Vierde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Die vierde Sondag van Paastyd staan ook bekend as Goeie Herdersondag. Psalm 23 en Johannes 10 val gemaklik by hierdie tema in.

In Openbaring 7 lees ons van Jesus, die Lam wat geslag is, wat hulle “soos ‘n Herder” sal versorg.

In Handelinge 9 lees ons die verhaal van Tabita wat deur Petrus uit die dood opgewek word en sien ons iets van die opstandingskrag wat Christus uit die dood opgewek het wat nou ook deur Petrus werk. In die getuienis oor Tabita se lewe beleef ons iets van God wat as Herder ook deur sy dissipels ander mense versorg.

Ander tekste

Psalm 23 OAV
Die Here is my herder.

’N PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié ertroos my.
5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Openbaring 7:9-17
’n Groot menigte
9Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. 10Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

11Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12en gesê:

“Amen! Die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer,
die mag en die sterkte behoort
aan ons God
tot in alle ewigheid. Amen!”

13Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?”
14“Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.”
Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. 15Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, 17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”

Johannes 10:22-30
Die Jode is nie van sy skape nie
22Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. 23Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop. 24Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.”

25Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. 26Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. 27My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”

31Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig, 32maar Jesus sê vir hulle: “Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?”

33“Dis nie oor ’n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,” antwoord die Jode Hom, “maar oor godslastering, omdat jy, wat ’n gewone mens is, jou as God voordoen.”

34Daarop sê Jesus vir hulle: “Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ jnie? 35God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie. 36Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’?37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. 38Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”

39Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip. 40Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly. 41Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het gesê: “Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.”

42Baie mense het daar tot geloof in Hom gekom.

Fokusteks

Handelinge 9:36-43
Saulus in Jerusalem

26Saulus het na Jerusalem toe gegaan en het geprobeer om daar by die volgelinge van Jesus aan te sluit, maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy ‘n volgeling van Jesus is nie. 27Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. 28Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek. 29Hy het ook met die Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer; maar hulle het hom probeer vermoor. 30Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom na Sesarea toe geneem en hom daarvandaan na Tarsus toe weggestuur.

31In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk ‘n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe, die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.

Die genesing van Eneas
32Petrus het baie rondgereis en het op ‘n keer ook by die gelowiges gekom wat in Lidda gewoon het. 33Daar het hy ‘n man met die naam Eneas teëgekom wat verlam en al ag jaar lank bedlêend was.

34“Eneas,” sê Petrus toe vir hom, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.”

Hy het dadelik opgestaan. 35Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.

Die opwekking van Tabita
36In Joppe was daar ‘n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ‘n bokamer neergelê. 38Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”

39Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”

Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.

43Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier.

Ekstra stof

God werk deur Petrus
Terwyl die Here besig is om vir Paulus te vorm in die nuwe mens wat hy moet wees (Hand 9:1-31), is Hy ook besig om te werk aan die ander reus wat Hy gebruik in die vroeë kerk, Simon Bar-Jona. Die Here het ook aan hom ‘n nuwe naam gegee; ‘n paar jaar tevore – Kepha in Aramees of Petros in Grieks. Dit beteken “rots”. Jesus het gesê: “Op die rots sal ek My kerk bou” (Matt 16:18). Daarmee is nie net die man, Simon, bedoel nie, maar ook sy geloof. “While Saul prayed, Peter was used to open the way for a ministry to the world” (Ogilvie). Deur sy werk en sy geloof en gehoorsaamheid sou die pad na die heidene oopgebreek word.

Voordat Lukas nou beskrywe hoe die eerste heidene deur die optrede van Petrus in die kerk opgeneem is (Hand 10), vertel hy ons van twee wonderwerke wat deur Petrus verrig is. In die hele Judea het die kerk ‘n tyd van rus en vrede geniet, maar deurdat Lidda en Joppe hier genoem word, was dit duidelik dat die grense van Judea bereik is. As die kerk nog verder sou moes uitbrei, sou die evangelie na die land van die heidene gaan. Dit gebeur ook hiervandaan verder. Na die verhale van Petrus se genesings hier in ‘n etnies gemengde gebied, beweeg die kerk van Jerusalem na die heidene (10:1-11:18).

GOD SE GROOT DADE
Handelinge is die verhaal van God se groot dade. Dit is die prentjie wat Lukas die dokter-skrywer by sy vriend Theofilus skilder. In die boek gebeur groot ingrypende dinge, soos Jesus se hemelvaart, die Gees se uitstorting, 3000 mense wat op een slag tot bekering kom, heidene wat begin glo en dan die grootste sending-uitreike ooit!

God is besig om met groot kwashale die wêreldtoneel permanent te verander.

  • God is met Petrus op pad.
  • God is met sy kerk op pad.
  • God is met die goeie boodskap van die opgestane Jesus Christus op pad na die hele wêreld toe.

GOD GEE VIR GEWONE MENSE OM
Binne hierdie Groot Storie is daar twee klein los storietjies wat eintlik nie so lekker inpas nie. Paulus, nog ‘n groot verhaal, is al op die toneel en eintlik is alles reg vir die groot geestelike beweging na die heidene … en dan glip daar hierdie twee storietjies in. Een van Eneas in Lidda en die ander van Tabita in Joppe. Eneas was verlam en het geruime tyd (8jr) gelê. Tabita was siek en het dood gegaan.

In hierdie twee klein storietjies word vertel dat die lewendmakende krag van God – in die Naam van Jesus – mense opwek, gesond en lewend maak.

En laat ons mekaar herinner:

  • Oral langs ons pad is daar klein liggies – helder maar klein.
  • Met ‘n doel – wat hulle waarskynlik self nie eens begryp nie.
  • Ons sien ‘n Eneas; ‘n Tabita; later die leerlooier, Simon, en so kan ons hulle opnoem . . . ‘n Willem en Sannie en Marie en wie ook al oor God se pad mag kom.

Lukas laat ons stop en hy laat ons kyk – na die onopsigtelike mense, doodgewone mense, wat God aanraak, vir wie Hy omgee, en dan gebruik op die groot en belangrike pad wat Hy vir die evangelie – die goeie boodskap van die opgestane Here Jesus, oopmaak.

Dit is die duidelike boodskap van dié twee stories:

  • Geen mens – hoe gering ook al – is vir God onbelangrik nie. God gee om vir gewone mense.

GOD GEE OM VIR TABITA
Tabita – ‘n gewone vrou daar eenkant in ‘n klein dorpie wat goed doen en besonder mededeelsaam is – sterf.

  • Sy word ‘n dissipel (Gr mathetria) genoem wat baie insiggewend is. Dié vroulike vorm van die woord kom net hier in die Nuwe Testament voor. Die NAV het dit ongelukkig wegvertaal en haar net ‘n “gelowige vrou” genoem.
  • Sy was ‘altyd besig’ , ‘besig om goed te doen’ ‘die armes te help’. ‘n Besige by in die goeie sin van die woord.
  • Eneas was relatief onaktief vir agt jaar omdat hy verlam was; Tabita daarteenoor, was weer besonder aktief in haar diens aan die behoeftiges (:36).
  • Ons kan ‘n groot groep hartseer mense hoor wat snikkend daar rondstaan terwyl hulle vertel van al die mooi kledingstukkies wat sy al vir hulle gemaak het.
  • ‘n Mens lei af dat sy een van daardie besondere mense was wat oor grense heen barmhartigheid verleen het. Sy het ‘n Joodse en ‘n Griekse naam, Tabita en Dorkas, want beide die Jode en die Grieke het in haar barmhartigheid ‘n heenkome gevind. Sy het nie gediskrimineer tussen groepe nie. In haar barmhartigheid het sy dit reggekry om oor grense liefde te bewys. Dit is juis wat groot en belangrike mense baie keer nie kan regkry nie!
  • In Tabita gee Lukas ons dus ‘n model van Christelike omgee in ‘n gemarginaliseerde gemeenskap. Weduwees en weeskinders was immers die mees kwesbare mense in die destydse gemeenskappe. Daar was geen regeringsondersteuning of welsynsorganisasies om hulle te hulp te kom nie. Tabita het omgegee en gehelp. Sy het goed gedoen.

En haar vriende en diegene wat sy gehelp het, weet dit … en hoor dan van Petrus, ‘n gestuurde, ‘n apostel van Jesus  Christus.

  • Jesus, wat self mense uit die dood opgewek het.
  • Jesus, wat self uit die dood opgestaan het.
  • Jesus, wat aan sy dissipels die mag gegee het om mense uit die dood op te wek.

Hulle vra vir Petrus om dringend na hulle te kom.

  • En Petrus kom ook hier tot stilstand, by die gewone mense.
  • En hy buig voor die God wat mag het oor die dood.
  • Petrus praat in geloof – praat sy Meester na – en beveel die gestorwe Tabita – klein wildsbokkie – om op te staan.
  • En die dood moet wyk – sy maak haar oë oop.

Wat ons moet raaksien is dat dit God is wat Hom ontferm oor Tabita.  Vir Hom is mense wat barmhartigheid verleen belangrik. Hy ontferm hom en gee die lewe aan Tabita – sodat sy kan voortgaan om ander te help en hulle lewe mooi te maak.

Soos Heidi Petersen sê: “The widows would not be abandoned. God would not allow it.”[1]

Liturgie

Aanvangslied: Lied 167  “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord: Openbaring 7

of

Paasroep

Seëngroet

 Sang: Lied 409  “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”

Oproep tot lofprysing

Geloofsbelydenis

Lofliedere
Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Epiklese

SkriflesingHandelinge 9:36-43

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan vs 1,2,3”

Seën

AntwoordLied 312/313/314/315/ of

F361.” Laat Dit So Wees (Amen)” 
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)

of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 167″ Jesus bron van al my vreugde vs 1,2″

Aanvangswoord : Openbaring 7
“Amen! Die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer,
die mag en die sterkte behoort
aan ons God
tot in alle ewigheid. Amen!”

of

Paasroep
Voorganger:  Die Heer het opgestaan.
Gemeente:         Die Heer het waarlik opgestaan.

Seëngroet
Voorganger:      Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is; en van Jesus Christus, die betroubare Getuie, die Eersgeborene uit die dood en die Heerser oor die konings van die aarde.

Gemeente:         Aan Hom wat ons lief het en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, wat ons ’n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader — aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. Amen (uit Op 1:4-6).

Sang: Lied 409 ” Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3″

Oproep tot lofprysing
Een:      Hierna het ek gesien, en kyk, daar was ’n baie groot skare wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan en voor die Lam. Hulle het lang wit stolas gedra, met palmtakke in hulle hande. Hulle het met ’n harde stem uitgeroep:
Almal:   Die verlossing behoort aan ons God wat op die troon sit, en aan die Lam!

Een:      Al die engele het rondom die troon, en ook rondom die ouderlinge en die vier lewende wesens, gestaan. Hulle het toe op hulle gesigte neergeval voor die troon en God aanbid en gesê:
Almal:   Amen! Die lof, die heerlikheid en die wysheid die dank en die eer, die krag en die sterkte kom ons God toe vir ewig en ewig. Amen!

Een:      In antwoord daarop het een van die ouderlinge vir my gevra: “Hierdie mense wat die lang wit stolas dra, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?” Ek het hom geantwoord: “Meneer, u is die een wat weet.” En hy het vir my gesê: “Dit is die mense wat uit die groot verdrukking kom.”
Almal:   Die HERE is my herder; ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.

Een:      Hulle het hulle lang stolas gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God waar hulle Hom dag en nag in sy tempel dien.
Almal:   Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie,
want U is by my.
Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.

Een:      En Hy wat op die troon sit, sal sy tent by hulle opslaan. Hulle sal nie meer honger of dors word nie; nie die son nie, ook geen hittegloed sal hulle brand nie.
Almal:   U dek vir my ’n tafel voor die oë van my teenstanders. U verfris my kop met olyfolie; my beker loop oor.

Een:      Want die Lam wat in die middel voor die troon staan sal hulle soos ’n herder versorg en hulle na fonteine
met lewende water lei, en God sal elke traan uit hulle oë vee.”
Almal:   Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal bly terugkeer na die huis van die HERE, tot in lengte van dae (uit Ps 23 en Op 7:9-7DV).

Geloofsbelydenis
Ek glo in en vertrou op God die Vader,
wat die wêreld gemaak het.
Ek glo in en vertrou op sy Seun Jesus Christus,
wat die mensdom verlos het.
Ek glo in en vertrou op sy Heilige Gees,
wat lewe gee aan die mense van God.
Ek glo in en vertrou op een God:
Vader, Seun en Heilige Gees. Amen.

Lofliedere
Lied 411 ” Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3″
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Liedere

F51. Koning Van My Hart
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Gebed)
Teks en Musiek:Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart
Koning van my lewe
U wil ek bemin
U lof besing vir ewig
U het my bevry
My sondeskuld vergewe
Koning van my lewe
Koning van my hart.

F77.Jesus Is Die Heer Bo Alle Here
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Geloofsbelydenis)
Teks & Musiek: Soekie Rautenbach & Danny Anthill
© Brettian Publishers
(Opgeneem op Radicool Radikids vir Jesus)

Jesus is die Heer bo alle here,
Halleluja!
Hy is Koning, kroon en eer Hom!
Loof Hom, Halleluja!

Jesus, Vredevors, eer Hom!
Halleluja!
Jesus, sterke God, eer Hom !
Halleluja!

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Handelinge 9:36-43

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Ons lees vandag in die Bybel van iemand met die naam Tabita, wat “wildsbokkie” beteken.  ’n Wildsbokkie is klein en fyn, ’n pragtige diertjie.  ’n Wildsbokkie is nie so sterk soos ’n leeu, so groot soos ’n olifant, so vinnig soos ’n luiperd, so vreesaanjaend soos ’n seekoei nie.  Maar ’n bokkie is pragtig!

Tabita laat mens aan ’n pragtige wildsbokkie dink omdat die dinge wat sy gedoen het so mooi was.

Tabita se dade was so mooi soos die Here Jesus s’n.  Ons lees in die Bybel hoe die Here omgegee het vir mense, ook vir mense wat dalk in ons oë nie so belangrik is nie.   Hy was lief vir siekes, kindertjies en onbelangrike mense.  Jesus vat aan siek mense, bid vir hulle, en genees hulle.  Hy gee kos vir mense wat nie kos het nie.  Die wat nie kan loop nie, word gesond gemaak, blindes se oë word genees.

Jesus se liefde is mooi.  Daarom is mense wat Jesus se liefde verstaan, en self liefde betoon ook mooi.  Tabita was so ’n mooi vrou.  Sy was nie belangrik nie.  Niemand sou haar kies vir die parlement, of op die TV met haar gesels oor die probleme van die land nie.  Sy was ’n gewone, onbelangrike mens.

Maar Tabita was mooi, want sy het die mense rondom haar gehelp.  Weduwees, wat niemand gehad het om hulle te versorg nie, het klere by Tabita gekry.  Sy was altyd besig om goed te doen.

Tabita, die wildsbokkie, was binne-in haar hart mooi.  Dit is die mooiste mooi wat daar is.

of

Carolyn C Brown het ‘n mooi kindertyd wat volledig gelees kan word hier.

In kort is haar voorstel dat daar vandag op Dorkas gefokus word as ‘n voorbeeld van ‘n Paasfeesmens. Paasfeesmense leef die betekenis van Jesus se opstanding uit. Dorkas, lees ons, het klere gemaak vir mense en hulle op die manier versorg. Op watter ander maniere kan ons vir ander sorg en Paasfeesmense wees?

Vir die ouer kinders: Ons lees altyd net van Jesus se twaalf dissipels wat almal mans was. Ons weet egter daar was heelwat ander volgelinge van Jesus wat vroue was. In hierdie verhaal word Dorkas ook ‘n dissipel genoem. Dit is dus moontlik dat daar meer as twaalf dissipels was, waaronder meer vroue.

Preekriglyn

Dorkas se lewe is die verhaal van ‘n enkele vrou wat verantwoordelikheid in die Christelike gemeenskap aanvaar het totdat sy ‘n ma vir baie geword het. Sy het haar lewe gewy aan mense in nood. Haar onbaatsugtige werk het talle barmhartigheidsorganisasies wêreldwyd geïnspireer. Volgens haar naam was sy moontlik ‘n Jood, wat tussen die Grieke gewoon en hulle taal gepraat het. Sy het ‘n volgeling van Jesus geword. Dorkas word in die Skrifgedeelte as ‘n vroulike dissipel voorgestel. Dit is die enigste keer in die Nuwe Testament waar na ‘n vrou as dissipel verwys word. Gewoonlik word slegs na mans as dissipels verwys.

Toe Petrus by Dorkas se huis aankom, het die rouklaers aan hom die klere getoon wat Dorkas vir die armes gemaak het. Die vrug van Dorkas se arbeid was daar vir almal om te sien. Sy was as ‘t ware ‘n oop brief. Lukas se kort beskrywing van haar lewe en werk, asook die hartseer meelewing van die roubeklaers by haar dood, weerspieël die liefde wat die geloofsgemeenskap en weduwees vir Dorkas gehad het (39).

Tot met Dorkas se dood het Petrus nog geglo sy roeping was om die Joodse volk met die evangelie van Jesus Christus te bedien en hulle op te roep om hulle tot die Here te bekeer. By Joppe het daar egter ‘n beduidende verandering in sy houding teenoor die nie-Jode gekom. Dit is asof Petrus, na die opwekking van Dorkas, besef het dat hy ‘n meer beslissende rol het met betrekking tot die opbou van die kerk van ons Here Jesus Christus, ook onder die nie-Jode. Handelinge 10 berig dat Petrus ‘n droom gehad het waardeur hy tot die besef gekom het dat “God geen partydigheid toon nie” (Hand 10:34).

Dorkas, ‘n eenvoudige naaldwerkster, ‘n vrou, een van die vroulike dissipels in die Nuwe Testament, was die werktuig in God se hand vir herlewing in Joppe, ‘n hawestad aan die Middellandse See.

Troos en medelye

Die opwekking van Dorkas het ‘n dubbele effek gehad.

Eerstens het die wonderwerk die roubeklaers oombliklik getroos en met verwondering gevul.

Die persoonlike vraag wat na aanleiding van Dorkas se verhaal voor elkeen wat dit hoor se deur gelê word, is: Wat is jou bediening? Die vraag daag jou uit om te besin oor waarvoor God jou geroep het; wat jy in sy diens moet doen. Dit vra om eerlik te wees oor waarmee ek in die Naam van die Here besig is. Dit vra om diepsinnig te bepaal wie baat vind deur my werk; onsself, ons eie trots, of ander mense. Dorkas se verhaal laat mens beslis nadink oor ons nalatenskap in die wêreld.

God het Dorkas uit die dood opgewek omdat hy medelye gehad het met die mense wat haar heengaan betreur het. Dorkas het teruggekeer na haar lewe van goeie werke en barmhartigheidsdiens in Joppe en omgewing.

Verspreiding van die evangelie

Die tweede gevolg was die verspreiding van die evangelie. Regdeur Joppe het die boodskap opgeklink dat Dorkas weer lewe, terwyl baie mense tot geloof in die Here gekom het.

In die verhaal vervul Dorkas, die dissipel, nie ‘n praat-rol nie. Haar lewe getuig egter van wat sy vir die gemeenskap beteken het. Sy getuig nie slegs as dissipel van Christus van die Heer nie, maar sy toon met haar dade dat sy Jesus se woorde in Matteus 25:40 ter harte geneem het: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (NAV).

Geloof met werke

Klere maak en uitdeel aan die armes is dus vir haar ‘n handeling om te staan waar God by die armes staan. Jakobus verklaar dat geloof sonder werke dood is. Ons Here Jesus Christus het verklaar dat ‘n boom aan sy vrugte geken word. Daar word verwag dat ‘n Christen goeie vrugte sal dra. God wil ons goeie werke gebruik om nie net ander te bevoordeel nie, maar ook om eer aan Hom te bring: “Laat jou lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, kan verheerlik” (Matt 5:16). Mag die Here ons genadig wees om te doen wat ons hande vind om te doen.

Wat ons moet raaksien is dat dit God is wat Hom ontferm oor Tabita.  Vir Hom is mense wat barmhartigheid verleen belangrik. Hy ontferm hom en gee die lewe aan Tabita – sodat sy kan voortgaan om ander te help en hulle lewe mooi te maak.

Soos Heidi Petersen sê: “The widows would not be abandoned. God would not allow it.”

Ook die kleintjies

God is nie so besig met die groot werke van die geskiedenis dat hy die kleintjies wat aan hom behoort, vergeet nie. Die Here is nie net geïnteresseerd in die Paulusse, Petrusse en Johannesse nie – maar ook in die Tabita’s en vele anonieme goed-doeners in die wêreld. Inteendeel, ‘n mens kry die indruk dat Hy juis in die kleintjies geïnteresseerd is … dié wat gewone mooi goed doen.

Ons is vandag te dikwels behep met die groot stories en die groot getalle, groot syfers en groot geld. Selfs in die kerk is ons geneig om die lewe en die sorg van God te soek en te sien in die groot dinge. Hier sien ons hoe ook die klein dingetjies van die alledaagse, die klein mense en die eenvoudige by die Here gereken word.

Soos Tom Wright sê:

Do not belittle the ministry of stitching, sewing, knitting and generally providing for the needs of the larger community – especially at a time before anyone dreamed of mass-produced clothes. And do not forget to celebrate, as Luke does here, the fact that the apparently ordinary people are not ordinary to God, and that when we tell the story of the great sweep of God’s purposes in history there are, at every point, the Aeneases and the Dorcases who smile out of the page at us, like the robin in the garden, and remind us what it’s really all about. Luke is right to draw our eyes down to the small-scale and immediate, in case we should ever forget that these are the people who form the heart of the church, while the apostles and evangelists go about making important decisions, getting locked up, stoned on, shipwrecked, preaching great sermons, writing great letters, and generally being great and good all over the place.

Op pad na die hele wêreld

Petrus het ‘n ongelooflike ding hier gedoen –  net soos Jesus ‘n dooie mens opgewek in God se naam.

Maar Petrus weet dis nie sy vermoë wat die dood oorwin het nie. Dan gaan bly hy ook by Simon die leerlooier. Die uitgestotene van die dorp. Die onrein man wat met dooie diere werk!

Hierdie laaste feit is betekenisvol. Leerlooiery het by die Jode tot een van die veragte beroepe behoort. ‘n Rabbi het gesê: “It is impossible for the world to do without tanners; but woe to him who is a tanner.” ‘n Jodin kon ‘n egskeiding aanvra as sy sou uitvind haar man is ‘n leerlooier.

Dit was so, omdat ‘n mens in die beroep verplig was om die dooie liggaam van diere aan te raak en sodoende onrein geword het (Lev 11:39). ‘n Leerlooier se huis of werkplek moes daarom op die buitewyke van die dorp wees as gevolg van die stank wat met die leerwerk gepaard gegaan het. Dit is heel moontlik waarom Simon se huis by die see was (10:6).

Petrus bly by so iemand oor. Dit was waarskynlik sy eerste tree op die pad om later saam met heidene te eet. Aangesien die leerlooiers deur die Grieke en Jode verag is, getuig hierdie optrede van Petrus reeds van die vryer opvattings wat hy gehuldig het teenoor sy volksgenote. Hiermee begin hy hom reeds van die vooroordele van sy volksgenote losmaak. Sy verblyf by Simon berei hom voor vir sy ontmoeting met Kornelius in hoofstuk 10.

  • Daarvandaan doen Petrus nou God se werk.
  • God is op pad met Sy groot sending en met een van Sy groot apostels – en die pad loop deur die huis van die wildsbokkie en die leerlooier!
  • So werk God – en so mag ons nooit die geringstes verby gaan nie.
  • So mag ek ook nooit dink my stinkende huis is nie goed genoeg nie.
  • Dalk moet die apostel daar kom oorbly.
So is God

God is nie so besig met die groot werke van die geskiedenis dat hy die kleintjies wat aan hom behoort, vergeet nie. Die Here is nie net geïnteresseerd in die Paulusse, Petrusse en Johannesse nie – maar ook in die Tabita’s en vele anonieme goed-doeners in die wêreld. Inteendeel, ‘n mens kry die indruk dat Hy juis in die kleintjies geïnteresseerd is … dié wat gewone mooi goed doen.

Ons is vandag te dikwels behep met die groot stories en die groot getalle, groot syfers en groot geld. Selfs in die kerk is ons geneig om die lewe en die sorg van God te soek en te sien in die groot dinge. Hier sien ons hoe ook die klein dingetjies van die alledaagse, die klein mense en die eenvoudige by die Here gereken word.

God stuur ons om te leef

Gebed 

Here van die lewe,
U het U tot die dood toe aan die mensdom verbind.
U het die graf oorwin.
Deur ‘n skouspel vir mense te word,
opgelig teen die vloekhout,
het U volkere na U getrek.
Die lewe wat ons vanweë ons sonde verloor het,
het U herstel deur u opstanding uit die dood.
Gedurende hierdie vyftig dae van Pase
verkondig ons die heerlike openbaring van u sterwe en opstanding.
Want alle eer kom U toe,
Nou, en tot in ewigheid.
Amen.

Offergawes

Wegsending: Lied 422 ” Die Heer, die Heer het opgestaan vs 1,2,3″

Seën
Here, my Herder, maak my ’n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde saai;
waar daar onreg is, vergifnis;
waar daar twyfel is, geloof;
waar daar wanhoop is, hoop;
waar daar duisternis is, lig;
waar daar droefheid is, vreugde.
O, Here, my Herder, gee dat ek nie soseer sal soek
om getroos te word nie as om te troos;
om verstaan te word nie as om te verstaan;
om bemin te word nie as om lief te hê;
want dit is deur te gee dat ons ontvang;
dit is deur te vergewe dat ons vergewe word
en dit is deur te sterwe dat ons tot die ewige lewe gebore word.
(Franciskus van Assisi aangepas uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle)

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of

F361. ” Laat Dit So Wees (Amen)” 
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: Ó Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.