Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

In die tradisie staan hierdie Sondag bekend as Laetere (om bly te wees). Die Sondag staan ook bekend as Goeie Herder-Sondag na aanleiding van die beeld van die herder wat in sowel die fokusteks as in die psalm gebruik word.

In die fokusteks praat Jesus van Homself as die goeie herder wat na sy skape (volgelinge) omsien en selfs sy lewe vir hulle aflê. In die psalm is dit God wat as die herder beskryf word wat sy kudde liefdevol versorg en beskerm.

Ander tekste

1 Samuel 16:1-3; Psalm 23; Efesiërs 5:8-14

Fokusteks

Johannes 9:1-41
Jesus genees ’n man wat blind gebore is
9 Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?”

3En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. 4So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. 5Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

6Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ’n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë 7en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.
Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.

8Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?”
9Party van hulle het gesê: “Dit is hy!”
Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.”
“Dit is ek!” het hy self gesê.

10Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?”

11En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het ’n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!”

12“Waar is hy nou?” vra hulle hom toe.
“Ek weet nie,” was sy antwoord.

Die Fariseërs ondervra die man en sy ouers
13Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring. 14Dit was op ’n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het. 15Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.”

16Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.”
Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?”
En daar was verdeeldheid onder hulle.

17Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.”
“Hy is ’n profeet,” het hy geantwoord.

18Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep 19en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?”

20“Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. 21“Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”

22Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word. 23Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.”

Die man word uitgeban
24Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is ’n sondaar.”
25Daarop het hy gesê: “Of hy ’n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”
26Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?”
27“Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?”

28Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is ’n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. 29Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man—ons weet nie waar hy vandaan kom nie.”

30“Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. 31Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. 32Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. 33As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.”

34Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”
En hulle het hom uitgeban.

Geestelike blindheid
35Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”
36Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?”
37Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”
38Die man sê toe: “Ek glo, Here!”
En hy het Hom aanbid.

39Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

40Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!”

41Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”

Liturgie

ONS KOM TOT RUS

Aaanvangslied: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aaanvangswoord
Die Here is my herder
niks sal my ontbreek nie
Hy laat my neerlê in groen weivelde
Hy lei my heen na waters waar rus is
Hy verkwik my siel
Hy lei my in die spore van geregtigheid om sy Naam ontwil
Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee sal ek geen onheil vrees nie; want die Here is met my:    Sy stok en staf vertroos my.
Die Here berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders
Hy maak my hoof vet met olie sodat my beker oorloop
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe
en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae. (Ahv OAV 1933)

Seëngroet
Genade en vrede van
God, die Vader, wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het,
en van Jesus Christus die Gekruisigde,
en van die Heilige Gees wat ons herskep. Amen

Lofprysing
Psalm 23:1,2,3 (Lina Spies)
Alternatief: Kies liedere wat uiting gee aan ’n meer “gedempte” lof…
Lied 393 “Middelpunt van ons verlange”
Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die kruis” 
Lied 400 “Juig, juig in Hom”.

ONS HOOR

Verootmoediging
Lees Efesiërs 5:8-14

Sang: Lied 238:1, 5

Gebed
(Reël vooraf indien nodig dat die gemeente die Ons Vader deel hardop saam bid)
Here, ons wíl mense van die lig wees-
Dankie dat U ons uit duisternis na lig gebring het deur ons Verlosser Jesus.
Wys vir ons waar en hoe ons lig kan wees in ‘n wêreld waar daar so baie donker is.
Gee vir ons die moed om die werke van die duisternis te konfronteer
deur die lig wat Jesus bring daarop te laat val.
Ons kom staan voor U en voor u Woord
met die gebed dat U met ons sal praat
en dat u Woord ons sal heelmaak.
En hoor ons nou as ons saam met die kerk in die hele wêreld bid soos Jesus ons geleer het…

(Gemeente hardop)
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
10laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
11gee ons vandag ons daaglikse brood;
12en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
13en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Skriflesing: Joh 9:1-41

Prediking

ONS LEEF

Apostoliese Geloofsbelydenis

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God,
Vader, Seun en Heilige Gees,
met ons wees
en vir altyd by ons bly.
Amen

Antwoord: Lied 314 “Amen”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

F5. “Daar Is Geen Grens”

(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: The Steadfast Love
Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling 2005  Faani Engelbrecht
© 1974, 1975  Celebration
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagliedere 3:22,23)

1. Daar is geen grens aan U guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is U trou, o Heer, my God;
groot is U trou, o Heer.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Sermons4kids stel in ‘n baie oulike kinderboodskap voor dat jy modderkoekies bak.

Sluit aan by die boodskap van sien – en nie sien nie – deur vir die kinders ‘n paar optiese illusies te wys.  Kry ‘n paar elektroniese illusies hier. ‘n Vinnige soektog vir “optical illusion” sal ook ‘n klomp heerlike opsies lewer.  Verduidelik hoe ons verskillende goed raaksien in dieselfde prentjie.  Jesus help ons om ander mense in nood raak te sien – en hulle te help.

Preekriglyn

Shane Claiborne het die evangelie na die krotbuurte van Kalkutta en die oorlogsgebiede van Irak geneem.  Hy is ook intens betrokke by projekte gerig op die versorging van armes in die VSA.  Hy vertel hoe God Godself openbaar deur die armes en die straatlopers:

  • Ek het ’n vrou sien veg om sop by ’n sopkombuis te kry, wat toegesak is deur ’n groot skare.  Toe ons haar vra of die sop regtig die geveg werd is, het sy gesê: “O ja, maar ek eet dit nie myself nie.  Ek neem dit na ’n ander ontredderde dame, ’n bejaarde hier om die hoek wat nie self kan veg vir ’n bietjie kos nie.”
  • Ek het ’n straatkind ’n fooitjie sien verdien op die parkeerterrein van ’n groot winkelsentrum.  Hy het onmiddellik in die sentrum ingehardloop om dit met sy vriende te deel.
  • Ek het ’n straatloper ’n pakkie sigarette in die kollektebordjie sien sit, omdat dit al is wat hy gehad het.
  • Ek het ’n straatmusikant ontmoet wat wreed deur jong mans geterroriseer is.  Hulle het met haar gespot, haar gevloek, en selfs deodorant in haar oë gespuit as ’n grappie.  Toe ons haar daardie aand vashou en troos, sê iemand: “Daar is darem baie slegte mense in die wêreld, nè?”  Waarop sy sê: “Ja, maar daar is baie goeie mense ook.  En die slegtes laat die goeies sommer dadelik nog beter lyk.”
  • Ons het ’n klein meisietjie op straat raakgeloop, sonder ’n huis, ’n straatkind, en haar gevra wat sy wil doen as sy groot is.  “Ek wil ’n winkel met kruideniersware besit,” het sy gesê.  “Waarom?”  “Sodat ek kos vir al die honger mense kan uitdeel.”
  • Moeder Teresa het gesê: “In die armes sien ons Jesus raak, in Sy mees hartverskeurende gestaltes.” Nou weet ek,” sê Shane Claiborne, “wat sy bedoel het.”

Shane Claiborne, The Irresistible Revolution (Zondervan, 2006)

Net so duidelik sien ons Jesus, en sy onbegrensde genade , in die arme blinde man van Johannes 9, van sy geboorte af blind.

Dit gaan oor sien

Die hele gedeelte sinspeel op die vermoë om te sien, of die afwesigheid van sien – om blind te wees.

Diegene wat kan sien, sien nie, want hulle kan Jesus nie herken as die Messias nie.  Daar is verskeie faktore wat hulle totaal blind maak.

Die arme man, wat nie kan sien nie, word genees en kan sien.  Wanneer hy kan sien, leer hy algaande om ook geestelik te kan sien.  Op hierdie manier leer hy Jesus herken as die Seun van die Mens, die Een wat waarlik van God kom.

Jesus noem Homself die Lig vir die wêreld (9:5).  Dit sluit aan by Johannes 8:12 waar Jesus sê: “Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”  Sien, dit gaan oor sien.

Hoofstuk 9 vertel in ’n aantal bedrywe hoe die Lig vir die wêreld aan ’n blinde man fisiek en geestelik sig gee, terwyl die Joodse leiers steeds in die donker rondtas.  Merkwaardig genoeg word hierdie arme drommel vir ons die voorbeeld waarin ons die werk van Jesus so duidelik leer sien.

Kom ons vra onsself af wat het die verskillende rolspelers in hierdie gedeelte gesien:

Wat sien die dissipels?

Terwyl hulle van die tempel wegstap, waar Jesus mense geleer het, sien die dissipels die man wat van sy geboorte af blind was.  Die dissipels wil by Jesus weet of dit vanweë sy eie sonde of sy ouers s’n is dat hy blind is.  Die Jode het geglo dat siekte en lyding op sonde en ongehoorsaamheid volg (Eks 20:5).

Dieselfde gesindheid word deur Job se drie vriende aan die dag gelê.  Wanneer Job alles verloor, en bitter swaarkry, adviseer sy vriende dat Job net sy sonde moet bely, dan sal die Here hom vergewe, en alles sal weer regkom.

Wanneer die dissipels die blinde man sien, sien hulle nie die mens raak nie.  Hulle sien ’n sonde- en skud probleem.  Hulle sien ’n debat oor sonde en die gevolge van sonde.  Hulle wil argumenteer oor wie se sonde wat veroorsaak.

Só ’n ingesteldheid maak egte, menslike konneksie onmoontlik.  Hulle kan die blinde man nie as ’n mede-mens eien nie.  Hy is ’n saak, ’n teologiese vraag: wie se sonde is hiervoor verantwoordelik?

Wat die sonde en die skuld-debat so destruktief maak, is dat dit nie genade kan betoon nie.  Die veronderstelling is immers dat dit die arme drommel se loon is dat hy so lei.  Iewers het iemand iets verkeerd gedoen – hy of sy ouers – en daarom is dit net reg dat hy in hierdie toestand is.

Wat sien Jesus?

Jesus sien ’n medemens in nood raak.  Aan die begin van hoofstuk 9 vlug Hy letterlik van die tempel weg.  Die Jode tel klippe op om Hom te stenig oor sy leer.  Hy moet blitsig skuiling gaan soek.

Opvallend genoeg, sien Jesus die blinde bedelaar raak terwyl Hy van die Jode wegvlug.  Hy staan dan tyd aan die man af.  Jesus neem inisiatief om na die man uit te reik en genade aan hom te betoon.  Hieruit vloei die wonderwerk van sy genesing voort.

En, nee, die siekte en die genesing is nie die gevolg van die blindgebore man of sy ouers se sonde nie.  “Maar hy is blind, sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” (3)

Jesus sien die blinde mens.  Jesus sien God.  Daarom sien Hy ’n geleentheid om die werke van God te doen.  Daar is trouens dringendheid by Jesus: “Solank dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het…” (4).  Jesus weet dat sy eie dood op hande is, daar is nie meer baie tyd nie.

Mens dink onwillekeurig aan Efesiërs 5:16: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd.”  Mense kom oor ons pad, en geleenthede doen hulle voor.  As ons soos Jesus kan sien, kan ons mense en hulle nood eien, en daarop reageer.

Jesus maak die beste gebruik van hierdie geleentheid.  Hy maak met spoeg en grond ’n bietjie klei aan, smeer dit op die blinde se oë, en gee opdrag dat hy hom in die Siloambad moet gaan was.  Dit bring genesing.  Daarmee bewys Jesus dat God die tekens van sonde en dood kan oorwin.  God se verlossing word nou in die blinde sigbaar.  Sy genesing is ook ’n bewys dat Jesus van God kom.

Wat sien die Fariseërs?

Die Fariseërs sien ’n bedreiging vir hul godsdienstige mag.  Hulle sien die reëlboek.  Hulle sien die bekende raamwerk waarbinne hulle God se openbaring verstaan.  Hulle het geen kapasiteit om deur God verras te word, of om te aanvaar dat God iets nuuts kan doen in Jesus nie.

In verse 13-17 word vertel hoedat die Fariseërs die eens blinde man ondervra.  Hulle ondersoek die godsdienstige implikasies van sy genesing.  Dit is ’n probleem dat hy op die Sabbat genees is.  Jesus kan nie van God kom nie, anders sou hy nie op die Sabbat genees het nie.  Ander voel weer as Hy ’n sondaar was, sou Hy nie wondertekens kon doen nie.

In die volgende rondte ondervra hulle die man se ouers (18-23).  Miskien was die man nooit blind nie?  Die ouers weet hulle loop die risiko om uit die sinagoge geban te word.  Hulle beroep hulle dus op die kind se eie regsaanspreeklikheid: “Hy is oud genoeg, vra hom self.” (23)

In ’n derde rondte van ondervraging loods die Joodse leiers ’n finale aanslag.  Die man word eintlik half gedwing om met hulle saam te stem. As hy nie met hulle saamstem nie, kies hy die kant van ’n sondaar.  Hulle is tog aan die kant van Moses wat aan hulle die wet toevertrou het (Eks 33:11; Num 12:8).  Dit gaan nou oor Jesus se gesag.  Die Jode weet dat God sy wil deur die wet van Moses bekend gemaak het.  Nou oortree Jesus die wet en daarom kan Hy niks anders as ’n sondaar wees nie.  Maar die man wat genees is, vra of die Joodse leiers só uitvra omdat hulle Jesus se dissipels wil word (27).  Ironies antwoord die geneesde dat Jesus se herkoms net van God af kan wees.  Hy bely wat die geestelike leiers nie kan insien nie.  Die Fariseërs word kwaad en gooi die man wat genees is uit die sinagoge.

Hoe verskriklik is dit  nie.  Diegene wat meen dat hulle kan sien, is eintlik blind.  Hulle is blind, want God kan niemand verras nie.  God kan net in terme van Moses en die wet verstaan word.  God sal altyd by die menslike verstaan hou van hoe die reëls werk, meen hulle.  Hulle wat meen hulle kan sien, en spesifiek namens ander sien, is eintlik blind.

Wat sien die man?

Die verhaal vertel hoedat die blinde man se oë eers fisies “oopgegaan” het.  Hy wat glad nie kon sien nie, ontvang die geskenk van sig.  Hy gaan was hom in die Siloambad, waar water opgevang is wat van die tempelheuwel gekom het.  Siloam beteken “gestuurde”, die water kom letterlik uit die teenwoordigheid van God uit.  Jesus se opdrag om na Siloam te gaan, is ryk aan betekenis.  Dis letterlik die water wat van God kom, wat hom genees.

Die blinde man ontvang nie net fisiese sig nie.  Soos die verhaal ontplooi, leer hy om Jesus raak te sien as Gestuurde van die Vader.  Hy leer om in Jesus as Seun van die Mens (die Een wat van God kom) te herken en te bely:

  • Eers praat hy nog bloot van die “man met die naam Jesus” – ’n neutrale begrip (11)
  • In die daaropvolgende gesprek met die Fariseërs noem hy Jesus al ’n profeet (17)
  • Vervolgens bely hy in ’n konfrontasie met die Fariseërs dat Jesus “van God af kom” (33) en word hy uit die sinagoge geban
  • Dan ontmoet hy Jesus weer, sê dat hy in die Seun van die Mens glo, bely Jesus as Here, en aanbid Jesus.

So sien die blinde man twee keer die lig.  Eers word sy fisiese oë geopen.  Dan word sy geloofsoë geopen.  Hy herken die Lig vir die wêreld.

Wat sien ons?

Eerstens: Herken jy dalk die dissipels en die Fariseërs in jouself?
Mens moet jou eie rol in die verhaal kies.  Wie is jy?  Hier moet mens liefs nie te fyngevoelig wees nie, maar jouself oopstel vir selfondersoek.  Is jy die dissipels wat teologiese debatte, en sonde- en skuld vrae raaksien wanneer jou oë op ander mense se ellende val.  Voel jy dat ander seker kry wat hulle verdien, daarom is jou genesende betrokkenheid by hul lewens nie op jou radar nie?  Of is jy die Fariseërs wat God se wonderwerke altyd bedink in terme van die implikasies vir die georganiseerde godsdiens waarby jy betrokke is.  Kan jy net aanvaar wat inpas by jou opvatting oor wat God se reëls is?

Beide die dissipels en die Fariseërs ly aan ’n vorm van blindheid.  Hulle kan nie met die oë van Jesus kyk nie.

Hier praat ons nie net van indiwidue nie.  Die kerk kan ook soos die dissipelkring of die Fariseërs wees.  Ons mis die boot wanneer ons vergeet dat ons in diens van die Lig vir die wêreld staan.

Tweedens: kies om die blinde te wees
Mens kwalifiseer vir die genesing van Jesus deur die blinde te wees.  Blindheid is immers die minste van jou probleme.  Volgens die teks moet mens jou eie blindheid net raaksien (!) en voor Jesus herken.  Dan help Hy jou sien!  Die gevaar is om blind te wees, maar dit te ontken.  Vers 41: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’  Daarom bly julle skuldig.”

Wanneer mens jou blindheid eien, en daarvoor verantwoordelikheid neem, help dit jou na die Messias draai.  Hy help jou sien, Hy wek geloof in jou, Hy laat jou in alle opsigte sien.

Derdens: Neem deel aan die werk wat God doen
Jesus leer ons om die beste gebruik van elke geleentheid te maak – ons moet die werk doen van God wat ons gestuur het.

Hoe doen ’n mens dit?

Die lig wat hierdie teks verskaf, is as volg:

  • Mens moet God kan raaksien om deel te neem aan God se werk.  Ons het ’n hoë bewussyn van God nodig, ons moet God kan raaksien in die kleinste dingetjies rondom ons, ons moet God veral kan raaksien in die mense rondom ons.  Jesus kon.  Jesus leer ons hoe.
  • Mens moet ander mense kan raaksien.  Mens moet Jesus, soos Hy in die gestalte van die noodlydendes rondom ons verskyn, kan raaksien.

Wanneer Jesus ons blindheid wegneem, leer ons sien.  Hy was die skille van ons oë af.  Hy reinig ons harte van verblindende sonde, Hy laat ons uitreik na mekaar.

Ons word hedendaags uitgedaag rondom mense wat aan MIV/Vigs lei, deur straatkinders, werkloses, verslaafdes, prostitute en godloënaars.

Shane Claiborne, van wie ons aan die begin vertel het, oefen homself in om Jesus in ander raak te sien.  Hy stel homself oor grense bloot aan mense in ander omstandighede as hy.  Hy gaan strate toe, ontmoet mense, gesels met mense.  Dit word ’n gewoonte.  Hy het leer sien.  Sy oë het oopgegaan.  Sy oë bly oop.

Dit kan gedoen word.  Soos moeder Teresa gesê het: “In die armes sien ons Jesus raak, in Sy mees hartverskeurende gestaltes.”  In Jesus het ons iets om vir hulle te gee.  Die Lig vir die wêreld leer ons sien en doen.

God stuur ons om te leef

F317. “Here U Sien En Ken My (Altyd By My)”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof & Vertroue)
Oorspronklik: Heer, U Bent Altijd Bij Mij
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr Vert.: Marcel en Lydia Zimmer & Jan de Wet
© 1998 Celmar Music

1. Here U sien en ken my.
U ken my sit en staan.
En U ken my gedagtes;
U weet waarheen ek gaan.
Die woorde van my mond, o Heer,
Ja dit ken U gewis.
En waar ek ook al heen mag gaan,
Ek weet dat U daar is

Refrein:
Here U’s altyd by my.
U hou U hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my
Here U’s altyd by my.
U hou U hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my
Here U’s altyd by my.
U hou U hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my
Here U’s altyd by my.
U hou U hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my
Elke dag

2. Here U sien en ken my
Want in die moederskoot
Het U vir my gevorm
U is oneindig groot
Ek dank U vir die wonderwerk
Dat U my lewe lei
En wat ook sal gebeur, ek weet,
U is altyd by my

Refrein: