Vierde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Wanneer dit saam gelees word, getuig die fokusteks vir die derde Sondag in Paastyd uit Openbaring 7 sowel as Psalm 23 en Johannes 10 dat Jesus Christus, die opgestane Here, ook die goeie Herder is. Die ritme van die vorige twee Sondae in Paastyd word voortgesit wanneer die teks uit Openbaring ‘n eskatologiese perspektief op die opgestane Jesus Christus en goeie herder gee. Hierdie eskatologiese perspektief word weereens geanker in die Ou Testament wanneer Psalm 23 die Here as die goeie herder voorstel. Johannes 10 beklemtoon verder dat een van die diepste karaktereienskappe van Jesus (en dus van God) dié van die goeie herder (v 11) is en dat sy skape na sy stem luister en Hom volg. Dit is hierdie getroue volgelinge wat uiteindelik in Johannes se hemelse visioen in wit geklee voor die troon en voor die Lam staan, “want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei” (v 17). Die verhaal van die opwekking van Tabita uit die dood in Handelinge 9 wys hoe die ervaring van die opstanding uit die dood reeds in hierdie lewe kenmerkend van die lewe van Jesus se volgelinge is.

Sleutelteks

Openbaring 7:9-17

Die Honderd vier-en-veertigduisend
1Hierna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde in bedwang gehou, sodat daar nie wind op die land of op die see of teen enige boom sou waai nie. 2Ek het ook ‘n ander engel van die oostekant af sien aankom, wat ‘n seël van die lewende God vashou. Hy het met ‘n kragtige stem geroep na die vier engele wat aangesê is om die land en die see te beskadig, en gesê: 3“Moenie die land of die see of die bome beskadig, voordat ons die diensknegte van ons God met ‘n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie.” 4Ek het toe gehoor wat die getal is van hulle wat met die seël gemerk is: honderd vier-en-veertigduisend – uit elke stam van die kinders van Israel:

5Uit die stam Juda, twaalfduisend
wat die seël dra;
uit die stam Ruben, twaalfduisend;
uit die stam Gad, twaalfduisend;
6uit die stam Aser, twaalfduisend;
uit die stam Naftali, twaalfduisend;
uit die stam Manasse, twaalfduisend;
7uit die stam Simeon, twaalfduisend;
uit die stam Levi, twaalfduisend;
uit die stam Issaskar, twaalfduisend;
8uit die stam Sebulon, twaalfduisend;
uit die stam Josef, twaalfduisend;
uit die stam Benjamin, twaalfduisend
wat die seël dra.

Die groot skare in die hemel
9Hierna het ek gesien, en kyk, daar was ‘n baie groot skare, wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan, en voor die Lam. Hulle het lang wit stolas gedra, met palmtakke in hulle hande. 10Hulle het met ‘n harde stem uitgeroep:

“Die verlossing behoort aan ons God,
wat op die troon sit,
en aan die Lam!”

11Al die engele het rondom die troon, en ook rondom die ouderlinge en die vier lewende wesens, gestaan. Hulle het toe op hulle gesigte neergeval voor die troon, en God aanbid 12en gesê:
“Amen!

Die lof, die heerlikheid en die wysheid,
die dank en die eer,
die krag en die sterkte
kom ons God toe vir ewig en ewig.
Amen!”

13In antwoord daarop het een van die ouderlinge vir my gevra: “Hierdie mense wat die lang wit stolas dra, wie is hulle, en waar kom hulle vandaan?” 14Ek het hom geantwoord: “Meneer, u is die een wat weet.” En hy het vir my gesê:

“Dit is die mense wat uit
die groot verdrukking kom.
Hulle het hulle lang stolas gewas,
en wit gemaak in die bloed van die Lam.
15Daarom is hulle voor die troon van God,
waar hulle Hom dag en nag in sy tempel dien.
En Hy wat op die troon sit,
sal sy tent by hulle opslaan.
16Hulle sal nie meer honger of dors word nie;
nie die son nie, ook geen hittegloed
sal hulle brand nie.
17Want die Lam wat in die middel
voor die troon staan,
sal hulle soos ‘n herder versorg
en hulle na fonteine
met lewende water lei,
en God sal elke traan
uit hulle oë vee.”

Ander tekste

Handelinge 9:36-43
36In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ’n bokamer neergelê. 38Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”

39Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”

Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.

43Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by ’n sekere Simon, ’n leerlooier.

Psalm 23
’n Psalm van Dawid.
Die Here is my herder,
ek kom niks kort nie.
2Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters
waar daar vrede is.
3Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie
tot die eer van sy Naam.
4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.
5U laat my by ’n feesmaal aansit,
terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos ’n eregas,
ek word oorlaai met hartlikheid.
6U goedheid en liefde
sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees
in die huis van die Here
tot in lengte van dae.

Johannes 10:22-30
22Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. 23Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop. 24Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.”

25Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. 26Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. 27My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”

Ekstra stof

‘n Wrede werklikheid
Hoofstuk 6-7 is vir baie mense ‘n ontnugtering wanneer hulle agterkom dat die wonderlike werklikheid van hoofstuk 4-5 – die hemelse erediens en die Lam van God wat waardig is om die agenda van God uit te voer met die lofliedere wat God prys en aanbid – in ‘n wrede werklikheid van oorloë, konflik, hongersnood, vervolging en ellende oorgaan.

Die sewe seëls wat in hoofstuk 6 begin, breek verskillende aspekte van God se oordeel oop vir hierdie wêreld. Die sewe trompette wat boonop daarna in hoofstuk 9 volg, is nie net waarskuwings van God se oordeel nie, maar wrede werklikhede wat ‘n mens verstom. Dieselfde geld die sewe bakke van hoofstuk 15-16 wat God se oordeel soos gloeiende lawa op die wêreld uitgiet.

Gelukkig is daar tussen-in ‘n beskrywing van God se beskerming en sorg vir gelowiges op aarde en in die hemel in hoofstuk 7 (en weer in hoofstuk 14). Dit sê vir ons dat God se oordeel ‘n “verlossende oordeel” is. En daaroor kan jy jou verbly. Maar, dit bly ‘n skok vir ‘n mens se sisteem!

God se oordeel ontvou met sewe seëls – Openbaring 6
Hoofstuk ses handel oor die Lam van God wat ses van die seëls van die boekrol oopbreek. Die ses seëls laat telkens ‘n ander aspek van God se oordeel ontvou. Dit is ‘n proses wat tussen Christus se verlossende opstanding, Hemelvaart en Troonbestyging aan die eenkant en die Wederkoms aan die ander kant plaasvind. Die oordeel is dus iets wat voortdurend gebeur, soos dit ook waar is van God se verlossing.

Die temas wat in dié oordele aangeraak word – ook dié van die trompette en die bakke wat hierna beskryf word – toon groot ooreenkomste met die onderskeie profetiese redevoeringe van Jesus in die evangelies – Matteus 24; Markus 13; Lukas 21. Ook met soortgelyke gedeeltes in die OT – Jes 24-27; 33-35; 40-66; Eseg 38-39; Joël 2-3; Dan 7-12; Sag 12-14.

Die oordele sluit in die breë oorloë, tweedrag en twis, hongersnood, aardbewings, vervolging en kosmiese ontwrigting in.

Die eerste vier seëls word opeenvolgend elke keer deur ‘n ander een van die vier lewende wesens aangekondig. Dit beteken waarskynlik dat die seëls regdeur die skepping ‘n impak gaan hê – om die waarheid te sê, ‘n vernietigende effek soos ‘n mens uit die beskrywings agter kan kom.

Die eerste seël
Die eerste seël dié van ‘n wit perd met ‘n boogdraende ruiter wat ‘n oorwinningskroon dra, simbool van politieke mag, en uittrek as oorwinnaar en om te oorwin. Omdat dié ruiter baie soos die Messias op die wit perd in Openbaring 19 lyk, maar hier as deel van die seëls van oordeel beskryf word, kan ‘n mens die wit perd en sy ruiter in Openbaring 6 as ‘n vals messias of selfs as die antichris sien. Die wit perd staan dus waarskynlik vir ‘n vals messias wat die skyn van oorwinning dra, maar eintlik ander wil onderdruk (vgl. Mark 13:5-6 waar Jesus teen misleiers waarsku).

Die tweede seël
Die tweede seël is dié van ‘n vuurrooi perd waarvan die ruiter ‘n groot swaard dra en die vrede van die aarde wegneem sodat mense mekaar kan doodmaak. Die vuurrooi perd staan dus vir die bloed van moord, en oorlog.

Die derde seël
Die derde seël is dié van ‘n swart perd waarvan die ruiter met ‘n weegskaal koring en gars in rantsoene afmeet en ‘n stem tussen die vier lewende wesens (waarskynlik Christus) die buitensporige pryse van dié stapelvoedsel, koring en gars, aankondig en beveel dat die duurder en luukser items, olie en die wyn, nie beskadig moet word nie, omdat dit so waardevol geword het. Die swart perd staan dus vir die skaarste van hongersnood en die gepaardgaande swaar ekonomiese tye wat die meeste mense tref, hoewel die rykes skotvry daarvan afkom.

Die vierde seël
Die vierde seël is dié van ‘n vaalgroen perd (die kleur van ‘n lyk) wie se ruiter die Dood is en ‘n kwart van die aarde doodmaak. Die vaal perd staan dus uiteraard vir die dood.

Hierdie vier perde en ruiters wis ‘n kwart van die aarde se mense uit deur die swaard, hongersnood, pessiektes en wilde diere.

Die perspektief wat dié vier seëls en vier perde vir ons gee van wat die afgelope twee millennia in die wêreld gebeur – en nog meer so die afgelope paar dekades – is regtig onrusbarend akkuraat.

‘n Mens kan aspekte van soveel vernietigende oorloë regdeur die eeue en regoor die wêreld hieraan verbind. Nie net die grotes soos die twee Wêreldoorloë van die 20ste eeu nie, maar ook die talle kleiner oorloë waardeur mense steeds in die 21ste eeu miljoene onderdruk, ontwortel en in vlugtelinge verander word.

Die inhoud van die vier seëls kan ook met die dodelike ellende verbind word wat toenemend deur opeenvolgende pandemies regoor alle grense in die wêreld veroorsaak word (Voëlgriep, M.I.V./Vigs, TB, Ebola, Koronavirus).

Die ooreenkoms tussen ons ervaring van COVID-19 en die boodskap van verydeling en vernietiging van die vier seëls, laat ‘n mens besef dat hierdie dinge nie maar net aan die natuurlike verloop van sake te wyte kan wees nie, maar dat dit ook iets is wat deel is van God se oordeel oor ‘n mensdom wat Hom nie wil dien nie.

Daarby kom nog dinge soos wydverspreide hongersnood en armoede wat die lewens van miljoene bedreig. Saam met die geweld wat baie mense se lewens se lewens op ‘n daaglikse basis bedreig.

Die vyfde seël
Die vyfde seël word dan oopgemaak en dit open Johannes se visie op die siele van dié wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het. Hulle het hulle lewens as’t ware op die altaar geplaas en dít is waar hulle nou ná hulle dood is, onder die hemelse altaar.

Op hulle roepende smekende vraag hoe lank die Here nog gaan wag met die voltrekking van sy oordeel om hulle bloed op die aardbewoners te wreek, antwoord iemand dat hulle nog ‘n kort rukkie moet rus totdat hulle getal voltallig is. Hulle word solank met wit oorwinningsklere beklee.

Let op dat die martelare nie vir wraak as sodanig vra nie, maar vir regstelling en regverdigheid. En hulle vra en verwag dit van die regte Persoon, van God.

Die sesde seël
Die sesde seël bring ‘n groot aardbewing wat kosmiese ontwrigting veroorsaak – son, maan, sterre – wat al die aardbewoners van angs vir die toorn van God en die Lam laat wegkruip. Dit is die teken dat die eindenaby is, dat alles dreig om te vergaan. Dit is ook ‘n eerste prentjie van die wederkoms van die Here Jesus.

Let op hoe almal getref word hierdeur, die politieke leiers, die burokrate, die militêre leiers, die rykes, die invloedrykes, en elke slaaf en elke vry man (Openb. 6:15). En hulle kruip uiteindelik weg weens die invloed van hierdie vier seëls van die toorn van God op die troon en die Lam.

Hierdie sesde seël se oordeelsvoltrekking is ten dele ‘n antwoord op die gebede van die heiliges, iets wat nog duideliker in hoofstuk 8 genoem sal word – waar die sewe trompette ‘n direkte gevolg is van die gebede – en ten dele ‘n voorbereiding vir die koms van die nuwe hemel en aarde wat met Jesus se wederkoms geassosieer word.

God se mense op aarde – Openbaring 7:1-8
Tussen die sesde en sewende seël van die boekrol verskuif die fokus na twee groepe mense:

1. 144 000 van die diensknegte van God op aarde wat met ‘n merk op hulle voorkoppe geseël word – vers 1-8 – en
2. ‘n ontelbare groot skare uit elke nasie, stam, volk en taal uit die groot verdrukking wat God aanbid in die hemel en deur die Lam versorg word – vers 9-17.

Die doel van dié toneel tussen die oordele van die twee seëls is om gelowiges te bemoedig dat die oordeelsvoltrekking nie op hulle gemik is nie, dat hulle op aarde as God se eiendom gemerk is en dat hulle uiteindelike verlossing vas en seker is. Uiteraard ly hulle ook onder die oordele, maar dit kan nooit hulle ewige verkiesing om in God se teenwoordigheid te floreer, bedreig nie.

Die eerste groep word beskerm tydens die oordeel op aarde. Die tweede groep word versorg in die hemel ná die groot verdrukking.

Die vier engele op die vier hoeke van die aarde word eers teruggehou om die oordeelsvoltrekking op aarde verder uit te voer, sodat die diensknegte van God eers geïdentifiseer en met ‘n seël beskerm kan word.

Die 144 000 diensknegte van God
Die 144 000 word as die diensknegte (doulous) van God beskryf. In Openbaring word die woord douloi vir al die verskillende dienaars van God gebruik (vgl Openb. 1:1; 2:20; 6:11; 10:7; 11:18; 19:2, 5, 10; 22:3, 6, 9). Die feit dat die 144 000 hier gemerk word, kom ook ooreen met ander plekke waar daar van gelowiges gepraat word in Openbaring wat gemerk word (vgl Openb. 3:12; 22:4). Trouens, wanneer Johannes weer oor die 144 000 praat, maak hy twee keer melding van die feit dat hulle reeds gemerk is (Openb. 14:1, 3-4).

Hierdie dienaars van God word egter ook beskryf as mense wat kom uit elke stam van die “seuns van Israel”. Die vraag is dus wat dit bedoel, en hoe ‘n mens dit moet verstaan.

Daar is drie hoof maniere waarop dit geïnterpreteer kan word.

1. Joodse volk
Dit kan letterlik dui op die Joodse volk wat van die aartsvaders afstam. Maar, die realiteit is dat die twaalf stamme in die eerste eeu n.C. lankal nie meer letterlik bestaan het nie. Die eerste ballingskap in die 8ste eeu v.C. het die 10 noordelike stamme vir alle praktiese doeleindes uitgewis, behalwe vir sommige wat van tyd tot tyd by die suidryk aangesluit het.

Die kerk word ook deur Paulus geteken as saam met die gelowige Jode deel van die een nuwe mensheid wat Christus geskep het (Ef. 2:15). Die feit dat iemand dus fisies afstam van Israel en deel van die Joodse nasie is, word daarom nie meer in die NT as teken beskou dat jy tot die ware Israel behoort, net omdat jy jou afstamming kan bewys nie, soos Paulus uitvoerig aanvoer in Romeine 9-11.

Dié wat in Jesus Christus glo, is die nageslag van Abraham (Gal 3:29), is die ware volk van God, die ware Israel (Gal. 6:16). Natuurlik is dít ook waar van almal wat deel is van die Joodse nasie wat in Christus glo, maar dit verhef nie nasieskap tot ‘n Christelike onderskeidingsteken nie.

Daarom kan Johannes die lede van die Joodse volk wat Christus verwerp as die sinagoge van Satan beskryf, soos vroeër in Openbaring. Gelowiges uit die heidene sowel as uit die Jode is saam die ware Israel.

2. Joodse deel van die volk van God
Dit kan dui op die Joodse deel van die volk van God (Joodse of Messiaanse Christene) wat simbolies as 12 000 uit elke stam van Israel aangedui word. Dit is ‘n beter interpretasie as die eerste, veral omdat ‘n mens dit dan kan kontrasteer met die volgende groep Christene wat hier genoem word en wat uit alle nasie, stam, volk en taal kom.

Maar dit bevredig tog nog nie regtig nie, omdat dit dan sou beteken dat hierdie Joodse deel van die volk van God op aarde beskerm word, terwyl die nie-Joodse deel van die volk van God in die hemel versorg sal word. Dit kan tog nie en strook nie met die werklikheid nie, behalwe as ‘n mens een of ander vorm van dispensionalisme aanvaar. Daaroor later.

3. Die hele volk van God
Dit is dus waarskynlik beter om aan die 144 000 te dink as ‘n simboliese getal van die hele volk van God, die ware Israel, wat steeds op aarde as God se volk, sy koninkryk van priesters optree. So lê ‘n hele paar geleerdes dit uit (Aune, Baukham, asook Du Rand).

Die getal 144 000 kan moontlik saamgestel wees uit 12 (OT kerk) x 12 (NT kerk) x 103 (die voltal 10 tot die mag 3, wat Goddelikheid uitdruk), volgens Du Rand.

Interessant genoeg: Juda word waarskynlik eerste genoem, al was Ruben die oudste, omdat Christus uit Juda gebore is. Manasse, die kleinseun van Jakob, seun van Josef is ook ingesluit, terwyl Dan, een van die oorspronklike twaalf, nie ingesluit is nie.

Die weglating van Dan korreleer onder andere met die perspektief uit Rigters 18 wat wys hoe die stam Dan by afgodsdiens betrokke geraak het. Hulle het Miga se efodbeeld, afgodsbeeldjies en sy eie godsbeeld gesteel vir hulleself, en op die koop toe die Leviet wat by hom was, saamgeneem om hulle in dié afgodediens te begelei.

Geen wonder dat die Kronis later die stam van Dan ook in die geslagsregisters in 1 Kronieke 2:1 uitlaat, waarskynlik weens hierdie assosiasie met afgodery. Jerobeam het onder andere afgodsbeelde in Dan opgerig wat Israel verlei het (1 Kon. 12:28-30) .

In lyn met standpunt 3 hierbo, word hierdie deel van God se volk, die gelowiges wat op aarde is, in standgehou as sy getuies en deur die simboliese seël op hulle kop beskerm. Die finale vernietiging wat gaan losbars, sal hulle daarom nie beskadig nie, omdat God self hulle vir die ewige lewe laat merk.

Dit laat ‘n mens dink aan Esegiël wat ‘n soortgelyke visioen sien met die vernietiging van Jerusalem met die aanbreek van die ballingskap in 586 vC. In ‘n ontsagwekkende toneel kom ses manne met wapens van verwoesting in hulle hand – soos futuristiese Terminators! Die man met die linneklere is net “onder” of “tussen” hulle, soos dit korrek in die OAV vertaal is, en dus ‘n sewende agent van die Here. Sy taak is om met ‘n pen uit sy skrywersakkie ‘n merk (dit is die letter t [תָּו] in Hebreeus wat in dié tyd as ‘n X geskryf is) op die voorkoppe te maak van: “almal wat sug en kla oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gebeur.” (Eseg. 9:4 – amper soos van Lot in Sodom en Gomorra gepraat word – 2 Pet. 2:7).

God se mense, dié wat nie meedoen aan die afskuwelikhede en daaroor treur, word dus gespaar. Terloops, in Openbaring 13 word eintlik die omgekeerde proses beskryf met die mense wat die merk van die dier moet dra om ekonomies aktief te kan wees. God merk uit die hemel sy mense. Die dier uit die aarde (vals profeet – vgl Openb. 16:13) merk syne.

Ons sal nog ‘n beskrywing kry van ‘n groep van 144 000 (Openb. 14:3-4) wat waarskynlik dieselfde groep as in Openbaring 7 verteenwoordig.

God se mense in die hemel – Openbaring 7:9-17
Die groot ontelbare skare uit elke nasie, stam, volk en taal dra wit oorwinningsklere en kom uit die groot verdrukking.

Hierdie groot verdrukking kan verwys na die laaste tydperk van intense vervolging, of na die totale tydperk van vervolging tussen Jesus se eerste en tweede koms (vgl Matt 24:21).

Ironies genoeg vra die ouderling of Johannes weet wie hulle is, waarin Johannes se verbasing duidelik blyk: “Meneer, u is die een wat weet.”

Hulle oorwinning in die groot verdrukking word gevier deur God te aanbid, iets waaraan die engele, die vier lewende wesens, die ouderlinge en dié groot skare gelowiges met oorgawe deelneem. Hulle loof God vir sy verlossing en vir die feit dat alle lof, heerlikheid, wysheid, dank, eer, krag en sterkte Hom toekom.

‘n Heerlike intieme geloofsgemeenskap word geteken met die gelowiges wat dag en nag vir God in sy hemelse tempel dien en God wat “sy tent by hulle opslaan.” Daar word hulle nie net volledig beskerm nie, selfs van die son se hitte, maar ook van enige fisiese (honger of dors) of emosionele gebrek (trane). God vee elke traan uit hulle oë! Die Lam versorg hulle soos ‘n herder (Ps. 23 en Joh. 10 op steroïede!)

Liturgie

RUS

Christuskers (Paaskers) word aangesteek.

Toetrede: Flam 462 (Psalm 23) of Lied 195

Votum: Openbaring 1:8

Seëngroet: Openbaring 1:4-5 of 4-8

Lofsang: Flam 9 [bekend: Salvation belongs to our God] of Lied 202 of VONKK 76

Verootmoediging: Johannes 10:22-30

Toewyding / Geloofsbelydenis: Lied 577

HOOR

Gebed

Skriflesing: Openbaring 7:9-17b

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 597

Seën

Respons: Lied 312

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die Christuskers (Paaskers) word aangesteek.

Toetrede
Flam 462 Die Here Is My Herder (Psalm 23) of
Lied 195 “U, o God, wat ewig op die troon is”

Votum
Openbaring 1:8
“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.

Seëngroet
Openbaring 1:4-5
Genade vir julle en vrede van Hom
wat is en wat was en wat kom,
en van die sewe Geeste
wat voor sy troon is;
5en van Jesus Christus,
die betroubare getuie,
die Eersgeborene uit die dood
en die heerser oor die konings van die aarde.
of
V: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie.
G: Die Eerste wat uit die dood opgestaan het.

V: Die Heerser oor die konings van die aarde.
G: Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos,

V: en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader.
G: Aan Hom behoort die heerlikheid en krag tot in alle ewigheid!

Almal: Amen.
– uit Openbaring 1:4-8

Lofsang
Flam 9 Ons Redding Kom Van Ons God [bekend: Salvation belongs to our God] of
Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors” of
VONKK 76 “Onsterflik, Onsienlik, Almagtig En Wys” [bekend]

Verootmoediging
Johannes 10:22-30
22Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. 23Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop. 24Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.”

25Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. 26Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. 27My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”

Toewyding / Geloofsbelydenis
Lied 577 “Die Heer, my herder, sorg vir my”

Liedere

F462. “Die Here Is My Herder (Psalm 23)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)
Teks en musiek: Louis Brittz
Kopiereg: © Urial Publishing

1. Die Here is my herder
niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê
in groen weivelde.
Na waters waar daar rus is
lei Hy my heen,
na waters waar daar rus is
lei Hy my heen.

2. Hy lawe my soekersiel
en Hy lei my
op paaie van geregtigheid
om sy Naam ontwil.
En al gaan ek deur die donker
van doodskaduwee
sal ek geen onheil vrees nie –
Hy is by my.
Sal ek geen onheil vrees nie –
Hy is by my.

3. Hy dek die tafel voor my gesig
voor die oë van my vyande
beloon Hy my.
En Hy salf my met olie vir my berei
net guns en goedheid sal my bly volg.
Al die dae van my lewe
wil ek by Hom bly.
Al die dae van my lewe
wil ek by Hom bly.

F9. “Ons Redding Kom Van Ons God”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: Salvation belongs to our God
Teks en musiek: Adrian Howard en Pat Turner
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani en Hanneke Engelbrecht
© 1985 Restoration Music, Ltd.

1. Ons redding kom van ons God
wat heers vanaf Sy hemeltroon.
Hy is die Lam.
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

Refrein:
Hy is die Heer vir ewig en ewig,
En Hy regeer vir ewig en ewig.
Hy is ons Heer vir ewig en ewig.
Amen.

2. En ons, die verlostes, getuig,
deur Woord en Gees lei Hy ons.
En ons roep dit uit:
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

VONKK 76 “Onsterflik, Onsienlik, Almagtig En Wys”
Teks: Immortal, invisible – Walter Chalmers Smith (1824-1908); Jacques Louw 2008 ©  Melodie: ST DENIO – tradisionele Walliese melodie (Canradau y Cyssegr)© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Skepping en Onderhouding

1. Onsterflik, onsienlik, almagtig en wys,
o God, so verhewe, u Naam wil ons prys.
Ons eer en aanbid U, o God van die tyd.
U heers as oorwinnaar vir nou en altyd.

2. Die skepping, o Vader, getuig van u krag.
Ons kan U nie sien nie, tog heers U met mag.
U goedheid en liefde is tekens van seën.
Ons weet U’s teenwoordig hier rondom ons heen.

3. O God, U gee lewe aan klein en aan groot.
U sorg vir u skepsels, tot selfs in die dood.
Van alles op aarde bly U steeds die bron.
Al sterf ons, U bly daar – die ewige Son!

4. O Vader, die heerlikheid straal van u troon,
met hemelse luister tot hier waar ons woon.
U glansryke glorie maak duisternis lig –
selfs engele steier, verberg hul gesig.

5. Onsterflik, onsienlik, almagtig en wys,
o God so verhewe, u naam wil ons prys.
Ons eer en aanbid U, o God van die tyd.
U heers as oorwinnaar vir nou en altyd.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
Openbaring 7:9-17b

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Carolyn Brown het ‘n paar baie goeie idees vir hoe die gemeente hierdie teks saam met jonger lidmate kan lees.

Eerstens praat sy oor hoe die teks gelees word:
“Get worshipers to open the pew Bibles to the text.  Invite them to create in their minds a mental picture of the scene John is describing.  Stop as you read to add details and explain the significance of certain details.  Recall from last week that Lamb is a nickname for Jesus in Revelation.  When you get to the shouted phrases, shout them and then ask the whole congregation to shout them together to get the feel of the crowd shouting praise.  Ponder the fact that even when we face hard scary times, we are not alone.  We are part of the 144,000.  Illustrate the bowing with your whole body or at least with your arms.  Emphasize the conversation with the elder by turning in different directions to say each voice.  Explain the part about the white robes washed in the blood of the Lamb.  Finally, ponder John’s message that Christians can be brave during hard times because we know that there is a good ending.  Savor the promises in verses 15 – 17.   Then, reread the whole thing inviting worshipers to close their eyes and see in their heads what you are reading.”

Verder praat sy oor die “kodes” van Openbaring. Dit kan nogal lekker wees (maar moes waarskynlik aan die begin van die reeks al begin het) om te gesels oor geheime kodes. Soms skryf kinders briefies in ‘n geheime kode. Vra of kinders dit nog doen en noem voorbeelde uit jou kinderdae. Jy kan selfs ‘n voorbeeld gee van ‘n briefie wat jy in ‘n kode geskryf het, asook die kode. Terwyl dit op die skerm is (of jy kan dit uitdeel – dit werk net vir kinders wat al kan lees en skryf) kan hulle die brief “dekodeer”. Openbaring gebruik ook sulke kodes. Verlede week se kode was ‘n Lam. Dis die kode vir Jesus. Vandag se kode is lang wit klere. Dalk wil hulle raai waarvoor (of eerder, vir wie) dit ‘n kode is? Hint: hulle klere is wit gemaak in die bloed van die Lam. [Wees versigtig om nie kinders te beskaam nie. Een opsie is dat hulle daar waar hulle by hul ouers sit, hul raaiskote met hul ouers deel. As hulle hul antwoorde direk met jou deel, sal jy vir elke antwoord moet erkenning gee, soos dat dit ‘n goeie raaiskoot is.] Die mense met die wit klere is Jesus se volgelinge. In Brown se woorde: “Laugh about soldiers finding a copy of this book and trying to figure out why robes dipped in blood are white instead of red.  If you have this conversation just before reading the scripture, children will listen intently and get more of John’s message.”

Jy kan hierdie “kode” ook uitpak deur te praat oor mense wat bv Springboktruie of keppies dra, om met hul span te identifiseer.

‘n Laaste opsie n.a.v. Brown: gesels met kinders oor ‘n scary (kinder-)fliek wat hulle gesien het. Soms wil mens in die scary dele jou oë toemaak of in jou kamer gaan wegkruip. Maar as jy die fliek ‘n tweede keer kyk, is die scary dele nie so erg nie, want jy weet hoe die storie eindig. Johannes was besig om vir mense te sê dat daar scary tye in die lewe is, maar dat daar ‘n goeie einde op pad is.

Preekriglyn

[Nota: Ons teksgedeelte moet in die samehang van hoofstuk 6 en 7 verstaan word. Daarom word daar inleidend op hierdie verbande gefokus. Die prediker moet ‘n seleksie uit die beskikbare stof maak.]

Wrede werklikheid

Hoofstuk 6-7 is vir baie mense ‘n ontnugtering wanneer hulle agterkom dat die wonderlike werklikheid van hoofstuk 4-5 – die hemelse erediens en die Lam van God wat waardig is om die agenda van God uit te voer met die lofliedere wat God prys en aanbid – in ‘n wrede werklikheid van oorloë, konflik, hongersnood, vervolging en ellende oorgaan.

Die sewe seëls wat in hoofstuk 6 begin, breek verskillende aspekte van God se oordeel oop vir hierdie wêreld. Die sewe trompette wat boonop daarna in hoofstuk 9 volg, is nie net waarskuwings van God se oordeel nie, maar wrede werklikhede wat ‘n mens verstom. Dieselfde geld die sewe bakke van hoofstuk 15-16 wat God se oordeel soos gloeiende lawa op die wêreld uitgiet.

Gelukkig is daar tussen-in ‘n beskrywing van God se beskerming en sorg vir gelowiges op aarde en in die hemel in hoofstuk 7 (en weer in hoofstuk 14). Dit sê vir ons dat God se oordeel ‘n “verlossende oordeel” is. En daaroor kan jy jou verbly. Maar, dit bly ‘n skok vir ‘n mens se sisteem!

Oordeel in sewe bedrywe

Openbaring 6 handel oor die Lam van God wat ses van die seëls van die boekrol oopbreek. Die ses seëls laat telkens ‘n ander aspek van God se oordeel ontvou, soos bedrywe in ‘n opvoering. Dit is ‘n proses wat tussen Christus se verlossende opstanding, Hemelvaart en Troonbestyging aan die eenkant en die Wederkoms aan die ander kant plaasvind. Die oordeel is dus iets wat voortdurend gebeur, soos dit ook waar is van God se verlossing.

Die oordele sluit in die breë oorloë, tweedrag en twis, hongersnood, aardbewings, vervolging en kosmiese ontwrigting in. Die seëls is as volg:

  • Een: ‘n wit perd  met ‘n boogdraende ruiter wat ‘n oorwinningskroon dra, simbool van politieke mag, en uittrek as oorwinnaar en om te oorwin.
  • Twee: Die tweede seël is dié van ‘n vuurrooi perd waarvan die ruiter ‘n groot swaard dra en die vrede van die aarde wegneem sodat mense mekaar kan doodmaak. Die vuurrooi perd staan dus vir die bloed van moord, en oorlog.
  • Drie: Die derde seël is dié van ‘n swart perd waarvan die ruiter met ‘n weegskaal koring en gars in rantsoene afmeet. Die swart perd staan vir die skaarste van hongersnood en die gepaardgaande swaar ekonomiese tye wat die meeste mense tref.
  • Vier: Die vierde seël is dié van ‘n vaalgroen perd (die kleur van ‘n lyk) wie se ruiter die Dood is en ‘n kwart van die aarde doodmaak. Die vaal perd staan dus uiteraard vir die dood.
  • Vyf: Die vyfde seël open Johannes se visie op die lewens van dié wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het. Hulle het hulle lewens as’t ware op die altaar geplaas en dít is waar hulle nou ná hulle dood is, onder die hemelse altaar.
  • Ses: Die sesde seël bring ‘n groot aardbewing wat kosmiese ontwrigting veroorsaak – son, maan, sterre – wat al die aardbewoners van angs vir die toorn van God en die Lam laat wegkruip. Dit is die teken dat die eindenaby is, dat alles dreig om te vergaan. Dit is ook ‘n eerste prentjie van die wederkoms van die Here Jesus.
God se mense op aarde – Openbaring 7:1-8

Tussen die sesde en sewende seël van die boekrol verskuif die fokus na twee groepe mense:

1. 144 000 van die diensknegte van God op aarde wat met ‘n merk op hulle voorkoppe geseël word – vers 1-8 – en
2. ‘n Ontelbare groot skare uit elke nasie, stam, volk en taal uit die groot verdrukking wat God aanbid in die hemel en deur die Lam versorg word – vers 9-17.

Die doel van dié toneel tussen die oordele van die twee seëls is om gelowiges te bemoedig dat die oordeelsvoltrekking nie op hulle gemik is nie, dat hulle op aarde as God se eiendom gemerk is en dat hulle uiteindelike verlossing vas en seker is. Uiteraard ly hulle ook onder die oordele, maar dit kan nooit hulle ewige verkiesing om in God se teenwoordigheid te floreer, bedreig nie.

Die eerste groep word beskerm tydens die oordeel op aarde. Die tweede groep word versorg in die hemel ná die groot verdrukking.

Die vier engele op die vier hoeke van die aarde word eers teruggehou om die oordeelsvoltrekking op aarde verder uit te voer, sodat die diensknegte van God eers geïdentifiseer en met ‘n seël beskerm kan word.

Ons moet aan die 144 000 te dink as ‘n simboliese getal van die hele volk van God, die ware Israel, wat steeds op aarde as God se volk, sy koninkryk van priesters optree. Die getal 144 000 kan moontlik saamgestel wees uit 12 (OT kerk) x 12 (NT kerk) x 103 (die voltal 10 tot die mag 3, wat Goddelike volheid uitdruk).

God se mense in die hemel – Openbaring 7:9-17

Hierdie is ons teksgedeelte vir vandag.

Die groot ontelbare skare uit elke nasie, stam, volk en taal dra wit oorwinningsklere en kom uit die groot verdrukking.

Hierdie groot verdrukking kan verwys na die laaste tydperk van intense vervolging, of na die totale tydperk van vervolging tussen Jesus se eerste en tweede koms (vgl Matt 24:21).

Hulle oorwinning in die groot verdrukking word gevier deur God te aanbid, iets waaraan die engele, die vier lewende wesens, die ouderlinge en dié groot skare gelowiges met oorgawe deelneem. Hulle loof God vir sy verlossing en vir die feit dat alle lof, heerlikheid, wysheid, dank, eer, krag en sterkte Hom toekom.

‘n Heerlike intieme geloofsgemeenskap word geteken met die gelowiges wat dag en nag vir God in sy hemelse tempel dien en God wat “sy tent by hulle opslaan.” Daar word hulle nie net volledig beskerm nie, selfs van die son se hitte, maar ook van enige fisiese (honger of dors) of emosionele gebrek (trane). God vee elke traan uit hulle oë! Die Lam versorg hulle soos ‘n herder (Ps. 23 en Joh. 10 op steroïede!)

‘n Visioen

Openbaring 7:9-17 is dus ‘n visioen wat onder meer handel oor die wydheid van God se genade en die eenheid wat daaruit vloei. Uit elke nasie, stam, volk en taal word mense saamgebring. Hierdie ontelbare groot groep staan saam voor die troon, dra dieselfde klere (wit), kyk in dieselfde rigting (die Lam), het een belydenis (redding wat van Christus kom) en een toekoms (in heerlikheid saam met die Lam wat dan die Herder is).

Boodskap

Die teks roep ons op om verder te kyk as net nou. Om, ten spyte van wat rondom ons gebeur, ons oog ook op die beloning gerig te hou. Dit kan baie moeilik wees vir ‘n geslag wat baie gerig is op onmiddellike bevrediging (instant gratification) van behoeftes. Maar om verder te kan kyk, verbreed en verhef ons gedagtes weg van ons situasie. Dit help ons om ons koppe op te lig. Dit gee perspektief.

Geen paniek

Gelowiges hoef nie paniekerig te voel nie. Hulle is God se eiendom.

Gelowiges hoef ook nie paniekerig te voel nie, want ons is nie alleen nie. Ons is deel van God se volk wat regoor die wêreld versprei is. Ons is deel van God se volk wat deur die eeue getrou aan God was.

Ons hoef nie paniekerig te wees nie, want ons is getel, ons is deel van die volmaakte getal van God se gereddes mense, ons is deel van die volmaakte volheid wat God in sy koninkryk innooi. Dit is suiwer genade.

Ons hoef nie paniekerig te wees nie, want ons word versorg en bewaar – hier op aarde en eenmaal by God onder ‘n nuwe hemel op ‘n nuutgemaakte aarde.

Verstaan die tyd

Die boodskap van Openbaring speel af tussen twee fokuspunte, naamlik Christus se eerste koms en sy tweede koms (terugkeer, wederkoms). Dit staan as die eindtyd bekend. Anders gestel, die Nuwe Testament speel reeds af in die eindtyd (ook die laaste dae genoem). Ons leef dus al vir 2 000 jaar tussen hierdie twee fokuspunte. Ons en die skrywer en lesers van Openbaring leef dus teologies in dieselfde tyd. Die wederkomsverwagting van Openbaring geld vir die eerste lesers en ook vir ons. Hulle het moontlik ‘n dringender verwagting gehad dat dit binnekort gaan gebeur, terwyl ons ná 2 000 jaar ‘n baie minder intense verwagting het.

Dit is in hierdie tyd dat ons as gelowiges op aarde bewaar word, en die wat ons vooruitgegaan het by God in die hemel. Die finale koms van God lui die wonderlike nuwe periode van heerlikheid in – daarvoor word ons op aarde en in die hemel bewaar.

Ou Testamentiese verbande

Om ons geloof te versterk, wys Openbaring dat God se betrokkenheid en bewaring reeds oor eeue heen strek, reeds uit die Ou Testament uit.

Iemand skryf dat oor Openbaring 7 heen met groot letters geskryf staan: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” Hier is duidelik ‘n verbondsagtergrond wat in gedagte gehou moet word:

  • Die “bloed van die Lam” het ‘n verbintenis met die paaslam van die uittog;
  • Die lei na waterfonteine verwys na die woestyntyd;
  • Die palmtakke herinner aan die loofhuttefees.
Tent opslaan

Die Griekse werkwoord in vers 15 wat beteken “hy sal tent opslaan”, dui op die loofhuttefees én die tent van samekoms waar die Here sy teenwoordigheid in die woestyntyd geopenbaar het. By die loofhuttefees is daar op die laaste dag in prosessie sewe maal rondom die altaar geloop met takkies van mirte, wilge en palmbome terwyl “hosanna” geroep word (Lev. 23; Sag. 14:16).

Die loofhuttefees kyk vooruit na die koms van Jesus Christus, Immanuel, God by ons. In Christus kom God by ons tent opslaan. In vers 17 word Christus, die Lam, ook die Herder genoem. Die Lam word ‘n Herder, en die menigte word die lammers wat gelei word na water wat lewe gee.

Die teenwoordigheid van God as Herder wat sy skape versorg, is ‘n sterk beeld wat aandui waarom die Lam geslag is. Dit is sodat ‘n volk vir God losgekoop kan word en deur die Herder na ‘n heerlike toekoms gelei kan word. Dit is nie net iets van die toekoms nie, want in Christus het die Ou-Testamentiese beloftes al in vervulling gegaan en gaan dit steeds daagliks in vervulling.

Hoop is nie net om vooruit te kyk na die wederkoms nie, maar is ook ‘n belewing van God se teenwoordigheid in die hede.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 597 “Dié met helder witte klere”

Seën
“Die verlossing behoort aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam!”
Daarom… [trinitariese seën]

Respons
Lied 312 Amen

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.