Vierde Sondag van Advent

Sections

Oorsig

Die klem op die vierde Sondag van Advent val op die liefde. Die Een wat voorspel is, is die Immanuel. Hy beliggaam God se liefde. Hy maak God se hart sigbaar. Hy is God met ons. Hy is liefde.

Ander tekste

Psalm 80:1-7, 17-19
Verskyn tog tot ons redding
80 Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. ’n Getuienis van Asaf.
’n Psalm.
2Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef
soos ’n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog aan ons!
3Openbaar u mag aan die stamme
Efraim, Benjamin en Manasse,
kom help ons tog!
4Laat dit weer met ons goed gaan,
o God,
verskyn tog tot ons redding!
5Here, almagtige God,
hoe lank nog sal U afsydig staan
teenoor die gebed van u volk?
6U het aan ons trane vir kos gegee
en ons ’n beker vol verdriet
laat drink.
7U laat ons bure teen ons veg,
en ons vyande lag oor ons.

8Almagtige God, 
laat dit weer met ons goed gaan, 
verskyn tog tot ons redding!
9U het ’n wingerdstok in Egipte
uitgehaal
en dit hier kom plant
nadat U die nasies
uitgedrywe het.
10U het vir hom plek reggemaak, 
sy wortels het gegroei
en hy het die land ingeneem.
11Sy skaduwee het die berge oordek, 
sy ranke die magtige seders.
12Hy het sy ranke uitgestoot
tot by die see, 
sy lote tot by die Eufraat.
13Waarom het U die mure om hom
afgebreek?
Al die verbygangers stroop hom,
14die wildevark uit die bos verwoes hom, 
gediertes uit die veld vreet hom op.
15Almagtige God, 
kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer
oor hierdie wingerdstok, 
neem hom weer onder u sorg.
16Hou in stand wat U
met u eie hand geplant het, 
die wingerdstok
wat U vir Uself gekweek het!

17Laat dié wat hom soos onkruid
verbrand het,
deur u oordeel te gronde gaan.
18Hou u hand oor die mense
wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U
vir U grootgemaak het.
19Dan sal ons nie weer
van U af wegdraai nie.
Hou ons aan die lewe,
dan sal ons u Naam aanroep!
20Here, almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!

Romeine 1:1-7
1 Van Paulus, ’n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God.
2Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, 3en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; 4op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here. 5Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. 6Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort.

7Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Matteus 1:18-25
Die geboorte van Jesus Christus
(Luk 2:1–7)
18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.
Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:
23“Die maagd sal swanger word en
’n Seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem.”
Die naam beteken God by ons.
24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

Fokusteks

Jesaja 7:10-16
(Die preekriglyn gebruik die hele gedeelte vers 1-25)
Immanuel sal gebore word
7 In die tyd toe Agas, seun van Jotam en kleinseun van Ussia, koning van Juda was, het die Aramese koning Resin en die Israelitiese koning Peka seun van Remalja ’n veldtog teen Jerusalem onderneem. Die veldtog het egter op niks uitgeloop nie.

2Die berig dat die Arameërs reeds in die Israelitiese gebied in Efraim kamp opgeslaan het, het vir Agas, die koning uit die geslag van Dawid, in Jerusalem bereik, en hy en sy volk het baie bang geword. Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind.

3Die Here het toe vir Jesaja gesê: Vat jou seun Sear-Jasub saam en gaan ontmoet vir Agas op die pad na die Bleikveld toe by die punt van die kanaal uit die boonste dam. 4Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie. 5Die Arameërs en die Efraimiete onder leiding van die seun van Remalja beplan jou ondergang. 6Hulle het vir mekaar gesê: Kom ons val Juda aan en oorrompel hom. Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda.

7Maar so sê Ek, die Here jou God:
Dit sal nie plaasvind nie,
dit sal nie gebeur nie,
8want dit is maar net Damaskus wat die hoofstad van Aram is en net Resin wat die koning van Damaskus is. Efraim sal binne vyf en sestig jaar so verwoes word dat hy geen volk meer sal wees nie, 9want dit is maar net Samaria wat die hoofstad van Efraim is en net Peka seun van Remalja wat koning van Samaria is.
Maar ook julle sal nie standhou
as julle nie in geloof standhou nie.

10Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê: 11Vra van die Here jou God ’n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.
12Maar Agas het geantwoord:
“Ek sal niks vra nie,
ek sal die Here nie tart nie.”
13Toe sê Jesaja:
“Luister, geslag van Dawid!
Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem. 15Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. 16Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

17“Wat jou, jou volk en jou familie betref, die Here sal ’n tyd oor julle laat kom soos daar nie was sedert die dae toe Efraim van Juda af weggebreek het nie. Dit sal gebeur deur die koning van Assirië.

18“In dié tyd sal die Here fluit vir die vlieë ver langs die riviere van Egipte en vir die bye in Assirië. 19Hulle sal almal kom en gaan sit in die steil klowe en in die rotsskeure en op al die doringbosse en by al die drinkplekke.

20“In dié tyd sal die Here julle kaalskeer, die hare op julle koppe en op julle liggame, en ook julle baarde. Hy sal dit doen met ’n skeermes wat oorkant die Eufraat gehuur is, die koning van Assirië.

21“In dié tyd sal iemand wat net ’n jong koei en twee ooie aan die lewe hou, 22dikmelk hê om te eet danksy die oorvloed melk wat hulle gee. Dié wat in die land oorbly, sal almal dikmelk en heuning eet.

23“In dié tyd sal elke stuk grond waar ’n duisend waardevolle wingerdstokke gestaan het, oortrek wees van dorings en dissels. 24’n Mens sal daar net met ’n pyl en boog kan kom, omdat die hele land vol dorings en dissels sal wees. 25Uit vrees vir die dorings en dissels sal niemand meer êrens op die heuwels kan kom wat voorheen met ’n pik bewerk is nie. Dit sal net ’n plek wees waar ’n mens beeste injaag en wat deur kleinvee vertrap word.”

Ekstra stof

Jesaja 7 – Uitgenooi van vrees na vertroue
Die verhaal van Jesaja se ontmoeting met Agas op bevel van die Here word meesterlik vertel. Dit wemel van beskrywende beelde en metafore wat die situasie vertolk en die boodskap van die Here grafies oordra:

  • vers 2 die volk het “gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind”;
  • vers 4: “Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net” (die 2 nasies is letterlik in 732 en 722 v C onderskeidelik deur Assirië verwoes);
  • en die metafore wat Assirië as vlieë en ’n skeermes en Egipte as bye beskryf (vers 18-20).

Jesaja tref Agas aan waar hy sy watertoevoer na die noorde, vanwaar hulle die aanval verwag het, wil beveilig (vers 3). Sy seun is saam en is op sy beurt ook al reeds ’n boodskap aan Agas, want sy naam, Sear-Jasub, beteken “’n Oorblyfsel kom terug”. Maar die boodskap beweeg Agas nie van vrees na vertroue nie. Lees meer oor Agas in my bydrae oor 2 Konings 16.

Die Here gee aan hom die opsie van ‘n teken – anders as met Gideon (Rigt 6), is dit die Here wat die teken aanbied – maar hy weier. Sy vroom verweer – ek wil die Here nie tart nie (Deut 6:16) – is eintlik gemaskeerde ongeloof. Hy vertrou die Here nie, eerder sy eie alliansie planne met Assirië (2 Kon 16:7).

Die jong vrou wat swanger word, was waarskynlik iemand wat Agas geken het, wat hom in lewende lywe kon herinner dat die Here sy Woord sal waarmaak, dat Hy inderdaad Immanuel, God-met-ons is (vgl Jes 8:8 waar Juda self Immanuel genoem word, die plek waar God-met-ons is, as hulle dit maar net wou glo! Dit kom ooreen met die Dawidiese belofte soos in 2 Sam 7 beloof).

Sommige geleerdes dink selfs dat die jong vrou op Agas se eie vrou gedui het, wat dan sou beteken dat Hiskia Immanuel sou wees (vgl Jes 36 vv), ‘n aantreklike interpretasie. Volgens sommige daterings was Hiskia teen die tyd egter al gebore, wat dit onwaarskynlik maak.

Wat wel seker is, is dat Agas die vrou geken het, anders sou die teken vir hom geen betekenis gehad het nie. En soos Watts sê, wat vir ons duister is, was nie noodwendig vir Agas duister nie!

Die Hebreeuse woord, ha-almâ, wat in Afrikaans vertaal word met jong vrou is interessant. Dit word in Grieks met een van twee woorde vertaal: 1) parthenos – maagd, en 2) neanis – jong vrou, wat volgens sommige geleerdes ook jong getroude vrouens insluit tot en met die geboorte van hulle eerste kind, hoewel só ‘n interpretasie nog nie ‘n breë aanvaarding geniet nie. Albei betekenisse word egter as ‘n interpretasie van die Hebreeuse woord gebruik.

In die OT word die woord ha-almâ in die eerste betekenis, maagd, bv. gebruik vir die meisies by die put waar die slaaf van Abraham vir Isak ‘n vrou soek (Gen 24:43) en vir Miriam (Eks 2:8); die tweede betekenis kom heel waarskynlik voor waar van vroue-sangers gepraat word (Ps 46:1; 68:26) en dit nie noodwendig op maagde hoef te dui nie. Dit is egter onseker wat dit hier in Jesaja beteken, hoewel die Griekse vertaling hier parthenos is. Die Afrikaanse vertaling het egter vir jong vrou gekies, wat ook maagd kan insluit.

Die boodskap van ‘n jong vrou wat sal swanger word, is natuurlik ook deur die evangelieskrywers van toepassing gemaak op Maria met Jesus se geboorte, wat op ‘n besondere wyse hierdie woord vervul het, en vir alle gelowiges die heersende interpretasie geword het, die Immanuel, God-met-ons (Mat 1:23).

Agas se ongeloof en gebrek aan vertroue laat ontvlam egter die toorn van die Here en versterk Sy voorneme om die oordeel oor die volk te voltrek.

Die boodskap in vers 9 tref my: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.” Letterlik staan daar: “Julle moenie vrees nie, net vertrou.” Dit bly ‘n uitnodiging ook aan my, veral wanneer ek self bewe vir die uitdagings in my lewe en gemeenskap.

En die Immanuel van Kersfees, Jesus, het natuurlik ook beloof dat Hy deur Sy Gees in my sal woon, wat op ‘n ander manier God-met-my geword het (Joh 14:16-17)!

Liturgie

Vooraf
Plaas die “Stomp van Isai” as simbool op ’n prominente plek in die bedieningsruimte. Die ingangsruimte van die ontmoetingsplek kan besonder sinvol wees. Die droë stomp met die enkele rooi lint van hoop moet so geplaas word dat lidmate dit sal opmerk.

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Jesaja 9:5-6)

Seëngroet
Aansteek van vierde adventskers
Verootmoediging

Gedig: NP Van Wyk Louw

Hier op die voorand van Kersfees, lees Matteus 1:18-25

Lied 353 “Die Heiland is gebore vs 1,2,3”

Gedig:  Kersfees blink in sy oë (deur Rina Greeff)

Liedere
Lied 360 “Vanuit die hemel is gebring vs 1,2,3” en/of
Lied 371 “Redder van ons lewe vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Jesaja 7:1-25

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis ahv die loflied van Maria (Lukas 1:46-56)

Offergawes

Wegsending: Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die klem op die vierde Sondag van Advent val op die liefde. Die Een wat voorspel is, is die Immanuel. Hy beliggaam God se liefde. Hy maak God se hart sigbaar. Hy is God met ons. Hy is liefde.

Vooraf
Plaas die “Stomp van Isai” as simbool op ’n prominente plek in die bedieningsruimte. Die ingangsruimte van die ontmoetingsplek kan besonder sinvol wees. Die droë stomp met die enkele rooi lint van hoop moet so geplaas word dat lidmate dit sal opmerk.

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord
5Vir ons is ’n Seun gebore,
aan ons is ’n Seun gegee;
Hy sal heers, en Hy sal genoem word:
Wonderbare Raadsman,
Magtige God,
Ewige Vader,
Vredevors.
6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.
(Jesaja 9:5-6)

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van Jesus Christus,
Die Een wat van die oertyd af voorspel is.
Die Een na wie verlang is.
Die Een wat mens geword het, wat lyf geword het, wat niks geword het ten einde alles te word.
Die Een op wie ons hoop.
Die Een wat sal terugkeer.

Aansteek van vierde adventskers
Ons verwerp alle vorme van liefdeloosheid en haat
omdat ons glo in God die Vader.
Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou.
Die God wat alle mense as gelykes geskep het en wat Homself in besonder openbaar as die God van liefde.

Lied 526 “Waar daar liefde is 1”
Ons erken die menswaardigheid van alle mense
omdat ons Glo in Jesus Christus.
Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het.
Die God wat die lyding ken van hulle wat leef in situasies van liefdeloosheid en haat.

Lied 526 “Waar daar liefde is 1”
Ons praat en leef profeties
omdat ons glo in die Heilige Gees.
Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid.
Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye.

Lied 526 “Waar daar liefde is 1”
Liefde is moontlik omdat ons God ken as Vader, Seun en Gees. Amen.
(Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2013-2014)

Verootmoediging

Gedig:
NP Van Wyk Louw, een van Suid Afrika se grootste digters, het ’n pragtige gedig geskryf oor die lewe van Jesus – die eerste vers handel oor Sy geboorte:
Nie uit wit paleise nie
wou Hy (uit soewereine Wil)
tot ons soort staat gebore word;
maar, waar die Kuise en die Arme stil
en buite die hotel se poort
verniet loseer het in die stal,
het Hy, Visarendjie van God,
in ons benoude vlees geval…

Hier op die voorand van Kersfees, lees Matteus 1:18-25
Die geboorte van Jesus Christus
(Luk 2:1–7)
18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.
Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:
23“Die maagd sal swanger word en
’n Seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem.”
Die naam beteken God by ons.
24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

Lied 353 “Die Heiland is gebore vs 1,2,3”

Gedig:  Kersfees blink in sy oë (deur Rina Greeff)
Die kind het groot-oog
verwonderd gestaan en staar;
die blink aan die boom
bewonderend aanskou en
versigtig
met fyn-vingertjies gevoel,
gevat aan die vet en
die vrolike kersvaders,
die engeltjies wat vlieg;

balletjies en blinkertjies
het hy Bybels bekyk, ook
die betowerende liggies
wat so flikkerend,
feestelik bly flits;

en trane blink in sy oë:
“Waar’s die baba-Jesus dan?”

Liedere
Lied 360 “Vanuit die hemel is gebring vs 1,2,3” en/of
Lied 371 “Redder van ons lewe vs 1,2,3”

Liedere

F319. “Want ‘n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
(RUBRIEK: Flam Gemeentesang / Flammikidz – Kersfees)
Oorspronklik: Immanuel
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr vertaling: Faani Engelbrecht
© 1993 Celmar Music

1. Want ‘n kind is vir ons gebore
God het Sy Seun aan ons gegee
Die heerskappy rus op Sy skouers
En Sy Naam sal wees

Refrein:
Wonderbare Raadsman, Magtige God
Ewige Vader, die Vredevors
Immanuel,
God met ons
Immanuel,
God met ons
Immanuel

2. Want so lief het God die wêreld
Hy het Sy Seun aan ons gegee
Sodat die wat nou in Hom glo
Leef tot in ewigheid

Refrein:

F323. “Goeie Nuus”
(RUBRIEK: Flammikidz / Flam Gemeentesang – Kersfees)
Teks en musiek: Marcel & Lydia Zimmer
Oorspronklike titel: Goed Nieuws
Afrikaanse teks: JP Bruwer, Marcel & Lydia Zimmer
© 1999 Celmar Music
(N.a.v. Jes 9:5)

Refrein
Goeie nuus, goeie nuus
Sing saam met eng’le kore!
Goeie nuus, goeie nuus
Jesus is gebore, Jesus is gebore

“Wonderbare Raadsman”
1. Hy wil jou altyd bystaan
in alles, dag en nag
Ja, in jou hele lewe
gee Hy jou raad en krag

“Sterke God”
Hy is die allerbeste
Geen ander is soos Hy
Die magtigste en sterkste
sal Hy vir altyd bly

Refrein

“Ewige Vader”
2. En Hy is soos ‘n Vader
So baie lief vir jou
Hy dra jou in Sy arms
jy kan op Hom vertrou

“Vredevors”
Hy gee jou ware vrede
vir nou en vir altyd
En dié wat in Hom glo
sal leef in ewigheid

Refrein

“Immanuel”
3. Hy is ook altyd by jou
En altyd om jou heen
En waar ookal jy rondgaan
Hy laat jou nooit alleen

Refrein

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Ons loof U Here Jesus, omdat U ons so liefgehad het dat U ons broer geword het.
U was gebore in ’n armoedige stal in Betlehem, sodat ook ons inwoners kon word van die hemelse Jerusalem.
U het ons swakhede op U geneem, sodat die Vader ons swakhede sou vergewe.
Ons bid U: bly altyd by ons!
Verlosser in wie alle volke van die aarde geseën is, gee dat ons ons in die verlossing so sal verbly dat ons met ons hele hart saam met die engele sal sê: “Ere aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie U ’n welbehae het.”
(Na aanleiding van Groot Gebedeboek bladsy 404)

Skriflesing: Jesaja 7:1-25

Prediking

Familie-oomblik

Gebruik die storie van Vonkel (deur Linda Fourie) vir die kindertyd. Verkort gerus na goeddunke.

Vonkel se Kersstorie
Lank, lank gelede was daar ‘n sterretjie wat saam met sy stermaatjies in die lug gebly het. Sy naam was Vonkel, maar ou Vonkel was glad nie ‘n gelukkige, vrolike sterretjie nie! Om die waarheid te sê, Vonkel was ‘n baie ongelukkige ou sterretjie wat altyd treurig gevoel het.

Hy het altyd na sy stermaatjies gekyk en gedink hy skitter nie so mooi soos hulle nie. “Ek is ook nie so mooi groot soos hulle nie; ek voel dof en ek kan ook nie so vinnig deur die lug skiet soos wat my stermaatjies kan doen nie” – so het Vonkel elke dag gedink. Daarom het ou Vonkel maar altyd eenkant gebly as die ander sterre speel en hy het glad nie saam deur die lug geskiet of vir die mense op die aarde probeer knipoog nie.

Ek weet nie of julle dit weet nie, maar sterre skyn ook in die dag. Ons kan hulle net nie sien nie, want die sonstrale maak te veel lig.

Een dag het Vonkel weer agter ‘n wolkie bokant die dorpie Nasaret weggekruip terwyl sy maatjies aan-aan in die lug gespeel het, toe hy hoor hoe die engel Gabriel vir Maria sê dat sy ‘n babaseuntjie gaan hê en dat Sy naam Jesus moet wees. Gabriel het ook gesê dat God self vir haar die kindjie sou gee en dat Jesus die Seun van God sou wees.

Vonkel was nou so opgewonde omdat hy geweet het dat iets wonderliks gaan gebeur, dat hy sommer vergeet het om hartseer te wees en begin knipoog en skitter het.

Hy het daarna seker gemaak dat hy altyd naby Maria gebly het. Selfs toe sy en Josef, die man wat beloof het om met haar te trou, met hul donkie na Betlehem gereis het.

Die keiser wat ‘n baie belangrike man was, het gesê hy wou weet hoeveel mense daar in sy land woon en hulle moes hul name in ‘n boek laat skryf. Daarom het Josef en Maria Betlehem toe gegaan.

Vonkel het al die pad deur die lug saam het hulle gereis. Hy was nou glad nie meer hartseer nie, maar baie, baie opgewonde om die Kindjie te sien.

In Betlehem kon Josef en Maria nêrens ‘n kamer kry om in te slaap nie, maar een man het gesê hulle kan in sy stal slaap. Soos julle seker weet, is ‘n stal ‘n plek waar diere slaap en daar op die warm, droë strooi het Josef en Maria aan die slaap geraak. En Vonkel? Hy het in die lug bokant die stal geflikker en geskitter terwyl hy wag om te kyk wat gebeur.

Laat daardie nag word die Here Jesus toe gebore. Maria draai Hom in doeke toe en sit sagte strooi in die krip. Dit is die bak waaruit die diere vreet. Toe lê sy vir Jesus saggies op die strooi neer, waar Hy warm en veilig lê.

Betlehem was ‘n groot dorp met baie mense en buite die dorp was daar baie skape wat opgepas moes word. Die mense wat die skape opgepas het, is herders genoem. Hulle moes kyk dat die skape nie seerkry of wegloop of dat wilde diere, soos jakkalse, die skape nie vang nie.

Terwyl die herders daardie nag om hul vuurtjie sit, kom daar ‘n helder, helder lig wat oor hulle skyn. Hulle word toe vreeslik bang, maar ‘n engel praat met hulle en sê: “Moenie bang wees nie. Ek bring vir julle goeie nuus. God het lank gelede belowe Hy sal Sy Seun stuur en hierdie Seun sal die sonde van die wêreld wegneem. Hierdie Kindjie is vandag in Betlehem gebore. Sy naam is Jesus. Gaan kyk! Julle sal Hom in ‘n krip kry. Hy is in doeke toegedraai.” Skielik is daar baie engele wat pragtige sing.

Vonkel sien dit alles van bo uit die lug gebeur. Hy is so bly en opgewonde, hy skiet sommer sulke kort entjies dan die kant toe en dan daardie kant toe en hy voel hoe hy sommer gloei van blydskap!

En natuurlik het die herders na die Kindjie gaan soek en hom in die krip in die stal gekry!

Daar was ook wyse manne wat uit ‘n ver land by die koning aangekom het. Hulle was sterrekykers en daar in hulle ver land het hulle ‘n ster gesien wat vir hulle anders as die ander sterre gelyk het. Daarom het hulle by die koning kom uitvind waar die nuwe Koning gebore is, want, het hulle gesê, daardie spesiale ster het vir hulle gewys dat ‘n nuwe Koning gebore is. Die wyse manne wou vir Hom geskenke neem.

Die koning was ‘n slegte man en hy was nie lief vir God nie. Daarom sê hy toe dat die wyse manne moet gaan uitvind waar die nuwe koning gebore is. Hy wou ook vir Hom presente gee, maar die koning het gejok, hy wou eintlik vir Jesus doodmaak.

Toe die sterrekykers van die koning weggaan, sien hulle ‘n groot ster wat lyk asof hy voor hulle uittrek tot by die plek waar die Kindjie was. Hierdie groot ster was al die tyd ou Vonkel, wat so gelukkig was dat hy al helderder en mooier geskitter het!!

En die slegte koning het toe nooit die Jesus-kind in die hande gekry nie, want God wat alles weet, het ‘n engel in ‘n droom na Josef toe gestuur om hom te waarsku dat hy met Maria en Jesus na Egipte moes reis en dat hulle daar moes bly tot nadat Herodes dood is.

So het Vonkel, die sterretjie wat gedink het hy is nie so goed soos sy stermaatjies nie, ‘n baie belangrike rol gespeel in die Kersverhaal.

Preekriglyn

(Die preekriglyn gebruik die hele Jesaja 7:1-25. Jy kan die teks in kleiner eenhede lees soos dit aan die orde kom in die loop van die preek. Jy sou ook dele hiervan kon uitlaat.)

Sosiale geregtigheid is die keersy van vroomheid
Geregtigheid en die uitvoering van God se reg is een van die sentrale temas van Jesaja. Die profeet wys die volk daarop dat blote vroomheid en godsdienstigheid vir God verwerplik is, veral indien die swakstes in die gemeenskap, die weduwees en armes, verontreg word.

Dis ‘n boodskap wat vir ons tyd nog net so belangrik is. Want … sosiale geregtigheid is die keersy van vroomheid. As ons God dien, sal ons ook omsien na dié wat minder as ons het.

God se genade in die geboorte van ’n seun
Wat egter so wonderlik van Jesaja is, is dat terwyl die profeet God se oordeel verkondig en hulle só tot bekering oproep, verkondig hy ook God se genade. Oral in die boek neem dit die gestalte aan van `n persoon wat God gaan stuur om geregtigheid te laat gebeur.

Hier in hoofstuk 7 – en later ook in hoofstuk 9 – word die geboorte van ’n seun aangekondig, wat `n teken van die Here se trou en uiteindelik die agent van sy redding en herstel sal wees, dit wat ons met Kersfees herdenk.

Maar God se woorde is nie abstrakte beloftes nie. Dit gebeur in die konkrete lewens van mense, soos ons dit aantref in die verhaal van Agas, koning van Juda, in ‘n tyd van groot onrus en bedreiging vir sy volk, die sogenaamde Siries-Efraimitiese oorlog van ongeveer 734-732 v.C.

Agas voor sy grootste uitdaging
Agas – koning van Juda – was voor die grootste uitdaging van sy lewe. Die Arameërs (Sirië) uit Damaskus het teen hom opgetrek en wou hom en sy volk uitwis. Hy het te vore al onder hulle gely en was deeglik bewus van die implikasies. Ook die Israeliete (soms Efraim genoem na aanleiding van een van die seuns van Josef) – wat ook hulle bloedfamilie was, die 10 sogenaamde noordelike stamme – het saamgespan met die Arameërs en teen hulle opgetrek.

Die versoeking was groot om die Assiriërs – een van die groot moondhede van die tyd se hulp in te roep, min of meer waar Irak vandag is.

Met dié bedreiging as agtergrond, word in vyf kort “episodes” die verhaal vertel van God se betrokkenheid deur sekere beloftes wat Hy maak en tekens wat Hy gee … en koning Agas se hantering daarvan. Deur die verhaal gee Jesaja ons ’n uitstekende perspektief op die rol wat geloof en vertroue in ons alledaagse verhouding met God speel. En is die gedeelte ’n oproep tot geloof midde-in selfs die slegste omstandighede wat ons kan beleef.

Jesaja 7:1 – Inleiding
1 In die tyd toe Agas, seun van Jotam en kleinseun van Ussia, koning van Juda was, het die Aramese koning Resin en die Israelitiese koning Peka seun van Remalja ‘n veldtog teen Jerusalem onderneem. Die veldtog het egter op niks uitgeloop nie.

Jesaja 7:2-9a – God se konkrete beloftes – Episode 1
2 Die berig dat die Arameërs reeds in die Israelitiese gebied in Efraim kamp opgeslaan het, het vir Agas, die koning uit die geslag van Dawid, in Jerusalem bereik, en hy en sy volk het baie bang geword. Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind.

3 Die Here het toe vir Jesaja gesê: Vat jou seun Sear-Jasub saam en gaan ontmoet vir Agas op die pad na die Bleikveld toe by die punt van die kanaal uit die boonste dam.

4 Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie.

5 Die Arameërs en die Efraimiete onder leiding van die seun van Remalja beplan jou ondergang.

6 Hulle het vir mekaar gesê: Kom ons val Juda aan en oorrompel hom. Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda.

7 Maar so sê Ek, die Here jou God: Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie,

8 want dit is maar net Damaskus wat die hoofstad van Aram is en net Resin wat die koning van Damaskus is. Efraim sal binne vyf en sestig jaar so verwoes word dat hy geen volk meer sal wees nie,

9a want dit is maar net Samaria wat die hoofstad van Efraim is en net Peka seun van Remalja wat koning van Samaria is. 

1. God se beloftes is vir konkrete bedreigings
Die reaksie van Agas en sy volk op die naderende krisis was doodnatuurlik – Agas en sy volk het baie bang geword. “Hulle het gebewe soos die bome van die bos bewe in die wind!” (vers 2).

En hulle het begin planne maak. Agas wou ’n bondgenootskap sluit met Assirië, sodat die twee volke ten noorde van hom in ’n soort knyptang vasgevang kon word.

Eintlik heel vernuftig … behalwe dat God nie in ag geneem is nie.

Maar dan kom die genadige stem van die Here in elk geval: “Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net!” (vers 4)

En die Here belowe, Hy sal nie toelaat dat die vyand se planne geluk nie. Kort voor lank sal hierdie bedreiging tot niet wees. Hulle sal nie ’n duik maak op die wêreldtoneel nie.

Interessant genoeg: God raas nie met Agas omdat hy onseker, vertwyfeld en baie bang is nie. Hy skel hom nie uit oor sy reaksies nie … ook nie oor die feit dat Agas die Here nie geraadpleeg het nie.

Nee, God gee vir hom ’n boodskap van bevryding en van hoop. “Kyk, dit sal nie gebeur nie.” Ek sal nie toelaat dat jy ondergaan nie. Die bedreiging is nikswerd nie.

Dit leer ons dat God nie kwaad is vir mense wat bang is nie. God is nie vies vir mense wat vertwyfeld is nie. God skel nie mense uit wat sukkel om hulle omstandighede te hanteer nie. Nee – Hy help hulle. Hy troos. Hy stel gerus. Hy bring verandering. Hy moedig aan. Hy gee hoop … selfs wanneer Hy nie eers genader word vir hulp nie.

Dit is so noodsaaklik dat ons dié boodskap hoor. Dat die gedagtes ons Godsbeeld vorm. Want as ons bang raak of vertwyfeld raak, is ons geneig om te dink dat God vir ons kwaad sal wees daaroor. En dan krimp ons in mekaar – soms juis weg van God af. Dit terwyl dit mos juis dié tye is waarin ons God nodig het, waar Hy God kan wees, waar Hy kan doen wat ons nie kan nie. Reg deur die geskiedenis is dit immers die ervaring van die mense van God – dat God begryp as ons bang raak en ons harte soos bome in die wind bewe en dat Hy uitkoms gee.

Soos die vrou wat die week vir my haar getuienis gegee het onder andere oor ’n geleentheid 18 jaar terug toe sy net voor Kersfees in die nood was – met ses kinders en ’n man wat in die hospitaal lê – en niks vir Kersfees gehad het nie, selfs nie petrol vir die motor om haar man te gaan besoek nie. En toe saam met die kinders gebid het vir uitkoms. Die 24ste het ’n skaap en kruideniersware en R200 (vir dié tyd ’n aardige bedraggie geld) hulle opwagting gemaak! God gee uitkoms. Hy gee konkreet hier en nou.

Dit is wie God is, en ons moet dit weer hoor van Hom, sodat ons na Hom toe met ons vrees sal gaan, by Hom sal gaan skuiling soek teen die winde wat woed teen die bome van ons hart. God gee konkrete beloftes vir die bedreiginge in ons lewens en Hy staan in vir die uitkoms daarvan.

Jesaja 7:9a – Oor geloof – Episode twee
9b Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.

2. Geloof laat God se beloftes in vervulling gaan
In die kortste van die vyf episodes, maak die Here die deur na die vervulling van sy beloftes wawyd oop. Dit word negatief gestel, so asof die Here geweet het wat Agas daarmee gaan doen: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.” (vers 9)

  • Ou vertaling: “As julle nie glo nie—voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!”
  • NIV: “If you do not stand firm in your faith, you will not stand at all.”

Die bedoeling van dié vers is baie moeilik om vas te vang, aangesien dieselfde Hebreeuse werkwoord vir albei sinsnedes gebruik word: “As jy nie vas glo nie, sal jy nie vas kan bly glo nie”, dws sal jy tot niet gaan.

Wat vra God dus van Agas? Dat Hy God sal glo en dat Hy sal vasstaan in die geloof dat God sy belofte sal hou.

NB – dis nie die geloof in ’n wens of ’n behoefte wat jy vervul wil hê nie, waarvan Jesaja praat nie! Dit is mos baie keer wat ons doen: ek wil hê iemand moet gesond word, dan glo ek dat hy sal gesond word en staan vas in die geloof in my behoefte, in plaas daarvan om van die Here sy belofte te kry en dít te glo. Jesaja praat dus van geloof in ’n konkrete belofte van die Here, en dat God dié spesifieke belofte sal vervul.

Agas moet dus nie glo dat sy eie planne sal uitkom nie, maar dat die plan wat die Here vir hom gee, sal uitkom. Die plan was duidelik en het ingehou dat hy nie ’n vennootskap met Assirië sou aangaan nie en dat hy hom nie sou laat afskrik deur die twee nasies wat teen hom opgetrek het nie, al het hy tevore al probleme met hulle gehad soos 2 Kronieke 28 vertel.

Hy moes nie terugdeins nie, ook nie aanval sonder ’n bevel van die Here nie, ook nie uit die penarie probeer kom deur ’n vennootskap met Assirië nie. Hy moes doodgewoon vertrou dat die Here ’n pad uit sou voorsien.

En hoe reageer Agas? Die teks sê dat hy niks gedoen of gesê het nie! Geen reaksie nie. Stilte. Assirië is mos daar. Agas sal self sy vrees besweer! Geloof? Ja … maar nie in God nie – in Assirië.

Jesaja 7:10-12 – Oor tekens, skynheiligheid en ongeloof – Episode drie
10 Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê:
11 Vra van die Here jou God ‘n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.
12 Maar Agas het geantwoord: “Ek sal niks vra nie, ek sal die Here nie tart nie.”

3. Skynheiligheid is ongeloof
Die ongelooflike is – God stap nog ’n tree verder. Hy word nie afgesit deur die stilte en die agteraf gekonkel nie. En om geloof vir Agas – en ook vir die volk – nog makliker te maak, gee die Here vir Agas verlof om ’n teken te vra, ’n teken wat vir hom iets konkreets sal gee om aan vas te hou. Enigiets, diep uit die doderyk, of uit die hoogtes daarbo.

Dit is wat God met bang mense doen – onthou die verhaal van ’n Gideon, wat selfs omgekeerde tekens gekry het. “Here laat die skaapvelletjie nat wees en die grond droog. Here laat die skaapvelletjie droog wees en die grond nat.”

En dan skop Agas se skynheiligheid in. Sy teologie laat nie tekens toe nie. “Ek sal niks vra nie, ek sal die Here nie tart nie.” (vers 12) Hoe ironies – Agas weier die teken van God … en só weier hy vir God self! Hy weier dat God help. Hy sal self regkom.

Hoekom weier hy die teken? Omdat die teken van hom geloof sou vra … en geloof sou van hom gehoorsaamheid vra. En hy sou die band met Assirië moes los en op God vertrou het vir die pad in wêreldpolitiek. Hy weier omdat dit hom te veel sou kos en hom sou oorlaat aan die belofte van die Here.

Maar dit is nie wat hy sê nie. Nee hy spreek sy skewe teologie uit, dat tekens God sou uittart, wat net ‘n halwe waarheid is. God self bied immers vir hom ‘n teken aan. Op die minste moes dit sy teologie verander het! Sy weiering is dus skynheilig en verraai sy diepgaande ongeloof.

Jesaja 7:13-16 – Oor God se reaksie op ongeloof – Episode vier
13 Toe sê Jesaja: “Luister, geslag van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei?

14 Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.

15 Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is.

16 Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

4. Ongeloof keer nie die vervulling van God se beloftes nie
Die wonderlike van God, is dat selfs die skynheilige ongelowige Agas Hom nie keer om te doen wat Hy belowe nie. Toe Agas nie ’n teken wou vra nie, gee God self ’n teken. In sy genade sê God, ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel … God met ons … noem. En voordat hy oud genoeg is om verstand te hê, sal die koninkryke van die Arameërs en die Israeliete verwoes wees.

Hoekom doen God dit? Omdat die teken bedoel was vir die volk, om hulle moed te gee. En nie net vir hulle nie! Dit was ’n teken wat ook verdere rimpelings sou veroorsaak in die geskiedenis van God se volk, met die geboorte van Jesus wat as ’n verdere vervulling van dié profesie sou dien. En die betekenis daarvan het die beste boodskap van alle tye geword, die diepste bedoeling van wat ons met Kersfees vier.

En soos die geskiedenis ons leer, het die belofte reeds in daardie tyd waar geword.

Die Godsbeeld wat ons hieruit kry, is dat God sy bedoelings uitvoer, dat niks sy plan omvêr kan werp nie, dat alles uiteindelik ten goede meewerk, vir dié wat Hom liefhet en in Hom glo.

Jesaja 7:17-25 – Oor God se oordeel – Episode 5
17 “Wat jou, jou volk en jou familie betref, die Here sal ‘n tyd oor julle laat kom soos daar nie was sedert die dae toe Efraim van Juda af weggebreek het nie. Dit sal gebeur deur die koning van Assirië.

18 “In dié tyd sal die Here fluit vir die vlieë ver langs die riviere van Egipte en vir die bye in Assirië.

19 Hulle sal almal kom en gaan sit in die steil klowe en in die rotsskeure en op al die doringbosse en by al die drinkplekke.

20 “In dié tyd sal die Here julle kaalskeer, die hare op julle koppe en op julle liggame, en ook julle baarde. Hy sal dit doen met ‘n skeermes wat oorkant die Eufraat gehuur is, die koning van Assirië.

21 “In dié tyd sal iemand wat net ‘n jong koei en twee ooie aan die lewe hou,

22 dikmelk hê om te eet danksy die oorvloed melk wat hulle gee. Dié wat in die land oorbly, sal almal dikmelk en heuning eet.

23 “In dié tyd sal elke stuk grond waar ‘n duisend waardevolle wingerdstokke gestaan het, oortrek wees van dorings en dissels.

24 ‘n Mens sal daar net met ‘n pyl en boog kan kom, omdat die hele land vol dorings en dissels sal wees.

25 Uit vrees vir die dorings en dissels sal niemand meer êrens op die heuwels kan kom wat voorheen met ‘n pik bewerk is nie. Dit sal net ‘n plek wees waar ‘n mens beeste injaag en wat deur kleinvee vertrap word.”

5. Oordeel volg op ongeloof
Tragies genoeg, was die teken wat selfs tot vandag toe vir ons vreugde bring, vir Agas ’n oordeelsteken. Sy ongeloof en gebrek aan vertroue, het God se genade in God se oordeel verander. En dié oordeel sluit ook ’n oordeel oor die vennote wat Agas gekies het – Assirië – in.

Die interessante is dat op die korttermyn die beroep op Assirië gehelp het. Die Arameërs en die Israeliete is vernietig deur Assirië en spesifiek Israel is hierna in 722 vC in ballingskap weggevoer, soos ons lees in 2 Konings 16 en verder.

Maar – dit het beteken dat Assirië ’n houvas gekry het op Juda en hulle ’n tyd van onderdrukking binne gegaan het. Eers in die tyd van Hiskia – Agas se seun – het daar weer hoop vir Juda gekom, hoewel Hiskia ook nie enduit met die dien van die Here volgehou het nie.

Agas het maar 36 jaar oud geword en net 16 jaar geregeer. En hy het in ongeloof gesterwe, ver van die Here af.

God laat nie met Hom mors nie. Geloof is nie onderhandelbaar nie. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. Oordeel volg op ongeloof. En dit bly waar ook vir ons vandag.

Wat leer ons hieruit?
Ons hele lewe moet gelewe word uit die beloftes wat God ons gee.

Daar is algemene beloftes, wat die deel van elke kind van God is, en wat die basis vorm van ons lewe met God. Dinge soos:

  • Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. (Joh 1:12)
  • “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh 10:28)
  • “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Rom 8:28)

Daar is spesifieke beloftes, meesal gekoppel aan opdragte, wat God gee aan sy kinders in spesifieke omstandighede, wanneer ‘n teks of ‘n gedagte onder gebed net só ‘n spesiale betekenis in ‘n konkrete situasie vir jou verkry, dat jy weet dít is vir my.

  • Ek kan voorbeelde uit my eie lewe gee, Sag 3:7, 1 Kor 9:19, maar dit is deel van my persoonlike storie met God en ‘n onderwerp vir ‘n ander dag – predikers kan hulle eie stories invoeg.

Die punt is, elkeen van ons moet ook dié pad loop, die pad van die spesifieke beloftes van die Here. Ons moet leer om in die wisselwerking tussen ons lewe (uitdagings, krisisse, geleenthede) en die woorde van God in Bybelstudie en gebed, die spesifieke woorde van God vir ons alledaagse lewe, te begin ervaar. Dán kan ons leef uit die beloftes en opdragte wat God vir ons gee.

Geloof in die God van die beloftes is ‘n vereiste
Daar is `n noue verband tussen geloof en die spesifieke beloftes van God wat in die werklikheid van ons lewe aan die werk spring. En dit gaan nie hier om geloof in die algemeen nie, geloof in Jesus vir jou saligheid nie. Nee, dit is geloof wat ‘n keuse, ‘n optrede vra, hier en nou.

In Agas se geval moes hy sy ongelowige politieke planne laat vaar en vertrou dat die beloftes wat alreeds voorheen aan hom en sy vaders gegee is – dat God hulle God sal wees – en hier konkreet hernu word in die uur van hulle krisis – dat Resin en Peka oorwin sal word – waar sal word.

Maar daar is ‘n vereiste. Agas en Juda sal slegs teen die Arameërs en Efraimiete kan standhou as hulle in die Here bly glo en net op Hom vertrou (9b): “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.” Die Here sal oorwinning gee, maar eis geloofsvertroue in Hom as Here.

Daar kom tye wat uiterlike vroomheid en innerlike ongeloof identies is, en soos Kaiser sê: “where man in his egotism hides from the call of the living God, uttered here and now, behind his piety …” Jy gaan deur die motions, maar jou hart is ver van God af. Jy weet wat God sê, maar jy bly stil en jy vertrou nie op Hom nie.

Ek weet nie wat op die oomblik in jou lewe gebeur nie, watter uitdagings jy ervaar nie, wie die Resins en die Pekas in jou lewe is nie. Maar ek weet dat dieselfde wat van Agas gegeld het, vir jou en vir my geld. As ons nie met geloof reageer op die beloftes van die Here vir ons konkrete werklikhede nie, sal ons nie standhou in die uitdagings nie. God sal optree en sy beloftes waar maak … vir dié wat Hom vertrou.

Jy sou ‘n teken van God kon vra
Jy sou ‘n teken van die Here kon vra. Immers dit is wat God vir Agas wou doen en inderdaad gedoen het.

Ons moet net baie seker maak oor ons motiewe. Kaiser sê oor tekens: “It can be a sign of unbelief to ask for a sign, and it can be a sign of unbelief to refuse a sign. The criterion is whether man is ready to expose himself to the future laid down by his God and subject himself to his will.”

Is jy bereid om te doen wat die Here van jou vra en waarvoor sy belofte in die eerste plek bedoel is? Dan kan tekens help. Anders kan tekens in jou pad gaan staan.

Baie Bybelfigure het omstandighede en toetse gebruik om God se teenwoordigheid in gegewe situasies te bepaal.

  • Soms het dit natuurlike of normale behoeftes behels.
    • Jakob sal die Here as sy God aanvaar as die Here hom brood gee om te eet, klere om aan te trek en hom in vrede na sy vader se huis laat terugkeer (Gen 28:18-22).
  • Op ander tye is wonder-tekens van God gevra.
    • Moses vra `n teken om die Israeliete te oortuig dat God agter sy leierskap was en God gee twee wondertekens (Eks 4:1-9).
  • Jesus het self gewone tekens en wonders van God se mag in sy bediening gebruik.
    • Met die verlamde man (Luk 5:20 ev) spreek Jesus eers woorde van vergifnis. Toe die mense Jesus beskuldig van Godslastering omdat Hy sê sy sondes is vergewe, gee Hy `n wonder-teken van God se mag. Hy genees die verlamde man as bewys “dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe” (Luk 5:24).
    • In Matteus 12:38 en verder verwerp Jesus sy tydgenote se aandrang op `n teken en belowe slegs die teken van Jona. Hy maak die geloof deur sy prediking opgeroep, die enigste bewys van sy gesag.

Ons kan en mag vra, maar beloftes is nie afhanklik van tekens nie. Dit is afhanklik van ‘n egte ontmoeting met die Here deur sy Woord en deur gebed, binne die netwerk van verhoudinge van sy liggaam, die kerk.

Josef – die teenoorgestelde van Agas
Ek sluit af. Dié teken aan Agas is herhaal aan Josef in die Nuwe Testament – Mat 1:18-25. Josef se bedreiging was ’n swanger verloofde en wat God en die gemeenskap daarvan sou kon dink. Toe die Here hom gerusgestel, beloftes oor die Seun vir hom gee en ’n toekomsvisie vir die volk aan hom openbaar, het Josef God geglo en met Maria getrou.

Ander omstandighede, dieselfde belofte, dieselfde oproep tot geloof. En Josef het God geglo.

Mag ons soos Josef wees – ook in hierdie Kersgety – en aan God, sy opdragte en sy beloftes vashou.

God stuur ons om te leef

Gebed
Jesus Losser,
wees ons genadig oor vandag en veral oor gister.
Wees ons genadig…
Dankie vir ‘n vergeefde verlede.
Christus Gesalfde,
lei ons in die onbekendheid van môre en oormôre.
Lei ons…
Dankie vir ‘n geborge toekoms.
Immanuel, God by ons,
sluit ons in van agter en van voor.
Sluit ons in…
Dankie vir U omhelsing- nou.
(Onder die skewe reënboog, Piet Naudé: 33)

Geloofsbelydenis ahv die loflied van Maria (Lukas 1:46-56)
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
55soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”

Offergawes

Wegsending Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Seën
Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.
Mag God se vreugde jou dra ook deur tye van hartseer.
Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef.
Amen.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.