Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Numeri 21 vertel die verhaal van die koperslang wat redding moes bring vir die ongehoorsame volk wat toe na God roep om redding. Johannes 3 gebruik die koper slang om heen te wys na Christus wat verhoog word om die wat glo te red. Psalm 107 vertel van die liefde van die Here en van die redding van die wat ongehoorsaam was en toe na God geroep het om hulp. Efesiërs 2 vertel van wat ons eers was en wat ons in Christus geword het.

Ander tekste

Psalm 107:1-3, 17-22
Let op die Here se dade van trou
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.

4Party was verdwaal in die woestyn, 
in ’n barre wêreld, 
en kon die pad na ’n bewoonde stad 
nie kry nie. 
5Hulle was honger en dors, 
hulle was uitgeput, 
6maar in hulle nood het hulle 
na die Here geroep om hulp 
en Hy het hulle gered uit hulle ellende. 
7Hy het hulle op die regte pad gebring 
en by ’n bewoonde stad laat uitkom. 
8Hulle moet die Here loof 
vir sy troue liefde, 
vir sy wonderdade 
wat Hy aan mense doen. 
9Hy het die dors geles 
van dié wat versmag het, 
Hy het die goeie in oorvloed gegee 
aan dié wat honger gely het. 
10Party het in die donker gesit, 
in diep duisternis, 
hulle was gevangenes, 
in ellende en in boeie, 
11want hulle het hulle verset 
teen die bevele van God, 
hulle het die leiding 
van die Allerhoogste 
in die wind geslaan. 
12
Hy het hulle laat knak 
onder swaarkry, 
hulle het inmekaar gesak, 
en niemand het gehelp nie. 
13Maar in hulle nood het hulle 
na die Here geroep om hulp, 
en Hy het hulle bevry 
van hulle ellende. 
14Hy het hulle uit die donker, 
uit die diep duisternis, 
laat uitkom, 
Hy het hulle boeie stukkend gebreek. 
15Hulle moet die Here loof 
vir sy troue liefde, 
vir sy wonderdade 
wat Hy aan mense doen, 
16want Hy het koperdeure oopgebreek,
ystergrendels stukkend geslaan. 
17Party het dwaas opgetree,

en deur hulle rebelse optrede,
hulle sonde,
het hulle in die ellende beland.
18Alle kos het hulle laat walg,
en hulle het by die dood omgedraai,
19maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle bevry
van hulle ellende,
20Hy het hulle met ’n enkele woord
gesond gemaak,
hulle aan die dood laat ontkom.
21Hulle moet die Here loof
vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade
wat Hy aan mense doen.
22Hulle moet dankoffers bring
en met blydskap van sy dade getuig.

Efesiërs 2:1-10
Lewe uit die dood
2 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Johannes 3:14-21
Jesus en Nikodemus
3 Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”

3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”

5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”
9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”

10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens.

14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog cword, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Fokusteks

Numeri 21:4-9
Die Kanaäniete word verslaan
21 Toe die Kanaänitiese koning Arad wat in die Suidland woon, verneem dat Israel in die rigting van Atarim optrek, het hy teen hulle gaan veg en ‘n aantal van hulle gevange geneem. 2Israel het ‘n gelofte aan die Here gedoen: “As U hierdie volk en hulle stede in ons mag gee, sal ons hulle stede as banoffers aan U offer.”

Die Here het die gebed verhoor en die Kanaäniete in Israel se mag oorgegee. Hulle het toe die Kanaäniete verslaan en hulle stede heeltemal verwoes. Daarom word die plek Gorma  genoem.

Die koperslang
4Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword 5en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”

6Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf. 7Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”

Moses het toe vir die volk gebid, 8en die Here het vir Moses gesê: “Maak ‘n beeld van ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”

9Moses het toe ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit. As iemand wat deur ‘n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 243 of Lied 379 of VONKK 42bF187.

Votum: (n.a.v. Ps. 107:1-3)

Seëngroet

Lofsang: Psalm 107 of Flam 421 of VONKK 3

Verootmoediging: Lied 239

Genadeverkondiging: Efesiërs 2:1-10 of Johannes 3:16-18

Toe-eiening :F114 of VONKK 51

Geloofsbelydenis: n.a.v. Ps. 107

HOOR

Gebed

Skriflseing: Numeri 21:4-9

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 245 of F91

Seën

Respons: Lied 245 refrein of Vonkk 3 refrein of Flam 91 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
As julle gekies het om elke diens in Lydenstyd só te begin:  Lied 243 terwyl die kerse aangesteek word of
Lied 379 of
VONKK 42 “Jubilate! Loof Die Here!” of
F187. “Net Soos Ek Is” (Raak My)

Votum: (n.a.v. Ps. 107:1-3)
Voorganger: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”
So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide.
Gemeente: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”

Seëngroet

Lofsang
Psalm 107 (daar is drie weergawes in die Liedboek) of
Flam 421 “Almal Saam, Loof Die Here” (Loof Die Here) of
VONKK 3 “Loof Die Here, Want Hy Is Goed” (Psalm 136)

Verootmoediging: Lied 239

Genadeverkondiging
Efesiërs 2:1-10 of
Johannes 3:16-18

Toe-eiening
F114. “Sing, Halleluja” of
VONKK 51 “Dankie, Heer”

Geloofsbelydenis
Gebruik gedeeltes uit Psalm 107 responsories as geloofsbelydenis, bv.:
Liturg: Psalm 107:4-8
Gemeente: Psalm 107:9

Liturg: Psalm 107:17-20
Gemeente: Psalm 107:21-22

Liturg: Psalm 107:43

Liedere

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK: Flam – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding) Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en musiek: Marcel Zimmer Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ’n kruis op sy rug en ’n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in sy oë staan,
toe Hy roep: “Dit is volbring!”

Refrein:
Ja, ek dank U vir u genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys u genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!

Refrein:

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.

Refrein:
U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

VONKK 51 “Dankie, Heer  (Kanon)”
Psalm 106:1
Teks: Danket, danket dem Herrn – tradisioneel Duits; Lizette Murray 1993, effens gewysig 2008
Melodie: DANKET DEM HERRN – tradisioneel Duits 18E Ostinato: Cassie Carstens 1993 (Pro Deo)
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Afrikaanse teks en ostinatobegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Duitse teks en melodie: Openbare besit RUBRIEK: Kinderlied – Gebed / Tafelgebed

1. Dankie, Heer, dankie, Heer,
2. want U is so goed vir my.
3. Aan u trou en liefde
4. is geen einde nie.

1. Danket, danket dem Herrn;
2. denn er ist sehr freundlich.
3. Seine Güt und Wahrheit
4. währet ewiglich.

F114. “Sing, Halleluja “
(RUBRIEK: Flam – Lof) Musiek: Onbekend Teks: Attie van der Colf (Afrikaans); Oorspronklik: Linda Stassen
© 1974 New Song Creations (Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Groep 1: Groep 2:
Sing halleluja, loof die Heer. Sing, halleluja, loof die Heer.
Wees Hom gehoorsaam, bring Hom eer. Wees Hom gehoorsaam.

Hy is ons Maker, Hy’s ons Verlosser. Halleluja.
Bring God Drie-enig al die eer. Bring God Drie-enig al die eer.

2. Groep 1: Groep 2:
Sing, halleluja, loof die Heer. Sing, halleluja, loof die Heer.
Hy is almagtig, Hy regeer. Hy is almagtig.
Hy wek die dagbreek. Hy roep die reënbui. Halleluja.
Bring God Drie-enig al die eer. Bring God Drie-enig al die eer.

3. Groep 1: Groep 2:
Sing, halleluja, loof die Heer. Sing, halleluja, loof die Heer.
Hy daal in liefde na ons neer. Hy kom in liefde.
Hy skenk ons lewe. Hy skenk ons vrede. Halleluja.
Aan God Drie-enig al die eer. Bring God Drie-enig al die eer.

F187. “Net Soos Ek Is (Raak My)”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Teks en musiek: Juan Weber © MAR Gospel Music Publishers

1. Net soos ek is soek ek na u teenwoordigheid
sonder die maskers wat my veilig hou.
Net soos ek is soek na u aangesig
sonder motiewe wat geheime hou.
Vader my woorde is min, en dit maak soms nie sin
maar die dieptes van my hart,
die dieptes van my hart
roep na U …

Refrein:
Raak my, raak my en maak my met U een.
Raak my, raak my en trek my na u Seun.

2. Vuil soos ek is soek ek na u genade Heer
met die merke van my sondes.
Stukkend soos ek is vra ek genesing vir my seer
met die salf van u liefde.
Vader my woorde is min, en dit maak soms nie sin.
Maar die dieptes van my hart,
die dieptes van my hart
roep na U…

Refrein:
Net soos ek is soek ek na u teenwoordigheid
sonder die maskers wat my veilig hou.

VONKK 42 “Jubilate! Loof Die Here!”
Psalm 100 Teks: Jubilate, everybody – Fred Dunn 1977; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: Fred Dunn 1977 Kantoryverwerking: Marcha Geyer 2007 ©
© 1977, 1980 Thankyou Music (Admin CopyCare SA). Met toestemming gebruik. RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

Jubilate! Loof die Here!
Almal op die hele aarde kom
en dien die Here met gejubel,
kom voor Hom en prys sy heil’ge Naam.
Gaan sy tempel in met vreugde,
juig en sing, kom dank die Heer,
want aan sy liefde is geen einde.
Loof die Here, almal saam!

VONKK 3 “Loof Die Here, Want Hy Is Goed  (Psalm 136)
Psalm 136 Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo) Melodie: ROOIDUIN – Jacus Krige 2008
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Kontemporêr — Lofprysing

Keervers*
Loof die Here, want Hy is goed:
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
Loof die Here, want Hy is goed:
Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Psalmvers
1.  Loof die Here oor die heersers,
die Almagtige is Hy.
Loof die Skepper van die skepping,
al wat lewe loof Hom bly.

Keervers
Loof die Here, want Hy is goed:
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
Loof die Here, want Hy is goed:
Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Psalmvers
2. Loof die God van wonderwerke,
Hy bevry sy volk met krag.
Hy, die Koning oor die konings,
sorg vir hul wat op Hom wag.

Keervers
Loof die Here, want Hy is goed:
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
Loof die Here, want Hy is goed:
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
* LW: Die keervers kan afsonderlik as respons gebruik word.

F421. “Almal Saam, Loof Die Here (Loof Die Here)”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof) Teks en musiek: Iné Stander © Brettian Productions

Refrein:
Almal saam, loof die Here,
almal saam, loof sy Naam.
Almal saam, loof die Here,
almal saam, loof sy Naam.

Alle volke, alle nasies,
loof die Here, prys Nkosi.
Alle volke, alle nasies,
loof die Here, prys Nkosi.

Oe, hoe-hoe…

Refrein:

Alle volke, alle nasies,
loof die Here, prys Nkosi.
Alle volke, alle nasies,
loof die Here, prys Nkosi.

As ek kyk na als wat Hy so mooi gemaak het:
aan sy liefde is daar geen einde nie.
As ek dink aan al die sonde wat Hy weggevat het:
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Alle volke, alle nasies,
loof die Here, prys Nkosi.
Alle volke, alle nasies,
loof die Here, prys Nkosi.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Numeri 21:4-9

Familie-oomblik

Hierdie is natuurlik weer een van daardie geleenthede waar jy gewoon die Bybelverhaal dramaties kan vertel!  Jy kan ook aansluit by die beginsel van kla vs dankbaarheid.  (Wees net versigtig – jy wil nie hê die kinders moet dink as hulle ondankbaar is en kla gaan God slannge stuur of hulle op ’n ander manier straf nie!) Oulike stories wat jy kan gebruik, is Monsters Eat Whiny Children deur Bruce Eric Kaplan (moenie die woord “haat” so baie gebruik soos in die boek nie) of Alexander and the Terrible, Horrible, No Good, Very Bad Day deur Judith Viorst.  Laasgenoemde het verlede jaar uitgekom as ’n Disney fliek – sien die voorskou hier.

Jy kan ook “props” maak om die storie te vertel.  Koop ’n plastiek slangetjie (verkieslik ’n harder een, anders kraak die verf), spuit dit koper en maak dit aan ’n stok vas.  Maak klei en gee vir almal ’n stukkie om slange te maak terwyl jy die verhaal vertel.  Of gebruik ’n ou das om ’n pragtige slang te maak! Hier is instruksies.  Of vou ’n origami slang terwyl jy die verhaal vertel.

Bybel Media se Woord en Fees stel voor:
Maak gebruik van verskillende padtekens en ander kennisgewings wat in die kinders se leefwêreld voorkom. Wys ook die mediese padteken met die slang om ‘n paal. Vra die kinders wat dit beteken. Vra hulle hoe hulle oor slange dink en verduidelik dat hierdie teken uit vandag se Bybelteks kom, nie om ons te waarsku om weg te bly van slange nie, maar om ons te wys waar ons kan hulp kry as ‘n slang ons gepik het of iets anders fout is met ons gesondheid.

Preekriglyn

John Wayne Brown was ‘n pastoor en evangelis, maar glad nie die gewone soort pastoor nie. Hy het immers lewendige slange tydens sy dramatiese eredienste hanteer.

Op ‘n dag word hy reg in die middel van sy preek deur een van sy eie ratelslange gepik. Brown hou toe aan met sy preek in die Rock House Holiness Church, daardie aand van Oktober 1998. Kort na die slangbyt, het hy egter inmekaargesak. Dit was ‘n dramatiese gesig. Die gemeente het rondom hom kom staan, terwyl hulle bid en hom met ‘n elektriese waaier afgekoel het. Brown was egter binne minute dood.

Verskeie kerke in die Appalachia-streek in die Ooste van die VSA hanteer slange tydens eredienste. Die gebruik word gebaseer op Markus 16:17-18:

Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: … met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie ….

Brown, 34, het slange hanteer sedert hy 17 was en het 22 vorige slangbyte oorleef. Sy dood het sy vyf kinders wees agtergelaat. Brown se vrou, Melinda, is drie jaar vantevore in 1995 oorlede aan ‘n slangbyt tydens ‘n herlewingsdiens. Na haar dood kon Brown slegs sorg oor sy kinders behou na ‘n hofbevel wat hom onder andere verbied het om giftige slange aan te hou.

Een van die ander pastore wat daardie noodlottige aand saam met Brown op die verhoog was, meen die tragedie sal die kerk nie sy gebruike laat verander nie. “Ek dink ons sal versigtiger wees as ons slange hanteer,” het hy aan Birmingham News gesê, “mense sal wag totdat die Here daartoe hulle beweeg.”

“Nie baie mense verstaan ons nie,” het hy bygevoeg. “Ons is net normale mense, maar ons glo God se Woord.”

Grafika: Rattler 2, eiendom van Jeff Love, kopiereg gereël deur Creative Commons- plasing word toegelaat.

Dwaasheid

Min mense sal dink Jesus se woorde in Markus 16:17-18 beteken predikers moet giftige slange hanteer terwyl hulle preek. Dis dwaasheid. Dit laat natuurlik die adrenalien vloei en verskaf goeie drama, maar dit bly sotheid. Hiervoor is daar nie pille nie.

Net so dwaas was dit van Israel om in die woestyn ongeduldig te word en teen God en Moses uit te vaar:

Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.

Die “ongeduld” kan letterlik vertaal word met “die siel van die volk was kort.” Kort van draad, soos altyd, was hulle onvergenoegd en hulle moreel laag as gevolg van die land en die reis waarop hulle deur die woestyn was.

Hulle spoel hulle monde teen God en teen Moses uit (6). Die beskuldiging is dat hulle die volk uit Egipte gelei het om in die woestyn te sterf. Die feit dat God hulle “uit Egipte laat trek het” is in die Ou Testament ‘n sentrale verlossingsbegrip. Die klem val op God se inisiatief en genade. Dié beskuldiging is ‘n direkte aanslag op en verwerping van God se reddingsplan. Dit is onverdunde opstand, ondankbaarheid en dwaasheid.

Kos en water

Die beskuldiging handel oor kos en water. Die Here het hulle in die woestyn van manna en kwartels voorsien (Eks 16:18; Num 11:4-10; 20:2-8). Hierdie beskuldiging is dus ‘n verwerping van God se voorsiening. Hulle is sat vir die slegte kos, wat sterk onvergenoegdheid en afkeur uitdruk. Dis nie dat hulle nie kos het nie, hulle is uitgeëet!

Op pad sien hulle nie die einddoel nie, hulle kyk teen hulle omstandighede vas, hulle vergeet hulle vertrekpunt en hulle aard en roeping as bevryde mense.

God se reaksie

Vers 6 beskryf God se reaksie. Die plaag van slangbyte word as oordeelsdaad aan God toegeskryf. Slange was volop in die woestyn en hier word dit as giftige, letterlik “vurige slange,” beskryf. Waarskynlik na aanleiding van die brandpyn wat hulle byt veroorsaak het.

Slange het in die destydse wêreld ‘n dubbelslagtige betekenis gehad. In Egipte, vanwaar die volk pas kom, was die slang simbool van die teenstander van die godheid, ʼn mens sou kon sê van satan (letterlik “teenstander”). Uit hierdie tydperk is daar aan die ander kant in die Kanaänitiese wêreld, waarin Israel hom bevind het, duidelike bewyse van slangaanbidding en vergoddeliking van die slang.

Die slang bly tot vandag toe simbool van dood én lewe. Dink aan die mediese wetenskap se embleem van ʼn slang wat om ʼn pilaar krul; die vervel van slange wat nuwe lewe simboliseer, en slanggif wat selfs in vervaardiging van slangbytserums gebruik word. Die gevolg van die slangplaag was die “dood” van ʼn groot aantal mense; presies dit wat die volk gevrees het (5).

Skuldbelydenis

Vers 7 vertel van die volk se reaksie. Hulle kom bely hul gesamentlike sonde: “Ons het teen die Here en teen u gesondig deur wat ons gesê het.”

Die term “sondig” dui:

  • in eerste instansie op die skending, verbreking van ʼn gemeenskapsverhouding teenoor God of medemense, en
  • tweedens (sekondêr) op die oortreding van ʼn wet, wat uitspel hoe verhoudings intak bly of herstel word.

“Sondig” is meer as net ‘n uiterlike daad, dit kan ook op ‘n innerlike motief of gesindheid dui. In die Ou Testament word die woord byna net soveel keer van sonde van die volk as geloofsgemeenskap (soos hier) as van die individu gebruik. Dit is dus moontlik om aan die gesamentlike denk- of doen-patroon van ʼn groep skuldig te wees, en daardeur te ly, sonder dat jy doelbewus meedoen. Ons het hierdie gemeenskapgerigte wyse van denke van die antieke wêreld, en ook van Afrika, verloor. Daarmee verontskuldig ons onsself en sien ons nie die gemeenskaplike en strukturele dimensies van sonde raak nie.

“Bid vir ons”

Die volk se skuldbelydenis word opgevolg met ʼn versoek om voorbidding ten einde van die plaag verlos te word. Moses, wat nog in vers 5 in die beskuldigdebank gestaan het, word nou erken as die middelaar tussen hulle en die Here. Soos telkens sedert Eksodus 32, tree Moses weer by God in vir die sonde van die volk.

Beeld van ‘n slang

Vers 8 gee God se reaksie op dié gebed aan. Moses moet ʼn slang maak en dit op ʼn paal sit, of dalk daaromheen krul, soos in die mediese embleem. Die doel is sodat elkeen wat gebyt is, dit kan sien en so kan lewe, genees kan word, of die gevolge van die byt kan vryspring.

Die woord wat hier met “opkyk” na die slang vertaal word, druk dikwels groter intensiteit uit as bloot sien. Dit kan “indringend kyk, “”eg aankyk,” “met onderskeiding kyk” beteken. Mens kan ook sê dat almal wat die koperslang “hoopvol en met verwagting aankyk” sal lewe.

Die klem op lewe in verse 8 en 9 vorm die hoogtepunt van die verhaal. Dit is dus nie ‘n verhaal wat in oordeel eindig nie, maar in redding, hoop en herstelde verhoudinge.

Dalk is dit juis hierdie belofte van lewe waarna Markus 16:18 verwys as dit sê giftige slange sal nie die einde van Jesus se dissipels beteken nie.

Aangehaal deur Jesus

Die rede waarom hierdie teks in lydingstyd gelees word, lê in Jesus se woorde in Johannes 3:14 tydens sy naggesprek met Nikodemus:

Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

Mense wat in die woestyn na Moses se koperslang opgekyk het, het die lewe ontvang. Elkeen wat met die regte onderskeiding opkyk (dus met geloof opkyk) na die Seun van die mens, omhoog gelig aan die kruis, sal die “ewige lewe” ontvang.

Volkome vergifnis

Mense wat na Moses se koperslang gekyk het, het gesond geword asof hulle nooit siek was nie. In Christus ontvang ons op dieselfde wyse die sekerheid van die ewige lewe wat alle dood en vernietiging wegneem. Daar is in Christus volkome vergifnis.

Hier is ‘n verhaal wat dit illustreer:

‘n Priester hoor eendag van ʼn vrou wat beweer dat God aan haar verskyn het. Hy was baie skepties en besluit om haar aanspraak te toets. Hy gaan na haar toe en sê: “Jy beweer mos dat God soms aan jou verskyn? Nou, as Hy dit nou weer doen, vra Hom ʼn bietjie om my geheime sonde – waarvoor ek natuurlik vergifnis gevra het – aan jou bekend te maak. Só, dink die priester, sal ek die ou vrou se leuen oor die Godsverskyning kan ontmasker.

ʼn Ruk later gaan die priester terug na die ou dame en vra half smalend: “Het jy toe vir God gevra om jou van my geheime sonde te vertel?”

“Ja, ek het.”

Die priester skrik. Sê nou die vrou praat die waarheid? Wat sal die gemeente van hom dink as sy hulle moet vertel wat hy gedoen het?

“En wat het Hy toe gesê?” vra hy huiwerig.

“God het net gesê: ‘Watter sonde? Sê vir die priester sonde wat Ek vergewe het, vergeet Ek.'”

Gemeenskaplike sondes

Die gebeure in die woestyn is ‘n voorbeeld van kollektiewe sonde. Sonde werk ook soos suurdeeg deur ‘n gemeenskap en bring bose strukture tot stand wat ook bekering en vergifnis nodig het.

Hier is ‘n verhaal wat dit illustreer:

Een van die pligte van ‘n bekende burgemeester van New York in die vorige eeu was om kleiner oortredings in sy stad self te verhoor in ‘n klein hofsaal agter sy kantoor waar die publiek ook teenwoordig kon wees.

Op dié spesifieke dag was die beskuldigde ‘n duidelik armoedige vroutjie met ‘n baba in die arms. Sy is daarvan aangekla dat sy uit ‘n kruidenierswinkel ‘n brood, ‘n karton melk en ‘n pak babavoedsel gesteel het. Die hofsaaltjie was redelik vol en toe die aanklag gelees word, het daar ‘n sug van afkeer deur die teenwoordiges getrek.

Die hofordonnans het die beskuldigde beveel om te staan om die burgemeester se uitspraak aan te hoor.

“Waar woon u, Mevrou?”

“Ek woon in ‘n buitekamer in die agterplaas van een van die huise hier naby. Die adres is . . .”

Dit was vir die meeste mense duidelik dat sy reg tussen hulle in dié gegoede buurt woon.

“Het u ‘n werk, ‘n inkomste?”

“Nee, U Edele, ek het mos dié kleintjie. Die pa is weg. Wanneer sy slaap, laat ek die buitekamer se deur oop en gaan staan by die verkeerslig daar naby, met my blikkie.”

“Mevrou, ek het geen keuse nie. Die voorgeskrewe boete vir jou oortreding is $50, of een maand tronkstraf.”

Die vrou snak na haar asem.

“Die bedrag is betaalbaar by my kantoor.”

Die burgemeester tel sy hamertjie op om die vonnis te bevestig. Dan sit hy dit weer neer, en tel ʼn bakkie wat op sy lessenaar staan op en gee dit aan die hofordonnans.

“Ek het ʼn verdere uitspraak,” sê hy. “Ek vonnis ook elke persoon in hierdie vertrek, myself ingesluit, tot $2 elk. Ordonnans, u kan die bakkie nou omstuur. Ons is almal skuldig aan die oortreding dat ons ons naaste en mede-inwoner van ons buurt, se nood nie raakgesien het nie. Dat ons niks gedoen het om te help nie. Dit is ʼn skande op ons stad.”

Toe die bode die bakkie met heelwat dollarnote daarin in stilte voor die burgemeester neersit, haal hy ʼn $100-noot uit sy sak en plaas dit by die ander geld.

“Mevrou,” sê hy toe hy die geldbakkie aan haar gee, “betaal u boete, en vergewe ons asseblief.”

Om Christus en onsself nuut te sien

In lydenstyd sien ons Christus met verwondering aan die kruis. Ons dink na oor ons sonde wat dit nodig gemaak het. Die ontdekking van ons eie donkerte laat ons ook weer die lig van die verlossing in nuwe lig sien. Soms is dit ons eie vasgelooptheid wat ons ons sonde laat besef – soos dit die geval was met die volk in die teks.

Maar meer as ons sonde, is dit eintlik die genade (kruis) wat ons onsself laat ontdek in ons toestand voor God. In die genade sien ons ons eie en ons strukture se sonde. Ons en ons wêreld met al sy sisteme het verlossing nodig.

Uitkoms moontlik

Daar is ‘n uitweg uit sonde en dwaasheid. Dit is om te kyk na die gekruisigde Jesus en in sy bloed vergifnis van sonde te soek. Dit geld van individue, wat almal verlossing nodig het, maar ook samelewings en samelewingstrukture wat self ook sondig – soos die vol in ons teks. Jesus verander mense en hul gemeenskappe.

Die intense kyk na die kruis, wat nie net Jesus se dood nie, maar ook sy opstanding in herinnering roep, beteken dat daar vir ons verlossing moontlik is. Ons is nie die slagoffers wat vasgeknoop bly sit in ons eie dwaasheid nie. Daar is uitkoms moontlik. Ons omstandighede kan verander, deur God wat lewe gee.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 245 of
F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”

Seën

Respons

Lied 245 refrein
Vonkk 3 refrein of
Flam 91 Refrein:  U genade’s vir my genoeg! U genade’s vir my genoeg!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.