Vierde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die drie dele van die Heidelbergse Kategismus (nl sonde, verlossing en dankbaarheid) kry praktiese gestalte in die Skrifgedeeltes.

Sonde: Agab is ’n gierige en bose koning en Isebel is verraderlik, slinks en gewetenloos (1 Kon 21). Die vrou huil oor haar sonde, maar die Fariseër is blind vir sy eie sondigheid (Luk 7). Die psalmdigter ontmasker sondaars hooghartiges, leuenaars, moordenaars en bedrieërs (Ps 5). In Galasiërs 2 is dit duidelik dat ons almal sondig is.

Verlossing: Die vrou se sondes word vergewe (Luk 7). Vryspraak is nie op grond van die onderhouding van die wet nie, maar deur die geloof (Gal 2).

Dankbaarheid: Dankbare vroue (Luk 8). ’n Dankbare psalmdigter (Ps 5:8).

Ander tekste

Psalm 5:1-8
Help my om u wil te doen
5 Vir die koorleier: met fluitspel.
’n Psalm van Dawid.
2Luister tog na my woorde, Here,
hoor hoe ek sug.
3Gee tog aandag aan my hulpgeroep,
my Koning en my God,
want tot U bid ek.
4U luister na my stem in die môre, Here,
in die môre terwyl ek voor U verskyn
en op U wag.
5U is nie ’n God wat onreg verdra nie,
die kwaad het by U geen plek nie.
6Hooghartiges durf nie
voor U kom nie.
U haat almal wat onreg doen,
7U roei alle leuenaars uit.
Die Here verafsku moordenaars
en bedrieërs.
8Maar ek, ek mag deur u groot liefde
in u huis ingaan
en in u heilige tempel buig
met die eerbied wat aan U
verskuldig is.

Galasiërs 2:15-21
Geregtigheid uit die geloof
15Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

17As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot ’n oortreder. 19Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21Ek verwerp nie die genade van God nie. As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

Lukas 7: 36-8:3
Jesus by Simon, die Fariseër
36Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem.

37’n Sekere vrou in die dorp, wat ’n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe ’n albaste flessie met reukolie 38en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.

39Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy ’n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondares is.”

40Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.”
“Meneer, sê dit maar!” antwoord hy.

41Jesus sê toe. “Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. 42Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”

43Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskel het.”

“Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, 44en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 45’n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. 47Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

48En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.”

49Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”

50Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

Vroue wat vir Jesus gesorg het
8 In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig.

Die twaalf was saam met Hom 2en daarby ’n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe bose geeste uitgegaan het, 3en Johanna die vrou van Gusa, ’n hoë amptenaar van Herodes, en Susanna en baie ander. Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg.

Fokusteks

1 Konings 21:1-10, (11-14), 15-21a
Nabot en sy wingerd
21 Hierna het die volgende gebeur: Nabot die Jisreëliet het in Jisreël ’n wingerd gehad langs die paleis van koning Agab van Samaria.

2Agab het met Nabot gaan praat en vir hom gesê: “Gee jou wingerd vir my vir ’n kruietuin, want dit lê net langs my huis; dan gee ek jou ’n beter wingerd in die plek daarvan. Of as jy wil, sal ek jou daarvoor betaal.”

3Maar Nabot het vir Agab geantwoord: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!”

4Hierop het Agab bedruk en kwaad huis toe gegaan omdat Nabot die Jisreëliet vir hom gesê het: “Ek sal nooit die erfgrond van my familie aan u afstaan nie.” Hy het op sy bed gaan lê met sy gesig na die muur toe en hy wou niks eet nie.

5Toe kom sy vrou Isebel na hom toe en vra vir hom: “Wat is jy so bedruk dat jy niks wil eet nie?”

6Hy vertel haar toe: “Ek het met Nabot die Jisreëliet gepraat en vir hom gesê: ‘Verkoop jou wingerd aan my, of as jy wil, sal ek jou ’n ander wingerd in die plek daarvan gee.’ Maar hy het gesê: Ek sal nooit my wingerd aan jou afstaan nie.”

7Toe sê sy vrou Isebel vir hom: “Jy is mos die een wat oor Israel regeer! Gaan eet nou en moet jou nie bekommer nie. Ék sal die wingerd van Nabot die Jisreëliet vir jou gee.”

8Sy skryf toe briewe in die naam van Agab en sit sy seëlafdruk daarop, en sy stuur die briewe aan die leiers en die ampsdraers van Nabot se stad.

9Sy het geskryf:
“Kondig ’n vasdag aan en laat Nabot heel voor in die vergadering sit. 10Laat twee gewetelose manne teenoor hom sit en laat hulle teen hom getuig: ‘Jy het ’n vloek uitgespreek teen God en teen die koning.’ Vat hom dan uit en gooi hom met klippe dood.”

11Die leiers en die ampsdraers in Nabot se stad het toe gedoen soos Isebel hulle beveel het in die briewe wat sy aan hulle gestuur het. 12Hulle het ’n vasdag aangekondig en vir Nabot heel voor in die vergadering laat sit. 13Toe kom sit daar twee gewetelose manne teenoor hom en hulle getuig teen Nabot in die vergadering en sê: “Nabot het ’n vloek uitgespreek teen God en teen die koning.”
Daarop vat hulle vir Nabot uit die stad uit en gooi hom met klippe dood.

14Hierna het hulle vir Isebel laat weet: “Nabot is met klippe doodgegooi.”

15Toe Isebel hoor Nabot is doodgegooi, sê sy vir Agab: “Gaan vat nou die wingerd van Nabot die Jisreëliet, wat hy nie aan jou wou verkoop nie. Nabot leef nie meer nie, hy is dood.”

16Toe Agab hoor Nabot is dood, het hy klaargemaak om Nabot die Jisreëliet se wingerd vir hom te vat.

Elia kondig vir Agab aan dat hy sal sterf
17Die woord van die Here het toe tot Elia die Tisbiet gekom en vir hom gesê: 18“Maak klaar en gaan ontmoet vir Agab wat in Samaria as koning oor Israel regeer. Hy is nou by die wingerd van Nabot, wat hy gaan vat het. 19Jy moet vir Agab sê: ‘So sê die Here: Jy het gemoor en nou vat jy ook nog?’ Sê verder vir hom: So sê die Here: Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek. Ja, joune!”

20Toe Agab dit hoor, vra hy vir Elia: “Het jy my gekry, my vyand?”
Elia het geantwoord: “Ek het jou gekry. Die Here sê vir jou: ‘Omdat jy jou daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in my oë, 21gaan Ek ’n ramp oor jou bring en jou vernietig.
Ek gaan al die manlikes in Agab se geslag sonder enige uitsondering uit Israel uitroei. 22Omdat jy My uitgetart het en omdat jy Israel laat sondig het, sal Ek met jou huis maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat en soos met die huis van Baesa seun van Agija.’

23“En oor Isebel het die Here gesê: Die honde sal Isebel opvreet by die voorste muur van Jisreël. 24Wie uit Agab se familie in die stad sterf, die honde sal hom opvreet, en wie in die oop veld sterf, die roofvoëls sal hom vreet.”

25Daar was nooit iemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie. Sy vrou Isebel het hom daartoe aangehits. 26Agab het afskuwelik opgetree deur die afgode te dien net soos die Amoriete wie se besittings die Here aan die Israeliete gegee het.

27Toe Agab al hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en rouklere om sy lyf gehang en gevas. Hy het selfs met rouklere gaan slaap, en heeltyd bedruk rondgeloop. 28Daarom het die woord van die Here tot Elia die Tisbiet gekom en gesê: 29“Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig? Omdat hy hom voor My verootmoedig het, sal Ek die ramp nie tydens sý lewe laat plaasvind nie. Tydens die bewind van sy seun sal Ek die ramp oor sy familie bring.”

Ekstra stof

Dit tref hoe baie moeite die Here met Agab doen om hom te bereik.  In die vorige hoofstuk het die Here hom 2 keer in die oorlog gehelp, met telkens ’n duidelike boodskap daaroor aan hom.  Hier bewys die Here ’n stukkie genade aan hom, self in die oordeel wat Agab oor homself bring, deurdat die oordeel eers na sy dood voltrek sou word.

Nabot se verhaal speel in Jisreël af, tussen die Gilboa- en Karmelgebergtes.  Agab het heel moontlik ook daar ’n paleis gehad.  Agab se poging om Nabot se grond in die hande te kry, druis egter teen die eeue-oue erf-tradisie van Israel in (Lev 25), terwyl Nabot ook emosionele bande met die grond had weens sy ouers wat daar begrawe is.

Isebel tree uit haar Feniciese grondbeskouing op – alle grond behoort aan die koning – en laat Nabot vermoor.  Die uitroep van ’n vasdag kan heel moontlik met die droogte van 1 Konings 17-18 verbind word, daarom dat Elia ook hier op die toneel verskyn.  Sommige geleerdes verbind die volksvergadering se optrede dan ook met die soeke na ’n sondebok vir die droogte.

Let op hoe Isebel se optrede steeds tot Agab se skade is, hoewel hy nie direk daarmee iets te doene gehad het nie.  As koning kon hy ’n ter dood veroordeelde se grond in besit neem, maar die Here stuur Elia om die oordeel oor Agab aan te kondig oor hierdie moord.  Sy bloed sou by die wingerd van Nabot opgelek word (Agab sterf op pad na Samaria, maar Joram, sy seun, se lyk word wel hier neergegooi – 1 Kon 21; 2 Kon 9) en Isebel sal in Jisreël aan haar einde kom (deur die toedoen van Jehu – 2 Kon 9).  Agab se huis word ook getref in terme van die kollektiewe verantwoordelikheid wat in Israel gegeld het in terme van families, ’n oordeel wat voltrek word met die dood van Joram (2 Kon 3) waarmee die Omri dinastie tot ’n einde kom.

Mag korrupteer, absolute mag korrupteer absoluut.  Maar die Here slaap nie, en Hy laat geregtigheid geskied.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord 
2Met my hele hart wil ek U prys, Here,
wil ek van u magtige reddingsdade
vertel.
3Oor U wil ek my verbly
en vrolik wees,
u Naam wil ek besing,
o Allerhoogste. (Psalm 9)

Seëngroet 
Aan die gemeente in ………………………………………..
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. 5Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen. (Galasiërs 1)

Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Verootmoediging

Skriflesing: Lukas 10

Die barmhartige Samaritaan
(Matt 22:34–40; Mark 12:28–34)
25Daar was ’n wetgeleerde wat aan Jesus ’n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

26Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

27Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” m

28“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”

29Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”

30Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ’n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. 31Dit gebeur toe dat daar ’n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. 32Net so het daar ook ’n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. 33Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. 35Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’

36“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”

37Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”
Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”
“En wie is my naaste.” Die vraag is vandag nog net so aktueel. Jesus antwoord met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.

Voorganger: Here, ons is dikwels soos die priester wat ver langs verby gaan.
Gemeente: “Heer, wees ons genadig” (Lied 247)

Voorganger: Here, ons is dikwels soos die Leviet wat ver langs verby gaan.
Gemeente: “Kyrie eleison” (Lied 247)

Voorganger: Mag ons genade ontvang om soos die Barmhartige Samaritaan te leef!
Gemeente: Lied 245 Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3
(Uit BASISLITURGIE in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Liedere

F174. “Here, Dis Al Weer Ek”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Teks en Musiek: Willem Gouws
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

1. Here, dis al weer ek
Ek het probeer
maar al hierdie sonde
gebeur weer ‘n keer.
Heer, vergewe my.
Ek wil by U bly.

Refrein:
U tel my op wanneer ek val
En U is daar wanneer ek struikel
En elke keer as ek weer probeer,
vergewe U my nog ‘n keer.

2. Here, dis al weer ek.
Ek’s nou skoon gewas.
Deur die bloed van Jesus
hou U my vas.
U vergewe my.
Ek wil in U bly.

F179. “Regeer In My”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

1. Skepper van hemel en aarde
Lewensbron, lig en genade
Kom regeer in my
Kom regeer in my

Die hemele verkondig u werke
U almag word vertoon in die sterre
Kom regeer in my
Kom regeer in my

Refrein:
Regeer in my
dat hierdie hart u huis kan wees
Regeer in my
dat hierdie vlees u Woord kan spreek
Regeer in my
dat hierdie lewe brood mag wees
Woord vir die wêreld,
bring lewe deur my

U is die eerste Woord
U kry die laaste woord
U is die Lewenswoord
wat alles onderhou

God praat met ons en ons luister

Epiklese
O Heer, maak oop my hart se poort; maak my ontvanklik vir u Woord
wat my u raad en wil verklaar. Laat my dié Woord altyd bewaar.
U Woord, o Heer, deurboor en wond, maar dit genees ook, maak gesond;
u Woord toon al ons sondes aan en wys die weg wat ons moet gaan.
O Vader, Seun en Gees tesaam, hoe heerlik is u Wondernaam!
O heilige Drie-enigheid, ons loof U tot in ewigheid (Lied 257).

Skriflesing: 1 Konings 21:1-21

Prediking

Familie-oomblik

Die onderstaande aktiwiteit fokus op die sonde van Agab wat omvattend was.

Learning Activity #2:  Grab bag with Ahab facts. The focus of the story is going to be in chapter 21.  This activity enables students to know that King Ahab’s past choices of disobedience led him to further walk in darkness instead of obedience to God. Make cards or slips of paper with the following facts about Ahab (add or subtract as many as you need for your class):

King Ahab did more evil in the eyes of the Lord than any of the kings before him. (1 Kings 16:30)
King Ahab married Jezebel who was not an Israelite and an idol worshipper and practiced witchcraft.  (2 Kings 9:22)
King Ahab built a temple in Samaria so the people could worship Baal.  (1 Kings 16:32)
King Ahab allowed Jezebel to kill the Lord’s prophets during the 3 ½ year famine.  (1 Kings 18:4)
King Ahab told Jezebel that Elijah killed all the false prophets with the sword and she planned to kill him.  (1 Kings 19:2)
Les in engels

As die sonde-kaartjies almal iewers met wondergom vasgeplak is, kan die storie van Agab wat eenvoudig  met die hulp van sy vrou Isebel vir Nabot  laat doodmaak en sy wingerd vat dramaties vertel word.

Hou miskien ‘n gesigtrek kompetisie vir wanneer kinders nie hulle sin kry nie en deel iets lekkers uit vir die snaakste/ beste gesigte!

Eindig die verhaal met ‘n Nuwe Testament toepassing dat God se kinders juis nie soos Agab en Isebel is nie…  (Galasiërs 5)

Laat die Gees van God julle Beheer
16–18 Laat die Heilige Gees* die Hoof van julle lewe wees. Laat Hy besluit wat julle dink en doen en sê. Dan sal sonde* nooit julle baas wees nie. Sonde* is ’n vyand van die Heilige Gees*. En die Heilige Gees* is ’n vyand van sonde*. Julle kan nie die een dag sonde* doen en die volgende dag aan die kant van die Gees staan nie. Nee, julle moet besluit aan wie se kant julle is. Julle kan nie leef soos wat julle wil nie. Gee julle lewe aan die Heilige Gees*.

19–21 Mens kan sien in watter mense se lewe die sonde* baas is. Kyk net: hulle doen lelike dinge. Hulle bid tot dooie afgode*. Hulle hou hulle besig met dinge soos towery. Hulle haat mekaar. Hulle wil nie hê iemand moet beter as hulle wees nie. Hulle is altyd aan die stry. Hulle hou dronkpartytjies en doen lelike dinge. Ek het al vir julle gesê om nie soos hierdie mense te leef nie. Hulle sal nooit in die hemel kom nie.

22–26 Mens kan ook sien watter mense se lewe deur die Heilige Gees* beheer word: Hulle is soos bome wat die lekkerste vrugte dra. Hulle doen graag goeie dinge vir ander mense. Hulle is altyd bly. Hulle leef in vrede met God. Hulle word nie gou kwaad nie. Ander mense wil graag by hulle wees. Hulle doen heeltyd wat God sê. Hulle dink nie te veel van hulleself nie. Hulle sê nee vir sonde*. Hulle leef soos wat die wet* in die Bybel sê.

Elkeen van ons wat in Jesus glo*, moet so leef. Want ons sondes* is saam met Jesus aan die kruis vasgespyker. Sonde*is nie meer ons baas nie. Die Gees het ons nuut gemaak. Daarom moet ons toelaat dat Hy ons lewe beheer. Kom ons hou op om te veel van onsself te dink. Ons mag nooit dink ons is beter as ander mense nie.
(Uit die Nuwe Testament vir kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander.)

Gebruik ook die aangehegde inkleurprent as ‘n aktiwiteit na goeddunke.

Preekriglyn

Op ‘n dag in 2006 verlaat ‘n administratiewe assistent by Coca Cola se hoofkwartier in Atlanta, VSA, die gebou met geklassifiseerde inligting in haar handsak. Dit sluit resepte vir beplande produkte, inligting oor toekomstige promosies, en ‘n houer met ‘n nuwe prototipe koeldrank in.

Met behulp van twee ander werknemers stuur sy ‘n brief na Pepsi, Coca Cola se oudste en grootste mededinger, waarin sy aanbied om die geheime te verkoop. Pepsi kon sodoende ernstige skade aan sy mededinger aanrig, teen ‘n relatiewe lae koste.

Amptenare van Pepsi reageer egter deur Coca Cola te kontak. Hulle weer bel die FBI. Laasgenoemde lê die drie diewe voor toe hulle opdaag om $1,5 miljoen vir die geheime in ontvangs te neem.

“Ons het maar net gedoen wat enige verantwoordelike maatskappy sal doen,” sê Dave DeCecco, Pepsi se skakelbeampte. “Ten spyte van die heftige kompetisie in hierdie industrie, moet ons ook op ‘n regverdige manier ons sake doen.”
(Bron: Time, 17 Julie 2006)

Hoe konings sake doen

Nabot, ‘n Joodse kleinboer, het ‘n wingerd lang die paleis van koning Agab. Agab wil die wingerd hê, hoofsaaklik omdat dit so gerieflik langs die paleis geleë is. Agab wil die wingerd wil omskep in ’n kruietuin/groentetuin. In teenstelling met ’n wingerd wat met besonder baie moeite en sorg bewerk moet word ten einde lonend te wees, wil Agab ’n kruie-/groentetuin skep wat ’n vinnige omset sou beteken.

Die transaksie wat Agab voorstel blyk op die oog af regverdig en billik. In ruil vir Nabot se wingerd sal die koning vir hom ’n ander stuk grond gee of ’n groot som geld. Nabot wys egter die koning se aanbod van die hand en wys die koning daarop dat die grond erfgrond is.

Nabot se weiering van die koning se versoek is ’n versinnebeelding van twee verskillende wêreld-beskouings. Nabot dink oor grond in lyn met God se bedoeling, naamlik dat dit ’n gawe is wat aan ’n familie geskenk is. Die Ou Testamentiese kenner, Walter Brueggemann, skryf in die verband: “Nabot verteenwoordig die siening dat voorgeslagte in grondbesit belangrik is. Die huidige geslag is die beskermers van die grond wat oor geslagte heen kom. Land en eienaar is onafskeidbaar, die grond is ‘n erfporsie, en die familie en die grond behoort onlosmaaklik bymekaar.”

Nabot, as verteenwoordiger van sy familie, weet dat hy nie met Agab kan onderhandel oor die grond nie. Dit behoort immers fundamenteel nie aan hom nie, maar eerder aan God. Die grond is ’n gawe van God vir Nabot en sy familie. Die identiteit en toekoms van Nabot en sy familie is verbind aan die grond. Dit lewer genoeg op vir hulle om te oorleef en selfs nog meer.

Deur met Nabot te onderhandel oor die grond en hom geld aan te bied, wys Agab dat hy aan grond dink as ’n gebruiksartikel. Agab reageer soos ’n bedorwe brokkie as Nabot sy aanbod van die hand wys. Hy gaan huis toe en onttrek hom in sy kamer om daar in ongelukkigheid te broei.

Hoe koninginne sake doen

Isebel, die nie-Isrealitiese koningin van Israel wat openlik geen respek vir die Here of die godsdiens van Israel het nie, stel ondersoek in na Agab se slegte bui. Sy maan hom om “op te tree soos ’n koning”.

Sy begin dadelik met ’n komplot ten einde die grond by Nabot te kry. Isebel skryf briewe aan die stadshoofde van Nabot se streek met die koning se seël daarop. Sy haal die leiers van Nabot se streek oor om hom valslik aan te kla van wandade. Isebel se plan verloop seepglad, volgens beplanning, en Nabot word vermoor. Die gemak waarmee Isebel die leiers van Israel kry om aan haar plan deel te neem, is doodgewoon skokkend. Korrupte leiers is nie ‘n nuwe verskynsel nie. Onthou, hierdie leiers was mense wat gehoorsaam aan die Here moes wees.

Isebel lig Agab in oor Nabot se dood. Hy neem dadelik die stuk grond in besit. Agab vra geen vrae oor die omstandighede rakende Nabot se dood nie. Dit maak mens dadelik agterdogtig. Agab het baie goed geweet waartoe Isebel in staat is. Min dinge bly geheim vir ‘n koning.

Hoe die Here sake beoordeel

Elia, die profeet, word geroep om weereens God se wil aan Agab en Isebel te verkondig. Elia se vorige ontmoeting met Isebel het nie goed geëindig vir haar nie. Elia is nou meer as ’n lastige stem vir die koningspaar. Hy is ’n eksplisiete vyand.

Elia spreek God se oordeel uit oor Agab en Isebel, oor al die dinge wat hulle verkeerd gedoen het. Agab word vergelyk met die slegste konings van Israel en selfs met die felste vyande van Israel. Die oordeel oor Agab en Isebel is geweldig.

Agab reageer deur te pleit vir vergifnis. God sien Agab se berou en stel sy oordeel uit.

Drie spanningslyne

Daar is drie spanningslyne in hierdie gedeelte, wat vandag nog net so relevant vir die kerk van die Here is:

  • Is grond ‘n gawe van God of ‘n verbruikersartikel?
  • Die spanning tussen koning en profeet, staat en kerk
  • Die spanning tussen oordeel en vergifnis

Ons staan kortliks by elkeen stil.

Grond: gawe van God of verbruikersartikel?

Die botsing tussen Agab en Nabot oor grond, bring moderne lesers en hoorders voor unieke uitdagings, in die konteks van die globale ekonomiese stelsels. Die kapitalistiese stelsel is ’n sisteem waar alles se waarde in geld gemeet word. Alles het ’n prys. Alles en almal kan gekoop word teen die regte prys.

Nabot se weiering om die erfgrond aan Agab te verkoop of om selfs daaroor te onderhandel, laat ons met vrae oor die waarde van dinge in ons eie lewe. Dit noodsaak ons om te vra na die dinge wat steeds heilig is: Wat is dit wat in ons lewe nie ’n prys op het nie, wat nie gekoop kan word nie? Wat is nog heilig?

Nabot dien as voorbeeld van iemand wat nie ingee aan die verbruikerskultuur van sy dag soos versinnebeeld deur Agab en Isebel nie. Nabot se lojaliteit teenoor grond, familie en God, dring ons om na te dink oor hoe ons besittings beskou: as gawe van God, waarvan ons bloot rentmeesters is of as verbruiksartikels, waaroor ons beheer het?

Die oordadige gebruik en verbruik van alles, die meet van die waarde van alles in ekonomiese terme, veroorsaak dat ons te veel gebruik, en dat ‘n ekologiese ramp ons in ons spore kan stuit. Dit maak ons ook gulsig: daar is geen grense aan ons vermoë om in te palm nie. Dit het tyd geword om eenvoudiger te leef, en meer mededeelsaam te wees. ‘n Nuwe stel ekonomiese waardes is nodig.

Spanning tussen koning en profeet

Die spanning tussen koning en profeet is baie relevant vir die Christelike kerk vandag. Elia is gehoorsaam aan God en spreek die koning se misbruik van mag duidelik en direk aan. Elia se moed daag die kerk uit om weer te besin oor haar profetiese roeping in hierdie wêreld. Is ons dapper genoeg om steeds uit te praat teen geweld, magsmisbruik en korrupsie, of het ons stem stil geword?

In ‘n moderne demokrasie is dit nodig dat kerke mekaar se hande moet vat om saam teenoor die staat te getuig. ‘n Verenigde front wat vreesloos, sonder aansiens des persoons die Here se wil verkondig, is nodig. Ons land kan nie daarsonder nie.

Spanning tussen oordeel en vergifnis

Die spanning tussen oordeel en vergifnis leer ons iets oor die hart van God. God haat ongeregtigheid. God tree op teen ongeregtigheid. God staan aan die kant van hulle wat arm, vreemd, verstoot en gemarginaliseer word. God openbaar Homself egter ook altyd as die Een wat met mense onderweg bly. Die Een wie se oor nie te doof is om te hoor en wie se arm nie te kort is om te help nie. As Agab sy sonde bely, is God bereid om hom te vergewe.

Agab kom op die punt om sy skuld te bely, omdat die profeet van die Here in die eerste plek vreesloos sy skuld aan hom bekend maak. Die kerk, en gelowiges, doen niemand ‘n guns deur kwaad goed te praat, en persoonlike skuld aan onreg te verdoesel nie.

God aan die werk in die gebeure

Ons moet vra: Waar is God aan die werk in hierdie verhaal? Die evangelie van hierdie gedeelte is sekerlik opgesluit in die sonderlinge posisie wat God inneem in die storie. Ons sien en hoor God op ’n paar plekke in die verhaal.

Een: God word sigbaar in die gee van grond aan die volk as ’n genadegawe. Die erflatingsreg beveilig families en maak dit moontlik vir geslagte om te bly oorleef op grond. God is besorg oor mense, ook op fisiese vlak.

Twee: God openbaar sy liefde vir geregtigheid deur Elia se duidelike stem waarmee hy Agab aanspreek oor sy misbruik van mag.

Drie: God staan aan die kant van die wat arm, gebroke en sonder ’n stem is. Dit word besonder duidelik in hierdie verhaal as God reageer op die ongeregtigheid wat teenoor Nabot gepleeg word.

Vier: God openbaar Homself as God van vergifnis en medelye. Hy is bereid om Agab se skuldbelydenis aan te hoor.

Ons eie posisie

Die verhaal laat ons met vrae oor ons eie posisie. Watter karakter is ons in die storie? Getuig jou lewe dalk dat jy die Agab-figuur is wat rykdom teen alle koste versamel, en/of dikbek is wanneer jy nie jou sin kan kry nie? Wil jy alles hê wat jy kan sien?

Is jy dalk die knoeiende, gewentelose Isebel wat nie huiwer om jou mag vir eie gewin aan te wend nie? Gooi jy jou gewig in saam met die ewe gewetenlose leiers wat nie ‘n kans om hulself te bevoordeel en hul aansien by die magtiges te verhoog nie?

Of is jy familie van God wat met God se oë leer kyk het na die lot van soveel mense wat aan die pen ry, of uitgebuit word, deur ander?

Is jy die profeet van God wat ander help om hulle reg te oriënteer voor die Here?

Ons sien in die verhaal wat God se posisie ten opsigte van ongeregtigheid is, misbruik van mag en ’n blinde verbruikerskultuur. Dit is dringend nodig om onsself af te vra waar ons staan.

God stuur ons om te leef

Gebed
Barmhartige Vader, ek dank U dat daar in u hart soveel omgee is en dat daar ook vir my ruimte is.
Ek moet erken dat ek nie voor U sou kon kom as U nie barmhartig was nie.
Daar is net soveel dinge in wat ek sê en doen en dink wat nie met u Vaderhart in pas is nie.
En daarby weerspieël ek so min barmhartigheid: My woorde is kortaf en bitsig, my aanraking is so liefdeloos, my kontak met baie mense is so afsydig, die lagie liefde in my lewe is so dun.
Ag, Here, as ek maar meer kon vergewe, meer die goeie in ander kon raaksien, meer ruimte vir hulle en hulle standpunte kon maak, meer van die beeld van u Seun vertoon.
Ag, as ek nie so voortvarend was, so vol van myself en my eie idees, so daarop reken om myself te laat geld nie.
Daarom dank ek U, ons Here Jesus, dat U aan die kruis ook met al my stukkendheid ‘n plan gemaak het.
Dankie dat ek uit u vergifnis mag lewe.
Werk deur u Gees in my hart en oë en stem en denke dat ek steeds meer barmhartig sal wees, al hoe meer sal omgee vir dié wat oor my pad kom.
Help my dat die stukkie van die aarde waarop ek lewe, vir mense ‘n beter plek sal wees omdat ek iets van u barmhartigheid uitleef, en hulle deur my sal beleef dat daar ‘n goeie Vader in die hemel is wat omgee.
(Uit: Die Groot Gebedeboek, Estelle Steenkamp (red), 2004: Willie Botha 13 Mei)

Offergawes

Wegsending Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.