Vierde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Op hierdie vierde Sondag in Koninkrykstyd lees ons onderskeidelik van ‘n bedreiging, gevare, ‘n krisis en nood. Geeneen van hierdie tekste ontken die werklikheid van die bedreiging, die gevaar, die krisis of die nood nie, maar elke verhaal beklemtoon die besonderse teenwoordigheid van die lewende Here in al hierdie situasies. Die sleutelteks uit 1 Samuel vertel van die geveg tussen Dawid en Goliat. Psalm 9 is ‘n gebed tot die Here om die hulpeloses te red. 2 Korintiërs vertel van die beproewings wat God se medewerkers moes verduur ter wille van die verkondiging van die evangelie. In die Markusverhaal lees ons van Jesus wat die storm stilmaak.

Ander tekste

Psalm 9:9-20
8Die Here is altyd op sy troon;
op sy regterstoel is Hy steeds
gereed vir die regspraak.
9Hy lewer ’n regverdige uitspraak
oor alle mense,
Hy vel ’n billike vonnis oor die nasies.
10Vir die mens wat in gevaar verkeer,
is die Here ’n toevlug,
’n skuilplek in tye van nood.
11Daarom vertrou almal
wat u Naam bely, op U,
want U, Here,
laat dié wat vra na u wil,
nie in die steek nie.
12Sing tot eer van die Here
wat op Sion woon,
vertel die volke van sy dade!
13Hy dink aan die onskuldiges
en wreek hulle dood,
Hy verontagsaam nie die geroep
van dié wat in nood verkeer nie.
14Wees my genadig, Here,
aanskou die ellende wat my haters
my aangedoen het,
U wat my terugruk
uit die poorte van die dood.
15Dan kan ek van al u roemryke dade
vertel,
in die poorte van Sion kan ek juig
oor die uitkoms wat U gegee het.
16Die nasies het in die gat geval
wat hulle gegrawe het,
hulle voete is vasgevang in die net
wat hulle gespan het.
17So het die Here Hom bekend gemaak,
Hy het reg laat geskied,
en die skuldige is deur sy eie handewerk
gevang. Higgajon
18Die doderyk is die bestemming
van die skuldiges,
van al die nasies wat aan God
nie dink nie.
19Waarlik, die behoeftiges
word nie vir altyd vergeet nie,
nie vir ewig sal die verwagting
van dié wat in nood is,
vrugteloos wees nie.
20Gryp tog in, Here,
sodat die mens hom nie verhef nie.
Laat die nasies voor U teregstaan.
21Vervul hulle so met vrees, Here,
dat hulle erken dat hulle net mense is.

2 Korintiërs 6:1-13
As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. 2Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek jou gebede verhoor,
en op die dag van redding
het Ek jou gehelp.”
Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.

3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.

8Ons ontvang eer en oneer,
ons word beledig en geprys.
Ons word behandel as verleiers,
en tog is ons betroubaar;
9as onbekendes,
en tog is ons goed bekend;
as sterwendes
en, soos julle sien, ons lewe;
as gestraf,
maar ons is nie doodgemaak nie;
10as bedroefdes,
en tog is ons altyd opgeruimd;
as armes,
maar ons maak baie ander ryk;
as mense wat niks het nie,
en tog besit ons alles.
11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!

Markus 4:35-41
35Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”
36Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. 37Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. 38Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

39Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!”

Die wind het gaan lê en daar het ’n groot stilte gekom. 40Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”

41Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam

Sleutelteks

1 Samuel 17:(1a, 4-11, 19-23) 32-49
Dawid en Goliat
1 Die Filistyne het hulle leër laat saamtrek vir oorlog. Hulle het byeengekom by Sogo, wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan tussen Sogo en Aseka by Efes-Dammim. 2 Saul en die manne van Israel het saamgetrek en kamp opgeslaan in die Ela-vallei (vallei van die terabintbome). Hulle het die gevegslinies opgestel vir die oorlog teen die Filistyne. 3 Die Filistyne het teen die een heuwel stelling ingeneem, en die Israeliete teen die ander heuwel, met die vallei tussen hulle. 4 Daar tree toe ‘n baasvegter (‘n “tussen-in man” wat ‘n teenstander uitdaag tot ‘n tweegeveg voordat die oorlog begin) uit die kampe van die Filistyne na vore met die naam Goliat, afkomstig uit Gat. Sy lengte was ses el en ‘n span (ongeveer 3 m). 5 Daar was ‘n helm van brons op sy kop, en hy het ‘n geskubde harnas aangehad. Die gewig van die harnas was vyfduisend sikkel (57 kg) brons. 6 Daar was bronsplate voor sy skene en ‘n kromswaard van brons tussen sy skouers. 7 Die skag van sy vegspies was soos die dwarsbalk van ‘n weefraam en die lem van sy vegspies was van seshonderd sikkel yster (7 kg). Iemand wat ‘n grootskild dra, het voor hom uit geloop. 8 Hy het gaan staan en vir die gevegslinies van Israel geskreeu. Hy het vir hulle gesê: “Waarom trek julle uit om gevegslinies vir oorlog op te stel? Is ek nie ‘n Filistyn, en julle Saul se slawe nie? Kies vir julle ‘n man uit, dat hy na my toe afkom. 9 As hy in staat is om teen my te veg, en hy verslaan my, sal ons julle slawe word; maar as ek oor hom die oorhand kry en hom verslaan, sal julle ons slawe word en moet julle ons dien.” 10 Die Filistyn het gesê: “Ek, ja ek, maak vandag van die gevegslinies van Israel ‘n bespotting! Stuur vir my ‘n man, sodat ons kan veg!” 11 Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle paniekbevange en baie bang. 12 Dawid was die seun van hierdie man uit Efrata, uit Betlehem in Juda, met die naam Isai. Hy het agt seuns gehad. In Saul se tyd was die man al oud, gevorderd in jare. 13 Die drie oudste seuns van Isai het Saul gevolg na die oorlog. Die name van sy drie seuns wat oorlog toe is, was Eliab die eersgeborene, sy tweede was Abinadab, en die derde was Samma. 14 Dawid was die jongste. Die drie oudstes het Saul gevolg, 15 maar Dawid het telkens van Saul af teruggekeer om sy vader se kleinvee op te pas in Betlehem. 16 Intussen het die Filistyn vroeg soggens en smiddags laat nader gekom en stelling ingeneem – veertig dae lank. 17 Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Neem tog vir jou broers hierdie efa (22 l) geroosterde graan en hierdie tien brode. Vat dit gou na jou broers in die kamp. 18 Hierdie tien blokke kaas moet jy vir die bevelvoerder van die afdeling gee. En oor jou broers moet jy uitvind hoe dit gaan, en ‘n bewys van hulle af saambring.” 19 Saul en die broers en al die manne van Israel was steeds besig om teen die Filistyne oorlog te maak in die Ela-vallei. 20 Dawid het die oggend vroeg opgestaan en die kleinvee by ‘n wagter agtergelaat. Hy het gepak en vertrek, soos Isai hom beveel het. Toe hy by die oornagkamp aankom, was die leër besig om uit te gaan na die gevegslinies. Hulle het die oorlogskreet aangehef vir die geveg, 21 en Israel en die Filistyne was besig om hulle gevegslinies teenoor mekaar op te stel. 22 Dawid het die pakgoed wat hy gedra het by die oppasser van die pakgoed afgegee en na die gevegslinie gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan.
23 Hy was nog besig om met hulle te praat, toe die baasvegter met die naam Goliat, die Filistyn, uit Gat, juis na vore tree uit die gevegslinies van die Filistyne, en dieselfde woorde sê. Dawid het dit gehoor. 24 Maar al die manne van Israel het, toe hulle die man sien, voor hom padgegee. Hulle was baie bang. 25 Die manne van Israel het gesê: “Sien julle hierdie man wat na vore tree? Ja, dit is net om ‘n bespotting te maak van Israel dat hy na vore tree! Die man wat hom verslaan – vir hom sal die koning met groot rykdom oorlaai, sy dogter aan hom gee en sy familie vrystel van verpligtinge in Israel.” 26 Dawid vra toe vir die manne wat by hom staan: “Wat sal gedoen word vir die man wat hierdie Filistyn verslaan en die bespotting van Israel laat wyk? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn nogal dat hy ‘n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God?” 27 Die manskappe het hom met dieselfde woorde geantwoord: “Dit is wat gedoen sal word vir die man wat hom verslaan.” 28 Sy oudste broer, Eliab, het gehoor toe hy met die manne praat. Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen afgekom, en by wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn agtergelaat? Ek ken jou verwaandheid en die boosheid van jou hart. Ja, dit is met die doel om die geveg te sien, dat jy hierheen afgekom het.” 29 Dawid het geantwoord: “Wat het ek nou gedoen? Is dit nie maar net ‘n vraag nie?” 30 Dawid het van Eliab weggedraai na iemand anders en dieselfde vraag gevra. Die manskappe het hom dieselfde antwoord gegee as die eerste. 31 Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword; en toe hulle dit vir Saul vertel, het hy hom laat haal.

32 Dawid het vir Saul gesê: “‘n Mens moenie moed verloor oor hom nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” 33 Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is nog maar ‘n seun, en hy is ‘n krygsman van sy jeug af.” 34 Toe sê Dawid vir Saul: “U dienaar het nog altyd vir sy vader die kleinvee opgepas. Wanneer daar ‘n leeu of ‘n beer kom en ‘n lam uit die trop wegdra, 35 gaan ek uit agter hom aan, slaan hom plat en ruk die lam uit sy bek. As hy opstaan en my aanval, gryp ek hom aan sy kaak, slaan hom plat en maak hom dood. 36 U dienaar het al ‘n leeu en selfs ook ‘n beer doodgeslaan. Met hierdie onbesnede Filistyn sal dit net soos met een van hulle gaan, omdat hy ‘n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God. 37 Die Here wat my gered het uit die klou van ‘n leeu en die klou van ‘n beer,” het Dawid gesê, “dit is Hy wat my sal red uit die hand van hierdie Filistyn.” Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here met jou wees!” 38 Saul het Dawid sy eie uitrusting laat aantrek. Hy het ‘n helm van brons op sy kop gesit en hom ‘n harnas laat aantrek. 39 Dawid het ook Saul se swaard oor sy uitrusting vasgegord en probeer om te loop, want hy het dit nog nooit probeer nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek het dit nog nooit probeer nie.” Toe haal Dawid dit van hom af. 40 Hy het sy staf in sy hand geneem, vir hom vyf gladde klippe in die spruit uitgesoek en dit in die skaapwagtersak wat hy gehad het, in die kantsak, gesit. Met sy slingervel in sy hand het hy die Filistyn genader.

41 Die Filistyn het al hoe nader aan Dawid gekom, met voor hom die man wat die grootskild dra. 42 Toe die Filistyn mooi kyk en Dawid sien, het hy hom geminag, want hy was nog maar ‘n seun, rooierig, en met ‘n mooi voorkoms. 43 Die Filistyn sê toe vir Dawid: “Is ek ‘n hond dat jy met stokke na my toe kom?” En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode. 44 Verder sê die Filistyn vir Dawid: “Kom na my toe, sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere in die veld kan gee.” 45 Maar Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n vegspies en met ‘n kromswaard, maar ek kom na jou in die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, van wie jy ‘n bespotting maak. 46 Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, en ek sal jou verslaan en jou kop afkap. Ek sal die lyke van die Filistyne se leër vandag nog aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee, sodat die hele aarde sal weet dat Israel ‘n God het. 47 Dan sal hierdie hele strydmag moet erken dat dit nie deur swaard en vegspies is wat die Here verlos nie. Ja, die oorlog behoort aan die Here, en Hy sal julle in ons hand gee.” 48 Toe die Filistyn gereedmaak en al nader kom om Dawid tegemoet te loop, het Dawid die Filistyn vinnig tegemoet gehardloop in die rigting van die gevegslinie. 49 Dawid het sy hand in die sak gesteek en ‘n klip daaruit geneem, met die slingervel gegooi, en die Filistyn op sy voorkop getref. Die klip het sy voorkop binnegedring, en hy het op die grond op sy gesig geval.

50 Dawid het die oorhand gekry oor die Filistyn met ‘n slingervel en ‘n klip. Hy het die Filistyn verslaan en hom doodgemaak, al was daar nie ‘n swaard in Dawid se hand nie. 51 Dawid hardloop toe en gaan staan by die Filistyn, vat sy swaard vas, en trek dit uit die skede. Hy het hom die doodslag toegedien deur sy kop met die swaard af te kap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug. 52 Die manne van Israel en Juda het opgespring, die oorlogskreet aangehef en die Filistyne agtervolg tot by die ingang van Gat en tot by die poorte van Ekron. Die gesneuweldes van die Filistyne het op die pad na Saärajim en tot by Gat en Ekron gelê. 53 Daarna het die Israeliete teruggekeer van die hakkejag op die Filistyne en hulle kampe geplunder. 54 Dawid het die kop van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring. Die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit.

Aanstelling van Dawid as bevelvoerder
55 Net toe Saul sien dat Dawid uitgaan om die Filistyn aan te durf, het hy vir Abner, die bevelvoerder van die leër gevra: “Wie se seun is hierdie jong man, Abner?” Abner het geantwoord: “So waar as wat u leef, o koning, ek weet nie!” 56 Die koning sê toe: “Vra jý wie se seun die jongeling is.” 57 Net toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring. Die kop van die Filistyn was nog in sy hand. 58 Saul vra toe vir hom: “Wie se seun is jy, jong man?” Dawid het geantwoord: “Die seun van u dienaar Isai, uit Betlehem.” (2020-vertaling).

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 163

Votum: Psalm 9:10-11

Seëngroet

Lofsang: Lied 212

Verootmoediging: (deur Jan de Jongh uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”)

Toewyding: Flam 32 of Lied 271

HOOR

Gebed

Skriflesing: 1 Samuel 17:32-49 (sien Familie-oomblik)

Familie-oomblik
Preek

LEWE

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 486 of Flam 248 of VONKK 162

Seën

Respons: Lied 533 of 534 se tweede vers

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok”

Votum: Psalm 9:10-11
10Vir die mens wat in gevaar verkeer,
is die Here ’n toevlug,
’n skuilplek in tye van nood.
11Daarom vertrou almal
wat u Naam bely, op U,
want U, Here,
laat dié wat vra na u wil,
nie in die steek nie.

Seëngroet
Jy word genooi om jou vanoggend nie te bekommer oor goed waaraan jy niks kan doen nie, maar om rus en kalmte te vind by God. Wag op God in die wete dat hy ons hier wil ontmoet. Daarom, wees gegroet in sy Naam: Genade en vrede.

Lofsang
Lied 212 “Loof die Heer, Hy is goed”

Verootmoediging
Hier is ons Here,
mense wat hier saamgekom het met ons bekommernisse en hartseer, met ons vreugde en drome.

Hier is ons Here,
mense wat druk besig is met studie en werk en meestal maar meegesleur word in die stroom van oppervlakkige gejaagdheid.

Hier is ons Here,
mense wat daagliks die godsdiens van geld, mag en status inasem en meedoen aan onreg en boosheid.

Ons bid,laat ons tog nie goddeloos word en aan die realiteit om ons té gewoond raak nie.

Laat die skare van geloofsgetuies van alle tye ons bemoedig en uitdaag tot volharding in die geloof.
Amen.
(deur Jan de Jongh uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”)

Toewyding
Flam 32 U Is My Krag En My Beskerming
Lied 271 “Heil’ge Jesus, wat my lewe”

Liedere

F32. “U Is My Krag En My Beskerming”
(RUBRIEK: Kruisfuur /Flam – Verwondering / Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Mariëtte Labuschagne
© 1995 MAR Gospel Music Publishers (Ps 28:7)

U is my krag en my beskerming.
By U kan ek skuil in my nood.
U dra my, U versterk my,
U troos my, U omhels my.
U liefde is groot,
dankie, my Heer.

F248. “Laat Jou Lig Skyn”
(RUBRIEK: Flammikidz – Getuienis) Oorspronklike titel: Let Your Light Shine Teks en musiek: Andy Wallis
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht  © 2005 Hillsong Publishing

1. Tree vir tree kruip die donker in.
Dis nag en ek voel bang
vir skadu’s en geluide in die donker gang.
Jesus, help my … gou!

Refrein:
Laat jou lig skyn. Woo-oo-oo-oh.
Laat jou lig skyn. Woo-oo-oo-oh.
Laat jou lig skyn, en laat
Jesus skyn deur jou.

2. God maak reuse vrese klein
as jy vir Hom kan sien.
Roep Jesus aan om jou te help en
bangheid sal verdwyn!

Refrein:

Brug:
Ek is sterk! Ek laat nou my lig skyn.
Jy is sterk! Jy laat nou jou lig skyn.
Ons is sterk. Ons laat nou ons lig skyn.
Jesus is sterk. Hy laat nou ons lig skyn.

Refrein: (x2)

VONKK 162 “Dawid Met Sy  Slinger”
Nav 1 Samuel 17:40-51 Teks: David met zijn slinger – Nederlands onbekend; Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: SLINGER – onbekende oorsprong Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2012 Klavierbegeleiding: Gerrit Jordaan 2012
© Teks en begeleidings: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Kontemporêre kinderlied – Geloof en Vertroue / Kindwees

Dawid met sy slinger,
vir niemand was hy bang.
Hy bid tot God, sy Vader,
en sing ’n lofgesang.
Al was hy maar jonk en
al was hy klein gebou,
het Dawid reeds van kleins af
alleen net op God vertrou.
Hy neem nie eers ’n swaard nie
om teen die reus te veg –
hy gaan alleen in God se krag
met die slinger in sy hand.
Hy swaai die slinger om en om
en om en om en om.
Die klippie tref die reus se kop
en die reus val op sy neus!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: 1 Samuel 17:32-49 (sien Familie-oomblik)

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Die Skriflesing kan op heelwat maniere dramaties gelees of oorvertel word. So kan vrywilligers dit bv. (onvoorbereid) “mimiek” terwyl dit gelees word. Jy kan byvoorbeeld die lekker interaktiewe weergawe van die YouVersion App vir kinders gebruik – wat ook in Afrikaans beskikbaar is. Of hierdie video van Online Church: Kids. Durbanville Bergsig het ‘n oulike video gemaak van ‘n liedjie wat die hele storie vertel. Hier is ‘n redelik dramatiese “live action” uitbeelding van die verhaal – die geweld is waarskynlik te grafies, maar aan die ander kant maak kinders nie onderskeid tussen illustrasie en realiteit nie. Hierdie is ‘n uiters gewelddadige verhaal.

Leer die bewegings en sing die bekende liedjie van Jan de Wet saam:
Toe tel Dawid 5 klippies op [wys 5 vingers]
en hy skiet die een [swaai wysvinger in die lug soos ‘n slingervel]
teen die reus se kop [druk met vinger teen voorkop]
toe val die reus [laat albei hande vooroor val]
op sy neus [druk wysvinger op neus]
net een skoot [wys een vinger]
en die reus was dood [val vooroor]
maar die vroue sing, Dawid het oorwin [swaai albei arms in die lug]
10 000 man [wys al 10 vingers ‘n paar keer]
maar Dawid het geen swaard of spies [swaai arms om te wys daar is niks]
want die woord van die Heer het hy verkies [maak ‘n boek met twee hande]
om die Filistyn [hou hand ent bokant kop]
te verslaan [kruis hande met gebalde vuiste oor mekaar]
hy het die reus oorwin [wys wysvinger in die lug] op
in die Here se naam [hand lofprysend in die lug]

Hier is ‘n klomp inkleurprente om van te kies en hier is lekker craft idees.

Preekriglyn

[Nota: Meegaande preek veronderstel dat die hoorders op hoogte is met die inhoud van die groot dele van die hoofstuk.]
Survivor: David versus Goliath is die 37ste seisoen van die gewilde Amerikaanse realiteitsreeks, Survivor, wat op allerlei vorms van kompetisie gebaseer is. Hierdie seisoen, wat in 2018 uitgesaai is, het bestaan uit 20 deelnemers, in twee stamme verdeel. Die twee stamme is geskoei op die Bybelse figure van Dawid en Goliat. Stam Dawid het bestaan uit tien “underdogs” wat in hul werklike lewe tot dusver gedurig struikelblokke moes oorkom. Stam Goliat het bestaan uit tien oorpresteerders wat hul bevoorregting in die lewe gebruik het om uit te blink.

Dié seisoen van Survivor, ‘n reeks met prysgeld van ‘n ronde miljoen Amerikaanse Dollar, is gewen deur Nick Wilson. Wilson is ‘n regte Dawid wat so arm groot geword het die gesin het feitlik nooit ‘n permanente tuiste gehad nie.

Bitter min Bybelse verhale is beter bekend as hierdie verhaal van Dawid en Goliat. Selfs in sekulêre kringe het dit ‘n letterkundige klassieke teks geword. Volgens hierdie interpretasie is Dawid as’t ware die beskermheilige van die underdogs.

Vanuit die Bybelse perspektief – ook in hierdie teks – het die oorkom van onbereikbare struikelblokke alles met God se hulp te doen. Dit gaan oor veel meer as bloot menslike vasberadenheid of prestasie.

Die belangrike vraag is of hierdie teks regtig met underdogs te doen het. Hoewel die Bybel op baie plekke leer dat gelowiges met God se hulp enige uitdaging die hoof kan bied, moet ons vra of dit die tema van hierdie teks is. Wil dit sê dat ons in die gesig van onmoontlike uitdagings op God moet vertrou? Is Dawid en Goliat ‘n Survivor-storie?

Die antwoord is: nee. Hierdie teks handel oor hoe mag in God se koninkryk werk.

Kom ons verken die teks en temas in die teks om die boodskap te verstaan.

Wie was Goliat?

Volgens die populêre siening was Goliat ‘n reus. Let egter op, nêrens in hierdie teks word hy as ‘n reus beskryf nie. Die teks noem hom twee kere (verse 4 en 23) die “tussen-in man”, dikwels vertaal met baasvegter. Dit was iemand wat ‘n teenstander uitdaag tot ‘n tweegeveg voordat die oorlog begin. So ‘n uitdager moes ‘n baasvegter wees, iemand wie se gevegsvaardighede werklik deur en deur getoets was, en onder die vegters nie ‘n gelyke geken het nie.

‘n Baasvegter is egter iets anders as ‘n reus. In der waarheid word daar net een keer na Goliat se lengte in die teks verwys. Hy was inderdaad lank. Ons teks fokus egter nie op sy lengte nie, maar op sy wapentuig. Teenoor net een verwysing na sy lengte, spandeer ons teks drie verse om oor sy indrukwekkende wapentuig te praat:

  • ‘n Helm van brons
  • ‘n Geskubde harnas – 5,000 sikkel swaar (57 kg)
  • Bronsplate voor sy bene
  • ‘n Kromswaard van brons
  • ‘n Vegspies
  • Voor hom uit het ‘n draer met ‘n grootskild geloop.

Ons teks beskryf die baasvegter Goliat as iemand wie se konvensionele militêre wapentuig en mag onvergelykbaar was.

Vergelyk met Koning Saul

Ons teks se fokus op Goliat se konvensionele militêre wapentuig staan in skerp kontras met koning Saul, Goliat se logiese opponent onder die Israeliete.

Toe Saul oorspronklik as koning gesalf is en aan die Israeliete bekendgestel is, is gesê hy staan kop en skouers uit bo die hele volk (1 Sam 10:23). Die profeet Samuel het gesê: “Sien julle die een vir wie die Here gekies het? Ja, daar is niemand soos hy onder die volk nie!” (10:24).

Dalk was Saul nie heeltemal so groot soos Goliat nie, maar Saul was beslis nie ‘n “gewone sterfling” in vergelyking met Goliat nie. Anders as die populêre uitbeelding was Goliat beslis nie ‘n legendariese reus van titaniese afmetings nie.

Fisiek was Saul en die filistyn dalk in dieselfde klas. Maar in terme van wapentuig was die Israeliete en Saul glad nie naby die militêre mag van Goliat en die Filistyne nie.

Hier is dit belangrik om te onthou dat – toe die volk aangedring het op ‘n koning – Saul deur God aangewys het toe die Israeliete ‘n koning wou hê “soos dit by al die nasies is” (1 Sam 8:5). Verder het hulle gesê:

Ons wil ook soos al die nasies wees, ons koning moet oor ons regeer, hy moet voor ons uit trek en ons oorloë vir ons voer (8:20)

Dit is presies wat Saul nou probeer wees in die konflik met Goliat: die een wat die volk se oorloë namens hulle voer. Hy misluk egter en raak daarom paniekbevange. Hy vergeet van God en waarin Israel se mag en krag eintlik lê.

Konvensionele mag

Israel was nie veronderstel om ‘n koning soos al die ander nasies te hê nie. Israel se koning se mag het elders gelê as in konvensionele menslike militêre mag. Konvensionele mag werk net solank dit meer en sterker is as die kompetisie of die vyand se mag. Israel se koning moes anders wees.

Moses het reeds in Deuteronomium 17:14-20 uitgespel wat die vereistes vir Israel se koning moes wees. Hierdie vereistes het niks met konvensionele militêre mag te doen gehad nie, en alles met onkonvensionele mag: die soort mag wat op God se wil, Woord en gehoorsaamheid aan God gebaseer was.

Só het Moses dit uitgespel (Duet. 17:18-20):
Wanneer hy op sy koninklike troon sit, moet hy van hierdie wet, wat in besit van die Levitiese priesters is, vir hom ‘n afskrif skryf in ‘n boekrol. Hy moet dit by hom hou en hy moet sy lewe lank daaruit lees sodat hy kan leer om vir die Here sy God ontsag te hê, om al die woorde van hierdie wet te onderhou, hierdie voorskrifte na te kom, homself nie hoër te ag as sy volksgenote nie, en nie links of regs af te wyk van die gebod nie. Dan sal hy ‘n lang tyd oor sy koninkryk in Israel heers, hy en ook sy nageslag.

Die Israeliete het hulself ernstig misreken toe hulle gedink het Israel se koning sal hulle van genoeg konvensionele mag voorsien om hulle probleme op te los. Die gebeure in ons teks rondom Dawid en Goliat is ‘n goddelike les dat konvensionele militêre mag nutteloos was in die aangesig van die Filistyne se groter mag.

Terug by “die Filistyn”

As mens mooi oplet sien jy ons teks verwys net twee keer na Goliat by dié naam of titel. Hy word by voorkeur “die Filistyn” genoem (sowat 25 keer word na “die Filistyn” verwys).

Goliat was die verteenwoordiger of die simbool van die Filistyne. Die beklemtoon ook dat hy nie net ‘n volk of ‘n staat (Filistia) verteenwoordig nie, maar ook konvensionele politieke en militêre mag.

Die doel van die gebeure in ons teks is om te illustreer dat Israel – God se volk – se rol in die wêreld eintlik niks te doen het met konvensionele politieke en militêre mag nie. Mag onder God se mense werk heeltemal anders as in wêreldse terme – ook politieke oftewel kollektiewe mag.

Onbeholpe en magteloos

Kyk net hoe magteloos en onbeholpe is koning Saul of enige ander Israelitiese soldaat in die aangesig van die Filistyn se mag. Saul en die hele Israel word paniekbevange en bang toe hulle die Filistyn se uitdaging hoor (11). Let ook op hoe kwaad Eliab, Dawid se oudste broer is toe hy agterkom die skaapwagter Dawid slaan Israel se beangste en onbeholpe non-respons op die Filistyne gade.

Wanneer Dawid aanbied om die Filistyn aan te pak, dring Saul daarop aan dat Dawid sy wapenrusting aantrek. Die wapentuig was nutteloos vir Saul (hy het geweet dit bied geen beskerming teen Goliat nie), maar hy dring aan Dawid moet die aantrek. Niks wat Israel gehad het, kon die konvensionele mag van die Filistyne ewenaar nie.

Onkonvensionele mag

Die boodskap van ons teks – dit werk anders onder God se mense – word deurgaans aangrypend beklemtoon deur Dawid se onkonvensionele mag uit te lig:

  • Net in die vorige hoofstuk moet Samuel druk op Isai uitoefen om sy agtste seun te laat kom van agter die skape af. Isai het nie vir ‘n oomblik gedink die jongste wat skape opgepas het, was enigsins gepas om Israel se koning te word nie (16:11). As Israel met konvensionele mag gewerk het, sou Isai ‘n punt beet gehad het.
  • Ook in ons teks word Dawid se status as die jongste boetie wat net met skape vertrou kan word deurgaans uitgelig. Drie van Dawid se broers was die regte soldate en Dawid moes die skape ‘n rukkie los om vir hulle kos te vat. Eliab, oudste broer is vies om Dawid by die gevegslinie te sien en wil weet by wie hy die paar kleinvee gelos het. Die boodskap is duidelik: Dawid is net goed genoeg vir skaap oppas.
  • Aan die anderkant verduidelik Dawid vir Saul hy is geskik om Goliat aan te pak aangesien hy ‘n vaardige skaapwagter is. Hy het al die skape suksesvol teen ‘n leeu en ‘n beer verdedig.
  • Dawid gaan Goliat tegemoet met die instrumente van ‘n skaapwagter: ‘n slingervel en ‘n paar klippies.
  • Nadat Dawid Goliat neervel, word ons herinner: “daar was nie ‘n swaard in Dawid se hand nie” (50). Hy het die oorhand oor die Filistyn gekry met ‘n slingervel en klippies.

‘n Skaapwagter kry reg wat die een wat kop en skouers bo mede-Israeliete uitgetroon het – koning Saul – en nie een van die ander soldate kon regkry nie.

God se mag

Dawid druk die verskil tussen konvensionele mag en God se mag as volg uit (45-47):
Maar Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n vegspies en met ‘n kromswaard, maar ek kom na jou in die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, van wie jy ‘n bespotting maak. Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, en ek sal jou verslaan …, sodat die hele aarde sal weet dat Israel ‘n God het.  Dan sal hierdie hele strydmag moet erken dat dit nie deur swaard en vegspies is wat die Here verlos nie. Ja, die oorlog behoort aan die Here, en Hy sal julle in ons hand gee.”

Die Filistyn verwerp Dawid en neem hom duidelik nie ernstig nie. Om die waarheid te sê, bring die Filistyn militêre en politieke mag met goddelike mag in verband. Vir hom is militêre mag goddelike mag. Daarom vervloek hy Dawid “by sy gode” (43).

Waar lê ware mag?

Hierdie gebeure sê dit is nie die loop van ‘n geweer wat God se mense beskerm nie. Hoe goed mense mag kan organiseer, met hoeveel geweld hulle probeer regeer, hoe groot en baie hulle kanonne en missiele ook al is, dit gee nie die ware oorwinning nie.

Die Here gee die oorwinning. Daarom is wat in menslike oë swak is, in God se oë sterk. In God se koninkryk is die swakke sterk, en die sterke swak. Vra die Filistyn.

In die Nuwe Testament kry ons hierdie tema oor en oor terug.

Jesus oorwin die mag van die Bose en die dood nakend aan die kruis vasgespyker. Sy gebroke liggaam word opgewek in nuwe lewe anderkant die dood.

Grootheid, sê Jesus, lê nie in mag nie maar in nederige diens.

In Openbaring loop die angswekkende mag van die draak en sy gesante op niks uit nie. Dit is die Lam wat geslag is, wat die Leeu van Juda blyk te wees.

Ons moenie probeer regeer en mag uitoefen soos die nasies nie. Ons mag lê in God en in gehoorsaamheid aan God se wil. Self al lyk dit na neerlaag.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer
Oorweeg om vir mense gladde wit klippies te gee om huis toe te neem.. Jy kan ook kokipenne gee, en kans gee dat mense op die klippie neerskryf wat hulle wil onthou van vandag se boodskap.

Slotsang
Lied 486 “‘n Vaste Burg is onse God”
Flam 248 Laat Jou Lig Skyn
VONKK 162 Dawid Met Sy  Slinger

Seën
Wanneer jy ook jou reuse tegemoetgaan, doen jy dit nie alleen nie, maar met die krag van God, ons Skepper, die genade van ons Here Jesus Christus en die teenwoordigheid van die Heilige Gees.

Respons
Lied 533 of 534 se tweede vers: Gee ons krag, Heer

 

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.