Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Om met integriteit te lewe beteken om eerlik voor God lewe, om heel te wees. God se verbondskinders lewe as bevrydes. Die sonde het geen houvas meer op ons nie, dit is reeds deur Christus aan die kruis oorwin. Dit beteken nie dat ons sonder sonde is nie. Dit beteken eerder dat ons nie hoef bang te wees of te huiwer om voor God te bely wie ons is nie. Ons is deur Christus se lyding met God versoen; tydens hierdie erediens vier ons dit.

Ander tekste

Josua 5:1-12
5 “Toe al die konings van die Amoriete wes van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete aan die see hoor dat die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat opdroog het sodat ons kon deurgaan, het hulle harte van angs verstyf en het hulle nie meer moed teen die Israeliete gehad nie.”

Die besnydenis by Gilgal
2In dié tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou klipmesse en besny die Israeliete. Daar moet weer ’n besnydenis wees.”

3Josua het toe vir hom klipmesse gemaak en hy het die Israeliete besny. Die plek is genoem die Heuwel van die Besnydenis. 4Die rede waarom Josua die besnydenis moes uitvoer, is die volgende: die hele volk wat uit Egipte getrek het, die mans, al die weerbare manne, is op pad in die woestyn dood met die uittog uit Egipte; 5al die mense wat destyds getrek het, was besny, maar die mense wat in die woestyn onderweg gebore is tydens die uittog uit Egipte, was nie een besny nie; 6die Israeliete het veertig jaar lank in die woestyn rondgetrek, totdat die hele nasie uitgesterf het, dit wil sê die weerbare manne wat uit Egipte getrek het en ongehoorsaam was aan die opdrag van die Here. Hy het destyds ’n eed afgelê dat hulle nie die land sou sien wat Hy met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee nie, ’n land wat oorloop van melk en heuning; 7Hy het daardie mense se kinders in hulle plek gestel en vir hulle het Josua besny, want hulle was nog nie besny nie, hulle is nie langs die pad besny nie.

8Nadat die hele nasie klaar besny is, het hulle eers in die kamp gebly tot hulle gesond was.

9Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek julle bevry van die smaad wat van Egipte se tyd af op julle rus.”
Josua het die plek toe Gilgal genoem. Dit is vandag nog die naam.

Die paasfees
10Terwyl die Israeliete nog in Gilgal in die kamp was, het hulle die paasfees daar in die Jerigovlakte gevier, op die veertiende van die maand, in die aand. 11Die oggend na paasfees, presies op dié dag, het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring, van die opbrengs van die land, geëet. 12Daardie oggend toe hulle van die opbrengs van die land eet, het die manna weggebly; daar was nie weer manna vir die Israeliete nie: hulle het daardie jaar van die land Kanaän se eie oes geëet.

Psalms 32
U het my skuld vergewe
32 ’n Gedig van Dawid.
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf
word nie,
wie se sonde vergewe word.
2Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding
nie toereken nie
en in wie se gees
daar geen valsheid is nie.
3Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer
soos ek heeldag om hulp
geroep het.
4U hand het dag en nag
swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog
soos water in somerhitte.
5Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek
my opstandigheid;”en U het my skuld vergewe.
6Dit is waarom elke gelowige
in ’n tyd van nood tot U bid;
selfs vloedwaters
sal hom nie skielik oorval nie.
7U is vir my ’n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing.
8Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee
en my oog oor jou hou.
9Moenie onverstandig wees nie,
soos ’n perd of ’n muil
wat met ’n stang in die bek
beteuel moet word
as jy hom wil lei.
10Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges,
jubel, alle opregtes.

Lukas 15:1-3 en 11b-32

Die gelykenis van die verlore skaap
(Matt 18:12–14)
15 Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

3Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:
4“Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. 5En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. 6As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’7Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Die gelykenis van die verlore muntstuk
8“Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? 9En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’10Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
Die gelykenis van die verlore seun

11Verder het Jesus gesê:
“Daar was ’n man wat twee seuns gehad het. 12Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.

13“Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na ’n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe. 14Nadat hy alles deurgebring het, het daar ’n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly. 15Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas. 16Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.

17“Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. 18Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! 19Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’20En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan.

“Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. 21Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’ 22Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ’n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! 23En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! 24Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.

25“Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. 26Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. 27Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’

28“Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; 29maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos ’n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ’n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ’n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. 30Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’

31“Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. 32Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”

Die 2de brief aan die Korintiërs
Hierdie brief is moontlik die samevoeging van ‘n 4de (2 Kor 1-9) en 5de brief (2 Kor 10-13) van Paulus aan die Korintiërs. Die eerste Korintiërbrief was eintlik sy tweede (1 Kor 5:9), en uit 2 Korintiërs kom ‘n mens agter daar was ook ‘n derde brief (2 Kor 2:4). Onthou hulle het ook briewe aan hom geskrywe (1 Kor 7:1).

Daar is twee redes waarom geleerdes twee briewe onderskei: 1) die situasie van hoofstuk 1-9 blyk ‘n meer stabiele een te wees, vandaar Paulus se blydskap dat dit beter gaan in die gemeente; die situasie in hoofstuk 10-13 blyk heel anders te wees soos die geagiteerde trant van sy aanval op die valse apostels duidelik wys; 2) in 12:18 verwys Paulus moontlik na die kollekte as iets wat al gebeur het, terwyl dit in hoofstuk 8-9 nog in die toekoms is; 12:18 sou egter ook kon verwys na hulle ondersteuning van Titus.

Gordon Fee (2002: How to Read the Bible Book by Book) vergelyk 2 Korintiërs met ‘n baie gekompliseerde televisie dramareeks wat jy in die middel daarvan aanskakel. Mense praat en dinge gebeur, maar jy is nie altyd seker wie al die karakters is nie, en wat aan die gang is nie! 2 Korintiërs is soos ‘n nuwe wêreld wat jy betree na jy 1 Korintiërs gelees het. In ‘n sekere sin is die enigste raakpunte tussen die twee briewe die kollekte vir die gemeente in Jerusalem (hfst 8-9) en moontlik ‘n voorsetting van die gesprek oor afgode en vleis van afgodstempels in 6:14-7:1.

Tog, is daar ‘n dieper verband: die gespanne verhouding wat daar tussen die apostel en die gemeente is oor 1) sy beplande/uitgestelde besoeke (1:12-2:13; vgl ook 7:5-16), 2) die kollekte (hfst 8-9), 3) sy apostelskap (2:14-7:4 – die hoogtepunt van die brief om sy “skat-in-kleipotte”-apostelskap te verduidelik) en 4) die vals apostels (hfst 10-13; vgl ook 2:14-4:6).

Vandaar die intens persoonlike trant van die brief, wat sy verontwaardiging (2:17; 3:1; 6:14-16 – “Hoe kan daar …?”) en die bytende sarkasme (10:1 “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is”) afgewissel met die sagte appèl (6:1,11; 7:2 – “Maak vir ons plek in julle harte”) aan die gelowiges in Korinte om tot hulle sinne te kom, verklaar. Dit laat ‘n mens ook begryp waarom sommige gedeeltes soms so moeilik is om te volg, bv. die vloei van gedagtes in hoofstuk 2 tot 7.

Hoe dit ook al sy, let op dat die brief deur Paulus en Timoteus geskrywe word, terwyl Sostenes saam met Paulus by 1 Korintiërs betrokke was. Paulus was in dié tyd in Masedonië (2:13; 7:5), moontlik in Filippi, en het daar van Titus terugvoer gekry oor hoe dit in die gemeente van Korinte gaan (7:5-7).

Hy skryf aan die een kant omdat hy bly is dat dit beter gaan in die gemeente (7:2-16), maar ook omdat hy ‘n derde keer (12:14; 13:1) by hulle besoek sou aflê om onder andere die kollekte vir die gemeente in Jerusalem te ontvang (8:4,19; 9:1-5) op sy pad daarheen, asook om hulle te waarsku oor die vals apostels (11:13).

In die proses gee hy ‘n diepsinnige teologiese besinning oor God en die bediening van die versoening, met hoofstukke 2:12-6:10 van die beste prentjies in die Nuwe Testament van die werk van die Gees in ons om God se heerlikheid te weerspieël, wat van ons nuwe skeppings van God maak (5:17), sodat ons in die triomftog van die evangelie deur die wêreld hierdie versoening van God met alle mense kan deel. En dit alles gebeur steeds as ‘n kruis-evangelie, deur die bedienaars van die evangelie, die kleipotte wat maklik breek, maar die skat van God aan die wêreld bring.

Fokusteks

2 Korintiërs 5:16-21
Die bediening van die versoening
11Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is. 12Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie. Ons gee julle juis eerder aanleiding om trots te wees op ons, sodat julle ’n antwoord kan hê vir dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie. 13As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God; en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle. 14Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. 15En Hy het vir almal gesterwe sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 390 “Ons kniel hier aan u voete neer<“/em>
Flam 208 “U Het Nie Gewag Op My”
VONKK 175 “Net Soos Ek Is”

Votum: Ps. 32:8-11 sê:
Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee
en my oog oor jou hou.
Moenie onverstandig wees nie,
soos ‘n perd of ‘n muil
wat met ‘n stang in die bek
beteuel moet word
as jy hom wil lei.
Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges,
jubel, alle opregtes.

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees.

Wet: Psalm 32:3-6

Skuldbelydenis
Lied 239 Jesus, Rots vir my geslaan
Flam 75 Jesus, Rots Vir My Geslaan
VONKK 10 Jesus, Wees My, Sondaar, Genadig (Tollenaarsgebed)

Genadeverkondiging: 2 Kor. 5:19-21
19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Lofsang
Lied 245 Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het
Flam 91 U Genade Vir My Is Genoeg
VONKK 105 Ek Wil U Eer Met Duisend Stemme, Heer

Liedere

VONKK 105 “Ek Wil U Eer Met Duisend Stemme, Heer”
Teks: O for a thousand tongues to sing – Charles Wesley 1707-1788; Jacques Louw 2010 ©
Musiek: LYNGHAM – Thomas Jarman (1715-1781)
Kantoryverwerking: Onbekend (Psalter Hymnal #404)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

1. Ek wil U eer met duisend stemme, Heer –
aan U my loflied bring,
aan U my loflied bring.
U wonderdade verstom my meer en meer.
U goedheid laat my sing.
U goedheid laat my sing.
U goedheid laat my sing.

2. Here, U leef! U’t waarlik opgestaan!
U heers oor graf en dood.
U heers oor graf en dood.
Elkeen wat glo, sal nooit verlore gaan.
U is ons krag en hoop.
U is ons krag en hoop.
U is ons krag en hoop.

3. Hoor, dowes, hoor; kom, stommes, bring Hom eer –
laat almal voor Hom buig.
laat almal voor Hom buig.
Hy kom in glorie op wolke eenmaal weer.
Laat ons van vreugde juig.
Laat ons van vreugde juig.
Laat ons van vreugde juig.

4. Vader ons loof, ons eer u Wondernaam
vir goedheid lewenslank,
vir goedheid lewenslank!
Ons eer u grootheid, ons prys U almal saam.
Aan U ons lof en dank!
Aan U ons lof en dank!
Aan U ons lof en dank!

VONKK 175 “Net Soos Ek Is”
Teks: Just as I am, without one plea – Charlotte Elliot 1836; Net soos ek is, geen hulp naby – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 ©
Musiek: BOSTON – Lowell Mason (1792-1872)
Kantoryverwerking: Lowell Mason (1792-1872)
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Geloof en Vertroue

1. Net soos ek is, met my sonde so groot,
kom ek na U, my Verlosser, in nood.
Daar aan die kruis red U my van die dood –
o Lam van God, ek kom!

2. Net soos ek is so ellendig en blind,
dikwels tog ook nog so wêreldgesind.
By U alleen is daar redding te vind –
o Lam van God, ek weet!

3. Net soos ek is kom en buig ek my neer,
ek is met sonde bevlek, o my Heer.
Net U kan, Heer, my verlorenheid keer –
o Lam van God, ek kom!

4. Net soos ek is kom en nooi U vir my.
Al moes U ook soos ‘n moordenaar ly,
kom U vergewe en skeld U my vry –
o Lam van God, ek glo!

VONKK 10 “Jesus, Wees My, Sondaar, Genadig (Tollenaarsgebed)”
Lukas 18:13
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: TOLLENAAR — Jannie Hougaard © en Francé Ludik © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief — Skuldbelydenis

Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!
Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!

F208. “U Het Nie Gewag Op M”y
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd)
Oorspronklike titel: You did not wait for me
Teks en musiek: Mark Altrogge
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Sovereign Grace Praise
CCLI Song No. 24047; CCLI License No. 2048851

U het nie gewag op my om na U te kom
maar Uself geklee met brose menslikheid.
U het nie gewag op my, om uit te roep na U
maar U roep my op die naam: “Kom na My”.
Vir ewig is ek dankbaar, o, Heer,
dankbaar vir die kruis, Heer, wat U dra.
Vir ewig is ek dankbaar, o Heer
want U soek my voor ek daarvoor vra.

Flam 75. “Jesus, Rots Vir My Geslaan”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Skuldbelydenis)
Oorspronklik: Meine Hoffnung Stehet Feste (1680)
Afrikaanse vertaling: Attie van der Colf
Kopiereg: © NG Kerk Uitgewers (Liedboek 239)
Musiek: Elmarie Wiesner
© Urial Publishing

1. Jesus, Rots vir my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
Jesus, Rots vir my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat.
Laat u lyding sonder maat,
my tot heil wees en tot krag
teen die sondeskuld en -mag.

2. En ek self – wat kan ek doen
om my sonde te versoen?
En ek self, wat kan ek doen
om my sonde te versoen?
Sou my hart met ywer gloei,
sou my trane ewig vloei –
nog gebede, nog geween,
kan my red, Heer, U alleen.

3. Leeg, net my sondelas,
hou ek u verdienste vas.
Leeg, net my sondelas
Hou ek u verdienste vas.
Ek kom om vergewing vra;
U het ook my skuld gedra!
U, geslaan tot heilsfontein,
was, my Heiland, maak my rein!

4. Heer, my Rots bo almal groot
Staan U vas in elke nood.
Heer, my Rots bo almal groot
Staan u vas in elke nood.
Trou van mense kom en gaan,
maar u bly onwrikbaar staan.
Eew’ge Rots, U laat ook my
veilig, ewig in U bly.

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK: Flam – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding)
Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ’n kruis op sy rug en ’n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in sy oë staan,
toe Hy roep: “Dit is volbring!”

Refrein:
Ja, ek dank U vir u genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys u genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!

Refrein:

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.

Refrein:

U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

F360. “Abba Vader”
Teks en musiek: Jean Marais
Kopiereg: Ó 2010 Urial Publishing
(Opgeneem op Saam Met Die Engele)

1. Abba Vader, U’s ons Heer
laat u koninkryk regeer,
laat u lig opnuut weer skyn,
vul elke sak met nuwe wyn.

Refrein:
Want U is wonderbaar,
U liefde openbaar.
U vader-arms oopgestrek
verwelkom my weer tuis.
Want U is wonderbaar
U krag is openbaar.
Skepper van die heelal
kom vul my meer met U
Abba vader.

2. Abba vader, U’s ons God
in ons harte is u gebod.
Uit ons self kan ons niks doen
deur die kruis met U versoen.

God praat met ons en ons luister

Epiklese Gebed
Here, ons wil U loof omdat U goed is. Daar is geen einde aan u liefde nie. Baie van ons is verdwaal en kan nie aldag ons pad kry nie. Daar is ook baie mense in die wêreld wat honger, dors en uitgeput is. Ons eie verdwaaldheid en die nood van die wêreld bring ons nou na U toe. Ons vra dat U ons uit die ellende sal red en op die regte pad sal bring. Ons glo u Woord praat oor ons geestelike en materiële nood. Praat nou met ons, Here. Amen.

(Op grond van Ps. 107, uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ’n blom na die son draai. BybelMedia.)

Skriflesing: 2 Kor. 5:16-21

Familie-oomblik

Die tradisionele manier om hierdie teks te verduidelik, is met ‘n skoenlapper. Bring ’n skoenlapper saam, koop ’n speel/plastiek skoenlapper by Crazy Store of maak een van papierbord, toiletrol of enige van die magdom ander skoenlapper craft opsies.

Ons teks sê: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Die skoenlapper help ons om dit te verstaan.

Skoenlappers was eers wurms. (Brei uit oor wurms – harig, grillerig, ens. Bring dalk ook ’n paar wurms – plastiek as dit moet – saam.) Min mense sal sê dat wurms mooi is. Dalk eerder grillerig. Op ’n dag spin wurms hulleself toe in ’n kokon en wanneer hulle uitkom, is hulle pragtige skoenlappers!

God het nie die wurms gevat en vir hulle vlerke gegee nie! Wanneer die kokon oopgaan, is dit ’n heel nuwe skepping wat daar uitkom. Die wurm is weg. Daar is ’n skoenlapper.

Wanneer ons aan Jesus behoort, word ons ook nuut.

Laat kinders skoenlappers maak. Hier is ‘n klomp idees van hoe kinders skoenlappers kan maak.

Preekriglyn

Vyf jaar lank, in die vroeë 1500’s, het kunstenaar Michelangelo op sy rug gelê en tonele uit die skepping, val en vloed op die plafon van die Sistynse Kapel in Rome geverf.

Die pragtige kunswerk het byna onmiddellik begin verdof. Binne ‘n eeu nadat die werk voltooi is, het mense begin vergeet hoe dit oorspronklik gelyk het. Die skilder Biagio Biagetti het in 1936 gesê: “Ons sien die kleure van die Sistynse plafon asof deur gerookte glas.”

In 1981 is steierwerk opgerig om die pragtige fresko’s wat die plafon versier, op te knap. Gewapen met ‘n spesiale skoonmaakmiddel het Fabrizio Mancinelli en Gianluigi Colalucci ‘n klein hoekie van die skilderwerk versigtig gewas. Toe nooi hulle kunskenners om die werk te inspekteer. Die resultate was verstommend. Niemand kon hulle indink dat soveel verstommende kleure onder die eeue van vuil aanpaksel skuil nie.

Hierdie was nie die Michelangelo wat kunskenners tot op daardie stadium geken het nie. Dié kunstenaar was ‘n meester van vorm, met skilderwerk wat eintlik meer aan beeldhouwerk herinner. Hierdie “nuwe” kunstenaar was egter ook meester van aangrypende kleur.

Mancinelli en Colalucci se sukses het gelei tot die skoonmaak van die hele plafon. Die taak is in Desember 1989 voltooi. Dit het twee keer soveel tyd geneem om die plafon skoon te maak as wat Michelangelo gebruik het om dit oorspronklik te skilder. Die resultaat was asemrowend. Vir die eerste keer in byna 500 jaar kon mense die kunswerk sien soos dit bedoel was om te lyk, in volle kleur en glorie.

Vernuwing

In 2 Korintiërs 5 praat Paulus oor God se vernuwingswerk in mense se lewens. God bring herstel en genesing in mense se lewens. Daarom verhelder God in Christus die oorspronklike bedoeling en heerlikheid waarmee mense geskape is. Daarmee plaas God mense op pad na sy heerlike bestemming vir hulle. Daarmee vernuwe God hulle verhouding met mekaar, met hulle wêreld en met God self. Dit alles gebeur op grond van die versoening wat in Christus moontlik gemaak is.

Kom ons kyk eerstens wat Paulus oor vernuwing en versoening sê, en vra dan tweedens waarom hierdie boodskap so belangrik vir die verhouding tussen Paulus Korintiërs was.

Paulus oor vernuwing

Paulus begin deur in vers 16 te sê die vernuwing van ‘n gelowige se lewe bring verandering in jou verhouding tot ander mense. Paulse se eie bekering getuig hiervan. Onderweg na Damaskus, om gelowiges te gaan terroriseer omdat hulle nie aan sy maatstawwe voldoen het nie, ontmoet hy die lewende Christus. Vroeër het hy Christus volgens menslike maatstawwe beoordeel. Nou het hy Christus waarlik leer ken. Dit bring ‘n radikale verandering in die manier waarop hy ander mense beoordeel.

Nou kyk Paulus (en ook ons, ons almal wat deur die geloof met Christus gesterf en opgestaan het) na die mede-mens op ’n geestelike manier. Ons fokus nie meer op die uiterlike, menslike maatstawe, of vanuit ’n wêreldse perspektief nie. Ons beoordeel nie soos vroeër Christus, en enigiemand anders, uit selfsug, onopregtheid of vooroordeel nie. Ons kyk met Christus se oë na ander.

Volgens vers 17 is hierdie nuwe manier van kyk moontlik, want die hele mens word vernuwe. Die ou dinge is verby, ’n nuwe skepping het plaasgevind, ‘n nuwe mens het tot stand gekom. Paulus kondig in die vers die diskontinuïteit tussen die ou en nuwe bedeling aan. Iets radikaal gebeur in Christus.

Volgens verse 18 en 19 is die nuwe dinge die werk van God. God doen dit deur die gebrokenheid van die ou mens deur die versoening in Christus te herstel.

Die nuwe lewensuitkyk met nuwe standaarde en leefstyl (16) en nuwe bestaan, nuwe skepping (17) is God se inisiatief. God is die outeur van die tweede skepping, soos van die eerste . God bewerk die nuwe skepping op basis van die soenoffer van Christus. God neem die inisiatief om ‘n nuwe skepping, ‘n nuwe werklikheid, nuwe mense en ‘n nuwe wêreld te vestig. Hy doen dit op die hoeksteen van Christus se versoening.

In Christus is niks inderdaad meer dieselfde nie.

Bedien die versoening

Twee begrippe “versoening” en die “bediening van versoening” tree vanaf vers 18 op die voorgrond. Die woord wat met versoening vertaal word, kan (volgens die bekende prof EPJ Groenewald) teruggevoer word tot die Hebreeuse woord wat ruilwaarde aandui. “Paulus het begryp dat die dood van Christus aan die kruis ’n handeling van God was waarby die ruilwaarde vir ons sondes aangebied is.”

Die Here se kerk kry die opdrag om die boodskap van die versoening uit te dra, of eerder, te bedien. Soos Jesus nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie (Mark 10:45), is daar ’n noue verband tussen versoening en dienslewering (Groenewald). Dis ’n roeping tot selfprysgawe. Versoening kos ’n prys! Nuwe mense leef versoenend en bedien ander met versoening. Soos in Johannes 3:16 rig God nie sy versoening aan enkelinge nie, maar op die wêreld.

Die kerk is nie ‘n magsgroep of ‘n sosiale beweging wat sy gewig probeer rondgooi nie. Die kerk bedien die versoening. Die kerk bring mense in Christus se Naam bymekaar. Versoening kan nie afgedwing word nie. Dit word af gepleit. Mense word aangemoedig om versoenend te leef in Christus se Naam. Om versoen met God en met mekaar te lewe.

Agtergrond: Vullis in Paulus se verhouding met die Korintiërs

Paulus is nie bloot besig om teoreties oor versoening te praat nie. Hy skryf in ‘n situasie waar versoening dringend tussen hom en die gelowiges in Korinte nodig is.

Die agtergrond van die brief is die gespanne verhouding wat daar tussen die apostel en die gemeente is oor

  • sy beplande/uitgestelde besoeke (1:12-2:13; vgl. ook 7:5-16),
  • die kollekte (hfst. 8-9),
  • sy apostelskap (2:14-7:4 – die hoogtepunt van die brief om sy “skat-in-kleipotte”-apostelskap te verduidelik), en
  • die vals apostels (hfst. 10-13; vgl. ook 2:14-4:6).

Vandaar die intens persoonlike trant van die brief, wat sy verontwaardiging (2:17; 3:1; 6:14-16 – “Hoe kan daar …?”) en die bytende sarkasme (10:1 “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is”), afgewissel met die sagte appèl (6:1,11; 7:2 – “Maak vir ons plek in julle harte”) aan die gelowiges in Korinte om tot hulle sinne te kom, verklaar.

Versoen ter wille van ‘n gemeenskaplike roeping

Weens die gespanne verhouding, moet daar versoening tussen die gelowiges kom. Daar is immers ‘n gemeenskaplike roeping, nl. om die versoening van Christus te verkondig.

Paulus se argument is dat hy en die gelowiges in Korinte op ‘n nuwe manier na mekaar moet kyk. Hulle is immers nuwe mense. Hulle is in Christus nuutgemaak. Hulle moet ‘n manier vind om mekaar se hande op die pad van die evangelie te vat. Hy en die Korintiërs moet leer om na mekaar deur die oë van Christus te kyk. Hulle is Christus se verteenwoordigers. Hulle moet vir die wêreld illustreer dat God versoening bring.

‘n Versoende gemeenskap

In ‘n land waar gelowiges uit mekaar geskeur is, het Paulus se boodskap verreikende betekenis en implikasies.

Ons moet onsself afvra: Hoe lyk ’n gemeenskap wat in Christus versoen is? Versoening het verreikende implikasies, vol uitdagings en struikelblokke, maar dit behoort verrykende nuwe geleenthede en ervarings mee te bring. ’n Nuwe bevryde gemeenskap – een nuwe mensheid in Christus wat met ’n nuwe blik, met die oë van Jesus na ander mense kyk.

Lidmate kan nie geloofwaardig die boodskap van versoening uitdra indien die kerk self onversoend leef nie.

“Ons kan allerhande soorte mooi slagspreuke uitdink en probeer om die kerk en ons gemeente te bemark. Ons kan mooi borde en brosjures produseer. Dit sal alles niks help as ons nie self die produk is wat bemarkbaar is nie. Dit sal sigbaar moet word in ons lewe as gemeente dat Jesus ’n verskil in ons maak. Terwyl kerke verdeel is, kan ons die mooiste storie opmaak, maar die produk is ongeloofwaardig.” (Julian Müller)

Beliggaam versoening

Versoening kan mens ‘n duur prys kos. Dit beteken dikwels dat jy jou trots moet sluk en die minste moet wees. Dit beteken jy moet jou aanspraak dat jy reg is, prysgee. Dikwels moet mens jou reg om die slagoffer van ander se gekonkel te wees, prysgee. Jy moet vrede maak en versoen, want die versoening geskied in Christus se Naam. Hy het die prys vir ons almal se sonde betaal. Om Christus ontwil versoen en vergewe ons. Ons Christus ontwil vat ons hande en leef die evangelie saam uit.

Versoening moet spesifiek ook met ander gemeenskappe gesoek word. Ons moet as gelowiges uitreik na mekaar, mekaar leer ken, misverstande uit die weg ruim, mekaar se bona fides leer aanvaar, en saam soek na die praktiese doen van Christus se versoening.

Op hierdie manier skep ons ‘n helder, kleurvolle blik op die wonder versoeningswerk van God deur Christus Jesus. ‘n Blik wat helder is, omdat die vullis wat die blik op die kruis verduister, weggewas is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotlied
Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”
Flam 360 “Abba Vader”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.

Respons
Lied 245 Refrein
Flam 91 Refrein
Vonkk 105 enige van die verse se twee laaste strofes

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.