Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die naam van die Sondag is Laetare (“Wees bly”) na aanleiding van Jesaja 66:10 “Wees bly saam met Jerusalem en juig saam met haar, almal wat haar liefhet . . .”

In die liturgie moet die gemeente iets van die vreugde van ‘n genadige God beleef wat op sy kinders wag om hulle met ope arms terug te ontvang (Luk 15:1-3, 11b-32).

Hulle kan feesvier, want Hy het hulle bevry. Hulle hoef ook nie bang te wees om na Hom terug te keer nie
(Ps 32). Hy maak van hulle nuwe mense (2 Kor 5:16-21).

Ander tekste

Josua 5:9-12
9Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek julle bevry van die smaad wat van Egipte se tyd af op julle rus.”
Josua het die plek toe Gilgal a genoem. Dit is vandag nog die naam.

Die paasfees
10Terwyl die Israeliete nog in Gilgal in die kamp was, het hulle die paasfees daar in die Jerigovlakte gevier, op die veertiende van die maand, in die aand. 11Die oggend na paasfees, presies op dié dag, het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring, van die opbrengs van die land, geëet. 12Daardie oggend toe hulle van die opbrengs van die land eet, het die manna weggebly; daar was nie weer manna vir die Israeliete nie: hulle het daardie jaar van die land Kanaän se eie oes geëet.

Psalm 32
U het my skuld vergewe
32 ’n Gedig van Dawid.
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf
word nie,
wie se sonde vergewe word.
2Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding
nie toereken nie
en in wie se gees
daar geen valsheid is nie.
3Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer
soos ek heeldag om hulp
geroep het.
4U hand het dag en nag
swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog
soos water in somerhitte.
5Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek
my opstandigheid;”
en U het my skuld vergewe.
6Dit is waarom elke gelowige
in ’n tyd van nood tot U bid;
selfs vloedwaters
sal hom nie skielik oorval nie.
7U is vir my ’n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing.
8Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee
en my oog oor jou hou.
9Moenie onverstandig wees nie,
soos ’n perd of ’n muil
wat met ’n stang in die bek
beteuel moet word
as jy hom wil lei.
10Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges,
jubel, alle opregtes.

2 Korintiërs 5:16-21
16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Fokusteks

Lukas 15:1-3, 11b-32
Die gelykenis van die verlore skaap
(Matt 18:12–14)
15 Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

3Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:
4“Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. 5En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. 6As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’7Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Die gelykenis van die verlore muntstuk
8“Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie ‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? 9En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’10Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Die gelykenis van die verlore seun
11Verder het Jesus gesê:
“Daar was ‘n man wat twee seuns gehad het. 12Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.

13“Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na ‘n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe. 14Nadat hy alles deurgebring het, het daar ‘n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly. 15Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas. 16Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.

17“Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. 18Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! 19Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’ 20En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan.

“Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. 21Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’  22Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ‘n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! 23En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! 24Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.

25“Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. 26Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. 27Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’

28“Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; 29maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ‘n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ‘n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. 30Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’

31“Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. 32Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”

Ekstra stof

Lukas 14:1-15:32 – God het ‘n hart vir verlorenes
Die 3 gelykenisse in hoofstuk 15 – verlore skaap, muntstuk, seun – Is van die helderste sketse van God se hart vir verlorenes in die Bybel, wat die gelykenis van God se gasvryheid nog verder neem.

Let op na die volgende:

  • Jesus vertel dié gelykenisse vir die Fariseërs en skrifgeleerdes waarmee Hy eintlik hulle eie verlorenheid ontbloot.  Hulle reageer eintlik soos die ouer broer in die gelykenis van die verlore seun.
  • Die verskil tussen die eerste 2 gelykenisse is dat in die eerste die verlore skaap se nood beklemtoon word, en in die tweede die vrou se nood ten opsigte van die verlore muntstuk beklemtoon word.  Waar die skaapboer vir die verlore skaap gaan soek, ter wille van die skaap, gaan die vrou soek vir die verlore muntstuk ter wille van haarself.  Albei teken dus kante van wie God is en hoe Hy deur ons werk in die wêreld – ter wille van ons, EN ter wille van Homself.
  • Die laaste gelykenis kombineer dié twee aspekte van God se besorgdheid oor verlorenes.  Daarom kan die gelykenis van die verlore seun net so goed as die gelykenis van die wagtende vader beskryf word.  Want dit is nie net die nood van die verlore seun wat beskryf word nie, ook die nood van die wagtende vader.

Liturgie

RUS

Aanvanswoord: Tyd vir stilte.

Kers word gedoof.

Gebed

Toetrede: VONKK 282 of Flam 3 of Lied 159

Seëngroet

Wet: Psalm 32:1–11

Skuldbelydenis: VONKK 164 of Flam 69 b Psalm 32

Vryspraak: 2 Korintiërs 5:16–19

Toewyding: VONKK 79 of Flam 5 of Lied 510

Geloofsbelydenis: ahv Jesaja 53

Lofsang: Flam 207 of  lied 245 Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 15:1-32 (video’s)

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Viering: VONKK 124 of Flam 165 of Vieringsgebed

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 335 of Lied 186

Seën

Respons: Lied 187 of F361

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvanswoord
uit Bybelmedia se Woord en Fees 2015-16
Dit is Sondagmôre. Die week met sy veeleisende program is verby. Die komende week met sy uitdagings en eise het nog nie aangebreek nie. Ek nooi jou om jou oë te sluit en te rus in die oomblik. Maak nie saak waar jy met jou gedagtes en gevoelens is nie – verlig oor wat jy bereik het, gespanne oor dit wat jy nie afgehandel nie, bekommerd oor mense en projekte – maak nie saak waar jy is nie – ek wil jou aanspoor om dit vir ʼn oomblik daar te laat en te bedink waar jy nou is. Wat is vir jou waar nou en hier, op hierdie oomblik, vreugde of hartseer, dankbaarheid of kommer? Laat dit na vore kom. As jy ten volle bewus is van jou emosie, luister . . . God is volledig teenwoordig in hierdie oomblik. God ontmoet jou waar jy is en roep jou na Hom. Oomblik vir oomblik, lei Hy jou stadig maar seker na rus en tot inkeer.

Tyd vir stilte.

Kers
Terwyl ons die kers doof, erken ons die duisternis en lyding wat veroorsaak word deur die tekort aan basiese behoeftes wat mense ervaar – ʼn behoefte aan kos, aan huisvesting, aan onderrig, aan gesondheidsorg en aan liefde.
Kers word gedoof.

Gebed
Liefdevolle Vader, ons dank U dat U met ons is en dat ons U kan aanroep ongeag waar ons is of wat ons voel.  Laat ons altyd bewus wees van u teenwoordigheid terwyl ons vertrou op u belofte dat U oomblik vir oomblik besig is om ons te verander sodat ons al meer soos U kan word. Amen.

Toetrede
VONKK 282 Spreek, Heer, in die stilte of
Flam 3 Aan U Voete, Heer of
Lied 159 “God is hier teenwoordig”

Seëngroet
uit Bybelmedia se Woord en Fees 2015-16
Voorganger: Mag God die Vader,
wat ʼn gebroke gees nie verag nie,
jou ʼn verslae hart gee.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Mag Christus
wat ons sonde aan die kruis gedra het
vir jou genesing bring deur sy wonde.
Gemeente: Amen.
Voorganger: Mag die Heilige Gees
wat ons in die volle waarheid lei woorde van vergifnis en vrede tot jou spreek.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Die Here ontvang jou met deernis
in sy teenwoordigheid.
Gemeente: U alleen wil ek aanbid en eer.

Wet: Psalm 32:1–11
32 ’n Gedig van Dawid. 
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf
word nie,
wie se sonde vergewe word.
2Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding
nie toereken nie
en in wie se gees
daar geen valsheid is nie.
3Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer
soos ek heeldag om hulp
geroep het.
4U hand het dag en nag
swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog
soos water in somerhitte.
5Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek
my opstandigheid;”
en U het my skuld vergewe
6Dit is waarom elke gelowige
in ’n tyd van nood tot U bid;
selfs vloedwaters
sal hom nie skielik oorval nie.
7U is vir my ’n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing.
8Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee
en my oog oor jou hou.
9Moenie onverstandig wees nie,
soos ’n perd of ’n muil
wat met ’n stang in die bek
beteuel moet word
as jy hom wil lei.
10Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges,
jubel, alle opregtes.

Skuldbelydenis
VONKK 164 O Hoor My, Heer of
Flam 69 Was My Skoon of
Psalm 32

Vryspraak
2 Korintiërs 5:16–19
16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.
of
die voorstel uit Bybelmedia se Woord en Fees 2015-16
Voorganger: Julle is gelukkig as die Here
al jou verkeerde dade vergewe en
nie meer aan jou slegte dade dink nie.
Gemeente: Here, ons kan nie betaal vir ons skuld nie

Voorganger: As jy stilbly oor jou sonde
gaan dit baie sleg met jou.
Gemeente: Here, ons staan skuldig voor U.
Vergeef tog ons oortredinge.

Voorganger: Die Here vergewe dit alles.
Stel julle vertroue in die Here,
roep in moeilike tyde na Hom.
Hy sal julle beskerm.
Gemeente: Here, U is die enigste Here.
Ons dien U alleen.

Voorganger: Die Here vat jou hand en lei jou.
Hy sal jou elke keer die regte raad gee.
Hy sal julle met liefde toevou.
Gemeente: Die Here is ʼn troue God.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Toewyding
VONKK 79 Genade, So Oneindig Groot of
Flam 5 Daar Is Geen Grens of
Lied 510 “Genade, onbeskryflik groot”

Geloofsbelydenis ahv Jesaja 53
Die Here was soos ’n loot,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
(Gebruik dieselfde Powerpoint as verlede week vir bogenoemde geloofsbelydenis.

Lofsang
Flam 207 U Het U Heerlikheid, O Heer of
Lied 245 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”

Liedere

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006 © 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

F005. “Daar Is Geen Grens” 
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklike titel: The Steadfast Love  Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1974, 1975 Celebration  (Opgeneem op FLAM, vol 1) (Klaagl 3:22,23)

Daar is geen grens aan u guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is u trou, o Heer, my God;
groot is u trou, o Heer.

F069. “Was My Skoon”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed / Skuldbelydenis) Teks en musiek: Hannes Grabe © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Kom en reinig my, o Heer,
week my sonde en skuld in die bloed van u Seun.
Ek staan skuldig voor U, Heer,
die verlore kind kom vra ’n tweede kans.

2. Was my skoon, maak my rein,
laat U lig weer deur my skyn.
Neem my hart, maak dit nuut,
laat my lig na ander skyn.
Was my skoon, maak my rein
laat u lig weer deur my skyn.

3. Laat u Gees my hart deurspoel,
bring u vrede en rus, u genade oor my.
Maak my wit net soos die sneeu,
ek wil heilig leef, gewy aan U, my Heer.

F003. “Aan U Voete, Heer”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Verwondering / Aanbidding) Oorspronklike titel: Aan Uw Voeten, Heer
Teks en musiek: Marcel Zimmer Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht  © 1993 Celmar Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Refrein:
Aan U voete, Heer, is die beste plek,
daarom kniel ons voor U neer.
Om by U te wees is die grootste eer,
daarom buig ons voor U neer.

1. Ja, ons verkies nou om by U te wees
en om na U te luister.
In plaas van altyd maar weer besig te wees,
kom ons nou tot rus by U.

Refrein:

2. En ons verlang na u teenwoordigheid, Heer,
om saam te kniel in aanbidding;
in Gees en waarheid waarlik een te wees,
daarom buig ons voor U neer.

Refrein:

3. Net soos ’n vader wat sy kinders vertroos
so omhels U ons elkeen.
U is ’n Vader wat versorg en beskerm
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U.

VONKK 282 “Spreek, Heer, in die stilte”
Teks: Speak, Lord, in the stillness – Emily May Grimes Crawford 1864-1927; Hannes van der Merwe 2013 ©
Melodie: QUIETUDE – Harold Green 1925 Orrelbegeleiding 1: Gerrit Jordaan 2014 © Orrelbegeleiding 2: Harold Green 1925
Kantoryverwerking 1: Gerrit Jordaan 2014 © Kantoryverwerking 2: Harold Green 1925
© Teks, orrelbegeleiding 1 en kantoryverwerking 1: 2014  VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie, Orrelbegeleiding 2 en Kantoryverwerking 2: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Voorbereiding om God se Woord te hoor

Spreek, Heer, in die stilte;
spreek nou deur u Gees.
Laat ons in ons harte
stil-ontvanklik wees.
Wees Uself teenwoordig,
bid ons van U, Heer.

En ontmoet ons, Vader,
in wat hier gebeur.
Vul ons met die kennis
van u heil’ge wil,
sodat ons gehoorsaam
só ons lewe vul.

Heer, u kinders luister –
raak ons harte aan.
Ons wil met u opdrag
deur ons lewe gaan.

VONKK 164 O “Hoor My, Heer”
Nav Psalm 102:2,3
Teks:  Ouve, Senhor, eu estou clamando – Brasilië; Engels: Alan Luff; Afrikaanse weergawe: Driekie Jankowitz 2011 (Pro Deo)
Melodie: TEM PIEDADE – tradisioneel Brasilië Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2011 (Pro Deo)
Musikale verryking:  Anton Esterhuyse 2011 © Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en musikale verryking: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Engelse teks en melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Gebed

O hoor my, Heer, wanneer ek U aanroep.
Wees genadig, o luister en verhoor my.

Hear me, O Lord, o hear my crying;
in your mercy give ear to me and answer.

VONKK 0079 “Genade, So Oneindig Groot”
Teks: Amazing grace, how sweet the sound – John Newton 1779 (1725 – 1807); Jacques Louw 2009 ©
Melodie: AMAZING GRACE – Amerikaanse volksmelodie in Southern Harmony 1831; aangepas Edwin Excell 1900
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: openbare besit RUBRIEK:  Tradisioneel – Geloof en Vertroue

1. Genade, so oneindig groot,
gee U, o Heer, vir my.
Ook ek, verlore sondaarmens,
word van my skuld bevry.

2. Deur swaarkry, hartseer en gevaar,
moes ek my pad hier vind.
U goedheid, Heer, het my bewaar
en my aan U verbind.

3. Al was ek so verhard en blind,
al het ek niks verdien,
kon ek by U genade vind –
geloof, wat my laat sien.

4. Ek loof U vir genade, Heer,
so onverdiend aan my.
Vergifnis gee U keer op keer
as ek my skuld bely.

5. Nou leef ek daagliks uit u hand,
my hart na U gekeer.
Met al my gawes en verstand
wil ek U dien, o Heer.

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010 © Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
”Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

F165. “In die hart van God die Vader “
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis) Teks en musiek: Rick Moser © 1996 Spirit and Truth Music (1 Pet 2:9)

In die hart van God die Vader
is daar ’n sagte plek
vir die wêreld en sy mense,
uit elke huis en kerk.
En nadat Hy sy Seun gegee het om te sterwe aan die kruis
soek Hy mense wat sy liefde aan die wêreld sal gaan wys.

Daarom het Hy jou uitgesoek en jou hiernatoe gelei
sodat sy genade kan uitvloei deur die lewe wat jy lei.
En die harte van die mense wat oral om jou bly
kan oorloop
van sy guns en heerlikheid.

Dankie dat U my uitgesoek het;
dat U my ook wil gebruik
sodat U genade kan uitvloei
deur die Woord wat ek bely.
Laat die lewens van die mense
wat oral om ons bly
dan oorloop
van u guns en heerlikheid.

F335. Gee My Die Insig Van U Hart (Verander my)
(RUBRIEK: Kruisfuur – Heiliging / Gebed / Verwondering / Paasfees) Teks en musiek: Vertikaal Kopiereg: Ó 2009 Urial Publishing
(Opgeneem op By die Kruis)

Gee my die insig van u hart
Om u liefde te verstaan
Laat u genade my bevry
Om te word wie ek moet wees.

Refrein:

Ek staan in verwondering
Liefde so wyd en so ver en so diep
Die volheid van u kruis
verander my, verander my
Die krag van u verlossing
Staan op in my, staan op in my.

U het mens geword vir ons
Gekruisig en gesterf
Meer as wat ons ooit kan besef
Gee U weg op daardie dag.

Refrein:

Brug:
U is Here; U is lewe (x2)

Ek raak u wonde
En werp myself roekeloos op U
Ek’s vasberade in die vryheid van u kruis

Die volheid van u kruis
verander my, verander my
Die krag van u verlossing
Staan op in my, staan op in my.
Die volheid van u kruis
verander my, verander my
Die krag van u verlossing
Staan op in my, staan op in my.

Brug:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
Lukas 15:1-32 (moontlik met video’s voorgestel in familie-oomblik)

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Lees die pragtige storie van The Runaway Bunny, deur Margaret Wise Brown.  Dit sluit pragtig aan by die preek se fokus op moederskap – én by die verhaal van vandag se skrifgedeelte.  The Runaway Bunny vertel van al die maniere waarop hy van sy ma gaan weghardloop – en sy ma wat vertel hoe sy hom sal volg en help.  Luister na die storie hier.

Jy kan dit op Kindle koop (onder $7).  Lees dit van ’n tablet af, of neem screenshots op jou rekenaar en sit dit in powerpoint.

Preekriglyn

Kanye West is ‘n rapper en hip-hop kunstenaar. Hy wil ‘n nuwe, hersiene uitgawe van die Bybel hê waarin hy die hoofkarakter speel.

“Ek hanteer geskiedenis op so ‘n manier dat kinders meer daaroor wil leer,” sê West. “Ek is ‘n inspirerende spreker. Ek het reeds meer as een keer die klank van musiek verander.  Daarom moet ek ‘n deel van die Bybel wees. Ek is in elk geval reeds in die geskiedenisboeke.”

Mense noem Kanye nie verniet die mees arrogante kunstenaar nie. Vir sommige mag hy net kort duskant Godslastering draai aangesien hy ‘n hoofkarakter in die Bybel wil wees.

Vir ander bevestig Kanye maar net wat vanselfsprekend waar is. Hy is reeds in die Bybel, net soos ons almal. Wanneer die Bybel van die verlore skaap, die verlore muntstuk of twee verlore seuns praat, praat God oor ons, net soos oor Kanye West.

Ons is almal die hoofkarakters in God se beweging na mense toe. Ons is die verlorenes wat reeds gevind is, diegene wat nou deelneem aan God se beweging na die wêreld toe. Ons is die vreugde in die Vaderhart.

Lukas 15

Hoofstuk 15 word ingelei met die fokus op die ontevrede Fariseërs en skrifgeleerdes. Hulle is beswaard dat Jesus saam met mense, wat hulle as sondaars bestempel, eet en sosialiseer. Eugene Peterson vertaal Lukas 1:1-2 as volg:

By this time a lot of men and women of doubtful reputation were hanging around Jesus, listening intently.

The Pharisees and religion scholars were not pleased, not at all pleased. They growled, “He takes in sinners and eats meals with them, treating them like old friends.”

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes verstaan nie God se hart nie. In antwoord op hulle besware vertel Jesus drie gelykenisse; van die skaap wat weggeraak het, die verlore penning en die gelykenis van die verlore seun.

Al drie verhale eindig met vreugde. Wanneer die eienaar die verlore skaap vind, roep hy sy vriende bymekaar om saam met hom bly te wees. Daaroor sê Jesus: “Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Die gelykenis van die verlore muntstuk, Jesus se tweede reaksie op die Fariseërs en Skrifgeleerdes se ontevredenheid omdat Hy met sondaars omgaan, eindig ook met ‘n boodskap van vreugde.

Verlore Seun

Die gelykenis van die verlore seun handel oor ‘n man wat twee seuns gehad het. Die jongste seun besluit om sy vader te vra vir sy erfdeel; “die deel van die eiendom wat hom toekom”. Op die seun se versoek het die vader die eiendom verdeel, waarna die jongste seun alles bymekaargemaak en na ‘n ver land vertrek het.

Die jongste seun het “sy eiendom verkwis het deur losbandig te lewe”. Hy het alles deurgebring. Daarna het ‘n swaar hongersnood in die land gekom waar die seun homself bevind het. Die seun het toe by een van die burgers van daardie land gaan werk soek. Hy het werk gekry om varke te voer. Die seun was so honger dat hy gesmag het om van die varke se kos te eet, maar niemand het hom iets gegee om te eet nie. Hy het begin terugdink aan sy vader. Hy het die huishouding waar hy vandaan gekom het onthou. Die werkers van sy vader word goed gevoed, terwyl hy op daardie oomblik niks gehad het om te eet nie.

Hy besluit toe om na sy vader terug te gaan en om vergifnis te smeek. Hy het ‘n toespraak voorberei om sy vader om vergifnis te vra en aan sy vader te sê hy is nie waardig genoeg om sy seun te wees nie, en sou by sy vader pleit om hom in te neem as een van sy werkers. Tevrede dat hy voorbereid is vir die herontmoeting met sy vader, reis die seun terug huis toe.

Op die uitkyk

Die vader het die seun al gesien terwyl hy nog ver van die vaderhuis af was. By implikasie was die vader dus op die uitkyk vir sy seun. Toe die vader die seun gewaar, hardloop hy hom tegemoet, omhels sy seun en soen hom. Die seun begin toe om vergifnis pleit, maar die vader val hom in die rede, praat met sy werkers en gee aan hulle opdrag om nuwe klere te bring; alles wat die seun nodig het, tot juwele en skoene. Verder gee die vader ook opdrag dat die vetgemaakte kalf geslag en ‘n fees voorberei word, uit dankbaarheid dat die seun tuis gekom het.

Ontevrede met genade

Terwyl die fees aan die gang is, kom die oudste seun huis toe uit die veld waar hy besig was om te werk. Hy hoor die musiek, sien die feesviering en vra een van die werkers waaroor alles gaan. Hy word ingelig dat sy broer terug is en dat sy vader die fees gereël het uit dankbaarheid dat sy jonger broer veilig terug is. Die oudste broer is kwaad en weier om in die huis in te gaan om sy broer te gaan groet, maar die vader het uitgegaan na die oudste broer toe en hom gesmeek om te verstaan.

Die oudste broer was erg ontevrede en vertel sy vader waarom hy so ongelukkig is. Hy is openlik woedend en verwys na sy broer as “die vader se seun”; by implikasie ontken hy enige verhouding met die jongste seun. Hy herinner die vader verwytend dat die vader nog nooit vir hom ‘n fees gereël het nie, soos hier vir die jongste seun wat die vader se eiendom verkwansel het. Hy herinner die vader dat hy altyd lojaal aan die vader was, hard gewerk het vir die vader en sy reëls altyd gehoorsaam het.

Die vader verduidelik aan die oudste seun dat hy altyd saam met die vader is en dat alles wat aan die vader behoort ook aan hom behoort. Die vader verduidelik dat die jongste seun verlore was, weggeloop en afgedwaal het. Dat hy amper uit hulle lewe verdwyn het en hulle hom nie weer sou sien nie. Maar nou is hy terug. Daar is rede om fees te vier! Dit is die logika van die ouerhart.

Só word die verhaal deel van Jesus se antwoord op die Fariseërs en skrifgeleerdes wat murmureer omdat Hy met sondaars omgaan. Die godsdienstige leiers se afkeur aan sondaars word gekontrasteer met God se vreugde oor mense wat hulle bekeer.

Duur liefde

Die teoloog NT Wright sê ons veronderstel dikwels hierdie verhaal handel bloot oor die wonderlike liefde en vergewende genade van God, wat altyd gereed staan om sondaars terug te ontvang by die eerste teken van berou. Dit is die belangrikste tema van die verhaal. Die verhaal gaan egter dieper. Ons moet die skerpheid van die vernedering vir die vader en die hele huishouding van die seun wat sy erfporsie opgevra het, in gedagte hou.

Wright verduidelik dat die verdeling van die erfporsie op die seun se aandrang beteken het die vader moes die grond wat hy besit in twee deel, én dat die jonger seun sy deel van die grond weer aan ‘n ander persoon verkoop het. Die skande wat dié transaksie (seun se verkoop van sy erfgrond) op die familie geplaas het, het die skande verhoog wat hy reeds oor die vader gebring het deur aan te dring op sy deel voordat die vader gesterf het. Die jongste seun sê eintlik vir die pa: “Ek wens jy was alreeds dood!” Die vader aanvaar en verduur hierdie vernedering.

Skande en beskaming

Vir baie mense is die optrede van die vader onverstaanbaar. ‘n Vader (ouer) tree nie so op nie! Kon die vader ander opsies oorweeg het nie; hom dissiplineer of selfs uit die huis sit nie? Wright wys op die diep misterie onderliggend aan die verhaal, selfs voordat die jonger seun die huis verlaat het vir die vreemde land en losbandige lewe. In die kultuurwêreld van Jesus se tyd, sou die weggaan van die jongeling skande vir die familie beteken omdat die jongste seun nie vir sy vader in sy ouderdom sou sorg nie.

Selfs dit was nie die einde van die skande en vernedering nie. In die vreemde land het die seun se skande verder verdiep, wanneer hy as Jood wat volgens die reinheidswette niks met varke te doen wil of mag hê nie, ‘n oppasser van varke word en selfs begeer om hulle kos te eet.

Sy skande volg uit die jongeling se radikale afsnyding van die vader se leefwyse, denke en dade; dit wat aan hom geskenk is oor tye heen. Die seun laat sy woning agter, die kern van sy menswees, waar mens juis hoor: “Jy is my geliefde, in jou het ek ‘n welbehae.

Hardlopende Vader

Die merkwaardigste karakter in die verhaal is die vader self. NT Wright sê ons moet die verhaal eintlik die “Gelykenis van die hardlopende Pa” noem. Binne die destydse kultuur was senior persone as té waardig beskou om iewers heen te hardloop.

Waarom hardloop die vader? Die punt van die verhaal is die ruimhartige, vreugdevolle verwelkoming. Jesus verduidelik waarom daar partytjie gehou word. Ten spyte van die vernedering is die die Vader bly wanneer mense ophou om hulle eie koppe te volg en God se pad begin bewandel.

Oudste seun

Dit is duidelik die vader wil die oudste seun ook terug hê, hom graag met vreugde omhels en teruglei na die woning. Maar sal hy die uitnodiging aanvaar? Al twee seuns is verlore. Dit maak nie saak of ons met die jongste of die oudste seun identifiseer nie. God se enigste behoefte is om ons tuis te bring; om ons terug te bring na God se woning toe.

In die verhaal verteenwoordig die oudste seun die Fariseërs op wie se besware Jesus reageer. Voor die oë van die Fariseërs is mense se lewe verander, ander is genees en hulle lewe getransformeer – fisiek, emosioneel, moreel en geestelik. Maar die beswaardes kon nie raaksien hoe God se liefde deurbreek in hierdie mense se lewe nie. Die oudste seun was bekommerd daaroor dat die fees vir die jonger seun uit die deel van sy erfporsie befonds sou moes word. Sy kernargument is dié van die Fariseërs wat roem in hulle selfgeregtigheid en besondere godsdienstige toewyding: “Nog nooit het ek ‘n opdrag van Pa verontagsaam nie . . .” (Luk 16:29; vgl Fil 3:6).

Die vader het die twee seuns beide lief, nie die een meer as die ander nie. Die vader herinner die oudste seun dat hy altyd by die vader is, dat alles wat aan die vader behoort ook aan hom behoort. Die vader is lief vir sy seuns, elkeen in ‘n besondere fase van sy eie lewensreis. Die vader is gereed om beide te gaan soek en in te nooi na die vreugde van tuiskoms. Net soos die vader die jongste seun nooi na ‘n fees, nooi hy ook die oudste seun na ‘n fees. Die vader se verwelkoming is hartlik. Dit is gevul met liefde, vergifnis en omgee wat opkom uit sy karakter as God.

Lydenstyd

Hierdie teks word in Lydenstyd gelees. Dit help ons om die Vader se lyding weens die verwerping van sy seun te verstaan. Die teks verduidelik ook die motief agter Jesus se lyding. Jesus loop die lydingsweg sodat sondaars en God versoen kan word. Jesus word verwerp en uiteindelik tereggestel omdat die Joodse godsdienstige leiers dit nie met sondaars en met genade kan uithou nie.

Nie net God se lyding nie, maar ook ouers se lyding word in ons teks verwoord. Dit is nie maklik om ‘n ouer te wees nie. Dit hou risiko’s in. Ouers moet uiteindelik aan hulle kinders ruimte gee om keuses uit te oefen, selfs al is dit dwaas.

Moederskap

In verskeie kerke het die gebruik geword om vandag, die vierde Sondag in lydenstyd, op moeders te fokus. Dit is die dag waarop mense tradisioneel hulle “moeders se kerke” besoek vir ‘n groot kerklike fees. Hierdie ritueel het later die moeders ingesluit en ‘n dag geword om moeders te besoek – veral families wat ver van hul moeders gewerk en gewoon het. Vandaar die titel “Mothering Sunday”. Spesifiek in die Anglikaanse kerk word “Mothering Sunday” op die vierde Sondag in Lydenstyd gevier. Sommige gemeentes verkies om eerder dié dag te herdenk as die meer algemene Moedersdag in Meimaand.

Ons teks gee werklik geleentheid om op die hart van moeders en vroue (as ouers) te fokus. Moeders dra ongebore babas in hulle liggaam, wat ‘n besondere emosionele band tussen moeder en kind skep – die aardse beeld van God se liefde vir ons. Liefde wat onvoorwaardelik is, vergewe, sien oor en gee vryheid.

Ja, in die hemelse Vader se versorgende liefde herken ons ook iets van moederliefde. Opvallend het Rembrandt in sy aangrypende skildery oor die Vader wat die verlore seun omhels, vir die Vader twee soorte hande geskilder. Die een hand is ‘n tipiese manlike, geharde hand. Die ander hand is ‘n meer sagte, vroulike hand. God se vaderskap kom ook in die sagte liefde van ‘n moeder na vore.

Uithou met genade

Dis maklik om die Fariseërs en skrifgeleerdes te verwyt omdat hulle dit nie met genade kon uithou nie. Dit kan net so maklik van ons waar wees. Solank God diegene genadig is wat ons dink dit verdien, is genade maklik. As God jou vyande begin begenadig, staan die oudste seun maklik in mens op. Mens moet onthou wat God jou vergewe het. Mens moet bewus van jou eie sonde en gebreke lewe. Dit stel jou oop om ander te omhels.

Aanbidding

Mens nie anders as om God te loof en prys as jy hierdie teks lees nie.

Onthou, dit gaan in die eerste plek om elkeen van ons wat deur die Vader gevind en omhels is. Daarvoor moet ons God dank en aanbid.

Tweedens openbaar dit God se hart vir mense. God het werklik nie behae daarin dat ‘n sondaar sterf nie, maar verheug Hom in elke sondaar wat tuiskom.

Daarmee ontdek ons die motief as Jesus se lydingspad. Jesus se lyding word met vreugde gekroon wanneer mense kies om Jesus as Verlosser en Koning te volg en tuis te kom in die Vaderhuis.

Ook daarvan kan ons God aanbid, loof en prys.

Nes oor Kanye West, die rapper, praat die Bybel klaar oor elkeen van ons.

Viering

Vandag is ook die dag om ons tuiskoms in die Vaderhuis met mekaar te vier. Ons vier God. Maar ons vier ook ons aardse vaders en moeders wat so baie vir ons opgeoffer het, en ons van God se liefde geleer het.

God stuur ons om te leef

Viering
VONKK 124 Jesus Bring Vreugde of
Flam 165 In die hart van God die Vader  of
Liturg:  Ons sê vandag vir God dankie vir ma’s en liefdevolle versorgers regoor die wêreld.
Jesaja het geskryf dat God vir ons ’n ma is, wat ons troos in en haar arms hou.
Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel. Jesaja 66:13
Gemeente:  Genadige, geduldige God – dankie vir u sagte sorg.

L:  Jesaja het ook gesê dat God ons nooit sal vergeet nie, dat hy ons ken soos ’n ma haar kinders ken:
Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Jesaja 49:15
Gemeente:  Genadige, geduldige God – dankie vir u sagte sorg.

L:  Dawid het geskryf dat hy in God se teenwoordigheid stil was, vreedsaam, dat hy God vertrou het soos ’n kind veilig in sy ma se arms:
Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,  so het ek tevredenheid gevind. Psalm 131:2
Gemeente:  Genadige, geduldige God – dankie vir u sagte sorg.
Jesus het van homself gepraat as ’n moeder wat daarna smag om haar kinders in haar arms toe te vou soos ’n moeder-hen haar kinders onder haar vlerke toevou.
… hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, Matteus 23:37a
Gemeente:  Genadige, geduldige God – dankie vir u sagte sorg.
OF
Genadige God, soos ’n ma haar kinders lief het, so lief het u ons.
Vir hierdie groot waarheid loof en dank ons u.
U het aan ons die lewe geskenk.
U het van voor ons geboorte af al na ons gekyk,
ons teer gekoester,
ons toegegooi met liefde.
Toe ons u nodig gehad het, was u daar.
Vir hierdie groot waarheid loof en dank ons u.
U het vir ons krag gegee in tyde van nood,
troos in tye van ellende,
bemoediging in tye van wanhoop
leiding in tye van onsekerheid.
Wat ons ook al in die gesig gestaar het, u was by ons.
Vir hierdie groot waarheid loof en dank ons u.
Genadige God, ons het nie altyd u liefde waardeer nie,
te dikwels u lering geïgnoreer
u onderrig nie gehoorsaam nie
u vanselfsprekend aanvaar en van u af weggedwaal.
Tog het u liefde konstant gebly.
Vir hierdie groot waarheid loof en dank ons u.
Genadige God, u wat u lewe offer vir ons,
ons met onuitblusbare liefde lief het,
u het ons geroep om u kinders te wees.
Vir hierdie groot waarheid loof en dank ons u
in die Naam van Jesus Christus, Amen.
Nick Fawcett (Prayers for all Seasons, 1998)

Gebed
Liturg: Ons dank u vir almal wat in ons lewens deel:
Vir ouers en die liefde wat vir ons lewe gegee het:

Gemeente:  Ons loof u, Here en sê dankie.
Vir ma’s wat ons gekoester en versorg het:

Gemeente:  Ons loof u, Here en sê dankie.
Vir pa’s wat ons liefgehad en ondersteun het:

Gemeente:  Ons loof u, Here en sê dankie.
Vir broers en susters met wie ons huise gedeel het:

Gemeente:  Ons loof u, Here en sê dankie.
Vir kinders en ouers:

Gemeente:  Ons loof u, Here en sê dankie.
Vir familie en vriende wat gedeel het in tye van hoop, vreugde en hartseer:

Gemeente:  Ons loof u, Here en sê dankie.
Vir almal wat ons vertel het van Jesus:

Gemeente:  Ons loof u, Here en sê dankie.
Help ons om te leef soos mense wat aan mekaar behoort
en aan U, ons Vader, nou en vir altyd.
Amen
Dankoffer

Slotsang
Flam 335 Gee My Die Insig Van U Hart (Verander my) of
Lied 186 “Ons kom loof U as ons Vader” 

Seën
uit Bybelmedia se Woord en Fees 2015-16
Die Here het jou lyding op Hom geneem.
Hy was siek
sodat ons gesond kan wees,
Hy het swaargekry
sodat ons nie swaar sal kry nie.
Hy het die straf gedra
sodat dit goed kan gaan met ons.
Hy is met jou en sal jou seën.
Amen.

Respons
Lied 187 “Loof, loof die Here” of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed) Teks en musiek: Neil Büchner Kopiereg: Ó Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.