Vierde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Miga 6 begin met ’n aanklag teen God omdat Israel kla dat God te veel van hulle verwag. Hulle word herinner aan alles wat God gedoen het en dat dit nie offers is wat vir God belangrik is nie, maar ’n lewe wat geleef word in geregtigheid en waar reg geskied. Psalm 15 sluit hierby aan en sê dat slegs die persoon wat reg en geregtigheid laat geskied toegang tot die tempel het. Matteus 5 neem, in die saligsprekinge, hierdie regte lewenswyse voor God amper tot die uiterste. Net wanneer jy begin dink dat geen mens hierby kan uitkom nie, vertel 1 Korintiërs 1 vir ons van God se vreemde omgekeerde wysheid wat gemaak het dat ons in Christus vrygespreek, geheilig en verlos is en in Hom daarom ’n lewe van reg en geregtigheid moontlik is.

Ander tekste

Psalm 15; 1 Korintiërs 1:18-31; Matteus 5:1-12

Fokusteks 

Miga 6:1-8
6 Hoor wat die Here sê:
Maak klaar, roep die berge as getuie,
laat die heuwels hoor wat jy te sê het.
2Berge, vaste fondamente van die aarde,
julle moet luister na die saak
wat die Here het.
Die Here het ’n saak teen sy volk,
Hy het Israel aangekla.
3My volk, wat het Ek jou aangedoen?
Hoe het Ek jou moeg gemaak?
Antwoord My!
4Ek het jou uit Egipte gebring,
Ek het jou uit die plek van slawerny
gered,
Ek het vir Moses gestuur om jou te lei,
ook vir Aäron en Mirjam.
5My volk, dink aan die planne
van koning Balak van Moab,
en wat Bileam seun van Beor
hom geantwoord het.
Dink aan alles tussen Sittim en Gilgal,
en weet dat die Here julle
die oorwinning laat behaal het.
6Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe
gaan,
as ek voor die hoë God gaan kniel?
Moet ek met offers na Hom toe gaan,
met jaaroud kalwers?
7Sal die Here duisende ramme aanvaar
saam met tien duisende offers van olie?
Moet ek my eersgeborene offer
vir my sonde,
hom wat uit my liggaam kom,
vir my oortreding?
8Mens, die Here het jou bekend gemaak
wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg
sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
9Om die Here te dien, dit is wysheid.
Die Here roep die stad;
luister, leier en julle almal
wat aanhou roof:
10Goddelose plek,
moet Ek die verkeerde maatlyn
bly verdra,
of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat?
11Moet Ek die eienaar
van ’n onbetroubare weegskaal
vryspreek,
een met ’n sak vol vals gewigte?
12Die stad se ryk mense pleeg geweld,
sy inwoners lieg en hulle bedrieg.
13Daarom het Ek jou begin straf;
Ek het jou begin verwoes oor jou sondes.
14Jy sal eet en nie genoeg kry nie;
jy sal honger bly.
Jy sal geboortepyne hê,
maar nie ’n kind in die wêreld bring nie.
En wanneer jy ’n kind
in die wêreld bring,
gee Ek hom vir die swaard.
15Jy sal saai, maar nie oes nie,
jy sal olywe pars,
maar jou nie met olie insmeer nie,
jy sal druiwe pars,
maar nie wyn drink nie.
16Jy het Omri se reëlings nagekom,
gedoen wat Agab gedoen het,
hulle raad gevolg.
Daarom sal Ek jou verwoes,
Ek sal jou inwoners ’n bespotting maak.
Jy sal my volk se vernedering moet dra.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Vonkk 7 “Mag ons U liefde ken”

Votum:  Psalm 15

Seëngroet

Lofsang: Flam 8 “Al die lof, aanbidding en ere”

Voorbidding [ons stel voor dat die voorbidding vóór die prediking gedoen word, aangesien die prediking lidmate uitdaag om te reageer.  Die toetrede-lied vervul reeds ‘n epikletiese funksie.  Die toewyding volg dus in reaksie op die preek.]  Kyk na die preek se beskrywing van wat God wil hê:  Geregtigheid, liefde en troue, om God in gedagte te hou.  Bid vir spesifieke situasies waar hierdie drie aspekte kortkom.

Liedere

VONKK 7 “Mag Ons U Liefde Ken “`
Efesiërs 3:19
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: FRANCÉ — Francé Ludik 2003 ©
© VONKK 2009 (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief — Gebed

Mag ons u liefde ken en ook vervul word
met die volheid van God,
heeltemal vol met die volheid van God!
Amen, amen.

F8. “Al Die Lof, Aanbidding En Ere”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering)
Oorspronklike titel: Be Unto Your Name
Teks en Musiek: Lynn de Shazo & Gary Sadler
Afrikaanse vertaling: Jan de Wet
© 1998 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op Worship Him)

Ons is ‘n oomblik;
U is vir altyd,
God van die eeue,
God voor die tyd.
Ons is ‘n asem;
U is vir ewig –
U wat ons liefhet,
altyd getrou.

Refrein:
Heilig, heilig, Heer God, Almagtig!
Waardig is die Lam wat regeer!
Al die lof, aanbidding en ere
Kom U toe, o Heer,
Kom U toe, o Heer!

Ons is gebroke;
U die Geneser,
Jesus, Verlosser,
Redder en Vriend.
Ons vra die vrae,
U is die Antwoord;
Ons die verdwaaldes,
U is die Weg.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Verduidelik vir die kinders wat ‘n juk is (Matt 11:29-30). Vertel dan vir die kinders dat party mense dink dat God se wil soos ‘n juk is – iets wat swaar op ons druk, ons vasbind en seermaak.  Maar God is nie so nie – hy is lief vir ons.
(Foto van osse by Wikimedia commons; foto van juk deur chumworth by flickr.com)

Preekriglyn

Dis middernag in Amerika, in die lente van 1987.  In ’n oogwink verdwyn 7 miljoen Amerikaanse kinders.  ’n Massa-ontvoering?  Nee.  ’n Grappie?  Ook nie.

Die datum was 15 April, net nadat die VSA se Departement van Binnelandse Inkomste een van sy reëls gewysig het.  Vroeër kon belastingbetalers bloot meld hoeveel afhanklike kinders hulle het.  Vanaf April 1987 is daar vereis dat hulle ’n identiteitsnommer vir elke kind moes verskaf.  Só verdwyn daar toe oornag 7 miljoen kinders. Dit was kinders wat bloot as skimme op belastingopgawes bestaan het, bygelieg deur die kroekery van belastingpligtiges.  (Bron: Freakonomics).

Belastingopgawes help ons verstaan hoe mense se koppe werk.  Kul as kortpad om jouself te verryk, is algemeen.  Diegene wat beplan om te verneuk, dink blykbaar veral aan die risiko om uitgevang te word, en wat die boete gaan wees as hulle betrap word.

Daar is ook die insident toe amptenare wat tolgeld invorder in Brittanje gestaak het.  Bestuurders is toe versoek om die regte bedrae sommer in kartondose te plaas, sodat die staat nie inkomste verloor nie.  Tot almal se skok was die inkomste uit tolgeld tydens die staking hoër as daarvoor of daarna.  Wat sê die meeste padgebruikers is verrassende eerlike mense, minstens op die kort termyn.  (Bron: Freakonomics)

In die boek Freakonomics, deur Stephen Dubner en Steven Levitt, word gesê baie mense is min gepla oor die waarheid, en gee maar min om vir wat reg is, en vir betroubaarheid.

In Miga 6 word menslike gedrag skerp gekontrasteer met God se gedrag.  Ons teks vertel van ’n indringende gesprek tussen God en mense, spesifiek Gód se mense, oor wie hulle is en hoe hulle optree.  Die versugting in die teks is dat God se karakter en God se gedrag sal afgee op die volk, sodat God se mense sal wees, leef en optree soos God self.

Miga 6 verse 1 tot 8 bestaan uit drie dele.  In die eerste gedeelte (6:1-5 kondig God ’n dispuut met die volk aan (6:1), waarna die aanklag volg (6:2-5).  In die tweede gedeelte (6:6-7) vra die volk wat hulle nou te doen staan, en in vers 8, die derde gedeelte, antwoord die Here sy volk.

Wie is God?

Die aanklag wat die Here teen sy volk formuleer, stel die identiteit en karakter van God aan ons bekend.  Dis nie presies duidelik oor watter konkrete dade die Here die volk aankla nie, maar die aanklag verduidelik God se optrede teenoor sy volk, en beskryf op hierdie manier God se karakter.

Twee opmerkings hieroor:

Een: God is nie soos die heidense gode nie
In vers 3 vra die Here: “My volk, wat het Ek jou aangedoen?  Hoe het Ek jou moeg gemaak?”

Die heidense volkere van die antieke wêreld het baie verhale vertel van hoe gode mense uitgebuit het.  Mense is trouens deur die gode gemaak om die gode se vuilwerk te doen.

’n Legende uit Mesopotamië vertel dat daar aan die begin slegs gode en godinne op aarde was.  Hulle moes die lande bewerk om ’n oes te verseker.  Dit was harde werk en die gode het gesweet.  Elke god en godin het ’n spesifieke taak gehad.  Sommige het die lande omgespit, ander het water aangelê na leidamme waar onkruid gereeld uitgetrek moes word.  Die werk was moeilik en die gode glad nie gelukkig nie.  Hulle praat toe oor wat hulle te doen staan.  Die klomp gaan soek toe advies by Enki (die Sumeriese skepper-god), wat vas aan die slaap in sy onderwater-tuiste was.  Enki stel toe voor hy maak skepsele met die doel om die gode te dien deur die lande te bewerk.  Dan sou die lewensgehalte van die gode en godinne aansienliker verbeter.  Natuurlik dink die gode en godinne Enki se plan is uit die boonste rakke.  Enki neem toe klei uit die omgewing van sy watertuiste en maak mense daarvan.  Hy het lewensasem in die klei figure geblaas, maar die lengte van hulle lewe beperk.  Slegs die gode en godinne sou vir ewig lewe.  Die mense is sonder omhaal van woorde in die werk gesteek.  As dienaars van die gode en godinne moes hulle kos vir die tafel voorsien.  Die mense het water uit die riviere aangelê en die droë, lewelose lande natgelei.  Hulle het die grond bewerk en gesaai.  Met hul harde werk het hulle lewe na die land gebring, en die gode en godinne, wat lewe vir die mense gegee het, was gelukkig. (Bron)

Wanneer die Here vra: “Waarmee het Ek jou moeg gemaak,” sinspeel dit op die omliggende, heidense volke se opvatting dat die gode hulle vir hul vuil werk gebruik.

Twee: God bly getrou
Het die Here sy volk moeg gemaak?  Nee!  Die Here het hulle nie moeg gemaak nie, maar hulle gedien.  God het hulle gedra en hulle versorg.  Hier word ’n lang lys dade opgestapel om God se troue versorging van sy volk uit te spel:

  • Hy het hulle uit Egipte gelei, hulle bevry uit die plek van slawerny.  (In die Hebreeus is daar ’n woordspel: “moeg gemaak”, (hel’etika), word gekontrasteer met uitgelei (he’elitika).  God het sy volk nie moeg gemaak nie, maar uitgelei en verlos.)
  • God het leiers vir die pad voorsien, Moses, Aäron en Mirjam.
  • Die Here het die bose planne van koning Balak van Moab om Israel op hul woestyntog te vervloek deurmekaar gekrap.  Ons lees in Numeri 22 en 23 hoedat Balak Bileam laat kom om Israel te vervloek, maar dan seën Bileam die volk, omdat die Here dit vir hom sê.
  • Tussen Sittim en Gilgal het die Here die volk die oorwinning laat behaal.  Sittim was die basis vanwaar die verspieders die beloofde land gaan verken het, en waarvandaan die volk getrek het om die beloofde land deur die Jordaan binne te gaan.  By Gilgal het hulle die eerste keer kamp opgeslaan nadat hulle deur die Jordaan is.

Op reis tussen Egipte en die beloofde land het Israel telkens in opstand gekom en teen die Here gerebelleer.  By die einste Sittim moes daar byvoorbeeld afgereken word met Israeliete wat die heidens Baäl begin dien het.  Ten spyte van Israel se dik storie van verraad en ongehoorsaamheid, stapel God dade van liefde, versorging en trou op.

God, wat moeg moes geraak het, bly op God se pos.

Die probleem lê by Israel.  Die volk worstel om getrou te bly.  Hulle word moeg.

Hierdie twisgesprek openbaar die wese en karakter van God.  Die Ou Testamentiese prentjie van God is dat Hy die getroue Skepper-God is.  Hy het alles gemaak.  Hy bly verbind aan dit wat Hy gemaak het.  God is ook die Skepper van die volk Israel.  Hulle bestaan omdat God hulle uit al die nasies gekies het om die draer van sy liefde en goedheid na die nasies te wees.  God is verbind aan sy volk en bly getrou aan hulle.

Wat is die gepaste reaksie?

In die twisgesprek antwoord die volk op God se klagte.  Hoe reageer ’n mens as jy bewus raak van die Skepper-God se trou?

Die volk meen ’n gepaste reaksie het met offers te doen.  Is dit reg om met offerande tempel toe te gaan, dalk met jaaroud kalwers?  Sal ons die saak met die Here kan regmaak deur duisende ramme en tienduisende offers van olie?  Sal mens dalk jou eersgeborene offer om die Here tevrede te stel?

Dalk is die gebruik van die omliggende heidense volkere om mense aan gode te offer in die volk se gedagtes as hulle wonder of God met die offer van eersgeborenes tevrede sal wees.  Dalk dink hulle aan Abraham wat uitgedaag was om Isak te gaan offer.  Hoe dit ook al sy die aanbod om God met offers tevrede te stel is byna absurd.  ’n Stroom olie, duisende diere, eersgeborenes.

Sal God met geskenke gepaai kan word?  Is dit die gepaste wyse om toewyding en dankbaarheid uit te druk?

Wat God wil hê

God se antwoord is eenvoudig.  Verskillende Bybelvertalings stel dit wat God vra as volg:

NAV: Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

OAV: Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?

Message: But he’s already made it plain how to live, what to do, what GOD is looking for in men and women. It’s quite simple: Do what is fair and just to your neighbor, be compassionate and loyal in your love, and don’t take yourself too seriously– take God seriously.

NRSV: He has told you, O mortal, what is good; and what does the LORD require of you but to do justice, and to love kindness, and to walk humbly with your God?

Die Here verwag drie dinge:

  • Om te doen wat reg is
  • Om liefde en trou te bewys
  • Om God in gedagte te hou, in alles aan God te dink.

Al drie aspekte het met verhoudinge te doen.  Wat God vra, verteenwoordig die herstel van dit wat in die wêreld skeefgeloop het.

Dit is ook duidelik dat God bedoel sy eise is algemene kennis.  Die woorde “Hy het aan jou bekend gemaak” beteken prakties “jy weet alte goed wat God vra.” Die volk weet lankal wat God vra.  In sy handelinge met, en openbaring aan, Israel is dit van die vroegste begin af duidelik wat God vra.

Een: Geregtigheid
Om “reg te doen” slaan nie bloot op die regspraak nie, maar op alle handelinge wat “reg laat geskied” aan mense en so harmonie in verhoudinge bring.

Om reg te doen, beteken om vir ander mense lewensruimte te gee, om ander met egte waardigheid te behandel, om ander ruimte te gee om vorentoe in die lewe te gaan, om dit wat jy vir jouself opeis, ook aan ander te gun.

Mense wat reg doen, kan hulleself in die skoene van ander indink, is leerbaar en bereid om ander te perspektiewe en verwagtinge te ontdek, en daarmee rekening te hou.

Die ekologiese krisis in die wêreld het te doen met die Westerse lewenstyl wat nie vir al die bewoners van planeet aarde haalbaar is nie.  Die aarde het nie genoeg hulpbronne om so ’n lewenstyl in stand te hou nie.  Tog voer ons ons lewenstyl ter wille van ekonomiese groei uit na die res van die wêreld.  Ons weet dat dit alles op ’n katastrofe afstuur, maar ons gaan voort.

Die noodsaak om “reg te doen” het ’n spesifieke, indiwiduele, konkrete kant.  Dit vra van my om reg te laat geskied aan die konkrete en spesifieke mense met wie my lewenspad dag vir dag kruis.  Dit vra naasteliefde, geregtigheid teenoor die wat tot teen my kom.

Hierdie opdrag is so prakties as wat kan kom.  Uit die verdere verloop van Miga 6 blyk God se onsteltenis omdat die volk  met vals inhoudsmate gemeet het, verkeerde maatlyne gebruik het, asook onbetroubare weegskale met valse gewigte.

Reg doen het ook ’n breër, minder gespesifiseerde en toekomstige kant.  ’n Voorbeeld: Ek moet ook die geslagte wat nog gebore moet word, liefhê.  Ons moet só leef, dat hulle lewensmiddele sal hê.  Nog ’n voorbeeld:  dis ons taak om die gevegte, spanninge, vooropgestelde idees oor ander en verdeeldhede van ons geslag op te los, eerder as om verskeurdheid aan te blaas en toekomstige geslagte op te saal met die voortsetting van ons gevegte.

Die seën wat voortvloei uit die doen van dit wat reg is, bevoordeel duisende geslagte vorentoe.  Die doen van dit wat verkeerd is, bind ook toekomstige geslagte (Eksodus 20:5-6).

Twee: Liefde en trou
Die Hebreeuse woord wat met liefde en trou vertaal word, is “gesed.”  God openbaar Godself van die begin af as die troue, liefdevolle, lojale, wellewende, toegewyde God.  God verlaat nie die voorwerpe van God se liefde nie – nie die mens nie, en ook nie die res van die skepping nie.

Om liefde en trou van mense te vra, beteken om te vra dat God nageboots word, dat die kinders van God met hul lewe demonstreer dat die appel nie ver van die boom val nie.

Liefde en trou is die verbondskwaliteit van God.  Reg van die begin af verbind God God self aan sy skepping en sy uitverkore volk.  Selfs wanneer Israel getugtig word, selfs in ballingskap gaan, is hierdie verbintenis die motief van waaruit God in liefde en trou handel.

So moet mense ook handel.

Drie:  Om God in gedagte te hou
Om God in gedagte te hou, beteken om te onthou dat jy aan God verantwoordbaar is.  God is die oriëntasiepunt van jou lewe.

Die twisgesprek met Israel word juis daaruit gebore dat Israel van God weggedraai het, ander oriëntasiepunte begin soek het.  Verder is Miga 6 verwyt die Here die volg dat hulle die opdragte van die goddelose konings, soos Agab en Omri, nagevolg het, en nie vir God en sy verwagtinge voor oë gehou het nie.

As ons God voor oë hou, onthou ons dat ons deel is van die geskiedenis wat God besig is om in die wêreld te skryf.  God het hemel en aarde geskep.  Toe dinge skeefloop, het God ’n volk gekies wat sy instrument is om die nasies die regte pad te wys.  Toe hierdie volk misluk, het God self die volmaakte mens voorsien, die God-mens Jesus, wat God se bedoelinge moontlik maak.  Dis hiervan dat ons deel is.  Ons is die mense wat só leef dat God se bedoelinge gedemonstreer word.  Ons leef as volgelinge van Jesus, die hoogste leermeester, wat ons presies bekendmaak wat God wil hê ons moet doen.

Versigtig vir moralisme

Waarom sou ons die regte dinge doen, liefde en trou bewys, en God in gedagte hou.

Mens kan hierdie gedeelte moralisties beskou.  Asof dit maar bloot om ’n paar opdragte gaan wat ordentlike mense behoort na te kom.  Ons kan die gedeelte ook vir morele afpersing gebruik.  Mens kan sê: Kyk wat het God vir ons gedoen, en kyk hoe leef ons.  Ons kan die gedeelte beskamend gebruik:  God doen alles vir ons, maar wat doen ons vir God?

Moralisering, skuld, en skaamte is nie goeie vertrekpunte vir die lewe van gelowiges nie.

Ons kom God se opdragte na, omdat God ons in Christus nuut gemaak het.  God het sy Seun en sy Gees vir ons gegee, wat van ons nuwe mense maak.  God kalwe die selfsugtige soeke na eie voordeel, die behoefte om die wêreld om jouself te laat draai, en die behoefte om te verneuk (soos Amerikaanse belastingbetalers) in ons lewe weg – op grond van wat Jesus vir ons gedoen het.

Laat ons met blydskap en dankbaarheid reageer op dit wat God in sy liefde en trou vir ons gedoen het.  Selfs hierdie gehoorsaamheid skenk God aan ons.

Laat ons dan met leë hande voor God gaan staan, en vra dat Hy vir ons die goeie geskenke van geregtigheid, trou en bedagsaamheid gee.  En dan gaan leef ons dit met volharding en selfopoffering.

God stuur ons om te leef

Toewyding
(Die liturg kan die gemeente se verbintenis omskryf om spesifieke areas wat relevant is in jul gemeente, te beskryf.)

Liturg:  God is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Dáárom –
Verbind ons ons tot geregtigheid:
Gemeente:

  • om alle mense met waardigheid te behandel
  • Om na die skepping om te sien
  • Om op te staan teen alle vorme van onreg en diskriminasie

Liturg:  Verbind ons ons tot liefde en trou:
Gemeente:

  • om ons naaste lief te hê.
  • om aan te hou vergewe, vir solank as wat dit mag nodig wees.
  • om ander te dien in woord en daad.

Liturg:  Verbind ons ons aan God:
Gemeente:

  • Hy bepaal die rigting van ons lewens
  • Ons wil sy wil doen
  • Ons is afhanklik van hom.

Liturg:  So wil ons leef met volharding leef, omdat dit getroue God self so is.

Lied
F61. (a)  “Verlustig Jou In Hom”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Gebed)
Teks en Musiek: Johan Badenhorst
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)
(Psalm 37:4)

Verlustig jou in Hom
En Hy sal jou gee
Die begeertes van jou hart
Verlustig jou in Hom

     (b)  “Staan Vas”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Gebed)
Teks en Musiek: Rick Moser
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

Staan vas in die Naam van die Heer!
Staan vas in die krag wat Hy jou gee!
Geen wapen wat die vyand teen jou smee
Sal slaag as jy vasstaan
In die Naam van die Heer

Dra die helm van verlossing
Sit die waarheid om jou lyf
Gepanser met geregtigheid
en ‘n skild wat vrees verdryf.

Staan vas op die Woord van die Heer
Staan vas in die krag wat Jesus gee
Gaan voort onder die leiding van die Gees
Jy’s meer as ‘n oorwinnaar
In die Naam van die Heer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.