Vierde Sondag van Advent

Sections

Oorsig

Leesroostertekste

Ander tekste

Hebreërs 10:5-10
5Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld:
“Dit is nie diereoffer en graanoffer
wat U wou hê nie,
maar die liggaam wat U
My gegee het.
6Brandoffers en sondeoffers
het U nie behaag nie!
7Toe het Ek gesê:
Kyk, Ek het gekom, o God,
om u wil te doen.
In die boekrol is dit
van My geskrywe.”
8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.

Lukas 1:47-55
Die loflied van Maria
46En Maria het gesê:
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
48omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke
nuwe geslag my gelukkig noem,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
55soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”

56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

Lukas 1:39-45
Maria besoek Elisabet
39Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na ’n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. 40Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hard uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue
en geseënd is die vrug
van jou moederskoot!
43Waaraan het ek dit te danke
dat die moeder van my Here
na my toe kom?
44Kyk, net toe die geluid van jou groet
in my ore klink,
het die kindjie in my
van vreugde beweeg.
45Gelukkig is sy wat glo
dat in vervulling sal gaan
wat die Here vir haar gesê het!”

Sleutelteks

Miga 5:2-5a

Miga 4:14-5:8
4:14Sny jouself maar stukkend, strydlustige vrou! Ons word beleër en die regter van Israel word met ‘n stok op die wang geslaan! 5:1“Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om ‘n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.”

2Dit is waarom die Here hulle sal oorgee tot die tyd aanbreek vir ‘n swanger vrou om geboorte te skenk. Dan sal die res van sy volksgenote terugkeer saam met die Israeliete. 3Hy sal optree en as herder lei deur die krag van die Here, deur die grootheid van die Naam van die Here sy God. Hulle sal veilig gevestig wees, want dan sal hy magtig wees tot aan die uithoeke van die aarde. 4“Hierdie een sal ongedeerd wees. Wanneer Assirië ons land binnekom, sy voete in ons vestings sit, sal ons sewe herders, ja, agt stamhoofde uit die mense teen hulle opstel. 5Hulle sal die land Assirië met die swaard kaalstroop, die land van Nimrod met dolke.

Hy sal ons van Assirië red wanneer hulle ons land binnekom en ons grense oorsteek. 6Die oorblyfsel van Jakob sal tussen al die nasies wees soos dou wat van die Here kom, soos sagte reën op gras, wat niks van ‘n mens verwag nie, geen hoop op mense vestig nie. 7Die oorblyfsel van Jakob sal tussen die nasies, te midde van baie volke, soos ‘n leeu tussen wilde diere wees, soos ‘n jong leeu onder ‘n trop kleinvee: As hy verbygaan en vertrap en verskeur, is daar niemand wat red nie. 8Mag jy die oorhand hê oor jou teenstanders; ja, al jou vyande – laat hulle uitgeroei word!

Perspektiewe op beloftes in die teks
Hoofstuk 4-5 van Miga vorm die hart van die boek se boodskap as ‘n noodsaaklike kontrapunt met die oordeelsuitsprake van hoofstuk 1-3. Die belofte van hoop word as volg opgebou.

  • Miga 4:1-8 – Aan die einde van die dae sal Jerusalem ‘n blywende ontmoetingsplek vir die nasies wees.
  • Miga 4:9-13 – Die Here sal die vermorseling van die ballingskap verander en sy volk die oorhand oor die nasies gee.
  • Miga 4:14-5:8 – Die Here sal ‘n sterk leier, ‘n heerser, gee om hulle te red tot seën van die nasies.
  • Miga 5:9-14 – Die Here sal alle afvalligheid van Hom beëindig ook onder die nasies.

In direkte kontras met die vasgevaldheid van hulle beleëring en ballingskap sal die Here Iemand stuur wat tot hulle redding sal verskyn. Hy kom uit Bethlehem-Efrata en sal bekend wees as iemand wat aan die Here behoort. Trouens: “Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.

Daarmee verwys Miga waarskynlik na die begin van die Dawid geslagslyn, hoewel dit uit die NT toepassing hiervan duidelik op Jesus dui, en daarom op sy Goddelike bestaan kan dui (Matt 2:1-6). Miga het natuurlik nie dié konnotasie gemaak nie, en het verwag dat dit in sy tyd al ‘n effek sal hê om die Assiriërs die loef af te steek, iets wat onder die heerskappy van Hiskia gebeur het (vers 4 – vgl. Jes. 36-37).

Hierdie Heerser sal die volk lei deur die krag wat die Here hom gee. Hy sal sorg dat sy volk tot ‘n seën van die nasies sal wees, presies wat God met hulle van die begin af wou doen.

God se droom vir sy mense is van altyd af dat Hy só ‘n werklikheid vir hulle sal wees dat hulle ‘n ontmoetingsplek sal wees vir die nasies met Hom. Die patroon is en was nog altyd: God seën ons om tot ‘n seën te wees. Dit is sy onwrikbare verbintenis en belofte aan ons.

Dit is ook uit daardie hoek wat ‘n mens die hele bediening van die Here Jesus Christus moet verstaan. Hy is die regeerder-leier wat na vore gekom het en sy volk lei deur die krag wat die Here Hom gegee het. Hy is die een wat uit ‘n maagd gebore is, wat vrede gebring het, en steeds besig is om dit te vestig in sy koninkryk.

Inleiding 
Die vierde Sondag in Advent word gekenmerk deur liefde. Dit is egter nie met die eerste oogopslag duidelik hoe hierdie tekste met liefde verband hou nie. Tog, sodra ons dieper lees, sien ons dit duidelik: Dit is dáárdie Liefde wat deur al die eeue en aan die ganse skepping – maar veral en eerste aan die geringstes – liefde en trou betoon. As ons dit só sien, is die lang storie wat hier vertel word – van die Here se beloftes in Miga tot by opgewondenheid oor Christus se koms in Lukas – ‘n liefdesmanifes. Dit getuig van God se aktiewe liefde wat vír God se skepping kies.

Die hoop op God se herstel en die liefdevolle ingryping waarvan Miga getuig, weerklink die ewigheid in. In Lukas 1:39-45 hoor ons dan hoe Johannes die Doper reeds voor sy geboorte begin ritsel van opgewondenheid oor die koms van Christus. Nie net Johannes nie, maar ook sy ma, Elisabet. Nie net hulle nie, maar dan ook Maria en Sagaria. Die vierde Sondag in Advent word op dié manier ‘n geleentheid om, saam met hierdie stemme, die eeue oue liefdeslied te sing! Nie net op Sondag in die kerk nie (hoewel dit móét gebeur), maar ook in en met ons hele lewe.

Steeds is alles nog nie gesê nie. Hierdie liefdeslied – wat mooi in die preekstudie verduidelik word – is nie maar ‘n soetsappige liefdeslied wat gemaklik op almal se ore val nie. Dit is ook ‘n proteslied: Dit skreeu teen alle vorme van liefdeloosheid en dit waag om oor ‘n nuwe, liefdevolle toekoms te droom. Dit kom vanuit plekke waar ons dit die minste verwag. Só het dit weerklink by Miga, Elisabet, Maria, Sagaria en Johannes die Doper. Só kan ons ook sing: liefde teen liefde. In die woorde van Adam Small: “Kô, lat ons sing!”

Liturgie

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar sowel as van vorige bydraes by Preekriglyne. Bestel produkte by www.bmedia.co.za of sluit aan by missio.org.za.

Advent is die tyd in die kerklike jaar wat ons gereed maak vir die koms van die Here en die aanbreek van sy koninkryk. Dit is ʼn tyd van afwagting waarin ons bewus word God se dade, in die verlede, die hede en die toekoms.

Steek die kerse aan indien die Adventskrans gebruik word.

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Uit Lukas 1)
Ek besing
die grootheid van die Here,
ek juig oor God, my Verlosser,
Hy wat magtig is,
het groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.

Seëngroet  
Kom wandel in die teenwoordigheid
van die liefdevolle God.
Mag ons harte van vreugde jubel,
en ons lippe van dankbaarheid sing,
sodat ons van God se liefde kan getuig,
en Christus in ons midde kan verwelkom.
Amen.
– Tematiese gebed, Vierde Sondag in Advent, Jaar C, uit Vanderbilt Revised Common Lectionary

Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Wet: (Jesaja 7 en Matteus 1)
Lees die teks as “oproep om gereed te maak vir die koms van die koning.”
10Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê: 11Vra van die Here jou God ’n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.
12Maar Agas het geantwoord:
“Ek sal niks vra nie,
ek sal die Here nie tart nie.”
13Toe sê Jesaja:
“Luister, geslag van Dawid!
Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem. 15Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. 16Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:
23“Die maagd sal swanger word en
‘n Seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem.”
Die naam beteken God by ons.

Skuldbelydenis
Vergewe ons Here waar die wederkoms van Jesus nie vir ons ‘n werklikheid is nie,
waar U beloftes vir ons net vae herinnerings is,
waar ons ongeloof sterk ooreenkom met die verslae dissipels wat eers later verstaan het.
Ons glo dat Jesus as die Seun van God sowat 2000 jaar gelede vir Maria en Josef gebore is
en ons glo dat hierdie Jesus, wat gekruisig is, opgewek is en na die hemel opgevaar het,
weer gaan terugkom soos die engele belowe het. Amen

Vryspraak (Handelinge 1)
Herinner die gemeente elke week, na die wet as oproep om gereed te maak vir die belofte waarna ons met verwagting uitsien.

9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Loflied 344 “O die goeie tyding vs 1,2,3”

Geloofsbelydenis: met Kersfees (Teks uit DB)
Ek glo in Jesus Christus,
afstammeling van Abraham, met wie God ‘n verbond gesluit het,
en van Dawid, die groot koning van Israel.
Jakob was die pa van Josef, die man van Maria, die vrou wat Jesus in die wêreld gebring het.
Ek glo in Jesus Christus,
vooruit aangekondig deur God se engel Gabriël,
ontvang van die Heilige Gees,
met die naam Jesus, om sy volk van hulle sondes te verlos;
met die naam Immanuel, om God by ons te wees.
Ek glo in Jesus Christus,
deur God beskik vir geboorte in Bethlehem,
sonder Augustus en Sirenius se beterwete.
Saam met Maria juig ek oor God my redder,
want Hy het ook groot dinge aan my gedoen.
Saam met die sterrekeykers wat goud en wierook en mirre aanbied,
kom bied ek myself aan,
uit dankbaarheid vir God wat onder ons mens geword het.
Saam met die skaapwagters verstom ek my
oor die engelekoor in die hemelruim.
En saam met die engele juig ek:
die goeie nuus is vir die hele volk bedoel-
die Redder is in die stad van Dawid gebore!
Dit is die Messias wat mense van hulle sonde sal vrymaak,
die kind in die houtkrip
wat sy roeping sou vervul aan ‘n houtkruis.

Loflied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3”

Epiklese Laat God jou liefhê
Wees stil.
Wees.
Alleen
Leeg.
Voor jou God.
Moenie iets sê nie.
Moet vir niks vra nie.
Wees net stil.
Wees.
Laat toe dat God na jou kyk.
Dit is al.
God weet.
God verstaan.
God het jou lief.
Met ’n brandende liefde.
Dit is al wat God begeer:
om na jou te kyk,
met hierdie liefde.
Wees stil.
Wees.
Laat jou God toe
om jou lief te hê.
– Edwina Gateley, Let your God love you (vry vertaal)

opsionele byvoeging:
Mag die woorde van my mond
en die oordenking van my hart
welbehaaglik wees voor u aangesig,
o Here, my rots en my verlosser!

Skriflesing: Miga 5:2-5

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Seën
Mag God ons Vader self en ons Here Jesus
ons pad na mekaar toe oopmaak!
En mag die Here ons liefde vir mekaar en vir alle mense
laat groei en oorvloedig maak.
So sal Hy julle innerlik sterk maak
dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan
wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele.
Amen.
– uit 1 Tessalonisense 3:9-13

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Liedere

F32. “U Is My Krag En My Beskerming”
(RUBRIEK:  Kruisfuur /FLAM Gemeentesang – Verwondering / Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Mariëtte Labuschagne
© 1995  MAR Gospel Music Publishers
(Psalm 28:7)

U is my krag en my beskerming.
By U kan ek skuil in my nood.
U dra my, U versterk my.
U troos my, U omhels my.
U liefde is groot.
Dankie, my Heer.

F319. “Want ‘n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
(RUBRIEK:  Flam Gemeentesang / Flammikidz – Kersfees)
Oorspronklik: Immanuel
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr vertaling: Faani Engelbrecht
© 1993 Celmar Music

1. Want ‘n kind is vir ons gebore
God het Sy Seun aan ons gegee
Die heerskappy rus op Sy skouers
En Sy Naam sal wees

Refrein:
Wonderbare Raadsman, Magtige God
Ewige Vader, die Vredevors
Immanuel,
God met ons
Immanuel,
God met ons
Immanuel

2. Want so lief het God die wêreld
Hy het Sy Seun aan ons gegee
Sodat die wat nou in Hom glo
Leef tot in ewigheid

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Carolyn Brown gebruik die keuse van Bethlehem as tema vir die oordenking met die kinders. Dit is hier beskikbaar by:

Micah 5:2-5a
Point to Bethlehem on a map.  Describe it as a very small town.
Compare it to a small town in your area.

Then, especially if you preached on it during the summer, recall King David.  Briefly retell the story of Samuel going at God’s direction to little no-place Bethlehem to find the next king and then going through 7 big brothers before calling in the baby brother who had been left tending the sheep and anointing him king.

1 Samuel 16:1-13 ()

Samuel salf ’n ander koning
16 Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak ’n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My ’n koning.”

2Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.”
En die Here sê vir hom: “Neem ’n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here ’n offer te bring.’3Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.”

4Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: “Kom u in vrede?”

5En hy het gesê: “Ja. Ek het gekom om vir die Here ’n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.”
Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. 6Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here.

7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

8Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 9Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 10Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11Daarop het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op.”
Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie.” 12Isai het hom laat haal. Hy het ’n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en ’n goeie voorkoms.
Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”

13Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.

Then with a laugh say, “Guess what?  It happened again.”

Describe how Mary and Joseph end up not just in Bethlehem, but in a barn in Bethlehem on a forced trip to pay hated taxes.  The point is that God shows up in some surprising places – even in Bethlehem.  So, we should expect to find God at work in surprising places today too.

Lukas 2:1-7 ()
Die geboorte van Jesus

(Matt 1:18–25)
2 In daardie tyd het keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.

4Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

God even shows up at school, at your house, while you are on a holiday trip…..  Thank God for being with us and challenge worshipers to watch for God at work all around them.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied

Lied 335/NSG 72 “Die Heiland is gebore”

Gebruik as meditasie Judith Sephuma se “You had your hand on me” óf Brenda Mtambo se “I remember“.

Aanvangswoord
V: Gelukkig is sy wat glo
dat in vervulling sal gaan
wat die Here vir haar gesê het.
G: Al kan ons U nie nou sien nie, Here, 
kan ons U reeds aanvoel. 
U koms wek vreugde in ons op!

V: Kom ons besing dan, soos Maria en Elisabet,
die grootheid van ons Here:
G: Ons juig oor God, ons Verlosser,
omdat U in ons geringheid 
na ons omgesien het.
U het groot dinge laat gebeur. 
Heilig is u Naam!
U bewys ontferming
van geslag tot geslag.
Kragtige dade het U verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het U uitmekaargejaag;
maghebbers het U van trone af geruk 
en geringes verhoog;
behoeftiges het U oorlaai met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
U het ons te hulp gekom
deur te dink aan u beloftes van ontferming
soos U dit toegesê het aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag,
tot in ewigheid. 

V: Here, ons bely …
G: dat ons medepligtig was aan liefdeloosheid en ongeregtigheid. 

V: Here, ons bely …
G: dat ons self hoogmoedig is. 

V: Here, ons bely …
G: dat ons die armes verdruk en rykes verhef het. 

V: Here, ons bely …
G: dat ons eers na ons eie behoeftes omgesien het, 
en nie die behoeftes van ander raakgesien het nie. 

V: Here, ons bely …
G: dat ons u ontferming vir ons wou toe-eien, 
sonder om te sien dat U U oor elke mens en dier ontferm. 

V: Here, ons bely …
G: dat ons die goeie gawes wat U vir ons gegee het, nie gedeel het nie.

V: Met al hierdie dinge en meer kom ons na U toe, Here.
Gee dat ons nou, in u teenwoordigheid, nuut sal word.
Mag ons, soos u profete ons geleer het:
geregtigheid – “liefde in aksie” – doen,
genade en barmhartigheid liefhê,
en in nederigheid (ootmoedigheid) saam met U wandel.
Amen.
– uit Lukas 1:39-55

As alternatief, gebruik Alan Storey se Call to worship.

Seëngroet
Kom wandel in die teenwoordigheid
van die liefdevolle God.
Mag ons harte van vreugde jubel,
en ons lippe van dankbaarheid sing,
sodat ons van God se liefde kan getuig,
en Christus in ons midde kan verwelkom.
Amen.
– Tematiese gebed, Vierde Sondag in Advent, Jaar C, uit Vanderbilt Revised Common Lectionary

Lofprysing
Lied 334 “God is liefde!”

Diens van die Woord

Gebed met opening van die Woord
Sien Allan Boesak se “Advent Credo” in die basisliturgie. Hierdie gedig kan daarmee saam gebruik word:

Advent Antiphons
From Mary’s sweet silence,
Come, Word mutely spoken!
Pledge of our real life,
Come, Bread yet unbroken!
Seed of the Golden Wheat,
In us be sown.
Fullness of true Light,
Through us be known.
Secret held tenderly,
Guarded with Love,
Cradled in purity,
Child of the Dove,
COME!
– Sr M Charlita, IHM

Gebed
Troue Herder,
laat ons ervaar hoe ons bekers oorloop,
al lyk dit of liefdeloosheid, afguns en jaloesie in die wêreld wen;
en wreedheid, geweld en moord;
en apatie, seer en donkerte;
en gierigheid;
en vraatsug;
en seksuele wellus, ekonomiese wellus
en sosiale wellus
(wellus – die maak van die medemens tot ‘n ding – verdingliking);
en hoogmoed en arrogansie waar mense dink
ons is die magtigste,
ons idees is die beste,
en ons is moreel en geestelik meerderwaardig.
Laat ons beker steeds oorloop, Heer,
van Gods vergewende liefde,
Gods verlossende liefde,
Gods bevrydende liefde,
Gods oorwinnende liefde.
Amen.
– NN Koopman, aangepas

Diens van die Tafel

Nagmaal
Hier is ‘n gebed vir gebruik as meditasie saam met die nagmaalsformulier:

Laat God jou liefhê
Wees stil.
Wees.
Alleen.
Leeg.
Voor jou God.
Moenie iets sê nie.
Moet vir niks vra nie.
Wees net stil.
Wees.
Laat toe dat God na jou kyk.
Dit is al.
God weet.
God verstaan.
God het jou lief.
Met ‘n brandende liefde.
Dit is al wat God begeer:
om na jou te kyk,
met hierdie liefde.
Wees stil.
Wees.
Laat jou God toe
om jou lief te hê.
– Edwina Gateley, Let your God love you (vry vertaal)

God stuur ons uit

Slotlied
F386 “Mag die God van Hoop”

Seën
Mag God ons Vader self en ons Here Jesus
ons pad na mekaar toe oopmaak!
En mag die Here ons liefde vir mekaar en vir alle mense
laat groei en oorvloedig maak.
So sal Hy julle innerlik sterk maak
dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan
wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele.
Amen.
– uit 1 Tessalonisense 3:9-13

Teks en konteks – Miga 5:2-5a
Woord en Fees is ‘n besondere bron met agtergrond oor die teks en liturgiese insette. Besoek gerus www.missio.org.za. Meegaande preekskets maak gebruik van insigte uit woord en Fees.

Preekvoorstel

Dit is vandag die vierde Sondag in Advent. Hierdie Sondag word gekenmerk deur liefde. Ons teks getuig van God se liefde en trou teenoor God se volk. Dit is dáárdie Liefde wat deur al die eeue en aan die ganse skepping – maar veral en eerste aan die geringstes – liefde en trou betoon. Die verhaal van God se liefde is ‘n láng verhaal. Dit strek van die Here se beloftes in Miga tot by opgewondenheid oor Christus se koms in die Evangelies – ‘n liefdesmanifes. Dit getuig van God se aktiewe liefde wat vír God se skepping kies.

Die profeet Miga

Miga was ‘n tydgenoot van Jesaja, en het waarskynlik ongeveer tussen 742 en 687 v.C. as profeet opgetree.

Die eerste hoofstukke van Miga is ‘n massiewe oordeelsaankondiging. Nou skuif die perspektief. Ná die voorafgaande hoofstukke skets ons teksgedeelte ‘n situasie van nuwe hoop en verwagting.

Waar dit in die eerste drie hoofstukke hoofsaaklik oor oordeelsuitsprake gegaan het, gaan dit hier oor die koms van die beloofde koning wat as herder sal optree. Teen hierdie tyd is dit ‘n bekende beeld vir die Here in die Ou Testament.

Die herder-beeldspraak word in die Ou Testament boonop met verwysing na die komende Messias toegepas (Sag 11:4-17; Joh. 10:1-10). In Esegiël 34 word die slegte herders met die goeie herder gekontrasteer. Skape het volgehoue sorg en beskerming nodig, want hulle is hulpelose, weerlose en maklik beïnvloedbare diere.

Terloops, as Miga noukeurig bestudeer word, kom die tema van oordeel en dan weer hoop of verlossing soos ‘n klassieke pingpong-spel telkemale oor en weer na vore.

Miga 5:2-6 is van belang vir Christene omdat dié teks in Matteus 2:6, aan die begin van die evangelievertelling, aangehaal word. Hier in Miga 5:2-5a is die boodskap dat die Here iemand sal stuur wat tot die volk se redding sal verskyn en vrede sal bring (v 4). Die vraag is hoekom hierdie belofte dat die Here iemand sal stuur om die volk te verlos, gegee word. Waarom sal hierdie persoon juis vrede wees?

Kom ons stap deur ons teks en kyk na die inhoud daarvan.

Agtergrond

Miga verwys na Jerusalem as “‘n dogter van troepe”. Dit verwys na die beroemde beleg van ongeveer 701 vC toe Jerusalem deur die Assiriese leër van Sanherib omring is. Dit was die tyd van die profete Jesaja en Miga.

Hiskia was die koning en hy het probeer om Juda tot geestelike getrouheid te herstel. Menslik gesproke kon Hiskia nie die stryd teen die Assiriërs wen nie. ‘n Groot deel van sy koninkryk was reeds verower en van Juda se beduidende stede was dit net die hoofstad wat nog bly staan het.

Die koning, wat veronderstel was om die volk uit gevaar te verlos en hulle van ‘n oorwinning te verseker, word toe self die sweepstok soos die res van die bevolking in hierdie beleërde stad. Hiskia kon nie daarin slaag om die volk te bevry en te beskerm nie.

Bethlehem-Efrata

Vers 1 begin met: “Maar jy, Betlehem-Efrata …” Die “maar” dui op die dramatiese omkeer van Juda se benarde situasie. Met die hoofstad wat deur die Assiriese leër omring was, het die profeet Miga hom tot Betlehem gewend as die simbool van Israel se hoop.

Betlehem beteken “huis van brood” of “broodspens”. Dit was die geboortedorp van Boas en later ook koning Dawid (Rut 1:1; 4:18-22). Dit was ‘n klein, landelike dorpie met omtrent 300 inwoners, sowat sewe kilometer suid van Jerusalem.

Die fokus val nou op Betlehem-Efrata. Die dubbelnaam word gebruik om die verbinding met Dawid te beklemtoon. Isai, Dawid se pa, was ‘n boorling van Betlehem (1 Sam 16:1, 18), oftewel ‘n Efratiet van Betlehem in Juda (1 Sam 17:12). Efrata was die distrik waarin die dorp geleë was. Betlehem was die gesinshuis van Dawid.

Die verwysing neem ons dus terug na die suiwer bron van Dawid se koningslyn, voor korrupsie onder opvolgende konings wat uit Jerusalem geregeer het. Die naam Efrata kan ook op familiegroepe dui wie se geskiedenis nou met Betlehem verweef was.

Betlehem-Efrata word geteken as die voortbringer of ouer van die een wat sal kom. In kontras met Jerusalem, wat in dié tyd ‘n paar keer vergroot is om die bannelinge uit die noorde te akkommodeer, is Betlehem-Efrata die kleinste onder die families in Juda. Betlehem dui dus op die nederigheid van hierdie man omdat hy van ‘n klein dorpie af kom, en nie van ‘n wonderlike stad nie. God kies telkens die kleinste en minste. Dit is ook ‘n teken dat Hy Hom met die geringstes bemoei en dat sy ingryping telkens uit die onwaarskynlikste hoek kom. Die feit dat Jesus in Betlehem gebore is, dui op ‘n nuwe begin!

Nie net nog ‘n baba nie

In Miga 5:3 omvat die geboorte van hierdie kind die hoop op ‘n nuwe heerser uit die geslag van Dawid. Dit verander die situasie van wanhoop, paniek en hopeloosheid dramaties. Hierdie kind wat gebore word, is nie sommer net nog ‘n baba nie. Die verwagting van ‘n nuwe leier wat die blywende hoop op bevryding uitspreek, word in die beskrywing van die geboorte van die kind vervat. Miga 4–5 praat van die hoop op herstel en verlossing, en van ‘n herinstelling van die koningskap wat veel verder as hierdie oorspronklike teks sou weerklink (Claassens).

Die teksgedeelte gaan verder en sê dat die redder sy mense vir ‘n kort rukkie sal prysgee. Die heerser sal opstaan en ‘n herder wees. Sy heerskappy sal tot aan die einde van die aarde wees. En daar sal vrede wees.

Die belofte van die heerser uit Betlehem-Efrata is in ‘n reeks uitsprake ingebed. Die eerste belofte is dat God sy volk uit ballingskap sal verlos. In die tweede belofte word verklaar dat God ‘n plan het – Hy werk in die geskiedenis; Hy gebruik ander nasies al sou hulle nie self daarvan bewus wees nie. Die derde belofte is dat daar ‘n heerser sal kom wat vrede sal bring.

Wat is die boodskap van hierdie teks nou vir ons situasie vandag?

Betekenis vir vandag

Hoe lyk Suid-Afrika vandag?

  • Hoe is die sosio-ekonomiese en selfs die sosio-politieke situasie in die land?
  • Wat is die psigiese gesteldheid van die landsburgers?
  • Watter uitwerking het die Covid-19-virus en die inentingsplan op Suid-Afrika en Suid-Afrikaners?
  • Hoe lyk die misdaadsyfer?

Die huidige Suid-Afrikaanse konteks mag dalk Kersfees donker en depressief laat voel, maar dit demonstreer moontlik juis die omstandighede waarin die volk hulle bevind het toe hulle deur die Assiriese leër omring was.

‘n Bekende gevoel

Ons behoort onsself in te dink in die hooploosheid wat die volk destyds ervaar het. ‘n Menslike leier waarop ons ons hoop vir ‘n beter uitkoms geplaas het, stel dalk teleur. Dalk ken en ervaar ons ook nou die gevoel van ellende, magteloosheid en moedeloosheid.

Juis daarom is die hoop op die Messiaanse koning soveel groter. Die beloftewoord aan die hulpbehoewende bevolking van Sion is dat hulle gered sal word soos Israel uit Egipte verlos is. In hierdie konteks word vrede en hoop verkondig!

Shalom

Die profeet Miga sien dalk ellende, lyding, magteloosheid, moedeloosheid, ongeregtigheid en onderdrukking, maar hy droom van shalomShalom is meer as die afwesigheid van oorlogvoering.

  • Dit behels die soort innerlike rus wat kom as jy weet wie jy is en waar jy vandaan kom.
  • Dit behels die soort voorspoed wat nie uit die opeenhoping van materiële besittings voortspruit nie, maar uit ‘n dankbare gees.
  • Dit behels die soort veiligheid wat voortkom uit die geloof dat God jou liefhet en in jou behoeftes sal voorsien.

Wanneer Miga dus van shalom droom, is dit nie shalom wat geld kan koop nie, maar omvattende shalom wat oor die welstand en heel wees van almal gaan. Shalom wat die teenoorgestelde van enige geweld, ellende en onreg sou wees. Shalom wat ‘n nuwe toekoms verseker deur ‘n koning wat goed regeer.

Die Goeie Koning

Jesus is vir ons die goeie Koning wat “op die regte tyd verskyn het”. Hy is God wat uit ‘n nederige menslike agtergrond Koning kom word en nie anders kan as om ‘n “anderste” koninkryk te kom vestig nie. God, wat Hom met die geringes en die behoeftiges bemoei, kom toon sy besonderse genade aan ellendiges, lydendes, armes, hulpeloses, moedeloses en diegene wat desperaat is. God word in Jesus sigbaar as mens wat die geringstes sy broers en susters noem.

Wat wil Miga vandag vir ons in hierdie Adventstyd kom sê, veral as die pendulum tussen oordeel en redding (heil) swaai? Wat beteken dit vir ons as die profeet alles in Jerusalem wat magtig en veilig voorkom (die stad, die mense se sosiale status, die regering), veroordeel? Wat is die implikasie as God se optrede die vals sekuriteit ontmasker, veral in ‘n tyd waarin maskers dra die “nuwe normaal” geword het?

As die sinspeling in die boek Miga oor oorlog en vrede gaan, watter oorlogvoerings is tans aan die gang in ons persoonlike lewe, ons gemeenskappe, ons gemeentes, in die kerk en in ons land?

Onverwagse oord

God se redding kom uit ‘n plek waar mense dit die minste verwag. Nie vanuit die vooruitstrewende Jerusalem nie, maar vanuit die kleine Betlehem. Hy red nie met duisende nie, maar met ‘n Gideonsbende. Hy hou Hom nie met die belangrike broers op nie, maar met die een wat nie eens belangrik genoeg geag is om by die huis te wees nie.

Die wonder van die God van Abraham, Isak en Jakob is dat Hy Hom met die geringstes bemoei en dat sy ingryping telkens uit die onwaarskynlikste hoek kom.

Miga se boek is vol kontraste. Hoe spreek dit die kontraste van vandag aan? Miga 5:1 en verder is ‘n hoopvolle uitspraak dat daar ‘n redder op pad is – juis toe die volk in ‘n staat van beleg was en al die tekens daarop gedui het dat daar nie redding was nie, selfs nie vanaf die koning wat hulle rigter of redder moes gewees het, maar toe gefaal het en verneder is nie. Hierdie gedeelte wil ons aanspoor om aan God vas te hou, want daar is vir ons ‘n Redder gebore – Hy is vir ons prysgegee en Hy sal vrede bring.

Hoopvol

As ons vanoggend vir Miga gehoor het, moet ons hoopvol hier uitgaan. Dit is wat Miga en Kersfees wil sê. Die kerk as volgelinge van Christus staan waar Hy staan, naamlik teen ongeregtigheid en by die verontregtes. Gelowiges getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belange soek en ander benadeel. Ons is kerk vir alle mense wat deernis toon en konkrete welsyn bevorder. Die ellende, lyding, armoede en hulpeloosheid kan anders lyk omdat God deur ons lewe sigbaar word, veral in dié omstandighede. Miga se droom van welstand en heel wees het met Kersfees begin en word deur die Heilige Gees in ons voortgesit, ‘n onvoltooide werklikheid wat stuk-stuk sigbaar word. Eers met Christus se wederkoms word God se koninkryk van welstand en heel wees volkome bereik. Shalom!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.