Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Johannes 9 vestig die aandag op die geleentheid wat Lydenstyd ons gee om na te dink oor ons onvermoë om dit waarmee God in die wêreld besig is raak te sien – ook ons traagheid om die Here daarvoor te loof en te eer. Agter die verhaal in 1 Samuel 16.1-13, lê die oortuiging dat God se doel onderskei (“gesien”) kan word in die geskiedenis en dat God gebroke mense hiervoor in diens neem. Psalm 23 is ‘n beeldryke uitdrukking van die vertroue in ‘n magtige, beskermende en voorsienige God binne die konteks van die harde werklikhede van die lewe. Volgens Efesiërs 5:8-14 word diegene wat deur die transformerende krag van Christus tot “mense van die lig” gemaak is, bemagtig om te onderskei wat “vir die Here aanneemlik” is. In Christus sien ons inderdaad wat vir die Here aanneemlik is: Dit is liefde!

Ander tekste

1 Samuel 16:1-13
Samuel salf ’n ander koning
16 Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak ’n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My ’n koning.”

2Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.”
En die Here sê vir hom: “Neem ’n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here ’n offer te bring.’3Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.”

4Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: “Kom u in vrede?”

5En hy het gesê: “Ja. Ek het gekom om vir die Here ’n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.”

Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. 6Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here.

7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

8Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 9Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 10Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11Daarop het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op.”

Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie.” 12Isai het hom laat haal. Hy het ’n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en ’n goeie voorkoms.
Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”

13Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.

Psalm 23
Die Here is my herder
23 ’n Psalm van Dawid.
Die Here is my herder,
ek kom niks kort nie.
2Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters
waar daar vrede is.
3Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie
tot die eer van sy Naam.
4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.
5U laat my by ’n feesmaal aansit,
terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos ’n eregas,
ek word oorlaai met hartlikheid.
6U goedheid en liefde
sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees
in die huis van die Here
tot in lengte van dae.

Efesiërs 5:8-14
Lewe as mense van die lig
6Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie. 

8Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. 9Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. 10Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, 11en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. 12Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. 13Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. 14En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied:
“Word wakker, jy wat slaap,
en staan op uit die dood;
en Christus sal jou lewe verlig.”

15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. 17Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

18Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

Fokusteks

Johannes 9:1-41
Jesus genees ‘n man wat blind gebore is
9 Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?”

3En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. 4So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. 5Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

6Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ‘n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë 7en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.
Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.

8Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?”

9Party van hulle het gesê: “Dit is hy!”
Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.”
“Dit is ek!” het hy self gesê.

10Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?”

11En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het ‘n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!”

12“Waar is hy nou?” vra hulle hom toe.
“Ek weet nie,” was sy antwoord.

Die Fariseërs ondervra die man en sy ouers
13Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring. 14Dit was op ‘n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het. 15Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.”

16Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.”
Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat ‘n sondaar is, sulke wondertekens doen?”
En daar was verdeeldheid onder hulle.

17Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.”
“Hy is ‘n profeet,” het hy geantwoord.

18Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep 19en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?”

20“Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. 21“Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”

22Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word. 23Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.”

Die man word uitgeban
24Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is ‘n sondaar.”

25Daarop het hy gesê: “Of hy ‘n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

26Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?”

27“Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?”

28Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is ‘n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. 29Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man—ons weet nie waar hy vandaan kom nie.”

30“Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. 31Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. 32Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. 33As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.”

34Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”
En hulle het hom uitgeban.

Geestelike blindheid
35Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”

36Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?”

37Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”

38Die man sê toe: “Ek glo, Here!”
En hy het Hom aanbid.

39Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ‘n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

40Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!”

41Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 167 of Flam 170

Votum: Psalm 23

Seëngroet

Lofsang: Psalm 23 of Lied 190 of Flam 113

Wet: Efesiërs 5:8-11

Toewyding: VONKK 23

HOOR

Gebed: Flam 87

Skriflesing: Johannes 9:1-41

Preek

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang: Lied 531 of Flam 70

Seën

Respons VONKK 37

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde” of
F170. “Here Open Ons Harte (Soos In Die Hemel)”

Votum: Psalm 23

Seëngroet

Lofsang: Psalm 23
Lied 190 “Grote God, aan U die eer”
F113. “Here Jesus, U Skyn Oor Almal”

Wet: Efesiërs 5:8-11

Toewyding
VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”

Liedere

VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”
Nav Johannes 12:46 Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 RUBRIEK: Meditatief – Advent
Teks: Jésus le Christ – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
Met toestemming gebruik (Frans, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)

Jesus, U is die lig in ons lewe;
laat tog nie toe dat die donker oor ons kom.
Jesus, U is die lig in ons lewe;
Maak ons ontvanklik vir u liefde, o Heer.

Jésus le Christ, lumière intérieure,
ne laisse pas mes ténèbre me parler.
Jésus le Christ, lumière intèrieure,
donne moi d’accuellir ton amour.

Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let not my doubts nor my darkness speak to me.
Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let my heart always welcome your love.

F113. “Here Jesus, U Skyn Oor Almal” 
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis) Oorspronklike titel: Shine, Jesus, shine Teks en musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Breda Ludik © 1987 Make Way Music (Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Here Jesus, U skyn oor almal,
met die glans van u liefde skyn U.
Skyn op ons tot ons oë oopgaan.
Maak ons vry om te lewe voor U.
Skyn oor my, skyn oor my.

Refrein:
Soos lig wat skyn in die donker van hierdie wêreld,
soos lig wat skyn, skyn die Heer in ons.
Kom, Jesus, kom en verdryf al die donker in ons.
Kom laat u liefde die wêreld oorwin.

2. Here, maak my ’n lig wat helder
skyn om liefde te dra, al verder.
Skyn deur my tot die hele wêreld,
weet dat U vir ons almal gesterf het.
Skyn deur my, skyn deur my.

Refrein:

F170. “Here Open Ons Harte (Soos In Die Hemel)” 
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding) Teks en musiek: Retief Burger Kopiereg: © 2008 Urial Publishing
(Opgeneem op Oorgegee)

1. Here, open ons harte, open ons oë,
Here wys ons die ewigheid, dat ons kan glo.
Daar is meer, daar’s soveel meer
om ons lewens voor te gee.

2. Here, leer my van liefde, dat liefde altyd wen.
Here, leer my gehoorsaamheid dat ek kan sien.
Daar is meer, daar’s soveel meer
as ek my lewe weg sal gee.

Pre-refrein:
Here, hier is ek, ek gee myself.
Alles vir u eer, alles vir u Naam, alles lê ek neer.

Refrein:
Soos in die hemel, soos in u hart
so ook op die aarde, in elke tree wat ek stap.
Laat u wil geskied, in ’n hart wat brand vir U.
Soos in die hemel, soos in u hart
so ook in my lewe, in elke keuse wat ek maak.
Laat u Koninkryk kom, in ’n hart wat brand vir U,
alles vir u eer, alles vir u Naam, alles lê ek neer.

Brug:
Doen met my lewe, net wat U wil.
Want U is my Here, doen wat U wil.
Alles wat ek het gee ek vir U.

F87. “Maak My Nou Stil, Heer”
(RUBRIEK: Flam – Epiklese gebed) Oorspronklike titel: Open our eyes, Lord Teks en musiek: Robert Cull
Afrikaanse vertaling: 2005 Johan Engelbrecht © 1976 Maranatha! Music / CCM Music

Maak my nou stil, Heer.
Ek wil na U luister;
my hart vir U oopmaak
dat U my kan aanraak.
Open my oë, my hart en my ore,
dat ek U leer ken, Heer,
en voor U kan lewe.

F70. “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid) Teks en musiek: Louis Brittz © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk.
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk.
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop.
Week ons met waarheid breek ons bekers oop.
Lig vir die wêreld, kom skyn deur ons.
Skyn in die donker met liefde wat verlos.
Stuur ons met lewe vol van helder hoop.
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees.
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons.
Heer, ontmoet ons hier, woon in ons lofgesang.
U is die rykdom waarna ons verlang.
As u lig ons lei, ons na die wêreld stuur.
Seën ons met volheid vul ons met u Vuur.
Kom Jesus skyn laat donker verdwyn,
skyn in die nag, laat breek die dag.
Vader salf ons oë raak ons met deernis aan.
Ons wil u hart vir verlorenes verstaan.
Laat ons u wyn en melk neem vir dié sonder geld
en lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop.
Lig vir die wêreld
kom skyn deur ons!

VONKK 37 “Ons Hou Ons Oë Op Jesus, die Here”
Teks: Oculi nostri – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008
Musiek: Jacques Berthier 192301992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
Met toestemming gebruik (Latyn, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed / Geloof en Vertroue

Ons hou ons oë op Jesus, die Here.
Ons hou ons oë op Jesus, ons Here.

Our eyes are turned to the Lord, Jesus Christ.
Our eyes are turned to the Lord God, our Saviour.

Oculi nostri ad Dominum Jesum,
oculi nostri ad Dominum nostrum.

God praat met ons en ons luister

Gebed
F87. “Maak My Nou Stil, Heer”

Skriflesing
Sit alle ligte in die gebou af en nooi die gemeente om hulle oë toe te maak vir die Skriflesing en hulle die lewe van die blinde man te verbeel.
Johannes 9:1-41

Familie-oomblik

Dit is belangrik dat kinders die Bybel hoor en leer ken. Jy hoef dus nie ’n “lessie” of “boodskap” te gee nie – vertel bloot die verhaal! Wees kreatief (en dapper) in die manier waarop jy dit vertel. Jy kan bv. as Bybelse karakter aantrek (of ’n lidmaat vra om dit te doen!) en die storie vertel asof jy self die blinde man is. Julle kan dit opvoer. Of poppe en poppekas gebruik, of selfs papierpoppe.

Hier is ‘n oulike prentjie wat jy maak van ‘n blinde man. Die kinders kan dan met sjokolade poeding (of jy kan met modder) op die oë vryf. Die prentjie met los handjies wat jy kan gebruik om die oë mee te vryf).

As jy tog eerder ‘n toepassing of aktiwiteit wil gee, het bogenoemde skakel ‘n oulike voorstel: jy kan die kinders (en grootmense) blinddoek en vorms uit karton laat voel – soos kruis, kroon, lam, en gesels oor hoe Jesus ons oë oopmaak. Daar is ook ‘n templaat vir ‘n oulike inkleurprent met teksverse uit die gedeelte. Jy maak swart sonbrille wat kinders oor die prent se ogies kan plak.

Preekriglyn

Steve Florence vertel van sy dogter wat aan anoreksie en bulimie gely het. So erg het dit geword, dat sy gehospitaliseer is. Op ‘n spesifieke dag word sy gevra om tog net ‘n glas melk te drink. Sy kon nie.

Haar dokter het langs haar op die bed gaan sit. “Jy is ‘n Christen, is jy nie?”

Toe sy bevestigend antwoord, sê die dokter: “Onthou jy die man wat Jesus naby die Bad van Siloam genees het? Jesus het modder aan sy oë gesmeer om hulle te genees. Maar wat het die man regtig genees?”

Die dogter het ‘n oomblik nagedink, en gesê: “Sy geloof en gehoorsaamheid aan Jesus. Hy het gedoen wat Jesus gesê het.”

“Goed,” sê die dokter, “drink nou jou modder.”

Sy kon en sy het. Uiteindelik het sy weer gewig opgetel en ‘n gebalanseerde lewe hervat.

‘n Blinde genees

Jesus het meer blindes as mense wat aan ander siektes gely het, genees. Die Ou Testament vertel nie van genesing van blindes nie (dit word aan God en die Messias toegeskryf, bv. Ps. 146:8 en Jes. 42:7). Die Nuwe Testament vertel ook nie dat die dissipels blindes genees het nie (Hand 9:17 is ‘n unieke situasie).

Jesus genees dikwels blindes. In Johannes 9 word blindheid op verskillende maniere vir ons uitgebeeld. Blindheid kan wees om fisies nie te kan sien nie. Daar is ook geestelike blindheid. Mense wat kan sien, kan Jesus en sy dade sien, sonder om Hom as die Messias te erken. Jesus is daarop ingestel om blindheid in alle vorme weg te neem.

Johannes 9 vertel die verhaal van hoe ‘n man wat in die duisternis was, sig ontvang om fisiek en geestelik die lig te sien. Hier teenoor het hulle wat gedink het hulle kan sien, hulleself verblind en in duisternis beland. Die afloop van die verhaal openbaar die persoon van Jesus, die lig vir die wêreld.

Om die lig twee keer te sien

Daar is ‘n belangrike beweging in die lewe van die blinde man te bespeur. Dit is ‘n beweging van fisieke blindheid na fisieke sig, maar ook ‘n geestelike beweging van groeiende insig in wie Jesus is:

  • Hy is skynbaar passief wanneer Jesus sy oë met modder besmeer (salf) en reageer gehoorsaam op Jesus se opdrag om te gaan was (6-7).
  • Hy bevestig sy eie identiteit as die blindgeborene wat kan sien (9).
  • Sy eerste verwysing na Jesus is “die man met die naam Jesus” (11).
  • Sy eerste reaksie op die vraag wie Jesus is, is dat Jesus ‘n profeet is (17).
  • Tydens die tweede ondervraging deur die Jode bevestig hy dat hy weet hy was blind, maar kan nou sien (25) en
  • verklaar dat hy oortuig is dat Jesus regverdig is en van God kom (31-33).
  • Wanneer Jesus hom weer ontmoet en vertel dat Hy die Seun van die mens is, bely die man sy geloof en aanbid Jesus (37-38).

Tasker, ‘n Skrifkenner, sê hierdie lyn beklemtoon dat hierdie verhaal eintlik ‘n gelykenis oor geloof en ongeloof is wat deur die optrede van mense afspeel. Hy noem die verhaal “an acted parable of faith and unbelief.”

Let op hoe die verhaal afsluit met die feit dat die blinde man se sig nie net fisies herstel is nie, maar leer om Jesus as die Gestuurde van God (Siloam beteken gestuurde) raak te sien.

Sy begrip van Jesus groei deur die gedeelte. So sien die blinde man twee keer die lig. Eers word sy fisiese oë geopen. Dan word sy geloofsoë geopen. Hy herken die Lig vir die wêreld.

Groeiende blindheid

Die Fariseërs ondervra die eens blinde man. In plaas van blydskap oor ‘n wonderlike gebeurtenis, ondersoek hulle die godsdienstige implikasies van sy genesing en kom tot ‘n negatiewe gevolgtrekking. Dit is ‘n probleem dat die man op die Sabbatdag genees is. Dit beteken ook vir hulle dat Jesus nie van God af kan kom nie, anders sou hy nie op die Sabbatdag genees het nie. Wat eintlik gebeur is dat hulle in Jesus ‘n bedreiging vir hul godsdienstige mag sien. Hulle het dus geen kapasiteit om deur God verras te word, of om te aanvaar dat God iets nuuts kan doen in Jesus nie. Daar is darem dié wat voel dat as Hy ‘n sondaar was, sou Hy nie wondertekens kon doen nie, maar hulle is in die minderheid.

Hulle ondervra ook die man se ouers. Let op hoe hulle vis vir enige moontlikheid dat die man miskien nie blind was nie. Hulle wil hulle aanname bewys dat hier niks spesiaal gebeur het nie. Die ouers weet egter hulle loop die risiko om uit die sinagoge geban te word: “Hy is oud genoeg, vra hom self.”

Dan loods die Fariseërs ‘n laaste aanslag op die man. Hy word eintlik half gedwing om met hulle saam te stem. Volgens hulle het Jesus die wet oortree, en kan daarom niks anders as ‘n sondaar wees nie. As die eens blinde man dus nie met hulle saamstem nie, kies hy die kant van ‘n sondaar.

Dan begin die man hom loswikkel uit hulle greep, en vra met ‘n sweem van sarkasme, of die Joodse leiers hom nou só uitvra omdat hulle Jesus se dissipels wil word! Ironies genoeg antwoord die geneesde dat Jesus se herkoms net van God af kan wees, anders sou Hy nie hierdie dinge kon doen nie. Hy bely dus wat die geestelike leiers nie kan insien nie, selfs voor Jesus regtig sy oë oopmaak! En, soos ‘n mens kan verwag, die Fariseërs word kwaad en gooi die man wat genees is uit die sinagoge en tempel.

Hoe verskriklik is dit nie. Diegene wat meen dat hulle kan sien, is eintlik blind. God sal altyd by die menslike verstaan hou van hoe die reëls werk, meen hulle. Hulle wat meen hulle kan sien, en spesifiek namens ander sien, is eintlik blind.

Onderrig in wie Jesus is

Vir die dissipels van Jesus is hierdie gebeure verstommende onderrig in wie Jesus werklik is. Dit geld Jesus se destydse dissipels, maar ook sy dissipels van alle tye – waaronder ons wat in die 21ste eeue leef.

In Joh. 9 wil die dissipels by Jesus weet of die man se blindheid vanweë sy eie sonde of sy ouers s’n is. Die Jode het steeds geglo dat sonde agter siekte sit, óf die ouers s’n (Eks 20:5) óf die individu s’n (Jeremia 31:29-30; Esegiël 18).

Jesus stel sy dissipels se perspektief op die blindheid van die man reg – die siekte is nie die gevolg van die blindgebore man of sy ouers se sonde nie. “Maar hy is blind, sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” Hy wat die lig vir die wêreld is, gaan lig vir dié man bring deur sy blindheid te genees.

Daarmee leer Jesus sy dissipels om nie teologiese probleme raak te sien as hulle na mense kyk nie. Die belangrike vraag is nie wie se sonde dit is nie. Die dissipels moet leer om mense in die lig van God se identiteit en God se werke raak te sien.

In hierdie gedeelte ontdek die dissipels Jesus enersyds as die groot Geneesheer wat van God kom. Jesus doen God we werk deur genesing en herstel vir mense te bring.

Jesus is ook die Een wat van God kom om mense met God se versoen. Hy leer mense om ‘n beslissing vir God te maak: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ‘n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

Die voorheen blinde man stel die regte voorbeeld. Hy sien, en Hy sien die Messias, die Seun van die Mens wat van God kom. En hy aanbid Hom. Hy sien in Jesus die Lig vir die wêreld.

Groeiende oordeel

Daar is ook ‘n groeiende lyn van oordeel in hierdie verhaal. Jesus bring skeiding tussen mense. Wanneer Jesus die Lig bring, en mense dit omhels, bring dit ook oordeel oor diegene wat kies om in duisternis te bly.

Die eerste indirekte verwysing na oordeel in die verhaal, is die dissipels se vraag in vers 2 wie dan gesondig het? In vers 34 word hierdie gedagte ‘n direkte aanval wanneer die Fariseërs die man as “in sonde gebore” afskryf. Daarom kan hulle hom ook sonder meer uitgooi.

Die mense bring die man na die Fariseërs (13) en dit skep die indruk dat hulle hom voor regters daag. Die gesprek wat hierna volg, kan inderdaad as ‘n geregtelike ondervraging gesien word. ‘n Groot deel van die verhaal van Johannes 9 bestaan uit die reaksies van verskillende groepe op die genesing van die blindgebore man. Let daarop dat die mense se houding teenoor die man hom marginaliseer. Hulle hantering van die wet lei tot sy uitbanning. Deur die wyse waarop mense reageer (deur die wonder te ontken of die man of die een wat hom genees het te veroordeel), bring hulle uiteindelik ‘n oordeel oor hulleself.

Mens hoor ook in Jesus se bekendstelling as “Seun van die mens” (35) ‘n ondertoon van oordeel. Die verwysing na die Seun van die mens hou in die Bybel dikwels verband met die finale oordeel. Om na Jesus te gryp, sodat jy kan sien deurdat jou blindheid weggeneem word, het gevolge van lewe en dood.

‘n Gelykenis vir die lewe

Mens kan hierdie gedeelte verstaan as ‘n gelykenis wat vir Jesus se volgelinge vertel wat dit beteken om Hom na te volg. Jesus bring genesing, versoening en herstel in jou lewe. Nie almal gaan dit herken vir wat dit is nie. Ja, sommige mense wat hulle selfs beroem dat hulle God ken, gaan jou oordeel en verwerp.

Dit kan maklik selfs in die kerk gebeur dat reëls en mense se gesag belangriker as God se bedoelinge en mense se nood word. Dan lei dit tot duisternis.

In hierdie verhaal lei die gelowige se belewing van God se seën tot agterdog (8-12), kritiese ondervraging (13-17), vrees (18-23) en verwerping (24-34). ‘n Verhouding met God neem mens nie weg van moeilikheid nie, maar plaas jou dikwels eerder in die vuurlinie.

Tog behoort die laaste woord in ons teks aan Jesus. Hy verskyn weer aan die einde van die verhaal om die man te bemoedig, en God se oordeel oor en oorwinning van die duisternis duidelik te maak.

Ons navolging van Jesus lyk dikwels net so.

Lydenstyd

Wanneer ons Johannes 9 in Lydenstyd lees, sien ons dat die Fariseërs se houding op talle maniere lyding veroorsaak het. Die verhaal van hierdie man wat sy sig ontvang het, wil ons insig gee in die lyding van mense wanneer hulle veroordeel, uitgeskuif en uiteindelik weggegooi word. Johannes 9 sê dit kan selfs gebeur dat, terwyl God besig is om mense se lewe aan te raak, word hulle deur mense weggestoot. Dit daag ons uit om met hierdie insig ‘n draai by die spieël te maak.

Vandag herinner Lydenstyd ons daaraan dat Jesus se lyding en sterwe vir ons wonderlike gevolge het: lig, nuutgemaakte oë, die lewe en oorvloed! En Johannes 9 herinner ons daaraan dat ons Jesus se wonderlike genade in mense se lewe behoort te vier in ‘n gemeenskap waar almal wat aan Jesus behoort welkom is en tuis voel.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 531 “Ons Here, God van alvermoë”of
Flam 70 “Lig vir die wêreld”

Seën
Die Here verlig jou verstand en jou interpretasie.
Die Here verlig jou oë en die manier waarop jy kyk.
Die Here verlig jou mond en jou woorde.
Die Here verlig jou hart en dit wat jy dink.
Die Here sal met jou wees waar jy nou hiervandaan vertrek.
(15de eeuse gebed, aangepas uit 2001 Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi.BM)

Respons
VONKK 37 “Ons Hou Ons Oë Op Jesus, die Here”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.