Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Ons bereik die halfpadmerk van die seisoen se liturgiese reis waartydens ons oor Jesus se lyding dink. Op ons reis is ons toeskouers by die geleentheid van Dawid se aanwysing as koning (1 Sam 16). Ons dink ook aan hoe Dawid se hart geklop het in Psalm 23. Dit getuig van die lig van liefde wat in God is. In God se liefde sou Christus later ‘n man wat blind gebore is, genees terwyl die nagdonkerte van die Joodse sinagoge God se lig probeer verhinder (Joh 9). Daarom is die uitnodiging van die liturgie: Leef nou as mense van die lig (Ef 5).

Ander tekste

Psalm 23
23 ’n Psalm van Dawid.
Die Here is my herder,
ek kom niks kort nie.
2Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters
waar daar vrede is.
3Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie
tot die eer van sy Naam.
4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.
5U laat my by ’n feesmaal aansit,
terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos ’n eregas,
ek word oorlaai met hartlikheid.
6U goedheid en liefde
sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees
in die huis van die Here
tot in lengte van dae.

Efesiërs 5:8-14
8Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. 9Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. 10Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, 11en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. 12Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. 13Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. 14En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied:
“Word wakker, jy wat slaap,
en staan op uit die dood;
en Christus sal jou lewe verlig.”

Johannes 9:1-41
9 Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?”

3En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. 4So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. 5Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

6Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ’n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë 7en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.

Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.
8Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?”

9Party van hulle het gesê: “Dit is hy!”
Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.”

“Dit is ek!” het hy self gesê.
10Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?”

11En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het ’n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!”
12“Waar is hy nou?” vra hulle hom toe.
“Ek weet nie,” was sy antwoord.

Die Fariseërs ondervra die man en sy ouers
13Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring. 14Dit was op ’n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het. 15Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.”

16Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.”
Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?”
En daar was verdeeldheid onder hulle.

17Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.”
“Hy is ’n profeet,” het hy geantwoord.

18Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep 19en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?”

20“Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. 21“Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”

22Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word. 23Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.”

Die man word uitgeban
24Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is ’n sondaar.”

25Daarop het hy gesê: “Of hy ’n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

26Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?”

27“Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?”

28Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is ’n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. 29Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man—ons weet nie waar hy vandaan kom nie.”

30“Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. 31Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. 32Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. 33As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.”

34Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”
En hulle het hom uitgeban.

Geestelike blindheid
35Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”

36Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?”

37Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”

38Die man sê toe: “Ek glo, Here!”
En hy het Hom aanbid.

39Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

40Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!”

41Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”

Fokusteks

1 Samuel 16:1-13
Samuel salf ‘n ander koning
16 Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak ‘n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My ‘n koning.”

2Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.”

En die Here sê vir hom: “Neem ‘n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here ‘n offer te bring.’3Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.”

4Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: “Kom u in vrede?”

5En hy het gesê: “Ja. Ek het gekom om vir die Here ‘n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.”

Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. 6Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here.

7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

8Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 9Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 10Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11Daarop het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op.”

Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie.” 12Isai het hom laat haal. Hy het ‘n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en ‘n goeie voorkoms.

Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”

13Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 577 of Psalm 23 of Flam 462 of VONKK 86

Votum: Ps 23:1, 5b-6

Seëngroet

Lofsang: Lied 280 of Lied 531

Wet: Efesiërs 5:8-14

Verootmoediging: Lied 230 of Flam 37

Genadeverkondiging: 1 Samuel 16:7

Geloofsbelydenis Flam 521 of Psalm 23 responsories

HOOR

Gebed

Skriflesing: 1 Samuel 16:1-13

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 70 of VONKK 275 of Lied 440 Die Here salf ons met sy Gees

Seën

Respons: VONKK 275:6 of Lied 311

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 577 “Die Heer, my herder, sorg vir my’ of
Psalm 23 of
Flam 462 Die Here Is My Herder (Psalm 23)  of
VONKK 86 Ek Is Die Heer Se Skapie  (Psalm 23) [kinderlied]

Votum
Ps 23:1, 5b-6
Die Here is my herder,
ek kom niks kort nie.
U ontvang my soos ’n eregas,
ek word oorlaai met hartlikheid.
6U goedheid en liefde
sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees
in die huis van die Here
tot in lengte van dae.

Seëngroet

Lofsang
Lied 280 “Here, Redder, groot en magtig” of
Lied 531 “Ons Here, God van alvermoë”

Wet: Efesiërs 5:8-14
8Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. 9Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. 10Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, 11en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. 12Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. 13Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. 14En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied:
“Word wakker, jy wat slaap,
en staan op uit die dood;
en Christus sal jou lewe verlig.”

Verootmoediging
Almagtige God,
U het Jesus, ons Goeie Herder, gestuur om ons bymekaar te maak.
Mag ons nie van sy kudde afdwaal nie, maar volg waar hy ons lei,
na sy stem luister en naby hom bly,
totdat ons veilig in u huis is, om vir altyd by jou te woon;
deur Jesus Christus, ons Here, wat saam met jou en die Heilige Gees leef en regeer,
een God, nou en vir altyd. Amen.

Lied 230  “O Jesus, in u lyding” o
Flam 37 Skyn Met U Lig In My Hart, Heer [bekend:  “Open the eyes of my heart, Lord”]

Genadeverkondiging: 1 Samuel 16:7
“Die Here kyk nie na dieselfde dinge as mense nie. Mense kyk hoe iemand lyk, maar die Here kyk wat in iemand se hart is.” (Die Bybel vir Almal)

Geloofsbelydenis
Flam 521 Deur u genade is ek uitverkies (Onverdiende Goedheid) of
Psalm 23 responsories
Voorganger: Die Here is my herder,
Gemeente:  ek kom niks kort nie.

V:  Hy laat my rus in groen weivelde.
G: Hy bring my by waters waar daar vrede is.

V: Hy gee my nuwe krag.
G: Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

V:  Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie,
G:  want U is by my.  In u hande is ek veilig.  

V:  U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk.
G:  U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.  

V:  U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly
G:  en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Liedere

F462. “Die Here Is My Herder (Psalm 23)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)  Teks en musiek: Louis Brittz Kopiereg: © Urial Publishing

1. Die Here is my herder
niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê
in groen weivelde.
Na waters waar daar rus is
lei Hy my heen,
na waters waar daar rus is
lei Hy my heen.

2. Hy lawe my soekersiel
en Hy lei my
op paaie van geregtigheid
om sy Naam ontwil.
En al gaan ek deur die donker
van doodskaduwee
sal ek geen onheil vrees nie –
Hy is by my.
Sal ek geen onheil vrees nie –
Hy is by my.

3. Hy dek die tafel voor my gesig
voor die oë van my vyande
beloon Hy my.
En Hy salf my met olie vir my berei
net guns en goedheid sal my bly volg.
Al die dae van my lewe
wil ek by Hom bly.
Al die dae van my lewe
wil ek by Hom bly.

VONKK 86 “Ek Is Die Heer Se Skapie  (Psalm 23)”
Nav Psalm 23 Teks: Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo)  Melodie: MINANTÉ – Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding:  Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo) © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kinderlied – Geloof en Vertroue

1. Ek is die Heer se skapie; Hy sorg so goed vir my.
Hy lei my na die water en laat my rustig wei.

2. Hy dra my as ek moeg raak, Hy wys die pad vir my.
En as dit om my donker word, sorg Hy en help Hy my.

F378. “Skyn Met U Lig In My Hart, Heer “
Teks en musiek: Paul Baloche: Open the Eyes of my heart, Lord Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© 1997 Integrity’s Hosanna! Music  (Ps 123:1,2, Ef 5:15-23, Heb 12:2)

(x2)
Skyn met u lig in my hart, Heer
skyn met u lig in my hart,
Ek wil U sien, Heer. (x2)

(x2)
Beklee met majesteit en mag,
stralend in die glans van u grootheid.
Vul ons met liefde en krag
ek sing: Heilig, heilig, heilig.

Heilig, heilig, heilig (x3)
ek wil U sien, Heer.

Heilig, heilig, heilig (x3)
ek wil U sien, Heer. (x3)

F521. ‘Deur u genade is ek uitverkies (Onverdiende Goedheid) “
(RUBRIEK: Flam – Geloof en vertroue)  Teks en musiek: Mirna Steyn Kopiereg: © 2014 Flam Musiek-Uitgewers

Deur u genade is ek uitverkies, geheilig
U noem my kind, spreek my vry, het my lief, oneindig
U stuur u Gees om naby my te wees.
U vul my met hoop, wys die pad wat ek moet loop.

Refrein:
Dit is u onverdiende goedheid wat my dra deur elke dag
Dit is u onverdiende goedheid wat my vul met u krag
U laat my dien, laat my glo, laat my sien.
U goedheid en liefde kan ek nooit verdien.
Dit is u onverdiende goedheid wat my dra deur elke dag
Dit is u onverdiende goedheid wat my vul met u krag,
Elke dag!

F70. “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid) Teks en musiek: Louis Brittz  © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk.
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk.
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop.
Week ons met waarheid breek ons bekers oop.

Lig vir die wêreld, kom skyn deur ons.
Skyn in die donker met liefde wat verlos.
Stuur ons met lewe vol van helder hoop.
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees.
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons.

Heer, ontmoet ons hier, woon in ons lofgesang.
U is die rykdom waarna ons verlang.
As u lig ons lei, ons na die wêreld stuur.
Seën ons met volheid vul ons met u Vuur.

Kom Jesus skyn laat donker verdwyn,
skyn in die nag, laat breek die dag.

Vader salf ons oë raak ons met deernis aan.
Ons wil u hart vir verlorenes verstaan.
Laat ons u wyn en melk neem vir dié sonder geld
en lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop.

Lig vir die wêreld
kom skyn deur ons!

VONKK 275 “Re a mo leboga / Ons bring ons dank aan U”
Teks: Re a mo leboga (SeTswana) – Daisy Nshakazongwe, Botswana; Afrikaanse weergawe: Gerrit Jordaan © 2013; alternatiewe strofes: Breda Ludik 2013 Musiek: RE A MO LEBOGA – Daisy Nshakazongwe (Botswana), genoteer deur I-to Loh (Asian Institute for Liturgy and Music) © Afrikaanse teks: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) © Se Tswana-teks en musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Multikultureel – Gebede / Uitsending / Liefde, Dankbaarheid en Diens /  Toewyding

Voorsanger begin elke strofe soos aangedui:

SeTswana:
Re a mo leboga,
re a mo leboga,
re a mo leboga
Modimo wa rona.

Afrikaans:
Ons bring ons dank aan U,
ons bring ons dank aan U,
ons bring ons dank aan U,
want Heer, U is ons God.

Ander opsionele strofes:
1. Ons gee / ons hande vir U,
ons gee ons hande vir U,
ons gee ons hande vir U,
want, Heer, U hou ons vas.

2. Ons gee / ons oë vir U,
ons gee ons oë vir U,
ons gee ons oë vir U,
want, Heer, U sien ons raak.

3. Ons gee / ons voete vir U,
ons gee ons voete vir U,
ons gee ons voete vir U,
want U stap saam met ons.

4. Ons gee / ons asem vir U,
ons gee ons asem vir U,
ons gee ons asem vir U,
want U gee ons u Gees.

5. Ons gee / ons harte vir U,
ons gee ons harte vir U,
on gee ons harte vir U,
want U’t ons eerste lief.

6. Ons gee / ons alles vir U,
ons gee ons alles vir U,
ons gee ons alles vir U,
want U’t Uself gegee.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Jesus,
Goeie Herder van die skape,
deur wie die verlorenes gesoek
en in die kraal gelei word:
Voed ons en ons sal tevrede wees,
genees ons en ons sal gesond wees,
en lei ons dat ons by u kan wee.,
Amen

Skriflesing: 1 Samuel 16:1-13

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Soos met alle narratiewe tekste, kan jy gewoon die verhaal vertel of die teks dramaties lees.  So kan jy bv. hierdie video gebruik, vanaf 00:40 tot 03:00.  Jy kan ook ‘n groep kinders die teks laat “opvoer” terwyl jy dit lees.  Wys gewoon net voor die skriflesing ‘n aantal karakters aan en laat hulle doen wat jy sê terwyl jy lees.  Die “ouer seuns” gee bv ‘n tree vorentoe sodat die profeet na elkeen kan kyk.

Hierdie is natuurlik ‘n verhaal wat kinders na aan die hart sal lê.  Hulle weet hoe dit voel om uitgesluit te word of nie gekies te word nie.  Om vroeg te gaan slap terwyl die ander lekker dinge doen; aan die kinder-tafel te sit terwyl die mense so lekker kuier by die grootmenstafel; altyd agter in die kar te sit omdat jy die jongste is, ens.  Jy kan ook die kinders van die langste na die korste laat staan.  Verduidelik dat almal gedink het God gaan die grootste, sterkste, langste persoon kies om koning te wees.  Maar God kies die kleinste.  God kyk nie na hoe ons buite lyk nie, maar aan die binnekant.  God sien die hart, soos die OAV sê.

“How to train your dragon” sluit goed hierby aan.  Hiccup is ‘n jong Viking, die hoofman se seun, maar hy stel heeltyd teleur.  Hy is nie groot genoeg nie en hy hou nie daarvan om te baklei nie.  Maar wanneer hy een van die drake wat die dorpie terroriseer, mak maak, sien almal dat hy die leier is wat hulle benodig.   God kyk nie na hoe ons buite lyk nie, maar aan die binnekant.  God sien die hart, soos die OAV sê.

As jy aansluit by die tema dat God nie kyk na hoe ons buite lyk nie, maar aan die binnekant, dat God die hart sien, kan jy vir kinders hartvormige brille gee om tydens die preek te maak.  Druk die templaat op karton.  Gaan tot onderaan om dit af te laai.  Vul eenvoudig “$0” in by die prys en klik op “I want this”.

Hier is ‘n oulike inkleurprent.

Preekriglyn

Hierdie gebeure speel af in die tyd van Koning Saul as koning van Israel. Die Here en die profeet Samuel is egter hartseer oor Saul. Hy het ontaard in ‘n tragiese karakter. In Samuel 15 sê God dat Hy jammer is dat Hy Saul koning gemaak het.

In hierdie tyd stuur die Here vir Samuel om ‘n nuwe koning te gaan salf. Wanneer Samuel bang is om hierdie opdrag uit te voer, omdat hy bang is Saul – wat nog koning is – sal dalk uitvind dat hy ‘n nuwe koning gaan salf, verbloem die Here die werklike rede vir Samuel se besoek aan Isai.

Die Here kyk dieper

Wanneer Eliab opdaag, is Samuel oortuig daarvan dat hierdie oudste seun van Isai die verkose koning moet wees. Iemand skryf oor Eliab: “He’s got future written all over him.”

Vinnig kom ons egter agter dat die Here nie na dieselfde eienskappe as mense kyk nie. Die Here kyk dieper as die oppervlak – anders as mense se eerste indruk. Die Here kyk na die innerlike – dalk wil Hy wil onder andere weet hoe ons saam met mense kan huil en bid. Hy wil weet of ons ‘n passie het vir geregtigheid en ‘n hart vir verdwaaldes. Om hierdie rede vra die Here van Samuel om nog nie met sy soektog vir ‘n koning onder Isai se seuns op te hou nie.

Uiteindelik kom al Isai se seuns wat op daardie oomblik tuis is voor Samuel verskyn, maar nie een van hulle word deur die Here aangewys as die een wat deur Samuel as koning gesalf moet word nie. Daar is ‘n hele paar seuns wat Samuel as goeie kandidate beskou (op grond van hoe hulle lyk).

Onwaarskynlike kandidaat

Uiteindelik moet Samuel egter vir Isai vra of hy nie nog ‘n seun het nie. Isai antwoord: “Daar is die jongste.” Hy gee nog nie eers die seun se naam nie, so onwaarskynlik en onbelangrik word hierdie seun geag. Uiteindelik word hy tog geroep. Wanneer hy (ons ken steeds nie sy naam nie) opdaag, ruik hy waarskynlik nie goed nie en is hy waarskynlik ook vuil omdat hy pas uit die veld kom waar hy sy pa se skape oppas.

Wanneer hierdie seun voor Samuel verskyn, hoor hy by die Here dat dít die seun is wat hy tot die koning van Israel moet salf – ongeag hoe hy lyk, of hy nou vuil is of nie. Dit is nie die uiterlike wat die Here beïndruk nie, maar Dawid se hart wat vir die Here wys dat hy ‘n koning is. Hiervoor moet Samuel nie op sy menslike logika vertrou nie, maar op die wysheid en leiding van die Here.

Uiteindelik sal ons leer dat daar beduidende verskille tussen Saul en Dawid is. Saul het indrukwekkend gelyk, maar het as koning uiteindelik nie beïndruk nie. God is veel meer geïnteresseerd in die nuwe koning se hart en karakter – wat God liefhet en dien.

Dawid word uiteindelik Israel se mees besondere koning.

Groter prentjie

Wanneer hierdie gebeure plaasvind, is Israel se toekoms duister. Die geskiedenis van Israel is by ‘n ernstige draaipunt. Die eerste koning van die volk het sy kanse verspeel. God het hom as koning verwerp. Die begaafde jong man, Saul,  met die indrukwekkende liggaamsbou het die belangrikste ding in sy lewe verloor: God se seën vir sy koningskap. Dit was nie ‘n willekeurige besluit van ‘n wispelturige God nie, maar die gevolg van sy eie keuses.

Nou kom daar egter ‘n draaipunt met die aanwys van ‘n nuwe koning.

Boodskap

Hoe spreek die verhaal van Dawid se salwing as koning die kerk van die Here in Lydenstyd aan?

Styl van die kerk

Allereers word die styl van die kerk aangespreek. Samuel rou oor Saul en vind dit moeilik om die Here se opdrag uit te voer. Sy emosies van rou en vrees laat hom beswaar maak teen die Here se opdrag (sien opmerkings by 16:1-3).

Die verhaal fokus egter daarop dat God se wil gedoen moet word. God verstaan ons vrese, maar die koninkryk van God en sy wil is die primêre fokus van ons lewe. Die kerk kan nooit ‘n ander styl hê nie, as om haar eie vrese ondergeskik te stel aan God se wil en doel nie. God stuur Samuel. God kies ‘n nuwe leier.

So is God gedurig besig om mense in sy diens te stel wanneer ons nog nie eens daaraan gedink het nie. God is nie in ‘n doodloopstraat wanneer ons dink dat die einde aangebreek het nie. Hy sluit telkens ‘n nuwe toekoms oop en roep die kerk om Hom daarin te volg.

God kies die regte leiers

Vir die geloofsgemeenskap is dit altyd ‘n krisis as daar ‘n verval in leierskap kom.  Die natuurlikste reaksie by ons is om so gou as moontlik die “regte” persoon te kry wat die “vakuum” kan vul. Die grootste slaggat waarin ons kan trap, is dat ons menslike oorwegings gebruik wanneer ons kies. Dit is skrikwekkend hoe ons telkens in die geskiedenis in dieselfde slaggat trap. Dikwels kies ons leiers op grond van uiterlike oorwegings, en kom dan met ‘n skok agter wat eintlik in hul innerlike aangaan.

Samuel moes sekerlik verstaan dat die keuse van Saul op grond van sy uiterlike karaktertrekke sonder die seën van God niks beteken het nie. Tog trap hy weer in dieselfde slaggat wanneer Eliab voor hom staan. Die verhaal gaan teen die menslike grein in.

In ons teks is dit duidelik dat God se “kyk” en ons “kyk” nie ooreenstem nie. God se keuse is dikwels “vreemd” volgens ons manier van kyk. Ons sien dit telkemale in God se geskiedenis met sy mense dat Hy die onverwagse of “vreemde” keuse uitoefen. Wie sou Moses kies om ‘n volk uit Egipte te lei? Wie sou die jong Jeremia met so ‘n belangrike boodskap vertrou? Nie ek nie. God doen dit wel. Volgens menslike oorwegings moet Ismael in plaas van Isak gekies word, Esau in plaas van Jakob, ‘n magtige en wonderbaarlike bevryder in plaas van ‘n gekruisigde Christus. In die Dawid-verkiesing is God se styl om van die onbenullige iets groots te maak weer helder en duidelik.

Prof Willie Jonker skryf:
Die koninkryk van God het ‘n snaakse mannekrag-beleid. Oral in die wêreld geld dit dat kragtige figure en persoonlikhede gesoek word vir die werk. Maar in God se werk soek Hy nie na die sterkste persoonlikhede en grootste presteerders nie: Hy soek juis diegene wat swak is in hulleself, selfs die armes van gees.

‘n Ander teoloog skryf dat, soos in die geval van Israel, “God has magnified his mercy by choosing poor and undistinguished persons for this momentous destiny.” Dawid se koningskap berus geheel en al in God se keuse, nie in die voorkoms nie.

Volg God se keuse

Hierdie “vreemde” verkiesing van God bepaal ook die styl van die kerk. In gehoorsame afhanklikheid volg die kerk slegs God se keuse, al lyk dit ook sinloos. Immers, wat in ons oë eerste is, is nie noodwendig eerste nie (Mark 10:31). Mense verwag ‘n magtige bevryder uit die Romeinse onderdrukking toe hulle Jesus sien, een wat wonderwerke doen en wysheid het, maar God se wysheid en krag is ‘n Gekruisigde (1 Kor 1:18-31).  God se keuse is altyd vreemd.

Identiteit van die kerk

Dit bring ‘n tweede aspek na vore, naamlik dat die verhaal ook die identiteit van die kerk aanspreek. Helmut Thielicke skryf dat hy dikwels in die geselskap van motoreienaars was wat die lof van hulle eie karre besing het. Die een sal oor die spoed van syne spog. Die ander sal spog oor die manier waarop sy voertuig die steil bulte hanteer. Thielicke sê dat hierdie mense hul karre as ‘t ware as ‘n verlengstuk van hulle eie identiteit gesien het. Hulle het eintlik nie oor hul karre gespog nie, maar oor hulleself.

By ‘n ander geleentheid het hy aan ‘n student gesê: “Jy is ‘n baie begaafde jong man.” Die student het vreeslik gebloos – asof Thielicke hom geprys het. Thielicke het toe aan hom gesê: “Jy hoef nie te bloos nie, want dit was glad nie my bedoeling om vir jou te sê dat jy ‘n oulike mens of ‘n indrukwekkende man is nie. Ek het net gesê dat jy met gawes geseën is wat nie deur jou eie toedoen verkry is nie. Dit is aan jou geskenk. Daarom hoef jy nie te bloos nie!”

Met hierdie verhale kom iets baie duidelik na vore. Mense het die geneigdheid om hulle te identifiseer met enigiets wat hulle iets aan hulle prestige sal byvoeg of hulle sosiale stand sal verbeter. Hulle identifiseer hulle met hierdie dinge tot die punt waar hulle sê: “Dis wie ek is!”

Die teenoorgestelde is ook waar. Wanneer ons ware wese uitkom, naamlik dat ons ons skuldig gemaak het aan iets verskriklik, sê ons maklik: Dis nie ek nie!  Dan is die omgewing waar ek grootgeword het, die oorsaak dat ek hierdie “vreemd-aan menswees” dinge gedoen het. Dan wil ek verskoon word van wat ek geword het.

Niks bepaal egter ons identiteit meer as die feit dat ons deur God gekies en geseën is nie. Nie ons sonde, mislukkings of tekortkominge nie, nie ons grade, intellektuele vermoë of sosiale status bepaal ons identiteit nie. Ons is die Here se mense omdat Hy ons gekies en gesalf het om in sy diens te staan.

Wat “gekies” beteken

Om deur God gekies te wees, kan maklik misverstaan word. Dawid staan aan die begin van sy lewe as koning in God se oë, maar die pad vorentoe sal nie eenvoudig wees nie. Hy het die kragtige werking van die Gees in sy lewe nodig. Hierdie werking van die Gees in die lewe van mense maak hulle nie selfgenoegsaam nie. Die verkiesing en toerusting deur die Here is ‘n lewenslange pad en lei tot liefde, gehoorsaamheid en diens. Saul het dit misverstaan. Israel ook.

Wanneer die evangeliste aan die vroeë kerk die verhaal van Jesus vertel, moet hulle gedurig daarop nadruk lê dat die identiteit van die kerk nie in mag lê nie, maar diens (Mark 10:35-45).

Die kerk is ook nie ‘n indrukwekkende klomp mense bymekaar nie (1 Kor 1:26-31).  Die kerk volg nie haar Heer op ‘n pad van magsvertoon en glorie nie, maar deur die pad van diens onder beheer van die Gees. Die kerk ontvang nie die Gees sodat hulle meer “geestelik” as ander kan wees nie, maar sodat hulle mekaar met die gawes van die Gees kan dien en opbou (1 Kor 12). Deur die salwing van die Gees verbind God Homself aan gewonde mense en neem Hyself verantwoordelikheid vir die toekoms.

God bemagtig ons

Ons vind nie ons identiteit in verlengstukke van onsself nie. Nee, soos die nagmaalbrood geneem, geseën, gebreek en uitgedeel word (Henri Nouwen), is mense van God se identiteit geleë in God se vreemde keuse om gebruik te maak van kleipotte wat maklik breek. Die krag wat egter alles oortref, kom van God, nie van ons nie.

Ons natuurlike talente, rykdom en mag maak ons nie ‘n beter geloofsgemeenskap nie. Ons kan alleen leef onder die seën van God en in diens van ander. Bonhoeffer skryf: “Vir iemand wat dankbaar is, is alles ‘n geskenk, omdat hy weet dat hy absoluut geen reg op enigiets het nie.”

Luther vra ‘n paar vrae oor predikante. Wat het jy in ‘n predikant nodig sodat hy vir die mense aanvaarbaar is? Geleerdheid, ‘n mooi stem, ‘n mooi voordrag, mooi voorkoms (veral met die oog op die meisies en die vroue), en hy  moet mense altyd vertel wat hulle graag wil hoor. Wat het jy in ‘n predikant nodig om ‘n goeie predikant te wees? Goeie uitleg, ‘n helder verstand, goeie geheue (hoewel hy elders sê dat mens van 42 af jou sinne begin verloor), ‘n goeie stem, hardwerkendheid, die vel van ‘n olifant en dat hy van ophou weet.

Hoe word jy ‘n goeie predikant? Luther sê: ten eerste deur die genade van die Heilige Gees, ten tweede deur aanvegting, ten derde deur ervaring … ten slotte deur ywerige Bybelstudie.

Wat predikante geld, geld die kerk. Nie uiterlike dinge nie, maar die krag van God se genade, die kruisweg en ‘n lewe van toewyding aan God bring ons uiteindelik uit by die doel waarvoor God ons gemaak het.

Gepaste lied

Die prediking kan afgesluit word deur ‘n gepaste lied voor te speel, bv Ray Boltz se “When others see a shepherd boy” – hier is ‘n effens verkote weergawe vir gebruik in die erediens.
Nog ‘n gepaste lied van Kurtis Parks met ‘n jeugdige aanslag.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 70 Lig Vir Die Wêreld of
VONKK 275 Re a mo leboga / Ons bring ons dank aan U of
Lied 440 ‘Die Here salf ons met sy Gees”

Seën

Respons
VONKK 275:6 Re a mo leboga / Ons bring ons dank aan U
Ons gee / ons alles vir U, want U’t Uself gegee.
Lied 311 “Dit wat ons hier ontvang het’

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.