Vierde Sondag na Epifanie

Picture of Woord en Fees

Vierde Sondag na Epifanie

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Lukas 4:21-30
Ander tekste: Jeremia 1:4-10 ; Psalm 71:1-6; 1 Korintiërs 13:1-13

Die wêreld se ontkenning van liefde word in Christus ontmasker. Gelowiges wat magteloos voel om daarteen op te tree, hoor in Jeremia 1 van God se moederlike liefde wat ’n veilige ruimte is en ons moed gee (Ps 71). Wie in God rus (Jer), kan waag om lief te hê (1 Kor 13). Jesus tree met sulke liefde op al loop Hy Hom teen menslike haat vas (Luk 4).

Inleiding

Die Gees van Christus wat ons “huis toe” bring, spreek ons vreesagtigheid aan. Hy gee vir ons vertroue in God en in die ervaring van veiligheid in Hom sodat ons die moed sal hê om teen die wêreld se liefdeloosheid in te gaan.

Die gebed van die Gees wat in die erediens saam met ons gees bid, klink ongeveer só: God, uit wie ons gebore is, u liefde gee die durf om menslike weerstand teen u bevrydende liefde te verduur. Versterk ons dan in die oorvloedigheid van u liefde waarbinne ons veilig voel om self met liefde op te tree.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Skuldbelydenis
Voorganger 1: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

Voorganger 2: Here God, ons voel soms onseker, onbekwaam en onbevoeg.
Ons weet nie of ons woorde reg is nie.
Ons wysheid en ervaring skiet te kort.
Ons maak verskonings en voel bevrees.

Voorganger 2: Here God, U het u hand uitgesteek om ons te help,
U het die Goeie Nuus gegee
en woorde in ons mond gelê om van U te getuig. Tog was ons huiwerig.
Ons was te bang om van u liefde te getuig.

Voorganger 2: U het ons aangestel in die naam van Christus
om vir alle mense die Goeie Nuus te bring.
Wat sleg is, moet afgebreek word.
Wat goed en waardevol is, moet gebou en gevestig word.

Voorganger 1: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel (uit Jer 1:5–10).

Diens van die Woord

Here God, ons Hemelse Vader,
wanneer ’n gedagte aan U
ons harte wakker maak,
laat ons nie wakker skrik
soos ’n verskrikte voëltjie
wat vreesbevange wegvlieg nie.
Maar laat dit vir ons wees
soos wanneer ’n kindjie
uit die slaap wakker word
met ’n hemelse glimlag.
(Søren Kierkegaard, 1830-1855)

Diens van die tafel

Tafelgebed (voor die “Ons Vader”)
Here,
Vandag kom soek ek weer ’n plekkie by U –
’n spasie om na te vlug.
Ek weet ek sal nie teleurgesteld wees nie!
Breek my los van alles wat kwel
soos net U dit kan doen.
Dit is my dringende versoek:
help my volkome vry raak!
Elke dag van my lewe verwag ek u hulp;
van jongs af al
vertrou ek op U;
van my geboorte af
was U daar vir my;
selfs voor ek gebore is,
het U my al gekoester.
Daarom bewonder ek U.
Mense neem my kwalik
en voel bedreig
omdat ek so heelhartig aan u liefde klou
terwyl ek oorloop van lof vir U –
en heeldag  praat oor hoe goed U is (uit Ps 71:1-2, 5-8).

Uitsending

Ons diepste vrees is nie dat ons onbekwaam is nie. Ons diepste vrees is om onbeperkte krag te hê. Dit is ons lig wat ons bang maak, nie ons donkerte nie. Ons vra onsself: Wie is ek om briljant te wees, pragtig, talentvol, fabelagtig? Die vraag moet eintlik wees: wie is ek dat ek dit nie mag wees nie? Ons is kinders van God. Om klein te speel, dien nie die wêreld nie. Daar is geen waarde daarin om weg te krimp sodat ander nie dalk onseker by jou moet voel nie. Ons is bedoel om te skyn, soos kinders skyn. Ons elkeen is gebore om die heerlikheid van God wat in ons is, te vertoon. Dit is nie net in sommige van ons nie; dit is in elkeen. En wanneer ons ons lig laat skyn, gee ons onbewustelik vir ander die reg om dieselfde te doen. Namate ons van ons eie vrees bevry word, sal ons teenwoordigheid
ander outomaties bevry (Marianne Williamson).

Trinitariese seën

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser”
Loflied: Psalm 19 (veral vers 2 wat die tema van die bruidegom benut); Lied 592 “Die boekrol, Lam van God”
By die tafel: Lied 23   “Goddelike liefdebande”
Uitsending: Lied 587 “Kyk, Hy kom!’ Wag laat ons luister”

Preekstudie: Lukas 4:16-30

Teks

Vers 16-21. Lukas beskryf hoe Jesus in Nasaret waar Hy groot geword het, aankom en op die Sabbatdag na die sinagoge gaan. Deur daar op te staan, gee Hy te kenne dat Hy iets wil sê. Die dienaar in die sinagoge haal die boekrol van Jesaja uit en gee dit vir Jesus. Hy rol dit oop en vind ’n bepaalde Skrifgedeelte. Dit is die Messiaanse profesie in Jesaja 61:1-2. Hy gee die boekrol terug en gaan sit soos leraars gedoen het wanneer hulle die vergadering wil toespreek. Aangesien Jesus se optrede onder leiding van die Heilige Gees staan, kan ons aanvaar dat die Gees die dienaar gelei het om die Jesajarol aan Jesus te gee en Jesus gelei het om die bepaalde teks te vind. Deur die Gees gelei, verklaar Jesus dat die profesie van Jesaja “vandag” in vervulling gegaan het, met ander woorde dat Jesus self die Messias is. Die tekens van die Messiaanse tyd, waarvan Jesaja praat, gaan nou in vervulling deur Jesus en sy bediening. Die tyd van verwagting is verby, die aangename jaar van die Here, die koms van die Messias is reeds hier. Jesus sluit aan by die profesie van Jesaja 61 en 58 wat in die eerste plek gerig was tot die Jode wat na die terugkeer uit ballingskap in ’n situasie van verarming en ellende verkeer het. Hulle moes ter wille van geld hulle huise en wingerde verpand, soms selfs hulle kinders as slawe aan die ryk landgenote gee, hulle was ekonomies geruïneer, mense vir wie daar menslik gesproke geen hoop meer was om te ontkom aan die wurggreep van skuld en armoede nie.

Toe die hoorders in die sinagoge in Nasaret dié woorde van Jesus gehoor het, sou hulle dit gemaklik kon toepas op hulle eie situasie van uitbuiting deur die Romeine. Op die oog af sou hulle hulle kon vereenselwig met die armes, met mense wat uitgebuit is, met gevangenes wat slagoffers van ’n sisteem van verslawing en verontregting was. Hulle het geweet wat die fisieke en psigiese verkragting van hulle lewe ingehou  het. Hulle was inderdaad verdruk, seergemaak, gebreek, gekneus, geruïneer. Hulle hoor dan die bevrydende boodskap van Jesus van ’n nuwe dag wat kom. Die belangrike vraag is hoe die metafore van armes, gevangenes, blindes, onderdruktes in vers 19 verstaan word.

Bethel Muller wys tereg daarop dit kan nie eensydig spiritualisties geïnterpreteer word nie. Dit het ’n letterlike betekenis wat verwys na die eerste lesers se spesifieke situasie waarin hulle verkeer het – ’n letterlike sosiaal-politieke betekenis. So verwys Jesaja in die eerste plek na die armes as hulle wat letterlik arm was, die “gevangenes” letterlik na hulle wat gevangenes was in ’n onderdrukkende sisteem, die “blindes wat weer sal sien”, is dié wat blind is in hulle moedeloosheid maar vir wie die lig weer sal deurbreek, en “die wat moed verloor het” wat in hulle situasie weer moed sal skep.

Die goeie boodskap van God se bevryding en ontferming uitgedruk en beliggaam in die “genadejaar van die Here”, geld egter nie net vir die Jode nie, maar vir alle mense. Jesaja 61 word doelbewus deur Jesus messiaans uitgelê, maar nie in ’n politieke sin waar sommige dit vir hulle eie voordeel wou gebruik nie. Jesus laat daarom as Helper van die armes en Bevryder van gevangenes, nie wraakgedagtes toe nie. Daarom wis Jesus as Messias hierdie gevraagde sinsnede van Jesaja 62:2 aan die kruis uit en laat Hy geen wraakgedagtes by sy volgelinge toe nie. Dit verklaar juis waarom die Joodse hoorders met soveel woede op sy woorde gereageer het. In sy kommentaar op Lukas 4:16-30 wys Howard Marshall daarop dat die metafore wat in vers 18 gebruik word met verwysing na die profesie van Jesaja 61 en 58, ook ’n dieper betekenis het vir die Christene wat die woorde hoor. Dit gaan ook oor ’n dieper geestelike verlossing in die volste sin van die woord; wat Christus bring. Norval Geldenhuys skryf in sy kommentaar: “God has sent Him to hear those who were broken-hearted and found themselves in spiritual distress; to proclaim deliverance to those who were captives in the power of sin, to give back to the spiritual blind the power of light, to cause those who were downcast and inwardly bruised to go forward in triumph . . .”

Vers 22-30. Almal teenwoordig het diep onder die indruk van Jesus se woorde gekom en ook van hulle verwondering getuig. Ja, Lukas toon dat daar aanvanklik ’n gunstige reaksie op Jesus se preek was (22). Wie sou immers nie wou hoor dat God genade en hoop wil bring aan armes en lydendes en verdruktes nie. Ja, ook vir hulle as Jode daar in Nasaret wat gebuk gegaan het onder Romeinse vertrapping en vernedering.

Inderdaad klink sy boodskap in Nasaret na ’n manifes op vryheidsdag, maar dan gooi Jesus as ’t ware die verwondering van die toehoorders na hulle terug, met die woorde dat die ideale en visioene van die profete meestal nie verwelkom word in hulle “tuisdorp” nie. ’n Tuisdorp het meestal ander verwagtinge as die profeet (23 en 24). Daarom is profete dikwels gestuur na vreemdelinge om in ’n vreemde land hulle wonderwerke te verrig (25-27). Profete deel immers die vreemdelingskap met die vreemde Godsvolk op aarde.

Toe dit blyk dat Jesus se boodskap radikaal teen die grein van hulle selfgerigte verwagtinge ingaan, het die sinagoge toehoorders begin om “die man te speel” – soos so dikwels gebeur en soos die geskiedenis van Jesus telkens bewys. Ja, die blye boodskap word gehoor, maar met woede verwerp. Ons moet weet die boodskap van God se radikale genade, van sy radikale omkeer van ’n samelewing wat gebou is op eie belange en eie voordeel, eie mag en eer, uitbuiting en beskerming van eie belang, direk indruis teen die belangestruktuur van hierdie wêreld.

Daarom gebeur dit toe daar in Nasaret dat “gelowige mense”, mense wat aanvanklik vol lof vir Jesus was, Hom met geweld uit hulle midde probeer verwyder omdat hulle vanweë die verharding van hulle harte, sy vreemde genade nie verstaan of kan aanvaar nie. Hy ontkom nog hier aan hulle (vers 28-30), maar uiteindelik sou hulle Hom inhaal en die hande op Hom lê, Hom vaskap aan ’n kruis, maar nooit sou hulle sy boodskap kon stilmaak nie.

Konteks 

Die uitdaging om die teks reg te verstaan en te preek is die volgende: Wat was Jesus se boodskap aan hulle binne die konteks waarin Hy dit gepreek het? Wat wou Hy vir hulle sê sodat ons kan weet wat die teks vir ons wil sê? Hulle aanvanklike positiewe reaksie draai feitlik onmiddelik om in woede, toe Hy sy boodskap prakties verduidelik. Hoekom gebeur dit? Gebeur dit nie omdat hulle soos ons deur die eeue Jesus in ons geselskap wil hê nie, maar op ons voorwaardes? Mense wil Jesus saamneem waar hulle gaan. Hulle wil Hom “onderdanig” hou aan hulle huishoudings. En so gebeur dit presies ook in Nasaret. Hulle en ons, neig telkens om Jesus te behandel soos een van ons eie. Ons wil Hom by ons tuis maak, Hom mak maak, Hom dienstig maak aan ons aspirasies, aspirasies wat ons dikwels kan verdedig met Bybelstudie soos die hoorders in die sinagoge met ’n beroep op Jesaja 61. Hoe dikwels gebeur dit nie in ons eie tyd om Lukas 4:18-19 te gebruik om ’n “tekens- en wonderskerk” te regverdig nie waar “health, wealth en prosperity” tot eie voordeel in die teks ingelees word. Jesus stap egter juis weg van die inwoners van  Nasaret se begeerte dat hy by hulle ook ’n paar wonders sou doen voor hulle sal glo dat Hy die Messias is.

Jesus keer op nuut hulle orde om. Hy verwys na “vreemdelinge” (die weduwee van Sarfat in die tyd van Elia en Naäman, die Siriër, 25-27) as die eintlike tuiste van profete. Die gemeente van die Here is vreemd in en aan hierdie wêreld. Die gemeente is ’n anachronisme in hierdie wêreld. Dit is iets wat buite die insig en tyd en orde en begrip van die wêreld gebeur. Die storie van die kerk is nie ’n suksesstorie in wêreldse terme nie. Die kerk leef marginaal, op die grense. Dit pas nie in by die struktuur van die wêreld nie. Die ou kerk het gemeentes “parishes” genoem, paroikiai, vreemdelinggemeen-skappe. Daarom maak Jesus Hom los van hulle daar in Nasaret toe hulle Hom en sy boodskap wil aanpas om te sê wat hulle graag wil hoor. Tereg sê Paulus in
2 Timoteus 4:3 dat daar ’n tyd sal kom dat mense vir hulle leermeesters sal bymekaar maak wat vir hulle sal sê wat hulle graag wil hoor.

Preekvoorstel

Die prediker sou kon begin deur te vra: Wanneer hou ons van ’n preek? Wanneer is ’n predikant se woorde aangenaam? Is dit nie so dat dit gewoonlik goed aanvaar word wanneer dit een of ander voordeel vir ons inhou nie? Maar wat gebeur as die prediker praat oor ’n harts- en lewensinstelling by die hoorders waar dit primêr om hulle self en hulle eie verheerliking gaan? Soos Jesus in ons teksgedeelte praat van profete wat meer welkom was by ’n mingeagte weduwee van Sarfat en by die Siriër, Naäman, ’n gehate weermagoffisier in diens van die aartsvyand van die Jode. Hoekom het Elia na die weduwee van Sarfat gegaan en nie na die weduwees in Israel nie? Was dit nie omdat sy eie mense in eie oë so goed en vroom en godsdienstig was dat hulle nie oop was vir God se vreemde genade nie? Hoekom het Elisa na melaatse “heidene” gegaan en dié in Israel verby gegaan? Hoekom gebruik Jesus juis hierdie voorbeelde? Is dit omdat Hy nie ’n hart vir ’n weduwee en ’n melaatse in Israel het nie?

Nee, dis om in daardie tyd vir sy eie volk se hoogheiliges te sê: God se genade werk anders as wat julle dink. In julle oë is julle die toonbeelde van goedheid en heiligheid, maar julle besef nie dat julle arm en blind en naak is nie, omdat julle julle self wil regverdig deur julle eie vroomheid en goedheid.

Daarom lyk dit of Jesus se preek in die sinagoge in Nasaret nie veel verskil van Johannes se boodskap aan die gemeente Laodicea (Op 3:17) nie. Julle sê: “Ons is ryk, skatryk en het niks meer nodig nie”, en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal. So maklik kan dieselfde gesindheid as in die sinagoge in Nasaret ook in die hart van ’n kerkmens wees. Jesus se boodskap het juis tot woede en opstand gelei omdat die hoorders se harte so op hulle self gerig was en op wat hulle wou hoor wat die profeet tot hulle eie voordeel en verdere selfhandhawing kon bring. Hulle kon daarom nooit die inhoud van die wonderlike woorde van genade van Messiaanse heil in vers 18 en 19 begryp nie. Hulle kon nie insien dat die profeet juis aan hulle wat arm is ’n ander soort rykdom bring nie; aan hulle ’n soort vrylating gee nie; aan hulle wat blind is ’n ander soort insig gee nie; hulle wat onderdruk is in vryheid uitstuur nie! Hoekom nie? Want hulle oë was blind en hulle harte verhard. Daarom het hulle woedend geword en Hom uit hulle midde verdryf (28-29). Dit is wat Schwerzer noem: “the protest of the devout who think they have a claim on God and cannot understand unconditional Grace”.

’n Mens wat nie sy eie armoede en blindheid besef nie, vind dit so moeilik om God se vreemde, onverdiende genade te begryp. Wat wil jy vir ons kom leer, Jesus? Wie is jy nou eintlik? Jy, die timmerman van Nasaret se seun! Doen eers vir ons ’n wonderwerk of twee en wys vir ons wat jy vir ons tot ons voordeel kan doen dan sal ons jou en jou boodskap glo. Prediker, wys vir ons eers dat jy dinge kan laat gebeur, dat jy ons kerk in ’n suksesverhaal sal verander en ons daarby kan baat, dan sal ons aan jou lippe hang, liewe profeet, en ons lidmaattal sal sommer ook toeneem met die finansiële voordeel wat dit inhou!

Dit is net die Messias, Jesus Christus, wat Homself soos ’n koringkorrel in die grond laat val het en vir ons gesterf het dat ons kan leef. As ons dan die Messias se volgelinge wil wees en nie ons lewe vir onsself wil behou nie, maar vir Hom en sy koninkryk prysgee, eers dan sal ons dit behou en vir Hom diensbaar kan wees. Markus 8:35: “Want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”

Jesus se preek in die sinagoge in Nasaret het vir die luisteraars daar geen heilsbetekenis gehad nie, omdat hulle nie bereid was om te bely nie: “Ek is arm; ek is gevange in my selfbelang; ek is blind in my skeefsiendheid, ek is vasgevang in myself en my eie belang en net U, Jesus, die Messias, net U kan my lewe in ’n genadejaar, ’n jubeljaar verander. Net deur U en u Gees kan vers 18 en 19 ook in my lewe gestalte kry.”

In ’n preek oor Lukas 4:14-30 deur Gary Garver en Tom Garrison met die tema, “Prophet or profit”, word die tema van ’n preek hieroor pragtig saamgevat. Ek haal ’n paragraaf uit die preek aan: “In the New Testament a prophet is not someone who forecasts in the future, but someone who looks at today and says: ‘This is the way things are’. Then the prophet says: ‘Unless things change, this is the way things are going to be’. The prophet goes beyond that. The prophet not only says this is the way things are, a prophet will also say if you do change, these are the way things could be. A prophet! IF you change. There were some in Jesus’ day who did not want to change. They were out for profit . . . they did not want the Prophet upsetting their applecart, so they tried to kill him.”

Wat sê die Messias, die Profeet, Jesus Christus vir jou? En waarna soek jy regtig? Die Profeet of profyt? Miskien sê Hy deur sy Gees vir jou, staan voor My met gebroke hart. Weet deur my Gees sal ek jou hart verander om jou nood raak te sien. Bely dit en dan sal Ek, net Ek, Jesus, die Verlosser, wat die armes sal raaksien en optel, Ek wat vir die gevangenes vrylating bring en die blindes se gesig herstel, ook alles in jou doen en jou so in vryheid uitstuur (Mark 4:18). Hoe nodig het die wêreld nie die Profeet en hulle wat die boodskap van sy jubeljaar in die midde van die gebroke wêreld sal verkondig en uitleef nie?

Bibliografie

Die teks is voorheen behandel in Woord teen die lig III/3. Riglyne vir prediking oor regverdiging en reg (BA Muller) 1993; en in Preekstudies met Liturgiese voorstelle by die 4de Sondag na Epifanie. 1 Februarie 1998 (BA Muller) ook in die Woordwyser dag vir dag Bybelleesprogram deur bediening vir aanbidding (NGK Oos Tvl) 11 en 12 Januarie 2001. Kommentare: Marshall I H M 1978. The Gospel of Luke. The New International Greek commentary.  Exeter Press; Leany A R C 1976. The Gospel according to Luke. London: Adam & Charles Black; Groenewald, E P 1973. Die Evangelie volgens Lukas. NG Kerk Uitgewers; Geldenhuys, N G. Commentary on the Gospel of Luke. Michigan: Eerdmans.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.