Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks fokus op twee gelykenisse van Jesus; die herder wat die verlore skaap gaan soek en die verlore seun wat terugkeer huis toe. Die tekste uit Romeine en 2 Korintiërs sluit by hierdie boodskap van versoening en genade aan. Die psalm vir hierdie Sondag sluit ook sterk hierby aan en kom tot die slotsom dat ons op God kan vertrou want God is getrou in hierdie genade.

Ander tekste

Romeine 5:9-12
9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Adam en Christus
12Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.

Psalm 32
U het my skuld vergewe
32 ’n Gedig van Dawid.
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf
word nie,
wie se sonde vergewe word.
2Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding
nie toereken nie
en in wie se gees
daar geen valsheid is nie.
3Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer
soos ek heeldag om hulp
geroep het.
4U hand het dag en nag
swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog
soos water in somerhitte. Sela
5Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek
my opstandigheid;”
en U het my skuld vergewe.
6Dit is waarom elke gelowige
in ’n tyd van nood tot U bid;
selfs vloedwaters
sal hom nie skielik oorval nie.
7U is vir my ’n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing.
8Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee
en my oog oor jou hou.
9Moenie onverstandig wees nie,
soos ’n perd of ’n muil
wat met ’n stang in die bek
beteuel moet word
as jy hom wil lei.
10Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges,
jubel, alle opregtes

2 Korintiërs 5:16-21
16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.
20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Fokusteks

Lukas 15:1-3, 11b-32
Die gelykenis van die verlore skaap
(Matt 18:12–14)
15 Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”
3Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:
4″Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. 5En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. 6As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’7Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Die gelykenis van die verlore muntstuk
8″Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie ‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? 9En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’10Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Die gelykenis van die verlore seun
11Verder het Jesus gesê:
“Daar was ‘n man wat twee seuns gehad het. 12Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.
13″Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na ‘n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe. 14Nadat hy alles deurgebring het, het daar ‘n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly. 15Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas. 16Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.
17″Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. 18Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! 19Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’20En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan.
“Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. 21Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’ p 22Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ‘n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! 23En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! 24Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.
25″Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. 26Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. 27Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’
28″Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; 29maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ‘n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ‘n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. 30Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’
31″Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. 32Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”

Ekstra stof

Lukas 14:1-15:32 – God het ‘n hart vir verlorenes
Jesus gebruik weereens ‘n sieke, hierdie keer ‘n man wat aan water (watersug of dropsy in Engels) gely het, om die Fariseërs se verdraaide siening van die sabbatdag uit te daag (14:1-6).

Hy gaan verder en leer hulle deur 2 gelykenisse van beskeidenheid (14:7-11) en gasvryheid (14:12-14) – albei karaktereienskappe wat hulle gekort het – en wys in ‘n 3de gelykenis hoe hierdie oproep in God se gasvryheid teenoor mense , sy hart vir verlorenes, begrond is, die gelykenis van die groot maaltyd (14:15-24).

Lukas sluit die hoofstuk af met Jesus wat die eise van dissipelskap uitspel (14:25-33) en hulle met die gelykenis van die kragtelose sout oproep tot gehoorsaamheid (14:34-35).
Die 3 gelykenisse in hoofstuk 15 – verlore skaap, muntstuk, seun – Is van die helderste sketse van God se hart vir verlorenes in die Bybel, wat die gelykenis van God se gasvryheid nog verder neem.

Let op na die volgende:

  • Jesus vertel dié gelykenisse vir die Fariseërs en skrifgeleerdes waarmee Hy eintlik hulle eie verlorenheid ontbloot. Hulle reageer eintlik soos die ouer broer in die gelykenis van die verlore seun.
  • Die verskil tussen die eerste 2 gelykenisse is dat in die eerste die verlore skaap se nood beklemtoon word, en in die tweede die vrou se nood ten opsigte van die verlore muntstuk beklemtoon word. Waar die skaapboer vir die verlore skaap gaan soek, ter wille van die skaap, gaan die vrou soek vir die verlore muntstuk ter wille van haarself. Albei teken dus kante van wie God is en hoe Hy deur ons werk in die wêreld – ter wille van ons, EN ter wille van Homself.
  • Die laaste gelykenis kombineer dié twee aspekte van God se besorgdheid oor verlorenes. Daarom kan die gelykenis van die verlore seun net so goed as die gelykenis van die wagtende vader beskryf word. Want dit is nie net die nood van die verlore seun wat beskryf word nie, ook die nood van die wagtende vader.

‘n Preek oor die Verlore Seun sou in die volgende rigting kon gaan.

Wegraak-weerkry-vreugde
Hierdie gelykenis vorm deel van Lukas se verhaal van Jesus op reis na Jerusalem (9:51-19:27), op pad na sy dood, ‘n dood wat vir Hom ook ‘n deurgang was na sy Vaderhuis, maar waar Hy op die koop toe die Verlosser van Verlorenes geraak het, presies dit waarvan die gelykenis vertel.
Op pad is Hy besig om sy dissipels te onderrig en vertel Hy dié gelykenis, die derde in die reeks van drie gelykenisse. Al drie hierdie gelykenisse handel oor die tema: verlore-gevind-vreugde.
En wat wil Jesus met dié drie verhale vir ons sê? Dat God liefde is; dat Hy niks ontsien om verlorenes op te soek, te vind en te laat deel in die vreugde van sy teenwoordigheid.

Soeke na geluk
Let op dat daar twee seuns in die verhaal is, albei eintlik verlore.
Die jonger seun is die wêreld in om te gaan soek na geluk en sin in sy lewe. Hy is soos die sondaars en die tollenaars van Jesus se tyd. Hy eis sy deel van die erfporsie op en gaan soek na sy plek in die wye wêreld.
Hy eindig tussen die varke – van die grootste vernederings denkbaar vir ‘n Jood, want varke is onrein.
Die jonger seun gaan dus op soek na die dinge wat hy, tragies genoeg, reeds in die vaderhuis het, maar nie raaksien nie. Hy gaan soek vreugde, sekuriteit, liefde, sy plek in die lewe, kortom: hy gaan soek ‘n ‘home away from home!’
En daar tref hy uiteindelik die bodem van die put waarin hy besig was om te val, toe sy geld opraak (wat natuurlik sy eie skuld is) en daar hongersnood in die land kom (waaraan hy niks kon doen nie, maar wat sy probleme vererger).
Maar, belangrik, dié bodem is toe al die tyd sy vangnet, sy fondament wat nog al die tyd daar was: hy het ‘n vader wat vir hom wag! Daar by die varke ontdek hy weer sy verlange na die vaderhuis en ontstaan ‘n afkeer in sy eie dwaasheid. Sy voete kom in beweging – die keer in die regte rigting, naamlik huis toe!

Gevind in die vaderhart
Die vader sien sy seun ‘toe hy nog ver aankom’, hy kry hom ‘innig jammer’ en hy ‘hardloop’ hom tegemoet. Vir ‘n Midde-Oosterse vader om na sy seun aangehardloop te kom, was ongewoon en beslis onwaardig. Die vader se vreugde oorskry egter alle grense van sy waardigheid. Die seun word nie kans gegee om sy belydenis te voltooi nie en hy kom nooit by die deel dat hy soos ‘n dagloner behandel wil word nie. Die soen is die teken van versoening. Die kleed, ring en skoene herstel sy status as kind.
So word God se Vaderhart geopenbaar as ‘n hart vol barmhartigheid wat geen grense ken nie. Hy sal alles doen om die verlore skaap te gaan haal en terug te dra tot by die ander. Hy sal oral soek in die huis todat die verlore muntstuk gevind is en die getal muntstukke weer volledig is. En Hy aanvaar die verlore seun nog voordat hy terug is by sy pa.
Daarom dat Thielicke in sy bekende preek praat van die “wagtende vader”; dat hy elke dag aan sy verlore kind gedink en oor hom gedroom het; dat hy so volledig ingestel was op hom, so besig was om te dink oor sy seun en sy lotgevalle, dat toe die seun uiteindelik sy opwagting maak, hy eenvoudig heeltemal anders optree as wat daar in sy tyd van iemand soos hy verwag is; hom tegemoetgehardloop en met ope arms terugverwelkom het in die huis.

Die vreugde is vir almal
Maar daar was ook die tweede seun, ook verlore, maar nie weg van die huis nie, binne in die vaderhuis. Soos die Fariseërs van sy tyd is hy so gefokus op die nakom van reëls dat hy die vreugde van sy pa, van sy teenwoordigheid, mis. Let op hoe hy hom so versit teen sy verlore broer wat terugkom dat hy hom aan die einde van die verhaal buite die huis bevind.
Verlorenes is dus nie net diegene wat erge sonde pleeg, of die hulpeloses en die wat verag en vergete is nie, soos die sondaars en tollenaars van Jesus se tyd. Verlorenes is ook hulle wat ‘n goeie lewe lei, maar hulle buite die gemeenskap met God bevind, soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes van Jesus se tyd.
Die goeie nuus van die verhaal is egter ook vir diesulkes bedoel. Die pa gaan uit na die oudste seun en “praat mooi met hom”, praat met hom na die hart. Hy herinner hom dat alles wat die pa het, aan hom behoort. En dat hy wil hê dat die oudste broer ook bly sal word oor die verlore broer wat gevind is en teruggekom het.
Daarmee nooi Jesus selfs die Fariseërs en skrifgeleerdes uit, dié wat binne die godsdiens is, maar teenoor Jesus staan, om terug te keer en te kom deel in die vreugdefees van ‘n evangelie wat goeie nuus is vir almal.

2.3 Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 5 (bekend) of Psalm 32

Votum: Psalm 32

Seëngroet

Lofsang: Flam 34 of Lied 244

Verootmoediging: Vonkk 243 [bekend:  Koos du Plessis] of Flam 145 of Lied 511

Genadeverkondiging: 2 Korintiërs 5:16-21

Geloofsbelydenis: Flam 91 of Vonkk 54 of Lied 241

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 15:1-3, 11b-32

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang: Flam 517 [bekend] of Lied 510

Seën

Respons: Lied 244 refrein of Vonkk 140

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede
Flam 5 “Daar is geen grens” (bekend:  Steadfast Love)
Psalm 32

Votum
32 ’n Gedig van Dawid.
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf
word nie,wie se sonde vergewe word.
2Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding
nie toereken nie
en in wie se gees
daar geen valsheid is nie.
3Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer
soos ek heeldag om hulp
geroep het.
4U hand het dag en nag
swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog
soos water in somerhitte.     Sela
5Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek
my opstandigheid;”
en U het my skuld vergewe.
6Dit is waarom elke gelowige
in ’n tyd van nood tot U bid;
selfs vloedwaters
sal hom nie skielik oorval nie.
7U is vir my ’n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing.     Sela
8Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee
en my oog oor jou hou.
9Moenie onverstandig wees nie,
soos ’n perd of ’n muil
wat met ’n stang in die bek
beteuel moet word
as jy hom wil lei.
10Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges,
jubel, alle opregtes

Seëngroet

Lofsang
Flam 34 “Daarom
Lied 244 “Alles, alles is genade”

Verootmoediging
Ons gaan vanoggend die verhaal van die verlore seun lees.  Voordat ons dit doen, kom ons dink na oor die paaie waarop ons gaan, die paaie wat ons heimlik weet nié God se pad was nie.

Vonkk 243 “Laat my nooit die grond verlaat nie” [bekend:  Koos du Plessis] of
Flam 145 “Hier Is Ek” of
Lied 511 ‘Lei U ons, Lig”

Genadeverkondiging
2 Korintiërs 5:16-21
16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Geloofsbelydenis
Flam 91 “U Genade Vir My Is Genoegof
Vonkk 54 “Ek Glo In God, Die Vaderof
Lied 241 “Troue Here van my lewe”

Liedere

F5. “Daar Is Geen Grens”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklike titel: The Steadfast Love  Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1974, 1975 Celebration  (Opgeneem op FLAM, vol 1) (Klaagl 3:22,23)

Daar is geen grens aan u guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is u trou, o Heer, my God;
groot is u trou, o Heer.

F34. “Daarom”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Toewyding) Teks en musiek: Elizabeth Fourie © 2002 EF Musiek
(Opgeneem op haar CD Voetspore en FLAM, vol 1)

Here, U is my lewe,
ek ken U veilige bewaring elke dag.
Here, U is my vrede,
as die storms om my woed met brute krag.
En as ek val, is U by my.
U het betaal en ek is vry!

Refrein:

Daarom sing ek,
daarom gee ek U my stem.
Daarom juig ek saam met snaar en instrumente!
Daarom bring ek U my dank,
sing ek heeldag lank,
daarom sing ek,
hoor my lied vir U, o Heer!

Here, uit U hande
kom net wat mooi is en wat heilig is vir my.
Here, U genade
het my deur alles heen tot hierdie dag gelei.
En as ek val, is U by my.
U het betaal en ek is vry!

Refrein:

Refrein weer na modulasie:
Daarom sing ek,
daarom gee ek U my stem.
Daarom juig ek saam met snaar en instrumente!
Daarom bring ek U my dank,
sing ek heeldag lank,
daarom sing ek,
hoor my lied vir U, o Heer!
Daarom sing ek,
hoor my lied vir U, o Heer!

F145. “Hier Is Ek”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis) Teks en musiek: Retief Burger © 2005 Urial Publishing
(Luk 15:11-32, Jer 3:19-22, Jes 1:18, Ps 130)

Hier is ek met my sondesak en die stof klou aan my kleed.
Ek’t ver gekom en die reis het my gebreek.
Die verbode land van skuld en seer het my alleen gelos
en ek soek weer na my Pa se diepe sielekos …

Refrein:

Hier is ek, gebroke,
hier is ek, verlore in myself,
hier is ek, by u voete Heer,
want hier is lewe en genade vir ’n kind.
Soveel keer het ek geval en my skouers deurgeskaaf
want ek bly nog glo die las moet ek self dra.
Tog is dit weer U wat na my toe aangehardloop kom
en u arms van liefde en vergifnis om my vou.

Refrein:

VONKK 243 “Laat my nooit die grond verlaat nie”
Teks: Koos du Plessis 1983 Melodie: GEBED – Koos du Plessis 1983 Orrelbegeleiding 1: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding 2: Gerrit Jordaan 2014 © Klavierbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2014 (Pro Deo) Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2014 ©
© Orrelbegeleidings, klavierbegeleiding, kantory-verwerking en musikale verryking: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Teks en melodie: Incline House. Met toestemming gebruik.
RUBRIEK:  Kontemporêr – Gebede / Oggend- en Aandliedere

1.Laat my nooit die grond verlaat nie.
Laat my in u skadu bly.
Gee dat elke aardse vreugde en vrees
eind’lik nietig word vir my.
Elke afdraaipaadjie ken ek.
Elke keer het ek gedwaal.
Elke keer het U my iewers kom haal.
Maak dit, Heer, die laaste maal.

2.Elke dag is ’n gedagte,
elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem,
net ‘n skadu teen die muur.
Wat ek is, is net genade,
wat ek het, is net geleen.
Eintlik smag ek na u waters van rus.
Lei my, Heer, vanaand daarheen.
Lei my, Heer, vanaand daarheen.

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK: Flam – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding) Oorspronklike titel:  Uw genade is mij genoeg
Teks en musiek: Marcel Zimmer Afrikaanse vertaling:  2005 Faani Engelbrecht © 1998 Celmar Music

Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ’n kruis op sy rug en ’n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in sy oë staan,
toe Hy roep: “Dit is volbring!”

Refrein:

Ja, ek dank U vir u genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys u genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!

Refrein:

En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.

Refrein:
U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

VONKK 54 “Ek Glo In God, Die Vader”
Teks: AP van der Colf 1978/2001 © (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: TAFELBERG – Dave Reid 2001
Orrelbegeleiding: Ockie Vermeulen 2010 © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Klassiek – Geloofsbelydenis

Ek glo in God, die Vader,
almagtig’ Skepper-Heer,
wat hemele en aarde
gemaak het en beheer.
Sy troon is heerlikheid,
en wonderlik sy dade;
deur sy geliefde Seun
verlos Hy uit genade.

Ek glo in Jesus Christus –
Hy, van die Gees ontvang,
is uit ‘n maagd gebore,
moes aan die kruishout hang;
het graf en dood oorwin
as God van alle gode,
sal weer as regter kom
oor lewende en dode.

Die Heil’ge Gees is ewig;
is Here en laat leef.
Hy maak sy kerk ook heilig –
en één en algemeen.
Aan God Drie-enig eer
wat sondeskuld vergewe,
die liggaam op laat staan
en ewig ons laat lewe!

F517. “Ek’s losgekoop”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en vertroue)  Oorspronklik: Amazing Grace (My chains are gone) Teks en musiek:  John Newton en Chris Tomlin
Afr teks: A. Van der Colf (Genade, onbeskryflik groot, Liedboek 510) en Sonja Pieters (refrein) Kopiereg: © 2006 Sixsteps Music

Genade onbeskryflik groot,
het U aan my bewys
Verlore seun, ‘n wegloopkind,
weer in die Vaderhuis

Ek is die naam van kind nie werd,
wou self my sake reël
My lewe kanse tyd en geld,
is nutteloos verspeel

Refrein 1

Ek’s los gekoop, geen kettings meer
My God my Redder, het reeds betaal
U liefde reën nou op my neer
Genade onbeskryflik groot

Maar U sien ver oneindig ver,
U sien my honger, dors
Want toe ek kom, my skuld bely,
druk U my aan die bors

Refrein 2 (x2)

My las is weg, ek’s vrygemaak
My God my Redder, het my losprys betaal
Genade reën nou op my neer
Genade onbeskryflik groot
Genade, onbeskryflik groot –

Daar’s fees, ek is weer tuis.
U Seun bring my – verlore mens –
Weer in die vaderhuis. (x3)

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 15:1-3, 11b-32

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Vertel gewoon die gelykenis en onderstreep dat God ons altyd liefhet. Maak seker dat jy dit dramaties vertel. Laat kinders dit bv opvoer terwyl jy die teks lees. Of wys hierdie video.
Jy kan ook die verhaal vertel met behulp van ‘n arms-wawyd-oop-figuurtjie – en dan vir kinders die nodige toerusting gee om hul eie figuurtjie te maak terwyl hulle na die preek luister. Kyk hier hoe om een te maak.

Hier is ‘n inkleurprent.

Preekriglyn

Ons Skrifgedeelte kan in drie dele verdeel word:

• Verse 1-3 – die eerste gedeelte dien as inleiding vir die drie gelykenisse wat in hierdie hoofstuk volg. Alles fokus op die tema, “verlore en gevind”;
• Verse 11-24 – die verhaal van die verlore seun, en hoe hy met die vader versoen geraak het;
• Verse 25-32 – die vader in gesprek saam met die oudste seun en die seun se reaksie.

Lukas is bekend vir sy fokus op die armes, weduwees, siekes en randfigure. Daarom word die leser met die eerste lees van hierdie Skrifgedeelte, herinner aan die gedagte dat God Hom verbly in die terugvind van iemand wat verlore was. Ons Skrifgedeelte beklemtoon ook veral God se liefde vir die sosiale randfigure en verstotenes.

Jesus bevraagteken

In vers 1-3 bevind Jesus Hom weereens in ‘n situasie waarin sy optrede en praktyke deur die Fariseërs en Skrifgeleerdes bevraagteken word. Hierdie keer, soos vroeër in Lukas 5:30, kla en murmureer die Fariseërs en Skrifgeleerdes oor Jesus wat saam met die tollenaars en sondaars eet en hulle ontvang.

In teenstelling met Lukas 5:32, gee Jesus vir hulle ‘n meer uitgebreide antwoord. Vroeër het Jesus in sy antwoord net gewys op sy taak om die verlore sondaars tot bekering te roep. Nou lewer Hy uitgebreide kommentaar op hulle beswaar, met ‘n reeks gelykenisse wat handel oor die tema “verlore en gevind”. Vandag slaan ons die eerste twee gelykenisse oor, en fokus op die gelykenis van die verlore seun (11-32).

Jongste seun

Vers 11-24 fokus veral op die jongste seun, terwyl die vader in beide dele van die gelykenis ‘n sentrale figuur is. Die verhaal begin dramaties met die jonger seun (broer) wat sy erfdeel eis van sy vader, terwyl sy pa nog lewe. Gewoonlik moet iemand eers sterf, voor daar op enige erfdeel aanspraak is. Met hierdie daad wens die jonger seun as ‘t ware sy pa dood, wat skokkend is. So skets Lukas ‘n negatiewe beeld van die jongste seun (broer). Met hierdie optrede draai die seun sy rug op sy vader en breek hy alle bande met sy vader. Dit beteken dat hy nou inderdaad verlore is.

As die versoek van die jongste seun skokkend is, is die reaksie van die vader dit in oortreffende trap. Die vader se reaksie op hierdie skokkende versoek is net so skokkend en verbasend as die jongste seun se versoek self. Binne die konteks van die Midde-Ooste leefwêreld sou die vader sy seun hard straf vir dié vreemde versoek. Heel verbasend, staan die vader sonder enige beswaar die versoek toe.

Die verhaal gaan voort met die jongste seun wat na ‘n ver land gegaan het en gou-gou al sy besittings verkoop het. Hierdie ver land beteken dat hy nie net sy vader agterlaat nie, maar ook sy eie land. Daar is ook nou geen bande met die familie, ouerhuis of sosiale en godsdienstige gebruike nie.

Planke toe

Al wat verder geskets word, is die negatiewe beeld van die jongste seun se losbandige lewe. Hy het alles vinnig verloor en op ‘n dag geen heenkome meer gehad nie. Dié beeld berei die leser voor vir die ergste. Toe die geld opraak, word die jongste seun gedwing om hom ter wille van oorlewing as arbeider by een van die mense van die land te gaan voeg. Die Griekse woord beteken letterlik “vaslym”. Dit verwys na ons hedendaagse term van vasplak, wat daarop dui dat die jongste seun soos ‘n parasiet sonder regte, heenkome of aansprake, aan ‘n ander weldoener vassuig. Die feit dat die seun varke moes oppas wys daarop dat hy by ‘n heiden moes werk. Vir die Jood was dit die laagste wat mens kon daal.

Die seun is volkome afhanklik van die genade van ‘n volgende persoon. Hy kry egter nie werklik genade of barmhartigheid nie; hy kry nie eers kos om sy honger te stil nie. Hy is bereid om selfs die peule wat die varke vreet, te eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie. Hiermee bereik die verhaal sy dieptepunt. Die seun is afhanklik van die genade van ‘n vreemdeling wat oënskynlik geen genade of barmhartigheid betoon het nie.

Hy is teen die planke.

Tot sy sinne

Vers 17 tot 21 is die keerpunt, waar die jongste seun sy eie situasie in oënskou neem. Die seun het tot homself gekom, introspeksie gedoen en besluit om op te staan en na sy vader te gaan. Hierdie handeling word herhaal in vers 18 en 20, wanneer die seun later daaraan uitvoering gee. Ook dit wat hy vir sy vader wil sê word herhaal, ter wille van die klem (18b, 19a, 21). Die seun gaan deur die hele proses van skulderkenning en berou aangesien hy verantwoordelikheid vir sy optrede aanvaar. Sy erkenning dat hy nie meer werd is om as seun genoem te word nie, is ‘n uitdrukking van die skandekultuur waarbinne hierdie verhaal afspeel. Sy ellendige toestand bring hom sover om te erken dat hy ook teen God gesondig het. Vir wat hy aan sy vader gedoen het, staan hy ook skuldig voor God.

Hiervandaan verder neem die vader inisiatief en bepaal wat volgende sal gebeur. Weereens is die vader se reaksie verrassend. Hy sien die seun van ver af, kry hom innig jammer, hardloop hom tegemoet, omhels en soen sy terugkerende seun. Dit alles doen die vader nog voordat die seun enige woord van skulderkenning kon uiter. Die karaktertrekke van die vader wat die outeur hier skets, is die van bewoënheid, simpatie, vergewensgesindheid en versoening. Die grootste verrassing kom wanneer die vader na die seun hardloop. Dit was ongehoord vir ‘n Oosterse man van aansien om te hardloop, selfs onwaardig en vernederend. Hy maak ‘n openbare geleentheid van die versoening tussen hom en sy seun, as hulle volgens vers 24 begin vrolik word. Daarmee kom die oorgang na die volgende gedeelte.

Oudste seun

Vers 25-32. Anders as die vorige gedeelte, is die fokus hier meer op die oudste seun, maar weereens staan die vaderfiguur sentraal in die storie. Hierdie vrolikheid en feestelikheid het begin terwyl die ouer broer nog besig was met sy werk. Die ouer broer het met sy nader beweeg na die huis toe die feestelikheid gehoor. Skielik word die kontras tussen die jonger broer se lewe van genot teenoor die ouer broer se lewe van arbeid teenoor mekaar gestel. Die oudste neem by navraag by ‘n dienskneg vir die eerste keer kennis van die eintlike gebeurtenis wat plaasvind. Die oudste broer reageer met woede. Hy weier nie net om sy jonger broer terug te verwelkom nie, maar stel ook sy vader in die verleentheid deur te weier om deel te neem.

Die vader se reaksie teenoor die oudste seun is konsekwent. Hy tree op dieselfde wyse op soos wat hy teenoor sy jongste seun opgetree het. Hy skel nie, maar handel met geduld en liefde. Hierdeur bevestig hy dat hy beide seuns ewe lief het. Die vader se optrede bly verrassend.

Tog is die oudste seun se reaksie in skerp teenstelling met die vader se insluiting en barmhartigheid. Hy verwyt sy vader met ‘n relatief uitgerekte toespraak, wat in teenstelling is met die kort beskrywing van die vader se optrede. Hiermee word die leser bewus gemaak van die negatiewe kant van die oudste broer se karakter, wat nie dink in terme van genade en barmhartigheid nie.

Steeds getuig die vader se optrede teenoor die ouer seun (broer) se verwyt van groot liefde en geduld. Ten spyte van die feit dat die seun sy vader glad nie op sy titel aangespreek nie, ignoreer die vader hierdie onnadenkendheid en spreek die seun op sy beurt liefdevol en versoenend aan met die Griekse woord, teknon in plaas van uios. Steeds probeer hy sy oudste seun oortuig om bly te wees oor die terugkeer van sy verlore broer, aangesien dit vir die vader hier gaan om versoening en saamwees.

Daarom eindig die gedeelte met die woorde van die vader: “Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”

Met hierdie laaste woorde van die vader eindig die verhaal nogeens verrassend, met ‘n oop einde. Die leser weet uiteindelik nie wat die reaksie van die oudste broer was nie.

Wie God is

Die primêre fokus van die verhaal is op die buitengewone aard van God se vergiffenis van liefde en aanvaarding. Dit word sigbaar in die optrede van die vader, deur sy inisiatief en geduld teenoor beide seuns. Dwarsdeur die evangelie van Lukas word God uitgebeeld as liefdevolle God vir die gemarginaliseerde. Die vernaamste fokus is egter die houding van God teenoor sondaars. In die vader se weiering om sy seun se begeertes te ignoreer, sien ons God wat met geduld en genade aan ons keuses laat. Hy wag geduldig en Hy sal altyd die berouvolle sondaar in sy huis verwelkom.

Onpartydig

Die gelykenis beklemtoon verder ook die onpartydigheid van God. Beide seuns word gerespekteer en met gelyke liefde en geduld behandel. God handel dus met alle mense dieselfde en konsekwent. Geen spesifieke groep word verwerp of bevoordeel nie; die koninkryk is universeel.

Nie net die jongste seun in die ver land nie, maar ook die oudste seun is eintlik verlore. Tog gee die vader nie eintlik om waar die kinders vandaan kom en wat hul verlede is nie. Hy is besorgd oor waar hulle heengaan. Hy verlang dat hulle in die vaderhuis leef vanuit genade en blydskap

Erns van sonde

Ons moet ook die tema van skulderkenning en bekering aanraak. Dit is duidelik dat die verlore seun sy sonde erken, verantwoordelikheid aanvaar en vergifnis soek. Van die begin af word die erns van sonde onderstreep. Die seun eis sy erfenis, beledig sy vader en familie en verloor dan die geld in sy omgang met heidene. Daarbenewens word die temas en beelde uitgelig, van “die ver land”, “varke voer”, “verlore”, “dood” en “vervreemding”, alles voortspruitend uit sy sonde.

Jesus se bediening

In die lig van 15:1-2 word hierdie gelykenis, soos die vorige twee gelykenisse, gebruik om ‘n regverdiging vir Jesus se bediening te gee waarin die sondes van sondaars uitgewis word.
In Jesus se optrede sien ons die hart van die vader. God is soos Jesus God deur sy optrede en lering openbaar.

Skrifgeleerdes en Fariseërs

Die gelykenis van die verlore seun is ook ‘n skerp uitbeelding van die houding van die skrifgeleerdes en Fariseërs, wat duidelik verteenwoordig word in die karakter van die ouer seun. Twee prente verskyn.

Eerstens, die ouer seun is nie in ‘n perfekte verhouding met sy pa nie. Nietemin word sy lojaliteit en opregtheid nie betwis nie. So ook het die godsdienstige owerhede, wat volgens hulleself ook nie “verlore” is nie, ook wel die aard en karakter van God verkeerd verstaan. Streng nakoming van die wet is nie die manier om lief te hê en aanvaarding te gee nie.

Tweedens, die ouer seun is nie in ‘n perfekte verhouding met sy broer nie. Trouens, sy pa moet die verhouding wat die ouer seun ontken, weer beklemtoon. Net so het die Fariseërs en skrifgeleerdes hulle verhouding met hulle mede-Israeliete vergeet en geweier om hulle as broers te aanvaar. Hulle het geweier om met hulle te assosieer en hulle reg te erken om aan die volk van God te behoort alvorens bekering nie op ‘n tasbare manier bevestig is nie (dws streng nakoming van die wet). Gevolglik het hulle selfregverdiging hulle verhinder om die vreugde te ervaar van die verlorenes wat nou weer gevind is.

Die skrifgeleerdes en Fariseërs word nie heeltemal negatief voorgestel nie. Hulle het wel ‘n verhouding met die vader. Hulle ook is toegewyd en opreg. Nietemin het hulle tekortkominge wat Jesus wil aanspreek. Daarom is dit belangrik om daarop te let dat Jesus nie aanvallend optree nie. Die manier waarop Jesus die gelykenis konstrueer, simboliseer die genade van die vader in die gelykenis. Sy doel is nie om te bestraf nie, maar om te oorreed en in te sluit.

Morele verbetering?

Die gevaar is dat gelowiges wat lank in die vaderhuis leef soos die oudste seun kan raak. Ons wil dan nie dat die verkwisters, sondaars en lieplappers sommer net so oorlaai word met gratis genade nie.

Ons strategie sou eerder wees dat hulle deur ‘n proses van selfverbetering gaan om moreel gesuiwer te word, voordat ons feesvier.

Ons kan liewer mense se morele verbetering aan die werk van God oorlaat. Mense word vanuit die omhelsing, vergifnis en feesvieringe in God se huis nuutgemaak. Ons kan voorbeelde stel, mentor, selfs raad gee. God se fees is egter nie ‘n prysuitdeling vir die moreel onbevlektes nie. Dit is ‘n fees van God se genade – vir ons en ander.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 517 “Ek’s losgekoop” [bekend: Genade onbeskryflik groot; Amazing Grace – my chains are gone] of
Lied 510 “Genade, onbeskryflik groot”

Seën

Respons
Lied 244 refrein: Ons sal oor u liefde juig, dankbaar van u guns getuig. of
Vonkk 140 “Die Genade Van Onse Here
Nav 2 Korintiërs 13:13 Teks: Daleen Kruger 2010 (Pro Deo) Musiek: Johannes de Heer (1866-1961)
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Uitsending

Die genade van onse Here Jesus Christus,
en die liefde van die Vader,
en die gemeenskap van die Heilige Gees,
bly met jul almal, met jul almal.
Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.