hulle klere gemaak het.  Weduwees en wese was die mees kwesbare mense in die destydse samelewing.  Om buite ’n verhouding met ’n regspersoon (’n man) te staan, het beteken dat lewensmiddele, behuising en finansiële versorging grootliks buite hierdie vroue se bereik was.  Daar was nie regeringsversorging of ’n welsynsnet wat die weduwees beskerm het nie.

Heide Peterson skryf:
In first-century Rome, women without men topped the list of vulnerable populations. A widow had little access to economic structures. The recurring biblical theme of charitable concern for widows reveals their inferior status and poor treatment in the community.

An argument in the faith community over the care of widows raised such concern that the office of deacon was created to resolve it (Acts 6). The widows of Joppa had only Tabitha and her faith-based initiative. The only woman in all of scripture to be called a disciple, Tabitha cared for the widows, apparently out of her own resources and in the most practical of ways — she sewed their clothing.

Tabita, die dissipel van Jesus, beliggaam ’n model van Christelike omgee in ’n gemeenskap van weerlose vroue.  Ons weet nie of Tabita getroud, ongetroud of ’n weduwee was nie.  Sy het egter die gawes en middele waaroor sy beskik het gebruik om ander te dien en lewe vir hulle moontlik te maak.  Deur goed te doen en aalmoese (OAV) te gee, het sy meer gedoen as wat gangbaar verwag is, en so getoon dat sy die Here se hart vir armes verstaan, en Sy gesindheid en voorbeeld navolg.

Tabita was moontlik ’n voorloper van die ander vrou-diakens waarna die Nuwe Testament verwys (Rom 16: 1 en 12).

Wat het Tabita gegee?

Tabita het meer as kos en klere gegee.  Sy het lewensruimte gegee.  Meer nog: sy het lewe gegee.  Ons moet versigtig wees om haar optrede nét as barmhartigheid te verstaan.  Tabita verteenwoordig ook die Bybelse aandrang op geregtigheid.  Geregtigheid beteken dat mens só lewe dat ander lewensruimte het, dat ander ook, by wyse van spreke, ’n lewe kan hê en ’n bestaan kan maak.  Wanneer Jesus die weduwee van Nain se enigste seun uit die dood opwek, en aan haar teruggee, is dit tegelyk ’n daad van geregtigheid en barmhartigheid.  ’n Gebroke moeder kry haar seun terug (barmhartigheid), terselfdertyd kry ’n brose en afhanklike weduwee haar broodwinner terug (geregtigheid).

Soos bye lewe vir plant, dier en mens moontlik maak, so het Tabita lewe geskenk aan ’n groep gemarginaliseerde mense.

Self ’n vrou, het Tabita nie die beperkinge van haar bestaan as hindernis gesien om te doen wat sy geroep was om ’n doen nie.  Sy was ’n dissipel wat Jesus se lewegewende barmhartigheid en geregtigheid teenoor die mense rondom haar gepraktiseer het.

Tabita word teruggegee

Vir die weduwees was haar onverwagse dood so ’n krisis dat die gelowiges van Joppe Petrus onmiddellik laat roep. Hy was op daardie stadium in die naburige Lidda, waar die verlamde en bedlêende Enneas pas deur sy bediening genees is.

Met Petrus se aankoms in Joppe gaan hy dadelik na die bovertrek waar haar gewaste liggaam neergelê is.  Die weduwees bekla hul lot by Petrus en wys op die klere wat sy vir hulle gemaak het.  Almal word uit die vertrek gestuur, net soos Jesus vroeër gedoen het toe Hy die dogter van Jaïrus lewend gemaak het (Mark 5:40).  Alleen met Tabita bid Petrus dat God ’n wonder sal doen.  Weer is dit nie op sy eie krag wat hy staat maak nie, maar op die krag van Jesus Christus, sy Here en Meester.  Petrus bid soos Elia en Elisa gedoen het (1 Kon 17:20; 2 Kon 4:33). Die opdrag wat Jesus aan sy dissipels gegee het om dooies op te wek (Matt 10:8), het nou ’n werklikheid geword.

Dan draai Petrus na die vrou toe en gee die eenvoudige bevel: “Tabita, staan op!”, soos Jesus ook vir die dogtertjie van Jaïrus gesê het (Mark 5:41).  Tabita maak haar oë oop en sit sy regop.

Petrus roep nou die ander gelowiges nader sodat hulle kon sien watter groot daad God in hulle midde gedoen het. Net soos in die geval van Eneas se genesing, het die nuus oor Tabita deur die hele Joppe versprei sodat baie mense tot bekering gekom het (9:42).

Tabita se dood en opwekking vermenigvuldig die getuieniskrag van haar lewe.  Baie glo nou deur wat die Here in en deur haar gedoen het.

Haar opwekking getuig van die Here se besorgdheid oor die geringe weduwees van Joppe.  Die weduwees sou nie onversorgd gelaat word nie, daarvoor sou die Here sorg.  Die wonderwerk van haar terugkeer uit die dood getuig nie net van God se magtige werk deur Petrus nie, maar veral van die Here se besorgdheid en liefde teenoor die geringstes van die geringes.

Klein liggies op die pad van die evangelie

Enneas se genesing (10:32-35) en Tabita se opwekking speel af tussen die groot gebeure wat die gang van die evangelie in die wêreld bepaal het.  In die voorafgaande gedeelte vertel Lukas van Paulus se bekering, en net hierna volg die ontsettend belangrike verhaal hoe die evangelie deur Petrus se bediening na die heidennasies deurgebreek het.  Tussen-in word vertel van die eenvoudige Enneas en Tabita.

Die klein liggies van twee eenvoudige mense skyn tussen die helder vloedligte van die invloedryke Petrus en Paulus, die twee menslike hoofkarakters van Handelinge.

In beide die klein en die groot ligte is God aan die werk.  Vader, Seun en Heilige Gees, die Goddelike Familie van volmaakte liefde, werk deur mense met die doel om heil, genesing en geregtigheid vir mense te bring.  Wat God se genadige aandag trek, word duidelik wanneer die kollig val op ’n verlamde, bedlêende man, en ’n vroue-dissipel in Joppe wat vir weduwees omgee.

Die tema word verder beklemtoon wanneer terloops vertel word Petrus gaan tuis by ’n sekere Simon, ’n leerlooier.  Die Jode het ’n leerlooier se beroep as onrein beskou, en leerlooiers is sosiaal vermy.  ’n Rabbi het gesê: “Dit is onmoontlik vir die wêreld om sonder leerlooiers oor die weg te kom, maar weë hom wat ’n looier is.”  Nog ’n klein liggie speel met sy gasvryheid ’n belangrike rol in die voortgang van die evangelie, en berei Petrus voor vir sy ontmoeting (in die volgende hoofstuk) met die onrein Kornelius.

NT Wright stel dit aangrypend:
Moenie die bediening van naaldwerk, stik, brei en die voorsiening in die behoeftes van die gemeenskap geringskat nie – veral in ’n tyd voordat die massa produksie van klere bekend was.  En onthou om die feit feestelik te vier dat skynbaar gewone mense vir God buitengewoon is, presies soos Lukas hier doen.  Wanneer ons die dramatiese verhaal vertel van die bewegings van God se bedoelinge in die geskiedenis, is daar op elke punt die Enneasse en Dorkasse wat uit die bladsy vir ons glimlag, en ons herinner waaroor God se bedoelinge eintlik gaan.  Lukas doen reg deur ons aandag te vestig op die klein dade en skynbaar onbelangrike mense, sodat ons nooit vergeet dat hierdie die mense is wat die hart van die kerk vorm nie.  Terwyl die apostels en evangeliste belangrike besluite neem, opgesluit word, met klippe bestook word, skipbreuk ly, belangrike preke afsteek, invloedryke briewe skryf, en oraloor belangrike, goeie dinge doen, is dit hierdie klein mensies wat die hart van die kerk vorm.

Toepassing

Een:  Klein dade
Miljoene der miljoene klein heuningbye hou ’n massiewe voedselketting in stand.  Dit is die klein dade van ’n Tabita wat groot invloed uitoefen en die lewe vir ander aangenaam en draaglik maak.  Daarom vier ons gemeente ook die talle lidmate en mede-gelowiges wat God se hart verstaan en omgee vir hul medemens.

Nota:  Hier kan die prediker gerus sulke verhale uit die geskiedenis van die gemeente en gemeenskap vertel.  Kies die verhale van nederige mense wat omgee, en vertel dit saaklik en spesifiek, sonder om moraliserend of stroperig te wees.  Verdere voorbeelde: Staan daar dalk ’n standbeeld iewers in die plaaslike gemeenskap opgerig vir iemand wat ’n groot daad gedoen het?  Vertel die verhaal.  Regs langs die openbare biblioteek in Port Elizabeth is ’n gedenkplaat opgerig ter herinnering aan ’n brandweerman wat meer as ’n eeu gelede sy lewe daar verloor het.  Hy het ’n brand in ’n huis, wat destyds op daardie perseel gestaan het, help blus en in die proses vasgekeerde mense gered.  Ongelukkig het sy eie lewe in die slag gebly.  Dié soort verhaal help ons verstaan hoe mens ’n Tabita vir jou medemens kan wees.

Hierdie duisende klein dade van gehoorsaamheid is direk ingeprop op die hartklop van die evangelie, eintlik op die hartklop van God self.  Dit openbaar God se bedoelinge vir die lewe van sy kerk.  Die leierskap van die apostels en die Heilige Gees skep juis die ruimte waarbinne die klein menigvuldige liefdesdade kan floreer.

Twee: Aan wie?
Gelowiges moet leer om die noodlydendes in die gemeenskap raak te sien.  Wie is die brose mense wat afhanklik is van ander se versorging om te kan oorleef?

Joyce Mngadi is ’n dinamiese swart vrou wat in Kwazakehle, Port Elizabeth woon.  Daar is in haar eenvoudige baksteenhuisie ingebreek, waarna die skuldiges vasgetrek is.  Tydens haar besoek aan die hof om in die saak te getuig, sien hy hoeveel jong kinders by misdaad betrokke is.  Dit raak haar so diep dat sy besluit om ’n créche vir voorskoolse kinders van werkende enkelouers te begin, sodat hierdie kinders ‘n beter kans in die lewe kan kry.  Sy rig ’n shack-struktuur in haar agterplaas op en versorg spoedig 46 kinders.  ’n Regte Tabita, aan wie die kerk erkenning moet gee, haar ondersteun en help om haar voorbeeld in die lewe van ander te vermenigvuldig.

Joyce het noodlydendes raakgesien, in hierdie geval kinders wat deur niksnutte grootgemaak is vir ’n lewe van misdaad.  Sy getuig dat die Here hierdie kinders vir haar uitgewys het.  Hulle is haar roeping as gelowige.  Wie druk die Here vir ons as gemeente, vir jou as gelowige, op die hart?

Drie:  Doelgerigte fokus
Ons as gemeente behoort ernstig na te dink hoe die vermenigvuldiging van die Tabita-of Mngadi-bedieninge meer sentraal in die gemeente se beplanning kan staan..  Wat sou gebeur as die vermenigvuldiging van die duisende klein dade van liefde ons gemeente se verbeelding aangryp, en ons dit op elke vlak van ons lewe begin najaag, sonder dat iemand ons hoef te organiseer, of sonder dat die kerkraad daarvoor hoef te begroot?  Just do it.

Tydens ’n besoek aan ’n blanke gemeente wat haar bediening ondersteun, het Joyce Mngadi opgemerk:  “If you don’t serve your community, don’t try to throw your weight around in the church.”  Sy bedoel daarmee dat gemeentes gelei moet word deur mense wat die bediening van die besige heuningby beoefen en verstaan.  Die bediening van die klein liggies, wat Lukas in sy vertelling vier, is die perspektief en koers waaruit gemeentes gestuur moet word.  Wanneer besluite oor geld, geboue, begrotings en bedieninge nie in die greep van ’n lewe van diens aan die gemeenskap staan nie, kan die gemeente ontspoor en selfgesentreerd raak.

Vier: Gebede om lewe
Petrus bid hier vir die afgestorwe Tabita en sy word weer lewend.  As wetenskaplik-gevormde mense kan ons nogal verleë staan voor hierdie teks.  Dit is nie ’n alledaagse verskynsel dat dooie mense lewend word nie – in elk geval nie binne ons ervaringswêreld nie.  Petrus se optrede daag ons uit om lewegewende gebede te bid.  Ons sal verras word met hoe die dood wyk wanneer ons so bid.

Lewegewende gebede sluit letterlik in om te bid vir die opwekking van dooies.  In Handelinge 9 sien God die trane van die weduwees en gee Tabita aan hulle terug.  God se belofte om lewe (terug) te gee, geld ook die skeptiese en siniese wêreld van die wetenskaplike Westerling.  Dit verg nederige afhanklikheid aangesien lewe en dood in God se hande is.  Geen mens beskik daaroor nie.

Lewegewende gebede sluit ook die omkeer van situasies van doodsheid in.  Daar is soveel vasgevalde situasie in ons wêreld.  Soms is dit uitsiglose konflikte waarin ons onsself bevind, ander kere weer politieke kwessies, sosiale vraagstukke (bv. armoede) of uitdagings waarvoor ons in ons gesinne of huwelike te staan kom.  Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking (Jakobus), sodat ons beslis meer kan bid om lewe.

Marius vertel hoedat die onverstaanbare woede-uitbarstings van hul laerskooldogtertjie hul destyds raadop gehad het.  Die woede kan net as dramaties beskryf word.  Die dogter het haar klasse by die skool ontwrig, maatjies het draaie om haar begin loop en binne die gesin het hulle nie herwaarts of derwaarts geweet nie.  Marius het begin om elke oggend 20 minute vroeër by die werk op te daag, ’n gedeelte uit sy Bybel gelees wat oor God se beloftes handel, en gebid vir die situasie.  Klein Lina se woede-uitbarstings het heeltemal verdwyn.  Vandag is sy ’n student en ’n regte dissipel, ’n Tabita vir die mense rondom haar – ’n heuningbytjie van formaat.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

Gee geleentheid vir gebed.  Lidmate kan hardop in gebed voorgaan, of daar kan in klein groupies gebid word.  Bid spesifiek rondom die volgende temas:

  • Dank die Here vir die voorbeeld van mense soos Tabita in die geskiedenis van die gemeente en gemeenskap.
  • Vra die Here om duidelik aan te toon wie Hy op die gemeente se hart druk.  Wie is die weduwees na wie die gemeente behoort uit te reik?  Wie is daar wat die Here op indiwiduele gelowiges se harte druk.
  • ’n Fotobeeld van die gemeenskap, verteenwoordigend van die hele omgewing kan getoon word.  Vra lidmate om te bid vir die mense wat deur assosiasie met die foto’s op hulle harte gedruk word.
  • Wat gaan lidmate doen rondom diegene wat die Here vir hulle op die hart druk?  Wat gaan die gemeente doen rondom diegene wat die Here op die gemeente se hart druk.

Slotlied:  Lied 524

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.