Vierde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

In 1 Korintiërs 8 word daarop gewys dat gelowiges nie meer gebonde is aan allerlei godsdienstige reëls en moets en moenies nie, maar dat ons nogtans daarop bedag moet wys dat ons nie met hierdie vryheid aanstoot gee aan mense wat nog meen dat hulle hieraan gebonde behoort te wees nie. Die Deuteronomiumteks gee uitdrukking aan God se belofte dat hy altyd weer vir sy mense profetiese figure soos Moses na vore sal laat tree. In die Markusteks word vertel van Jesus wat die  sabbatsgebod oortree het om ‘n besetene te bevry. In Psalm 111 word die grootheid en die trou van die Here besing.

Ander tekste

Deuteronomium 18:15-20
’n Profeet soos Moses
15“Die Here jou God sal ’n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. 16Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: ‘Ek kan nie weer ’n keer die stem van die Here my God aanhoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’

17“Toe het die Here vir my gesê: ‘Wat hulle gesê het, is reg. 18Ek sal ’n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. 19Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie. 20’n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf. Dit geld ook van ’n profeet wat in die naam van ander gode praat.’21Wanneer jy jou afvra: Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie? 22moet jy weet: as ’n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie.”

Psalm 111
Die werke van die Here is groot
111 Prys die Here!
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes,
in die gemeente.
2Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind,
dink daaroor na.
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade
nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
6Hy het sy volk die krag van sy dade
laat ervaar,
Hy het aan hulle die land
van ander nasies gegee.
7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
8hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
10Wysheid begin
met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd
stand.

Markus 1:21-28
Die besetene in Kapernaum
(Luk 4:31–37)
21Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. 22Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.
23Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge ’n man wat van ’n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: 24“Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”
25Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”
26Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. 27Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is ’n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.”
28En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

Fokusteks

1 Korintiërs 8:1-13
Die vraag oor vleis wat aan ‘n afgod geoffer is
8 En nou julle vraag oor vleis wat aan ‘n afgod geoffer is.
Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. 2As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat ‘n mens behoort te hê nie. 3Maar as iemand God liefhet, ken God hom.

4Wat nou betref die eet van vleis wat aan ‘n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. 5En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word, 6is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

7Maar nie almal het hierdie kennis nie. Daar is party van julle wat so gewoond is aan afgode dat hulle nog altyd vleis eet asof dit ‘n offer aan ‘n afgod is. Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar. 8Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. 9Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ‘n aanleiding tot sonde word nie. 10As jy wat hierdie kennis het, in ‘n afgodstempel gaan eet en iemand met ‘n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie? 11Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit ‘n broer vir wie Christus gesterf het. 12Deur so teen die broers te sondig en ‘n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus. 13Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.

Ekstra stof

1 Korintiërs 8 – Jou vryheid mag nie ander laat sondig nie
Paulus skuif aan na die vraag oor vleis wat aan ‘n afgod geoffer is, waarmee hy waarskynlik terugverwys na die spreekwoord wat hy aangehaal het in 6:13: “Die maag is vir kos, en kos vir die maag.”  Wat ‘n mens ook in gedagte moet hou, is dat die situasie in Korinte so was, dat sommige van dié (sterk) gelowiges ook in die afgodstempels gaan vleis eet het (die restaurante van daardie tyd!), omdat die tempels baie keer ook die enigste plek was vanwaar jy vleis kon bekom.  Die oorskot van die tempel offervleis is selfs op die markpleine verkoop.  Maar, omdat jy van buite af kon insien by die tempels, het ander (swak) gelowiges aanstoot daaraan geneem (vers 10).

Let op hoe hy eers die beginsel van die liefde neerlê en verduidelik voordat hy sy antwoord op hulle vraag gee.  Basies sê hy, dat kennis goed is, maar nie genoeg nie.  Die liefde is belangriker (vgl. 13:2: “en besit ek al die kennis … maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”), ook in ons verhouding met God.  Om die waarheid te sê, dit is wanneer ons God liefhet, dat ons in ‘n verhouding kom met Hom waar Hy vir ons ken – iets wat baie belangriker is as wat ons weet (of dat ons Hom ken).

Hy sal nog meer uitbrei op hierdie idee later in sy brief aan die Galasiërs (in 4:8: “noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken”).  Vergelyk dit ook met die gelykenis van die tien meisies in Matteus (in 25:12 waar die bruidegom vir die 5 onverstandiges sê: “Ek ken julle nie”!”)

In sy antwoord sluit hy dan by hulle kennis aan, en erken dat daar eintlik niks aan die vleis verander as dit aan ‘n afgod geoffer is nie.  Om die waarheid te sê, daar is eintlik geen ander God, behalwe Een nie.  En al sou mense dink daar is sogenaamde gode (let op sy woorde!) bestaan hulle nie vir ons nie, want ons het net een God, die Vader en Sy Seun deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

Maar nou is dit so dat nie almal dié kennis het nie, en uit liefde vir hulle, moet ‘n mens hulle onkunde in ag neem, en nie iets doen waardeur hulle gewete, wat alreeds swak is, nog verder verswak sal word nie.  Ons vryheid (let weer op hoe hy daarmee terugverwys na hfst. 6:12-13) mag nooit ‘n aanleiding vir ander word om te sondig nie (vgl. Jesus ook hieroor in Matt 18:6: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ‘n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.”).

Om die waarheid te sê, jy sondig eintlik teen die onkundiges, as jou vryheid hulle laat sondig.  Daarom sal Paulus nie sulke vleis eet nie (gelukkig nie alle vleis nie!) want hy wil nie sy medegelowiges se val veroorsaak nie.  Hy reël darem ook later dat ‘n mens nou nie hoef navraag te doen oor vleis wat jy in ‘n slaghuis koop, of dit nou aan ‘n afgod geoffer is of nie, en jy dit dan maar mag eet (10:23-33).  Maar die gewete van die swakkeres bly ook daar ‘n bepalende faktor.

Let ook op dat hierdie beginsel van die liefde na ander sake deurgetrek kan word – jou medegelowige se standvastigheid in die geloof is belangriker as jou eie kennis en vryheid in die geloof.  En lees gerus in Romeine 14:19 en 15:2 Paulus se verdere gedagtes hieroor.

‘n Mens moet onthou dat Paulus hier natuurlik skryf oor mense wat pas uit die heidendom na Christus oorgekom het en nog die impak van die heidense gebruike sou ervaar.  Hy praat nie oor mense wat eintlik net hulle eie bekrompe idees op ander van toepassing wil maak nie en van beter behoort te weet nie.

Dit help my nogal om só daaroor te dink, want dit is eintlik vir my swaar woorde dié van Paulus: en ek sou ook saam met sommige gelowiges wou uitskreeu, soos Paulus hulle aanhaal in 10:29-30: “Waarom moet my vryheid beperk word deur ‘n ander se gewete?”  Maar die punt is dat ons nie ons eie belang kan soek nie, want dit is die beginsel van die liefde, en die weg van die kruis (2:2).

En dit is soos Forrest Gump sê: “That’s all I have to say, about that.”

Liturgie

RUS

Toetrede: Psalm 111 verse 1-3 of Flam 23 verse 1-3 of VONKK 195 verse 1 en 3

Votum: Psalm 111:1-4 of Liedboek Psalm 111 vv1-2

Seëngroet: Liedboek Psalm 111 v3 of Psalm 111:4-5

Lofsang: Lied 334 of Flam 144 of VONKK 41

Wil van God: Psalm 111:7-10a

Skuldbelydenis: Liedboek Psalm 111 vers 4 of Flam 23 vers 4 of VONKK 195 vers 2

Genadeverkondiging / Vermaning: Psalm 111:10

Geloofsbelydenis: Lied 332

HOOR

Gebed: Lied 526 of VONKK 7

Skriflesing: 1 Korintiërs 8:1-13

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 530 of Flam 524

Seën

Respons: Lied 526

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Psalm 111 verse 1-3 of
Flam 23 verse 1-3 Prys Die Here [bekend] of
VONKK 195 verse 1 en 3 Loof, Loof Die Heer

Votum
Psalm 111:1-4
111 Prys die Here!
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes,
in die gemeente.
2Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind,
dink daaroor na.
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade
nie vergeet word nie.
of
Liedboek Psalm 111 vv1-2
Kom met die opregtes saam,
Loof sy werke, prys sy Naam.
Wie in vreugde daaroor dink,
Laat ‘n loflied oor hom klink.

Luisteryk, vol majestyd
Is sy groot barmhartigheid.
Al sy dade word onthou;
Hy’s standvastig in sy trou

Seëngroet
Liedboek Psalm 111 v3
Hy voed hulle wat hom dien;
In sy trou het hy voorsien.
Sy verbond hou altyd stand.
Hy behoed sy volk se land.
of
Psalm 111:4-5
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.

Lofsang
Lied 334 “God is liefde!” juig ons harte of
Flam 144 God Is Liefde of
VONKK 41 God Is Liefde! Laat Ons Lofsing

Wil van God
Psalm 111:7-10a
7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
8hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
10Wysheid begin
met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd
stand.

Skuldbelydenis
Liedboek Psalm 111 vers 4 of
Flam 23 vers 4 Prys Die Here [bekend] of
VONKK 195 vers 2  Loof, Loof Die Heer

Genadeverkondiging / Vermaning
Psalm 111:10
10Wysheid begin
met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd
stand.

Geloofsbelydenis: Lied 332 “God se liefde, so oneindig”

Liedere

F23. “Prys Die Here
(RUBRIEK: Flam – Lof) Teks en musiek: Rhe Janse © 1994 Brettian Productions (Opgeneem op Lentereën – Willie Joubert) (Ps 148)

1. Prys die Here vanuit die hemele;
prys die Here alle engele;
prys Hom son en maan,
prys Hom alle sterre!
Prys die Here en sy grote Naam!

2. Prys die Here van die aarde af,
uit die see en van die berge af.
Prys Hom bome, diere, plante en riviere.
Prys die Here en sy grote Naam!

3. Prys die Here alle volke saam;
mans en vroue, prys die Heer se Naam.
Prys Hom konings, vorste, oud en jonk tesame.
Prys die Here en sy grote Naam!

4. U’s my Here en ek prys u Naam;
U’s verhewe, hoor my loflied aan.
Heer, U majesteit strek oor aard’ en hemel;
U’s my Here, en ek prys u Naam!
U’s my Here, en ek prys u Naam!

F144. “God Is Liefde”
(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof) Musiek: Retief Burger Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers
© 2005 Urial Publishing (1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

1. God is liefde,
juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

2. Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef,
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

VONKK 41 “God Is Liefde! Laat Ons Lofsing”
Teks: God is love – Timothy Rees 1874-1939; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008  © Musiek: ABBOT’S LEIGH – Cyril Vincent Taylor 1942
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: ABBOT’S LEIGH by CV Taylor (1907-1991) © Oxford University Press.  Reproduced by permission. All rights reserved.
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

1. God is liefde! Laat ons lofsing
– hemel, aarde, mensdom saam.
God se grootheid in die skepping,
laat ons jubel oor sy Naam!
Hy wat alles goed gemaak het,
hou die heelal in sy hand.
Hy oorlaai ons met sy goedheid –
liefde ver bo ons verstand.

2. God is liefde! Hy omvou ons
daagliks met ‘n liefdesband.
Hy bewaar uit alle volke
al sy kinders deur sy hand.
As die lewe ons laat seerkry,
as ons ly deur pyn en smart,
weet ons God deel in ons swaarkry –
daar is deernis in sy hart.

3. God is liefde, maar die sonde
maak ons vir sy liefde blind.
God vergeef, genees die wonde
van die sonde wat ons bind.
Sonde, dood en hel sal nooit nie
oor ons heerskappy kan kry.
God se liefde, so onfeilbaar,
sal vir ewig by ons bly.

F524. P”raat ek mense-, Engeletale”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en vertroue)
Teks en musiek: Liedboek 530 (Teks: Attie van der Colf; musiek: L. Von Beethoven 1824, ritmies aangepas) en Johan van Dyk (refrein)
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

1. Praat ek mense-, eng’letale,
maar dis nie uit liefde nie,
is my woorde leë simbale:
klanke sonder melodie.
Al kan ek geheime uitlê,
berge deur geloof versit,
of al het ek al die kennis –
sonder liefde is ek niks.

2. Sonder liefde sal my gawes,
al my ywer, my nie baat:
Net die liefde, onbaatsugtig,
bly oorwin met goed die kwaad.
Onreg kan dit nie verdra nie,
dit is met die waarheid bly.
Deur vergifnis, hoop, verwagting,
kom die beste in ons vry.

Refrein:
Hierdie lewe gaan verby,
Maar sy liefde sal vir altyd bly
Aan die kruis word bewys
God kom maak by ons tuis
Deur sy liefde word ons vry!

3. Al die tale, profesieë,
met die tyd gaan dit verby.
Net die liefde, die volmaakte,
kom en sal vir altyd bly.
Want geloof gee troos en rigting;
na die toekoms reik die hoop –
liefde is en bly die grootste:
Liefde sluit die lewe oop.

Refrein:
Hierdie lewe gaan verby,
Maar sy liefde sal vir altyd bly
Aan die kruis word bewys
God kom maak by ons tuis
Deur sy liefde word ons vry!

VONKK 195 “Loof, Loof Die Heer”
Nav Psalm 103 (strofe 1) Teks: Jacques Louw 2012 © Musiek: SAGINA – Thomas Campbell (1825-1876)
Orrelbegeleiding en diskant (strofe 3): Colin Campbell 2012 © Kantoryverwerking: Thomas Campbell (1835-1876)
© Teks, orrelbegeleiding en diskant (:3): 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek en kantoryverwerking: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing / Nagmaal

1. Loof, loof die Heer met alles binne my!
Ek wil die Here loof en sy Naam besing.
Hy is die Heer wat my skuld vergeef;
met liefde en goedheid wil Hy my kroon.
Hy is barmhartig, geduldig en genadig;
sy liefde sal my lewe lank vir altyd by my bly.
Hy is die Heer wat Hom ontferm
en soos ’n vader ook my beskerm.

2. Loof, loof die Heer, want Hy vergeet ons nooit.
Hy red ons van die dood en genees ons seer.
Hy neem ons sonde en wis dit uit;
uit liefde kom gee Hy vir ons sy Seun.
Hy kom versoen al ons sonde en oortredinge.
Hy gee vir ons die Heil’ge Gees om ons altyd te lei.
Verlosser, Heer, aan U die eer
vir goedheid so onbeskryflik groot.

3. Sing vir die Heer ’n danklied almal saam.
Verheerlik nou die Heer, kom en prys sy Naam.
Hy heers as Koning in ewigheid –
die Alfa, Omega, vol majesteit.
Kom al wat lewe, kom prys Hom in verwondering
tot elke tong sy Naam bely, sy lof en eer besing.
Drie-enig’ God, ons loof nou saam
u Wondernaam so oneindig groot.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 526 “Waar daar liefde” is of
VONKK 7 “Mag Ons U Liefde Ken
Efesiërs 3:19 Teks: Jannie Hougaard 2003 © Melodie: FRANCÉ – Francé Ludik 2003 © © VONKK 2009 (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Gebed

Mag ons u liefde ken en ook vervul word
met die volheid van God,
heeltemal vol met die volheid van God!
Amen, amen.

Skriflesing: 1 Korintiërs 8:1-13

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

1 Kor. 8:1b sê:  ἡ γνῶσις φυσιοῖ, ἡ δὲ ἀγάπη οἰκοδομεῖ· (Nestle, E. et al., 1993. The Greek New Testament 27th ed., Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.)  Die NAV vertaal dit as:  Kennis maak verwaand, maar liefde bou op.  (BDV se vertaling is presies dieselfde.)  ‘n Letterlike vertaling sal iets wees soos:  Kennis blaas op, maar liefde bou op.

Jy kan lekker gesels oor hoe arrogansie mense op blaas (stoot jou bors uit, trek jou arms terug, praat oor die uitdrukking “groot kop”) en hoe liefde opbou.

‘n Heerlike opsie is om dit te illustreer!  Kyk hier vir ‘n volledige poppekas.  Teken ‘n gesig op ‘n ballon.  Blaas die ballon effens op met ‘n spesiale ballon-opblaas-thingmajig (wat jy by enige speelgoedwinkel kan koop).  Trek vir die ballon ‘n jassie aan bo-oor die opblaas-thingmajig.  Laat die ballon wys hoe baie hy weet – en blaas elke keer sy kop op.  As die ballon dan iemand help, blaas sy kop weer af.  (Jy hoef nie ‘n ekstra pop daarvoor te hê nie – die ballon kan die kinders help.)

Enige storie wat vertel van twee mense wat iets verskillend gedoen het en wat toe geleer het by mekaar se verskille, kan ook goed werk.  Jy kan die pragtige storie van Rupert Can Dance vertel, as jy dit betyds vanaf loot kan kry.

Daarna kan kinders springmielies (opgeblaaste mielies) eet, of rice crispies.  Of hulle kan gesiggies op ballonne teken, maar dan gaan jy vinnig moet preek voor die ballonne begin bars!

Preekriglyn

In 1 Korintiërs 6 het Paulus na ‘n belangrike riglyn verwys: “Alles is my geoorloof, maar nie alles is heilsaam nie” (12). Dan spel hy praktiese voorbeelde uit om te illustreer hoe hierdie beginsel in die Christelike geloofsgemeenskap werk. Die voorbeelde word in 1 Korintiërs 10:23v met ‘n herhaling van die beginsel afgesluit:

Daar is mense wat sê: “Alles is geoorloof.”
Ja, maar nie alles is heilsaam nie.
“Alles is geoorloof,” sê hulle.
Ja, maar alles is nie opbouend nie.
‘n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander.
Ons teks is ‘n voorbeeld van hie hierdie riglyn toegepas word in ‘n probleemsituasie in Christus se gemeente.

Wat is heilsaam?

Hoe weet mens wat heilsaam en opbouend is? Wat is die toets wat jy daarvoor gaan gebruik?
In vandag se teks is heilsaamheid dit wat opbouend vir die geloofsgemeenskap is.

Die kwessie waaroor dit gaan is vleis wat aan afgode geoffer is (1). Min (indien enige) gemeentes worstel vandag met hierdie kwessie. Die beginsel wat Paulus neerlê geld egter vandag net so vir ons. Dit is net so  aktueel soos wat dit was onder die lede van die gemeente in Korinte in die eerste eeu n.C.

Offers en die slaghuis

Dit sal ons help om die wêreld waarin die Korintiërs geleef het beter te verstaan. In die destydse wêreld was feitlik alle kos (nie net vleis nie) wat te koop aangebied is, op een of ander stadium deel van ‘n heidense godsdienstige ritueel.

Daarom was die Joodse bevolking, wat destyds reg deur al die stede van die antieke wêreld versprei was, gekant teen die eet van kos wat aan ‘n heidense God geoffer was. Die Joodse bevolking het in ‘n heidense omgewing hulle eie markte gehad. Hulle was bekommerd dat Jode in heidense omgewings soos in Korinte, kompromieë hieroor sou aangaan.

Teoloog NT Wright gee ‘n eenvoudige beskrywing van wat in die antieke wêreld gebeur het:

What people don’t normally realize is that in the ancient world the temples normally were the restaurants. Each town or city had plenty of shrines to local gods and goddesses, to the great divinities like Apollo or Venus, and, in Paul’s day, more and more to the Roman emperor and members of his family.

And what people mostly did there was to come with animals for sacrifice. When the animal was killed, it would be cooked, and the family (depending on what sort of ritual it was) might have a meal with the meat as the centrepiece. But there was usually more meat than the worshippers could eat, and so other people would come to the temple and share in the food which had been offered to the god.

Even that would often fail to use up all the sacrificed meat. So the temple officials would take what was left to the market, where it would be sold in the normal way. In fact, most of the meat available for sale in a city like Corinth would have been offered in sacrifice.

In die Romeinse wêreld van die Nuwe Testament het die heidense godsdiens die rol gehad om die verhouding met die gode reg te hou, sodat die gode nie onheil oor die samelewing bring nie. Godsdiens was ‘n absoluut publieke ritueel. Dit was dus feitlik onmoontlik om te eet sonder om deel te neem aan offers wat aan afgode gebring is.

Mag Christene aan so ‘n sisteem deelneem deur die vleis te eet wat aan ‘n afgod geoffer is?

Kennis en liefde

Paulus begin die gesprek oor vleis wat aan afgode geoffer is met die kontras tussen kennis en liefde (1-3).

Dit was algemene praktyk om vleis wat aan afgode geoffer is by die plaaslike slaghuis te verkoop. Wat daarvan? Elke Christene met ‘n bietjie kennis weet dat afgode nie bestaan nie. Daarom weet Christene dat die offer van vleis aan afgode ‘n sinnelose daad is en dat daar geen stigma of onreinheid aan die vleis self kleef nie. Niemand wat sulke vleis eet erken daarmee dat die afgode regtig bestaan nie. Almal weet jy vereer nie sinnelose afgode, of erken geloof in afgode, deur sulke vleis te eet nie.

Mense wat hierdie vanselfsprekende kennis het, kan nogal superieur voel in vergelyking met mense wat bekommerd is oor die implikasies van die eet van vleis wat aan afgode geoffer is. Sulke mense kan neersien op diegene wat twyfel of vleis aan afgode geoffer geëet mag word. Ons voel tog so bietjie verhewe bo mense wat dinge uit bygeloof of vreemde fiksasies doen. Ons weet beter!

Dit is menslik om trots te wees op die dinge wat ons weet, en wat ander nie weet nie. Ons kan dalk ingewikkelde projekte bestuur, moeilike tegniese werk doen of teoretiese probleme oplos terwyl ander net in verwondering na ons staar. Ons kry dalk beter punte as ander. Ons het die soort kennis wat veroorsaak dat ander ons raadpleeg omdat ons weet wat hulle nie weet nie. Ons is seker almal skuldig hieraan.

Kennis maak verwaand, slaan Paulus die spyker op die kop (1). Paulus ken mense.

Wat is die teenmiddel vir kennis wat verwaand maak? Liefde. Liefde bou op, sê Paulus (1). Om jou medemens met enigiets minder as liefde te benader, is om neerbuigend, verwaand, selfverheffend te wees.

Mense wat meerderwaardig in terme van kennis voel, ken nog nie die ware kennis nie (2). Ware kennis begin met die wete dat God ons almal ken en dat God ons liefhet – almal van ons, vanaf die verstandelik gestremde kind tot die kernfisikus met die reeks doktorsgrade. Sodra ons God se liefde vir ons ken, is ons almal op dieselfde vlak. Slegs liefde sien die ander as ‘n medemens, jou gelyke.

Dit is eers wanneer ons God se liefde ken, teenoor menslike kennis wat tot meerderwaardigheid lei, dat ons volgens Paulus gereed is om (in hierdie geval) te praat oor die hantering van vleis wat aan afgode geoffer is.

Vryheid en liefde

Vanaf vers 4 sluit Paulus by die Korintiërs se kennis aan, en erken dat daar eintlik niks aan die vleis verander as dit aan ‘n afgod geoffer is nie. Om die waarheid te sê, daar is eintlik geen ander God, behalwe Een nie. En al sou mense dink daar is sogenaamde gode bestaan hulle nie vir ons nie, want ons het net een God, die Vader en Sy Seun deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

Maar nou is dit so dat nie almal dié kennis het nie, en uit liefde vir hulle, moet ‘n mens hulle onkunde in ag neem, en nie iets doen waardeur hulle gewete, wat alreeds swak is, nog verder verswak sal word nie. Hulle is so gewoond aan afgode, dat die eet van afgodsvleis hulle uit hul geloof kan laat struikel, en kan laat terugkeer na afgodsdiens.

Ons vryheid om te eet mag nooit ‘n aanleiding vir ander word om te sondig nie.

Onthou hoe Jesus ook hieroor in Matt 18:6 gepraat het: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ‘n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.”

Om die waarheid te sê, jy sondig eintlik teen die onkundiges as jou vryheid hulle laat sondig. Daarom sal Paulus nie sulke vleis eet nie, want hy wil nie sy medegelowiges se val veroorsaak nie:

Deur so teen die broers te sondig en ‘n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus.

Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie (12-13).

Gelowiges wat hul vryheid gebruik om afgodsoffers te eet, maar ‘n ander gelowige se val veroorsaak, het teen daardie gelowige gesondig.

Liefde weeg dus swaarder as die uitoefening van my vryheid.

Let ook op dat hierdie beginsel van die liefde na ander sake deurgetrek kan word – jou medegelowige se standvastigheid in die geloof is belangriker as jou eie kennis en vryheid in die geloof.  Lees gerus in Romeine 14:19 en 15:2 hoe Paulus hieroor skryf.

Boodskap vir vandag

Ons gemeentes worstel nie meer met vleis wat aan afgode geoffer word nie. Tog beteken die boodskap van kennis van God, liefde vir die naaste en die beperking van my vryheid terwyl van die sorg vir ander baie vir ons vandag.

(‘n Mens moet onthou dat Paulus hier natuurlik skryf oor mense wat pas uit die heidendom na Christus oorgekom het en nog die impak van die heidense gebruike sou ervaar. Hy praat nie oor mense wat eintlik net hulle eie bekrompe idees op ander van toepassing wil maak nie en van beter behoort te weet nie.)

Daar is mense wat ernstig met alkohol worstel. Of met groot stryd uit ander verslawing of ‘n losbandige lewe weggebreek het. Dit is nie so eenvoudig om maar net jou vryheid uit te oefen in die teenwoordigheid van ander nie.

Daar is mense wat vanweë agtergrond of stryd afgesien het van sekere dinge. As jy nie van hulle stryd of agtergrond weet nie, mag jy dink hulle is wetties. Ons het nie hier te make met mense wat net wetties is nie. Dis mense wat die ander kant gesien en daaraan deelgeneem het.

Dink weer aan ons teks en afgodsvleis as voorbeeld. As jy daaruit weggebreek het, is die blote reuk van die vleis wat jy in die afgodstempel geëet het, genoeg om jou te herinner aan die lewe van afgodery en immoraliteit wat daarmee saamgegaan het. Al ken jy die waarheid en het jy soveel jare daaruit weggebreek, is dit steeds ‘n ernstige bedreiging vir jou. Vra enige persoon wat vasgevang was in een of ander sondige lewenstyl of dit goed is om in die omgewings te wees en dinge te doen wat jou aan die ou lewe herinner.

Oor hierdie mense wat die donker kant van sonde ken, is Paulus bekommerd. As hulle sien ander Christene het geen probleem daarmee nie, kon dit hulle geloof wat nog nie sterk is nie, beïnvloed. Dit, sê Paulus, is sonde om ons vryheid so te gebruik. Ons mag dalk vry wees, maar nie almal ervaar dieselfde mate van vryheid nie.

Andersyds was daar nie-Christene wat soms in Christene se geselskap was. Hulle het saam geëet en sou sien as Christene afgodsvleis eet (10:27-33). Ter wille van liefde vir hierdie mense wat nog in afgode geglo het en vir wie Christus gesterf het, moes hulle hulle eerder weerhou van hierdie gebruik. Ja, die waarheid maak vry, maar die waarheid leer ons ook wat ware liefde is.

Teen drank en dans

‘n Praktiese voorbeeld is Marius (nie sy regte naam nie) wat op die skoolkomitee ernstig teen die gedagte was dat die leerders ‘n sokkie hou. Hy was vurig daarteen, iets wat die res van die komitee nie kon verstaan nie. Na die tyd het Marius vertel hoe sy pa altyd saans na werk gaan dans het (meestal met ander vroue), en daarna kroeg toe is. Laatnag het hy teruggekom, Marius se ma uitgeskel omdat sy lelik en versorg was en in sy dronkenskap sy kinders en vrou verneder. Vir Marius was ‘n sokkie die eerste tree oor ‘n afgrond.

Selfdegeslag

Annes Nel bring die huidige debatte in die kerk oor selfdegeslagverhoudinge met hierdie teks in verband. Hy skryf:

Dit help nie om in hierdie verband weg te skram van een van die mees brandende debatte in die kerk nie. Die etikette wat op die oomblik in verskillende kerke om mense se nekke gehang word omdat hulle vir of teen homoseksualiteit is, word grootliks gebou rondom die manier waarop mense met teologiese argumente omgaan.

Enersyds word diegene wat vir die ordening van homoseksuele mense in kerklike ampte staan en wil hê die kerk moet burgerlike verbintenisse aanvaar, as liberale afgemaak. Hulle eer nie die beginsels wat duidelik in die Skrif oor die huwelik en seksualiteit gegee word nie, sê sommige in die ander party.

Andersyds word diegene wat glo dit is teen die beginsels van die Skrif om hierdie dinge te doen as biblisisties, fundamentalisties, verkramp en liefdeloos afgemaak. Soms is hierdie kritiek aan beide kante uiters liefdeloos.

Ons moet erken die liefde word nie deur etikettering gedien nie. Inteendeel. Selfs die beste teologie op aarde het geen waarde as dit die gemeente verskeur nie.

Een manier waarop ons mense kan help om hulle maskers te laat val, is om een belangrike versekering aan mekaar te gee: Jy is veilig as ek hier is. Anders gestel: Jy is veilig wanneer ek na jou luister. Wanneer die gemeenskap van gelowiges dit regkry om mekaar veilig te laat voel wanneer ons na mekaar luister, kan ons van mekaar verskil, mekaar bevraagteken, ons skuld teenoor mekaar bely en ons wonde se verbande afhaal. Wanneer ons veilig in mekaar se geselskap is, het ons vrymoedigheid om ons hart oop te maak.

Aanbidding

Baie gemeentes worstel vandag ook nog met verskillende style van aanbidding. Vir sommige word God onteer as daar nie absolute stilte in die kerk is nie. Vir ander word God onteer as mense nie vry is om deel te neem aan die aanbidding nie.

Dit hel om te vra wat is tot voordeel van die opbou van die gemeente. Hoe help ons kinders om met Jesus  en sy gemeente te konnekteer en opgebou te word in die geloof.

Medelye

Die Joodse skrywer, Abraham Joshua Heschel skryf: “Toe ek jonk was, het ek slim mense bewonder. Noudat ek oud geword het, bewonder ek mense met medelye.” Paulus gee toe dit wat die geleerde mense sê is die waarheid, maar ons moet vra of dit waarop ons soms staan as die waarheid opbouend of afbrekend vir die verhoudings tussen ons is. Om die waarheid saam te ontdek is ‘n liefdevolle proses, ‘n proses waar ons ontdek dat God ons eerste liefgehad het en Christus as offer vir elke mens gegee het.

Die waarheid leer ons liefhê en die ander se belange eerste stel. Die soeke na hierdie waarheid verg geduld, liefde en opoffering. Mag ons leer om mekaar in alle opsigte te dien en mekaar se belange eerste te stel.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 530 “Praat ek mense, eng’letale” of
Flam 524 “Praat ek mense-, Engeletale”

Seën

Respons: Lied 526 “Waar daar liefde is”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.