Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Fokusteks

Psalm 32

Hierdie Sondag is tradisioneel bekend as Laetare (Wees bly)

Ander RCL tekste

Josua 5:9-12 (Die Here bevry Josua en sy mense van die smaad wat op hulle gerus het);
2 Korintiërs 5:16-21 (Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens);
Lukas 15:1-3; 11b-32 (Die gelykenis van die verlore seun vertel van God se groot liefde vir ons)

Psalm 32
U het my skuld vergewe
1’n Gedig van Dawid.
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf
word nie,
wie se sonde vergewe word.
2Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding
nie toereken nie
en in wie se gees
daar geen valsheid is nie.
3Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer
soos ek heeldag om hulp
geroep het.
4U hand het dag en nag
swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog
soos water in somerhitte.
5Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek
my opstandigheid;”
en U het my skuld vergewe.
6Dit is waarom elke gelowige
in ’n tyd van nood tot U bid;
selfs vloedwaters
sal hom nie skielik oorval nie.
7U is vir my ’n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing.
8Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee
en my oog oor jou hou.
9Moenie onverstandig wees nie,
soos ’n perd of ’n muil
wat met ’n stang in die bek
beteuel moet word
as jy hom wil lei.
10Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges,
jubel, alle opregtes.

Eksegese

Vers 1-2: Die psalmdigter dink nie aan “geseënde” mense as sondelose mense nie (P C Craigie, Brueggemann). Die teendeel is eerder waar. Dit veronderstel oortredings en sonde. Om geseënd te wees, is om vergewe te wees. Vergifnis is die krag vir nuwe lewe. Dis die slotsom waartoe die digter aan die begin van die psalm kom.

Slegs God gee hierdie seën. Ons is juis geseënd wanneer ons sonder valsheid voor God staan. Bedrog is om jou sonde weg te steek. Die afwesigheid van valsheid is wanneer die sondebelydenis eerlik en opreg is.

Drie basiese begrippe word gebruik om die dimensies van menslike boosheid te beskryf, naamlik oortredings, sonde en ongeregtigheid (sien OAV). Hoewel Craigie waarsku dat ons moet onthou dat die poëtiese struktuur van sinonieme parallelisme hier gebruik word en dat die betekenisfasette nie te direk hanteer moet word nie, benadruk hy tog dat dit die volle dimensies van menslike boosheid weerspieël (sien ook A A Anderson en H-J Kraus se bespreking wat hiermee ooreenkom). Oortreding dui op opstand teen God. Dit lei tot ’n breuk in die gemeenskap waarin mense leef (N A van Uchelen). Sonde is ’n meer algemene term wat op die wegdraai van die regte pad kan dui. Die reëls van gemeenskapsverhoudinge word misken. Ongeregtigheid handel oor verwording, kriminaliteit en die afwesigheid van respek vir God se wil. Dit is doelbewuste sonde en oneerlikheid (Van Uchelen).

Vers 3-5: Dit is opmerklik dat dieselfde begrippe herhaal word wanneer daar om vergifnis gebid word. God se vergifnis dek die volle dimensie van menslike boosheid. Die digter bely meer spesifiek as ’n blote “vergewe ons ons sonde”. Hy bely die al die dimensies van sy boosheid. Geluk en seën lê uiteindelik in die wete dat God al ons sonde vergewe.

Die negatiewe gevolge van sy gebrek aan belydenis word in vers 3-4 beskryf. Toe valsheid in sy lewe geheers het – toe hy sy sonde bedek het – het die digter fisiek en emosioneel agteruitgegaan. Eerlikheid is die teenpool van valsheid. Weiser skryf: “He does not mean by this that we must be sinless, but that we must be absolutely truthful in our relationship with God and with ourselves. The subsequent account of the inner struggle, through which the poet had to go until he obtained the remission of his sins, is a deeply moving example of such sincere conduct.” Brueggemann verwys na gewigsverlies en ongemak, rusteloosheid en swakheid. Anderson meen dat ons dit ook anders kan verstaan. Dit mag wees dat die digter siek was en uiteindelik gevoel het dat dit die gevolg van sonde was (v 4). Slegs belydenis en vergifnis sou dan genesing bring.

Hoe dit ook al sy, Craigie glo dat ons die uitdrukkings in die lig van die poëtiese aard van die psalm moet verklaar, in plaas daarvan om elke begrip letterlik op te neem. Craigie skryf “The ‘groaning’ is a consequence of living with guilt and a stifled conscience; the ‘aging bones’ portray the growing weakness of the spiritual life which follows the unhealthy practice of bottling up one’s evil within the soul, steadfastly retaining silence, rather than finding the emancipation of forgiveness through speech. The ‘heavy hand’ of God, experienced within the mind and conscience, indicates an awareness of the need for repentance, but a stubborn refusal to yield to God. And the sinner’s silence, aggravated by the heavy hand of God, contributed to the dry curling of the tongue, as in one desperate for water in a desert; so long as the tongue refused to speak the words of repentance, it curled in speechless pain.”

Vanaf vers 5 word ’n positiewe toon aangehef. Die mens bely en God vergewe. Brueggemann skryf dat die daad van vergifnis onmiddellik op die daad van belydenis volg. Dis onvoorwaardelik en onmiddellik, skryf hy: “Long before Freud, this psalmist understood the power of speech, the need for spoken release and admission, the liberation that comes with actual articulation to the one who listens and can respond.” Belydenis en seën kan nie van mekaar geskei word nie.

Craigie merk op dat die psalm hier basies dieselfde idees weergee as Psalm 1. Die algemene beginsel van wysheid stel die wyse en dwase teenoor mekaar. Hier word die onberouvolle sondaar en die berouvolle sondaar teenoor mekaar gestel. Die dwase pad lei na die dood. Die berouloosheid van die sondaar lei tot persoonlike agteruitgang. Tereg sê Brueggemann: “This is no psychological reductionism, no reference to ‘guilt feelings,’ but the honest recognition that sin blocks life with God. That blockage can go on unnoticed, for we have a deep capacity for self-deception.” Berou lei tot bevryding, net soos die pad van die regverdige na die lewe lei.

Om te swyg is tiperend van mense wat geen berou het nie. Wanneer die stilte verbreek word, die sonde bely word, vind bevryding plaas. “Swyg” en “bely” staan duidelik teenoor mekaar. Treffend skryf Craigie: “Confession is like opening the floodgate of a dam. When there is no confession, the waters pile up behind the dam, creating immense pressures on the wall, but as soon as the floodgate is opened, the waters subside and the pressures diminish.” Soos reeds voorheen opgemerk, gebruik die digter presies dieselfde woorde om die reikwydte van sonde te beskryf wanneer hy sy sonde bely. Die omvattendheid van sy belydenis word hierdeur benadruk.

Die vergifnis van die Here word byna te eenvoudig voorgestel. Hy bely en God vergewe. Hy beweeg uit ’n toestand van swaarkry na ’n toestand van seën en bevryding. Die einde van sy valsheid is die begin van sy vergifnis.

Vers 6-8: Hierdie verse is ’n oproep om die Here te vertrou. Hy laat die digter oorwinningsliedere sing, omdat Hy die vergewende God is. Elke keer wanneer mense in nood is, mag hulle die vergewende God vertrou. Hierdie nood verwys waarskynlik na die tyd van nood wat mense beleef wanneer hulle oor hulle sonde swyg. Die mens moet die Here egter nie net vir vergifnis vertrou nie, maar ook vir ’n nuwe begin onder sy leiding en beskerming (ek sal my oog oor jou hou). In vers 8 verander die toon van die psalm na die direkte woorde van God. Waarskynlik het ’n priester hierdie woorde namens God in ’n liturgiese konteks uitgespreek (Craigie).

Vers 9-11: Twee paaie word duidelik in hierdie psalm (net soos in Ps 1) teenoor mekaar gestel. Die goddelose is soos ’n muil of ’n perd wat nie gelei wil word nie. ’n Muil of perd het geen sin van sy eie nie, maar moet gelei word. Hardkoppigheid word moontlik hier geïmpliseer. Dit lei tot baie smarte. Hierdie smarte is duidelik deur die psalmdigter ervaar toe hy oor sy sonde geswyg het. Hy wou sy eie pad loop, soos ’n muil of perd wat nie enige leiding wil aanvaar nie. Dié wat egter op die Here vertrou, is die geseëndes wat sy vergifnis (liefde), leiding en beskerming beleef. Miskien druk sy liefde en vergifnis, leiding en beskerming die kernmomente van die psalm uit. Weens hierdie liefde, wat die mens sonder valsheid omhels, kan elkeen die Here prys en bly wees in Hom.

Hermeneutiek

Tema: Belydenis is die sleutel wat vrede oopsluit
1. Ons bevind ons in Lydenstyd. Hierdie psalm bied goeie materiaal om by hierdie tyd in die kerklike jaar aan te sluit. Dis ’n tyd van berou, verootmoediging, selfondersoek en hertoewyding. In die tradisie van die Christelike kerk word hierdie psalm as een van die sewe boetpsalms gesien (Ps 6, 32, 38, 51, 102, 103 en 143). Dit is egter meer as ’n boetpsalm. Die elemente in die psalm dui eerder op ’n wysheid- en dankpsalm (Van Uchelen, A Weiser, Anderson). Dankbaarheid is een van die oorheersende gedagtes. Weiser wys daarop dat dit een van Augustinus se gunsteling psalms was. Luther het dit ’n “Pauliniese psalm” genoem.

Met dit in gedagte bied die Heidelbergse Kategismus se indeling van sonde-verlossing-dankbaarheid ’n verdere interessante moontlikheid om na die teks te kyk. Al hierdie elemente kom daarin voor. Die digter probeer sy sonde verswyg, maar dit is daar. Hy ervaar die bevryding/verlossing van sonde deur die goedheid van God. Dit lei tot die dankbare lof aan God. Lydenstyd herinner ons aan ons skuld en sonde, die belangrikheid van belydenis en die wonder van vergifnis.

2. Uiteraard bring hierdie psalm die vraagstuk oor die verhouding tussen skuldbelydenis en vergifnis na vore. Brueggemann skryf: “Everything in the disorientation, every­thing for future life, everything in relation to God—everything depends on making known, not concealing, confessing to Yahweh.” Brueggemann se woorde laat die vraag ontstaan of skuldbelydenis die voorwaarde vir skuldvergifnis is. Craigie verwys ook na Augustinus se woorde: “Die begin van kennis is om jouself as ’n sondaar te ken” (Lat intelligentia prima est ut te nôris peccatorem).

Die verhouding van hierdie psalm tot die woorde van 1 Johannes 1:8-10 word dikwels onderstreep. Om te beweer dat ons nie sonde het nie, beteken dat ons God tot leuenaar maak. Belydenis van sonde lei egter tot skuldvergifnis. In die brief van Johannes is belydenis nie ’n voorwaarde vir vergifnis nie. Dit is eerder die versekering dat God elke keer in sy getrouheid en regverdigheid ons sonde sal vergewe wanneer ons dit bely. Belydenis word die manier waarop ons sy vergifnis ontvang, nie die oorsaak daarvan nie. Dis beter om nie die woorde “voorwaardes” of “vereistes” te gebruik nie, asof God nie kan vergewe as ons nie bely nie.

Dit neem egter nie weg nie dat daar ’n onlosmaaklike verband tussen belydenis en vergifnis is. Deur belydenis beleef ons die bevryding van vergifnis. Die psalm begin met die “saligspreking” van vergifnis. Om geseënd te wees, is om vergewe te wees. Dit staan voor alles en bo alles. Juis hierdie ontdekking maak die verswyging van ons sonde, die bedekking van ons sonde so sinneloos. Die wete, soos A A van Ruler opmerk, dat God nie net die dood oorwin nie, maar ook die skuld van die sonde wegneem, is volkome onbegryplik, maar is een van die triomfantelike aspekte van die Bybelse boodskap.

Kraus merk op dat God altyd die inisiatief neem. Hy is die soewereine Gewer van vergifnis. Alles berus uiteindelik by Hom. Hy reken die skuld nie toe nie. Dit is interessant dat Paulus Psalm 32:1, 2 in Romeine 4:7, 8 aanhaal as ’n aanduiding van die regverdiging deur die geloof, in teenstelling met regverdiging deur die werke van die wet. Vanuit hierdie perspektief gesien, is belydenis uiteraard nie ’n nuwe goeie werk waaraan ons moet voldoen om die regverdiging te ontvang nie. Paulus se interpretasie gee iets van die onmiddellike, onvoorwaardelike karakter van God se vergifnis weer. Weiser merk tereg op: “For  this worshipper, too, it is in the last resort the goodness of God which guides man to penitence, though he has to pass through bitter experiences.”

Hoewel ons nie met die konsep van voorwaarde en beloning werk nie, mag ons nie die belangrikheid van belydenis onderskat nie. Daar is, volgens hierdie psalm, niks beter as om jou skuld te bely nie. Dit bring bevryding en vreugde in die teenwoordigheid van God. Die openbare skuldbelydenis in die kerk, so skryf Van Ruler, is baie belangrik. Hy skryf: “Elkeen kan dit hoor. Ons doen onsself nie beter voor as wat ons is nie. Inteendeel! Die kerk is die nederigste en ootmoedigste plek op aarde. Ja, ons moet ook eerlik en openlik voor ons naaste erken dat ons verkeerd is. Of teenoor die polisieman of die regter wat die verhoor behartig. Maar die saak van skuldbelydenis vind haar sentrum in die kerklike liturgie.” Die deeglikheid waarmee die digter sy skuld bely, maak dit duidelik dat ons nie ligtelik met ons skuldbelydenis sal omgaan nie.

Tegelyk benadruk die digter dat skuldbelydenis die begin van ’n nuwe koers in ons lewe is. Dwase mense loop hulle eie pad na skuldbelydenis, maar die wyse mens wat die wonder van vergifnis beleef het, leef onder die leiding, onder die nuwe bestuur van God. Tereg skryf Brueggemann: “Guilt can be destructive. It is in this psalm for a reason. But guilt fully embraced and acknowledged permits move­ment, a new reception of life, and a new communion with God. Only then can the guilt be resolved and genuinely relinquished. There are, the psalm asserts, no alternatives, no substitutes. The body will not be deceived, even as God will not be mocked. Freedom from guilt requires embracing it and having it dealt with by the mercy of God.”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Om geseënd te wees beteken nie dat ons sonder sonde is nie. Geseënd vooronderstel oortreding en sonde, maar beteken om vergewe te wees. Hierdie vergifnis is die krag vir nuwe lewe. God gee hierdie seën. Wanneer ons ons sonde wegsteek kan ons nie die seën beleef nie. Wanneer ons sonder valsheid voor God staan, is ons geseënd.

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.  Hier is ‘n paar voorstelle vir hierdie Sondag waaruit jy kan kies:

  • ’n Vaste lied wat baie geskik is om as toetredelied gedurende Lydenstyd te gebruik, is Lied 397 – “Ontsluit, o Heer, ontvlam ons hart”. Die verse kan afwisselend of al drie saam op ’n Sondag gesing word.
  • Ander wat ook gebruik kan word: 519 – “Wees stil en weet: Ek is die Heer”; 518 – “Voel jy soms of die Here te ver is”; 516 – “As sou dan ook die vyeboom nie bot nie”
  • Of gebruik die volgende responsoriese liturgiese moment aan die begin van die Erediens:

 

Voorganger: Ons beoordeel dus nou nie meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër so beoordeel, beoordeel ons  Hom nou nie meer so nie. Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Gemeente:     Dit alles is die werk van God.

Voorganger:  Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

Gemeente:    Dit alles is die werk van God.

Voorganger: Die boodskap van versoening is dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Hy het die boodskap van versoening aan ons toevertrou.

Gemeente:   Dit alles is die werk van God.
Voorganger: Ons tree dus as gesante van Christus op en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

Gemeente:   Dankbaar neem ons die versoening aan. (2 Kor 5:16-20).

  • Laat families/vriende met mekaar deel wat die Here die afgelope week vir hulle beteken het.  Hulle kan ook vir mekaar bid.

Lied

‘n Lied wat uitstekend hierna sal pas:

Flam 68. “Here, Here, Hoor My Bid”
(RUBRIEK: Kontemporêr – Gebed / Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)
Ps 119:58; Ps 55:17; Klaagl 3:56; Ps 144:9

Here, Here, hoor my bid
Waar ek skuldig voor U sit
Dis swaar op my, ek kom bely
Here maak my vry

Here, Here, hoor my roep
Weer kom skuiling by U soek
Teen die storms en teen die wind
Wegkruip soos ‘n kind

Here, Here hoor my vra
Dat U my vandag sal dra
Ongeloof wil my beroof
Wees ‘n wag voor my

Here Here hoor my sing
Soos ‘n engel odes bring
Maak gereed die bruilofskleed
Here hoor my sing

Halleluja halleluja halleluja

Familie-oomblik

Vertel die verhaal van Calvin wat sy pa se vêrkyker gebreek het, gebaseer op ‘n reeks strokiesprente van Calvin & Hobbes deur Bill Wattersson.  Verduidelik vir die kinders hoe dit ‘n mens laat sleg voel as jy iets wat jy verkeerd gedoen het, probeer wegsteek – en hoe ‘n mens beter voel wanneer jy erken wat jy verkeerd gedoen het.

Jy kan na die strokies hier gaan kyk. Hou aan om “>” te klik vir elke volgende strokie. Die reeks eindig by 9 Julie 2009.

Calvin storm paniekerig op sy vriend Hobbes af.  “Hobbes, jy  moet my help!  Ek is in gróót moeilikheid!”

“Wat’s fout?” wil Hobbes weet.

“Jy onthou hoe Pa gesê het ek kan sy vêrkyker gebruik as ek ekstra versigtig is?  Wel, ek het dit per ongeluk gebreek!” roep Calvin verskrik uit.  “Nou het ek raad nodig:  moet ek weghardloop of hara-kiri pleeg?”  Hobbes stel voor dat Calvin moontlik albei moet oorweeg.

Calvin se angstigheid neem toe.  Hy vermoed elke aar in sy pa se lyf gaan bars as hy uitvind.  Vreesbevange vertel hy vir Hobbes dat sy pa sy velle lewendig gaan afskil.

Miskien kan hulle die vêrkyker vervang sonder dat sy pa uitvind dat hy dit gebreek het?  Calvin & Hobbes sit al hulle geld bymekaar.  Saam het hulle $4.35.  Nou voel Calvin baie rustiger – hy het ‘n oplossing gekry!  Nou gaan hy nie in die moeilikheid wees nie!

Vol selfvertroue bel hy die winkel om uit te vind wat ‘n vêrkyker sal kos.  Die antwoord:  $600!  Calvin begin paniekerig gil:  “Het julle enige idéé wat my pa aan my gaan doen?!” terwyl Hobbes kalm bevoeg:  “Hy gaan beslis nie eindig by jou vermoor nie, dis seker.”

Nou is Calvin oortuig dat dit klaar is met hom.  “Doomed!  Doomed!” sê hy.  Hoe kon sy pa hom toelaat om met die vêrkyker te speel?  Hy moes tog geweet het Calvin sal dit breek!  Wat moet hy doen?!

Hobbes stel voor dat hy sy pa vertel wat gebeur het.  Waarop Calvin antwoord:  “Hmmm, dan ontsnap ek terwyl hy ‘n hartaanval kry . . . dis ‘n goeie idee!”

Maar nee, dit sal nie werk nie.  Miskien kan hulle die stukkies aanmekaar gom?  Ongelukkig is daar net stof oor van die vêrkyker!

Miskien kan hy sy ma vertel?  Nee, ook dit gaan nie werk nie.

Na ‘n lang dag van vrees en worsteling, is dit uiteindelik tyd vir aandete.  Terwyl Calvin se pa rustig sit en eet, sit Calvin en sweet.  Kyk hoe eet sy pa asof niks verkeerd is nie!  Calvin wéét sommer dat sy pa iets vermoed, maar niks kan doen totdat hy seker weet nie.  Daarom wag hy rustig totdat hy uitvind.  Hy gaan net daar sit en eet terwyl Calvin in sy eie skuldgevoelens verdrink.  Sy pa weet dat hy wat Calvin is, een of ander tyd onder die druk sal vou.

“Calvin?” vra sy pa.

En Calvin kan dit nie meer hou  nie!  “Aaugh!  Ek  het dit gedoen!  Dit was ek!  Ek is jammer!  Dit was per ongeluk!” skree Calvin terwyl sy pa verstom toekyk.

Wanneer sy pa uitvind wat aangaan en begin raas, sê Calvin:  “Ek het ‘n idee.  Kom ons maak asof ek reeds sleg genoeg voel, dan hoef Pa dit nie in te vryf nie.”

Daardie aand sit Calvin en sy pa op Calvin se bed.  Sy pa hou hom vas terwyl hy huil:  “Ek het nie bedoel om Pa se vêrkyker te breek nie!  Dit was ‘n ongeluk.  Ek is regtig, regtig jammer” sê Calvyn deur die trane.  “Ek het die hele middag gevoel asof ek gaan opgooi.”

Calvin se pa troos hom en sê dat dit net ‘n vêrkyker was.  As ‘n mens na die groot prentjie kyk, is dit nie so erg nie.  Om die waarheid te sê, oor ‘n paar jaar sal Calvyn seker sy pa se kar verongeluk.

Uiteindelik koop Calvyn se pa vir hom sy eie vêrkyker!  (Waarna Calvyn natuurlik begin wonder of hy nie van sy pa se elektriese gereedskap moet breek en kyk of hy ook daarvan kan kry nie. .

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Die Verlore Seun praat oor Psalm 32
“Psalm 32 is my lewensverhaal.  Jy kan sê dis my geestelike DNA.  En nie net myne nie. Wat met my gebeur het, en hoe ek behandel is, het die mense naaste aan my se lewens verander.  Ons is nou sáám Psalm 32.  Dit is óns geestelike DNA.

“Julle sal my storie ken.  Dit staan bekend as die verhaal van die verlore seun.  Ja, ék is die verlore seun.  Die titel is natuurlik verkeerd.  Die verhaal gaan oor die liefdevolle Vader wat verlangend op die uitkyk gebly het vir die seun wat Hom verwerp het.  My storie gaan oor die hoop van my Pa dat ek sou terugkeer.  En oor die blydskap van Pa, wat my omhels het toe ek vuil, vol van die varke se modder en die sweet van die reis, opgedaag het.  Toe Hy my daardie dag omhels het, ten spyte van my stank en sonde, het sy DNA ‘n tweede keer op my afgegee.  Sy liefde en vergifnis het my verander.  Sy omhelsing het vir my ‘n nuwe koers gewys.

“Vandag is ek ‘n ou man.  Toe ons predikant my vroeër in die week vra om vandag iets oor my lewensverhaal vir julle hier in die kerk te vertel, het ek dadelik aan Psalm 32 gedink.  Hierdie boetepsalm beskryf die diepste draaipunt van my lewe.

Wanneer is ‘n mens geseënd?
“Het julle al ooit gewonder wanneer dit werklik goed gaan?  Wanneer is ‘n mens geseënd?  As jongman het ek gedink dis besittings en geld wat die aarde laat draai.  Mens is gelukkig as jy het, kan koop, die goeie dinge in die lewe kan geniet.  Waar sou my vryheid en geluk vandaan kom?  My Pa kon voorsien, en ek wou hê.  Ek wou my erfporsie hê, wat eintlik beteken ek het gewens my Pa sterf, sodat ek kan erf.  Vandag wonder ek hoeveel pyn dit Hom gekos het.  Maar Hy het my erfdeel gegee, wat ek verkoop het. Met die kontant is ek die wye wêreld in.

“Psalm 32 begin met die “saligspreking” van vergifnis.  “Dit gaan goed met die mens, gelukkig is die mens, wie se oortredinge nie gestraf word nie.”  Vergifnis oor sonde bring mens in die regte verhouding met ons Vader.  Hoe dwaas was ek nie om te dink ek kan my eie geluk op my eie voorwaardes in die ver land skep nie.  In die ver land het ek geleef asof geluk beteken dat alle bande, alle reëls, alle waardes oor boord gegooi is.  Geluk is om jou eie koers in te slaan, vir jouself te besluit wat reg en verkeerd is.  Geluk is om te doen wat jy wil, en te leef asof daar nie iets soos sonde is nie.  Die slegste ding wat ek in my oë kon doen sou wees om jammer te sê.  Jammer sê beteken daar is Iemand, buite en bo jouself, wat besluit wat is reg en verkeerd.

“Hierdie Psalm draai nie doekies om oor die mens se boosheid nie.  Terwyl ek my eie ding in absolute losbandigheid wou doen, was ek vasgevang in oortredings, sonde en ongeregtigheid.  Dis die letterlike betekenis van die Hebreeuse woorde wat in die eerste verse van die psalm gebruik word.  Geluk is nie losbandigheid nie, maar om jou sonde te erken en bely.  Om geseënd te wees, is om vergewe te wees.  Vergifnis is die krag vir nuwe lewe.

“Kyk net hoe word die teendeel van vergifnis in vers 3 uitgespel:
Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het.
U hand het dag en nag swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog soos water in somerhitte.

Swyg en selfmisleiding

“Julle ken my storie.  Nadat ek soos ‘n dwaas al my geld verkwis het, het daar ‘n swaar hongersnood in die ver land gekom.  Daar was niks om van te lewe nie.  Ek, wat uit ‘n godvresende Joodse huis kom, moes in ‘n ver land onrein varke gaan oppas.  Ek moes met verlange staar na die peule wat hulle gevreet het.

“’U hand het dag en nag swaar op my gedruk’.  Ek is oortuig daarvan dat God my omstandighede gebruik het om my in ‘n hoek vas te druk waaruit ek net met skuldbelydenis kon kom.  Julle kan dink hoe maer ek geword het, en hoe ek emosioneel agteruit gegaan het.  Tog was berou by my afwesig.  Ek het letterlik oor my sonde geswyg.  Om die waarheid te sê, aan die begin het ek my sonde nie as sonde herken nie.  Dinge het maar net verskriklik skeef geloop, en ek was in ‘n groot gemors.  Maar dat ek kon opstaan, teruggaan na my Vader, en my sonde bely?  Dit het ‘n hele rukkie geneem om in my gedagtes op te om.

“Mens swyg solank as wat jy jouself oor jou eie verskriklike sondige toestand mislei.  Mense het werklik ‘n geweldige kapasiteit om hulself om die bos te lei.  Ek was so: ek wou die krake in my lewe bedek.  Ek was soos iemand wat die vuil kolle op sy gesig in die spieël sien, en dan die spieël bedek.  Ek moes my verlede en my keuses soos ‘n swaar blok met my saamsleep.  Die ontkenning en geestelike stilte het tot die onderdrukking van my gewete, geestelike en fisieke agteruitgang gelei.

“Ek dink mens doen alles in jou vermoë om die diepte van jou sonde en ellende te verdoesel.  Seker daarom dat Psalm 32:9 waarsku:  “Moenie onverstandig wees nie, soos ‘n perd of ‘n muil wat met ‘n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei nie.”

“Genadiglik – pynlik soos dit is – het daar ‘n dag gekom dat ek tot myself gekom het.  Skielik het ek my ellende gesien vir wat dit is.  My diepste krisis was dat ek weg was van my Vader.  My sonde, my verwerping van Pa, my dwase pogings om vry te wees, het soos ‘n berg tussen ons gelê.

“Om eerlik te wees, het ek nie gedink vergifnis is moontlik nie.  Ek sou moes onderhandel: vra dat my skuld vergewe word, en dat Pa my soos ‘n dagloner behandel.

Belydenis bevry ons

“Wat ‘n verstommende verrassing om te ontdek dat ek in Pa se oë nie opgehou het om ‘n kind te wees, al was ek ‘n dwase kind nie!  Toe ek stukkend voor Pa staan, net met my skande, mislukkings en sonde, toe omvou Hy my met sy liefde.  Soos vers 10 sê:  “Die goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde.”

“Ek het geestelik uit die bitter koue teruggekom in ‘n warm huis.  Ek is by die vuurherd van God se liefde toegevou in die kombers van sy vergifnis.  Dit was swaar om verleë voor Pa te gaan staan, skaam, skuldig, verlore.  Ek het ervaar: elkeen wat sonder maskers en valsheid voor die Here staan, net met jou sonde, beleef God se seën.

“Mense vra my waarom ek nie baie vroeër teruggekeer het na die Vaderhuis nie.  Ek weet nie.  Waarom moes ek by die dood omdraai omdat ek my sonde wou bedek?  Was dit dalk trots?  Was ek te skaam?  Bang vir veroordeling?

“Vriende, leer dit vandag uit my voorbeeld en uit die wyse waarop Pa my behandel het.  Dalk klink dit te eenvoudig en te maklik.  Maar dit is werklik so:  Mense wat hulle sonde bely, word vergewe.  So iemand is gelukkig en geseënd.  God se vergifnis is die groot rede waarom mens tot God kan bid (vers 6).  Hy reken die sonde nie toe nie.  Hy straf ons nie vir ons oortredings nie.

“Dit beteken nie dat sonde ‘n nietigheid is nie.  Het julle al opgelet hoe noukeurig die digter van die psalm met sy belydenis is?  Die drie begrippe wat gebruik word om die volle dimensies van menslike boosheid te beskryf, naamlik oortreding, sonde en opstandigheid, word ook in die belydenis van sonde gebruik.  Die digter bely nie sy sonde in die algemeen nie, maar sy opstand teen God, dat hy van die regte pad weggedraai het en dat hy nie respek vir God se wil gehad het nie.

“Ek lees dat ‘n skrifuitlegger, Walter Brueggemann, die volgende sê:

‘Guilt can be destructive. It is in this psalm for a reason. But guilt fully embraced and acknowledged permits movement, a new reception of life, and a new communion with God. Only then can the guilt be resolved and genuinely relinquished. There are, the psalm asserts, no alternatives, no substitutes. The body will not be deceived, even as God will not be mocked. Freedom from guilt requires embracing it and having it dealt with by the mercy of God.’

Belydenis bring vergifnis

“Iemand anders skryf dat belydenis is soos om die sluise van ‘n dam oop te maak.  ‘Wanneer ons nie bely nie, word die dam al voller en die drukking teen die damwal al groter.  Sodra die sluise oopgemaak word, stroom die water uit en neem die drukking af’ (Peter Craigie).  Uit eie ervaring weet ek die digter is reg: sondebelydenis bring eensklaps die wonder van vergifnis.

“Martin Luther vertel van ’n droom wat hy gehad het. Hy het gedroom dat die duiwel met ’n lang lys van sy sonde voor hom gestaan het. Luther het toe aan die duiwel gevra of dit al sy sonde is. Die duiwel het geantwoord dat dit nie alles is nie. Luther het die duiwel toe weggestuur en gevra dat hy ’n lys van al sy sonde moes maak. Toe die duiwel terugkom met ’n nog langer lys, het Luther gevra of dit nou al sy sonde is. Die duiwel het bevestigend geantwoord. Luther het toe ’n rooi pen geneem en met groot letters daaroor geskryf: “Die bloed van Jesus Christus reinig my van ‘alle’ sonde.”

“Dit is wat elke Christen mag weet elke keer wanneer ons ons sonde voor die genadige God bely. Johannes sê: ‘Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid . . . as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld’ (1 Joh 1:9; 2:1, 2).

Belydenis bring nuwe lewe

Pa het my met vergifnis geseën, en my lewe nuut gemaak.

Enersyds gee dit my die vrymoedigheid om altyd met my skuld na Hom toe te gaan.  Hy is ‘n skuilplek en ‘n bron van oorwinning (32:6, 7).  Sedert daardie dag ka nek nie anders as om ander aan te spoor om ook sonde te bely en die seën van vergifnis te ontvang nie.  Ons mag ons in die Here verbly.  Hy weet ons is nie sondeloos nie, maar ‘n lewe sonder valsheid, opregtheid en vertroue is vir Hom aanvaarbaar (32: 6, 7, 11).  Om nie meer te swyg oor jou dwaasheid en sonde nie, maar dit te bely, is die weg tot lewe.

Andersyds volg ek sedert daardie dag nie meer my eie kop soos ‘n perd of ‘n donkie nie.  My ou hardkoppige self is weg, ek aanvaar leiding.  Mense wat deur die bloed van Jesus Christus van hulle sonde gereinig is, word navolgers van die Een deur wie hulle verlos is.  Ons volg nie meer ons eie pad nie, want dit lei tot ellende.

Belydenis verander ‘n gemeenskap

Ons familie en almal in ons omgewing is daardie dag verander toe Pa my vergewe het en die feesmaal voorberei het.  ‘n Stukkende familie is genees.  Die diepte van Pa se liefde, en die groot genade wat Hy bewys het, het ons almal verander.  Toe Hy my daardie dag omhels het, ten spyte van my stank en sonde, het sy DNA ‘n tweede keer op my en almal rondom my afgegee.  Sy liefde en vergifnis het ons verander.  Sy omhelsing het vir ons ‘n nuwe koers gewys.

As Pa soveel kan vergewe, wie is ons om nie self ook te vergewe as mense teen ons oortree nie?

Ja, julle weet van my oudste broer, en van sy gesukkel om te vergewe.  Hy het gevoel my feesmaal word nou betaal uit sy deel van die erfporsie uit.  Hy wou straf hê, verwerping, en nie vergifnis nie.

Sy aanvanklike stryd om te vergewe toets ons almal.  Verstaan ons self iets van die Vaderhart?  Van ‘n God wat sonde vergewe?  En kan ons wat soveel ontvang het, dan waag om self nie liefdevol en vergewingsgesind te word nie?  Is ons, die seuns en dogters van God, appels wat nie ver van die boom geval het nie?

“Laat ons bly wees!”

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

  • Stilgebed: Skep ‘n moment van stilgebed dat lidmate hulleself aan God kan verbind deur hulle oortredings, sonde en opstandigheid te bely.
  • Skuldbelydenis: Gebruik Liedboek 397 as Skuldbelydenis na die preek “Jesus Christus, Lam van God, wat die las van sonde dra, wees ons genadig”.
  • Voorbidding na preek: Lidmate op die voorbiddingslys word aan die Here opgedra. ’n Omgeekers word as simbool van God se omgee vir ons en ons omgee vir mekaar aangesteek. Reël met ’n ouer, kind of iemand wat onlangs siek was en nou gesond is om dit te doen.
  • Offergawes: Sê voor die opneem van die dankoffer: God het die wêreld so liefgehad dat Hy Jesus vir ons gegee het. Die hart van God is deur sy liefde vir ons in beweging gebring. Daarom gee Hy aan ons die grootste geskenk denkbaar: sy Seun. In reaksie op hierdie liefde bring ons vandag ons offergawes as teken van dankbaarheid.
  • Slotlied: Lied 493
  • Seën: Die sewe kruiswoorde kan as seën gebruik word.

Jesus het aan die kruis uitgeroep:
“My God, My God, waarom het U my verlaat?”
Gaan nou in die wete dat Hy jou nie ’n enkele oomblik in hierdie week sal verlaat nie.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.