Vierde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Ander tekste

Miga 6:1-8
6 Hoor wat die Here sê:
Maak klaar, roep die berge as getuie,
laat die heuwels hoor wat jy te sê het.
2Berge, vaste fondamente van die aarde,
julle moet luister na die saak
wat die Here het.
Die Here het ’n saak teen sy volk,
Hy het Israel aangekla.
3My volk, wat het Ek jou aangedoen?
Hoe het Ek jou moeg gemaak?
Antwoord My!
4Ek het jou uit Egipte gebring,
Ek het jou uit die plek van slawerny
gered,
Ek het vir Moses gestuur om jou te lei,
ook vir Aäron en Mirjam.
5My volk, dink aan die planne
van koning Balak van Moab,
en wat Bileam seun van Beor
hom geantwoord het.
Dink aan alles tussen Sittim en Gilgal,
en weet dat die Here julle
die oorwinning laat behaal het.
6Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe
gaan,
as ek voor die hoë God gaan kniel?
Moet ek met offers na Hom toe gaan,
met jaaroud kalwers?
7Sal die Here duisende ramme aanvaar
saam met tien duisende offers van olie?
Moet ek my eersgeborene offer
vir my sonde,
hom wat uit my liggaam kom,
vir my oortreding?
8Mens, die Here het jou bekend gemaak
wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg
sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Psalm 15
Wie het die reg om in die tempel te kom?
15 ’n Psalm van Dawid.
Wie het die reg
om in u woonplek te kom, Here?
Wie mag op u heilige berg vertoef?
2Hy wat onberispelik wandel
en doen wat reg is,
wat met sy hele hart die waarheid praat,
3nie kwaad praat nie,
sy medemens nie kwaad aandoen nie
en niemand beledig nie;
4hy wat dié verag
wat deur God verwerp is,
maar almal eer wat die Here dien;
wat sy woord hou,
selfs tot sy eie skade,
5sy geld nie op rente uitleen nie
en hom nie laat omkoop
om die onskuldige
te kort te doen nie.
Wie hom hieraan hou,
sal nooit wankel nie.

1 Korintiërs 1:18-31
Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe:
“Die wysheid van die wyses
sal Ek vernietig,
en die geleerdheid
van die geleerdes
sal Ek tot niet maak.”

20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan:
“Dié wat wil roem,
moet in die Here roem.”

Fokusteks

Matteus 5:1-12
Die bergrede
(Matt 5–7)
5 Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, 2en Hy het hulle geleer en gesê:

Die werklik gelukkiges
(Luk 6:20–23)
3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort
die koninkryk van die hemel.
4Geseënd is dié wat treur,
want hulle sal vertroos word.
5Geseënd is die sagmoediges,
want hulle sal die nuwe aarde ontvang.
6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is,
want hulle sal versadig word.
7Geseënd is dié wat barmhartig is,
want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
8Geseënd is dié wat rein van hart is,
want hulle sal God sien.
9Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.
10Geseënd is dié wat vervolg word
omdat hulle doen wat reg is,
want aan hulle behoort die koninkryk
van die hemel.

11“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Liturgie

Toetrede
Psalm 15 of
VONKK 37 “Ons Hou Ons Oë Op Jesus, die Here” of
Flam 217 “Jesus, U Naam”

Votum: Psalm 15

Seëngroet

Lofsang
Lied 326 “Maak oop die poorte, deure, wyd!” of
Flam 31 “Prys Die Here, Loof en Prys Hom”

Wet: Miga 6:8

Skuldbelydenis

Genadeverkondiging: 1 Korintiërs 1: 18 en 30

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 5:1-12

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 251 “Salig dié wat arm voor God is” of
VONKK 74 “Die Heer Sal [ons] Seën”

Seën: n.a.v. Matt. 5

Respons
Lied 313 of Vonkk 74 se “Amen”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Psalm 15 of
VONKK 37 “Ons Hou Ons Oë Op Jesus, die Here” of
Flam 217 “Jesus, U Naam”

Votum: Lees Psalm 15
As ons so na Psalm 15 luister, kan ons maklik voel dat ons nie die reg het om tot God te nader nie. Tog nooi God ons, ten spyte van ons sonde, om by hom te vertoef.

Seëngroet
en dit is juis daarom dat ons gegroet word met die woorde: Genade en vrede.
Genade en vrede vir jou. Jy is welkom by God.

Lofsang
Lied 326 “Maak oop die poorte, deure, wyd!” of
Flam 31 “Prys Die Here, Loof en Prys Hom

Wet: Miga 6:8
8Mens, die Here het jou bekend gemaak
wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg
sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Skuldbelydenis
Stil gebed

Genadeverkondiging
1 Korintiërs 1: 18 en 30
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God…. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.

Geloofsbelydenis

Liedere

F217. “Jesus, U Naam”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Oorspronklike titel: Jezus, uw Naam Teks en musiek: Elisa Krijgsman
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht 2007
© Unisong Music Publishers t/a Reli Music Productions geadministreer deur Small Stone Media South Africa

Refrein:
Jesus, u Naam is die allerhoogste Naam.
Jesus, u Naam vul ons hart waar ons ook gaan.

1. In u Naam is seën en mag
ons oorwinning, liefde en krag.
Heer, u Naam is Lig in die duisternis
Jesus!

Refrein:

2. In u Naam is redding en hoop
ons troos in elke nood.
Heer, u Naam herstel wat gebroke is
Jesus!

VONKK 74 “Die Heer Sal Jou Seën (Numeri 6)”
Nav Numeri 6 : 24-26 Teks: The Lord bless and keep thee – G Goodman; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008 ©
Melodie: The Lord bless and keep thee – EHG Sargent © Afrikaanse teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Engelse teks: Openbare besit © Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Gebed / Uitsending

1. (teks nav die 1953-vertaling)
Die Heer sal jou* seën en jou behoed.
Hy sal sy aangesig oor jou laat skyn.
Hy sal genadig wees, Hom oor jou ontferm.
Hy sal jou vrede gee. Amen.

Opsionele einde: Amen. Amen. Amen.

2. (teks nav die 1983-vertaling)
Die Heer sal jou* ryklik seën en jou beskerm.
Hy sal genadig wees en jou verlos.
Hy sal jou roepstem hoor, jou gebed verhoor,
aan jou sy vrede gee. Amen.

Opsionele einde: Amen. Amen. Amen.

3. (tradisionele Engelse teks)
The Lord bless and keep thee, make his face shine.
Unto thee gracious be, both thee and thine.
Lift up his countenance, give thee release,
from sin besetting thee and give thee peace.
Amen.

Optional ending: Amen. Amen. Amen.
* jou kan met u, jul of ons vervang word na gelang van omstandighede.

VONKK 37 “Ons Hou Ons Oë Op Jesus, die Here”
Teks: Oculi nostri – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008 Musiek: Jacques Berthier 192301992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Latyn, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed / Geloof en Vertroue

Ons hou ons oë op Jesus, die Here.
Ons hou ons oë op Jesus, ons Here.
Our eyes are turned to the Lord, Jesus Christ.
Our eyes are turned to the Lord God, our Saviour.

Oculi nostri ad Dominum Jesum,
oculi nostri ad Dominum nostrum.

F31. “Prys Die Here, Loof en Prys Hom”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof) Teks: Strofe 1: TT Cloete (Psalm 146); Strofe 2: Tops de Jager
Musiek: Tops de Jager © Kopieregbeheer

1. Prys die Here, loof en prys Hom.
Ek wil God se lof besing.
Hy is magtig; loof en prys Hom.
Ek wil God my loflied bring
en solank ek leef Hom eer.
Loof die groot en troue Heer.

2. Geseënd is hy wat as dit swaar gaan
altyddeur aan God vashou;
en as dit lyk of als verkeerd loop
altyddeur op die Here vertrou;
en ook in die swartste nag
op die Here alleen bly wag.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 5:1-12

Familie-oomblik

Vra vir die kinders wat hulle regtig gelukkig maak. Sê dat Jesus in ons skrifgedeelte vir ons sê wat mens eintlik gelukkig maak. Lees dan die skrifgedeelte en gesels na elke “geseënd” oor wat dit beteken. Laat die kinders aan voorbeelde dink van elkeen.

Jesus sê ons is gelukkig wanneer ons [hierdie is een, kinder-vriendelike interpretasie van die saligsprekinge om jou gedagtes aan die gang te kry – jy kan dit ook op ’n ander, eenvoudige manier verduidelik]:

  • Meer oor God wil leer
  • hartseer is maar nie wraak neem nie, maar God ons help om vir ander te wys dat ons omgee.
  • Nie probeer “af show” nie
  • kies om regte dinge, eerder as verkeerde dinge, te doen
  • ander vergewe of help
  • goeie dinge doen en dink
  • vrede maak met ander mense
  • opstaan vir wat ons glo reg is, selfs al lag ander vir ons

Jy kan ook werk met die idee van gesindheid. Skryf “gesindheid” met ’n nie-permanente koki op ’n witbord (of enige iets plastiek). Laat die kinders dit met hul vingers vryf en verduidelik dat gesindhede so op ’n mens afvee. Jesus gee vir ons goeie gesindhede (soos om ander te help, nie wraak te neem nie, ens.) wat op dieselfde manier ander help.

Kirkofkildaire stel ‘n poppekas voor om die saligsprekinge te verduidelik. Jy het 4 poppe en 4 “akteurs” nodig:
Scott: Ek kan nie ophou dink aan wat met Johan gebeur het nie. Ek was saam met hom by die skaatspark en hy het nogal hard geval van sy skaatsplank af! Ek het met my eie geld vir hom koeldrank gekoop.

Angelica: My ma sê hy het regtig seergekry en het deur die nag al erger geraak. Sy ma moes hom die volgende dag dokter toe vat. Hy het ’n spier seergemaak en sal vir ’n tyd lank nie veel kan doen nie. Frank: My ma het my gevat om by hom te gaan kuier. Sy sê ek moet hom opbeur. Sy’t sommer ’n klomp koekies gebak wat ek saamgevat het. Hy was nogal bly om my te sien. Hy was verveeld en hartseer en het gesê dit was sy fout. Hy wou voor iemand anders insny omdat hy nie kon wag nie. Hy’t gesê hy gaan versigtiger wees wanneer hy beter is.

Elizabeth: Jy bedoel hy gaan weer skaatsplank ry?
Frank: Natuurlik. so seer as wat dit was, hy dink dit gaan van hom ’n beter skaatser maak. Hy gaan nie weer so haastig wees nie.
Angelica: En sy pa gaan vir hom ’n helm koop. Hy was gelukkig dat hy nie baie seerder gekry het nie, want sy helm het nie goed gepas nie.
Elizabeth: Ek hoop dit laat hom beter voel oor wat gebeur het. Ek sal nie graag so seer wil kry nie! ek sal vir hom ’n kaartjie maak.
Scott: Wanneer slegte goed gebeur, gebeur daar dalk goeie dinge wat opmaak daarvoor. Wie wet – hierdie ongeluk het dalk gekeer dat Johan regtig baie seergekry het omdat hy die verkeerde helm het. Nou gaan hy okay wees en hy gaan versigtiger wees.
Elizabeth: Dis wat my ma ook sê. Sy sê mens kan na die tyd, as jy terug kyk, sien hoe God in slegte tye in jou lewe gewerk het. Sy sê mens moet altyd vir God dankie sê!

Preekriglyn

Dis die jaar 2154. Twee klasse mense bestaan. Aan die een kant die rykes, wat op ‘n luukse ruimtestasie woon met die naam Elysium. Dan is daar die armes, wat op ‘n oorbevolkte, verwoeste aarde woon. Terwyl die aardlinge opgepas word deur robotte wat vir niks terugdeins nie, leef die burgers van Elysium in gemak en weelde. Hulle gebruik mediese toestelle, Med-Bays, wat hulle wonderbaarlik vry van siekte en beserings hou.

Ons praat natuurlik van Elysium, die onlangse Hollywood blockbuster. Die film gaan oor Max da Costa, gespeel deur Matt Damon, en sy stryd om toegang tot genesing te kry. Hy moet verbete veg om by Elysium, en genesing, geluk, uit te kom.

Die skrywer en regisseur van die film, Neill Blomkamp, sê dit gaan nie regtig oor 2154 nie. Die film is kommentaar op vandag. Dit gaan om vandag te help verstaan, en ‘n spieël op te hou oor die wêreld wat ons ken.

Daar is inderdaad vir baie mense nie veel geluk op aarde nie. Daar is mense wat swaarkry, geliefdes aan die dood afstaan, wegteer weens siekte, in ‘n siklus van armoede vasgevang is, omring word deur die verwoesting van burgeroorlog, vervolg word vir hulle geloof, uitgebuit word deur ander, besteel word, teikens is van geweld, misdaad en moord.

Mens wens vir ‘n Elysium waarheen jy weggeruk kan word, bevry van hierdie ellende.

Wie is die ware geseëndes?

Matteus vertel hoe Jesus teen die berg opgegaan en sy bekende bergpreek gelewer het. Jesus begin sy lering met die bekende uitsprake oor wie die ware geseëndes is. Baie van ons onthou nog die 1953-vertaling wat van die “Saligsprekinge” gepraat het.

Die agtergrond van die saligsprekinge hou verband met die Ou-Testamentiese wysheidsliteratuur. Die Griekse woord makarios beteken om, in die volle sin van die woord, met Goddelike geluk vervul te wees. Dis geluk wat deur die guns van God geskenk en gerealiseer word. Dit gaan hier oor die toesegging van heil en seën. Makarios is ’n gebeurwoord en dit kondig heil aan met gevolglike allesoortreffende blydskap, want dit wat hierdeur toegesê word, is nie verwag of verdien nie.

Makarios is nie om weggeruk te word uit jou aardse bestaan en na ‘n bo-wêreldse plek gevoer te word nie. Makarios is om in hierdie wêreld, met sy pyn van broosheid, verlies, hardvogtigheid, onreg, harteloosheid, geweld en vervolging die seën en teenwoordigheid van God te beleef.

Grafika 

Agtergrond

Matteus se evangelie vertel van die woorde en dade van Jesus. Woorde en dade word opeenvolgend aangeteken. Dit word aanvaar dat Matteus 4:23 en 9:35 die lerende deel van Jesus se bediening en sy talle genesingswonders in Matteus 5-7 en 8-9 omraam. Die saligsprekinge funksioneer as inleiding vir die hele bergrede.

Die bergrede (Matt 5-7) is die eerste van vyf redevoeringe in die evangelie. Die ander is:

  • Die uitsendingsrede (10),
  • die koninkryksrede (13),
  • die kerkrede (18) en
  • die rede oor die eindtyd (24-25).

Pas voor die eerste redevoering het Jesus sy dissipels geroep om vissers van mense te wees (4:19–20). Jesus gaan voort met sy lering in die sinagoges in Galilea en verkondig die evangelie van die koninkryk, maar genees ook mense van elke siekte en kwaal. Die nuus hieroor versprei deur die hele provinsie Sirië en gevolglik stroom mense met allerlei siektes uit Galilea, Judea, Jerusalem, Dekapolis en gebiede aan die oorkant van die Jordaan (4:23-25) hierheen om Jesus te volg.

Wanneer Jesus na die nood van die menigte omgesien het, gaan Hy die berg op om hulle (saam met sy dissipels) te leer (5:1-2; 7:28-29). Jesus onttrek Hom nie van die pynlike werklikheid van mense se nood nie, maar midde in die werklikheid daarvan verduidelik Jesus wat dit beteken dat die koninkryk van die hemel nou naby gekom het.

Teen hierdie agtergrond maak Jesus sy aankondiginge van geluk en seën. Die merkwaardige van hierdie seënuitsprake is die feit dat dit toegesê word aan mense van wie ons dit allermins sou verwag. Dit is verrassende, vreemde, andersoortige geluksaankondigings wat bemoedig en uitnooi. Dis die genadeaanbod van Jesus wat die koninkryk van die hemel nou op aarde bring, maar nie sonder die risiko van verwerping en vervolging nie.

Indeling

Die seëninge van die eerste en die agste saligspreking word in die teenwoordige tyd geformuleer, terwyl die tweede tot die sewende saligspreking in die toekomstige tyd geformuleer is. Die koninkryk van God het dus beide teenwoordige en toekomstige gestaltes.

Die eerste paar (4 en 5) oor die treurendes en sagmoediges, dui op afhanklikheid van God en mense wat nie konformeer met die wêreld nie. Daar is egter weinig bedreiging van hulle kant vir die samelewing. Die tweede paar (6 en 7) oor die dié wat honger en dors na wat reg is en wat barmhartigheid bewys, rig tekens van geregtigheid op. Waar hierdie soort optrede sosiale en ekonomiese sekerhede aantas, kry diegene al hoe meer met antagonisme van die gemeenskap te doen. By die derde paar (8 en 9) oor dié wat rein van hart is en die vredemakers gaan dit oor konsekwente dien van die Here sonder enige kompromie met die wêreld, en gevolglik kry hulle met die volle geweld van belediging en vervolging te doen.

Inhoud van die saligsprekinge

Die saligsprekinge kondig die seën aan van die koninkryk van die hemel wat in verhouding met Jesus ’n genadige werklikheid vir almal geword het. Niemand is daarvan uitgesluit nie. Niemand is nou meer buite bereik van God se oorvloedige seën in Jesus Christus nie.

Afhanklikheid van God

Vers 3: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”Die 1933-vertaling lui: “die wat arm van gees is”.

Anders as fisieke armoede (gebrek aan lewensmiddele), gaan dit hier eerder oor geestelike bankrotskap, oor desperaatheid oor God wat ons nodig het, meer as wat ons wil erken. Aan diesulkes behoort die koninkryk van die hemel.

Diegene wat voor Jesus staan is oënskynlik diegene sonder enige godsdienstige bekwaamhede en voortreflikhede, sonder geestelike charisma en potensiaal, sonder enige aanduiding dat God in hulle woon en hoegenaamd deur hulle kan werk. En tog is die verrassende dat die Koning van God se ryk, Jesus Christus, hulle lewe onherroeplik verander het, dat hulle eenvoudig nie sonder Hom kan of wil lewe nie. Waar armoede vanuit menslike perspektief meesal as ’n mislukking beskou word, noem Jesus hierdie soort armoede gelukkig, geseënd.

Om te treur

Vers 4: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”
Om te treur of om net te sug of hardop te huil is die taal van verootmoediging, skuldbelydenis en berou in solidariteit met ander, maar ook vir jou eie aandeel, meedoen en versuim en die gevolglike gebrokenheid van die lewe. Hierin skuil daar ook iets hoopvol. Die passiewe vorm van die werkwoord “sal vertroos word” beloof dat God sal vertroos; die uitgeworpenes en die verwerptes, die eensames, verlatenes, die veragtes en die nie-goed-genoeg-agtergeblewenes.

Sagmoediges

Vers 5: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”
Die sagmoediges draai hulle rug op trotsheid, eiewaan, eiebelang, voorkeure, regte, selfverheffing en selfhandhawing. Hulle vestig hulle hoop buite hulleself op God op iets groter en heerliker; die beskaamdes, die wat geïntimideer is, die wat opsy staan sodat ander lewensvoorrang kan geniet en in die kollig kan staan.

Smag na geregtigheid

Vers 6: “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”
Om te smag na wat die Grieks noem dikaiosone (geregtigheid), beteken om vanuit ’n herstelde verhouding met God te smag en met jou hele wese te hunker na ’n herstelde lewe in al sy verbande; afkeur van en weersin in die onreg in myself, ook die onreg wat ek veroorsaak en in stand hou.

Barmhartigheid

Vers 7: “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
Barmhartige optrede is altyd die eggo van God se barmhartigheid wat ons ontvang het; wat Jesus aan die einde van Matteus 4 prakties demonstreer toe Hy siekes wat van oraloor gekom het, genees het. Barmhartigheid het ook te doen met vergifnis wat ontvang is en nou aan ander uitgedeel word om sodoende mekaar van vereensaming te bevry en gemeenskap te skep.

Barmhartigheid het verder te doen met mildheid, waar lewensruimte aan al God se skepsels gegun word, sodat ons ook soos God daarin vreugde kan hê. Barmhartigheid vind gestalte in ontferming oor die nood van ander en om mekaar se laste te help dra. Omdat God barmhartigheid geskenk het en dit deur ons uitgedeel word, word ’n sirkelgang van barmhartigheid aan die gang gesit, waar ons nie meer krampagtig vir onsself lewe nie, maar dit oop stel vir ander en dit waag om die lewe draagliker vir ander te help maak.

Rein van hart

Vers 8: “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
Hier gaan dit oor ’n onverdeelde ingesteldheid in jou hart, die beheersentrum van jou lewe – nie op jouself of die verkeerde nie, maar op God – om in alles slegs één ding te wil (“single mindedness” – Kierkegaard), naamlik om gerigtheid op God te hê, sy teenwoordigheid te soek en daarop bedag te wees.

Vrede maak

Vers 9: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
Hier gaan dit daaroor om aan God se “shalom“, as omvattende begrip van God se heil, aktief gestalte te gee deur die inisiatief te neem om deur bemiddeling stukkende verhoudinge te herstel. Die wyse waarop God met ons vrede maak, word die patroon waarop ons vrede soek en najaag – om be-middelaar te wees ten koste van jouself.

Vervolging en belediging

Vers 10-12: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van my beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê . . .” Hierdie laaste saligspreking vra na die erns en kwaliteit van ons toewyding aan God. Hoe ernstig ons dit bedoel met God en sy koninkryk of ons gaan terugdeins as die wêreld “warm” raak vir “fluitjieblasers” en of ons navolgers van Jesus gaan wees wat ons lewe ter wille van Hom sal verloor om dit terug te kry (Matt 16:25).

Vervulling van beloftes

Dit is duidelik dat Matteus wil aantoon dat Jesus die vervulling van die Ou-Testamentiese heilsbeloftes is en dat Hy die verwagte Messias is in wie God werksaam is en deur wie sy koninkryk kom. Daarom is die saligsprekinge goeie nuus, aankondiginge van seën en heil, geskenk uit genade met die koms van die koninkryk van die hemel in die optrede van Jesus. Natuurlik het die indikatief ook implikasies vir die lewenswyse en gedrag (imperatief) van die navolgers van Jesus – dit veral binne die werklikheid van die andersoortige, nuwe koninkryk, in sy teenswoordige en toekomstige gestalte.

Die voorsin van elke saligspreking moet dus nie as voorwaarde, eis of verdienstelike gesindheid gereken word waardeur God se seën in sy koninkryk verdien of verwerf kan word nie. Met ander woorde: God skenk nie die seën “omdat” daar een of ander verdienstelike gesindheid of houding in ons te bespeur is nie. Inteendeel – die genade van God kom daarin tot uitdrukking dat die seën toegesê word “ten spyte van” en “te midde van” die veragtelikheid van om geestelik arm te wees, te treur, sagmoedig te wees.

Genade breek deur

Dit gaan dus nie hier oor optrede of gesindhede wat met seën beloon word nie, maar oor die genadige deurbreek van die koninkryk van die hemel in Jesus Christus, wat hier aan die woord is oor die lewe van sy toehoorders.

Die saligsprekinge is nie instruksies van Jesus oor “hoe” jy te werk moet gaan om deur God geseën te word nie. Nie een van die gesindhede of optredes wat in die voorsin van ’n saligsprekinge gebruik word, waarborg God se goedkeuring, seën en verlossing nie. Die saligsprekinge verduidelik en illustreer uit praktiese omstandighede van mense wat voor Jesus staan en vir wie daar geen hoop meer was nie se lewe dat die koninkryk van die hemel met sy verrassende seën, teen alle verwagting in, oor en in hulle lewe aangebreek het deur Jesus as die verwagte Messias.

In Jesus

Dié koninkryk is ’n werklikheid in Jesus. Jesus is die koninkryk. Jesus is die Koning van God se ryk. Ons word almal uitgenooi om Jesus te volg en in sy geseënde koninkryk te leef.

Kortom: die ware geseëndes is die wat hulle rus in Jesus vind. Die wat uit Jesus se genade leef en in sy liefde bly.

Geluk is nie ‘n geveg om in ‘n Elysium aan te kom nie.

Die koninkryk van die hemel is ’n genade-bestemming vir almal. Dit is ’n koninkryk van hoop vir almal. In die koninkryk van die hemel bring Jesus ruimte en heling vir almal. Die koninkryk van die hemel skenk onvoorwaardelike liefde in oorvloed.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 251 “Salig dié wat arm voor God is” of
VONKK 74 “Die Heer Sal [ons] Seën”

Seën
Die Here seën jou wanneer jy weet hoe afhanklik jy van God is,
Die Here seën jou wanneer jy treur,
Die Here seën jou wanneer jy sagmoedig is,
Die Here seën jou wanneer jy honger en dors na wat reg is,
Die Here seën jou wanneer jy barmhartig is,
Die Here seën jou wanneer jy rein van hart is,
Die Here seën jou wanneer jy vrede maak,
Die Here seën jou wanneer jy vervolg word omdat hulle doen wat reg is,
Die Here seën jou wanneer jy wanneer die mense jou ter wille van hom beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van jou sê.

Respons
Lied 313
Vonkk 74 se “Amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.