Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die gawe van God in Christus wat die kern van verlede week se tekste was, word nou versterk in die versekering dat dit vir gelowiges nuwe lewe, selfs uit die dood, bied.  Daar is weer ’n geleentheid vir gemeentelede om die volle omgang van God se genade te erken en aan te neem.

Ander tekste

Numeri 21:4-9 (Die koperslang op die paal)
Die koperslang
4Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword 5en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”

6Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf. 7Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”

Moses het toe vir die volk gebid, 8en die Here het vir Moses gesê: “Maak ’n beeld van ’n giftige slang en sit dit op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”

9Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit. As iemand wat deur ’n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.

Psalm 107:1-3, 17-22 (Danksegging vir God se reddingsdade)
Let op die Here se dade van trou
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
17Party het dwaas opgetree,
en deur hulle rebelse optrede,
hulle sonde,
het hulle in die ellende beland.
18Alle kos het hulle laat walg,
en hulle het by die dood omgedraai,
19maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle bevry
van hulle ellende,
20Hy het hulle met ’n enkele woord
gesond gemaak,
hulle aan die dood laat ontkom.
21Hulle moet die Here loof
vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade
wat Hy aan mense doen.
22Hulle moet dankoffers bring
en met blydskap van sy dade getuig.

Johannes 3:14-21 (Soos die koperslang, moet die Seun van die mens ook verhoog word)
14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog cword, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Fokusteks

Efesiërs 2:1-10
Lewe uit die dood
2 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
Een nuwe mensheid

Ekstra stof

Om die brief aan Efese in Bybelse konteks te plaas, eers iets oor die verhaal van Paulus se bediening soos Lukas dit in Handelinge vertel.

Handelinge 18:18-23 – Paulus se eerste besoek aan Efese
Paulus kom aan die einde van sy tweede sendingreis, ongeveer in die jaar 51-52 nC, in Efese aan en bly daar vir ‘n kort rukkie.  Hy het waarskynlik by Akwila en Priscilla gebly.  Hulle het ‘n huis in Efese gehad – 1 Kor 16:19.  Hy wou egter nie lank bly nie, en belowe om met ‘n volgende reis weer by hulle aan te doen.  Hy vertrek dus, doen Jerusalem aan, en voltooi sy tweede sendingreis met ‘n tyd in Antiogië.

Handelinge 18:24-28 – Die bediening van Apollos in Efese
Dan vertrek Paulus weer op sy derde sendingreis, ’n reis van geestelike versterking.  Die groot fokuspunt op hierdie reis is Efese.

Voor ons egter meer daaroor hoor, vertel Lukas eers ietsie meer oor die bediening van Apollos.  Apollos, ‘n begaafde prediker (Hand 18:24), doen groot voorbereidende werk, en sit dit voort met die ondersteuning van die gelowiges in Korinte soos ons hier lees en ook later in die Korinte brief (1 Kor 3:1-9 – waar Paulus hulle bediening vergelyk, maar ondergeskik maak aan die groei wat God gee).

Let op dat Apollos nie weer gedoop word nie – al het hy net van die doop van Johannes geweet – en net dieper ingelei word in wat die evangelie van Jesus Christus alles behels.  Hy het reeds die genade van Jesus ontvang, maar moes meer leer van die praktyke wat daarmee saamgaan.

Handelinge 19:1-40 – Paulus se bediening met sy tweede besoek aan Efese

Hierdie deel van Paulus se bediening in Efese word in drie episodes vertel: 1) die verhaal van die uitstorting van die Heilige Gees, 2) die verhaal van die seuns van Skeva, en 3) die verhaal van die oproer in Efese.

Handelinge 19:1-10 – Uitstorting van die Heilige Gees
Interessant is die onderwerp van die doop van Johannes wat Lukas hier aanraak,

  • eerstens in die vorige verhaal van Apollos, wat net dieper ingelei word in die betekenis van die evangelie van Jesus, sonder om weer gedoop te word, en
  • tweedens in die verhaal van die groepie dissipels (dit is die eintlike Griekse woord wat hier met gelowiges vertaal word) in die binneland, wat nog in die verwagting van Jesus en die Gees gelewe het, soos Johannes die Doper dit verkondig het, en nou beide die doop met water en die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Let op dat hulle altesaam omtrent twaalf was, wat herinner aan die aanvanklike twaalf dissipels wat Jesus gekies het.

Handelinge 19:11-20 – Seuns van Skeva
Paulus doen vir nog twee jaar groot werk hier (in totaal uiteindelik 3 jaar lank – Hand 20:31), aanvanklik in die sinagoge, en later in die saal van Tirannus.  Let op hoe die wonderdade wat God deur Paulus doen, uitgelig word, selfs deur sy klere, net soos dit vroeër van Petrus gesê is (selfs sy skaduwee – Hand 5:12-16) en van Jesus (ook sy klere – Mark 5:27; 6:56).  Dit word skerp gekontrasteer met die seuns van Skeva wat munt wil slaan uit die nuwe godsdiens, en dan erg uitgevang word as skynheiliges en bedroë daarvan afkom.

Die effek op die stad is dat baie tot bekering kom en afstand doen van hulle bose werke.  Daarmee is die towergodsdiens van Efese ’n gevoelige slag toegedien, iets waarby Paulus sal aansluit in die laaste hoofstuk van sy brief aan die Efesiërs.

Let op hoe Lukas aan die einde van hierdie deel van Paulus se bediening in Efese dit afsluit met dieselfde opsommende opmerkings van die vorige 5 hoofstukke van sy verhaal: “So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.” (19:20).  Die laaste hoofstuk van sy verhaal begin dus met die verhaal van die oproer in Efese waarmee ook die volgende fase in Paulus se bediening begin.

Terloops, dit is ook hier waar Paulus waarskynlik van sy briewe aan die Korintiërs geskrywe het.

Handelinge 19:21-30 – Die oproer in Efese
Die evangelie van Jesus Christus sal nou tot in die hartjie van die hoofstad van die Romeinse ryk geneem word.  Paulus besluit om terug te gaan na Griekeland – Masedonië (met die stede Filippi en Tessalonika) en Agaje (met hoofstad Korinte)  – en dan na Jerusalem en uiteindelik ook Rome te gaan.  Hy stuur Timoteus en Erastus vooruit en bly nog ’n ruk lank in Efese (Turkye).  Daarmee word die breë lyne van die verhaal wat hom gaan afspeel na die einde van die Handelinge getrek.

Die botsing tussen die Christelike godsdiens (die leer van die Here) en die heidense godsdienste van Efese bereik nou ’n hoogtepunt, met veral die vakmanne wat beswaar maak teen die effek wat die Christelike geloof op hulle beroepsbeoefening het.  Demetrius stook die onrus aan vanuit sy persoonlike situasie, maar spel ook die gevolge uit wat die evangelie op die publieke respek vir die godin Artemis het, en haar aanhang sal laat kwyn, en natuurlik hulle inkomste dan sal bedreig.

Chaos heers totdat die stadsklerk hulle tot bedaring bring met ’n verstommende wyse woord.  Dit is ’n oorwinning in die kleine vir die Christelike godsdiens en is ook ’n getuienis dat mense se harte nie gewen word deur mag en geweld nie, maar deur respekvolle gesprek wat  tot oortuigings kan lei.

Handelinge 20:17-38 – Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang
Paulus kom terug na Efese na sy reis na Masedonië, Griekeland, waar hy vir drie maande bly terwyl hy die gelowiges oral bemoedig.  Dit is opvallend hoe baie gelowiges uit die verskillende stede waar hy die evangelie verkondig het saam met hom reis, ’n hele gevolg, wat die krag van die evangelie demonstreer.

Paulus reis dan weer terug na Troas (Turkye), waar hy – soos Petrus Dorkas uit die dood opgewek het – ook vir Eutigus uit die dood opwek, wat die gelowiges, ten spyte van hulle vaak lywe, buitengewoon bemoedig het.

Terwyl hy reeds begin het met die reis na Jerusalem, wil hy nog vir oulaas met die ouderlinge van die gemeente in Efese praat en hy reël dat hulle mekaar ontmoet in Milete, so 60 km van Efese aan die kus.

Let op met hoeveel deernis en passie hy met hulle praat, asook die groot hartseer waarmee hulle van mekaar afskeid neem.  Paulus rig ’n roerende pleidooi tot hulle om die kudde van die Here op te pas.  Hy draai nie doekies om oor die lyding wat hulle sal verduur nie, dinge wat ook vir hom voorlê op sy pad, soos die Heilige Gees hom geruime tyd al op voorberei (20:23).

Hierdie toespraak gee ’n mens ’n roerende kykie in die passie wat hierdie groot Godsman gedryf het – al is sy lewe vir hom kosbaar, wil hy net sy lewenstaak voltooi en die dienswerk wat hy van die Here Jesus gekry het, klaarmaak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig (20:24).

Hy som sy bediening op met die woorde waaraan hy ook vir hulle herinner: “om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”  Onder baie trane en gebed rig hy sy voetstappe na Jerusalem, ten spyte van die feit dat hy weet, soos God hom oortuig het, dat dit nie met hom goed sal gaan wanneer hy daar kom nie.  ’n Mens dink aan die ervaring van Jesus in Getsemane, hoewel Hy nie kon staatmaak op sy metgeselle in sy uur van nood nie, en Paulus hier ’n hele skare het wat hom bemoedig.

Die brief aan die Efesiërs
Efese was ‘n groot en belangrike stad in wat ons vandag ken as Turkye.  Historici bereken dat daar ongeveer 250 000 mense gewoon het aan die begin van ons jaartelling.  Die tempel van Artemis (vgl Hand 19), een van die sewe wonders van die antieke wêreld, was ook daar.  Vandag is daar net ruïnes oor van Efese, naby die moderne stad Selçuk.

Die brief aan die gemeente in Efese is die brief met die duidelikste uiteensetting in die Nuwe Testament van wat die kerk is, en hoe die kerk moet funksioneer.  Dit is duidelik dat Paulus alles wat hy by die Here oor die kerk geleer het, en in die praktyk gesien het dat dit werk, aan die gemeente deurgee om hulle te motiveer om as gemeente te groei in volwassenheid, sodat hierdie wêreld kan glo.

Die brief is deur Paulus geskrywe, maar vanweë die meer onpersoonlike aard van die brief (hy noem niemand by die naam nie, behalwe Tigikus wat die brief aflewer) moontlik aan meer gemeentes gerig as net aan Efese.   Soos die ander gevangenskap briewe is Rome die meer waarskynlike plek vanwaar hy die brief geskryf het, hoewel Seserea ook ‘n moontlikheid is.

Die brief val duidelik in twee helftes uiteen:

  • ‘n Teologiese begronding van die evangelie van Christus Jesus wat ‘n nuwe mensheid tot stand gebring het oor die grense van nasies heen – hoofstuk 1-3.
  • Praktiese riglyne oor die eenheid van die kerk, die gebruik van gawes, die uitdagings van dissipelskap, die eise van ‘n lewenstyl in die lig, ‘n fokus op verhoudinge en ‘n oproep tot publieke standvastigheid – hoofstuk 4-6.

Daar is baie raakpunte met die brief aan Kolosse  en selfs met die brief aan Filippi (mense van die lig bv).

Paulus begin sy brief aan hulle met ‘n gesprek met die gemeente wat uitmond in ‘n gebed.  In dié gesprek loof hy God die Vader vir al die seëninge van die Gees wat daar in Christus Jesus aan ons gegee is (1:3-14).  In sy gebed bid hy dat die gemeente van Efese God werklik sal kan ken (1:15-23).

  • Saam met die dankgebed aan God vir hulle geloof en liefde, bid Hy indringend dat God die hoop in hulle verder sal aanwakker.  Dit is merkwaardig hoe baie kere Paulus oor hierdie drieling geloof, hoop en liefde skrywe – in ‘n sekere sin een van die kortste opsommings van waaroor dissipelskap gaan (1 Kor 13:13 en vele ander plekke in Paulus se briewe).  Paulus hoor dus van hulle dat hulle geloof en liefde groei en dat mense daarvan praat, maar dat hulle sukkel met die vashou aan God se toekoms vir hulle.
  • Daarom bid hy dat hulle geesteoë sal oopgaan om die hoop juis in drie goed te sien: 1) in hulle roeping hier en nou waarvoor hulle met al die geestelike seëninge in die hemel geseën is, 2) in hulle hemelse erfenis wat nie deur aardse gebeure geraak kan en sal word nie en 3) in die groot krag van God wat in hulle aan die werk is; ‘n krag wat met die opstanding en hemelvaart van Jesus Christus gedemonstreer is, en vir hulle as ‘n voorbeeld dien van wat God alles nog vir hulle kan doen.
  • Let op dat die posisie van Christus as: “hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy” uitgespel word.  Dit het volgens Paulus nie net betrekking op wat nou aan die gebeur is nie, maar sal selfs in die bedeling wat kom (die nuwe hemel en aarde) van krag wees.  En dit is dié Jesus wat die hoof van die kerk is.  Ons sal later meer hieroor nadink, veral in hoofstuk 3 en dan weer in hoofstuk 6.
  • En dan een van die rykste en wonderlikste uitsprake oor die kerk – vers 23 – “Die kerk is sy liggaam,die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”  ‘n Mens kan baie hieroor sê, maar dink net nou eers oor die een revolusionêre ding.  Paulus sê hier dat die kerk deur God gebruik word “om alles in almal te vervul”.  Dit is nie ‘n klein en onbelangrike opdrag nie.  Om die waarheid te sê, dit is meer as ‘n opdrag.  Dit word beskrywe as iets wat doodgewoon gebeur … en ons moet daarby inskakel.

Efesiërs 2:1-22 – God woon in die gemeenskap van gelowiges
Uit die gesprek en gebed van hoofstuk 1 trek Paulus nou vier gevolgtrekkings in hoofstuk 2-3 wat hy met ‘n verskeidenheid beelde inkleur.  ‘n Mens kan dit so opsom:

  1. God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – 2:1-10;
  2. Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – 2:11-18;
  3. God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – 2:19-22.
  4. Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – 3:1-13

Hy sluit dié gevolgtrekkings af met een van die mooiste gebede in die Bybel – 3:14-21 – waarin hy vra dat hierdie hele gemeenskap van gelowiges heeltemal vervul sal word met die volheid van God, as ‘n getuienis aan alle mense dat hulle in Christus Jesus vrede met God kan geniet.

Efesiërs 2:1-10 – God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid
Paulus eggo weer die refrein wat ’n mens in hierdie gevangenskap  briewe raaksien, dat God aan ons saam met Christus ’n plek in die hemel, dws in Sy teenwoordigheid gegee het.  Hy doen dit uiteraard ter wille van ons, omdat ons Sy kinders in Christus Jesus is.  Maar Hy doen dit ook om aan die wêreld sy geweldige groot genade ten toon te stel as getuienis van sy goedheid wat vir almal bedoel is.  Hy maak van mense wat sy vyande was, sy vriende.

  • ’n Mens kan vers 10 ook as volg vertaal: “Want ons is sy meesterstuk, geskep in Christus Jesus vir uitnemende projekte, wat God voorberei het, dat ons dit sal uitvoer.”  Dit is ’n baie belangrike perspektief op die geestelike lewe.  Ons doen nie maar wat ons wil, of wat een of ander geestelike leier vir ons voorsê nie.  Ons hoor by God in Sy Woord en deur Sy Gees watter dinge Hy wil hê ons by betrokke moet raak – en dit is die dinge wat ons dan doen.  Dit is presies wat Jesus bedoel het, toe hy aan sy dissipels gesê het (in die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put van Jakob): “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh 4:34).

Efesiërs 2:11-18 – Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus
Paulus kontrasteer hier die “onbesnedenes” – dit is dié nie-Jode wat nie in God geglo het nie – met die “besnedenes” – dit is die Jode wat deel van die Godsvolk was.  Christus het die vyandskap wat tussen dié twee groot groepe bestaan het, afgebreek soos ’n mens ’n muur sou afbreek.  Daar is nou een nuwe mensheid wat nie net met God nie, maar ook met mekaar versoen is, en nou om vrede met God en mekaar kan (en natuurlik moet) lewe.

  • Let op dat die mikpunt van hierdie eenheid die onbelemmerde vrye toegang tot die Vader is deur die werk van die een Gees.

Efesiërs 2:19-22 – God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom
Paulus gebruik 5 beskrywings van hierdie gemeenskap van gelowiges: 1) medeburgers, 2) huisgesin, 3) gebou, 4) tempel, 5) geestelike huis.  Die eerste twee beelde kom uit die samelewing uit: die politieke en nasionale sfeer, en die kleiner familie-kring.  Die laaste drie beelde kom uit die boubedryf uit, maar word duidelik geestelik bedoel.  Let op dat die gemeenskap van gelowiges nou die tempel is, en nie ’n kerk nie.

  • Wat my besonderlik tref is dat Paulus hier skryf dat die gemeenskap van gelowiges ’n plek word waar God woon.  Soos Hy vir ons ’n plek in Sy teenwoordigheid gegee het, so kry Hy ’n plek by ons, in ons teenwoordigheid.  En weereens, dit is nie net ter wille van onsself nie, maar sodat Sy teenwoordigheid sigbaar kan word vir die wêreld (soos in hoofstuk 3 verder gemotiveer sal word).  Die kerk, as liggaam van Christus, is in ’n besondere sin nou die beeld van God, die imago Dei, soos die mens dit aanvanklik was (Gen 1:26).  ’n Kerklike gemeenskap wat nie hiervoor leef nie, mis sy doel.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 391 “Vervul o Heer my hart  1,5,6”

Aanvangswoord
“Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
Loof die Here
vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade
wat Hy aan mense doen.
Hy verander dorsland in fonteinwêreld
en laat honger mense hulle daar vestig.
(Uit Psalm 107)

Seëngroet
Aan almal in ……………… wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Amen
(Uit Efesiërs 1)

Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,4”

Verootmoediging
Die driedeling van die antwoord van die Heidelbergse Kategismus Vraag 2 kan gebruik word as struktuur by verootmoediging om in te pas by die indeling soos genoem aan die begin:

“Daar is weer ’n geleentheid vir gemeentelede om die volle omgang van God se genade te erken en aan te neem.”

Die fokusteks pas pragtig binne die skema, en kan aangevul word deur die ander tekste.

SONDE
2 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. (Efes 2)

‘n Illustrasie van sondes en oortredings soos hierbo genoem, was die optrede van die volk in die woestyn soos beskrywe in Num 21:

4Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword 5en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”

6Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf.

Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 1,2”

VERLOSSING
In bogenoemde woestyngebeure gee God self uitkoms van die dood met die opdrag om ‘n koperslang op ‘n paal voor te hou.

7Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”

Moses het toe vir die volk gebid, 8en die Here het vir Moses gesê: “Maak ’n beeld van ’n giftige slang en sit dit op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”

9Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit. As iemand wat deur ’n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef. (Num 21)

Vir die Jode was hierdie spesifieke deel van die geskiedenis nog altyd van belang, want dit beskryf die laaste van ’n lang reeks opstande, juis in die doodsnikke van die woestynreis. Vir die Christene is dit net so belangrik, want in Johannes 3:14 word die slang as simbool van die Here Jesus gesien. (Die Bybel Verklaar, Num 21)

14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog cword, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. (Joh 3)

In pragtige taal verduidelik Paulus dit soos volg:
4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. (Efes 2)

Lied 400 “Juig, juig in Hom 1, 2, 5”

DANKBAARHEID
8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. (Efes 2)

Die genade karakter van verlossing en onus op toewyding as dankbaarheidslewe word aangeraak in Psalm 107
17Party het dwaas opgetree,
en deur hulle rebelse optrede,
hulle sonde,
het hulle in die ellende beland.
18Alle kos het hulle laat walg,
en hulle het by die dood omgedraai,
19maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle bevry
van hulle ellende,
20Hy het hulle met ’n enkele woord
gesond gemaak,
hulle aan die dood laat ontkom.

21Hulle moet die Here loof 
vir sy troue liefde, 
vir sy wonderdade 
wat Hy aan mense doen. 
22Hulle moet dankoffers bring 
en met blydskap van sy dade getuig. 

Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Liedere

F5.”Daar Is Geen Grens” 
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: The Steadfast Love
Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling 2005  Faani Engelbrecht
© 1974, 1975  Celebration
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagliedere 3:22,23)

1. Daar is geen grens aan U guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is U trou, o Heer, my God;
groot is U trou, o Heer.

F166. “Die Krag Van U Liefde” 
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: The Power of your love
Teks en Musiek: Geoff Bullock
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© Word Music

Heer ek kom na U
Neem my hart, verander my
As ek U ontmoet vind ek rus by U

Want Heer ek het ontdek
dat as ek aan u voete bly
sal al my twyfel wyk
voor die krag van u liefde

Hou my vas, laat u liefde my omvou
Hou my vas, naby aan u hart
Ek voel U krag en vlieg hoog soos ‘n arend
Dan sweef ek op die wind,
op die vlerke van u Gees
en die krag van u liefde

Heer, vertoon u mag
U heerlikheid en u gesag
sodat ons u liefde kan voel in ons

Heer, leer ons u wil ken
elke dag u stem te hoor
sodat ons mag lewe
deur die krag van u liefde

God praat met ons en ons luister

Epiklese Outeur: Johannes Calvyn se Straatsburgse liturgie van 1545
Lewende Here, ons bid nou dat u lewende woorde nie by ons ‘n hart van klip en ‘n kop van yster sal aantref nie, maar ‘n leergierige gees wat werklik soek na die betekenis van die nuwe lewe in U.  Laat ons hier werklik ervaar dat U ons Vader is wat ons as u kinders aangeneem het, dat u ons Verlosser is wat namens ons gesterf het en weer opgestaan het en dat U deur u Gees ons harte verlig om u stem te hoor.
Amen.
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk. Datum onbekend)

Skriflesing: Efesiërs 2:1-10

Prediking

Familie-oomblik

8–10 ’n Mens wonder soms hoekom God ons gered het. Hy het ons gered omdat Hy baie goed is vir ons en omdat Hy ons sy vriende wil maak. Geen mens kan homself van sy sondes red nie. Dit is net God wat dit kan doen. En God red ons ook nie omdat ons gaaf en oulik is nie. O nee! Ons verdien dit glad nie dat Hy ons red nie. Dit maak dat ons ook nie kan loop en spog en dink ons is beter as ander mense nie. Ons het mos nie onsself gered nie. Dit is nou vir ons baie lekker om God se hart bly te maak. Maar dit is God wat ons sy kinders gemaak het. Hy help ons nou om mooi dinge te doen. Ons weet mos dit is wat God wil hê ons moet doen. Joubert, S. (2000). Die Nuwe Testament vir kinders in ‘n taal wat hulle verstaan (Eph 2:10). Vanderbijlpark: Carpe Diem.

Opsie 1
Kry vooraf genoeg pryse vir almal – lekkers, plakkers, of wat jy ook al maklik kan kry.  Sê dat julle ‘n kompetisie gaan hou en wys wat die prys gaan wees.  Deel die kinders in twee groepe (of kry ‘n paar vrywillige families en verdeel hulle in twee groepe) en hou een of ander kompetisies – dalk ‘n vasvra.  Wanneer daar duidelike wenners is, gee die prys vir die verloorspan.

Eintlik is ons almal deel van die verloorspan.  Ons doen soms goed waarvan God nie hou nie.  Maar al doen ons verkeerde goed, gee God elke geval vir ons die prys!  Hy maak ons deel van die wenspan – sy kind! Ons teks vanoggend sê ons is uit genade gered – hierdie redding kom nie uit onsself nie, dit is ‘n geskenk van God.
Sorg dat almal ‘n prys kry!

Opsie 2
Bring iets wat iemand anders vir jou geskenk gegee het.  Hulle het dit verniet vir jou gegee, maar moes self betaal daarvoor.

Opsie 3 (wat jy dalk kan bêre vir ‘n ander keer wanneer dit beter sal werk)
Bring blou en rooi speelklei.

Kom ons speel dat ons die blou klei is.  Die rooi klei is die bloed van Jesus.  Kyk wat gebeur wanneer jy die twee begin meng!  Aan die begin nie veel nie, maar soos wat jy die klei knie en vorm – soos wat Jesus ons vorm – kyk wat gebeur…  Die klein word pers!  Dit word iets heeltemal anders.

Wanneer Jesus ons red, word ons iets heeltemal anders.  Pers is die kleur van koninklikes.  Ons word prinsesse en prinse – kinders van die Koning! (v 10 van fokusteks:  “God het ons gemaak wat ons nou is.”)

Preekriglyn

Hoe sal mens scrap yard in Afrikaans vertaal?  Dis ‘n rommelhoop van beskadigde, vernietigde, verskeurde metaal.  ‘n Motorbegraafplaas.  Die einde van die pad (letterlik!) vir motorkarre.  Die einde van die pad vir elke motor.

Vir mense is die ekwivalent van ‘n scrap yard ongeveer ‘n lykshuis en ‘n begraafplaas.  Die einde van die pad hier op aarde.

In Efesiërs 2 het Paulus ‘n geestelike, menslike scrap yard of lykshuis in gedagte.  Hier gaan dit nie om die dood ad die einde van die pad nie.  Hier gaan dit oor ‘n geestelike dood.  Dit gaan oor ‘n lewensstyl wat die ekwivalent van ‘n scrap yard, ‘n lykshuis, ‘n begraafplaas is.

Júlle was dood

Na die aangrypende hoofstuk 1 waarin Paulus jubel oor die liefde en genade wat God in Jesus Christus aan Christene geskenk het, wys hy in hoofstuk 2 op die geweldige teenstelling wat dit met die gelowiges se donker verlede vorm.  Daar is eenvoudig net geen vergelyking van die “lewe in Christus” met die “lewe in ongehoorsaamheid” aan God nie!

Om die diepgang en reikwydte hiervan te verduidelik, neem Paulus hulle net eers terug na hulle vroeëre toestand.  Hulle moet weet waar hulle was en hoe hulle toe gelewe het.  Dit sal hulle help om beter te verstaan waar hulle nou is, hoe hulle hier gekom het en wat dit vir hulle daaglikse lewe inhou.  Paulus wil dit by hulle tuisbring dat dit twee lewenswyses is wat radikaal, van die wortel uit, met mekaar verskil!

Terwyl hy in hoofstuk 1 van die geloofsgemeenskap as “heiliges” en “‘n gemeenskap wat aan God behoort en in Christus Jesus glo” praat, tref dit hulle soos ’n hou in die gesig as hy na hulle verlede verwys as “julle was dood” (2:1).  Dit was ’n uitsiglose en hooplose bestaan.

Indien ’n mens die volle impak van Paulus se beredenering wil volg, moet die digverpakte sleutel-begrippe noukeurig nagegaan word.

Julle was dóód

Anders as sommige paaipredikers wat oor sonde praat asof dit maar ligte foutjies is wat maklik reggestel kan word, draai Paulus geen doekies om oor die werklike geestelike toestand waarin hierdie mense voor hulle ontmoeting met Christus was nie.  Hulle verhouding met die Here is verbreek.  Immers, dit het nie bestaan nie.  Hulle het nie maar net foute gemaak/negatiewe dinge gedoen nie.  Nee, hulle verbinding met God as lewensbron is verbreek.

Ten opsigte van God en sy Ryk was hulle dood, dood soos ’n lyk.  Dit is ’n baie sterk beeld.  ’n Lyk kan nie sien, hoor, proe, praat of doen nie.  So is die mens wat geestelik dood is ook nie in staat om op God se Woord en koninkryk te reageer nie.  Eintlik bestaan God nie vir mense wat geestelik dood is nie.  Hulle dink nooit aan God nie want in hulle werklikheid bestaan Hy nie.  Ergste van alles, hulle was nie van hulle doodsheid bewus nie.  Iemand wie se verhouding met God verbreek is of wat geen bewuste band met die Here gehad het nie, mis dit nie!

Die “dood” waarvan Paulus hier praat, is nie die fisieke of liggaamlike dood nie maar ’n geestelike dood.  Mense kan geestelik dood wees terwyl hulle fisiek/liggaamlik springlewendig en bedrywig is en selfs ’n oorvol lewe lei.  Geestelike dood tree in as gevolg van “oortredings” en “sondes”.

“Oortredings” beteken om bewustelik ’n aangewese grens te oortree.  Die gebeure in Genesis 3 waar die verleier die God gestelde grens in sy teendeel ombuig, het rampspoedige gevolge vir Eva en Adam.  Die bedoeling met die bevraagtekening van die reël/beperking onthul ’n eiesinnigheid en verset.

Die begrip “sondes” beteken om die doel te mis soos om ’n skyf mis te skiet.  Die doel word gemis.  Die gebruik van die meervoud wys daarop dat dit herhaaldelik gedoen is, dus ’n gedragspatroon gevorm het.

Die twee begrippe sê dus dat mense nie is waar en wat hulle volgens die bedoeling van die Skepper moet wees nie.

Drie dodelike magte

Volgens Paulus het veral drie magte of kragte op die mense ingewerk; hulle verstand verduister, hulle gewete afgestomp en hulle die lewe wat God gee, ontneem (4:18,19).  Hierdie drie magte is die wêreld, die duiwel en sondige begeertes (2:2b-3b).

Eerste mag: Die sondige wêreld
Hulle het gelewe “soos hierdie sondige wêreld.”  Ons sou dit ook kon vertaal met “gang van die wêreld” of soos die 1933-vertaling “die loop van hierdie wêreld.”  Die begrippe wat Paulus hier gebruik, verwys na die geheel van sosiale waardes en stelsels, gewoontes en gebruike waarin alle verwysings na God afwesig is.  Die horison is dié wêreld.  Hulle lewenswyse word bepaal deur die “gees van die tyd.”  Die norm vir hulle lewe is dan nie die Woord van God nie maar die gewoontes en gebruike/modes van die tyd.  Ons verwys vandag na die “tydsgees” wat bepaal hoe ons moet lewe.

Mag twee: die vors van die duisternis
Hulle het hulle “laat meevoer (lei) .  .  .  deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.”  Die kollektiewe naam vir dié vors/prins/gees is “duiwel.”

Die ironie is dat, terwyl die mense hulle nie aan die gesag en heerskappy van God wil onderwerp nie, hulle slaafs volg waarheen die tydsgees (bose/duiwel) hulle lei (2:2).  Die uitkoms is ontstellend.  Ten opsigte van God se wil, eindig hulle in “ongehoorsaamheid” wat ten diepste ongeloof is.

Mag drie: sondige begeertes
Die derde mag of krag is die sondige begeertes en luste wat in ons gedagtes opkom.  Hier gaan dit oor ons sondige natuur en die begeertes wat van daaruit aangevuur word.

Die onbegryplike is dat dit normale liggaamlike behoeftes en begeertes soos byvoorbeeld vloeistof, kos, oefening, seks, slaap is wat deur ons sondige natuur verander word tot negatiewe en afbrekende kragte.  Die behoefte aan kos is noodsaaklik maar ongetemde eetlus is gevaarlik.

Wanneer begeertes en drange losgemaak word van verantwoordelikheid teenoor God, onsself en ons medemens, word dit afbrekende en vernietigende kragte.  Die menslike samelewing betaal duur vir die sondige begeerte na drank, dwelms, seks, rykdom, mag en gemak.  Daar word en is al baie geskryf oor die geweldige rol en invloed van sogenaamde “magte” op die mens se lewe.  Daarmee word verskillende dinge soos ideologieë (politieke, sosiaal-ekonomiese, kulturele), stelsels, strukture, modes, gebruike, tradisies en persepsies bedoel.  Soms word dit aan ’n persoon of groep verbind, meestal is dit onpersoonlik.

Julle wás dood

Met ’n verrassende “maar” beskryf Paulus die karakter van die God van die Bybel.  Dié Here wat geen plek het vir die sonde nie, is die God wat “ryk is in barmhartigheid en ons innig lief het” (2:4).  Dit bewys Hy aan ons nie omdat ons self sulke deugdelike mense is nie – inherent goed en gaaf nie.

Nee, God deurbreek juis ons wanhoopsituasie.  Hy bewys aan ons sy liefde en sluit ons by sy genadewerk in Christus in terwyl ons nog “dood was as gevolg van ons oortredings”.  Terwyl ons nie kon of wou reageer nie, het God ons “saam met Christus lewend gemaak” (2:5; Rom 5:6-8).

Dit laat Paulus uitroep: “Uit genade is julle gered!” (2:5).  In sowel 2:5 as 2:8 word die woord vir “redding” gebruik wat verwys na ’n handeling van God in die verlede wat ’n blywende gevolg het.  Ons word deur die geloof ingesluit in ’n voltooide daad van God!

Let op die sleutel uitdrukkings in Paulus se verlossingsbegrip: “saam met Christus”, “saam met Hom” en “in Christus Jesus”.  Deur Christus is ons uit die doodstoestand bevry.  In ’n deurlopende refrein hoor die gelowiges dat hulle saam met Hom “lewend gemaak is” (2:5), “opgewek is uit die dood” en “’n plek in die hemel gegee is” (2:6), “sy goedheid aan ons bewys het” (2:7), “ons geskep het om ons lewe te wy aan die goeie” (2:10).

Uit genade gered …

Wat die geloofsgemeenskap moet weet, is dat hierdie redding nie uit hulleself kom nie (2:8), nog minder “deur julle eie verdienste”(2:9).  Dit is ’n gawe (geskenk) van God se “genade”, sy “barmhartigheid”, sy “innige liefde”, sy “goedheid”.  Die Christelike geloof bely dat God se genade die enigste oorsaak is van die nuwe lewe in en saam met Christus.  Al is die oorsaak vir God se genade net in Hom geleë, skakel dit die mens nie uit nie.  Inteendeel, die mens moet dit wat deur God aan haar/hom gegee word gelowig aanneem.  Selfs hierin kom God ons tegemoet.  Kragtens die oorweldigende grootheid van sy genade skenk Hy ons ook die geloof wat nodig is om die genade aan te neem.  Die Here bewerk die geloof in ons deur sy Gees (1 Kor 2:12,14,15.  Vgl ook H K Vr en Antw 65).

Paulus weerlê alle idees en vorme van selfredding.  Om gered te word, is ’n genadegeskenk (5, 8).  Redding is niks minder as herskepping nie! God het ons gemaak, ons is sy kunswerk in Christus Jesus (2:10; 2 Kor 5:17-19).

…  om ons lewe (hier en nou) aan goeie werke te wy

Die beeldspraak wat tot dusver gebruik is, mag onbedoeld die indruk wek dat die Christelike geloof uitsluitlik op geestelike sake fokus.  Veral die uitdrukking dat die geloof ons deel gee aan “’n plek in die hemel” (6) kan die misverstand skep dat dit vir Paulus oor ’n soort vroomheid gaan wat nie met die aardse te doen het nie.

Die teendeel is egter waar.  Die Christengelowiges is as produk van God se herskeppende genade bedoel vir goeie dade/werke wat God tevore voorberei het sodat ons ons lewe daaraan kan wy.  Dit gaan nie om werke wat ons kies om te doen nie.  Ons lewenswyse staan in diens van die werke (goeie werke) wat God reeds oor besluit het.  Wat hierdie lewenswandel inhou, word onvergelyklik uitgestippel in 4:17-6:20.  Dit gaan om ’n lewenswyse “in ooreen-stemming met die evangelie van Christus” (Fil 1:27a).

Geen moralisering

Uit hierdie teks blyk hoe gevaarlik moralisering is.  Wanneer die Christelike lewe vir ons die gehoorsaamheid word wat ons binne onsself moet skep, het die evangelie daaruit verdwyn.  As Christelikheid beteken dat ons onsself uit die scrap yard of die lykshuis moet optel, verstaan ons nie waaroor dit gaan nie.

Tragies genoeg bly moralisering een van die grootste versoekings vir die kerk.

Geen wêreldvreemdheid

Vir baie Christene gaan die geloof daaroor dat ons ván hierdie aarde gered word, vir die ewige lewe.  Die geloofskeuse wat ons uitoefen (moralisering), is om te ontsnap aan die straf van God sodat ons toekoms anderkant die dood veilig is.

Paulus beklemtoon in hierdie gedeelte dat ons vír die aarde gered word.  God wek ons op om ons lewe te wy aan die goeie werke of dade wat God deur ons doen.

Nuwe lewe, nuwe doel

’n Totaal nuwe lewe het tot stand gekom.  Ons bestaan is “in Christus” en voortaan geld van ons hele lewe dat ons “saam met Christus Jesus” opgewek is uit die dood en saam met Hom ’n plek in die hemel gegee is (2:6).  Los van Christus Jesus verval alles.  Hy omsluit/omvou ons met God se goedheid en liefde.

In Christus is ons ’n nuwe skepping om ons lewe te wy aan goeie dade/werke.  Daarvoor het God die gelowiges in Christus bestem (10; 2  Kor 5:17).  Wie God se genade in Christus Jesus gelowig aangeneem het, leef deur die Gees op ’n nuwe manier en is volledig in diens van God se heil op alle terreine van die lewe.  Wie glo, lewe!

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
As die hernuwing van doopbeloftes as deel van die Paassondagliturgie beplan word, sal dit goed wees om die doopgeloofbelydenis op die Sondae in Lydenstyd te gebruik (sien basisliturgie).
Ek glo in en vertrou op God die Vader,
wat die wêreld gemaak het.
Ek glo in en vertrou op sy Seun Jesus Christus,
wat die mensdom verlos het.
Ek glo in en vertrou op sy Heilige Gees,
wat lewe gee aan die mense van God.
Ek glo in en vertrou op een God:
Vader, Seun en Heilige Gees. Amen.
(Uit Preekstudies en riglyne, 2012: Basisliturgie vir die Lydenstyd).

Wegsending: Lied 491 “‘k Het Jesus lief Hy is my lig en krag vs 1,2,3,4,5”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.