Vierde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Deuteronomium 18 vertel dat daar ’n profeet soos Moses gaan kom, ’n profeet wat die woorde van God spreek en hoe mens so ’n profeet kan uitken van ’n profeet wat die woorde van ’n afgod spreek. Die tema word ook 1 Korintiërs 8, wat gaan oor die vraag oor die eet van vleis wat aan ’n afgod geoffer is, verder gevoer.  Paulus reageer dat daar tog net een ware God is. In Markus 1 begin Jesus die mense leer en is hulle verbaas oor die gesag waarmee Hy praat, Hy bevestig sy gesag as die profeet van die enigste Here, deur bose geeste uit te dryf.

Ander tekste

Deuteronomium 18:15-20
’n Profeet soos Moses
15“Die Here jou God sal ’n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. 16Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: ‘Ek kan nie weer ’n keer die stem van die Here my God aanhoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’

17“Toe het die Here vir my gesê: ‘Wat hulle gesê het, is reg. 18Ek sal ’n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. 19Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie. 20’n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf. Dit geld ook van ’n profeet wat in die naam van ander gode praat.’

21Wanneer jy jou afvra: Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie? 22moet jy weet: as ’n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie.”

Psalm 111
Die werke van die Here is groot
111 Prys die Here!
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes,
in die gemeente.
2Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind,
dink daaroor na.
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade
nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
6Hy het sy volk die krag van sy dade
laat ervaar,
Hy het aan hulle die land
van ander nasies gegee.
7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
8hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
10Wysheid begin
met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd
stand.

1 Korintiërs 8:1-13
Die vraag oor vleis wat aan ’n afgod geoffer is
8 En nou julle vraag oor vleis wat aan ’n afgod geoffer is.
Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. 2As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat ’n mens behoort te hê nie. 3Maar as iemand God liefhet, ken God hom.

4Wat nou betref die eet van vleis wat aan ’n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. 5En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word, 6is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

7Maar nie almal het hierdie kennis nie. Daar is party van julle wat so gewoond is aan afgode dat hulle nog altyd vleis eet asof dit ’n offer aan ’n afgod is. Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar. 8Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. 9Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ’n aanleiding tot sonde word nie. 10As jy wat hierdie kennis het, in ’n afgodstempel gaan eet en iemand met ’n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie? 11Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit ’n broer vir wie Christus gesterf het. 12Deur so teen die broers te sondig en ’n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus. 13Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.

Fokusteks

Markus 1:21-28
1 Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:

Die optrede van Johannes die Doper
(Matt 3:1–12; Luk 3:1–18; Joh 1:19–28)
2In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe:
“Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit.
Hy sal die pad vir jou regmaak.
3Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.”
4Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 5Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

6Johannes het klere van kameelhaar gedra met ’n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 7Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. 8Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Jesus word gedoop
(Matt 3:13–17; Luk 3:21–22; Joh 1:29–34)
9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Jesus word versoek
(Matt 4:1–11; Luk 4:1–13)
12Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Jesus begin preek
(Matt 4:12–17; Luk 4:14–15)
14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Jesus roep sy eerste dissipels
(Matt 4:18–22; Luk 5:1–11)
16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.

19Toe Hy ’n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Die besetene in Kapernaum
(Luk 4:31–37)
21Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. 22Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

23Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge ’n man wat van ’n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: 24“Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”

25Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”

26Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. 27Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is ’n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.”

28En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

Die genesing van Petrus se skoonmoeder
(Matt 8:14–15; Luk 4:38–39)
29Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. 30Die skoonmoeder van Simon het daar met ’n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. 31Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.

Nog genesings en voortgaande prediking
(Matt 8:16–17; 4:23; Luk 4:40–44)
32Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. 33Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. 34Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is.

35Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid. 36Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, 37en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”

38Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”

39Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.

Die genesing van die melaatse man
(Matt 8:1–4; Luk 5:12–16)
40Daar kom toe ’n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.”

41Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!”

42Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. 43Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek 44en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

45Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in ’n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom.

Liturgie

RUS

Toetrede: Psalm 111 verse 1 en 2

Votum: n.a.v. Ps. 111

Sonder aankondiging: Sing Psalm 111 Keervers

Seëngroet

Lofsang: Lied 215 of F214 of VONKK 85

Wet en toewyding

Respons :Psalm 111 verse 3 en 4

HOOR

Gebed

Skriflesing: Markus 1:21-28

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang/geloofsbelydenis: F164 of F120 of VONKK 96

Seën

Respons: Flam 120 vers 3 of Vonkk 96 vers 4

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Psalm 111 verse 1 en 2

Votum
Voorganger: Prys die Here!
Gemeente: Ek loof die Here in die samekoms van die opregtes, in die gemeente.

Voorganger: Die werke van die Here is groot, almal wat daarin vreugde vind, dink daaroor na.
Gemeente: Sy dade is vol majesteit en luister, sy trou staan vir altyd vas.

Voorganger: Hy sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie.
Gemeente: Genadig en barmhartig is die Here.

Voorganger: Hy voed dié wat Hom dien.
Gemeente: Hy hou sy verbond altyd in stand.

Voorganger: Hy het sy volk die krag van sy dade laat ervaar.
Gemeente: Wat Hy doen, getuig van trou en reg,

Voorganger: al sy voorskrifte staan vas, hulle is vir altyd geldig,
Gemeente: hulle is gegee in trou en regverdigheid.

Voorganger: Hy het vryheid vir sy volk bewerk, sy verbond vir altyd ingestel.
Gemeente: Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.

Voorganger: Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig.
Gemeente: Die roem van die Here hou altyd stand  (uit Ps 111).
(Uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2014-2015)

Sonder aankondiging: Sing Psalm 111 Keervers

Seëngroet
Liewe gemeente, genade en vrede van God die Vader wat op die eerste dag gesê het:  “Laat daar lig wees. “ Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.  En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ons hart en verstand verlig.  Amen.
(uit:  Wepener, Cas.  2011.  Soos ’n blom na die son draai.  Wellington, BybelMedia.)

Lofsang
Lied 215 of
F214. “Jesus, U regeer” (U oë) of
VONKK 85 “Here, Ons Here, Hoe Groot Is U!’ (Psalm 8)

Wet en toewyding
O God,
in u oneindige wese lê al die skatte van wysheid en waarheid en heiligheid opgesluit.  Laat die deugde van ‘n Christelike karakter in my siel vorm aanneem deur my voortdurende gemeenskap met U:
• die gawe van ‘n dankbare en tevrede hart;
• die gawe om geduldig op u vrede te wat en u onmiddellik te gehoorsaam as U my roep;
• die gawe om moedig deur lyding of gevaar te gaan;
• die gawe om swaarkry te verduur omdat ons vir Christus lewe;
• die gawe om onbevrees op te staan vir wat reg is;
• die gawe van selfdissipline;
• die gawe van eerlikheid teen elke prys;
• die gawe om ander te behandel soos ek behandel wil word;
• die gawe van sagmoedigheid, sodat ek ander nie te gou sal oordeel nie;
• die gawe van beheersdheid, sodat ek nie te gou sal praat nie;
• die gawe van vergifnis teenoor almal wat my veronreg het;
• die gawe van begrip vir hulle wat swakker is;
• die gawe van verlange dat U hierdie gebed sál verhoor.
Amen
(John Baille 1886-1960, aangehaal in “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”, Lux Verbi.BM)

Respons: Psalm 111 verse 3 en 4

Liedere

F214. “Jesus, U regeer (U oë)”
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloof en Vertroue / Gebed)
Oorspronklike titel: Your eyes
Teks en musiek: David en Beci Wakerley en Julia A’Bell
Afrikaanse vertaling: Johan Engelbrecht 2006
© 2004 Hillsong Publishing

Jesus, U regeer,
Jesus, U’s my Heer.
Redder van die groot heelal,
U het getriomfeer.
U sien alles raak,
elke een maak saak.
U oë’s ook op my en elke kind van U.
Vaderheer,
lei my weer
voor U troon.
Ek kom eer U
Vaderheer.
Vul my meer
met u Gees
wat in my woon.

F164. “Elke Knie Sal Voor Hom Buig”
(RUBRIEK: Flam – Geloofsbelydenis)
Teks en musiek: Rick Moser
© MAR Gospel Music Publishers
(Fil 2:10,11)

1. Elke knie sal voor Hom buig,
Jesus is die Heer.
En elke tong sal moet bely,
Jesus is die Heer.
God het Hom ’n Naam gegee
verhoog bo elke naam.
In sy Naam sal ons elke werk
van die bose kan weerstaan.

2. Elke bloedgewaste sing,
Jesus is die Heer.
Aan Hom alleen die hulde bring,
Jesus is die Heer.
Hy alleen is waardig
om die ere te ontvang.
Deur sy bloed is ons losgekoop
uit elke volk en stam.

3. Elke man en vrou en kind sing,
Jesus is die Heer.
Laat jou loflied dag en nag weerklink,
Jesus is die Heer.
Hemel, aarde dal en kruin sing,
Jesus is die Heer.
Laat elke wese uitbasuin

Jesus is die Heer. (x3)
Jesus Christus (x2)
Jesus is die Heer.

F120. “Hy Is Heer “
(RUBRIEK: Flam – God se heerskappy / Wederkoms)
Teks: Tradisioneel. Afrikaanse lirieke deur A P van der Colf © NG Kerk Uitgewers
Musiek: Tradisioneel. Tweede stem bygevoeg deur B M Spies
© Tradisioneel (Publieke Domein)
(Opgeneem in Jeugsangbundel I)

1. Hy is Heer!
Hy is Heer!
Hy’s oorwinnaar oor die dood en Hy is Heer!
Elke knie sal buig,
elke mens erken:
Hy, Jesus, is die Heer.

2. Hy regeer,
Hy regeer
van die regterhand van God
want Hy is Heer!
Elke knie sal buig
elke mens erken:
Hy, Jesus, Hy regeer!

3. Hy kom weer,
Hy kom weer,
op die wolke – om te oordeel –
Hy is Heer!
Elke knie sal buig,
elke mens erken:
Hy, Jesus, Hy kom weer!

VONKK 85 “Here, Ons Here, Hoe Groot Is U!  (Psalm 8)”
Psalm 8
Teks: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Melodie: HENTIESBAAI – Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2011
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr  – Verwondering

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 1:
Kyk, die hemel en die aarde wys die wonders van u Naam.
Kyk, die maanlig in die aande en die sterre sê dit saam:

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 2:
Al die kinders, selfs die kleinstes, wil oor U kom sing en juig.
Al dit mense wat teen U is, sal ook voor U moet kom buig.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 3:
Ons as mense is maar nietig, tog gee U ons roem en eer.
U versorg ons en U kroon ons om u skepping te regeer.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 4:
Al die diere van die aarde het U aan ons toevertrou.
U laat heers ons oor u skepping wat U in u hande hou.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer”
Teks: Rejoice, the Lord is King! – Charles Wesley (1707-1788); Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: GOPSAL – George Frideric Handel (1685-1759)
Kantoryverwerking: George Frideric Handel (1685-1759)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing / Hemelvaart

1. Wees bly en loof die Heer –
jou Koning wat regeer!
Kom bring Hom dank en eer.
Kom buig jou voor Hom neer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

2. Die Heer het opgevaar,
sit aan Gods regterhand.
Kyk, Hy regeer vandaar
en hou sy kerk in stand.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

3. Van God se regterhand
regeer die Heer met mag.
Voor Hom sal elke knie
moet buig met groot ontsag.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

4.  Wees bly en hoop op Hom –
Hy kom vir seker weer.
Dié Regter wat sal kom,
is ook ons Redder, Heer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
Markus 1:21-28 (lees dit dramaties t.w.v. die kinders in die erediens – dan kan jy makliker daarby aansluit tydens die familie-oomblik).

Familie-oomblik

Sermons4kids stel voor dat julle “rock paper scissors” speel.  Dit is ’n speletjie oor wie die sterkste is.  Die rots (vuis) is sterk, so dit kan die skêr (twee vingers soos ’n skêr), maar die skêr kan papier (plat hand) sny.  Papier is weer sterker as rots omdat dit die rots kan toevou.  Twee of drie mense kan die speletjie speel – iemand tel tot drie terwyl almal hul vuiste drie keer op en af beweeg.  Na drie maak almal gelyk óf ’n rots, skêr, óf papier.  Die sterkste een wen.

Dis net ’n speletjie, maar daar is baie mense wat graag wil wys dat hulle sterker is as ander.  Party probeer dapper en waaghalsig optree.  Sommige probeer wys dat hulle sterk is deur lelik te wees met ander mense of op ander te pik.

In vandag se Skriflesing wys Jesus hoe sterk hy is.  Jesus is sterker as ons ergste vyand.  Maar die allerbeste is dat Jesus  nooit sy krag gebruik om ander mense seer te maak nie.  Hy gebruik sy krag om mense te help!

Preekriglyn

Joel Belz vertel hoe hy lank gelede in die Wall Street Journal die treffende opmerking gelees het: “Mense wil sagkens regeer word, maar deur baie sterk regerings.”

Ons wil dit almal hê, skryf hy in ‘n artikel oor Tender Toughness, selfs vandat ons klein-klein was. Jy wou hê jou pa moet groot en sterk wees, en enigiets kon doen waaraan jy kon dink. Maar as hy jou hanteer het, wou jy hê hy moet dit sagkens en liefdevol doen. Jy wou hê die polisieman op die straathoek moet sterk genoeg wees om enige boelie of misdadiger vas te vat, maar hy moes jou ook op sy skouers kon tel en jou in die skare help om jou ouers weer te vind.

Baie spiere, maar baie beheersing en sagtheid. Ons almal soek na hierdie rare kombinasie in die mense rondom ons, skryf Belz. Wanneer bose mense hulle slegte planne ten uitvoer wil bring, soek ons ‘n regering wat hulle planne vinnig-vinnig nek kan omdraai. Natuurlik wil ons self nie hardhandig hanteer word nie.

Dalk wil mense ligtelik regeer word deur sterk regerings, presies omdat dit is soos God regeer. Die Almagtige God en Here oor hemel en aarde, herinner Belz ons, is ook die Een wat ons sagkens uitnooi:

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.

My juk is sag en my las is lig. (Matteus 11:28-30)

Gesag en herstel

In ons teks staan die gesag van Jesus voorop. In die sinagoge van Kapernaum leer Hy die mense met gesag. Dan demonstreer Hy ook sy gesag. ‘n Man wat met ‘n onrein gees besete was, word van die gees bevry. Die gees of geeste herken selfs Jesus se gesag. Hulle noem Hom die Heilige van God en vra of hulle verdelg gaan word. Jesus maak die gees stil en veel hom om die man te verlaat. Wat dan ook gebeur.

Al die mense in die sinagoge was verstom (22) en verbaas (27): “Wat gaan hier aan? Dit is ‘n nuwe leer en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste en hulle gehoorsaam Hom.”

Jesus is die Heilige van God wat met krag en gesag leer en geeste gebied. Tot heil van gewone mense, soos ons.

Agtergrond

Ons is nog in die eerste hoofstuk van Markus, en tog het daar al soveel dinge gebeur!

  • Johannes die Doper het Jesus se bediening aangekondig, en mense met ‘n bekeringsdoop in die Jordaan gedoop
  • Jesus het van Nasaret gekom, en is deur Johannes gedoop
  • By daardie geleentheid het die Gees op Hom neergedaal en het die Vader sy welbehae in Jesus uitgespreek
  • Die Gees neem Jesus na die woestyn waar Hy vir 40 dae deur Satan versoek, deur engele versorg en saam met wilde diere was
  • Johannes die Doper word gevange geneem
  • Jesus gaan na Galilea en begin die evangelie van God verkondig, naamlik: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie”
  • Jesus roep sy eerste dissipels.

Dis inderdaad ‘n mondvol. Ons teks vertel die eerste episode van Jesus se bediening op aarde. Dit speel af in die sentrum vanwaar Jesus sy bediening in Galilea beoefen het, Kapernaum. Dit is ‘n dorp met destyds sowat 1 500 inwoners teen die binnelandse varswatermeer, die See van Galilea.

Die toneel is die sinagoge van Kapernaum. Sinagoges dateer uit die tyd na die ballingskap toe Jerusalem en die tempel verwoes was. Met die offerdiens daarmee heen, het Ou Testamentiese gelowiges rondom die Heilige Skrifte bymekaar gekom, dit gelees en oordink. Dit het vinnig na alle Joodse gemeenskappe versprei, en het ‘n belangrike rol gespeel in die Joodse godsdienstige en gemeenskapslewe. Joodse seuns het hier onderrig ontvang in die wet (torah) en godsdienstige gebruike.

Ons lees dat Jesus en Paulus in verskeie sinagoges opgetree het. Die sinagoge was dikwels die ruimte van konflik tussen die evangelie en die Joodse leiers. In die vier Evangelies lees ons hoe die spanning tussen Jesus en die Joodse godsdienstige leiers opgelaai het, omdat hulle Hom nie kon herken as die Een wat van God kom nie. In ons teks word hierdie spanning al byna voorspel deur die mense wat verstom was oor Jesus se leer, omdat dit met gesag was, nie soos die skrifgeleerdes nie (22).

Jesus se gesag

Jesus se gesag word in al die Evangelies baie sterk beklemtoon. Ons het dit al in Markus teëgekom, bv. wanneer die dissipels geroep word en hulle Jesus onmiddellik volg. Jesus se gesag hou verband met die koninkryk of regering van God. Soos ons gesien het, het Jesus se eerste woorde in sy publieke bediening reeds aangekondig: “Die koninkryk van God het naby gekom” (1:15).

In die Ou Testament ontmoet ons God as Koning. Die Evangelies teken spesifiek Jesus nou as die verteenwoordiger van die koninkryk. In en deur Jesus se optrede word die koningskap van God, die koninkryk, ‘n werklikheid. Jesus se bediening is die manier waarop God se koningskap op aarde gevestig word. Die goeie nuus, die evangelie, is juis dat God deur Jesus God se regering op aarde uitoefen. En daarmee herstel vir die aarde bring.

Jesus se gesag is die gesag van God self wat beslissend handel op aarde. Daaroor leer en onderrig Jesus die mense, sodat ons weet hoe om onder God se koningskap te lewe. En deur sy bediening, wat die breek van bose en bindende magte insluit, bring Jesus God se koninkryk op ‘n bevrydende manier na mense op aarde.

Die goeie nuus van Jesus se gesagvolle optrede is dat die een, ware God bevel op aarde neem. Dit gebeur, sien ons later in die evangelies, spesifiek deur Jesus se dood en opstanding.

Onrein gees uitgedryf

Die uitdrywing van die onrein gees uit die arme man in die sinagoge, dien om Jesus se gesag verder te bevestig.

Dit is asof die onrein gees dit nie in Jesus se teenwoordigheid kan verduur nie. Die gees roep, ten aanhore van almal, uit: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!” (24)

Let op dat die gees in die meervoud praat. “Het U gekom om ons te verdelg?” Wat op die spel is, is nie net hierdie spesifieke onrein gees in hierdie man nie. Die vraag gaan oor Jesus se gesag oor die ganse ryk van die Bose.

Opvallend ook dat die onrein gees op hierdie stadium die enigste is wat weet wie Jesus werklik is. Die gees noem Hom die “Heilige van God.” Die gees weet goed daar is ‘n besondere band tussen Jesus en God. Ons weet dit op hierdie stadium, want Markus het ons reeds ingelig dat Jesus die Seun van God (1:1 en 1:11). Vir die mense in die sinagoge is dit nog onbekend, want hulle wonder nog “wat gaan hier aan” (27).

Wanneer Jesus die onrein gees uitdryf, bevestig dit God se gesag ook oor die Bose. Jesus behaal ‘n klinkende oorwinning oor die Bose.

Dit bevestig: Wie luister na Jesus, luister na God self, luister na die mees gesagvolle en betroubare Leermeester denkbaar.

Koninkryk en duiweluitdrywing

Prof. Adrio König wys daarop dat die koms van die koninkryk van God in die Evangelies telkens verbind word met Jesus se uitdrywing van duiwels (Die Groot Geloofskommentaar, bl 53vv). Trouens, Jesus verbind self die koninkryk en duiweluitdrywing met mekaar (Matteus 12:28: “Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom”).

Dit val vreemd op ons ore. As moderne, wetenskaplike mense wil ons saam met die Jode in Kapernaum se sinagoge vra: “Wat gaan hier aan?”

Vir die Nuwe Testament is die wêreld inderdaad in die mag van die duiwel (1 Joh 5:19):

  • Hy is die owerste van hierdie wêreld (Joh 12:31; 16:11)
  • Hy is die god van hierdie wêreld (2 Kor 4:4)
  • Baie van die siekes wat Jesus genees het, was in sy mag (Hand 10:38)
  • Dalk het die duiwel die waarheid gepraat toe hy aan Jesus al die koninkryke van die aangebied het, as Jesus hom sou aanbid (Matt 4:8-9).

Dit is ‘n feit dat duiweluitdrywing ‘n groot deel van Jesus se wonderwerke uitmaak en ‘n besondere betekenis het. Die Nuwe Testament beskryf ‘n aantal spesifieke voorvalle, maar maak ook sterk uitsprake daaroor: vergelyk Markus 1:32-34; 39; 3:11, 15; 6:7, 12, 13. Jesus se bediening word soms met slegs twee begrippe opgesom: preek en duiwels uitdryf (Markus 1:39). In Handelinge 10:38 vertel Petrus  dat Jesus oral rondgegaan het, goeie werke gedoen het, en almal gesond gemaak het wat onder die mag van die duiwel was. (Raadpleeg König se Groot Geloofskommentaar vir nog baie besonderhede hieroor, spesifiek vanaf bl 57.)

Daar was ‘n taamlik algemene oortuiging dat die duiwel op aarde oorgeneem het, en uitgedryf moes word. Die boodskap is duidelik: die koninkryk van God is die koningsheerskappy van God wat deur Jesus herstel word as Hy die duiwel uit mense se lewens uitdryf. Uiteindelik word die betekenis van Jesus se sterwe en opstanding in die Nuwe Testament ook dikwels verstaan as God se oorwinning oor die bose.

Die groot vooruitsig wat Openbaring ons voor oë hou, is dat die duiwel met die wederkoms finaal vernietig sal word (Op 20:10). Die koninkryk van God het dus alreeds gekom deur Jesus se bediening op aarde, kom elke dag nog, spesifiek deur die kerk se bediening, en sal finaal en volledig deurbreek wanneer Jesus op die wolke verskyn.

Geeste?

Moderne mense sukkel dikwels om rekening te hou met ‘n geesteswêreld. Daar is goeie redes hiervoor, waarvan ons net ‘n paar noem:

  • Deur ons wetenskaplike kennis, wat baie seën op aarde gebring het, weet ons dat die oorsake van baie siekte en ellende nie van geeste kom nie, maar van biologies verklaarbare verskynsels. Ons weet van chemiese wanbalanse in die brein, van dinge wat in die liggaam en in die wêreld skeefloop, en ons beskik oor maniere om dit reg te stel, of verligting te bring.
  • Ons verstaan dat ‘n beter lewe haalbaar is deur wetenskaplike ondersoek, deur menslike nuuskierigheid, inisiatief en ‘n dors na kennis wat insig in kousale verbande bring. Ons kan damme bou, water suiwer, geneesmiddels produseer, higiëne bevorder, kwale behandel, siektes en plae uitroei. Indien ons onsself bloot as die slagoffers van bose geeste sou beskou, het ons die wêreld nooit ‘n soveel beter plek gemaak nie.
  • Dit is dikwels frustrerend en negatief as mense geeste verdink vir siektetoestande en daarom nie van die verligting of genesing wat die wetenskap moontlik maak, gebruik wil maak nie. Dink aan die dikwels suksesvolle behandeling van siektes soos depressie en bipolêre aanvegtings. Daar is baie gevalle waar mense geeste wil uitdryf, terwyl die probleem eintlik ‘n chemiese balans in die brein is.

Die uitdaging is egter dat die Westerse wetenskaplike lewenshouding bloot op die materiële fokus. Westerlinge loop die gevaar dat die wêreld vir ons baie klein word. Dit word, as jy konsekwent is, later nie net onmoontlik om met geeste rekening te hou nie, maar ook met God self. Ons fokus op die stoflike voorhande dinge, en skuif God al hoe verder weg uit ons ervarings en beeldingswêreld. Ons is onder die regering van natuurwette, eerder as onder die regering van God. Van God verwag ons selde iets, en bid eintlik net oor die plekke in ons lewe waar ons in hoeke vasgeverf raak en waar ons nie self kan uitkom nie.

Vir baie Westerlinge raak dit later onmoontlik om nog hoegenaamd in God te glo. Mense raak nie ateïsties omdat hulle sleg is nie – dit is vir baie die konsekwente uitvloeisel van die moderne, Westers-wetenskaplike wêreldbeeld.

Vir ons wêreldbeeld is die duiwel – en selfs God – dus deel van ‘n verouderde wêreldbeeld. Ons moet daarop bedag wees dat ons ook ‘n wêreldbeeld het, wat oop is vir korreksie. Die werklikheid mag baie groter wees as wat ons sintuiglik kan waarneem.

Kan en moet ons nog aan die duiwel glo?

Die rol van duiweluitdrywing in die koms van die koninkryk maak dit vir ons belangrik om na te dink oor die duiwel en die bose magte. Daar is sekerlik voorstellings oor die duiwel wat verouderd is, en ons gerus maar kan agterlaat. Tog kan mens baie moeilik twyfel oor die bestaan van nie-materiële geestelike magte.

Dit is ‘n byna universele godsdienstige oortuiging. As mens kyk na die ongebreidelde boosheid wat op soveel plekke voorkom, word dit makliker om te glo in bose magte wat mense in hulle greep kry. Dink aan Hitler en Stalin. Hoe is dit moontlik dat opgevoede, gekultiveerde Duitsers en Russe die Nazisme en Kommunisme kan voortbring wat duisende mense se lewens verwoes het. Dink aan Isis, Boko Haram en Al Kaïda en vra of ons nie vandag nog nodig het dat Jesus die bose magte verbreek en uitdryf nie. Dink aan joernaliste wat in Parys afgemaai word, ‘n gewonde polisiebeampte wat koelbloedig doodgeskiet word, alles in die naam van ‘n godheid, en probeer argumenteer dat daar nie bose magte is nie.

As ons afsien van die antieke verdieping wêreldbeeld, waarvolgens die geeste daarbo, die mense op die aarde, en die waters onder die aarde is, beteken dit nie ons hoef af te sien van die bose magte nie. In die ou wêreldbeeld was die sterre liggies aan die hemeldoek en het die son om die vaste aarde gewentel. Al wys ons hierdie voorstelling om wetenskaplike redes af, beteken dit nie ons sien af van die sterre se bestaan, of die werklikheid van dag en nag nie. Ons interpreteer dit net anders in ons nuwe wêreldbeeld. So kan ons ook nog rekening hou die werklikheid van boosheid en eksterne bose magte, al verstaan ons die wêreld op ‘n baie meer gesofistikeerde manier.

Dit beteken dat die oorwinning van Jesus oor die bose ook vir ons goeie nuus is, veral in ‘n wêreld waar die bose so dikwels verwoestend manifesteer.

Die punt is: Wanneer Jesus die onrein gees in die sinagoge uitwerp, is dit ook vir ons die evangelie van God se bevrydende heerskappy wat in Jesus tot by ons kom. Ons is nie onder die heerskappy van die bose nie, ons is nie uitgelewer aan vernietiging nie – God regeer.

Egte mag en gesag

Die positiewe boodskap van ons teks is dat egte, genesende gesag by Jesus van Nasaret te vind is. Hy bring die regering van God in ons lewens. Hy leer ons reg. Hy plaas ons op die regte koers.

Daarvoor kan ons Hom van harte dank, terwyl ons Hom gehoorsaam volg.

En ons kan Hom dank dat Hy ook oor die bose regeer. Daarom is dit nie kommunisme, Nazisme, godsdienstige fundamentalisme, gierigheid, moordlus en wraaksug wat die laaste woord oor ons lewens sê nie. Die bose se rug is geknak en God regeer.

Kom ons bely saam:

Elke knie sal voor Hom buig. Jesus is die Heer. En elke tong sal moet bely. Jesus is die Heer. God het Hom ’n naam gegee verhoog bo elke naam. In sy Naam sal ons elke werk van die bose kan weerstaan (Flam 164, in aansluiting by Fil 2:10-11).

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang/geloofsbelydenis
F164. “Elke Knie Sal Voor Hom Buig” of
F120. “Hy Is Heer verse 1 en 2” of
VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer verse 1-3”

Seën

Respons
Flam 120 vers 3 of Vonkk 96 vers 4

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.