Vierde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Die leefwyse van gelowiges kom op hierdie Sondag ter sprake.

In die Psalmteks gaan dit om die reg om in die tempel, in God se teenwoordigheid, te kom.

In die Evangelieteks gaan dit oor wie werklik geseëndes is.

Die 1 Korintiërsteks fokus op ons heiliging en  transformasie deur Christus se verlossing.

In die sleutelteks uit Miga praat die profeet oor ‘n bedagsame lewe voor God.

Ander tekste

Psalm 15
Wie het die reg om in die tempel te kom?
15 ’n Psalm van Dawid.
Wie het die reg
om in u woonplek te kom, Here?
Wie mag op u heilige berg vertoef?
2Hy wat onberispelik wandel
en doen wat reg is,
wat met sy hele hart die waarheid praat,
3nie kwaad praat nie,
sy medemens nie kwaad aandoen nie
en niemand beledig nie;
4hy wat dié verag
wat deur God verwerp is,
maar almal eer wat die Here dien;
wat sy woord hou,
selfs tot sy eie skade,
5sy geld nie op rente uitleen nie
en hom nie laat omkoop
om die onskuldige
te kort te doen nie.
Wie hom hieraan hou,
sal nooit wankel nie.

Psalm 15 BDV
1 ‘n Psalm. Van Dawid.
HERE, wie mag ‘n gas wees in u tent?
Wie mag tuisgaan op u •heilige berg?
2 Hy wat onberispelik leef en regverdig optree,
en wat van harte die waarheid praat. 3 Hy laster nie,
doen sy medemens nie kwaad aan nie
en bespot nie sy naaste nie.
4 In sy oë is die een wat verwerp is, veragtelik,
maar hy eer dié wat vir die HERE ontsag het. Al sweer hy tot sy nadeel, hy verander nie.
5 Hy leen nie sy geld teen rente uit nie
en aanvaar nie ‘n omkoopgeskenk ten koste van die onskuldiges nie.
Hy wat hierdie dinge doen, sal nooit struikel nie.

Matteus 5:1-12
Die bergrede
5 Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, 2en Hy het hulle geleer en gesê:
3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort
die koninkryk van die hemel.
4Geseënd is dié wat treur,
want hulle sal vertroos word.
5Geseënd is die sagmoediges,
want hulle sal die nuwe aarde ontvang.
6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is,
want hulle sal versadig word.
7Geseënd is dié wat barmhartig is,
want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
8Geseënd is dié wat rein van hart is,
want hulle sal God sien.
9Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.
10Geseënd is dié wat vervolg word
omdat hulle doen wat reg is,
want aan hulle behoort die koninkryk
van die hemel.
11“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

1 Korintiërs 1:18-31
Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe:

“Die wysheid van die wyses
sal Ek vernietig,
en die geleerdheid
van die geleerdes
sal Ek tot niet maak.” a
20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan:
“Dié wat wil roem,
moet in die Here roem.”

Fokusteks

Miga 6:1-8
Ander tekste: Psalm 15; Matteus 5:1-12; 1 Korintiërs 1:18-31
6 Hoor wat die Here sê:
Maak klaar, roep die berge as getuie,
laat die heuwels hoor wat jy te sê het.
2Berge, vaste fondamente van die aarde,
julle moet luister na die saak
wat die Here het.
Die Here het ‘n saak teen sy volk,
Hy het Israel aangekla.
3My volk, wat het Ek jou aangedoen?
Hoe het Ek jou moeg gemaak?
Antwoord My!
4Ek het jou uit Egipte gebring,
Ek het jou uit die plek van slawerny
gered,
Ek het vir Moses gestuur om jou te lei,
ook vir Aäron en Mirjam.
5My volk, dink aan die planne
van koning Balak van Moab,
en wat Bileam seun van Beor
hom geantwoord het.
Dink aan alles tussen Sittim en Gilgal,
en weet dat die Here julle
die oorwinning laat behaal het.
6Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe
gaan,
as ek voor die hoë God gaan kniel?
Moet ek met offers na Hom toe gaan,
met jaaroud kalwers?
7Sal die Here duisende ramme aanvaar
saam met tien duisende offers van olie?
Moet ek my eersgeborene offer
vir my sonde,
hom wat uit my liggaam kom,
vir my oortreding?
8Mens, die Here het jou bekend gemaak
wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg
sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
9Om die Here te dien, dit is wysheid.
Die Here roep die stad;
luister, leier en julle almal
wat aanhou roof:
10Goddelose plek,
moet Ek die verkeerde maatlyn
bly verdra,
of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat?
11Moet Ek die eienaar
van ‘n onbetroubare weegskaal
vryspreek,
een met ‘n sak vol vals gewigte?
12Die stad se ryk mense pleeg geweld,
sy inwoners lieg en hulle bedrieg.
13Daarom het Ek jou begin straf;
Ek het jou begin verwoes oor jou sondes.
14Jy sal eet en nie genoeg kry nie;
jy sal honger bly.
Jy sal geboortepyne hê,
maar nie ‘n kind in die wêreld bring nie.
En wanneer jy ‘n kind
in die wêreld bring,
gee Ek hom vir die swaard.
15Jy sal saai, maar nie oes nie,
jy sal olywe pars,
maar jou nie met olie insmeer nie,
jy sal druiwe pars,
maar nie wyn drink nie.
16Jy het Omri se reëlings nagekom,
gedoen wat Agab gedoen het,
hulle raad gevolg.
Daarom sal Ek jou verwoes,
Ek sal jou inwoners ‘n bespotting maak.
Jy sal my volk se vernedering moet dra

Ekstra stof

Teologiese kernboodskap van Die Twaalf Kleiner Profete: Verhoudings word gefundeer in die liefde van die Here
Sommige reken dat die eerste ses Kleiner Profete rondom die tema van die problematiek van ongeregtigheid (iniquity) saamgestel is, en die laaste ses Kleiner Profete rondom die tema van die verskillende antwoorde daarop (Coggins).  Ander weer vind ‘n tematiese samehang rondom die “dag van die Here” en ‘n fokus op Jerusalem wat in die meeste van die Kleiner Profete voorkom (Sweeney).

Die lyk vir my uit my eie lees van die twaalf boeke dat die teologiese kern van dié boodskap in die liefde van die Here gevind kan word, die konsep wat veral deur Hosea aangeroer word.  Dit is vir my die sleutel om nie net die samehang van die Kleiner Profete se boeke te verstaan nie, maar nog dieper, om God se genade en sy oordeel te kan begryp.

Die boodskap van die Twaalf Kleiner Profete is dat God se oordeel sowel as sy genade in sy liefde en dít binne verhoudings gefundeer word – binne Israel sowel as daarbuite in sy verhouding met die nasies.

Miga – God heers nou en vir altyd
Miga volg ná Obadja en Jona in die eerste groep van ses kleiner profete.  Obadja het in sy profesieë teen Edom beklemtoon dat God verwaandheid en afsydigheid straf.  Jona daarenteen het beklemtoon dat God Hom ontferm oor Nineve, selfs al kon die profeet hom skaars so ver kom om dié boodskap aan hulle te verkondig.

Miga, tydgenoot van Jesaja, Jona, Hosea en Amos, spel nou die noodsaak vir die volk van God om hierdie God se heerskappy te erken, die God wat straf en wat seën, want dieselfde oordeel wat Jona oor Nineve uitgespreek het, sal ook oor Israel en Juda voltrek word, as hulle hul nie tot die Here bekeer nie.  Wat vra die Here immers anders van hulle: “as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om noulettend die pad saam met jou God te loop?” (Mig. 6:8).

Daarmee rond Miga die boodskap tot dusver van die eerste ses Kleiner Profete af met die boodskap dat wat tussen God en mense gebeur  ‘n impak het op hulle voorspoed en selfs voortbestaan – ten goede of ten kwade.  Aan Hom moet hulle lojaal wees en bly in hulle liefde.  Na Hom moet hulle begeerte wees.  Aan Hom moet hulle in alles gehoorsaam bly.

Wat al hierdie profete veral sterk op die tafel sit, is dat dié verhouding met God medebepaal word deur die wyse waarop mense in die gemeenskap teenoor mekaar optree.  Sosiale geregtigheid en deernis met die weerloses is onafskeidbaar deel van die Godsverhouding.  Trouens, dit is ook nie net van toepassing op die Godsvolk alleen nie.  God verwag van alle mense om te doen wat reg is, troue liefde aan mekaar te bewys terwyl hulle noulettend die pad saam met God loop.

Miga 6:1-7:20 – Die Here bring redding vir dié wat Hom vertrou
Miga sluit sy boek af met twee hoofstukke waarin aan die een kant die regsaak wat die Here teen die volk aanhangig maak, aangekondig word sowel as die strawwe wat met hulle skuldigbevinding gepaard gaan.  Dit lei tot groot ellende in mense se onderlinge verhoudinge met mekaar waaroor Miga ‘n roerende klaaglied aanhef: “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma.  ‘n Man se huismense het sy vyande geword.

Aan die ander kant gryp Miga tog – juis ín die nood van die ramp wat hulle gaan tref – die genade van God vas en stel sy vertroue en verwagting daarop dat die Here weer sal vergewe en vernuwe.  Hy herinner God aan sy Wese: “Wie is ‘n God soos U? … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde.” En verkondig hierdie Godsbeeld dan as hoop aan die volk: “Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak,” in sy getrouheid aan Jakob en sy liefde aan Abraham volgens sy eed aan die aartsvaders.

Die titels van die perikope gee dié boodskap weer:

  • 6:1-8 – Die Here sit sy regsaak voort weens hulle gebrek aan regdoen, troue liefde en toewyding
  • 6:9-16 – Die Here se skuldigbevinding tref die volk met swaar strawwe
  • 7:1-6 – Miga kla oor die ellende wat alle verhoudinge versuur 
  • 7:7-20 – Miga stel sy vertroue en verwagting op God se genade wat weer sal vergewe en vernuwe

6:1-8 – Die Here sit sy regsaak voort weens hulle gebrek aan regdoen, troue liefde en toewyding
Die eerste vyf verse is God se aanklag teen die volk waarin Hy verskillende dele van die aarde as getuies oproep teen die volk.  “Die Here het ‘n saak teen die volk.”  Die Here spreek die volk ernstig aan dat hulle sy verlossing uit Egipte onder die bekwame leiding van die twee broers en een suster, Moses, Aäron en Mirjam, sowel as sy beskerming in die woestyn van die planne van Balak en Bileam (as voorbeeld) nie na waarde geskat het.  Die verwysing na Sittim en Gilgal herinner hulle waarskynlik aan die tyd van die Intog sowel as die begeleiding regdeur die tyd van die Rigters.  Sittim is immers die plek waar Josua die land Kanaän binnegegaan het, en Gilgal is onder andere waar die volk die eerste keer na ‘n koning gevra het.

Vers 6-8 is ‘n liturgiese gesprek tussen die volk en God wat waarskynlik in dié vorm in die tempel gebruik is, maar hier as ‘n verswarende getuienis in die regsaak van God met die volk gebruik word.  Waar hierdie liturgie in die tempel die volk kon leer wat die regte manier is om met God om te gaan, word dit hier waarskynlik as getuienis téén die volk gebruik.  Hulle het die onderrig van die Here deur die jare in die wind geslaan, want wat anders het die Here van hulle gevra as dat hulle regdoen, troue liefde bewys en toegewyd aan die Here lewe.  Dit het hulle egter konsekwent nie gedoen nie.

Die Here stel nie belang in offers nie, van watter aard ook al – radikaal (brandoffers), uitnemend (jaaroud kalwers), oorvloedig (duisende ramme, tienduisende offers van olie) of kosbaar (eersgeborene).  Hy word nie daardeur beweeg nie, eerder deur hoe mense teenoor mekaar en teenoor Hom optree.

Die Here se idee van wat goed is, het alles met verhoudings te make: “Hy vra van jou dat reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.”  Peterson vertaal: “It’s quite simple: Do what is fair and just to your neighbor, be compassionate and loyal in your love, And don’t take yourself too seriously—take God seriously.”  (The Message).

Inderdaad. Neem jou naaste en jou God ernstig, ‘n ander manier om die liefde vir die naaste en vir God te beskryf, dan doen jy wat goed is. Nog anders gestel: leef voluit in die verhoudings waarbinne God jou geplaas het, en jy sal sy seën ervaar.  Wat kan nou daarmee kompeteer!

6:9-16 – Die Here se skuldigbevinding tref die volk met swaar strawwe
Die NAV se vertaling van vers 9 is in omgekeerde volgorde van die sinne in Hebreeus.  Dit moet eerder lui, ook meer direk vertaal: “Die stem van die Here roep tot die stad: wysheid is om ontsag vir u Naam te hê …”  Daarmee begin Miga die skuldigbevinding van die volk en spel die swaar strawwe uit wat hulle gaan tref.

Die Here lys dan die dinge wat sy eis van regdoen, troue liefde en toewyding aan Hom oortree: valsheid, bedrog, geweld, en leuens.  Dié sondes verdien die straf wat in die verbond voorgeskryf word (Deut. 28-30) en word hier in terme van onversadigbaarheid (honger), verydeling (swangerskap wat op niks uitloop nie), en mislukking (geen oes, olie, of wyn as vrugte vir hulle arbeid nie) uitgespel.

Omdat die volk gekies het om die Here te versaak – soos koning Omri (wat deur ‘n staatsgreep aan bewind gekom het) en sy seun Agab (onthou die gruwelike verhaal van Nabot se wingerd en Isebel se verraderlike raad) gedoen het deur Baäl te aanbid – gaan die Here hulle verwoes.

7:1-6 – Miga kla oor die ellende wat alle verhoudinge versuur 
Die strawwe van die Here lei tot groot ellende in mense se onderlinge verhoudinge met mekaar.  Miga hef daaroor ‘n roerende klaaglied aan: “Ellende wag vir my, ek het geword soos ‘n land wat afgeoes is, soos die natrossies in die wingerd.”  Die gemeenskap val in mekaar en draai teen mekaar.  Daar is nie meer Godvresendes nie.  Daar is nie meer opregtes nie.  Mense stel strikke vir mekaar en maak mekaar dood.  Onreg gedy in die staat en regswese: “Die beste onder hulle is soos ‘n gifplant.”  Mensig!

Niemand kan mekaar meer vertrou nie: “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma.  ‘n Man se huismense het sy vyande geword.

7:7-20 – Miga stel sy vertroue en verwagting op God se genade wat weer sal vergewe en vernuwe
Aan die ander kant gryp Miga tog – juis ín die nood van die ramp wat hulle gaan tref – die genade van God vas: “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red.  My God sal my gebed verhoor.” Miga doen dus presies wat van hom as profeet verwag word – hy lewer sy boodskap af as woordvoerder van die Here, maar hy tree ook in vir die volk se bekering en staan in die geloof op die sekerheid van God se antwoord.  Woordvoerder en Intersessor tot die end.

Daarom kan hy hom verweer teen mense wat hulle verlekker oor die val van die Godsvolk.  Die pad na die vernuwing lei deur die aanvaarding van die straf, maar ook die vasgryp aan die beloftes van vergifnis en vernuwing wat die Here gegee het.

Miga sien dus die toekoms raak en gryp dit in geloof vas dat die juk van Assirië weer afgegooi sal kan word en die volk kan terugkom van waar hulle hulle ook al mag bevind.  Dit sal ‘n tyd van wonders soos in die vroeë bestaan van die volk wees, iets wat die nasies sal verstom.

Let op hoe Miga die Here in sy laaste intrede vir die volk herinner aan Wie Hy in sy Wese is: “Wie is ‘n God soos U? … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde.” Vanuit daardie profetiese gebed verkondig Miga hierdie Godsbeeld dan as hoopvolle getuienis en boodskap aan die volk: “Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak.”  En hy verbind die Here se stellige antwoord aan sy getrouheid aan Jakob en sy liefde aan Abraham soos Hy onder eed aan die aartsvaders belowe het.  Sonder daardie geskiedenis van God se verbond met die voorvaders het die Godsvolk die gevaar geloop om in die vergetelheid van die eeue te verdwyn.

Boodskap
Die deernis wat Miga het met die volk, wat op soveel maniere inplof in hulle gemeenskapslewe, val my op.  Sy worsteling met die boodskap wat hy onverdund bring, sowel as sy beroep op wie God in sy Wese is, bemoedig my. Dit is die manier waarop ons ook in ons eie konteks moet optree.  Ons durf nie iets anders sê as wat die Here ons van oortuig nie. Maar dit moet ook ons deernis laat ontvlam sodat ons met oorgawe kan intree juis vir dié mense aan wie ons God se boodskap moet bring.

God bly nie vir altyd kwaad nie.  Hy betoon liefde.  Hy sal ons weer genade betoon.  Hy sal ons sonde tot niet maak.  Dít bly die hoop, toe en vandag nog.  Soos Peterson sê: “It’s quite simple: Do what is fair and just to your neighbor, be compassionate and loyal in your love, And don’t take yourself too seriously—take God seriously.”  (The Message).  Dié God is ons hoop.

Liturgie

Aanvangslied: Lied “353 Die Heiland is gebore vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 15)

Seëngroet: (Uit 1 Korintiërs 1)

Lied 231 “Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,2,3,4”

Wet: (Uit Matteus 5)

Skuldbelydenis: (Uit Psalm 51)

Vryspraak: (Uit 1 korintiërs 1)

Geloofsverbintenis:  (ahv die fokusteks)

Loflied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Epiklese: Lied 254 “Spreek Heer, spreek Heer” (herhaal)

Skriflesing: Miga 6:1-8

Familie-oomblik
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied  353 “Die Heiland is gebore vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 15)
Wie het die reg
om in u woonplek te kom, Here?
Wie mag op u heilige berg vertoef?
2Hy wat onberispelik wandel
en doen wat reg is,
wat met sy hele hart die waarheid praat…

Seëngroet  (Uit 1 Korintiërs 1)
2Aan die gemeente van God in …………………………………………….., wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort…
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 231 “Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,2,3,4”

Wet: (Uit Matteus 5)
3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort
die koninkryk van die hemel.
4Geseënd is dié wat treur,
want hulle sal vertroos word.
5Geseënd is die sagmoediges,
want hulle sal die nuwe aarde ontvang.
6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is,
want hulle sal versadig word.
7Geseënd is dié wat barmhartig is,
want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
8Geseënd is dié wat rein van hart is,
want hulle sal God sien.
9Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.
10Geseënd is dié wat vervolg word
omdat hulle doen wat reg is,
want aan hulle behoort die koninkryk
van die hemel.
11“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.

Skuldbelydenis: (Uit Psalm 51)
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.

Vryspraak: (Uit 1 korintiërs 1)
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan,
maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.
… vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.
30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is.
Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.

Geloofsverbintenis: (ahv die fokusteks)
(Die liturg kan die gemeente se verbintenis omskryf om spesifieke areas wat relevant is in jul gemeente, te beskryf.)

Liturg: God is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Dáárom –
Verbind ons ons tot geregtigheid:

Gemeente:

  • om alle mense met waardigheid te behandel
  • Om na die skepping om te sien
  • Om op te staan teen alle vorme van onreg en diskriminasie

Liturg:  Verbind ons ons tot liefde en trou:
Gemeente:

  • om ons naaste lief te hê.
  • om aan te hou vergewe, vir solank as wat dit mag nodig wees.
  • om ander te dien in woord en daad.

Liturg:  Verbind ons ons aan God:
Gemeente:

  • Hy bepaal die rigting van ons lewens
  • Ons wil sy wil doen
  • Ons is afhanklik van hom.

Liturg:  So wil ons leef met volharding leef, omdat dit getroue God self so is.
(Uit die bydrae van 30 Januarie 2011 by seisoenvanluister.co.za)

Loflied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Liedere

F249. “Ek Sing Dit”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Geloof & Vertroue)
Teks en Musiek: Retief Burger
© 2008 Urial Publishing
(Opgeneem op Luidkidz)

Here, U is als vir my
Dis U wat in my bly
Here, U het als vir my gegee
Here, wat kan ek nou bring,
Meer as woorde sing?
Here, hoe kan ek my alles gee

Meer as woorde wat ek sing
Ek gee myself, dis die lof wat ek sal bring

Ek sing dit, ek leef dit,
ek glo dit, ek gee dit
dat die wêreld kan sien
dat ek die Here dien
Ek sing dit, ek leef dit,
ek glo dit, ek gee dit
dat die wêreld kan weet
dat U liefde in my leef
Jesus, my lof, my lof, my lof
Sal ek gaan leef!

VONKK 7 “Mag Ons U Liefde Ken
Mag ons u liefde ken en ook vervul word
met die volheid van God,
heeltemal vol met die volheid van God!
Amen, amen.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lied 254 “Spreek Heer, spreek Heer” (herhaal)

Skriflesing: Miga 6:1-8

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Verduidelik vir die kinders wat ‘n juk is
Lees dan Matt 11:28-30:
28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

(of soos dit beskrywe word in Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

28–30Glo* in My. Kry julle baie swaar? Is julle moeg gesukkel om by God uit te kom? Ek kan help! Kom rus by My. Ek maak dit glad nie moeilik om in God te glo* nie.

Omdat Ek regtig vir julle omgee, is julle veilig by My. Ek sal my arms om julle sit en julle styf vashou. Ek maak die lewe weer lekker.”

Vertel dan vir die kinders dat party mense dink dat God se wil soos ‘n juk is – iets wat swaar op ons druk, ons vasbind en seermaak.  Maar God is nie so nie – hy is lief vir ons. Dat sy juk sag is beteken dat dit ‘n vreugde is om die Here te dien- dit is nie swaar en ‘n las nie.

Miga skrywe so daaroor:
8Mens, die Here het jou bekend gemaak
wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg
sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
(Idee van die juk uit die bydrae van 30 Januarie 2011 by seisoenvanluister.co.za)

Preekriglyn

Jimmy Carter, die 39ste president van die VSA, het sy ampseed op 20 Januarie 1977 afgelê met ‘n Familiebybel wat oopgemaak was by Miga 6:8: “Mens, die Here het jou bekendgemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.”

Carter, ‘n demokraat, het Gerald Ford van die Republikeinse Party opgevolg. Ford was Richard Nixon se vise-president, en het president geword weens Richard Nixon se bedanking in 1974. Nixon is geforseer om as president te bedank weens sy toesmeerdery en leuens oor die Watergate-skandaal. Hy sou andersins feitlik verseker uit sy amp verwyder word. Nixon was egter ‘n groot president: hy het die sinnelose Vietnam-oorlog beëindig en verhoudinge met China genormaliseer, wat tot ‘n opbloei in handel gelei het.

Ten tye van Jimmy Carter se inhuldiging het die Bybel nie verniet by Miga 6:8 oopgelê nie. Amerika was ‘n diep-verdeelde land met wantroue in politieke leiers wat hoogty gevier het. Kiesers was moeg van oorlog, geweld en korrupsie. Hy was ‘n vars briesie op die nasionale politieke toneel.

Carter was nie ‘n groot president nie, maar word veral onthou vir die enorme werk wat hy sedert sy presidensie verrig het. As Christen en aktiewe kerklidmaat het hy sy toewyding aan God, die kerk en sy medemens bly uitleef. Carter is onder andere die stigter van die enorme Habitat for Humanity-projek wat wêreldwyd huise bou vir mense wat dit andersins nie sou kon bekostig nie. Hy het ook die Nobelprys vir vrede welverdiend in 2002 gewen.

Carter leef steeds en is die langslewende oud-president van die VSA ooit. Hy het in 2016 die veertigste herdenking van sy verkiesing tot president gevier.

Tot vandag toe bly Miga 6:8 ‘n leidende motief in sy lewe.

Ons teks

Ons teks, Miga 6:1-8, kan in drie dele of bewegings verdeel word:

  • In verse 1 tot 5 is God aan die woord;
  • In verse 6 tot 7 is die volk aan die woord; en
  • In vers 8 praat die profeet Miga om God se wil bekend te maak.

Uit hierdie gesprek word dit ook vir ons duidelik wat God van sy volk, dit is die kerk van God, verwag. Hy verwag dit van ons oral waar ons lewe en dien: of ons politici is, soos Jimmy Carter, of onderwysers, medici, prokureurs, boere, sekretaresses of pensioenarisse.

God aan die woord

God is eerste aan die woord in vers 1 tot 5. Mens kry die indruk dat God die volk hier as’t ware voor die hof wil daag. God het ‘n saak teen God se volk.

Berge en heuwels wat so oud soos tyd is, word opgeroep om as getuies gereed te staan wanneer God sy saak teenoor die volk stel. Die klag wat na die berge en heuwels vir beslissing gebring word, getuig van die volk se ontrouheid teenoor die Here.

God se besondere weerloosheid word in vers 3 verwoord met die vraag: “Wat het Ek jou aangedoen? Hoe het ek jou moeg gemaak?” Verby ‘n redelike argument of ‘n feitlike redevoering vind ons hier ‘n brose uitdrukking van God se verwondheid en weerloosheid. Die band tussen God en die volk wat deur die verbond veronderstel word, kom nie tot sy reg nie. God voel verkul en verwond.

Voor die volk egter op God se aanklag kan reageer, sit God die pleidooi voort. Hy herinner die volk aan ‘n weg van versorging en beskerming. As deel van God se appèl aan die volk word in vers 4 en 5 een van die kortste opsommings van God se geskiedenis van heil en verlossing met Israel gebied:

  • Die volk word daaraan herinner dat dit God is wat hulle uit slawerny gered het,
  • dat Moses, Aäron, Miriam, Balak en Bileam geroep is om deel te wees van God se heilsplan en
  • dat die weg van Sittim aan die een kant van die Jordaan na Gilgal aan die ander kant deur God gebaan is vir die volk se inname van die beloofde land.

Elkeen van die name en plekke wat genoem word verteenwoordig ‘n greep uit die ryke geskiedenis wat Israel se heilsgeskiedenis opmaak. Wat hier in enkele woorde opgeroep word, getuig van ‘n leeftyd se verhale van God se trou en sorg.

Die volk reageer

Wanneer mens voor die hof gedaag word, moet jy natuurlik reageer. Die taal wat die volk gebruik, laat mens egter nie aan die hof dink nie. Dit klink amper asof die volk by ‘n braaivleisvuur staan en op ‘n oordrewe manier reageer op wat hulle as God se onbillike eise beskou.

Waarom sê ons so? Let op dat die volk in verse 6 tot 7 nie reageer deur op God se vrae te antwoord nie, maar eerder deur in hiperbool hulle verontwaardiging uit te spreek. Mens kry die indruk dat ons die geleentheid het om te luister na ‘n gesprek tussen twee partye waar die wisseling al so dikwels plaasgevind het dat hulle mekaar nie meer goed kan hoor nie. Woorde is reeds so gelade dat die kommunikasie byna bankrot geraak het.

Mens kry die indruk dat jy inluister op geliefdes waar spanning en jare se emosionele worsteling lei tot mis-hoor en misverstaan. Israel reageer in hiperbool deur byna met hande in die lug te vra: “Wat sal ek ooit kan doen om God tevrede te stel?” Die voorbeelde van offers wat na die Here gebring kan word, vermeerder in kwaliteit en kwantiteit as daar eers oordrewe getalle gegee word van kalwers, ramme en olie. Vandaar word reguit beweeg na die offer van ‘n eersgeborene.

Wat God regtig verwag

Natuurlik verwag God nie hulle oudste kinders as ‘n offer, of duisende kalwers nie. Hulle hoef nie te dink dat godsdiens van hulle die opoffer van troppe lewende hawe vra nie.

Die profeet vlek hulle misverstand oop deur te sê God vra ‘n reaksie van liefde. God het met hulle in ‘n verbond getree, en God verwag dat hulle in liefde en trou in hierdie verbintenis sal bly lewe. God soek ‘n intiem, persoonlike verhouding.

Merkwaardig dat ons hier weer so duidelik hoor dat God nie van die volk verwag om sekere goed te doen sodat daar tevredenheid kan wees nie. Daar word eerder ‘n lewenswyse veronderstel wat gebore word uit ‘n lewe van verbondenheid.

In vers 8 word die volk weer gereoriënteer as die waarheid van ‘n wyse lewe aan hulle voorgehou word. God verwag nie van die volk offers of paai-gedrag nie. God verwag dat hulle vanuit ‘n verhouding sal leef en dat daardie verhouding hulle sal dring om reg te laat geskied, in verbondenheid te leef en in nederigheid te wandel.

Wat die verbond met God beteken

Uit die volk se antwoord sien ons hulle dink die verhouding (verbond) met God beteken God doen iets en hulle moet dan iets doen. “Tit for tat.”

Ons teks lei ons weg van ‘n verbondsverstaan dat God aan ons iets doen en daarom moet ons iets terug doen. Die punt is nie wat die volk doen of offer nie, maar eerder wie die volk is. As die volk in ‘n enkelvoudige verbondsverhouding met God leef, sal hulle kan onderskei wat die beoefening van geregtigheid beteken in die lig van hulle wat arm en noodlydend is. Hulle sal weet wat die waarde van getroue verhoudings is en dat die lewe die beste gedien word in nederige afhanklikheid van God.

Vanuit ‘n regte verhouding met God, ontwikkel ‘n verstaan van die beoefening van geregtigheid wat daarna streef om die lewe vir almal moontlik te maak, veral hulle wat op die rand staan of wat magteloos of “anders” is. Die verhouding met God behels meer as om die regte goed te doen omdat die volk bang is vir straf. Dit is ‘n lewe in verbondenheid waar wysheid nederig gesoek word voor God se aangesig.

God se identiteit en karakter staan dus in die sentrum. Wie God is, stempel wie God se verbondsvolk, God se kerk is. En God se kerk moet hierdie identiteit uitleef deur liefde en trou teenoor God, en liefde, trou en geregtigheid tot die medemens.

‘n Stukkie dinamiet

Jimmy Carter het heeltemal reg besef hoe belangrik hierdie vers vir die politiek is. Politiek wat God se bedoeling vir die wêreld verstaan, weet dat daar na almal omgesien moet word, nie net na ‘n paar nie. Almal se voordeel moet gesoek word. So is God immers.

Miga 6:8 het weer na die Amerikaanse politiek teruggekeer. Tydens president Obama se verkiesingsveldtog in 2008 het hy sy geloof saamgevat deur na Miga 6:8 te verwys. Baie vinnig het sy ondersteuners plakkers op hul motors begin plak wat gesê het “Obama 2008 Micah 6:8”.

Die Republikeine het ook vinnig op die wa geklim. Tydens beide die Demokratiese en Republikeinse Partye se verkiesingskongresse daardie jaar het mense T-hemde gedra wat gesê het: “‘Act justly, love tenderly, walk humbly’ (Micah 6:8)”.

Mense weet die openbare lewe sal anders lyk as hierdie woorde beleid beïnvloed.

In die mees onlangse Amerikaanse veldtog het Miga 6:8 nie invloed uitgeoefen nie. In elk geval nie by die kandidaat wat pas as 45ste Amerikaanse president ingehuldig is nie.

In Suid-Afrika sien ons ook nie teenoorgestelde van Miga 6:8. Staatskaping is brutale eie-gewin, en het niks te doen met die versorging van die weduwee, die weeskind en die mees brose mense in die samelewing nie.

Gemeente en gelowige

Hoewel Miga 6:8 dalk goeie materiaal maak om politici mee by te kom, of om verkiesingsbeloftes mee te maak, het die vers spesifiek met die identiteit van beide gemeente en lidmaat, geloofsgemeenskap en gelowige te doen.

Wat beteken die oproep om reg te laat geskied, en liefde en trou te betoon vir ons gemeente?

In sy boek, A Fellowship of Differents, waarin Scot McKnight die Nuwe Testament se siening van die kerk bespreek, vergelyk hy reg, liefde en trou met sigbaarmaking. ‘n Gemeente kan maklik die brose mense in die gemeente self, asook in die samelewing, miskyk. Hy verwys spesifiek na weduwees in die gemeente, en weeskinders. Maar dit kan ook armes wees, mense wat ly en swaarkry.

As jy self in ‘n stewige huis woon en met ‘n motor wat gereeld gediens word, en ‘n tenk vol brandstof by die kerk kan opdaag, is die gevaar lewensgroot dat nood en ellende vir jou onsigbaar gaan wees. Geregtigheid, liefde en trou het daarom met leer kyk te doen. En leer verstaan wat jy sien. Mens kan ellende raaksien, sonder om te weet wat jy raaksien.

Geregtigheid, liefde en trou het ook met begrip, respek en openheid te doen. Ons het dikwels vooropgesette idees oor ander, wat veroorsaak dat ons hulle menswaardigheid en hulle nood nie raaksien nie. Ons vooroordele laat ons dink hulle swaarkry is hulle verdiende loon, of dat hulle nie tot beter in staat is nie. Binne-in elke mense is ‘n meganisme van selfregverdiging, wat vir jou verduidelik waarop jy ander nie hoef te help nie, of waarom help nie sal help nie.

Die barmhartige Samaritaan kon al hierdie dinge oorkom, toe hy die beseerde Jood langs die pad sien lê.

So van gesprekke by braaivleisvure gepraat: dit lê ons bloot. Ons menings oor ander vertel eintlik meer wie ons is, as oor hulle.

Daarom is Miga 6:8 ook ‘n saak van gebed. Gebed help ons groei in ons verhouding met God, sodat ons ons kan bekeer in verhouding tot ander. Vanuit ‘n diep verbondenheid met God is ons geroep om ‘n Christus vir ander te wees. Dis wie God ons gemaak het om te wees.

God stuur ons om te leef

Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën
Julle is die sout vir die aarde . . .
Julle is die lig vir die wêreld.

Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (uit Matt 5:13-14, 16).
(Uit die basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.