Vierde Sondag in Lydenstyd

Picture of Woord en Fees

Vierde Sondag in Lydenstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Johannes 9:1-41
Ander tekste: 1 Samuel 16:1-13; Psalm 23; Efesiërs 5:8-14

Inleiding

Geloof in Jesus is soos om van blindheid genees te word (Joh 9). Dit maak van jou iemand wat lig in ’n donker wêreld laat skyn (Ef 4). Hierdie mense weet dat hulle onder die beskerming en versorging van die Herder-God lewe (Ps 23) en dat die Gees van God kragtig in hulle werk (1 Sam 16).

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Die Here is my herder;
ek ly nie gebrek nie.
Gemeente: Net goedheid en troue liefde sal my volg
al die dae van my lewe,
en ek sal bly terugkeer na die huis van die Here,
tot in lengte van dae.

Voorganger: In groen weivelde laat Hy my rus;
na water waar daar rusplek is, lei Hy my.
Hy gee my nuwe lewenskrag;
Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.

Voorganger: Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,
is ek nie bang vir gevaar nie,
want U is by my.
Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.

Voorganger: U dek vir my ’n tafel
voor die oë van my teenstanders.
U verfris my kop met olyfolie;
my beker loop oor.

tot in lengte van dae (uit Ps 23).

Sien die liturgie rondom die sewe kruiswoorde en kerse in die basisliturgie.

Diens van die Woord

Gebed
Heilige God, Vader, Seun en ewige Gees,
U sorg vir ons op soveel meer maniere as wat ons kan begin om op te noem.
U was ons skoon met u trane.
U klee ons met u genade.
U heilig ons met u hoop.
U is hier by ons om deur u Woord met ons te praat.
Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor
en om u boodskap ter harte te neem.
Amen.

Diens van die tafel

Geloofsbelydenis
Ons glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge,
die Bron van ware lewe.
Ons glo in Jesus Christus, die lewende Here,
wat deur mense gekruisig is,
maar deur God opgewek is uit die dood.
Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker,
wat die ganse skepping vul met die lewe van God.

Uitsending

Voor die seën
Vroeër was julle die ene duisternis,
maar nou in die Here is julle lig.
Leef dan as mense van die lig.
Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is (uit Ef 5:8 en 9).

Preekstudie: Johannes 9:1-41

Inleiding

Die reis met die Johannesverhaal loop hierdie Sondag verder en is gelaai met simboliek. In die verhaal van Johannes 9:1-41, die genesing van die blinde man, is die beelde van lig en donker onmiskenbaar. Beelde van lig en donker is regdeur die Johannesevangelie teenwoordig. Reeds so vroeg as Johannes 1:5: “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” Hierna volg die opmerking oor hulle wat die duisternis liewer het as die lig (3:19-21) tydens Jesus se ontmoeting met Nikodemus. In 8:12 verklaar Jesus dat Hy die “lig vir die wêreld” is, en demonstreer die waarheid van sy aanspraak met die genesing van die blinde man (9:4-7). In 11:9-10, word die verskil tussen dag en nag, lig en donker uitgelig met verwysing na die naderende einde van Jesus se tyd op aarde. In 12:25-36, 46 en 13:30 vind ons die finale verwysings na lig en donker, met die skaduwee van die kruis en die donkerte van die graf reeds binne reikafstand (Koester).

Die konteks van hierdie verhaal is van ’n stryd met die Jode (wisselterm vir Fariseërs) oor die identiteit van Jesus in die lig van die genesing van ’n Joodse man. Volgens die Ou Testament is dit slegs God (Eks 4:11; Ps 146:8) en die Messias (Jes 29:18; 35:5; 42:7) wat blindes kan laat sien. Hierdie wonderteken van Jesus is dus ’n bewys dat Hy die Messias is; self ook God (Groenewald), ’n konsep wat die Jode moeilik kon glo. Daar is ’n duidelike kontras tussen hierdie geneesde man se insig (om Jesus te kan “sien”) en die Jode se onbegrip (geestelike “blindheid” vir wie Jesus is). Jesus is die lig vir die wêreld (die Seun van die mens), maar hulle kies steeds vir die duisternis (om nie in Hom te glo nie), selfs nadat Hy sy “Ek is”-uitspraak bevestig het met ’n Goddelike genesing.

Hierdie verhaal is in lyn met die uitdaging wat die outeur van die Johannesevangelie deurgaans aan sy lesers voorhou, naamlik om onomwonde Jesus Christus as die enigste Weg, Waarheid en Lewe te verkondig, teenoor enige ander leer of oortuiging – hetsy uit Joodse of nie-Joodse geledere. Daar is slegs een manier om na die Vader te kom en dit is deur Jesus (Joh 14:6-7). Vir die outeur is daar nie grys areas nie – ’n mens is of vir of teen Jesus; of vir die Lig of vir die duisternis.

Teks en konteks

Die struktuur van die Johannesevangelie is in breë die volgende: Proloog (1:1-18); Boek van Tekens (Signs and wonders 1:19-12:50); Boek van Verheerliking (Glory 13:1-20:31), en; Epiloog (Slot 21:1-25) (Johnson).  Die verhaal van Johannes 9:1-41 staan dus na aan die einde van die Boek van Tekens.

Die Boek van Tekens fokus op die optrede en werke van Jesus tydens sy aardse bediening. Die doel van Jesus se optrede is om God se teenwoordigheid en gesag in Hom, Jesus, bekend te maak, wat om die beurt weer tot geloof in Hom sou lei. ’n Mens sou daaraan kon dink as “verhale van geloofwaardigheid”. Hierdie verhale staan binne ’n breë boodskap in die Johannesevangelie naamlik, om ’n keuse te maak vir of teen Jesus. Te midde van onsekerheid, ’n verskeidenheid oortuigings, Joodse sowel as nie-Joodse invloede, die filosofieë van die Grieke en die politieke mag van die Romeine, moet dié wat volgelinge van Jesus is met oortuiging aan hulle geloof in die Seun van die mens kan vashou. Die Een wat deur God self aangewys is om die weg na Hom te wees en wat self ook God is.

Die genesing van die blinde man (Joh 9:1-12) is die sesde van sewe tekens wat Jesus uitvoer, in ooreenstemming met die sewe dae van die nuwe skepping. Die ander tekens is: die troue in Kana (2:1-11); die genesing van die offisier se seun (4:46-53); die genesing van die verlamde (5:2-9); die vermeerdering van die brood (6:1-13); Jesus wat op die see loop (6:16-21), en; die opwekking van Lasarus uit die dood (11:17-44) (Johnson). Ons het hier te make met ’n sleutelverhaal in die Boek van Tekens wat aan lesers ’n duidelike boodskap oor die identiteit van Jesus wil oordra, spesifiek teenoor die Jode wat nie kon begryp dat Jesus wel die Seun van die mens is nie.

Vers 1-5. Die verhaal open kort op die hakke van ’n onderonsie tussen Jesus en die Jode. Jesus is aan die stap (waarskynlik saam met sy dissipels) en “sien” dan ’n man wat van sy geboorte af “blind” was (9:1). Hierdie volwasse man ken dus geen ander werklikheid as die wêreld van ’n blinde persoon nie. In die antieke wêreld het fisieke siekte en gestremdheid verreikende implikasies gehad. Indien ’n babatjie met ’n gestremdheid wel die lewe gespaar is, was sy of haar lewe gekenmerk deur sosiale en godsdienstige uitsluiting. In ’n oorlewingsamelewing kon so iemand nie ’n bydrae lewer tot ’n huishouding nie (so is geglo), en godsdienstig is hulle as onrein beskou. Mense sou draaie om hulle geloop het en hierdie persone sou gewoonlik op die rand van die dorp of stad probeer oorleef het, afhanklik van aalmoese. Eerste aan die woord is die dissipels van Jesus, wat Hom as “rabbi” aanspreek. Binne hulle raamwerk van kousale denke oor siekte en lyding, moet hier ’n logiese oorsaak vir sy blindheid wees; of sy eie sonde, of sy ouers s’n (9:2). Jesus maak dit duidelik dat nie een van die twee die verklaring bied nie. Aangesien die man sedert geboorte blind is, is dit in elk geval na alle waarskynlikheid nie moontlik dat dit weens sy eie sonde kan wees nie (alhoewel enkele Joodse rabbi’s wel geglo het aan die moontlikheid van prenatale of fetale sonde) (Brown; Barclay). Die meer waarskynlike rede (in hulle denke, minstens) sou sy ouers se sonde wees (die gedagte aan erfsonde, in tekste soos Eks 20:5) (Groenewald). Beide moontlike oorsake word egter eksplisiet deur Jesus ontken.

Opvallend is dat Jesus nie vir hulle ’n “regte” antwoord op hulle vraag na die oorsaak gee nie, maar eerder aanvoer watter doel dit sal dien, naamlik dat ander mense deur hierdie man se “blindheid”, God se werke in hom sal kan “sien” (9:3) (Brown). Hier moet mens versigtig wees om eie afleidings te maak oor ’n oorsaak wat sou impliseer dat God die man doelbewus blind geskape het om hom te “gebruik” as ’n “les” vir ander. Sou mens hierdie soort interpretasie kies, moet daar baie goed besin word oor die wyse waarop God in sy deernis en liefde vir siekes daardeur teologies en pastoraal voorgestel word – veral vir luisteraars wat self met fisieke lyding worstel en nie gemaklik is met die opmerking dat “daar ’n doel met alles is” nie.

Onmiddellik word die gesprek verder gevoer en maak Jesus hiervan ’n leer-moment. Terwyl dit nog dag (lig) is, moet Hy en sy dissipels hulle beywer vir die taak van God. Die nag (duisternis) kom en dan is die geleentheid daarvoor op ’n einde (9:4). Hier is die klem veral op die naderende oordeel. Die dringendheid van die opdrag van God word benadruk; daar is beperkte tyd beskikbaar om die getuienis aangaande Jesus as Seun van die mens te verkondig. Die dissipels is egter nie aan hulleself oorgelewer om oor Jesus te getuig nie; Jesus kan, terwyl Hy op aarde is, self ook betrokke wees by die getuienis aangaande Homself en daardeur self mense uit die duisternis (ongeloof) na die lig (geloof) toe lei (9:5). Hierdie werk sal voortgaan na sy aardse bestaan (Groenewald).

Vers 6-12. Die fokus van die verhaal verskuif terug na die man self. Ons is onseker of die gesprek tussen Jesus en die dissipels deur hom gehoor is. Daar is egter geen melding van ’n spesifieke beweging vanaf Jesus na die man toe nie. Daarom is dit heel moontlik dat Jesus dit wel gedoen het. Dalk was dit juis doelbewus so gedoen – ’n verbale voorbereiding van wat nou tasbaar sou volg.

Alhoewel Jesus ook net ’n woord van genesing sou kon uitspreek, gaan Hy hier anders te werk (Groenewald). Hy spoeg op die grond en maak daarmee ’n bietjie klei aan (9:6). So grillerig soos wat ’n spoeg-en-kleimengsel vir ’n hedendaagse leser mag wees, was dit nie ongewoon in die antieke wêreld nie. Daar is geglo speeksel, van veral ’n vername persoon, helende kragte bevat (Barclay). Dit was wel ’n gebruik wat soms met magiese bedrywighede geassosieer is (Brown) en dus met omsigtigheid in die Joodse konteks gebruik is.

Die klei is aan die man se oë gesmeer en hy word deur Jesus “gestuur” na die Siloambad om homself te gaan was. Hierdie bad (in Hebreeus bekend as Shiloah) was op die suidelike punt van die oostelike heuwel van Jerusalem, naby die ontmoetingspunt van die Kidron en Tiropeaanse valleie. In Jesaja 8:6 lees ons van die water van Shiloah (Afr Siloag). Hierdie water is, volgens oorlewering, gebruik tydens Joodse waterseremonies en feesoptogte. Volgens rabbiniese bronne was dit ’n plek van reiniging (Brown). Die man het die opdrag uitgevoer en met sy terugkeer was sy sig herstel (9:6-7). Hy het dus nie net modder van sy oë afgespoel en fisieke genesing beleef nie. Hy is ook, binne Joodse godsdienstige konteks, gereinig. Vir die eerste keer in sy lewe was hy nou sosiaal aanvaarbaar tussen sy mense. Sy lewenslange onreinheid is van hom weggeneem. Hy sou nie langer as uitgeworpene op die rand van die samelewing leef nie. Hy het inderdaad ’n “wedergeboorte” beleef met sy afwassing in die Siloambad. ’n Nuwe lewe het vir hom aangebreek. Mens is byna spyt dat daar nie ’n opmerking gemaak word oor sy ervaring hiervan nie! Ons kan ons wel voorstel dat hy oorweldig moes wees; die ervaring van sig vir die eerste keer ooit, maar ook die sterk emosies omdat ’n nuwe hoofstuk vir hom aangebreek het.

In Johannes 9:8-9 lees ons die eerste keer dat die man, buiten vir sy blindheid, ook ’n bedelaar was. Ons kan ons voorstel dat, toe Jesus en die dissipels hom gesien het, hy gesit en bedel het op ’n besige plek. Dit onderstreep die ervarings van persone met siektes en gestremdheid in die antieke wêreld. Ons lees later in die verhaal van die man se ouers. Hy was nie wees nie, maar het weens sy blindheid as een geleef.

Die bure en ander kennisse is verward. Sommige herken hom as die een wat voorheen gebedel het terwyl ander dink hy lyk maar net soos die blinde bedelaar. Vir die eerste keer in die verhaal praat die man self en bevestig sy identiteit: “Dit is ek!” Hulle nuuskierige vraag oor sy genesing is verstaanbaar. Die man noem sy geneesheer, Jesus, by die naam en vertel wat gebeur het. So word hy ’n getuie van die wonderwerk self, asook van die Een wat die wonderwerk verrig het (9:10-11). Die mense is gretig om te weet waar Jesus is, maar die man weet nie waar Hy is nie. Ons kan aflei dat Jesus intussen die plek waar die genesing plaasgevind het, verlaat het.

Vers 13-23. Van hier af word die spanning wat die wonderwerk veroorsaak het, toenemend duidelik. ’n Mens kry byna die gevoel van ’n verhoor wat begin afspeel met die man as getuie onder kruisverhoor. Die eens blinde man word na die Fariseërs (later in die verhaal – Jode – die meer algemene Johannese term) geneem (9:13). Hierdie groep Jode, getrou aan die wet, moet nou ’n ernstige oortreding hanteer; die ontheiliging van die sabbat deur “hierdie man”, Jesus. Die Sabbatdag was vir die Jode die dag van afsondering vir God, die dag wat geheilig moes word. Jesus het hierdie gebod sopas dubbel en dwars oortree. Genesings van nie-lewensbedreigende kwale moes oorstaan na ’n ander dag. Daarmee saam het Jesus klei aangemaak (geknie) – een van die 39 verbode take op die sabbat, en die man se oë daarmee gesalf. Dus, ’n dubbele oortreding. Die kersie op die koek was die oortreding van die verbod op die plasing van speeksel op ’n persoon se oë op die sabbat (9:14) (Brown). Die man word weer uitgevra oor sy genesing, hierdie keer deur die Fariseërs. Hy gee ’n verkorte weergawe en verwys na Jesus as “Hy” (9:15).

Die Fariseërs se skerp verdeeldheid oor die identiteit van “hierdie man” (9:16) eggo die verwarring oor die identiteit van die eens blinde man in 9:8-9. Sommige van hulle het aangevoer dat iemand wat ’n sondaar is (nl een wat nie die sabbat onderhou nie) tog nie van God af kan wees nie. Ander het wel vrae gehad oor die vermoë van ’n persoon om wonderwerke te doen, indien dit sou wees dat hy wel ’n sondaar is. Die logiese redenasie, volgens hulle, is dat slegs ’n nie-sondige mens wonderwerke kan doen en deur God gestuur kan wees. Hulle redenasie is egter nie waterdig nie. Eksodus 7:11 vertel van die Egiptiese towenaars wat dieselfde wonderwerke as Aäron kon doen. Jesus self erken byvoorbeeld dat vals christusse en profete wonderbaarlike tekens en wonders sal doen wat selfs die uitverkorenes sal verlei (Matt 24:24) (Brown).

Hulle wend hulle weer tot die man om klarigheid oor Jesus se identiteit te kry, maar sy getuienis val op dowe ore. Hy beskryf Jesus as profeet, maar die Jode reageer glad nie hierop nie (9:17). Hulle fokus eerder op ’n skynbaar eenvoudiger saak, naamlik die egtheid van sy destydse blindheid en impliseer dat hy leuens daaroor en oor sy genesing vertel. Gevolglik word sy ouers as getuies opgeroep en ook onder kruisverhoor geneem. Die Fariseërs soek bevestiging van hulle ouerskap, sy blindheid sedert geboorte en sy genesing (9:18-19). Op die eerste twee sake kan sy ouers positief “ja” antwoord: Hy is hulle seun en hy was van geboorte af blind (9:20). Hoe dit egter gebeur het dat hy nou kan sien en wie daarvoor verantwoordelik is, kan hulle nie sê nie. In ’n byna desperate poging om weg te kom van die Jode se ondervraging, sê hulle dat hulle seun wetlik oud genoeg is om self hieroor te kan getuig (9:21). Hulle was tereg bang vir die Jode: Die ernstige straf van verbanning van gelowiges uit die sinagoge sou toegepas word op enige Joodse-Christen, dus ’n Joodse gelowige wat Jesus openlik as Christus sou verklaar (9:22-23). Hierdie was ’n baie ernstige straf en het effektief iemand van die Joodse geloofsgemeenskap afgesny.

Vers 24-34. ’n Tweede keer word die man voor die groep godsdienstige leiers geroep. ’n Beter vertaling vir die woorde “Praat die waarheid voor God” (NAV) is: “Gee aan God die eer” (OAV). Die uitdrukking het ’n regs-godsdienstige konnotasie, maar is terselfdertyd dalk doelbewus dubbelsinnig: hy gaan immers eer aan God gee met sy woorde (Brown)! Die saak is skynbaar duidelik vir die leiers: “hierdie man” is ’n sondaar (9:24). Die man se reaksie bevat ’n tikkie irritasie wat in die volgende antwoord sterker uitkom. Hy erken hy kan nie oordeel oor die beskrywing van Jesus as sondaar, al dan nie. Hy kan wel sy eie storie vertel en dit is waar: voorheen was hy blind en nou kan hy sien (9:25). Weer vra die leiers hom hoe dit gebeur het (9:26) waarop hy skerp antwoord. Die verhaal is al vertel en hulle wou hom nie glo nie. Watter verskil sal nog ’n weergawe daarvan maak? Dan volg die woorde wat die woede by hulle ontlok: “Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?” Met een sin ontbloot hy hierdie groep se agenda, naamlik dat hulle aanhoudende vraagstelling beslis nie met edele motiewe is nie (9:27).

Die vet is in die vuur en die grense word (letterlik!) duidelik deur die leiers getrek: Hy mag dalk ’n dissipel van “hierdie man” wees, maar hulle is dissipels van Moses, die ware profeet. Hulle staan vas op hulle oortuigings oor Moses, wie se verhouding met God bekend aan hulle was, maar weet niks van “hierdie man” nie. Hiermee sê hulle eintlik: “Ons is reg en jy is verkeerd. Hierdie man kan nie van God af wees nie. Jy dwaal in die duisternis en ons is in die lig.” (9:29)

Op hierdie punt van die verhaal sou ’n mens verwag die man sou stilbly, of selfs sy aanspraak dat Jesus ’n profeet is, ontken. Die Joodse leiers was immers invloedryke en magtige persone wat die lewe vir hom moeilik kon maak. Maar dit is asof hulle ontsteltenis hom aanspoor om hulle met ’n kragtige getuienis uit te daag. Hy ken die godsdienstige oortuigings net so goed soos hulle. Byna sarkasties begin hy: “Dis darem snaaks . . .”, en gaan verder: “. . . julle weet nie . . .” Hy verduidelik dan presies waaroor hulle almal saamstem, naamlik dat nie hy of hulle weet waar “hierdie man” vandaan kom nie. In dieselfde asem kan hy met eerlikheid sê “hierdie man” het tog ’n wonderwerk verrig, ook dat God gehoor gee aan dié wat ontsag het vir Hom en sy gebooie gehoorsaam. Tot nou toe is daar nog nie vertel van iemand wat blindheid vanaf geboorte kon genees nie. Sou “hierdie man” dan niks kon doen, indien hy nie van God af was nie, soos hulle beweer (9:30-33)?

Die leiers reageer byna wreed hierop, met die laaste strooihalm tot hulle beskikking. Hulle gooi hulle simplistiese denke terug in sy gesig: hy wat nou praat, is reeds ’n sondaar van geboorte af. Wat kan hy vir hulle, die room van die Joodse godsdiens, kom leer? Daar bly één opsie oor: hy moet uit hul sig verdwyn. Kommentators verskil van mening of hier verwys word na ’n formele uitbanning uit die sinagoge, of eerder net ’n verwydering van die man uit hulle teenwoordigheid.

Vers 35-41. Nes mens wil vra waar Jesus is, maak Hy weer sy verskyning. Nadat Hy die nuus ontvang het dat die man “weggestuur” is, het Hy hom “gevind” en hom gevra of hy in die Seun van die mens glo (9:35). Hierdie titel hou verband met die oordeel wat in 9:39-41 beskryf gaan word (Brown). Die man wil in die Seun van die mens glo, maar besef nie dat dit die einste Jesus is wat voor hom staan nie. In die lig van sy genesing is die woorde van Jesus kragtig: “Jy ‘sien’ Hom. Dit is Hy wat met jou praat”. Die laaste gesprek wat hulle gehad het, was immers toe die man nog blind was. Toe kon hy net hoor. Nou kan hy sien én hoor (9:36-37). Sy sig is in hierdie oomblik ook veel meer as net die letterlike; hy het nou die geleentheid om die Een wat voor hom staan te “aanvaar” as die Een met Goddelike gesag.

Uiteindelik is daar geleentheid om die sirkel te voltooi – vanaf die genesing, deur die ondervraging en “verhoor”, tot by ’n sogenaamde bekeringsmoment. Jesus se identiteit as Seun van die mens is deur hierdie man bevestig en dit het tot geloof in Jesus gelei (9:38). Die man kan sien en hy glo.

Dadelik word die persoonlike ontmoeting tussen die man en Jesus oopgemaak vir ’n groter gehoor. Dit plaas die aanvanklike woorde van Jesus oor die man se blindheid in perspektief. Jesus se lering is dat Hy wel kom om te oordeel. Hierdie oordeel gaan na twee kante toe sny: dié wat “nie sien nie” (nog nie glo nie), sal Hom leer ken. Hulle wat wel volgens wêreldse standaarde “kan sien” (oënskynlik glo), sal in die duisternis moet leef (9:39). Vir die Fariseërs wat dit hoor, was dit ’n ontstellende uitspraak. Hulle begryp steeds nie en sê dat hulle nie blind is nie (9:40). Jesus se antwoord is verdoemend: was dit maar dat hulle blind was, sou hulle onskuldig gewees het. Maar omdat hulle oortuig is hulle kan sien, is hulle skuldig. Hier is uiteraard ’n sinspeling op “blind” en “sien” – die Fariseërs dink waarskynlik meer letterlik, terwyl Jesus na die figuurlike en geloofsbetekenis verwys.

Preekvoorstel

Daar is enkele temas wat na vore kom in die teks:

Lyding en genesing: Dit is opmerklik dat daar vir hierdie vierde Sondag in Lydenstyd ’n evangelieteks voorgestel is wat handel oor fisieke lyding en genesing. Die verhaal self raak aan die eeu-oue teodosieë-vraagstuk: Wie of wat is die oorsaak van lyding en hoe moet God oorsaaklik betrek word by lyding al dan nie? Waar is God te midde van lyding? As God die Almagtige is, hoekom laat Hy lyding toe? Jesus se eie beantwoording van die vraag van die dissipels dien as ’n herinnering om nie te vinnig met maklike antwoorde op moeilike vrae te kom nie – veral nie in ’n eenrigting gesprek van ’n preekkonteks nie. Dit is presies wat die dissipels, en later die Jode, in hierdie verhaal wou doen. In hulle teologiese denke was daar ’n netjiese oorsaak-gevolg boksie waarbinne lyding verklaar kon word; iewers het iemand gesondig. Tog bied hierdie verhaal self nie netjiese oplossings nie. Mens behoort versigtig om te gaan met die argument dat “God met alles ’n doel het”, ’n interpretasie wat ’n verdraaiing sou wees van Jesus se opmerking teenoor sy dissipels. Ons kan wel sê God kan uit alles iets goeds laat kom. Tog is absolute en definitiewe, selfs met hierdie stelling, gevaarlik. Onopgeloste eindes, lewens aan flarde en stomp verhale is deel van die menslike bestaan én van geloofsverhale. Ons troos mense nie deur hierdie kompleksiteite te probeer vereenvoudig nie. Dalk is hierdie verhaal juis ’n geleentheid om eerder die onverstaanbare en onverklaarbare van lyding toe te lig.

Die manier waarop die man deur die dissipels, bure en bekendes, sy ouers en die Jode bespreek en hanteer is, staan in skrille kontras teenoor die wyse waarop Jesus met hom omgaan.  In ons eie konteks ervaar persone met gestremdheid dikwels dat oor hulle gepraat word, of dat hulle oorgesien of deurgekyk word. Ook in geloofsgemeenskappe is ons fisieke ruimtes, gebruike en byeenkomste nie noodwendig verwelkomend of toeganklik vir persone met beperkings of gestremdheid nie. Moontlik is hierdie teks juis ’n uitnodiging om na te dink oor die mate waarin ’n geloofsgemeenskap inklusief, verwelkomend en toeganklik vir alle persone kan wees – beginnende met eredienste.

Getuienis, genesing en wonderwerke. Die man het ’n kragtige getuienis gehad om te lewer. Hy doen dit sonder skroom – eers teenoor “die bure en ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het” en later herhaaldelik teenoor die Jode (9:8). Dit is bewonderenswaardig dat hy, ten spyte daarvan dat sy verhaal gedurig betwyfel word, aanhou om dit te vertel. Sy eie radeloosheid met mense se reaksies daarop is sigbaar in die wyse waarop hy later met die Jode kommunikeer. Daar het ’n wonderwerk in sy lewe gebeur en niemand kan of wil die herstel van sy sig saam met hom vier nie. Inteendeel, mens kry amper die indruk die meerderheid van sy gehoor sou verkies hy moet eerder aanhou ly omdat dit minder ontwrigtend vir hulle sou wees! Daar word gedebatteer oor die werklikheid van die genesing, die egtheid van sy aanvanklike blindheid, en die rol wat “hierdie man” Jesus in die wonderwerk gespeel het. Kopdinge, terwyl hy ’n hartservaring gehad het.

Dikwels is daar die ervaring by medegelowiges, in tradisies buite die gereformeerde konteks, dat neus opgetrek word vir genesingsverhale, of dat die taal van wonderwerke nie juis aangemoedig word nie. In gereformeerde kringe word ook meermale skerp kritiek uitgespreek teen die misbruik van massasaamtrek wonderwerk- en genesingsgeleenthede, met goeie reg; dit is immers geleenthede wat dikwels met finansiële uitbuiting en emosionele en psigologiese opsweping gepaard gaan.

En tog, ongeag ’n mens se persoonlike mening oor hierdie tipe genesings en wonderwerke, sou ’n gelowige beswaarlik kan ontken God ingryp in ons werklikheid en dat Hy betrokke is by ons persoonlike lewe en gemeenskappe. Dat Hy daagliks genesing op allerlei maniere laat plaasvind: Dink aan ’n stukkende huwelik wat herstel word, ’n depressielyer wat met behandeling weer kans sien vir die lewe, ’n jong ma wat genees van kanker, ’n bui stortreën na weke se droogte vir ’n radelose boeregemeenskap, ’n vreedsame oplossing in ’n moontlike plofbare politieke situasie.

Dalk sou ons ons soms te eng verstaan van “genesing” wyer kon oopgooi as bloot net die wonderbaarlike, dramatiese fisieke genesings wat gelowiges beleef. Dankbaarheid, koinonia en bemoediging kan aangemoedig word in die deel van sulke verhale van hoop, ook tydens eredienste. Die getuienis van Christene is immers dat Jesus Christus lééf! Hy is kragtig teenwoordig in en by ons deur die werking van die Heilige Gees. Hierdie getuienisse is natuurlik nie ’n maatstaf van geloof nie, maar eerder aanduiding van die genade om te kan raaksien waar God betrokke is in mense se lewe. En, wanneer mens dit self nie kan raaksien nie, aan medegelowiges te vra om die oë en ore te wees.

Die verhaal gaan egter om veel meer as net ’n fisieke genesing. Hierdie man het ’n ontmoeting met die Seun van die mens gehad. Daarin lê die krag van sy getuienis; sy lewe is verander omdat Jesus hom genader het. Dit is die getuienis wat elke volgeling van Jesus het om te vertel ongeag hoe dit gebeur het. ’n Getuienis wat ons met dieselfde vrymoedigheid en moed as hierdie man kan deel, wanneer die geleenthede daarvoor aan ons gegee word.

’n Geloof sonder ruimte vir verrassings. Die Jode in hierdie verhaal is ongemaklik met Jesus omdat Hy nie aan hul verwagtinge voldoen nie. Inteendeel, hulle het geen verwagtinge nie, want hulle was oortuig hulle het reeds die volle kennis en insig oor God. Hulle het immers die profeet Moses geken, met die lang tradisie van die uitverkore volk, priesters, konings en profete agter hulle. Hulle behoud is godsdienstige reëls en regulasies wat hulle al in hulle slaap kon opsê, waaronder dié oor die sabbat. Hulle verstaan alles, begryp alles, weet alles. Daarom hulle ontsteltenis oor “hierdie man” wat kan genees en homself as profeet voordoen. “He stirs, where they do not want things to be stirred.”

Die Lewende God kan nie voorgeskryf word nie. Hulle wat dink hulle lewe in die lig, leef dalk in werklikheid in die duisternis. Hulle wat nooit uitgedaag kan word om anders te dink oor wie God is, of hoe Jesus te werk gaan nie, maak van geloof ’n afgodsdiens. Hulle wat so seker is van hulle saak dat daar geen ruimte vir vrae of twyfel is nie, bou mure wat skynbaar veilige hawes skep, maar eintlik net tronkmure is wat die ware liefde van hulle lywe wil weg hou. So ’n selfversekerdheid maak God klein en pas Hom presies in die gietvorm wat mensehande geskep het. Die Seun van die mens wil grense deurbreek en nuwe moontlikhede oopmaak sodat elkeen wat Hom aanroep, verwonderd mag staan oor wie Hy is.

Bibliografie

Barclay, W  1975. The Daily Study Bible. Revised Edition. The Gospel of John, Volume 2, Chapters 8-21. Edinburgh: The Saint Andrew Press; Brown, Raymond E 1966. The Anchor Bible. The Gospel according to John I-XII. Volume 29. New York: Doubleday; Groenewald, E P 1980. Die Evangelie van Johannes. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers; Johnson, Luke Timothy 1999. The Writings of the New Testament. An Interpretation. Revised Edition. Philadelphia: Fortress; Koester, Craig R 2003. Symbolism in the Fourth Gospel. Meaning, Mystery, Community. 2nd Edition. Minneapolis: Augsburg Fortress.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.