Vierde Sondag ná Epifaniefees

Sections

Oorsig

Die teks uit Deuteronomium lyk asof dit nie goed skakel met die ander drie tekste nie. Tog mag dit dalk die lens verskaf waardeur die ander tekste gelees word, naamlik die betekenis van die profetiese woord en die roeping van die profeet in ons tyd. Dus: Hoe lyk God se “alternatiewe werklikheid?” Die psalmis sê dit word gekenmerk deur die heerlikheid van God en orde. Dit begin alles by die dien van (eerder vrees van/ontsag vir) die Here.

1 Korintiërs roep op tot verhoudingsmatige etiese refleksie vry van wettisisme. Paulus sê dat my etiese aksies ander nie verder van die Here af moet weglei nie. Markus 1 kan omvattend verstaan word as die profetiese deurbreek van die koninkryk van God wat die Bose verdryf. Hier moet ook die Bose meer omvattend (bv strukturele boosheid) verstaan en ontmasker (gedekonstrueer) word.

Ander tekste

Deuteronomium 18:15-20
15Dit is Hy wat jou laat trek het deur hierdie groot en gevaarlike woestyn vol giftige slange en skerpioene, dit is Hy wat vir jou water uit die klipharde rots laat vloei het in hierdie dor land sonder water 16en wat jou in die woestyn manna laat eet het, iets wat jou voorvaders nie geken het nie. Hy het jou laat swaarkry om jou op die proef te stel en om agterna weer aan jou goed te doen. 17Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. 18Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf. So hou Hy die verbond in stand wat Hy met ’n eed aan jou voorvaders beloof het. So is dit nou nog.

19“As jy ooit die Here jou God vergeet en ander gode aanhang en hulle dien en vereer, verklaar ek vandag dat jy beslis tot niet sal gaan. 20Omdat jy dan nie gehoorsaam is aan die woord van die Here jou God nie, sal jy net so omkom soos die nasies vir wie die Here laat omkom het.”

Psalm 111
Die werke van die Here is groot
111 Prys die Here!
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes,
in die gemeente.
2Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind,
dink daaroor na.
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade
nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
6Hy het sy volk die krag van sy dade
laat ervaar,
Hy het aan hulle die land
van ander nasies gegee.
7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
8hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
10Wysheid begin
met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd
stand.

Markus 1:21-28
Die besetene in Kapernaum

(Luk 4:31–37)
21Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. 22Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

23Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge ’n man wat van ’n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: 24“Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”

25Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”

26Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. 27Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is ’n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.”

28En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

Fokusteks

1 Korintiërs 8:1-13
Die vraag oor vleis wat aan ’n afgod geoffer is
8 En nou julle vraag oor vleis wat aan ’n afgod geoffer is.
Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. 2As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat ’n mens behoort te hê nie. 3Maar as iemand God liefhet, ken God hom.

4Wat nou betref die eet van vleis wat aan ’n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. 5En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word, 6is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

7Maar nie almal het hierdie kennis nie. Daar is party van julle wat so gewoond is aan afgode dat hulle nog altyd vleis eet asof dit ’n offer aan ’n afgod is. Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar. 8Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. 9Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ’n aanleiding tot sonde word nie. 10As jy wat hierdie kennis het, in ’n afgodstempel gaan eet en iemand met ’n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie? 11Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit ’n broer vir wie Christus gesterf het. 12Deur so teen die broers te sondig en ’n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus. 13Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.

Ekstra stof

1 Korintiërs 8 – Jou vryheid mag nie ander laat sondig nie
Paulus skuif aan na die vraag oor vleis wat aan ’n afgod geoffer is, waarmee hy waarskynlik terugverwys na die spreekwoord wat hy aangehaal het in 6:13: “Die maag is vir kos, en kos vir die maag.”  Wat ’n mens ook in gedagte moet hou, is dat die situasie in Korinte so was, dat sommige van dié (sterk) gelowiges ook in die afgodstempels gaan vleis eet het (die restaurante van daardie tyd!), omdat die tempels baie keer ook die enigste plek was vanwaar jy vleis kon bekom.  Die oorskot van die tempel offervleis is selfs op die markpleine verkoop.  Maar, omdat jy van buite af kon insien by die tempels, het ander (swak) gelowiges aanstoot daaraan geneem (vers 10).

Let op hoe hy eers die beginsel van die liefde neerlê en verduidelik voordat hy sy antwoord op hulle vraag gee.  Basies sê hy, dat kennis goed is, maar nie genoeg nie.  Die liefde is belangriker (vgl. 13:2: “en besit ek al die kennis … maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”), ook in ons verhouding met God.  Om die waarheid te sê, dit is wanneer ons God liefhet, dat ons in ’n verhouding kom met Hom waar Hy vir ons ken – iets wat baie belangriker is as wat ons weet (of dat ons Hom ken).

Hy sal nog meer uitbrei op hierdie idee later in sy brief aan die Galasiërs (in 4:8: “noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken”).  Vergelyk dit ook met die gelykenis van die tien meisies in Matteus (in 25:12 waar die bruidegom vir die 5 onverstandiges sê: “Ek ken julle nie”!”)

In sy antwoord sluit hy dan by hulle kennis aan, en erken dat daar eintlik niks aan die vleis verander as dit aan ’n afgod geoffer is nie.  Om die waarheid te sê, daar is eintlik geen ander God, behalwe Een nie.  En al sou mense dink daar is sogenaamde gode (let op sy woorde!) bestaan hulle nie vir ons nie, want ons het net een God, die Vader en Sy Seun deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

Maar nou is dit so dat nie almal dié kennis het nie, en uit liefde vir hulle, moet ’n mens hulle onkunde in ag neem, en nie iets doen waardeur hulle gewete, wat alreeds swak is, nog verder verswak sal word nie.  Ons vryheid (let weer op hoe hy daarmee terugverwys na hfst. 6:12-13) mag nooit ’n aanleiding vir ander word om te sondig nie (vgl. Jesus ook hieroor in Matt 18:6: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.”).

Om die waarheid te sê, jy sondig eintlik teen die onkundiges, as jou vryheid hulle laat sondig.  Daarom sal Paulus nie sulke vleis eet nie (gelukkig nie alle vleis nie!) want hy wil nie sy medegelowiges se val veroorsaak nie.  Hy reël darem ook later dat ’n mens nou nie hoef navraag te doen oor vleis wat jy in ’n slaghuis koop, of dit nou aan ’n afgod geoffer is of nie, en jy dit dan maar mag eet (10:23-33).  Maar die gewete van die swakkeres bly ook daar ’n bepalende faktor.

Let ook op dat hierdie beginsel van die liefde na ander sake deurgetrek kan word – jou medegelowige se standvastigheid in die geloof is belangriker as jou eie kennis en vryheid in die geloof.  En lees gerus in Romeine 14:19 en 15:2 Paulus se verdere gedagtes hieroor.

’n Mens moet onthou dat Paulus hier natuurlik skryf oor mense wat pas uit die heidendom na Christus oorgekom het en nog die impak van die heidense gebruike sou ervaar.  Hy praat nie oor mense wat eintlik net hulle eie bekrompe idees op ander van toepassing wil maak nie en van beter behoort te weet nie.

Dit help my nogal om só daaroor te dink, want dit is eintlik vir my swaar woorde dié van Paulus: en ek sou ook saam met sommige gelowiges wou uitskreeu, soos Paulus hulle aanhaal in 10:29-30: “Waarom moet my vryheid beperk word deur ’n ander se gewete?”  Maar die punt is dat ons nie ons eie belang kan soek nie, want dit is die beginsel van die liefde, en die weg van die kruis (2:2).

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 526 “Waar daar liefde is” of
Vonkk 40 “Kom en vul ons met vrede”

Votum:
Psalm 111:1-4 (moontlik responsories)
Liturg: Prys die Here!
Gemeente: Met my hele hart wil ek die Here loof in die samekoms van die opregtes, in die gemeente.

Liturg: Die werke van die Here is groot,
Gemeente: almal wat daarin vreugde vind, dink daaroor na.

Liturg: Sy dade is vol majesteit en luister,
Gemeente: sy trou staan vir altyd vas.

Liturg: Hy sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie.
Gemeente:  Genadig en barmhartig is die Here.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 111 of
Flam 114  “Sing, Halleluja!”

Wet: Psalm 111:4b-10
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
6Hy het sy volk die krag van sy dade
laat ervaar,
Hy het aan hulle die land
van ander nasies gegee.
7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
8hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
10Wysheid begin
met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd
stand.

Toewyding
Lied 271 “Hielige Jesus, wat my lewe” of
Vonkk 102 “Mag die woorde van my mond” of
Flam 2 “Met ons lewens wil ons U eer”

Geloofsbelydenis
Gebed
Skriflesing

Liedere

VONKK 40 “Kom En Vul Ons Met Vrede”
Teks: Confitemini Domino – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Michiel van der Merwe 1994
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994
Teks en musiek met toestemming van Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

Kom en vul ons met vrede.
U alleen, o Heer, is heilig.
Kom en vul ons met vrede.
Halleluja.

Come and fill us, Lord, with your peace.
You alone are holy.
Come and fill us, Lord, with your peace.
Alleluia.

Flam 114. “Sing, Halleluja ”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof)
Musiek: Onbekend
Teks: AP van der Colf (Afrikaans);  Oorspronklik:  Linda Stassen
© 1974 New Song Creations
(Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Groep 1:                                                               Groep 2:
Sing halleluja, loof die Heer.                               Sing, halleluja, loof die Heer.
Wees Hom gehoorsaam, bring Hom eer.          Wees Hom gehoorsaam
Hy is ons Maker,                                                    Hy’s ons Verlosser. Halleluja
Bring God Drie-enig al die eer.                           Bring God Drie-enig al die eer.

2. Groep 1:                                                            Groep 2:
Sing, halleluja, loof die Heer.                              Sing, halleluja, loof die Heer.
Hy is almagtig, Hy regeer.                                  Hy is almagtig
Hy wek die dagbreek.                                            Hy roep die reënbui. Halleluja
Bring God Drie-enig al die eer.                           Bring God Drie-enig al die eer.

3. Groep 1:                                                               Groep 2:
Sing, halleluja, loof die Heer.                              Sing, halleluja, loof die Heer.
Hy daal in liefde na ons neer.                              Hy kom in liefde
Hy skenk ons lewe.                                                Hy skenk ons vrede. Halleluja
Aan God Drie-enig al die eer.                             Bring God Drie-enig al die eer.

VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond (Psalm 19:15)”
Nav Psalm 19:15
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Afrikaans – Pro Deo);  Jacques Louw 2010 (Engels en Duits);  Frans du Toit & Nataniël Sebolai 2010 (Sesotho); Naòmi Morgan 2010 (Frans)
Melodie: MY WILLEM – Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2010
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart,
vir U bly maak, o my Rots, en vir U mooi wees, o my Redder (en my God.)

Let the words of my mouth, the meditation of my heart,
Be delightful in Your sight and give You pleasure, my Redeemer (and my God.)

Se ke se bolelang le se ke se nahanang,
o kgahliswe ke tsona ‘fika le Molopolli wa ka (Morena.)

Lass die Reden meines Mundes und das Sinnen meines Herzens,
Dir gefallen, o mein Fels, und Dich erfreuen, mein Erlöser (und mein Gott.)

Que les paroles de ma bouche et ce que médite mon cœur,
te soient plaisants ô mon Rocher, de tout temps mon Rédempteur (et mon Dieu.)

Flam 2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1978  Bob Kilpatrick Ministries

1. Met ons lewens wil ons U eer,  Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

2. In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

3. In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

4. In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

Flam 132. “Uit Een Hart”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – ekumene,  die kerk)
Oorspronklike titel: One Song of Praise
Teks en Musiek: Bob Fitts
Afrikaanse vertaling: Piet Smit
© Scripture in Song
[Kom ook onder Engelse teks: Kategorie 3 – Multi-kulturele liedere]

Vader van liefde, bron van ons krag
Ons bring in aanbidding ons loflied aan U
Here U het belowe om hier by ons te wees
As ons saam is in U Naam, in waarheid en gees

Jesus, ons Redder, Immanuel
Ons kom ons lewens as lof-offer gee
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
En aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring
Gees van die waarheid, helper uit God

Leer ons om in liefde soos Jesus te dien
En bind ons dan saam, Heer
Soos ons hier voor U staan
Om met liefde in ons hart
Na die wêreld te gaan

Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly
Help ons om uit een hart in eenheid te bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Ek is nommer Een!

Tema: Die belangrikste ding wat God in Sy wet van ons vra

Matteus 22:34-41 (Uit: Die Nuwe Testament vir Kinders)
4–36 Die Fariseërs, ’n ander groep godsdienstige leiers, het gehoor Jesus het die Sadduseërs stil gepraat. Toe besluit hulle om een van hulle heel slimste manne na Jesus toe te stuur om Hom in die moeilikheid te bring. Hierdie slim man kom vra toe vir Jesus:
“Wat is die belangrikste ding wat God in sy wet van ons vra?”

37–40 Jesus antwoord hom: “Jy moet God liefhê met alles in jou. Dit is die heel belangrikste opdrag in God se wet.
Die tweede opdrag wat reg langs hierdie eerste een staan, sê: ‘Jy moet ander mense net so liefhê soos wat jy jouself liefhet.’ Hierdie twee opdragte is die heel belangrikste in die Bybel.”

HULPMIDDELS: ‘n Rugbybal, sokkerbal en/of krieketbal

Na die 2010 sokker-wêreldbeker wat in Suid-Afrika gehou is, is dit opvallend hoeveel kinders met pouse tyd sokker speel al is dit met ‘n tennisbal. Miskien is sokker vir nou die beste illustrasie.

Wie hou van sport? Watter sport  speel julle die graagste? In my dae op skool het ons enige sport gespeel wanneer dit pouse was- solank ons net ‘n bal in die hande kon kry… Deesdae speel meer en meer (ook Afrikaanse kinders) sokker na die groot toernooi wat in 2010 in ons land gehou was. Kom ek leer julle vandag iets van sokker. Wat ek nou gaan sê is seker die belangrikste ding van sokker…

Nee- ek gaan julle nie leer hoe om te dribbel of te verdedig nie. Ja, dit is dinge wat belangrik is, maar die heel belangrikste van sokker is wat jy doen wanneer jy ‘n doel aanteken. Miskien het julle al gesien hoe spelers ‘n doel vier… Sommige maak sulke danspassies;  ander trek sommer hulle sokkerhemde uit (alhoewel dit deesdae strenng verbied word);  ander hardloop na hulle ondersteuners op die paviljoen en skuif so op hulle knieë op die gras. Een of ander tyd gaan jy die een wees wat ‘n doel in die net skop, en dan: maak nie saak hoe jy ‘n doel vier nie, een ding moet altyd deel wees daarvan.  Jy moet nadat jy ‘n doel geskop het met jou wysvinger in die lug rondhardloop sodat almal kan sien dat jy Nommer 1 is… Selfs al verloor julle die wedstryd. As jy ‘n doel geskop het is jy Nommer 1…

Weet jy, ek dink juis dit is die probleem in die tyd waarin ons leef. Ons wil almal nommer 1 wees en al wat belangrik is in die lewe is dat ek gelukkig moet wees, nommer 1 moet wees. En so gebeur dit dat baie min van ons eintlik aan ander mense se geluk dink.

Die dag toe Jesus gevra is wat vir God belangrik is, het Hy geantwoord “Jy moet God liefhê met alles in jou. Dit is die heel belangrikste opdrag in God se wet. Die tweede opdrag wat reg langs hierdie eerste een staan, sê: ‘Jy moet ander mense net so liefhê soos wat jy jouself liefhet.’

Jesus het nie geantwoord dat ons onsself moet lliefhê nie. Hy het seker geweet dat ons dit van nature sal doen. Hy het geweet dat as ons God eerste liefhet ons dit sal regkry om ook ander mense lief te hê.

Gebed: Hemelse Vader, help ons om U eerste lief te hê met ons hele hart, en dan ook ander mense lief te hê soos onsself. Amen
(Vry vertaal uit stof hier beskikbaar)

Preekriglyn

“My swaer het konsekwent geweier om ‘n veiligheidsgordel te dra,” vertel Tim Keller.  “Ek het hom daaroor verwyt.”  Op ‘n dag kom hy my by die lughawe oplaai, sowaar met sy veiligheidsgordel behoorlik vasgegespe.  Keller vra: “Wat het gebeur?  Wat het jou houding laat verander?”

“Ek het ‘n vriend van my in die hospitaal gaan besoek wat in ‘n motorongeluk was en deur die voorruit is,” sê Keller se swaer.  “Hy het twee- of driehonderd steke in sy gesig.  Ek het vir myself gesê ek beter my veiligheidsgordel dra.”

“Het jy nie geweet dat jy deur die voorruit kan skiet as jy nie jou gordel tydens ‘n ongeluk aan het nie?” vra Keller.

“Natuurlik het ek dit geweet.  Daar langs my vriend se bed in die hospitaal het ek geen nuwe inligting gekry nie.  Die inligting wat ek gehad het, het egter nuut geword.  My kennis het deurgedring tot in die diepste van my wese, en die manier hoe ek leef verander.”

‘n Vraag in die gemeente

Die nuutgestigte gemeente in die Hellenistiese stad, Korinte, vra vir Paulus ‘n vraag.  Hulle wil weet of dit vir mense wat in die ware God glo, geoorloof is om vleis te eet wat aan ‘n afgod geoffer is.

Mens moet iets van die destydse wêreld weet om die vraag te verstaan.

Binne die Romeinse Ryk was die bring van offers geweldig belangrik.  Die Ryk wou die verhouding met die gode ten alles koste goed hou, want voorspoed het daarvan afgehang.  Indien die gode ontevrede sou wees, kon dit katastrofies vir die lotgevalle van die Romeinse Ryk wees.  Daarom het die Romeine oral tempels gebou waar ononderbroke offers aan gode gebring is.  Die Romeinse staat was in hierdie sin van die woord uiters godsdienstig.

Die offers is ook benut om van te lewe.  Priesters het ‘n gedeelte daarvan gekry, en die res is verkoop.  Tempels was dus op ‘n manier die slagplase van vandag, bronne van vleisprodukte in die gemeenskap.  Sommige tempels het letterlik ook oor restaurante beskik waar mense kon gaan eet.

Om as Christen in ‘n Romeinse stad te leef, en enigiets anders as ‘n vegetariër te wees, het beteken dat jy die vraag moes antwoord: wat van vleis wat aan ‘n afgod geoffer is:

  • Beteken dit dat ek deelneem aan die verering van afgode?
  • Beteken dit dat ek steeds my vroeëre verbintenis aan afgodediens handhaaf?
  • Beteken dit dat ek God as Bron van goedheid, versorging en voorspoed verloën?
Twee antwoorde in die gemeente

Die gemeente in Korinte het hierdie vrae op twee verskillende maniere beantwoord.  Dit het tot spanning tussen die twee groepe gelei.  Johan Cilliers beskryf hierdie groepe as volg in ‘n vroeëre preekriglyn (sien pt 1.3 van hierdie dokument):

In die gemeente van Korinte was mense wat gereken het hulle ken God. Mense wat weet wat mag, en wat mag nie.  Die probleem was net dat hierdie mense nie met mekaar saamgestem het nie. Hulle het by dieselfde punt begin redeneer, oor dieselfde kwessie gepraat, maar by teenoorgestelde eindpunte uitgekom.  Die punt waar hulle begin het, was die eenvoudige waarheid, die een waarheid waarvan die kerk vandag nog seker is: Daar is net een God.  Die saak waaroor hulle gepraat het, was ‘n brandende probleem in hulle wêreld: As jy in die een God glo, mag jy dan nog vleis eet wat aan die afgode geoffer is? Dis hier waar hulle by teenoorgestelde antwoorde uitgekom het.

Die een groep, wat hulself die “sterkes” genoem het, het geredeneer dat daar net een God is, reg?  Dus is al die afgode skyngode, hulle is eintlik niks, reg?  Dit beteken dat as ‘n stuk vleis aan hierdie niks geoffer is, maak dit geen bloue duit verskil nie.  Jy kan dit maar eet.  Jy kan selfs in die afgodstempel gaan sit en dit eet.  Wat maak dit tog nou saak? V leis is vleis, maak nie saak waar jy dit kry nie – en jy is vry om te eet net soos jy lekker kry, al is dit nou ook in die skadu van ‘n afgodsbeeld.  Reg?  Natuurlik reg!

Die ander groep, wat deur hulle teenstanders as die “swakkes” bestempel is, het weer geredeneer: “Daar is net een God, reg?  Dus mag ons met die ander gode niks te make hê nie, reg?  Dit beteken dat as ‘n stuk vleis aan ‘n afgod geoffer is, is dit aan ‘n vals god, dalk selfs aan die duiwel self toegewy, en daaraan mag jy nie raak nie.  Netnou is jy pens en pootjies terug in die afgodsdiens waar jy nou die dag nog gesit het.  Vleis is nie sommer vleis nie.  Vleis kan jou teruglok na jou ondergang toe.  Reg?  Natuurlik reg!

Paulus se antwoord in drie bedrywe

Paulus reageer in 1 Korintiërs 8:1-13 op die vraag oor afgodsoffers deur die saak in drie fases te behandel:

In verse 1 tot 3 praat hy oor kennis wat verwaand (letterlik “opgeblase”) maak.  Hy het hier die tipiese Hellenistiese wysheid in gedagte.  Dit is verstandskennis wat losgemaak is uit die raamwerk van verhoudings en van persoonlike ervaringskennis.  Hierdie abstrakte, teoretiese insig maak mense “opgeblase.”  Dit staan teenoor die manier waarop God ken (3).  God het ons lief, God ken ons in liefde.  Die liefde verskaf die raamwerk vir kennis, en vir die aanwending van kennis.  Mens moet dink vanuit die liefde, en vanuit die impak van jou kennis op ander mense, voordat jou kennis Christelike kennis word.  Dit is soos God ons ken: in liefde.  Die sterker groep moet dus daarteen waak om hul kennis nie aan te wend op ‘n manier wat aantoon dat hulle God as Bron van kennis nie regtig verstaan of beleef nie.

In verse 4 tot 6 vereenselwig Paulus hom tot op ‘n punt met die sterker groep se standpunt.  Daar is net een God.  Daar is geen afgod in die wêreld wat iets beteken nie.  Tog moet ons onthou dat daar wel dinge in die wêreld is wat afgode genoem word deur mense (5).  Hoewel hulle nie werklik bestaan nie, is die afgode ‘n krag in mense se lewens op grond van die waarde wat mense aan hierdie hersenskimme toeken.  Vir gelowiges is daar net een God, die Vader, en een Here, Jesus Christus.

Vers 6 is ‘n belangrike opmerking en verdien spesifieke aandag.  Die Bron van alle kennis is die God en Here wat Paulus verkondig.  Christelike, Bybelse, egte kennis is veel meer as rasionele objektiewe konklusies.  Ons ken, omdat God ons ken.  En die finale en hoogste waarheid is die God wat deur God se geopenbaarde aksies vir ons wys wat waarheid is.  Dit is ‘n waarheid wat ons wegruk uit die leuen (5) en ons bring in die herstelde verhouding met God, mekaar en die wêreld (6).  Paulus vervang in vers 6 die Griekse patroon van kennis met die gemeenskapskeppende handelinge van Vader, Seun (en Heilige Gees) as die basis vir ons kennis.

In verse 7 tot 13 bevestig hy weer dat ons in Christus vry is om te eet van offers aan niksseggende gode.  Die situasie is egter dat hierdie vryheid ‘n geweldige impak kan hê op die lewe van ‘n medegelowige.  Die sterkere wat in ‘n afgodstempel eet kan die swakkere aanmoedig om die afgodsoffer steeds as offers te eet.  Dan gaan hierdie broer of suster verlore (11).  Die betekenis van “verlore” in vers 11 moenie versag word nie – Paulus bedoel hier “verlore” in die sin van ‘n toekoms sonder Christus.

Kennis moet in liefde bou

Paulus is oortuig dat die ware kennis wat van God kom, kennis is wat liefhet en ander geestelik opbou.  Kennis is nie slimmigheid nie.  Kennis bou op (1).

Paulus sluit aan by die band wat die Ou Testament tussen kennis en liefde lê.  Werklike kennis van God daarin bestaan om Hom lief te hê.  Paulus se gedagte lê hier in lyn met 1 Johannes 4:19: “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.”  Só toon Paulus aan dat ‘n ware kennis van God daarin bestaan dat ons hierdie vrye, onverdiende liefde van God ontvang en dat ons daardeur leer om Hom lief te hê.  Dit beteken dat ons kennis van God moet meewerk dat ons ook mekaar liefhet soos wat Hy ons liefhet – ook liefde vir die “swakker” gelowiges in hulle swakheid.  Kennis van God wat jou opgeblase maak, gevoelloos vir swakker medegelowiges, is in stryd met die ware kennis van God.

Wat rig jou lewe en gedrag?

Wat is die kragte wat mens se lewe rig?  Wat bepaal die rigting wanneer die magneetnaald van jou lewe tot rus kom?

Verlede week het ons, na aanleiding van 1 Kor 7:29-31, geleer dat die teenwoordigheid van die Here Jesus in die hede, en die terugkeer van Jesus aan die einde, kragte is wat ons lewensrigting bepaal.  Jesus verhoed dat ons rustig vassuig aan die hede, asof die huidige omstandighede ons rus en rigting bepaal.

Vandag voeg ons teks nog ‘n oriëntasiepunt by: ons naaste, en spesifiek ons medegelowige.  Medegelowiges is ook ‘n oriëntasiepunt, want nie een van ons leef net vir onsself nie.  Ons leef vir die Here.  Ons Here voeg ons saam in ‘n gemeente met ander gelowiges.  Hulle word ons broers en susters in die Here.

Die medegelowige beïnvloed ook my koers.   Sy of haar belange, opbou en groei in die Here is ook op die agenda van my lewe.  Die Heilige Gees vorm Christus in ons ter wille van ons naaste.

Slimmigheid kan gevaarlik wees

Ons het nie bloot gelowiges en gemeentes nodig wat slim is oor God nie.  Die onuitgesproke gedagte agter die slim gelowige en kerk is dikwels dat ons beter weet, beter doen, en op ‘n hoër vlak lewe,  ‘n Slim gelowige is baie keer ‘n opgeblase gelowige.

Wat ons moet weet: Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.  Wat ons moet doen, is so moeilik dat net God dit in ons kan doen: Ons moet daardie liefde leef, ook wanneer ons kennis ons by verskilpunte uitbring, en juis wanneer ons verskille dreig om mekaar die afgrond in te jaag.  As ons liefhet, het Jesus al gesê, dan sal die mense weet dat ons sy dissipels is.

Sterk en swak vandag

Daar is vandag steeds kwessies waaroor gelowiges verskil.  Een daarvan is die gebruik van alkoholiese drank.  ‘n Ander is kleredrag, vermaak, uithangplekke.  Sommige gelowiges voel vry om alkohol te drink, ‘n vryer etos ten opsigte van bedekking as ander te handhaaf, en sosiaal te verkeer op plekke en maniere waarvan ander kan sê dat dit vir hulle struikeling bring.

Hoe hanteer die kerk mense wat ‘n geskiedenis het met alkoholverslawing, huweliksontrou vanweë sosiale gedragspatrone gepleeg het, of die gevaar ken van vriendekringe wat jou blootstel aan verslawende middels?

Wat is die balans tussen Christelike vryheid en struikelblokke vir ander?

Paulus sê dat liefde, eerder as teoretiese teologiese kennis oor vryheid, die deurslag moet gee.  Hoe beter ek teologies ken (“God” is die “teo” in teologies), hoe meer word ek aangespoor om lief te hê.  Besinning oor my optrede is die vaardigheid om liefde in die praktyk te bewys.  Dit geld spesifiek die “swakker” medegelowige.  En dit het met konkrete plekke, situasies en mense te doen.

Konkrete situasies

In hierdie opsig moet versigtig wees vir knorpotte en bekrompe gelowiges.  Hierdie teks maak ons vryheid nie die slagoffer van ander se bekrompe idees van lewensvreugde nie.  Dit het met konkrete mense (voormalige afgodsdienaars), konkrete plekke (eet van afgodsoffers in ‘n tempel) en ‘n konkrete situasies (mense wat pas uit die heidendom tot bekering gekon het) te doen.  Nie met algemeen-geldende beginsels wat vryheid misken en mense verontmenslik en die vreugde van die lewe misken nie.

Daar is groot verskil tussen ‘n moedelose debat oor alkohol, en die vraag of ons selgemeente by ons jaarlikse braai alkohol moet gebruik in die lig van Ron, een van ons lede, se erkenning vroeër vanjaar dat hy heimlik aan alkohol verslaaf is en vir rehabilitasie moet gaan.  Hoe lei kennis-as-liefde ons in so ‘n situasie?  Dit is die vraag.

Beïnvloed deur Christus

Langs sy vriend se hospitaalbed het Tim Keller se swaer besluit om sy gedrag te verander.  Kennis het skielik sy diepste wese deurdring en sy lewe beïnvloed.  Ons gedrag verklap vinnig hoe diep God se liefde in Christus op ons impak gemaak het.

‘n Priester kom een wintersaand na donker by sy huis aan.  ‘n Rower, pistool in die hand, keer hom voor: “Jou geld of jou lewe!”

Terwyl die priester sy hand in sy sak steek, sien die rower sy ampsdrag in die dowwe lig.  “Ek sien u is ‘n priester.  Moenie verder bekommer nie, gaan, ek laat u met rus.”

Die priester is verras en probeer die rower bedank met ‘n sjokoladestafie wat hy pas in een van sy sakke ontdek het.

Sê die rower: “Nee dankie, vader: ek eet nie sjokolade in lydenstyd nie.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 284 “Laat Heer, U vrede deur my vloei” of
Flam 132 “Uit een hart”

Seëngroet

Musikale Respons: Ps 111 se keervers