Vierde Sondag in Lydenstyd

Picture of Woord en Fees

Vierde Sondag in Lydenstyd

Liturgiese Voorstel

 Leesroostertekste

Sleutelteks: 2 Korintiërs 5:16-21
Ander tekste: Josua 5:9-12; Psalm 32; Lukas 15:1-3, 11b-32

Inleiding

Tradisioneel word hier Sondag Laetare genoem, wat beteken, “wees bly”.
Om met integriteit te lewe beteken om eerlik voor God lewe, om heel te wees. God se verbondskinders lewe as bevrydes. Die sonde het geen houvas meer op ons nie, dit is reeds deur Christus aan die kruis oorwin. Dit beteken nie dat ons sonder sonde is nie. Dit beteken eerder dat ons nie hoef bang te wees of te huiwer om voor God te bely wie ons is nie. Ons is deur Christus se lyding met God versoen; tydens hierdie erediens vier ons dit.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Skuldbelydenis en vryspraak
Gebruik Psalm 32

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Here Jesus, net soos die tollenaars en sondaars wat almal die gewoonte gehad het om na u woorde te kom luister, nader ons nou tot U. Praat met ons deur u Woord. Amen.

Diens van die tafel

Hierdie diens is ’n ideale geleentheid om ’n verkorte weergawe van die Belydenis van Belhar as belydenis voor te hou.
Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.
Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk,  die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.
Ons glo dat die versoeningswerk van Christus sigbaar word in dié kerk as geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is;
Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het; dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem word omdat hulle vredemakers is; dat die kerk deur woord en daad getuies is van die  nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon;
Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg.

Uitsending

Sien by die basisliturgie die “Franciskaanse seënbede” wat deurlopend in Lydenstyd as uitsending gebruik kan word.
Dit kan afgewissel word as ’n seënbede wat deur die voorganger gelees word of hardop deur die gemeente opgesê word.

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 397 “Ontsluit, o Heer, ontvlam ons hart”
Loflied:Lied 190 “Grote God, aan U die eer”
Skuldbelydenis
Antwoord op skuldbelydenis:Lied 32 “Gelukkig is die mens wat Hy vergewe”
Uitsendingslied: Lied 312 “Amen”

Preekstudie: 2 Korintiërs 5:16-21

Inleiding
In Paulus se tweede brief aan die gemeente in Korinte hoor jy hoe die “13de apostel” se hart klop, “a pouring of the man self” (Hillyer). Dit loop oor van Paulus se intieme gevoelens en dit beskryf sy geloofservaring. Dié brief is subjektief en persoonlik (Müller). Hy skryf waarskynlik die tweede brief in 56 nC. Nie lank na sy eerste brief nie. Terloops, hy het minstens vier briewe aan die gemeente geskryf.

Die tweede brief bestaan kortliks uit drie dele: (1) Paulus verduidelik wat hy doen en verdedig sy bediening (2 Kor 1-7); (2) Vrygewigheid en kollekte vir Jerusalem (2 Kor 8-9); (3) Paulus verdedig sy apostoliese gesag (2 Kor 10-13) (sien Harris; Du Rand en Müller). Die eerste deel het drie onderafdelings: Wat in die verlede gebeur het; Die aard van sy bediening; Blydskap oor Titus se goeie nuus (Du Rand).

Teks

Ons teks val binne die aard van Paulus se bediening. Hoewel mens 5:11-21 (of 5:16-6:2  Harris) as ’n eenheid kan lees, maak vers 16-21 as ’n eenheid wel sin. Ek reken die argumentering oor die “korrekte” teksindeling is ’n onnodige luukse wat nie die kontekstualisering van die teks hoef te benadeel of Paulus se boodskap behoort te beperk of te verskraal nie. Immers, Paulus begin vers 16 met “Van nou af” deel gelowiges aan die dood en opstanding van Christus, en eindig vers 21 met “sodat ons” in Christus se versoening deel.

Volgens vers 16 bring die lewensvernuwing van die gelowige verandering in jou verhouding tot ander mense, veral mense so anders as jy. Paulus se bekering getuig hiervan. Bernard skryf: “I know better now, for I have learnt since my conversion that the national Messiah of the Jews is Himself the incarnate Word, to whom every race of men is alike related, for He is the Christ of the Catholic Church of God. In personal religion the merely historical must yield precedence to the mystical element; it is of great interest and of real value to learn all that can be known about the Birth, Life, Death and Resurrection of Jesus of Nazareth, but it is the present Life of Christ, ‘ín whom’ we may be found if we will, that is of religious import, as is further explained in verse 17.”

Paulus verwerp nie enige kennis of belangstelling in die historiese Jesus nie, maar wel ’n beperkte menslike blik op Christus (Harris). Nou kyk ons, almal wat deur die geloof met Christus gesterf en opgestaan het, na mekaar op ’n geestelike manier, en ons fokus nie meer op die uiterlike, menslike maatstawe, of vanuit ’n wêreldse perspektief nie. Ons beoordeel nie soos vroeër Christus, en enigiemand anders, uit selfsug, onopregtheid of vooroordeel nie. Ons kyk met Christus se oë na ander, veral diegene so anders as ons.

Vers 17. Die hele mens word vernuwe, die ou dinge is verby, ’n nuwe skepping het plaasgevind, iets totaal anders. “Whenever a person comes to be part of the body of Christ by faith, there is a new act of creation on God’s part” (Harris). Meer nog, dit klink vir my wys om in plaas van die 1983 Afrikaanse vertaling “Iemand wat aan Christus behoort” eerder “iemand in Christus” (OAV) en “anyone in Christ” (NIV), te lees. Dit verskraal nie die intensiteit, intimiteit en mistiek in Christus nie. “To be έν Χριστώ is a very different thing from claiming to be Χριστοΰ ‘óf Christ’” (Bernard). Paulus kondig in die vers die diskontinuïteit tussen die ou en nuwe bedeling aan. Hier is iets radikaal aan die gebeur. Stanley verwoord op dramatiese wyse die gevolge van vers 17: “the Death of Christ as a new epoch in the history of the human race. Had he foreseen distinctly that a new era would be dated from that time; that a new society, philosophy, literature, moral code, would grow up from it over continents of which he knew not the existence; he could not have more strongly expressed his sense of the greatness of the event than in what is here said” (aanhaling deur Bernard).

Vers 18 en 19. Dit alles (nuwe dinge) is die werk van God. Die nuwe lewensuitkyk met nuwe standaarde/ leefstyl (16) en nuwe bestaan/skepping (17) is God se inisiatief. God is die outeur van die tweede skepping, soos van die eerste (vgl 4:6) (Harris). Alle dinge is immers uit Hom en deur Hom en tot Hom (Rom 11:36) (Groenewald). God het die nuwe skepping op die basis van die soenoffer van Christus gevestig. God is die inisieerder/oorsprong van en doel tot versoening (Hillyer). Die verse stel dit onomwonde: “God was the reconciler, that it was mankind that God reconciled to himself (cf. Col 1:20), although there is a sense in which this reconciliation was mutual: that Christ was God’s agent in effecting reconciliation (“through Christ . . . in Christ”); that the reconciliation has been accomplished (“reconciled . . . was reconciling”); and that reconciliation involved the imputation of rightneousness” (Harris). Twee begrippe “versoening” en die “bediening van versoening” tree op die voorgrond. Die woord wat met versoening vertaal word, kan teruggevoer word tot die Hebreeuse woord wat ruilwaarde aandui (Groenewald). “Paulus het begryp dat die dood van Christus aan die kruis ’n handeling van God was waarby die ruilwaarde vir ons sondes aangebied is” (Groenewald). Die apostels kry die opdrag om die boodskap van die versoening uit te dra, of eerder, te bedien. Soos Jesus nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie (Mark 10:45), is daar ’n noue verband tussen versoening en dienslewering (Groenewald). Dis ’n roeping tot selfprysgawe. Versoening kos ’n prys! Nuwe mense leef versoenend en bedien ander met versoening. Soos in Johannes 3:16 rig God nie sy versoening aan enkelinge nie, maar op die wêreld (vgl Groenewald en Kistner).

Vers 20. Paulus en sy medewerkers tree as ambassadeurs/bekendmakers/boodskappers van God op. Die gesag lê nie net op Paulus en sy medewerkers nie, ook nie daarna slegs op predikers (soos Groenewald verklaar nie). Dis ’n appèl op almal wat deur God versoen is. Verder: “This appeal issued in Christ’s name, this message of reconciliation, is the God-designed link between the objective word of reconciliation and its subjective appropriated accomplished fact. Yet there is a real sense in which reconciliation was effected before its results were subjectively felt. Paul speaks of receiving reconciliation (Rom 5:11), which would imply both an offer and something to offer” (Harris).

Vers 21. Die sondelose Christus word ter wille van die sondaar die draer van sonde gemaak. “So complete was the identification of the sinless Christ with the sin of the sinner, including its dire guilt, and its dread consequence of separation from God, that Paul could say profoundly, ‘God made him . . . to be sin for us’” (Harris). Sonde wat tipies van die mens is, en geregtigheid eie aan Christus, kom in die vers teenoor mekaar te staan. God het in sy genade ’n ruil bewerk (vers 18) (Groenewald). Die sonde word op Christus se rekening geplaas en die geregtigheid (vryspraak) is aan gelowiges, op grond van hul eenheid met Christus, op hul rekord gesit. Gelowiges word vrygespreek en is vrygekoop. Hulle ontvang vergifnis en is met God versoen.

Konteks

Paulus se teologie plaas groot klem op Jesus Christus se soenoffer en die voortspruitende werk van versoening. Hoewel die Griekse woord katallasó en verbuigings daarvan net drie keer in Paulus se skrywes voorkom, dra versoening en regverdigmaking besondere teologiese gewig vir Paulus (Goppelt). “That people in the primitive church before already spoke about reconciliation through Christ is improbable. In all the Christian literature of the 1st century this word is found only in Paul. It corresponds to his way of seeing Christ’s work of salvation strictly as the work of God. The God of the New Testament was the strictly in-person God of the Old Testament. He gave his word to people so that partnership was established that could be compared to a marriage between two people (Rom 3:2-5). Only because Paul saw God as person in this way could he speak about reconciliation between God and man” (Goppelt).

Die dood en opstanding van Christus bring ’n totaal nuwe lewensverhouding tot stand. Diegene in Christus staan in ’n nuwe verhouding tot God en ander mense. Dit bring een nuwe mensheid na vore. Die brug tussen God en mense is herstel. Die mure wat mense skei is afgebreek. ’n leefstyl van versoening veronderstel  uitdagende kopskuiwe en selfprysgawe vir Paulus en al die dienaars van versoening.

Die bediening van versoening laat die hart van die Christelike geloof goed en reg klop. Die universele en kosmiese versoening in Christus het reeds plaasgevind. God het deur Christus die wêreld met Homself versoen (19). Dié wêreld bestaan uit gelowiges en niegelowiges en sluit ons vyande, agnostici en ateïste in. Aan die ander kant word mense uitgenooi om tot diens van versoening te wees (Kistner). “The experience of God’s reconciliation in Christ that has already happened and that comprises all humans and creation, obliged Paul to take an uncompromising stand against members of the Church who were anxious to establish barriers of irreconcilability in the Church (for instance, those in Galatia). At the same time it exposed him to the persecution by religious leaders of the Jewish religious community as well as by the Roman Empire” (Kistner).

Die  alomvattende versoening van God met die wêreld in Christus, wat reeds plaasgevind het en wat deur die Kerk geïmplementeer en deur gelowiges bedien word, stel geweldige uitdagings. Dit is ’n “. . . highly provocative message of the Church as an alternative society that obliges her to practise participation of all its members and sharing of its resources in its own life as well as in its relationship with the whole human community of which it is part” (Kistner).

Dit is nie vreemd dat die Belydenis van Belhar groot klem op versoening plaas en veral in dié verband op Paulus se skrywes steun nie. Kortliks: “Die Belhar-belydenis getuig dat God die Een is wat sy mense versamel, beskerm en versorg (aanhef); dat Hy eenheid in vryheid, eenheid in verskeidenheid en eenheid in nabyheid tussen ons smee (artikel 1); dat Hy herstellende versoening (artikel 2) en versoenende geregtigheid (artikel 3) tussen sy mense vestig; dat Hy die Here is wat regeer en ons versorg, en dat Hy die Een is aan wie ons die grootste lojaliteit verskuldig is (slot)” (Koopman). Artikel  3 lui: “Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het; dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem geword omdat hulle vredemakers is; dat die kerk deur woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon (2 Kor 5:17-21; Matt 5:13-16; Matt 5:9; 2 Pet 3:13; Op 21:22); dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees die magte van die sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap, oorwin het; dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees sy volk in staat stel om te leef in ’n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring (Ef 4:17-6:23; Rom 6; Kol 1:9-14; Kol 2:13-19; Kol 3:1-4:6); dat hierdie boodskap ongeloofwaardig gemaak word en dat die heilsame uitwerking daarvan in die weg gestaan word indien dit verkondig word in ’n land wat op Christelikheid aanspraak maak, maar waarin die gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag onderlinge vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig; dat enige leer wat sodanige gedwonge skeiding vanuit die evangelie wil legitimeer en dit nie wil waag op die pad van gehoorsaamheid en versoening nie, maar uit vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof die versoenende krag van die evangelie by voorbaat verloën, ideologie en dwaalleer is. Daarom verwerp ons enige leer wat in die naam van die evangelie of die wil van God die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in so ’n situasie sanksioneer en daardeur die bediening en belewing van die versoening in Christus by voorbaat belemmer en van krag beroof.”

Versoening is herstellend. Sonder geregtigheid is dit onvoltooid. Dit impliseer heelheid en heling, en kan met die Hebreeuse shalom vergelyk word (Botman). Ware versoening beteken nie om vinnig vrede te maak nie. Dit lei tot bevryding en dit is ’n proses wat bestuur word, aldus Schreiter (Botman). Ware versoening legitimeer nie eie groepbelange en behoeftes nie, maar transendeer jou eie belange en behoeftes. Dit veronderstel selfprysgawe. En “ek kyk nog soms na mense met my ou blik. Intussen wil ek hê dat God na my deur Jesus se oë moet kyk” (Janson).

Versoening kan opsommend in drie kategorieë beliggaam word: Versoening van die wêreld met God; versoening tussen gelowiges en versoening in die kerk (Smit).

Preekvoorstel

Versoening in Christus transendeer groepbelange
Een moontlike gedagte is om in jou preek op die gesindheid van die bekendmakers (lidmate), hulle bediening en beliggaming van versoening te fokus. Hoe lyk ’n gemeenskap wat in Christus versoen is – ’n introspeksie? Versoening het verreikende implikasies, vol uitdagings en struikelblokke, maar dit behoort verrykende nuwe geleenthede en ervarings mee te bring. ’n Nuwe bevryde gemeenskap – een nuwe mensheid in Christus wat met ’n nuwe blik, met die oë van Jesus na ander mense kyk. Dit transendeer eie belange en word deur ander se eie unieke menswees en kultuurverskille verryk. Lidmate kan nie geloofwaardig die boodskap van versoening uitdra indien die kerk self onversoend leef nie. Aparte kerke vir aparte kultuurgroepe beteken die voortsetting van Apartheid en dien nie die goeie nuus van versoening in Christus nie. Dit belemmer nasionale versoening en verskraal die krag van die evangelie. En, belangrik, hoe lyk ’n versoende gemeenskap na buite – ’n inspeksie? Hoe hoor, sien, dink en beleef mense/ buitekerklikes/agnostici en ateïste die versoende gemeenskap? Hoeveel van die evangelie van versoening vertoon ons? Die menings op webblaaie en in die media kan hier getuig.

“Ons kan allerhande soorte mooi slagspreuke uitdink en probeer om die kerk en ons gemeente te bemark. Ons kan mooi borde en brosjures produseer. Dit sal alles niks help as ons nie self die produk is wat bemarkbaar is nie. Dit sal sigbaar moet word in ons lewe as gemeente dat Jesus ’n verskil in ons maak” (Julian Müller). “Terwyl kerke verdeel is, kan ons die mooiste storie opmaak, maar die produk is ongeloofwaardig” (Julian Müller)

Nuwe mense wat in Christus versoen is, behoort die nuwe Suid-Afrika se behoefte aan versoening te verstaan en dit in woord en daad te leef. Christus het immers die magte van onversoenlikheid aan die kruis oorwin.

Versoening behoort deur ons geleef en deur ander beleef te word.

Bibliografie

Bernard, J H 1979. The expositors Greek Testament,
vol 3
; Botman, H R. To remember and to heal; Du Rand, J 2003. Die Bybel A-Z; Goppelt, L 1983. Theology of the New Testament; Groenewald, E P 1967. Die tweede brief aan die Korinthiërs; Grosheide, F W 1955. II Korinthe; Harris, M 1990. The Expositors Bible Commentary; Janson, M 1997. In sy Teenwoordigheid; Kistner, W 1996. To remember and to heal; Motyer, J A 1970. The New Bible Commentary Revised; Müller, J J 1974. Die briewe skat van Paulus; Smit, D J 2003. Die Bybel A-Z; Tasker, R V G 1968. 2 Corinthians; Julian Muller. www.julianmuller.co.za/…/59-Die-onbemarkbare-evangelie-en-die-; Koopman, N.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.