Vierde Sondag in Lydenstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Preekstudie – Efesiërs 2:1-10

Tema

Dood deur oortredings, maar lewend gemaak saam met Christus.

Teks

Die brief aan die Efesiërs is volgens die tradisionele antieke briefstruktuur saamgestel, met aanhef (1:1), groetwoord (1:2-14), dankseggingsdeel (1:15-23), hoofdeel (2:1-6:20) en finale groetwoorde (6:21-24).

Efesiërs is tradisioneel as een van die Pauliniese briewe gereken, maar word toenemend as een van die deuteropauliniese geskrifte gesien. Dat daar slegs een persoonlik-biografiese verwysing in die brief gemaak word (na Tigikus, 6:21) terwyl die adres Efese is, ’n stad waar Paulus volgens oorlewering twee jaar lank gewoon het (vgl Hand 19:10), het vrae laat ontstaan oor die outeur en herkoms van die brief. Trouens, die skrywer het maar net gehoor (1:15) van die gemeenskap se geloof in Christus en liefde onder mekaar. Die gebruiklike verduideliking vir die ongewone, onpersoonlike aard van hierdie eerste-eeuse brief is die aanspraak dat Efesiërs ’n omsendskrywe was. Die omsendskryweteorie, ’n praktyk wat redelik vreemd was in die eerste eeu, verklaar nie ander eienskappe en sake in die brief wat opval wanneer dit met die outentieke Pauliniese briewe vergelyk word nie.

Die sentraliteit van die voltooide versoening tussen Jesusvolgelinge uit die Jodedom en uit die heidendom (die skynbaar voltooide proses van eenheid tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges in Pauliniese gemeentes, Ef 2:11-22) staan in skrille kontras met die situasie wat in die onbetwiste Pauliniese briewe beskryf word. Dit maak dit onwaarskynlik dat Paulus die outeur van die Brief aan die Efesiërs was.

Ander teologiese ontwikkelings is ook moeilik te rym met die onbetwiste Pauliniese briewe, soos die koninkryk van God (vgl Rom 14:17; 1 Kor 4:20; 6:9; 15:50; Gal 5:21; 1 Tess 2:12) wat nou (Ef 5:5) die koninkryk van Christus en God word.

Ander temas wat tydsverloop verklap, sluit in dat ekklesiai in die meervoud gebruik word om na gemeenskappe te verwys (Rom 16:4, 16; 1 Kor 1:2; 4:17; 2 Kor 8:1; Gal 1:2; Fil 4:15; 1 Tess 2:14) en die enkelvoud ekklesia na die byeenkoms self (sien 1 Kor 11:18; 12:28), of na die objek van sy vervolging vóór sy roeping as apostel (1 Kor 15:9; Fil 3:6). Die woord word in Efesiërs slegs in die enkelvoud aangetref in verwysing nie na die plaaslike byeenkoms nie, maar na die totaliteit van gelowiges die destydse wêreld oor, met Christus as hoof (Ef 5:23; sien 1:22; 3:10; 21; 5:23-32). Die kerk as tempel (Ef 2:19-22; sien 1 Kor 3:16; 2 Kor 6:16) se fondament is klaarblyklik nie meer Christus nie (1 Kor 3:11), maar die apostels en profete (Ef 2:20). Verder val die oënskynlik uitgebreide kerklike hiërargie en amptenary (Ef 4:11) en die huishoudelike kodes van Efesiërs 5:21-6:9 op as ’n poging om in die samelewing in te pas.

Die eiesoortige taalgebruik, sintaksis en styl van Efesiërs dui ook daarop dat Efesiërs waarskynlik ’n deuteropauliniese brief is. In ’n wêreld vóór intellektuele eiendoms- en kopieregwetgewing, is tradisies van ’n gewaardeerde maar oorlede voorganger soms in sy naam voortgesit om daardie tradisies juis vir nuwe omstandighede te kontekstualiseer, soos in Efesiërs waarskynlik die geval is. Die outeurskapkwessie doen aan die waarde en invloed van die brief oor die eeue heen egter geen afbreuk nie.

Efesiërs word gekenmerk deur verhewe taalgebruik en temas wat sommige die brief as “the divinest composition of man (sic)” (Coleridge) tipeer het. ’n Minderheid sien dit as gedwonge en abstrakte taalgebruik.

Die eerste drie hoofstukke van die brief vorm die raamwerk van ’n lang danksegginggedeelte in die Joodse berakah-gebedstyl. Dit begin met ’n eulogie of seëning van God vir al die voorregte wat uit God se heilswerk voortspruit en deur gelowiges ervaar word (1:3-14). Die daaropvolgende dankseggingsgedeelte bevat die voorbiddingsgebed vir die geadresseerdes se kennis van God en God se mag en die kerk se belang in God se doelwitte (1:15-23). Die voorbiddingsgebed se temas, ervaring van mag, liefde en vervulling, kom later weer voor (3:1, 14-19). Voordat die eerste drie hoofstukke met ’n doksologie eindig (3:21-21), beklemtoon die skrywer weer die grootsheid van God se heilswerk met ’n tweevoudige kontras tussen verlede en hede: die omkeer van geestelike dood na lewe in Christus (2:1-10) en die verandering wat voormalige ongelowiges nou (soos met die volk Israel) met toegang tot die Vader en ruimte in die tempel van God laat (2:11-22).

Efesiërs 2 bestaan uit twee perikope: 2:1-10, eerstens waar die verlede van die ontvangers van die brief en God se ingryping deur Christus aan die orde is, en tweedens 2:11-22 waar die versoening in Christus en die belang daarvan vir die gelowiges se identiteit sentraal staan.

Die tematiese samestelling van Efesiërs 2:1-10 vertoon ’n drieledige struktuur: vers 1-3 beeld die sondige toestand van die ontvangers – die mensdom se verlede – uit; vers 4-7 verwoord die verandering wat God in Christus deur genade teweeg gebring het; vers 8-10 is ’n samevatting van die aard van die verlossing wat God bewerkstellig het.

Die lang eerste sin strek van 2:1 tot 2:7, tipies van ’n Pauliniese skryfstyl. Met kwalifiserende bysinne en frases, albei met betrekking tot die verlede van die aangesprokenes en God se optrede deur Christus, volg die hoofsin in 2:5,6: humas/hēmas … ho theos … sunezōopoiēsentō(i) christō(i) … sunēgeiren kai sunekathisen (God het julle/ons saam met Christus lewend gemaak, opgewek en laat sit). Kommentators reken die vorm van die sin kan daaraan te wyte wees dat die outeur die omvang en erns van die mense se sondige situasie wou beklemtoon deur hulle verlossing in Christus uit te skuif tot later in die sin.

Efesiërs 2:1 begin met kai (en), die skakel tussen hierdie en die voorafgaande hoofstuk. Dit vertel van wat God in Christus vir die kerk gedoen het, soos duidelik in die verband tussen 2:5-7 en 1:20-21 blyk, byvoorbeeld die beklemtoning dat Christus en gelowiges uit die dood opgewek is (1:19; 2:5-6), dat sowel Christus as die gelowiges in hemelse sfeer sit (1:20; 2:6) en verwysing na die toekomstige tyd of tye (1:21; 2:7).

Die ontvangers van die brief word beskryf as humas ontas nekrous tois paraptōmasin kai tais hamartiais humōn (julle wat dood was deur julle oortredinge en sondes). Dit is op gelowiges uit die heidendom sowel as uit die Jodedom van toepassing.

Om mense as “dood” te beskryf, hang saam met die geloof in Jesus se dood en opstanding as kenmerk van die Christelike lewe waar gedagtes oor dood deur Jesus se opstanding daaruit bepaal word. Sulke gedagtes oor ’n lewe in siekte, sonde, vervreemding en gevangeskap as ’n lewe in die sfeer van die dood, is in die Ou Testament aanwesig (bv Ps 13:1-3; 30:3; 31:12; 88:3-6; 143:3; Hos 13:14; Jona 2:6) asook in buite-Bybelse tekste (oa die Koemraan-rolle). In die Pauliniese gedagtegang is dood ’n mag vanuit die ou era, geassosieer met sonde (bv Rom 5:12-21; 6:23; 1 Kor 15:56). “Oortredinge en sondes” is waarskynlik ’n hendiadis (een begrip met twee woorde uitgedruk), waarskynlik vir effek, maar dit is ook deel van die oordrewe styl van die brief.

In Efesiërs 2:2 onderstreep kata ton aiōna tou kosmou toutou (volgens hierdie wêreld-era) die assosiasie van lewe in sonde met die dood as kenmerk van ’n vroeër era, vóór Christus se lewe, dood en opstanding. Hierdie is die lewe ook van die ontvangers van die brief, idiomaties uitgedruk met periepatēsate (loop/wandel), ’n hebraïsme (alhoewel dit in Hebreeus ’n positiewe, etiese lewenswandel aandui). Sommige meen dat aiōn (era) ook as eienaam, dus ’n gepersonifieerde mag, gesien kan word. Dit veronderstel egter ’n verwysingsraamwerk van die Gnostiek, maar omdat laasgenoemde ’n heelwat later ontwikkeling is, is dit onwaarskynlik. Hier verwys era waarskynlik na ’n periode of tydperk. Die uitdrukking kata ton archonta tēs exousias tou aeros, bring ’n persoonlike mag ter sprake, hier “die heerser van die lug” genoem (in 4:27 en 6:11 die duiwel, en 6:16 die bose een) – benamings wat nie in die onbetwiste Pauliniese briewe voorkom nie (waar Satan gebruik word).

“Die lug” is ’n alternatiewe verwysing na die “hemelse sfeer”. Reeds in Ou Testamentiese en Joodse denke word hierdie sfeer deur engele en geestelike kragte bewoon. Die frase tou pneumatos tou nun energountos en tois huiois tēs apeitheias (van die gees wat nou werksaam is onder die seuns van ongehoorsaamheid) sluit by die voorafgaande frase aan: die persoonlike bose krag is die heerser van die lug en ook van die gees wat ongehoorsaamheid in mense bewerk. “Seuns van ongehoorsaamheid” is ’n hebraïsme wat na mense van albei geslagte wie se lewe deur ongehoorsaamheid gekenmerk word, verwys.

Die betreklike voornaamwoord frase en hois (onder wie), koppel Efesiërs 2:3 aan die voorafgaande: kai hēmeis pantes anestraphēmen pote ([onder wie] ons almal voorheen gelewe het), met verwysing na die ongehoorsames – insluitend alle mense, ontvangers van die brief sowel as ander gelowiges. Die dominante rol van die “vlees” in gelowiges se vroeëre lewe is duidelik uit en tais epithumiais tēs sarkos hēmōn, poiountes ta thelēmata tēs sarkos kai tōn dianoiōn (in die passies van ons vlees, terwyl ons die begeertes van ons vlees en gedagtes uitvoer). Alhoewel “vlees” ook in 2:11,14; 5:29,31; 6:5,12 voorkom, word dit net hier twee keer in een sin gebruik, met die gebruiklike negatiewe betekenis soos elders in die Pauliniese literatuur. “Vlees” dui hier op mense se fisiese bestaan, asook op die menslike, sondige bestaan in opstand teen God. In 2:3 is die sondige optrede én sondige gedagtes (tōn dianoiōn) ter sprake, wat ietwat anders as in die onbetwiste briewe hier met sensuele begeertes verbind word. Die outeur se gevolgtrekking is kai ēmetha tekna phusei orgēs hōs ka hoi loipoi (en ons was van nature kinders van oordeel soos die res), mense wat oordeel verdien het.

Oordeel van God, wat verdien word en nie net lukraak gebeur nie, is ’n konstante tema in die Ou Testament (bv Deut 25:2; 1 Sam 26:16; 2 Sam 12:5; Ps 102:20) en selfs in die Nuwe Testament, asook by Jesus (bv Matt 23:15). “Kinders van oordeel” is ’n hebraïsme. Hier verwys phusei (van nature) nie noodwendig na die natuurlike orde nie (bv 1 Kor 11:14), maar eerder hoe mense van geboorte af is (sien bv Gal 2:15). Hier is ook nie sprake van enige “erfsonde”-dogma of beskrywing van die menslike geaardheid in die algemeen nie. Die outeur beklemtoon die kontras tussen God en mense.

Efesiërs 2:4-10 het ’n sterk konfessionele inslag. Kommentators meen selfs 2:4-7,10 kon ’n vroeg-Christelike inisiasiehimne gewees het (wat in 2:8-9 deur ’n narratiewe deel onderbreek word). Getuienis hiervoor is onoortuigend. In 2:4 keer die outeur na die gedagtegang van 2:1 terug en gaan die mismoedigheid oor die hopelose toestand van mense oor in lofprysing: ho de theos plousios ōn en eleei, dia tēn pollēn agapēn autou hēn ēgapēsen hēmas (Maar God wat ryk in genade is, vanweë sy groot liefde waarmee hy ons liefgekry het). Méér as God van oordeel, is God ook God van genade, wat saamhang met God se liefde (wat die outeur met die verwante akkusatief-konstruksie [God het lief met liefde] beklemtoon): genade sowel as liefde is uiteindelik die rede vir mense se verlossing.

In 2:5-6, waar die eerste sin se hoofwerkwoord (sunezōopoiēsen, 2:5) voorkom, herinner die outeur die ontvangers van die brief aan dit waarmee hy begin het deur ʼn deel van 2:1 te herhaal (humas ontas nekrous tois paraptōmasin humōn, maar met die weglating van tais hamartiais (sondes). Dit verklaar ook die ongemaklike kai (en) waarmee 2:5 begin. Weer (soos in 2:3) word die net breër gespan: humas (julle) word nou hēmas (ons). Die variasie in styl tussen “julle” en “ons” in 2:1-10 verwoord die onderskeid tussen die ontvangers van die brief en die gelowiges in die algemeen, wat die outeur insluit. Die onderskeid is nie gepostuleerde gelowiges uit die heidendom en diegene uit die Jodedom nie, aangesien geen spesifieke sake wat tipies aan sulke groepe toegeskryf word hier ter sprake kom nie.

Vir diegene wat geestelik dood is, beteken verlossing om saam met Christus lewend gemaak te word (sunezōopoiēsentō(i) christō(i)). Gelowiges kry ’n nuwe lewe omdat hulle deel verkry aan wat met Christus gebeur het. Die outeur beklemtoon gelowiges se solidariteit met Jesus asook die genade van God wat dit moontlik maak: chariti este sesō(i)menoi (deur genade is julle gered). Die perfektumvorm van die partisipium beklemtoon die voortgaande krag van ʼn handeling in die verlede, naamlik om gereddes te wees. Gelowiges is nie net saam met Christus lewend gemaak nie, maar God het hulle ook saam met Christus opgewek en laat plaasneem in die hemelse (sfere) (kai sunēgeiren kai sunekathisen en tois epouraniois en christō(i) iēsou). Die solidariteit van gelowiges met Christus staan voorop.

Die outeur se sterk gerealiseerde eskatologie beteken dat hierdie solidariteit verder as net die onmiddellike strek: Omdat gelowiges aan Christus se opwekkingslewe deel het, deel hulle ook in die oorwinning van die hemelse aspek daarvan. Hier is nie sprake van dubbele ervarings of alternatiewe werklikhede nie, maar eerder die logiese gevolg van God en Christus se oorwinning van die magte van hierdie wêreld en die dood. Om saam met Christus plaas te neem, beteken om aan Christus se oorwinning oor hierdie magte deel te hê en dit in hierdie wêreld uit te lewe (bv 2:10; 4:1, 17; 5:2, 8,15).

Die doelsin in 2:7 sluit die gedagtegang af wat in 2:4 oor die doel van die goddelike aktiwiteit begin het: Wat God aan gelowiges gedoen het deur hulle saam met Christus lewend te maak, was nie alleen vir hulle onthalwe nie, maar ook deel van God se groter doel om die rykdom van God se genade te wys. Dit sluit aan by die berakah (Joodse gebedstyl) van 1:3-14, waar die uiteindelike doel van verlossing die heerlikheid van God is (1:6, 12, 14). Die oortreffende terme waarmee die lof van God en God se genade besing word, is tipies van Efesiërs. Die “eeue wat kom” (tois aiōsin tois eperchomenois), maak duidelik dat die nuwe era wat in Christus aangebreek het, ’n toekoms het. Die goddelike aktiwiteit wat tot gelowiges se verlossing gelei het, sal voortduur en die nuwe werklikheid wat reeds in Christus begin het, sal in die toekoms tot voltooiing kom.

In kontras met die lang sin van 2:1-7, volg die korter sin in 2:8-10 met kort, anakolutiese (sintaktiese struktuur afwesig) uitsprake in 2:8-9 en in 2:10 ʼn fyn woordspel in die Grieks met proētoimasen (hy het vooraf voorberei) en peripatēsōmen ([sodat] ons kan lewe, 2:10). Soortgelyke konsonansie word ook tussen die aanvanklike paraptōmasin (oortredings, 2:1,5) en periepatēsate (julle het gelewe, 2:2) aangetref, wat vir die oorspronklike ontvangers van die brief in ’n mondeling ingestelde konteks sou opval. Verder omarm die gebruik van periepatēsate in 2:2 en peripatēsōmen in 2:10 die perikoop as retoriese eenheid.

In die laaste gedeelte van die perikoop (2:8-10) word die stelling oor God se genadige ingryping met ’n samevatting van die aard van die verlossing uitgebrei. Uit genade is die ontvangers van die brief deur geloof gered. Wat God in Christus gedoen het, word as verlossing, bevryding of redding uit hulle vorige toestand (wat steeds werkend is) gesien en word vrylik as geskenk vir onverdiende, opstandige mense voorsien.

Met genade as grond en geloof as middel, kan hierdie verlossing niks te make hê met enige idee van verdienste nie. Dat dit “uit genade” is, beteken dit kom nie van ’n menslike bron nie, maar van God as ’n geskenk – dit (touto 2:9) wat God in Christus gedoen het, is ʼn geskenk (dōron) van God. Dat dit “deur geloof” is, beteken die uitsluiting van menslike inspanning en van enige trots of roem in die teenwoordigheid van God. Die outeur wil hê die ontvangers duidelik moet weet God en nie die mense nie die krediet vir verlossing moet ontvang. Dit geld vir die hele verlossing, insluitend die goeie werke van gelowiges. Die idee van “’n selfgemaakte persoon” is onmoontlik in sodanige perspektief van die Christelike bestaan. In werklikheid is gelowiges deur God gemaak. Hulle is sy werk en sy nuwe skepping. Hulle uiteindelike doel is ’n lewe van goedheid, die Skepper se oorspronklike ontwerp vir die mensdom.

Hierdie nuwe manier van lewe voltooi die kontras met die lewe in oortredings en sondes aan die begin van die perikoop. Die kragtige en genadige aktiwiteit van God wat namens gelowiges werk, kom tot voltooiing in menslike lewe, uitgedruk in spesifieke werke. Die outeur probeer dubbel seker maak dat selfs dit nie die grondslag vir roem word nie (hina mē tis kauchēsētai, 2:9) en beskryf dit as voorwerpe van God se vooraf voorbereiding. Hulle was reeds voorberei as deel van God se soewereine doel en moet daarom slegs aan genade toegeskryf word.

Konteks

Die Efesiërsbrief bied weinig inligting oor die omstandighede van die ontvangers daarvan en oor die outeur wat klaarblyklik nie die gemeenskap eerstehands ken nie, maar bloot van hulle “geloof in die Here Jesus en liefde vir die heiliges (= gelowiges)” (1:15) gehoor het (akousas). Net Tichikus word by die naam genoem (6:21), na wie ook die Kolossensebrief verwys (Kol 4:7; sien ook Hand 20:4; 2 Tim 4:12; Tit 3:12).

Die Paulus van die brief is klaarblyklik in die tronk (3:1 en 4:1 ho desmios, gevangene; 6:20 en alusei, in kettings), sonder verdere inligting oor die rede vir sy gevangenskap of duur daarvan. Die brief bied geen aanduiding van ʼn besondere krisis of enige onmiddellike bedreigings in die gemeenskap wat tot die skrywe van die brief aanleiding gegee het nie. Dit maak in die verbygaan twee keer kortliks en vaagweg melding van moontlike dwaallering wat opsigself dien as waarskuwing teen die moontlikheid van afvalligheid (4:14 panti anemō[i] tēs didaskalias, enige wind van lering; 5:6 kenois logois, leë woorde). Daar is egter geen teken dat daar in die gemeenskap op daardie stadium probleme met afwykende leerstellings was nie.

Die sterk konfessionele inslag van Efesiërs 2 het aanleiding gegee tot vergelykings met ander Nuwe Testamentiese dokumente. Verbande tussen Efesiërs 2:1,5a en Kolossense 2:13, asook tussen Efesiërs 1:20 en Kolossense 2:13, het vrae laat ontstaan oor onder andere die moontlike verband tussen Efesiërs 1:20-2:7 en Kolossense 2:10-13. Die moontlike liturgiese gebruik van Efesiërs 2:1-10 sluit die moontlike gebruik van die teks by doopgeleenthede in die vroeë kerk in, alhoewel die teks geen verwysing na die doop bevat nie. Die sondige toestand van die mensdom enersyds en die verlossing wat God in Christus vir mense bewerkstellig andersyds, staan sentraal in 2:1-10.

In die volgende perikoop verskuif die fokus van Christus se versoening tussen God en mens na die invloed en effek van die versoening: eenheid onder gelowiges. Die taal in Efesiërs 2 is kenmerkend teologiese taal, maar die sosiale (sosio-politiese) betekenis van die teks moenie misgekyk word nie.

Die outeur van Efesiërs gebruik gelade terme om die versoening wat Christus tussen God en mensdom bewerkstellig het, te beskryf. Verskillende konsepte vir die uitoefening van mag sou in die Romeinse Ryk, waar die keiser alleenaanspraak op mag gehad, gevaarklokkies vir die Ryk laat lui het. Alhoewel ton archonta tēs exousias tou aeros (die heerser van mag van die lug, 2:2) nie na die imperiale magshebber verwys nie, sou die aanspraak dat mense hulle herkoms en welwese (2:10) aan God eerder as aan die keiser te danke het, Romeinse wenkbroue laat lig het. Ook sou die aanspraak dat die huidige bestel, die totstandkoming waarop die Romeine graag aanspraak gemaak het, deur boosheid gekenmerk word en tot ’n einde gaan kom (2:3, 7), as uittarting van Romeinse mag gesien kon word.

Die Romeinse Ryk se aanspraak daarop dat hulle ’n wêreldwye vrede tot stand gebring het, die Pax Romana, word hier in Efesiërs 2 weerspreek wanneer die keiser nie langer vereer word as die een wat vrede bewerkstellig het nie. In die vestiging van die goeie, nuwe bestel, het geen mens rede tot roem nie (2:9), ook nie die keiser nie. Jesus is die kosmiese vredemaker (soos ook in Kol 1), wat op ongekende skaal vrede bewerkstellig. Hier word die vrede wat Christus skep tog direk op die gemeenskap met sy uiteenlopende twee groepe gelowiges van toepassing gemaak.

Daarmee saam word die aard en omvang van die vrede herdefinieer: nie meer vrede wat op bloedvergieting en onderdrukking deur imperiale magte en strukture berus nie, maar vrede wat in kontras tot geweld, in Jesus se bloed en kruis ontspring. Nou is dit ʼn nuwe bestel waartoe alle mense opgeroep word en wat God voorsien en voorberei het (2:10), waarvan die omvang nie deur die keiser en die Ryk se politieke en ekonomiese sentimente bepaal word nie, maar eerder deur God se genade en liefde (2:4).

Uitsprake en aansprake soos dié in Efesiërs was natuurlik denkverskuiwend, maar ook gevaarlik, veral in ’n gebied soos Efese in Klein-Asië destyds (Turkye van vandag). Veral diegene wat hulleself verder weg van die setel van politieke mag bevind het, het in antieke tye dikwels veel harder as diegene nader aan Rome probeer om uitdruklik en konsekwent hulle lojaliteit teenoor die politieke heersers te toon. Daarom sou die konteks van Efesiërlesers waarskynlik deur die politieke konteks van die tyd gekleur gewees het. Die invloed van Efesiërs word onnodig afgeskaal en beperk indien die heersende lewenskonteks van die eerste-eeuse Klein-Asië-lesers nie in die interpretasieproses verreken word nie.

Preekvoorstel

Eerder as ’n spesifieke preekvoorstel, kan dalk op ’n aantal addisionele sake gewys word wat in ’n preek verreken kan word.

Eerstens, die prediker kan gerus die insluiting van die voorgestelde Ou Testament teks uit Numeri 21:4-9 ook oorweeg, waar Moses vir die volk Israel ’n koperslang maak as beskerming teen slange wat God op hulle losgelaat het as gevolg van hulle klagtes oor kos en water. Ook in Numeri 21 is die onaanvaarbare lewenswyse van mense ter sprake en God se poging om mense tot inkeer te laat kom – wat uiteindelik volledig en vir alle mense in Christus vorm aanneem.

Tweedens sal dit ’n fout wees om Efesiërs 2 se twee dele uitsluitend van mekaar te lees asof een fokus op die individu en verlossing (2:1-10) en die ander op die kerk en Christelike gemeenskap (2:11-22). Daar is geen aanduiding dat die moderne teenstelling tussen die individuele en korporatiewe dimensies in Efesiërs of die antieke wêreld ter sprake was nie.

Ten slotte is die kontras tussen “toe” en “nou” in Efesiërs 2 en die res van die Nuwe Testament, met enkele uitsonderings, uniek aan die Nuwe Testament. Die waarskynlike oorsprong is in die vroeg-Christelike prediking, wat meestal vir morele onderwysing ingespan is. Die oorgang van “toe” na “nou” is ’n oorgang van die dood na die opstandingslewe, van ’n leefstyl gekenmerk deur oortredings, sonde, sensuele oorgawe en ongehoorsaamheid tot een wat deur goeie werke gekenmerk word. Dit is ’n oriëntasie wat nie op hierdie huidige wêreld nie, maar op die hemelse werklikheid gerig is. Dit beweeg weg vanaf verslawing aan die magte wat hierdie wêreld regeer tot oorwinning met Christus oor vyandige magte.

Dit gaan nie oor wêreldontvlugting of om met die werklikheid te breek nie. Dit is ’n oorgang van die sfeer van selfsugtige outonomie tot ’n vereniging met Christus. Dit is ’n oorgang van oorheersing deur die duiwel tot ’n lewe wat van begin tot einde deur God beheer word. Dit is ’n oorgang van dit wat die mensdom van nature is tot wat dit deur genade word. Dit is ’n oorgang waar die fokus vanaf aanspreeklikheid onder God se oordeel verskuif na die ervaring van God se barmhartigheid, liefde en genade.

Bibliografie

Barth, M 1974. Ephesians, 2 vols. Anchor Bible Commentary: New York; Doubleday; Bruce, FF 1984. The Epistles to the Colossians, to Philemon, and to the Ephesians. Grand Rapids: Eerdmans; Lincoln, AT 1990. Ephesians. Word Biblical Commentary, vol 42. Waco: Word; O’Brien, P 1999. The letter to the Ephesians. Pillar NT Commentary. Grand Rapids: Eerdmans.

© Missio 2024 | All rights reserved.