Vierde Sondag van Paasfees

Sections

Oorsig

Agtergrond van Vigsherdenkingsondag
Vigsherdenkingsondag is ’n internasionale geleentheid wat elke derde Sondag in Mei gevier word. Dit bied geleentheid vir gemeentes om die boodskap uit te dra dat as een in die liggaam van Christus ly, ongeag plek of statuur, dan ly die hele liggaam (vgl 1 Kor 12:26). Dit is ook ’n pastorale geleentheid vir gemeentes om – op sigbare wyse – aan mense wat op welke wyse ook al deur MIV en vigs geraak word, ’n hand van versorging en onvoorwaardelike aanvaarding uit te strek.

Baie meer inligting en ‘n preekskets met dié tema is beskikbaar in Preekstudies en Liturgiese voorstelle vir die kerklike jaar 2011 wat deur Bybel-Media uitgegee word.

Ander tekste

Psalm 23; Handelinge 2: 42-47; 1 Petrus 2:19-25
Volgens die kerklike jaar is hierdie Sondag ook bekend as Goeie-Herder-Sondag. Die Here tree in Johannes 10 na vore as die Goeie Herder in aansluiting by die Ou-Testamentiese tradisie waarin die leierskap van Israel as valse herders aangekla word.

Fokusteks

Johannes 10:1-10
1. “Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ‘n ander kant af inklim, is ‘n dief en ‘n rower.2 Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder;
3 vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.
4 Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.
5 Hulle sal nooit ‘n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”
6 Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.
7 Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape.
8 Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie.
9 Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.
10 ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
11 “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape”.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Voorganger 1: Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
Gemeente: Ons glo in die goedheid van God. Ons glo God voorsien alles wat vir ons goed is.

Voorganger 1: Hy laat my rus in groen weivelde.
Gemeente: Ons glo dat Jesus Christus die Goeie Herder is.
Ons vind rus in Jesus se lewe en in sy liefde wat aan ons bedien word.
Ons voedsel is om Hom te gehoorsaam.

Voorganger 1: Hy bring my by waters waar daar vrede is.
Gemeente: Ons glo dat die Heilige Gees vrede bring. Ons les ons dors in die vergifnis van ons sondes.

Voorganger 1: Hy gee my nuwe krag.
Gemeente: Ons lewe word van dag tot dag deur Christus in gemeenskap met die Gees aan die Vader gewy. In Hom het ons die ewige lewe.

Seëngroet

Liedere

Loflied: Liedboek 208: 1-3
Kinders: Liedboek 544: 1-3

Ons word stil

Gebed om die opening van die Woord.
Voorganger: Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.
Gemeente: U laat ons volhard in die leer van die apostels;
U laat ons volhard in die breek van die brood;
U laat ons volhard in gebede.
Voorganger: Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
Gemeente: Ons word gedra deur u wonders en tekens;
Soos U ons liefhet en beskerm, het ons mekaar lief;
U laat ons ons besittings deel met ander in nood;
Voorganger: In u hande is ek veilig.
Daarom eet ons ons voedsel met blydskap;
En ontvang u gawes met eenvoud van hart;
Ons prys U.
U maak u kudde steeds bymekaar.
(Uit Ps 23:3-4 met antwoorde uit Hand 2:41-47.)

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Tema: Herder ken sy skape – hoe ken hy hulle?

Hulpmiddel(s ): Brandyster, Oormerk (enige merk in of aan die oor), Armband (met WWJD – What would Jesus do?).

Skrifgedeelte: Johannes 10: 3–5 (selfde as wat voor die preek gelees word).

In die bogemelde gedeelte word vertel dat die goeie herder sy skape by die naam ken. Die skape ken ook sy stem en luister na hom, daarom kan hulle hom volg as hy hulle roep. Die skape sal nie maklik ‘n vreemdeling volg nie, want sy stem is onbekend.

Vroeër jare het groot veeboere hulle diere op verskillende maniere gemerk sodat hulle die diere maklik kan uitken. Veral grootvee soos beeste, is met ‘n vuurwarm brandyster gemerk – die yster merkteken is op die dier se vel ingebrand. Dit is ‘n baie pynlike saak! Soms is dieselfde brandyster in verf gedompel en dan op die bees se boud gedruk – die verf het mettertyd afgekom en dan kon die dier nie meer uitgeken word nie.

Skape is met ‘n oormerk gemerk. Oormerk het behels ‘n snymerk aan die dier se oor of ‘n genommerde plastiekmerker word deur ‘n gaatjie in die oorskulp van die oor vasgedruk. Elke veeboer het ‘n unieke nommer waaraan sy diere uitgeken word. Indien ‘n boer se ska(a)pe afdwaal of gesteel word en daarna iewers gevind word, weet almal aan wie hulle behoort.

Groot sakeondernemings het ook ’n eie merkteken (handelsmerk of “branding”) waarmee al hulle eiendom gemerk word. Dink maar aan enige koeldrankbottel – bv die Coke – handelsmerk is op al die koeldrankbottels waarin koeldrank versprei word.

Enkele jare gelede het al die kinders en jonger mense wat Jesus ken en volg ’n armband gedra. Op die armband was gegraveer: “WWJD – what would Jesus do?” Hierdie armband met die gegraveerde letters moes as duidelike teken dien dat die persoon wat die armband dra, ’n volgeling van Jesus is.

Die beeld van die goeie herder is baie beskrywend. Dit sê iets van ons verhouding met Jesus. Hy ken ons elkeen se naam en het ons lief. Hy praat met ons deur die Bybel. Hy roep ons om Hom te volg.

Gebed: Jesus ons is vanoggend baie dankbaar dat ons ’n herder en leier het wat ons name ken. Help ons om te hoor as u na ons roep.

Skyfie: Herder met staf by sy skape.

Skakel om meer inligting te kry.

Preekriglyn

Gaan stem! is die opskrif van ‘n berig in een kerkblad, terwyl ‘n ander kerkblad selfs ‘n advertensie van ‘n spesifieke party en die leier daarin het.

Sedert Maartmaand is ons gereeld in die pers aan die verkiesingsdag herinner. Die geleentheid om leiers vir plaaslike regering te kies, breek dié week aan. ‘n Groot verskeidenheid partye en groepe het moontlike leiers geïdentifiseer en aan die plaaslike gemeenskappe voorgestel.

As verantwoordelike rentmeesters en bestuurders van die Here hier op aarde, is dit ook gelowiges se plig om goeie leiers aan te wys. Dit is daarom verstaanbaar dat verskillende kerkleiers hulle lidmate aangemoedig het om te gaan stem. Die uiteindelike doel is om ‘n gemeenskap te hê waar leiers met integriteit kan voorloop en hulle volgelinge in harmonie kan saamleef, saamwerk, sáám gedeelde waardes nastreef en mekaar ondersteun.

Binne die kerklike raamwerk is leierskap ook ‘n baie belangrike saak. Ons word daarvan bewus gemaak in elke Bybelboek. Hier vind ons ook talle voorbeelde van gebrekkige leierskap – leiers wat hul volgelinge mislei en hulle skuldig maak aan magsbeheptheid (Jer 23:1–4, Eseg 34:1–4)

Jesus het met sy “intreepreek” (Luk 4:16 ev) duidelik uitgespel wat sy leierskapstyl behels – iemand met integriteit wat kom om te dien . Soos sy aardse bediening verder ontvou – veral hier in Johannes 8, 9 en 10 – vind hy dit nodig om die saak duidelik uit te spel, met bekende metafore.

Volg die goeie herder!

In Johannes 10 stel Jesus homself as die goeie herder voor – die leier met integriteit wat kom dien. Volgens vers 11 en 14 het Jesus herhaaldelik gesê: “Ek is die goeie herder.” Hy doen dit in ‘n tyd toe daar verskillende godsdienstige en gemeenskapsleiers sy pad kruis – skrifgeleerdes, fariseërs en ander (verse 1,8 en 10). Met dié soort leiers het hy dikwels in die verlede gebots.

Die gebeure in Johannes 8:1–11 en 9:1-41 skets twee botsende wêreldbeskouings. Jesus ontbloot die leiers se gebrek aan wysheid, liefde en barmhartigheid … en onderstreep hulle selfgerigtheid, selfsug en gebrekkige leierskap. Aan die een kant is hulle mense wat gesagsposisies beklee, wette toepas en op dié manier gesag probeer afdwing. Dáárteenoor het Jesus leierskap deur diensbaarheid kom illustreer. Anders as die leiers van Israel, is Hy die Goeie Herder, want Hy gee om vir God se mense soos ’n goeie herder vir sy skape omgee. Hy het die mense lief. Hy spandeer tyd om na hulle te luister. Hy vergewe hulle en herstel hulle menswaardigheid. Hy help hulle om op God te fokus en bemagtig hulle om voluit te leef!

Sy ingesteldheid teenoor mense is verrassend nuut en vars – eintlik dit wat in die Ou Testament deur Jesaja aan leiers voorgehou is (Luk 4:18–19, Jes 61:1–3), en wat hulle so ‘n bietjie vergeet het. Dit maak dat mense hom vertrou. Hy word tussen hulle bekend as ‘n leier met integriteit. Hy vul die begrip herderskap en leierskap met sy liefde, met sy sorg en met sy omgee. Hy is self die volmaakte voorbeeld van die goeie herder.

Nuwe herdersgemeenskap

(Nie te verwar met herder-kudde-modelle nie).

Wanneer Jesus Homself as die Goeie Herder aan sy volgelinge bekend stel en hulle uitnooi om Hom te volg, beteken dit dat Hy ’n nuwe gemeenskap tot stand bring. (By wyse van verduideliking sou ‘n mens kon sê: Die mense word uitgedaag om ‘n keuse te maak. Hulle moet stem!)

Dié volgelinge staan voortaan in ‘n nuwe verhouding met Hom as hulle leier. Dit wat hulle by Jesus leer, sáám met Hom beleef, van Hom ontvang en by Hom sien gebeur, bring hulle nader aan Hom. Sodoende gee Hy aan hierdie nuwe herdersgemeenskap gestalte, inhoud en vorm. Sy diensbaarheid, versorging en omgee maak die nuwe herdersgemeenskap opgewonde – en dié blymoedige versorging vloei oor na méér en méér mense. (Hier kan elke prediker dit aktualiseer deur te verwys na die spesifieke swaarkry-omstandighede, asook vreugdes, in sy of haar spesifieke gemeenskap.)

Met dié gebeure as agtergrond en die metafore in Johannes 1:1–10, roep Jesus sy volgelinge op om diensbaar te wees. In sy “afskeidspreek” (Hand 1:8) stuur Hy die dissipels en volgelinge – wat toerusting ontvang het en deur die Heilige Gees gelei sal word – om volgens sy voorbeeld die leiding te neem. Hulle is die toekomstige geestelike leiers van die kerk. Dit beteken nuwe herdersgemeenskappe moet tot stand kom waar sy volgelinge hulle bevind (“… Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld”).

Onderlinge sorg

In dié nuwe herdersgemeenskap is die dissipels onderling aan mekaar verbind – hulle het dieselfde leier, deel dieselfde waardes en dieselfde opdrag!

Vanaf die ontstaan van die kerk in die Nuwe Testament is Christus die Leier wat sy volgelinge leer om ook onderling vir mekaar verantwoordelikheid te neem. Dié onderlinge verbintenis noop hulle om as ‘n versorgende gemeenskap te leef.

Só kry Christus se sorg gesig in sy volgelinge se onderlinge sorg. Sy omgee kry gesig in hulle onderlinge omgee vir mekaar en vir ander. Hulle onderlinge omgee, versorging en diensbaarheid, word mettertyd kenmerke van die eerste gemeentes (Hand 2:42-47).

In verkiesingstye in die besonder word baie gekla oor gebrekkige versorging, dienslewering en swak leierskap. Nou is die tergende vraag: Is die geloofsgemeenskap self nie ook maar so nie? Of is ons werklik ‘n alternatiewe gemeenskap waar dit anders daaraan toegaan en ons wél reageer op mekaar se nood?

Met die aanloop na, of tydens elke jaar se Pinkstertyd, word gereeld na die kenmerke van die eerste gemeentes verwys. Ook in ons moderne era is die kerk sonder hierdie kenmerke nie geloofwaardig nie.

Vandag het elke gemeente tog voorbeelde van toegewyde lidmate wat die voorbeeld van Jesus prakties uitleef. Daar is tog baie gelowige mense wat as ‘t ware deur God se oë na ander mense en situasies kyk – gelowiges wie se diensbaarheid voorop staan. Gelowiges wat gereed is om uitdagings te aanvaar. Omdat hulle fokus op die Koninkryk, is geen opoffering is te groot nie.

Die noodsaaklike behoefte hieraan word opnuut onderstreep deur die gebrokenheid van die wêreld waarin ons leef – gebeure in Japan het weer illustreer hoe gelowiges daar plaaslik, maar spesifiek ook vanuit Suid-Afrika, by onderlinge versorging betrokke kan raak.

Maar soos in Jesus se bedieningstyd toe melaatses in die gemeenskap uitgeskuif is en mense nie veel kontak met hulle wou hê nie, kry ons steeds situasies waar mense as’t ware eenkant gelaat word, waar hulle weens vooroordele nie inpas by die gemeenskap nie. Jesus neem egter leiding en bring genesing en lewe – ook vir melaatses (Luk 5:12 ev).

Een so ‘n groep mense wat dikwels nog soos melaatses hanteer word, is mense wat MIV-positief is. Selfs die nuwe herdersgemeenskap verstaan nie oral hoe dié situasie reg hanteer moet word nie.

Deesdae word baie gepraat (en soms ook gedoen) oor armoede en werkloosheid. Daar is plek-plek daadwerklike pogings om mense wat hierdeur geknel word, te help. Wanneer ons oor MIV-positiewe mense praat, is daar egter dikwels huiwering om as ‘n herdersgemeenskap na vore te tree.

Terwyl die pandemie al groter word, lyk dit ook nie altyd of die regering genoeg doen om hulp te verleen aan die MIV-positiewe persone, relevante inligting aan almal te verskaf en die regte waardes te beklemtoon om voorkomend op te tree nie. ( Preekstudies en Liturgiese voorstelle bl 163 en 164 gee waardevolle riglyne hieroor. Baie verwysings en bronne is beskikbaar vir predikers om gemeentes te begelei).

’n Versorgende gemeente en kerk in die wêreld

Wanneer ons verhouding met die Goeie Herder onderliggend en bepalend is vir al die ander verhoudings in ons lewe, kan ons nie anders as om in ’n stukkende wêreld vir mekaar en ons medemense om te gee en om medeverantwoordelik vir mekaar te aanvaar nie!

Hoe lyk dit met ons leierskap op dié terrein? Na watter soort oorvloed soek politieke leiers? Korporatiewe leiers en leiers in die sakewêreld? Predikante en kerkraadslede? Ons as ouers wat leiding in ons huise neem en aan ons gesinne gee? Wie is ons voorbeeld? Met Paasfees het ons weer bewus geword van ‘n ander soort leierskap en ‘n ander soort oorvloed – leiers wie se oorvloed nie gekenmerk word deur grypsug en selfgerigtheid nie, maar deur ‘n oorvloed wat juis uitmond in ontlediging, in leegmaking van jouself ter wille van ander, ‘n oorvloed wat bestaan uit omgee en diensbaarheid.

Die kerk bestaan ter wille van die wêreld. Ons sal ál meer deur God se oë na ander mense, gebeure en situasies in ons midde moet kyk – met diensbaarheid wat voorop staan: Ons sal gereed moet wees om uitdagings te aanvaar, nie te terug te deins vir opofferings nie, voor te loop en leiding te neem!

God stuur ons om te leef

Voorbidding: stil gebed – Leef ek regtig as deel van die herdersgemeenskap?

Bid vir:

  • Dat die verkiesing van leiers vir plaaslike regering met verdraagsaamheid sal geskied.
  • Dat gemeentes die miljoene mense wat MIV-positief is, sal raaksien.
  • Dat gemeentes gedurende die Pinkstertyd weer as herdersgemeenskappe mekaar sal bemoedig vir hulle werk in die wêreld.

Uitsendingslied
Liedboek 577:1 – 5 of
Flam 220 “Die Here is my Herder”

Seën
Voorganger: Die Here sal julle seën en julle beskerm.
Gemeente: U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly;

Voorganger: die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
Gemeente: en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Voorganger: die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
Gemeente: Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.