Vierde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die onbeskryflike genade wat deur ontbering en verdrukking na ons gekom het, kan ons tog nie onaangeraak laat nie (2 Kor 6). Kan ’n mens ooit dink hy verstaan God of die omvang van sy bemoeienis met mense? (Job 38 en Ps 107). Die Een wat die mosterdsaad laat groei, is ook die Een wat die storms stilmaak. Bedaar! Hy is in beheer! (Mark 4)

Ander tekste

Job 38:1-11 – God gee om vir Job en stel sy lyding in perspektief
Die Here: Ek sal vra, antwoord jy My
38 Toe het die Here vir Job aangespreek uit ’n stormwind uit:
2“Wie is dit wat besig is
om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig
dat hy geen insig het nie?
3Maak jou reg vir die stryd:
Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek
die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het.
5Wie het die aarde afgemeet?
Weet jy dit?
Wie het ’n maatlyn
oor hom gespan?
6Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit
7daardie oggend toe die sterre
saamgesing het
en al die hemelinge gejubel het?
8Wie het die see opgedam
toe hy begin uitborrel het?
9Ek het hom met wolke bedek,
hom met donkerte toegemaak.
10Ek het vir hom perke gestel,
hom agter slot en grendel gesit.
11Ek het gesê:
‘Tot hiertoe mag jy kom,
nie verder nie;
hier is die grens
van jou magtige golwe.’

Psalm 107:1-3, 23-32 – Loof die Here want sy liefde het geen einde nie
Let op die Here se dade van trou
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
23Party het met skepe die see bevaar
en hulle bestaan
op die groot waters gemaak.
24Hulle het die werk van die Here
ervaar,
sy wonderdade op die diep waters.
25Op sy bevel het ’n stormwind
opgesteek
en die golwe opgejaag.
26Die skepe het hemelhoog gestyg
en na die dieptes afgeduik.
Die bemanning was radeloos van angs
27en het soos dronk mense
gesteier en gewaggel;
al hulle seemanskuns
het niks gehelp nie.
28Maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle veilig
uit hulle ellende gelei.
29Hy het die stormwind stilgemaak,
en die golwe van die see het bedaar.
30Die seevaarders het hulle verheug
oor die kalmte.
God het hulle veilig gelei
na die hawe waar hulle wou kom.
31Hulle moet die Here loof
vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade
wat Hy aan mense doen.
32Hulle moet van sy grootheid getuig
in die volksvergadering,
Hom prys
in die byeenkoms van die leiers.

Markus 4:35-41 – Niks kan die dissipels skade aandoen terwyl Jesus by hulle is nie.
35Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

36Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. 37Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. 38Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

39Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!”
Die wind het gaan lê en daar het ’n groot stilte gekom. 40Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” 41Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam”?

Fokusteks

2 Korintiërs 6:1-13
Die bediening van die versoening
11Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is. 12Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie. Ons gee julle juis eerder aanleiding om trots te wees op ons, sodat julle ’n antwoord kan hê vir dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie. 13As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God; en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle. 14Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. 15En Hy het vir almal gesterwe sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

6 As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. 2Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek jou gebede verhoor,
en op die dag van redding
het Ek jou gehelp.”
Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.

3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.
8Ons ontvang eer en oneer,
ons word beledig en geprys.
Ons word behandel as verleiers,
en tog is ons betroubaar;
9as onbekendes,
en tog is ons goed bekend;
as sterwendes
en, soos julle sien, ons lewe;
as gestraf,
maar ons is nie doodgemaak nie;
10as bedroefdes,
en tog is ons altyd opgeruimd;
as armes,
maar ons maak baie ander ryk;
as mense wat niks het nie,
en tog besit ons alles.

11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!

Ekstra stof

Korintiërs 5:11-6:13 – Ambassadeurs van die versoening
Paulus sit sy beskrywing van die evangelie en die impak daarvan in ons lewe voort deur te fokus op Christene as nuwe mense of skeppings van God (5:11-6:13) wat die bediening van die versoening ontvang het en nou God se gesante of ambassadeurs is.

Hy doen dit teen die agtergrond van sy teenstanders wat beswaar maak teen sy bediening. Sommige skryf hom af as te emosioneel (in geestesvervoering) en ander dat hy te intellektueel (by ons verstand) is. Praat nou van ‘n “catch 22” situasie! Hy antwoord daarop deur te wys dat innerlike bedoelings belangriker is as uiterlike prestasies, hoewel daar darem ook baie van sy prestasies is waarop hulle trots sou kon wees. Dit is die liefde van Christus wat hom dring – en nie die oorweging van geldmaak wat by sy teenstanders die hoofmotivering was nie (2:17).

Daardie liefde van Christus is so ‘n groot werklikheid vir hom dat niks belangriker is as Hy nie, en omdat die evangelie vir alle mense bedoel is, kan Paulus nie anders as om net daarvoor te lewe nie. Let op die ooreenkomste met die beskrywing van sy roeping in 1 Kor 9:19-23 – “vir almal het ek alles geword om in elk geval sommiges te red”. Redding is natuurlik nie vanselfsprekend nie, omdat mense in geloof op die aanbod van versoening moet reageer. Maar Paulus doen alles wat hy moontlik kan om God se aanbod van versoening by mense uit te bring.

Paulus skets versoening dus hier as die hart van die bediening – versoening met God in die sin van ‘n vryspraak van sonde en ‘n nuwe verhouding met Hom, en versoening met ander deur hulle harte onderling wyd oop te maak vir mekaar. Maar let op, 1) dit is God se program van versoening waarby Paulus-hulle inskakel – en dit is ook hoe ons die taak van versoening moet behartig, as medewerkers van God, as sy ambassadeurs; 2) dit is bedoel vir die hele wêreld, en moet deur ons na almal geneem word.

Daarmee deel Christene reeds in die nuwe skepping wat God gaan bring, en is eintlik ook reeds nuwe skepsels of skeppinge van God (5:17) deur hulle verhouding met Christus. Daarom kyk ons ook nou na mekaar uit die hoek van ons Christenskap en die waarde van ons lewe vir die koninkryk en nie meer uit die hoek van ons menslike eienskappe en prestasies en die waarde vir hierdie lewe nie.

Paulus spel dan die praktiese implikasies hiervan uit. Hierdie genade van God, die aanbod van die versoening, is so ‘n groot gawe dat dit omhels moet word, anders kan dit heeltemal verniet wees. Dit tref dat hierdie genade van God vir Paulus so belangrik is, dat hy, soos iemand een keer gesê het, eintlik in die “opposite spirit” lewe, dws: al word hy bedroef, hy is altyd opgeruimd; al is hy arm, is hy bly dat hy ander mense ryk maak (vers 10). Dit is die paradoks van die Christelike bediening – die dood van die bedienaar is die lewe van die wat bedien word. Hy stel dit dus as sy eer om ten spyte van belediging en minagting betroubaar te wees (vers 8), want God se genade en Christus se liefde het hom van binne verander.

Soos Chrisostomus, die groot prediker van Antiochië, later hieroor sou skryf: “Just as what brings heat makes things expand, so it is the gift of love to stretch hearts wide open; it is a warm and glowing virtue.” Dit was Jesus se dryfveer … dit was Paulus se dryfveer … en dit is die enigste dryfveer wat ook ons lewens moet rig – die liefde vir God en vir ons naaste.

 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Aanvangswoord
“Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”

Seëngroet
Aan die gemeente van God in ………………………………………….. en aan almal wat aan die Here behoort:
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
2 Korintiërs 1:1-2

Lied 107:1,2,12 (Tweede melodie)

Verootmoediging
Die almag van God kom na vore in die ander tekste vir hierdie Sondag.
In die persoon van Jesus wat ‘n storm stilmaak sodat gevra word: Wie is Hy tog?” en in God se antwoord aan Job wat dien as antwoord op Job se “Waarom Here”- vraag.

Skriflesing:
Markus 4:35-41 – Niks kan die dissipels skade aandoen terwyl Jesus by hulle is nie.
35Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

36Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. 37Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. 38Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

39Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!”

Die wind het gaan lê en daar het ’n groot stilte gekom. 40Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” 41Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam”?

Lied 265:1,2

Job 38:1-11 – God gee om vir Job en stel sy lyding in perspektief
Die Here: Ek sal vra, antwoord jy My
38 Toe het die Here vir Job aangespreek uit ’n stormwind uit:
2“Wie is dit wat besig is
om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig
dat hy geen insig het nie?
3Maak jou reg vir die stryd:
Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek
die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het.
5Wie het die aarde afgemeet?
Weet jy dit?
Wie het ’n maatlyn
oor hom gespan?
6Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit
7daardie oggend toe die sterre
saamgesing het
en al die hemelinge gejubel het?
8Wie het die see opgedam
toe hy begin uitborrel het?
9Ek het hom met wolke bedek,
hom met donkerte toegemaak.
10Ek het vir hom perke gestel,
hom agter slot en grendel gesit.
11Ek het gesê:
‘Tot hiertoe mag jy kom,
nie verder nie;
hier is die grens
van jou magtige golwe.’

Geloofsbelydenis Sing Lied 499:1,2,3 as geloofsbelydenis

Liedere

F5. “Daar Is Geen Grens”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: The Steadfast Love
Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling 2005 Faani Engelbrecht
© 1974, 1975 Celebration
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagliedere 3:22,23)

1. Daar is geen grens aan U guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is U trou, o Heer, my God;
groot is U trou, o Heer.

F33. “In My Hart”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Francois Lamprecht
© MAR Gospel Music Publishers

God van vreugde, God van vrede,
God van lewe, bowenal, God oor my.
God van gister, God van vandag,
God van ewigheid, bowenal, God oor my –
God oor my!
En die hemel straal van U magtigheid.
En my lewe spreek van U waarheid.

Refrein:

Halleluja in die hemel. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja op die aarde. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja! Halleluja!

2. God van almag, God van krag,
God oor die nasies, bowenal, God oor my.
God van verlossing, God van genade,
God van vergifnis, bowenal, God oor my –
God oor my.

Slotrefrein:
Prys die Here in die hemel. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.
Prys die Here op die aarde. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.

F165. “In die hart van God die Vader” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1996 Spirit and Truth Music
(1 Pet 2:9)

In die hart van God die Vader
is daar ‘n sagte plek
vir die wêreld en sy mense,
uit elke huis en kerk.

En nadat Hy sy Seun gegee het om te sterwe aan die kruis
soek Hy mense wat sy liefde aan die wêreld sal gaan wys.
Daarom het Hy jou uitgesoek en jou hiernatoe gelei
sodat sy genade kan uitvloei deur die lewe wat jy lei
En die harte van die mense wat oral om jou bly
kan oorloop
van sy guns en heerlikheid

Dankie dat U my uitgesoek het;
dat U my ook wil gebruik
sodat U genade kan uitvloei
deur die Woord wat ek bely.
Laat die lewens van die mense
wat oral om ons bly
dan oorloop
van u guns en heerlikheid.

God praat met ons en ons luister

Epiklese Outeur: Henri Nouwen
‘n Gebed tot die God van eb en vloed
Liewe Here, vandag dink ek aan die woorde van Vincent van Gogh: “Dit ís so dat daar eb en vloed is, maar die see bly die see.” U is die see. Alhoewel ek baie ops en afs in my emosies beleef en dikwels groot veranderinge in my innerlike beleef, bly U dieselfde. U bly dieselfde nie soos ‘n rots nie, maar soos ‘n getroue minnaar. Uit u liefde het ek tot die lewe gekom en deur u liefde word ek gedra en na u liefde word ek altyd teruggeroep. Daar is dae van trane en dae van vreugde; daar is skuldgevoelens en dankbaarheid, daar is oomblikke van mislukking en oomblikke van sukses, maar dit alles word omvou deur u standvastige liefde.

Die enigste groot versoeking waarvoor ek kan swig is om te twyfel in u liefde, om te dink ek is so ver van U af, dat U my nie kan bykom nie, sodat ek myself uithaal uit die genesende gloed van u liefde. Om dit te doen, is om in die duisternis van wanhoop in te beweeg …

O Here, see van liefde en goedheid, help my om die storms en winde van my daaglikse lewe nie te veel te vrees nie. Laat my besef dat daar wel eb en vloed is, maar die see bly die see. Amen.
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk. Datum onbekend, p40)

Skriflesing: 2 Korintiërs 6:1-13

Prediking

Familie-oomblik

Fokus op die verhaal van die bediening van Paulus en brei uit op sy toewyding en die vrug daarvan. [Hier is ‘n pragtige prent van Paulus en sy lewe; Die prentjie van Paulus en Silas wat hier gebruik kan word]

Hier is ‘n oorsig:
Paulus is gebore in Tarsus in Silisië (Hand 22:3, 28; Fil 3:5) tussen ongeveer 1 tot 5 n.C. (Robinson). Volgens Hieronymus was sy familie van Galiléa, maar het in 4 v.C. na Tarsus verhuis. Hy was dus ‘n Jood, met die Hebreeuse naam Saulus (dit beteken begeer), uit die stam van Benjamin, maar het ook Romeinse burgerskap gehad, met die Latyns-Romeinse naam Paulus (dit beteken klein), vermoedelik weens sy verblyf in Tarsus. Dit is moontlik dat sy pa ‘n slaaf van ‘n Romeinse burger was, dat dié hom vrygelaat het, en hy op dié manier self burgerskap verkry het. Daar is egter nie meer inligting daaroor beskikbaar nie.

Terloops – Lukas begin in Handelinge die naam Paulus gebruik (Hand 13:9) wanneer dié op sy eerste sendingreis vertrek en die Grieks-Romeinse wêreld betree, ironies genoeg, terwyl Lukas die verhaal van Sergius Paulus vertel, die goewerneur wat in Siprus gelowig word.

Terug na sy kinderlewe: Sy familie het kort na sy geboorte na Jerusalem verhuis, waar hy grootgeword en opgevoed is aan die voete van die Fariseër Gamaliël (Hand 22:3). Hy was goed bekend met die situasie in Jerusalem, en die Jode het sy storie goed geken (Hand 26:4 vv). Sy pa was immers ook ‘n Fariseër (Hand 23:6). Trouens, hy was ‘n vertroueling van die priesterhoofde.

Hoewel Paulus ‘n bietjie jonger as Jesus was, moes hy dus waarskynlik baie bewus gewees het van die gebeure rondom Jesus in dié se verhoor in Jerusalem, soos sy betrokkenheid by die steniging van Stefanus ‘n paar maande later getuig.

As vurige Jood was hy egter aanvanklik ‘n vervolger van die Christene (Hand 7:58; 8:1–3; 9:1; Gal 1:14). Sy leermeester se gematigde optrede (Hand 5:34) het nie sy gedrag bepaal nie.

Op pad na Damaskus het egter die groot ommekeer gekom (Hand 9) in die vroeë 30er jare n.C. Hy begin om Christus te verkondig (Hand 9:20–25), word na Tarsus gestuur toe daar ‘n opstand teen hom kom (Hand 9:30), en vertoef ’n tyd in Arabië (Gal 1:17). Drie jaar later besoek hy vlugtig Jerusalem (Gal 1:18) en gaan van daar weer terug na Sirië en Silisië (Hand 9:30; Gal 1:21).

‘n Geruime tyd later, ongeveer 10 jaar, gaan Barnabas hom in Tarsus soek en bring hom na Antiogië in Sirië (Hand 11:25–26), waar hulle ’n tyd lank saam arbei. Dit is moontlik dat Paulus in sy tyd in Tarsus gemeentes in Sirië en Silisië gestig het, hoewel dit nie met sekerheid gesê kan word nie (Hand 15:41).

Hierna volg Paulus se beroemde wêreldsendingreise, waarvoor hy nie net direk na sy bekering in die tempel in Jerusalem geroep is nie (Hand 22:17–21), maar in Antiogië deur die gemeente en die Here self afgesonder word (Hand 13:1–3). Sy reise begin ongeveer 48 n.C.
1. Saam onderneem hy en Barnabas die eerste sendingreis na Siprus en Klein-Asië (Hand 13:4–14:28), en saam word hulle na Jerusalem gestuur om die eerste groot kerkvergadering namens Antiogië daar by te woon (Hand 15).
2. Nou volg die tweede sendingreis, met Silas en later Timoteus en Lukas as medewerkers, na Klein-Asië, Masedonië en Griekeland (Hand 15:36–18:22) en ‘n jaar en ‘n half verblyf in Korinte, waar hy die 2 briewe aan Tessalonika skrywe.
3. Die derde reis gaan deur dieselfde streke (Hand 18:23–21:16), met onder andere meer as twee jaar in Efese, waar hy die briewe aan Korinte skrywe.

Dan gaan hy terug na Jerusalem, waar hy voor die Sanhedrin verskyn, na Sesarea gestuur word, en twee jaar lank gevange bly (Hand 21:17–26:32).

Van daar word hy na Rome gestuur, waar hy ook twee jaar lank gevange gehou word (Hand 27 en 28).

Daar is ‘n moontlikheid dat Paulus toe vrygelaat is en van die reeds genoemde gebiede weer besoek (1 Tim 1:3 [geskryf uit Masedonië]; Tit 1:5 [die brief veronderstel ’n besoek aan Kreta]), en selfs ook Spanje (Rom 15:24), hoewel laasgenoemde nie histories bevestig kan word nie (Gonzales).

Maar hy word, moontlik in ‘n tweede gevangenskapsverblyf in Rome, tereggestel (2 Tim 4:6–8) in die middel 60er jare n.C.

Preekriglyn

Voor sy vyftigste verjaardag het J Oswald Sanders so erg aan artritis gely dat hy skaars uit die bed kon kom. Hy moes eintlik op vroeë pensioen gaan. Hy het nie. Inteendeel, ten spyte van sy lyding het die mees produktiewe jare van sy lewe eers toe begin.

Op vyftig het Sanders ‘n suksesvolle loopbaan as prokureur in Nieu Zeeland laat vaar om die China Inland Mission (deesdae die Overseas Missionary Fellowship) te lei. Na verskeie geseënde jare aan die spits van dié organisasie het hy afgetree. Net om toe die uitvoerende direkteur van ‘n Christelike kollege te word. Toe het hy weer afgetree.

Sanders het twee keer ‘n vrou aan die dood afgestaan. Dalk was dit nou, met sy tweede aftrede, tyd om tot rus te kom. Eerder as om dit stadiger te vat, het hy nou eers spoed opgetel. Sy laaste twintig lewensjare het hy as spreker opgetree, reg rondom die wêreld, gemiddeld meer as 300 lesings per jaar. Respek en waardering vir hom het gegroei, hoewel hy nooit die kalklig gesoek of sy loopbaan wou beskerm nie. Oswald Sanders was ten tye van sy dood byna negentig en besig om aan ‘n boek te werk.

Passie vir die evangelie

Ons ontvang die genade van God met ‘n belangrike doel: om dit passievol met ander te deel. God se genade bring ons in ‘n lewende verhouding met Vader, Seun en Heilige Gees. Hierdie verhouding verander ons lewe. Ons word deur Jesus Christus kinders van die lewende God, en vanuit hierdie nuwe familie word ons identiteit gestempel.

Daarom lewe ons nie meer vir onsself nie, maar vir God.

Deel van ons identiteit in Christus is dat ons ‘n nuwe roeping ontvang. Ons roeping is om God se genade te deel met die mense rondom ons. Ons is geroep om dit met passie te doen.

Paulus se lewe

Paulus was ‘n passievolle mens. Hy het met passie die kerk vervolg. Jesus stuit hom in sy spore op pad Damaskus toe. Só word die koers van sy lewe verander. Nou leef hy vir God, met die roeping om God se genade met die mense rondom hom te deel.

Soos Oswald Sanders het Paulus verstaan dat ons in ‘n groot wêreld lewe. Die mense rondom ons is nie net die bure of die mense wat in die kantoor langsaan werk nie. Die bure is ook ons woonbuurt, ons stad of dorp, ons provinsie, ons land, ons kontinent, ons hele wêreld.

Ons is geroep om op só ‘n manier passievol te lewe dat die evangelie ons hele wêreld bereik.

Paulus het hierdie roeping ernstig geneem.

Onder druk

Wanneer ons Paulus in die 2 Korintiërsbrief ontmoet, is hy onder druk.

Greg Nanee (soos aangehaal in Bybel-Media se preekriglyn vir hierdie teks, 2011-12) verduidelik hierdie brief se konteks as volg:

Verbeel jou jy waag jou lewe om die genade van God bekend te maak in ’n wilde en wettelose stad genaamd Korinte. Jy is die eerste persoon wat die goeie nuus aangaande Jesus hier verkondig en jy werk vir jare daar. Dag en nag gee jy jou alles om mense te oortuig en te bekeer. Ure en ure spandeer jy om die nuwe Christene se gewoontes te verander. Dit is ’n moeisame proses om koninkrykgewoontes in die plek te stel van ou gewoontes. Ten spyte van al die moeite raak jy bitter lief en geheg aan hierdie mense. Daar heers ’n baie spesiale band. God het hulle op jou hart geplaas. Jy gaan vir ’n ruk weg van hulle af en jy plaas betroubare leiers in beheer.

Na ’n tyd kry jy terugvoer van ’n paar terugslae en skryf jy ’n brief vir hulle oor vrae wat hulle het. Terwyl jy weg was, het daar ’n paar flinke valse predikers in Korinte begin optree en jou werk ondermyn. Hulle het jou as ’n swakkeling afgemaak en jou van onegtheid beskuldig. Hulle reken ook dat jy nie ’n ware apostel is nie omdat jy nie een van die twaalf was nie. Hulle verwys ook na jou lewe voor jy bekeer is.

Die gemeente van Korinte begin nou hierdie ouens glo en draai nie net teen jou nie, maar ook die evangelie wat jy daar oorgedra het. Ná dit kom besoek jy weer die gemeente, maar dit het nie goed afgeloop nie. Na jou terugkeer skryf jy ’n ernstige brief aan hulle. Daaroor voel jy later spyt, maar hoor dat dit tog sekere mense geraak het. Hoop keer terug in jou hart.

Intussen stuur jy vir Titus om te gaan kyk wat aangaan terwyl jy ’n ander gemeente bedien. Jy kan die gewag nie meer verduur nie en wys ’n gulde geleentheid van die hand om Troas te bedien deur na Masedonië en Korinte te reis. Jy wil dinge regstel. Op pad daarheen ontmoet jy vir Titus en hy gee jou goeie nuus. Daar was baie goeie herstel. Hoop vlam op. Dis tyd vir ’n tweede brief voor jou derde besoek. So, nou skryf jy jou tweede brief aan die gemeente van Korinte.

Waaroor dit gaan

Waaroor gaan die lewe wat ons verhouding met God deur Jesus Christus van ons vra? Wat dryf ons? Wat skep die passie in ons om vir God te leef en werk? Wat vuur ons aan?

Die risiko is dat mens die genade van God tevergeefs mag ontvang (1). Tevergeefs verwys hier na die gevaar dat die genade nie ‘n aktiewe, lewensveranderende krag in jou lewe word nie. Die genade wil jou aanvuur. Wat veroorsaak dat dit gebeur?

Paulus skryf in ons teks oor drie motiewe:

Een: Nóú is die tyd!
‘n Aanhaling uit Jesaja oor die kairos-moment, die regte tyd, moedig ons aan om dag vir dag die evangelie passievol te beliggaam:
Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor,
Op die dag van redding het Ek jou gehelp.
Paulus maak die “regte tyd” meer intens: dit is “nou” die regte tyd.

Mens leef elke dag soos iemand wat voor ‘n vurk in die pad te staan kom. Dan moet jy kies om die regte dinge te doen. Jou lewensreis plaas jou voor keuses. Jy moet die regte koers kies. En jy moet dit nóú doen, jy moet dit dáágliks doen.

Geleenthede raak verspeel as mens nie dag vir dag die regte pad kies nie.
Hierdie keuses verg van jou om met onderskeiding te lewe. Jy moet die regte voorbereidings tref sodat jy voorbereid is om geleenthede te benut.

Paulus dring by ons aan om in die lig van die evangelie oor ons lewe na te dink. Ons moet vra hoe God by ons persoonlik aanwesig is, en wat God deur ons doen. God gee vir elkeen van ons ‘n roeping, en ook vir ons as gemeente gesamentlik ‘n roeping. Ons moet leer om vanuit hierdie roeping te leef, en ons keuses daaraan te oriënteer. Die liefde van Christus dring ons (5:14) en ons moet daagliks die regte ding doen om hierdie roeping te beliggaam.

Twee: Voorbeeld van ander gelowiges
Paulus en die Korintiërs ken mekaar goed. Hulle verhouding het byna skipbreuk gely, maar daar lê ‘n nuwe fase van herstel vir hierdie verhouding voor. Nou gebruik hy die voorbeeld van sy eie lewe om hulle aan te spoor om die Here te dien. Hy is iemand wat kies om te doen wat God vra. Hy leef met onderskeiding, reageer op sy roeping, en voer dit met passie uit.

In ‘n lang gedeelte (verse 3 tot 10) verduidelik Paulus hoe sy lewe in diens van die evangelie verloop het, hoe dit hom gevorm het, en watter waardes dit by hom gevorm het.

Sy beliggaming van sy roeping beteken dat:

  • Sy identiteit as dienaar van God die allesoorheersende motief in sy lewe geword het (4)
  • Hy geleer het om geduldig (4), onberispelik, met begrip verdraagsaamheid en vriendelikheid op te tree (6)
  • Hy ontdek het sy roeping kan net in die liefde van God, in gemeenskap met die Heilige Gees, deur woorde van waarheid, en deur die krag van God gedoen word (6-7)
  • Die wapen vir aanval en verdediging nie die selfregverdiging van die ou mens is nie, maar die doen van die wil van God (7)

Op ‘n aangrypende manier word die misverstande en wanvoorstellings waaraan die Here se gestuurdes blootgestel word in verse 8-10 uitgespel. Ook hier het Paulus geleer om geduldig te wees. Die swaarkry en misverstand word ‘n geleentheid om – as mens verstandige keuses maak – net groter en meer integriteit in jouself te laat groei.

Paulus is ‘n goeie voorbeeld van hoe die roeping van God ‘n mens se lewe oorneem. Baie mense vrees dat dit met hulle sal gebeur. Hulle is bang dat God hulle iewers in ‘n hoek sal vasdruk as hulle vir God “ja” sê. Hulle is bang dat dit oneindige ellende sal lei. Daarom kies hulle liewer teen God se roeping en vir ‘n gemaklike lewe.

Daar is sommige mense wat so lewensontwortelende roeping van God ontvang. Ander mense word deur God vernuwe om totaal nuut in hulle omgewing te lewe. Hoe ook al, ware lewensgeluk en vervulling lê in die doen van God se roeping. Buite God se wil vir jou lewe kan mens nooit ware vervulling smaak nie.

Mens se roeping gaan ook deur fases. Oswald Sanders het ‘n suksesvolle regspraktyk gehad. Dit het die platform geword vir die twee fase van sy roeping: sending na China. Wat hom weer gevorm het vir die derde fase: opleiding en toerusting. Wat tot die laaste groot fase in sy lewe gelei het: internasionale spreker en mentor.

Ons het die voorbeeld van ander nodig wat ons help verstaan hoe om ons eie roeping te beliggaam.

Drie: Oop harte
Paulus sluit sy gesprek in ons teksgedeelte af deur die Korintiërs tot “oop harte” aan te spoor. Sy hart was en is te alle tye oop vir die Korintiërs. Ja, oop vir alle mense wat die Here nie ken nie, en/of ‘n behoefte het aan die genade van die Here.

“Oop harte” veronderstel die vermoë om te reageer op ander mense – op wie hulle is en wat hulle benodig. “Oop harte” neem ander ernstig, en doen moeite om ‘n medemens vir ander te wees.

‘n Navolger van Jesus moet leer om ‘n oop hart te hê. Dit verg ‘n oog wat oplettend kyk na ander en hulle omstandighede. Sagte oë wat met God se hart oplettend kyk. Dit verg oop ore wat fyn luister na wat ander sê. Dit verg empatie wat jouself onder die vel van ander – in hulle lewens­omstandighede – kan indink. Dit verg voete wat loop na ander en deel word van hulle omstandighede. Dit verg dienende hande wat graag ander ophelp.

Mag ons sensitief wees vir God se roeping. En mag ons dit met passie doen. Nou is die tyd!

God stuur ons om te leef

Dankoffers
Gebed

Wegsending: Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.