Vierde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Die Gees van Christus wat ons “huis toe” bring, spreek ons vreesagtigheid aan. Hy gee vir ons vertroue in God en in die ervaring van veiligheid in Hom sodat ons die moed sal hê om teen die wêreld se liefdeloosheid in te gaan.

Die gebed van die Gees wat in die erediens saam met ons gees bid, klink ongeveer só: God, uit wie ons gebore is, u liefde gee die durf om menslike weerstand teen u bevrydende liefde te verduur. Versterk ons dan in die oorvloedigheid van u liefde waarbinne ons veilig voel om self met liefde op te tree.

Ander tekste

Jeremia 1:4-10
Jeremia word tot profeet geroep
4Die woord van die Here het tot my gekom:
5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
6“Ag, Here my God,”
het ek geantwoord,
“ek kan nie goed praat nie,
ek is nog te jonk.”
7Toe sê die Here vir my:
Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.
Jy moet gaan na wie toe
Ek jou ook al stuur,
en alles wat Ek jou beveel om te sê,
moet jy sê.
8Moenie vir hulle bang wees nie,
want Ek is by jou,
Ek sal jou red.
Dit is wat die Here gesê het.
9Hy het sy hand uitgesteek,
my mond aangeraak
en vir my gesê:
Ek het nou my woorde
in jou mond gelê.
10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

Psalm 71:1-6
71 By U, Here, skuil ek, laat my tog nooit
teleurgestel staan nie!
2Red my en bevry my,
want U is getrou.
Luister tog na my en help my!
3Wees vir my ’n rots om na toe te vlug,
waar ek altyd die veiligheid mag vind
wat U tot my redding beskik het,
want U is my rots en my vesting.
4My God, bevry my
uit die hand van goddeloses,
uit die greep van skurke
en verdrukkers,
5want U, Here, U is my hoop,
op U, Here, het ek van jongs af
vertrou.
6U is my hulp van my geboorte af,
reeds voor ek in die wêreld gekom het,
het U my beskerm.
U loof ek gedurigdeur.

1 Korintiërs 13:1-13
Die liefde
13 Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:
Al praat ek die tale van mense
en engele,
maar ek het geen liefde nie,
het ek ’n stuk klinkende metaal,
’n galmende simbaal geword.
2Al het ek die gawe
van profesie
en ken ek al die geheimenisse
en besit ek al die kennis
en al het ek al die geloof
om berge te versit,
maar ek het geen liefde nie,
dan is ek niks.
3Al deel ek al wat ek het
aan ander uit,
en al gee ek my liggaam prys
om my daarop te kan beroem,
maar ek het geen liefde nie,
baat dit my niks.
4Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik;
dit is nie afgunstig nie,
is nie grootpraterig nie,
is nie verwaand nie.
5Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie,
hou nie boek van die kwaad nie.
6Dit verbly hom nie oor onreg nie,
maar verheug hom
oor die waarheid.
7Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verdra alles.
8Die liefde vergaan nooit nie,
maar die gawe
van profesie
sal verdwyn,
die gawe
om ongewone tale en klanke te gebruik,
sal ophou,
en dié van kennis
sal uitgedien raak.
9Want ons ken maar gedeeltelik,
en ons profeteer
maar gedeeltelik,
10maar wanneer die volledige kom,
sal wat gedeeltelik is,
uitgedien wees.
11Toe ek ’n kind was,
het ek gepraat soos ’n kind,
gedink soos ’n kind,
geredeneer soos ’n kind.
Maar noudat ek ’n man is,
is ek klaar met die dinge van ’n kind.
12Nou kyk ons nog
in ’n dowwe spieël
en sien ’n raaiselagtige beeld,
maar eendag sal ons alles sien
soos dit werklik is.
Nou ken ek net gedeeltelik,
maar eendag sal ek ten volle ken
soos God my ten volle ken.
13En nou:
geloof, hoop en liefde bly,
hierdie drie.
En die grootste hiervan is
die liefde!

Fokusteks

Jesus word uit Nasaret verdrywe
16Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, 17is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan:
18“Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes
te verkondig.
Hy het My gestuur
om vrylating vir gevangenes
uit te roep
en herstel van gesig vir blindes,
om onderdruktes in vryheid
uit te stuur,
19om die genadejaar van die Here
aan te kondig.”
20Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig.

21Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

22Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?”

23Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou: ‘Geneesheer, genees jouself’ en vir My sê: ‘Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen nou dieselfde dinge ook hier waar jy grootgeword het.’24Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. 25Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar ‘n groot hongersnood in die hele land gekom het. 26Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na ‘n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. 27En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.”

28Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. 29Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. 30Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.

Ekstra stof

Hou die volgende breë raamwerk in gedagte:

  • Hoofstuk 1:1-4:14 fokus op die geboorte van Jesus tot by sy bekendstelling as die gedoopte, getoetste seun van Adam, Seun van God.
  • Hoofstuk 4:15-9:50  fokus op Jesus se bediening in die meer plattelandse streke totdat Hy die reis na Jerusalem vasbeslote aanpak om sy roeping daar te voltooi.

Lukas 4:14-5:39 – Jesus het gekom vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes

In die blote lees van die opskrifte van elke gedeelte, kan ‘n mens alreeds ‘n goeie idee kry van wat Jesus se bediening ingehou het:

  • 4:14-15 – Jesus tree op in Galilea (Mark 1:14-15; Matt 4:12-17)
  • 4:16-30 – Jesus tree op in Nasaret en word daar verdryf (Mark 6:1-6; Matt 13:53-58)
  • 4:31-37 – Jesus genees die besetene in Kapernaum (Mark 1:21-28)
  • 4:38-41 – Jesus genees Petrus se skoonmoeder (Mark 1:29-34; Matt 8:14-17)
  • 4:42-44 – Jesus preek op ander plattelandse plekke (Mark 1:35-39)
  • 5:1-11 – Jesus roep sy eerste dissipels (Mark 1:16-20; Matt 4:18-22)
  • 5:12-16 – Jesus genees ‘n melaatse (Mark 1:40-45; Matt 8:1-4)
  • 5:17-26 – Jesus genees ‘n verlamde man (Mark 2:1-12; Matt 9:1-8)
  • 5:27-32 – Jesus roep Levi (Matteus) die tollenaar as dissipel (Mark 2:13-17; Matt 9:9-13)
  • 5:33-39 – Jesus plaas vas in perspektief (Mark 2:18-22; Matt 9:14-17)

Die volgende aspekte van sy bediening staan hier uit:
Jesus tree op in die krag van die Heilige Gees
Waar Lukas na Jesus as “vol van die Heilige Gees” verwys net voor Hy die woestyn in is, skets Lukas die begin van Jesus se bediening as in die “krag van die Heilige Gees” (4:14-15).  Dit is nogal  betekenisvol.  Niks van betekenis gebeur sonder die werk van die Heilige Gees nie.

Die toetsing in die woestyn vorm Jesus se bedieningsfokus
‘n Sleutel insig is hoe deurslaggewend die versoekingsgebeure in die woestyn in werklikheid is.  Dit was juis in hierdie versoekingsgebeure – waarvan net ‘n paar fasette vir ons weergegee is met die drie groot versoekings waarvoor die duiwel Jesus gestel het – dat Jesus se bedieningsfokus gevorm is.

Telkens kan ‘n mens die ervarings in die woestyn as’t ware geëggo sien in die woorde en optredes van Jesus, sommige duidelik, en ander meer vaagweg:

  • Met die optrede in Nasaret (4:16-30) verwys Jesus na ‘n hongersnood in Israel se geskiedenis – iets wat Hy so pas nou proefondervindelik in die woestyn ervaar het.   En Hy spel uit – in ‘n duidelike sinspeling op sy eie bediening – dat Elia na ‘n weduwee in Sarfat gestuur is, en nie na iemand in Israel nie.  Die boodskap is duidelik – Jesus is geroep om ‘n impak te maak ver buite die grense nie net van sy tuisdorp nie, maar ook van sy tuisland.
  • Die weiering van Jesus (4:42-44) om in een plek vasgevang te word, selfs op groot aandrang van die plaaslike mense, en te begin om ook ander dorpe te besoek, demonstreer dat sy visie inderdaad is om die koninkryke van die wêreld te verower, maar nie op die eenvoudige kortpad-manier wat die duiwel Hom aangebied het nie.  Dorpie vir dorpie sal die evangelie die koninkryk laat kom.
  • En ‘n mens sou uit die weiering van Jesus om van die tempel af te spring, kon dink wonderwerke is per definisie uit.  Maar gelukkig nie!  Op verskillende wyses demonstreer Jesus God se mag, in genesings en bevrydings, sowel as ‘n wonderlike visvangs waarmee Hy sy dissipels inkatrol om Hom te volg.

Jesus het gekom vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes
Jesus kondig daarna sy bediening in Nasaret aan as die evangelie aan armes, gevangenes, blindes, en onderdruktes (Jes 58:6; 61:1-2 – die kern van Jesus se roeping) – en wys in die praktyk dat dit beteken dat Hy mense van siektes, onreinheid en boosheid genees (4:31 en verder).   Lukas dink hier waarskynlik aan fisiese armes, maar ‘n mens kan uiteraard ook dink aan geestelike armes en blindes en so meer, vir wie Jesus inderdaad ook gekom het.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Seëngroet

Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Wet: (1 Korintiërs 13)

Skuldbelydenis – Litanie: ahv Ps 71

Vryspraak: uit Psalm 103

Lofliedere
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 4:21-30

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 499 “Die Heer is God en niemand meer vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen) of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord 
Hy wat berge vorm en die wind skep,
Hy wat sy gedagtes
aan die mens bekend maak,
Hy wat die dagbreek donker maak,
Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan,
sy Naam is Here, almagtige God!
(Amos 4)

Seëngroet
Genade en vrede vir u van God die Vader
aan Sy liefde is daar geen einde nie
genade en vrede vir U van die Seun
Hy het ons skuld gedra
genade en vrede vir  u van die Gees
Hy maak ons nuut!
(Bybelmedia se Woord en Fees, 2014/15)

Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Wet: (1 Korintiërs 13)
4Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik;
dit is nie afgunstig nie,
is nie grootpraterig nie,
is nie verwaand nie.
5Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie,
hou nie boek van die kwaad nie.
6Dit verbly hom nie oor onreg nie,
maar verheug hom
oor die waarheid.
7Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verdra alles.

Skuldbelydenis-  Litanie: ahv Ps 71
V; By U, Here, skuil ek,
G: laat my tog nooit teleurgestel staan nie!

V: Red my en bevry my, want U is getrou.
G: Luister tog na my en help my!

V: Wees vir my ’n rots om na toe te vlug,
waar ek altyd die veiligheid mag vind
wat U tot my redding beskik het, want
G: U is my rots en my vesting.

V: U, Here, U is my hoop,
G: op U, Here, het ek van jongs af vertrou.

V: U is my hulp van my geboorte af,
reeds voor ek in die wêreld gekom het,
het U my beskerm.
G: U loof ek gedurigdeur.

Vryspraak: uit Psalm 103
8Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
10Hy handel met ons
nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons
ongeregtighede nie,
11want so groot as die afstand
tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde
vir dié wat Hom dien.
12So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge
van ons af.

Loflied
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Liedere

F11. “Here U Is Genoeg”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Corli Janse van Rensburg
© 2009 FLAM Uitgewers

Here U is genoeg
Net U vir my, net U vir my
Here u bloed het gevloei
Net U vir my, net U vir my

Ek’s vrygespreek, vrygemaak
Ek is vry in u Naam
Ek staan verwonderd Heer vanaand

F210. “Erken nou die Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: Erken Nu De Heer
Teks en musiek:  Frank van Essen
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© 2005 Unisong Music Publishers t/a Essence Publishing
Ps 29, 96

1. Erken nou die Heer volke van die aarde
Erken nou sy majesteit
Kniel voor Hom neer want Hy is waardig
vol mag en heerlikheid

Brug:
Hoor Sy stem bo-oor die water en
hoor die donder, weerlig soos vuur
Ontsagwekkend is sy magtige stem
Luister goed hierdie heilig’ uur

Refrein:
Alle lof nou aan die ewige Heer
Alle heerlikheid en eer
Kom verhoog Sy Naam
en buig voor Hom neer
Hy is Koning vir altyd

2. Verhef dan jul stem, volk van die Here
Verheug jul en juig voor Hom
Sy Gees gee jul krag
Hy seën met vrede
nuwe lewe is in Hom

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle God,
As niemand anders na ons luister nie,
hoor U ons as ons ons hart voor U uitstort.
As niemand anders ons raaksien nie,
sien U ons nood en vul U ons met vreugde.
As almal anders van ons vergeet,
onthou U ons en roep U ons by die naam.
U is die Here, ons God.
U is hier by ons om deur u Woord met ons te praat.
Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor
en om u boodskap ter harte te neem.
Amen.
(Bybelmedia se Woord en Fees, 2014/15)

Skriflesing: Lukas 4:21-30

Prediking

Familie-oomblik

Tema: Jesus word verwerp in die dorp waar hy grootgeword het

Skriflesing: Lukas 4:28–30
Die mense was baie kwaad toe hulle hoor wat Jesus sê. Hulle het Hom gegryp en uit die dorp gesleep. Hulle wou Hom van die berg afgooi waarop Nasaret gebou was. Maar hulle kon dit nie regkry nie. Jesus het tussen hulle deur gestap en padgegee.
(Uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

Hierdie is ’n foto van ’n bofbalspeler met die naam Del Ennis. Hy is ’n Amerikaner so ons sal niks van hom weet nie. Del Ennis was ’n baie goeie professionele bofbalspeler, maw sy werk was om bofbal te speel. Bofbal is amper soos krieket wat vir ons meer bekend is. Elke dag sou hy ure deurbring met verskillende maniere van oefen sodat hy op sy beste sou wees vir die naweek se wedstryd. Sy vertoninglys was baie goed- hy het 288 keer die bal uit die stadion geslaan. Vir sewe seisoene sou hy 25 sulke houe per seisoen slaan- ’n baie goeie vertoning vir enige bofbalspeler.

Del Ennis het vir sy tuisdorp bofbal gespeel, die span se naam was die Filadelfia Fillies. Mens sou nou dink dat Del Ennis baie gewild sou wees in sy tuisdorp, immers hy is een van hulle wat nou bofbal vir die dorp speel. Maar dit was nie die geval nie. Gedurende die 11 jaar wat hy vir die Filadelfia Fillies gespeel het is hy elke keer deur die skare uitgejou (geboo) wanneer hy kom kolf. Maak nie saak hoe goed hy speel nie, in die oë van die toeskouers was hy net nie goed genoeg nie. Del kon dit nooit verstaan nie- die uitjouery het glad nie sin gemaak nie.

Later in sy loopbaan het hy toe vir ’n ander span gaan speel, die St Louis Cardinals. Alhoewel hy sy tuisdorp-span gemis het, is hy baie beter deur hierdie ander toeskouers behandel. Maar sy tuisdorp se toeskouers het hom nooit die erkenning gegee wat hom toekom nie.

Jesus se tuisdorp was Nasaret, en Jesus is net so sleg behandel deur die mense van sy tuisdorp as Del Ennis. Een dag het Jesus daar in Nasaret in die tempel ingegaan. Hy het toe vir die mense uit die Bybel gelees, spesifiek uit die profeet Jesaja. En toe het Jesus vir die mense genoem dat hy die persoon is waaroor die profesie handel. Hy is die een wat deur God gestuur is…
God stuur My om vir mense wat in die tronk is te sê hulle straf is verby.
Blindes sal nou weer sien.
Almal wat swaar kry, se probleme is verby.
Ek sê vir almal: ‘God se groot dag van redding is hier. Nou is dit die tyd dat stukkende mense se lewe weer nuut word.’”

Almal was beïndruk met Jesus se woorde totdat iemand gevra het: “Is dit dan nie die seun van Josef die timmerman nie?” Hulle het Jesus toe versoek om wonderwerke te doen soos waarvan hulle gehoor het. Maar toe Jesus weier het die mense teen hom gedraai. Hulle het hom toe aangerand en uit die tempel gesleep met die doel om hom oor die krans na sy dood te gooi. Jesus het gelukkig weggekom en van die skare ontsnap.

Nou dit is darem nie goeie optrede teenoor iemand wat in dieselfde dorp grootgeword het nie. Maak nie saak hoe goed Jesus lees en preek nie, vir die mense van sy tuisdorp kon hy niks goed doen nie.

Nou as ek en jy in daardie tyd in Nasaret gewoon het, sou ons saam met die skare Jesus aangerand het en uit die tempel gesleep het of sou ons anders opgetree het teenoor Jesus?

Gebed: Help ons Here Jesus om lojaal teenoor U te wees, selfs wanneer die skare teen u draai. Amen

Preekriglyn

Enige goeie sportman speel altyd die bal en nooit die man nie.

Rugby Liga, anders as die rugby wat ons ken, word deur twee spanne van 13 spelers elk gespeel. Dit is veral gewild in dele van Engeland, dele van Australië, New Zeeland, Frankryk en Papua Nieu-Guinee, waar dit die nasionale sport is.

Des Hasler is ‘n legendariese Australiese professionele Rugby-Ligaspeler. Des is een van daardie karakters wat groter as die lewe is.

Hy het 309 wedstryde oor 16 seisoene gespeel. Vir die grootste deel van sy professionele loopbaan het hy vir die Manly-Warringah Sea Eagles gespeel. Des het sy loopbaan by die Western Suburbs Magpies afgesluit. Daarna was hy die afrigter vir Manly van 2004 tot 2011, en rig tans die Canterbury-Bankstown Bulldogs af.

Hasler is bekend daarvoor dat hy altyd die bal gespeel het, en nooit die man nie. Hy het uitstekend verdedig en het menige opponent in die stof laat byt met sy vernietigende duikslae. Opponente het dikwels gebewe as hulle aan hom dink. Sy bynaam as rugbyspeler was “Sorry”. Die rede? Nadat hy ‘n opponent vasgevat en eintlik op die veld begrawe het, het hy gewoonlik “Sorry mate” gesê terwyl die slagoffer orent kom. Sy houding was: “‘Skuus man, jy het die bal gehad en probeer punte aanteken. Ek moes jou ongelukkig takel en plattrek. Dit was niks persoonliks nie. Sorry mate!”

Sy vriende skater nou nog van die lag as hulle dink aan sy gereelde “Sorry” op die veld, net omdat hy gedoen het wat hy moes.

Speel die man

Wanneer mense nie hulle sin in die lewe kry nie, is dit hul ou laai om die man eerder as die bal te speel.

Dit gebeur ook dikwels met diegene wat ‘n boodskap het om te bring. As mense nie van die boodskap hou nie, is hulle geneig om die boodskapper by te kom.

Iets soortgelyks gebeur met Jesus tydens sy eerste preek in sy tuisdorp, Nasaret. Aanvanklik hou die mense van sy boodskap. Maar dan vervies die lot hulle. Hulle spring op en jaag Jesus uit die dorp uit. Hulle probeer Hom trouens van ‘n nabygeleë krans afgooi.

Praat van die man speel in plaas van die bal. Maar wat gebeur hier? Hoekom is die skare skielik so ontsteld? Wat het hulle aanstoot gegee?

Jesus se boodskap

Lukas beskryf hoe Jesus in Nasaret waar Hy groot geword het, aankom en op die Sabbatdag na die sinagoge gaan. Deur daar op te staan, gee Hy te kenne dat Hy iets wil sê. Die dienaar in die sinagoge haal die boekrol van Jesaja uit en gee dit vir Jesus. Hy rol dit oop en vind ‘n bepaalde Skrifgedeelte. Dit is die Messiaanse profesie in Jesaja 61:1-2 en ook Jesaja 58. Jesus lees (4:18-19):
Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes
te verkondig.
Hy het My gestuur
om vrylating vir gevangenes
uit te roep
en herstel van gesig vir blindes,
om onderdruktes in vryheid
uit te stuur,
om die genadejaar van die Here
aan te kondig.
Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek:

Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.

Hiermee getuig Jesus dat Hyself die Messias is. Die tekens van die Messiaanse tyd, waarvan Jesaja praat, gaan nou in vervulling deur Jesus en sy bediening. Die tyd van verwagting is verby, die aangename jaar van die Here, die koms van die Messias is reeds hier.

‘n Bevrydende, aangename boodskap

Jesus sluit aan by die profesie van Jesaja 61 en 58 wat in die eerste plek gerig was tot die Jode wat na die terugkeer uit ballingskap meer as 500 jaar tevore in ‘n situasie van verarming en ellende verkeer het. Hulle moes ter wille van geld hulle huise en wingerde verpand, soms selfs hulle kinders as slawe aan die ryk landgenote gee, hulle was ekonomies geruïneer, mense vir wie daar menslik gesproke geen hoop meer was om te ontkom aan die wurggreep van skuld en armoede nie.

Toe die hoorders in die sinagoge in Nasaret dié woorde van Jesus gehoor het, sou hulle dit gemaklik kon toepas op hulle eie situasie van uitbuiting deur die Romeine. Op die oog af sou hulle hulle kon vereenselwig met die armes, met mense wat uitgebuit is, met gevangenes wat slagoffers van ‘n sisteem van verslawing en verontregting was. Hulle het geweet wat die fisieke en psigiese verkragting van hulle lewe ingehou het. Hulle was inderdaad verdruk, seergemaak, gebreek, gekneus, geruïneer. Hulle hoor dan die bevrydende boodskap van Jesus van ‘n nuwe dag wat kom.

Hierdie woorde het dus ‘n letterlike sosiaal-politieke boodskap gehad. Jesus se gehoor het daarvan gehou, want dit het by hulle behoeftes gepas. Hulle kon hul eie situasie identifiseer met die mense van wie Jesaja praat. Jesaja verwys in die eerste plek na die armes as hulle wat letterlik arm was, die “gevangenes” letterlik na hulle wat gevangenes was in ‘n onderdrukkende sisteem, die “blindes wat weer sal sien”, is dié wat blind is in hulle moedeloosheid maar vir wie die lig weer sal deurbreek, en “die wat moed verloor het” wat in hulle situasie weer moed sal skep.

Aangename woorde

Die mense van Nasaret het as’t ware op die punt van hul stoele gaan sit. Hier is iets aan die kom. Wat beteken die vervulling van hierdie woorde? Wat beteken dit dat Jesus die Messias is? Gaan Hy nou die gehate Romeinse oorheersers in die see jaag? Gaan mense wat hul grond verloor omdat hulle nie belasting kan betaal nie, dit terugkry?

Daarom vertel Lukas dat die gehoor hulle instemming met Jesus betuig (22). Hulle was verwonder oor die aangename woorde uit sy mond. Hulle onthou dat Hy een van hulle is: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?”

Dis seker tipies menslik. Ons hou van boodskappe wat ons en ons belange bevestig. Ons hou nie van boodskappe wat ons ontwrig en wat sê ons moet hartgrondig verander nie.

Wending

Skielik vind ‘n verstommende wending in ons teks plaas. Skielik jaag die skare Jesus uit die dorp en wil hom van die krans van die hoogte waarop Nasaret gebou is, afgooi.

Hiervoor is daar waarskynlik twee redes:

God se genade groter as net Israel

Die eerste rede lê in Jesus se woorde opgesluit:
Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar ‘n groot hongersnood in die hele land gekom het. Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na ‘n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër. (25-27)

Jesus herinner hulle daaraan dat God se genade groter as net Israel is. Die genesing, herstel en vryheid wat Hy bring kan ook nie net tot Israel beperk word nie. Daarom het Elia in die droogtetyd na ‘n onbelangrike weduwee in die heidense gebied van Sarfat gegaan; het God genade betoon aan ‘n gehate heidense offisier, Naäman, in diens van Israel se vyand, Sirië.

Jesus is dus die Messias wat die Jode vir soveel eeue verwag het. Maar die genade en verlossing wat Hy bring, lyk anders as die politieke verwagtinge wat die Jode van sy tyd gehad het. Hy kom nie om Israel se politieke ideale te bevestig nie. Hy het nie ‘n nasionalistiese agenda nie.

Jesus kom ons genesing te bring, vir vriend en vyand. Hy kom stort God se genade wyd en ver uit, ook oor Israel se vyande. Daaroor raak die skare de joos in. Hulle was nog soos Jona wat nie na Nineve wou gaan nie, omdat hy nie God se genade oor die mense van Nineve wou sien spoel nie. Hulle is sommer weer vies omdat God Naäman uit Sirië genees het, of in droogtetye ook na nie-Jode gekyk het.

Daarom teiken hulle Jesus. Hulle hou nie van die boodskap nie. Maar daar is nog ‘n faktor aan die werk.

Geen oordeel nie

Jesus lees vir die mense in die sinagoge uit Jesaja 58 en 61 voor. Opvallend genoeg stop Jesus sy voorlesing uit Jesaja 61:2 letterlik in die middel van die sin. Hy lees tot by die “om die genadejaar van die Here aan te kondig,” en lees dan nie die tweede helfte van die vers nie, wat lui: “die dag waarop ons God sy vyande straf.”

Hiermee skort Jesus as’t ware God se oordeel op. Aanvanklik kon die mense in die sinagoge bloot suspisieus wees oor Jesus, maar dan verwys Hy na God se genade oor heidene, en nie na God se oordeel oor hulle nie. Hulle protesteer uiteindelik woedend omdat Hy net oor God se genade praat, en nie oor God se oordeel oor Israel se vyande nie.

Vir baie Jode het die verwagting dat God hulle vyande gaan oordeel hoop gebring. Hulle kon dit nie uithou met God se genade oor hulle vyande nie.

Regdeur die Lukas-evangelie val dit op hoe dikwels Jesus oordeel oor heidene weglaat wanneer Hy praat. Wanneer Jesus Johannes die Doper se navraag of Hy die Messias is, beantwoord, haal Jesus ‘n paar gedeeltes uit Jesaja aan, maar laat telkens oordeelsaankondiginge wat in Jesaja voorkom weg. In Lukas 9 wil Jesus se dissipels oordeel op ‘n Samaritaans dorp afbid, maar Jesus laat dit nie toe nie.

Ook wanneer Jesus later verhoor en onskuldig veroordeel word om te sterf, kondig Jesus nie oordeel aan nie. Jesus bid dat sy vervolgers vergewe moet word.

Jesus ontwrig

Dit is lekker om in ‘n Jesus te glo wat jou en jou belange bevestig. ‘n Jesus wat ontwrig is ‘n ander saak.

Toe dit blyk dat Jesus se boodskap radikaal teen die grein van hulle selfgerigte verwagtinge ingaan, het die sinagoge toehoorders begin om “die man te speel” – soos so dikwels gebeur en soos die geskiedenis van Jesus telkens bewys. Ja, die blye boodskap word gehoor, maar met woede verwerp. Ons moet weet die boodskap van God se radikale genade, van sy radikale omkeer van ‘n samelewing wat gebou is op eie belange en eie voordeel, eie mag en eer, uitbuiting en beskerming van eie belang, direk indruis teen die belangestruktuur van hierdie wêreld.

Daarom gebeur dit toe daar in Nasaret dat “gelowige mense”, mense wat aanvanklik vol lof vir Jesus was, Hom met geweld uit hulle midde probeer verwyder omdat hulle vanweë die verharding van hulle harte, sy vreemde genade nie verstaan of kan aanvaar nie. Hy ontkom nog hier aan hulle (vers 28-30), maar uiteindelik sou hulle Hom inhaal en die hande op Hom lê, Hom vaskap aan ‘n kruis, maar nooit sou hulle sy boodskap kon stilmaak nie.

Op ons voorwaardes

Die mense van Nasaret, en mens deur die eeue – soos ons – wil Jesus in ons geselskap hê, maar op ons voorwaardes. Mense wil Jesus saamneem waar hulle gaan. Hulle wil Hom “onderdanig” hou aan hulle huishoudings. En so gebeur dit presies ook in Nasaret. Hulle en ons, neig telkens om Jesus te behandel soos een van ons eie. Ons wil Hom by ons tuis maak, Hom mak maak, Hom dienstig maak aan ons aspirasies, aspirasies wat ons dikwels kan verdedig met Bybelstudie soos die hoorders in die sinagoge met ‘n beroep op Jesaja 61. Hoe dikwels gebeur dit nie in ons eie tyd om Lukas 4:18-19 te gebruik om ‘n “tekens- en wonderskerk” te regverdig nie waar “health, wealth en prosperity” tot eie voordeel in die teks ingelees word.

Jesus stap egter juis weg van die inwoners van Nasaret se begeerte dat hy by hulle ook ‘n paar wonders sou doen voor hulle sal glo dat Hy die Messias is.

Jesus keer op nuut hulle orde om. Hy verwys na “vreemdelinge” (die weduwee van Sarfat in die tyd van Elia en Naäman, die Siriër, 25-27) as die eintlike tuiste van profete. Die gemeente van die Here is vreemd in en aan hierdie wêreld. Die gemeente is ‘n anachronisme in hierdie wêreld. Dit is iets wat buite die insig en tyd en orde en begrip van die wêreld gebeur. Die storie van die kerk is nie ‘n suksesstorie in wêreldse terme nie. Die kerk leef marginaal, op die grense. Dit pas nie in by die struktuur van die wêreld nie.

Die ou kerk het gemeentes “parishes” genoem, paroikiai, vreemdelinggemeenskappe. Daarom maak Jesus Hom los van hulle daar in Nasaret toe hulle Hom en sy boodskap wil aanpas om te sê wat hulle graag wil hoor. Tereg sê Paulus in 2 Timoteus 4:3 dat daar ‘n tyd sal kom dat mense vir hulle leermeesters sal bymekaar maak wat vir hulle sal sê wat hulle graag wil hoor.

Dissipelskap

Ware dissipelskap is om Jesus op sy voorwaardes te volg. Jesus leer ons om te dien en onsself op te offer – juis vir die ander, vir die Siriër en vir die weduwee uit ‘n ander groep en land. Jesus gee Homself vir sondaars en gebrokenes, sterf soos die koringkorrel in die grond, en verkry daarom oorvloedige lewe.

Dit is ook Jesus se weg vir ons.

Jesus se boodskap het juis tot woede en opstand gelei omdat die hoorders se harte so op hulle self gerig was en op wat hulle wou hoor wat die profeet tot hulle eie voordeel en verdere selfhandhawing kon bring. Hulle kon daarom nooit die inhoud van die wonderlike woorde van genade in vers 18 en 19 begryp nie. Hulle kon nie insien dat die profeet juis aan hulle wat arm is ‘n ander soort rykdom bring nie; aan hulle ‘n soort vrylating gee nie; aan hulle wat blind is ‘n ander soort insig gee nie; hulle wat onderdruk is in vryheid uitstuur nie! Hoekom nie? Want hulle oë was blind en hulle harte verhard. Daarom het hulle woedend geword en Hom uit hulle midde verdryf (28-29).

Dit is wat die teoloog Schwerzer noem:

… the protest of the devout who think they have a claim on God and cannot understand unconditional Grace.

Om God se genade te begryp

‘n Mens wat nie sy eie armoede en blindheid besef nie, vind dit so moeilik om God se vreemde, onverdiende genade te begryp. Wat wil jy vir ons kom leer, Jesus? Wie is jy nou eintlik? Jy, die timmerman van Nasaret se seun! Doen eers vir ons ‘n wonderwerk of twee en wys vir ons wat jy vir ons tot ons voordeel kan doen dan sal ons jou en jou boodskap glo.

Prediker, wys vir ons eers dat jy dinge kan laat gebeur, dat jy ons kerk in ‘n suksesverhaal sal verander en ons daarby kan baat, dan sal ons aan jou lippe hang, liewe profeet, en ons lidmaattal sal sommer ook toeneem met die finansiële voordeel wat dit inhou!

Dit is net die Messias, Jesus Christus, wat Homself soos ‘n koringkorrel in die grond laat val het en vir ons gesterf het dat ons kan leef. As ons dan die Messias se volgelinge wil wees en nie ons lewe vir onsself wil behou nie, maar vir Hom en sy koninkryk prysgee, eers dan sal ons dit behou en vir Hom diensbaar kan wees. Markus 8:35: “Want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”

Jesus se preek in die sinagoge in Nasaret het vir die luisteraars daar geen heilsbetekenis gehad nie, omdat hulle nie bereid was om te bely nie: “Ek is arm; ek is gevange in my selfbelang; ek is blind in my skeefsiendheid, ek is vasgevang in myself en my eie belang en net U, Jesus, die Messias, net U kan my lewe in ‘n genadejaar, ‘n jubeljaar verander. Net deur U en u Gees kan vers 18 en 19 ook in my lewe gestalte kry.”

Wat sê Jesus vir ons?

Wat sê die Messias, die Profeet, Jesus Christus vir jou? En waarna soek jy regtig? Miskien sê Hy deur sy Gees vir jou, staan voor My met gebroke hart. Weet deur my Gees sal ek jou hart verander om jou nood raak te sien. Bely dit en dan sal Ek, net Ek, Jesus, die Verlosser, wat die armes sal raaksien en optel, Ek wat vir die gevangenes vrylating bring en die blindes se gesig herstel, ook alles in jou doen en jou so in vryheid uitstuur (Mark 4:18). Hoe nodig het die wêreld nie die Profeet en hulle wat die boodskap van sy jubeljaar in die midde van die gebroke wêreld sal verkondig en uitleef nie?

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 499 “Die Heer is God en niemand meer vs 1,2,3”

Seën
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Korintiërs 13 NAV)
of
“Die goedheid van die Here Jesus Christus, die oorvloedige liefde van God en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees is by julle almal. Amen.” (2 Korintiërs 13 Die Boodskap)
of
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
(Numeri 6)
of
Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.
Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.