Vierde Sondag in Paastyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: 1 Petrus 2:19-25
Ander tekste: Handelinge 2:42-47; Psalm 23; Johannes 10:1-10

Inleiding 

Hierdie Sondag staan bekend as Goeie Herder-Sondag. Ons jubel tot eer van die Here omdat Hy ons regtig versorg soos ’n goeie herder sy skape versorg. Ons hoef nie bekommerd te wees as ons swaar kry nie, want ons weet die Here is ons Herder. Hy sorg goed vir sy kudde, die kerk, sodat dit groei en vasstaan. Hy lei sy kerk na ware rus en oorvloed.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 577:1-5 “Die Heer, my herder, sorg vir my”

Aanvangswoord
Die Here nooi jou om by Hom te kuier in sy sitkamer
Hy ontvang jou soos ’n eregas
Hy laat jou baie belangrik voel.
Gemeente: Die Here is my herder.

Voorganger: Die Here laat jou al sy gawes geniet.
Hy is goed en doen wat Hy belowe het,
vir so lank soos jy lewe.
Gemeente: Ons kom na u woning.
Ons doen dit ons hele lewe lank (uit Ps 23).

Seëngroet
Lofprysing

Diens van die Woord

Epiklese
Skriflesing

Kindertyd
Wys ’n steen vir die kinders. Vra: Is dit ’n goeie steen? Kan ek met hierdie ’n steen ’n huis bou? Nee. Hoekom nie? Om ’n huis te bou het ons baie stene nodig. Maats, Petrus sê ons elkeen is ’n steen wat God wil inbou om hier in (naam van gemeente) vir Hom ’n geestelike huis, ’n kerk, ’n gemeente te bou. En as jy nie jou deel wil doen nie, of onbetrokke bly, is God se huis half klaar.

Boodskap
Gebed

Diens van die Tafel

Wil van God
Nagmaal

God stuur ons uit

Belydenis
Ons God en Here, ons bely dat ons nie genoeg omgaan met die Woord
en ons dus nie toelê op die leer van die apostels nie.
Ons bely dat ons nie genoeg bid nie.
Ons bely dat ons nie genoeg met mekaar deel nie.
Ons bely dat ons nie in eenvoud leef nie.
Ons bely dat ons nie genoeg sorg dra vir mekaar nie.
Ons bely dat ons die onderlinge byeenkomste afskeep.
Ons bely dat ons U nie genoeg prys nie.
Ons bely dat mense nie daagliks by ons gemeente gevoeg word nie
omdat hulle ons nie ’n veilige gebou van die Here vind nie.
Here, wees ons genadig.

Slotlied
Lied 489:1,2 “Waak, Christen, staan in die geloof”

Seën

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 577:1-5 “Die Heer, my herder, sorg vir my”
Lofprysing: Lied 454:1, 2, 3 “Vader, ons eer U”; Lied 203:1, 3 “Loof die Here, al wat lewe”; Lied 414:1, 2 “Juig verloste, juig en sing”
Skuldbelydenis: Vonkk 243 “Elke afdraai paadjie ken ek”

Preekstudie – 1 Petrus 2:18-25

Teks

1 Petrus 2:18-25 is deel van Petrus se oorhoofse argument omtrent hoe Christene moet leef, veral in die openbaar, en in die besonder teenoor ongelowiges.

Vers 18. “Diensknegte” (“slawe” OAV). Die Griekse woord vir dienskneg of slaaf wat Petrus gebruik, is nie doulos (gewone slaaf nie maar die woord oiketai (huishoudelike diensknegte). Hulle was totaal en al onder die gesag van die huiseienaar of hoof van die familie. Slawe kon nie trou nie, maar net met vroulike slawe saambly. Kinders wat uit sulke verhoudings is, was as eiendom van die huiseienaar beskou, byna soos ‘n lam wat van ‘n skaapooi gebore word. Die familiehoof het selfs mag gehad om sy dienskneg ter dood te veroordeel en die vonnis self te voltrek.

Om ‘n slaaf te gewees het, was erg. Hulle lewensomstandighede was uiters onaangenaam. Tog is dit verkeerd om te dink dat die omstandighede van slawe net sleg was. Baie slawe was geliefd en is deur hulle eienaars as deel van die familie beskou (Barclay). Slawe het immers ‘n plek in die gemeenskap gehad, al was dit ‘n baie lae plek.

Die diensknegte wat hier ter sprake is, was Christen-slawe. Petrus roep hulle op om hulle posisie te aanvaar en onder die omstandighede hulle beste te doen (Gonzalez). Dit moet ons verstaan teen die agtergrond van Petrus se groter argument oor die Christelike lewenswandel. Petrus gebruik die beeld van die slaaf as ‘n Christologiese model van Christus (Jobes), en redeneer dat Christene as slawe van God moet lewe.

“Onderwerp”. Dat die diensknegte hulle aan hulle werkgewers moes onderwerp, was nie bloot ter wille van onderdanigheid nie. Dit berus op die feit dat hulle God dien en Hom gehoorsaam. Christenskap stel ‘n nuwe werksgesindheid voor, een van broederskap wat enige verskil of omstandighede oorkom (Barclay). Alhoewel hy werk om hulle lewensbrood te verdien, werk Christene eerstens vir God en tot die eer van die Here (sien 1 Kor 10:31; Kol 3:17). Verder moet Christene bereid wees om lyding te verduur en onreg te verdra. Dit is die voorbeeld wat Christus nagelaat het. Dit is Petrus se antwoord wanneer diensknegte onregverdig behandel is en lyding moes verduur (Barclay).

Vers 19-20. “Genade” Diegene wat deur hulle gewete aan God verbonde is, sal genade ondervind om onverdiende lyding te verduur. Daarom moet hulle en kan hulle hulle aan sowel goedhartige en onredelike werkgewers onderwerp. Die woord “genade” het hier die betekenis van om “geprys te word”. Petrus bedoel dat geen aanprysing ons voor God aanvaarbaar maak as ons die straf verduur wat ons verdien nie. Slegs as ons geduldig onreg verdra, is ons waardig om geprys te word (vgl D en T Torrance). Volgens vers 20 is daar geen verdienste daarin om straf te verduur wanneer ons dit verdien nie. Christene wat egter ly wanneer hulle goed doen omdat hulle aan God gehoorsaam wil bly, hulle ervaar genade.

Vers 21. “Juis hiervoor is julle ook geroep”. Alhoewel die gesprek gaan oor diensknegte, moet dit nie tot diensknegte beperk word nie. Die apostel herinner hier alle Christene aan wat die vereistes vir Christenskap is. Hy roep alle Christene op om onreg en lyding te verduur, want hiertoe is Christene geroep. En as dit onregverdig klink, vertroos hy hulle met die voorbeeld van Christus (D en T Torrance).

Vers 22. “Hy het geen sonde gedoen nie”. Christus het nie gely as straf vir sy misdade nie, want Hy was sonder sonde. Petrus wys hoe ver ons tekort skiet aan die voorbeeld van Christus wanneer hy sê dat daar uit Christus se mond geen leuen gekom het nie. Die mens wat nie met sy tong sondig nie, is ‘n volmaakte mens (vgl Jak 3:2). Hierdeur verklaar Petrus dat Christus die hoogste vorm van onskuld toon, soos geen mens ooit kan wees nie. Hieruit is dit duidelik hoe onregverdig Christus se lyding was. Daar is dus geen rede vir enigeen van ons om te weier om lyding te wil ervaar of te verduur nie (D en T Torrance).

Vers 23. “Toe Hy beledig is” Dit is ‘n aanhaling uit Jesaja 53:7. Petrus wys ons waarin ons Christus moet nadoen, naamlik om onreg kalm te verdra en nie vergelding te soek nie. Dit is immers hoe ons ingesteldheid is, dat wanneer ons onregverdig ly, draai ons gedagtes willekeurig na vergelding. Christus het Hom egter van sulke gedagtes en optredes weerhou. Diensknegte is verbaal mishandel (1 Pet 2:12, 15; 3:16; 4:4, 14). Die hoop is dat hulle nie met dieselfde gesindheid sal reageer nie (1 Pet 2:1; 3:9). Die fokus is hier spesifiek op Christus se lydingsweek. Die evangeliese tradisie beklemtoon die verbale mishandeling wat Jesus verduur het. In die aangesig van sy aanklaers, het Hy voor die soldate (Mark 15:1-5) asook die verbygangers by die kruis wat Hom bespot het, stilgebly (Mark 15:29-32; Matt 27:39-44) (Watson en Callan).

Vers 24. “Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra” Dit is ‘n gepaste uitdrukking om die effektiwiteit van Christus se dood aan te toon. Die sondaar verkry ‘n plaasvervanger vir sy eie skuld en sonde om as slagoffer in sy plek die straf van sonde te dra. Petrus voeg spesifiek die woorde “aan die kruis” by, om aan te toon dat Christus nie hierdie kwytskelding van skuld kon doen sonder die kruisdood nie (D en T Torrance).

Die sinsnede “Daardeur is ons dood vir die sonde en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God” beklemtoon die waarde van Christus se onregverdige lyding vir ons verlossing. Petrus verskaf die rede waarom Christus onregverdig moes ly, naamlik dat Christene vir die sonde kan dood wees en in ‘n lewe van geregtigheid kan leef. Dit beteken dat hulle met hulle sondige gedrag kan breek en van hulle heidense verlede afskeid neem (Watson en Callan).

“Deur sy wonde is julle genees” verwys na die kneusplekke en wonde van Christus tydens sy lyding en dood. Die fokus is hier op die genesing wat sy offerdood vir ons gebring het en nie op sy dood as sodanig nie. Hierdie genesing is deel van die herstel van die gemeenskap met God (v.25).

Vers 25. “Julle het soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en Bewaker van julle lewe.” Hier gee Petrus die rede waarom Christus ons sonde gedra en ons genees het. Hy gee ook ‘n definisie van wat die genesing behels. Die Ou Testament pas die beeld van skape wat ronddwaal, dikwels op Israel toe wat sonder herder en getroue leiers gedwaal het (Num 27:16-17; Jes 13:14; Jer 23:1-8; Eseg 34; Sag 10:3; 13:7). Dit is ook van toepassing op Christene se bekering. Die ontvangers van die brief van Petrus was in hulle voor-Christelike lewe soos verlore skape, maar nou is hulle deur God teruggebring.

“Herder”. Die Ou Testament praat van JHW as die herder (Ps 23; Jes 40:11; Eseg 34:5-6, 15-16; 26:18). Die Nuwe Testament doen dit nie, maar verwys die herderskonsep na Christus, soos hier in 1 Petrus 2:25 (Watson en Callan). Die herdersbeeld toon duidelik aan hoe God deur Christus onverpoosd met opofferende liefde oor ons waak. “Ons is sy volk en die skape van sy weide” (OAV), “Ons is sy volk, sy eie kudde” (OAV).

“Bewaker”. Die OAV praat van “Opsiener”, afgelei van die Grieks episkopos . Volgens Barclay is dit ‘n woord met ‘n ryk geskiedenis. Kelly reken die woord was reeds in gebruik in die tyd van Petrus aangesien dit die tegniese woord geword het vir die hoof of leier van die kerk. Dit het hier geen kerklike betekenis nie, maar dra wel die betekenis van ondersoeker, waghouer, beskermer en oorsiener (Kelly). Daar is daarom geen rede om bang te wees dat God nie getrou oor sy kinders die wag sal hou nie, oor liggaam sowel as siel (alhoewel Petrus hier net siel noem).

Konteks 

Na aanleiding van 1 Petrus 1:1 en 5:1, is Petrus die skrywer van die brief, maar volgens 5:12 blyk dit dat Silvanus die brief op skrif gestel het. Menige kommentare verskil oor die datum, maar Watson en Callan meen die brief is in Rome geskryf, ongeveer in die jaar 64-68 nC. Die plek vanwaar die brief geskrywe is, word as Babilon aangegee (5:13), ‘n skuilnaam vir Rome.

Die ontvangers van die brief word in 1:1 as die uitverkorenes van God voorgehou, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. Hulle ondergaan duidelik lyding (1:6-7; 2:19-23; 3:13-17; 4:19; 5:9-10). Hulle lyding is toe te skryf aan die nuwe evangeliese leer en hulle navolging daarvan. Hulle het nie langer dronkpartytjies gehou of aan die aanbidding van afgode deelgeneem nie.

Hierdie onttrekking het hulle bure en die breër gemeenskap kwaad gemaak. Dat hulle vreemdelinge en bywoners was, toon aan dat hulle aan die gemeenskap onttrek het en nou volgens die vereistes van hulle lidmaatskap aan die familie van God gedra het (1:2-5, 14, 17, 23; 2:2; 4;17; 5:9). Hulle onttrekking het hulle kwesbaar gelaat vir beskuldigings dat hulle boos en selfs misdadigers is (2:13-17). Hulle is beskuldig dat hulle asosiaal was. Dit is gesien as ‘n bedreiging vir die sosiale aard van die gemeenskap, asook ‘n oortreding teen die gode wat oordeel oor die hele gemeenskap kon bring (Watson en Callan).

Dit is nou teen die agtergrond van bogenoemde dat die brief geskryf om die ontvangers aan te moedig (5:12). Dit wou aan hulle ‘n teologiese perspektief op hulle lyding te gee, naamlik dat lyding deel is van die Christelike lewe. Dit is veral ‘n toets van God (4:12,19) en ‘n navolging van Christus. Lyding en die bereidheid om onskuldig te ly, is ‘n onlosmaaklike deel van die Christen se pad. Wie dié keuse nie wil meemaak nie, het geen reg om hom- of haarself op Christus te beroep nie (Dirkie Smit). Die brief benadruk daarom goeie gedrag om vergelding teen verbale en fisiese mishandeling te onderdruk en te oorkom.

Die ontvangers van die brief moes respek toon aan die owerhede oor hulle (2:13-17). Die brief wil hulle bemoedig om nie onder die lyding van onregverdige eienaars te rebelleer nie (3:9). Dit was veral van toepassing op diensknegte (slawe) met nie-Christene as eienaars en die vroue van mans wat nie-Christene was (2;18-3:6). Hier is selfs sprake van ‘n evangeliese toon. Die motivering om goed te doen, sou die begeerte by hulle bure aanwakker om respek vir die Christelike lewe te betoon en om selfs navraag te doen oor hulle nuwe geloof en lewe (2:12;3;15).

Preekvoorstel

Volgens Smit gaan die gedeelte om “die regte imitatio Christi ” (navolging van Jesus). Hier kan Smit se uitleg in Woord teen die Lig (2 ) geraadpleeg word vir ‘n breedvoerige bespreking van hoe dié gedeelte deur die eeue op verskillende wyses verstaan is, en hoe die reformasie met die meeste aksente van die verlede breek. Die prediker moet waak teen asketiese, moralistiese, mistieke en piëtistiese eensydighede, sonder om in ‘n teenoorgestelde eensydigheid die evangeliese appèl van die perikoop te verwaarloos.

Lyding bly aktueel in Suid-Afrika (dink aan die mishandeling van en geweld teen vroue en kinders, die baie werklose mense, armoede, families waar kinders aan die hoof van hulle gesin is omdat beide ouers oorlede is en of elders werk en uitstedig bly), maar ook elders in die wêreld.

Die prediker kan wys op hoe ons met oppervlakkige uitsprake die eis vir lyding terwille van Christus en die evangelie probeer ontsnap. Dink aan die uitspraak dat die evangelie ‘n verkeerde slawemoraal (Smit) aan mense opdring, of dat die evangelie tog nie van ons om vra om selfmoord te pleeg nie; dat godsdiens opium vir die volk is, of om ongelukkige mense te onderdruk en hulle tevrede te hou. Die Christelike liefde vra niks méér as om vir ander alles te gun (op sy tyd en plek) waarop ek self ook aanspraak maak nie.

Dat dit genade by God is om onskuldig te ly, dat ons geroep is om in Christus wat bereid was om onskuldig te ly se voetstappe te volg, om onsself te verloën, om lief te hê tot die uiterste punt van selfoorgawe en om alles aan Hom wat regverdig oordeel oor te laat — dié evangeliewoord, meen Smit, klink dikwels nie alleen hard en onwelkom in ons ore nie, maar word ook deur baie as (polities) naïef en onuitvoerbaar beskou. En tog bly dit waar.

Die prediker moet dit duidelik maak dat dit nie hier gaan oor die heroïese lyding van ‘n martelaar wat oënskynlik ‘n hoë prys betaal nie. Die diepste dimensie in die lyding ter wille van die navolging van Christus lê in die gehoorsaamheid aan God en die navolging van Christus. Dit is lyding om Christus wil … alleen (Smit).

Volgens Möller bly die navolging van die lydende Christus vir Christengelowiges op die lange duur die enigste weg tot die verandering van onreg. Hulle sal lyding moet verduur om sodoende ook die daders van die onreg by die proses van verandering te betrek. Menslik gesproke, lyk dit na ‘n swak strategie, selfs na masochisme. Dit wil lyk asof dit die onregsverhoudings só slegs maar nog bevestig. Dog, vir Petrus staan dit vas: Christus se soortgelyke lyding is júis die enigste wêreldvernuwende krag.

Teen die einde van die preek kan die gemeente vertroos word met die herinnering dat so ‘n lewe van lyding tog nie tevergeefs is nie. Die laaste woord lê nie by die onreg nie, maar by God. Christene behoort hierdie pad vrolik te kan loop omdat hulle weet dat hulle in Christus se veilige sorg is (die herdersbeeld van vers 25) as hulle waarlik op God vertrou (Smit).

Bibliografie

Barclay, W 1976. The Daily Study Bible. Revised Edition The Letters of James and Peter . The Saint Andrew Press, Edinburgh; Gonzalez, CG 2010. Belief. A Theological Commentary on the Bible. 1 & 2 Peter and Jude. Westminster John Knox Press. Louisville, Kentucky; Jobes, KH 2005. 1 Peter. Baker Exegetical Commentary on the New Testament . Baker Academic, Grand Rapids, Michigan; Watson, D & Callan, T 2012. First and Second Peter. Commentaries on The New Testament. Baker Academic. Grand Rapids, Michigan; Torrance DW & Torrance, TF 1963. The Epistle of Paul. The Apostle to the Hebrews and The First and Second Epistles of St Peter . Eerdmans. Grand Rapids, Michigan; Kelly, JND 1969. A Commentary on The Epistles of Peter and of Jude . Adam and Charles Black. London; Burger, CW, Müller, BA & Smit, DJ 1982. Woord Teen die Lig.2 Riglyne vir Lydensprediking. NG Kerk-Uitgewers. Kaapstad.

© Missio 2024 | All rights reserved.