Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Geloof in Jesus is soos om van blindheid genees te word (Joh 9). Dit maak van jou iemand wat lig in ‘n donker wêreld laat skyn (Ef 4). Hierdie mense weet dat hulle onder die beskerming en versorging van die Herder-God lewe (Ps 23) en dat die Gees van God kragtig in hulle werk (1 Sam 16).

Ander tekste

1 Samuel 16:1-13
Samuel salf ’n ander koning
16 Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak ’n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My ’n koning.”

2Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.”

En die Here sê vir hom: “Neem ’n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here ’n offer te bring.’3Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.”

4Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: “Kom u in vrede?”

5En hy het gesê: “Ja. Ek het gekom om vir die Here ’n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.”

Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. 6Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here.

7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

8Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 9Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 10Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11Daarop het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op.”

Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie.” 12Isai het hom laat haal. Hy het ’n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en ’n goeie voorkoms.

Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”

13Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.

Psalm 23
Die Here is my herder
23 ’n Psalm van Dawid.
Die Here is my herder,
ek kom niks kort nie.
2Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters
waar daar vrede is.
3Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie
tot die eer van sy Naam.
4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.
5U laat my by ’n feesmaal aansit,
terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos ’n eregas,
ek word oorlaai met hartlikheid.
6U goedheid en liefde
sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees
in die huis van die Here
tot in lengte van dae.

Psalm 23 OAV
Die Here is my herder.
’N PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.
(OAV)

Efesiërs 5:8-14
Lewe as mense van die lig
6Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie. 

8Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. 9Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. 10Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, 11en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. 12Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. 13Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. 14En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied:
“Word wakker, jy wat slaap,
en staan op uit die dood;
en Christus sal jou lewe verlig.”
15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. 17Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

18Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

Fokusteks

Johannes 9:1-41
Jesus genees ‘n man wat blind gebore is
9 Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?”

3En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. 4So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. 5Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

6Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ‘n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë 7en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.

Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.

8Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?”

9Party van hulle het gesê: “Dit is hy!”

Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.”

“Dit is ek!” het hy self gesê.

10Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?”

11En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het ‘n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!”

12“Waar is hy nou?” vra hulle hom toe.

“Ek weet nie,” was sy antwoord.

Die Fariseërs ondervra die man en sy ouers

13Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring. 14Dit was op ‘n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het. 15Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.”

16Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.”

Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat ‘n sondaar is, sulke wondertekens doen?”

En daar was verdeeldheid onder hulle.

17Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.”

“Hy is ‘n profeet,” het hy geantwoord.

18Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep 19en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?”

20“Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. 21“Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”

22Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word. 23Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.”

Die man word uitgeban
24Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is ‘n sondaar.”

25Daarop het hy gesê: “Of hy ‘n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

26Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?”

27“Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?”

28Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is ‘n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. 29Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man — ons weet nie waar hy vandaan kom nie.”

30“Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. 31Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. 32Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. 33As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.”

34Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”

En hulle het hom uitgeban.

Geestelike blindheid
35Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”

36Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?”

37Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”

38Die man sê toe: “Ek glo, Here!”

En hy het Hom aanbid.

39Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ‘n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

40Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!”

41Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”

Ekstra stof

Johannes 9:1–41 – Jesus maak ook my oë oop om Hom as Here raak te sien 
Onthou dat Jesus reeds in hoofstuk 8 gepraat het oor die feit dat Hy die lig vir die wêreld is.  Hier word die tema van lig voortgesit, in terme van die lig wat Jesus bring in die lewens van mense, fisies deur blindheid te genees, maar ook geestelik deur die blinde man te laat raaksien dat Hy inderdaad die Seun van die mens is, en die man in Hom kan begin glo.

Soos egter regdeur die evangelie die geval is, is daar ook die mense wat ten spyte van alles kies om in die duisternis te bly, en nie te sien nie.

Ons sien  vier hoof rolspelers in hierdie gedeelte oor wie Johannes uitbrei oor wat hulle gesien het – die dissipels, Jesus, die Fariseërs en die blinde man:

Die dissipels – 9:1-2: Die dissipels wil by Jesus weet of die man se blindheid vanweë sy eie sonde of sy ouers s’n is.  Die Jode het steeds geglo dat sonde agter siekte sit, óf die ouers s’n (Eks 20:5) óf die individu s’n (Jeremia 31:29-30; Esegiël 18).

Jesus – 9:3-12: Hoe mooi staan dit nie in vers 1 nie: “Terwyl Jesus wegstap (van die dreigende steniging af!), sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was.” In die druk van die teenstand sien hy steeds iemand in nood raak en neem inisiatief om na die man uit te reik en genade aan hom te betoon.

Jesus korrigeer ook sy dissipels se perspektief op die blindheid van die man – die siekte is nie die gevolg van die blindgebore man of sy ouers se sonde nie.  “Maar hy is blind, sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”  Hy wat die lig vir die wêreld is, gaan lig vir dié man bring deur sy blindheid te genees.

Daarom maak Jesus met spoeg en grond ‘n bietjie klei aan, smeer dit op die blinde se oë, en gee opdrag dat hy hom in die Siloambad moet gaan was.  Dit bring vir hom genesing, maar vir die bure en ander mense wat hom as bedelaar geken het, sowel as vir sy ouers, verwarring.

Terloops: Johannes praat van 2 poele in sy evangelie.  In hoofstuk 5 noem hy die poel van Betesda en hier in hoofstuk 9 praat hy van die poel van Siloam.  Volgens nuwe navorsing (Ronny Reich) is dit moontlik dat dié 2 poele albei gebruik is vir rituele reiniging, voordat jy na die tempel toe is.  Albei het trappe wat na ‘n platform toe lei, wat ooreenkom met ander sulke bekende plekke (mikvoth) in Jerusalem.

Dit beteken dat Jesus se opdrag aan die blinde man om hom by die poel van Siloam te gaan was, het hom in kontak gebring met die pelgrims wat hulle daar kom reinig het.  Maar sy uiteindelik verbanning uit die sinagoge het die deur na die tempel waarskynlik ook vir hom toegemaak.

Die Fariseërs – 9:13-34: Die Fariseërs ondervra die eens blinde man.  En in plaas van blydskap oor ‘n wonderlike gebeurtenis, ondersoek hulle die godsdienstige implikasies van sy genesing en kom tot ‘n negatiewe gevolgtrekking.  Dit is ‘n probleem dat die man op die Sabbatdag genees is.  Dit beteken ook vir hulle dat Jesus nie van God af kan kom nie, anders sou hy nie op die Sabbatdag genees het nie.  Wat eintlik gebeur is dat hulle in Jesus ‘n bedreiging vir hul godsdienstige mag sien.  Hulle het dus geen kapasiteit om deur God verras te word, of om te aanvaar dat God iets nuuts kan doen in Jesus nie. Daar is darem dié wat voel dat as Hy ‘n sondaar was, sou Hy nie wondertekens kon doen nie, maar hulle is in die minderheid.

Hulle ondervra ook die man se ouers.  Let op hoe hulle vis vir enige moontlikheid dat die man miskien nie blind was nie.  Hulle wil hulle aanname bewys dat hier niks spesiaal gebeur het nie.  Die ouers weet egter hulle loop die risiko om uit die sinagoge geban te word: “Hy is oud genoeg, vra hom self.”

Dan loods die Fariseërs ‘n laaste aanslag op die man.  Hy word eintlik half gedwing om met hulle saam te stem. Volgens hulle het Jesus die wet oortree, en kan daarom niks anders as ‘n sondaar wees nie.  As die eens blinde man dus nie met hulle saamstem nie, kies hy die kant van ‘n sondaar.

Maar, dan begin die man hom loswikkel uit hulle greep, en vra met ‘n sweem van sarkasme, of die Joodse leiers hom nou só uitvra omdat hulle Jesus se dissipels wil word!  Ironies genoeg antwoord die geneesde dat Jesus se herkoms net van God af kan wees, anders sou Hy nie hierdie dinge kon doen nie.  Hy bely dus wat die geestelike leiers nie kan insien nie, selfs voor Jesus regtig sy oë oopmaak!  En, soos ‘n mens kan verwag, die Fariseërs word kwaad en gooi die man wat genees is uit die sinagoge en tempel.

Hoe verskriklik is dit  nie.  Diegene wat meen dat hulle kan sien, is eintlik blind.  God sal altyd by die menslike verstaan hou van hoe die reëls werk, meen hulle.  Hulle wat meen hulle kan sien, en spesifiek namens ander sien, is eintlik blind.

Die blinde man – 9:35-41: Let op hoe die verhaal afsluit met die feit dat die blinde man se sig nie net fisies herstel is nie, maar leer om Jesus as die Gestuurde van God (Siloam beteken gestuurde) raak te sien.  Let op hoe sy begrip van Jesus groei deur die gedeelte:

  • Eers praat hy van die “manmet die naam Jesus” – ‘n neutrale begrip (vers 11).
  • Dan in die gesprek met die Fariseërs noem hy Jesus ‘nprofeet (vers 17).
  • In die loop van die gesprek bely hy dat Jesus “van God af kom” (vers 33).
  • En wanneer Jesus hom weer ontmoet, help Jesus hom om in die Seun van die Mens te glo, en bely en aanbid hy Jesus as Here (vers 38).

So sien die blinde man twee keer die lig.  Eers word sy fisiese oë geopen.  Dan word sy geloofsoë geopen.  Hy herken die Lig vir die wêreld.

‘n Mens kan enige rolspeler se perspektief op jouself van toepassing maak.  Ons kan ook miskien soos die dissipels in teologiese debatte vasval.  Of soos die Fariseërs dink aan die implikasies vir jou eie godsdienstige posisie.  Of Jesus toelaat om jou visie algaande te verdiep dat jy Hom as God en Here raak sien en aanbid.

Liturgie

Aanvangslied: Lied  390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Psalm 115:1)

Seëngroet  

Lied 395 “My verlosser aan die kruis 1,2,3”

Wet: Efesiërs 5:8-14
of
Lees die 7 kruiswoorde opeenvolgens met ruimte vir stille nadenke na elke skriflesing. Die Bybelse ensiklopedie berig so daaroor…

Skuldbelydenis: Lied 389 “Is dit is dit my Koning 2”

Vryspraak: Johannes 3:16-18

Geloofsbelydenis: Psalm 23 OAV

Loflied
Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”
en/ of
Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Johannes 9:1-41

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17 sowel as die 2 bydraes oor Johannes 9 by seisoenvanluister.co.za.

In die Basisliturgie vir Lydenstyd in van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17 word die volgende sinvolle suggesties gemaak om liturgiese kreatiwiteit te stimuleer:

  • simbole soos die kruis, ’n doringkroon en ’n gésel kan dwarsdeur die seisoen gebruik word;
  • op Aswoensdag kan ’n meditatiewe diens gehou word waartydens ’n kruis van as gemeng met olyfolie op die voorkoppe van lidmate gemaak word;
  • palmtakke kan ’n prominente deel van liturgiese versierings op Palmsondag uitmaak;
  • ’n Tenebrae-diens kan op een van die aande gedurende Groot Lydensweek gehou word: die verhaal van die passie van Christus (van die Paasmaaltyd tot die kruisiging) word uit een van die sinoptiese evangelies (vanjaar die evangelie volgens Matteus) gelees en op sekere punte word die voorlesing onderbreek deur die doodblaas van 12 kerse;
  • dit is gepas dat nagmaal op die Donderdagaand van Groot Lydensweek gevier word, verkieslik nie op Goeie Vrydag nie;
  • die diens op die Donderdagaand word afgesluit  met die verwydering van alle versierings uit die liturgiese ruimte.

Rus

Aanvangslied: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Psalm 115:1)
Nie aan ons nie, Here,
nie aan ons nie,
maar aan u Naam kom die eer toe,
want dit is U wat liefde en trou bewys.

Seëngroet  
Genade en vrede van die God,
die Vader wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het,
Jesus Christus die Gekruisigde
en die Heilige Gees wat ons aan Christus verbind

Lied 395 “My verlosser aan die kruis 1,2,3”

Wet
Efesiërs 5:8-14
Lewe as mense van die lig
6Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.

8Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. 9Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. 10Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, 11en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. 12Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. 13Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. 14En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied:
“Word wakker, jy wat slaap,
en staan op uit die dood;
en Christus sal jou lewe verlig.”
15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. 17Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

18Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.
of
Lees die 7 kruiswoorde opeenvolgens met ruimte vir stille nadenke na elke skriflesing. Die Bybelse ensiklopedie berig so daaroor…

Jesus het 7 maal aan die kruis gepraat. Geen enkele evangelis maak melding van al die woorde nie, en daarom is dit nie so maklik om die volgorde v.d. kruiswoorde aan te gee nie. Meestal word die volgorde as volg aangegee:

Skuldbelydenis: Lied 389 “Is dit is dit my Koning 2”

Vryspraak: Johannes 3:16-18
16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

Geloofsbelydenis: Psalm 23 OAV
Die Here is my herder.

’N PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Loflied
Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”
en/ of
Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5

Liedere

F317. “Here U Sien En Ken My (Altyd By My)”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof & Vertroue)
Oorspronklik: Heer, U Bent Altijd Bij Mij
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr Vert.: Marcel en Lydia Zimmer & Jan de Wet
© 1998 Celmar Music

1. Here U sien en ken my.
U ken my sit en staan.
En U ken my gedagtes;
U weet waarheen ek gaan.
Die woorde van my mond, o Heer,
Ja dit ken U gewis.
En waar ek ook al heen mag gaan,
Ek weet dat U daar is

Refrein:
Here U’s altyd by my.
U hou U hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my
Here U’s altyd by my.
U hou U hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my
Here U’s altyd by my.
U hou U hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my
Here U’s altyd by my.
U hou U hande om my.
En U is by my en langs my
en rondom my
Elke dag

2. Here U sien en ken my
Want in die moederskoot
Het U vir my gevorm
U is oneindig groot
Ek dank U vir die wonderwerk
Dat U my lewe lei
En wat ook sal gebeur, ek weet,
U is altyd by my

Refrein:

F113. “Here Jesus, U Skyn Oor Almal ” 
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Diens en Getuienis)
Oorspronklike titel: Shine, Jesus, shine
Teks en Musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Breda Ludik
© 1987 Make Way Music
(Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Here Jesus, U skyn oor almal,
met die glans van u liefde skyn U.
Skyn op ons tot ons oë oopgaan.
Maak ons vry om te lewe voor U.
Skyn oor my.  Skyn oor my.

Refrein:
Soos lig wat skyn in die donker van hierdie wêreld,
soos lig wat skyn, skyn die Heer in ons.
Kom, Jesus, kom en verdryf al die donker in ons.
Kom laat u liefde die wêreld oorwin.

2. Here, maak my ‘n lig wat helder
skyn om liefde te dra, al verder.
Skyn deur my tot die hele wêreld,
weet dat U vir ons almal gesterf het.
Skyn deur my.  Skyn deur my.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Heilige God, Vader, Seun en ewige Gees,
U sorg vir ons op soveel meer maniere as wat ons kan begin om op te noem.
U was ons skoon met u trane.
U klee ons met u genade.
U heilig ons met u hoop.
U is hier by ons om deur u Woord met ons te praat.
Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor
en om u boodskap ter harte te neem.
Amen.
of
Here, ons wíl mense van die lig wees-
Dankie dat U ons uit duisternis na lig gebring het deur ons Verlosser Jesus.
Wys vir ons waar en hoe ons lig kan wees in ‘n wêreld waar daar so baie donker is.
Gee vir ons die moed om die werke van die duisternis te konfronteer
deur die lig wat Jesus bring daarop te laat val.
Ons kom staan voor U en voor u Woord
met die gebed dat U met ons sal praat
en dat u Woord ons sal heelmaak.
En hoor ons nou as ons saam met die kerk in die hele wêreld bid soos Jesus ons geleer het…

(Gemeente hardop)
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
10laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
11gee ons vandag ons daaglikse brood;
12en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
13en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Skriflesing Johannes 9:1-41

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Sermons4kids stel in ‘n baie oulike kinderboodskap voor dat jy modderkoekies bak.

Sluit aan by die boodskap van sien – en nie sien nie – deur vir die kinders ‘n paar optiese illusies te wys. ‘n Vinnige soektog vir “optical illusion” sal ook ‘n klomp heerlike opsies lewer.  Verduidelik hoe ons verskillende goed raaksien in dieselfde prentjie.  Jesus help ons om ander mense in nood raak te sien – en hulle te help.

Preekriglyn

Die gebeure in Johannes 9 vertel van ‘n blinde man wat genees word. Hy begin dan dadelik rondbeweeg soos wat ‘n siende persoon gewoond is om te doen. Neuroloë soos Oliver Sacks, wys uit dat hier eintlik meer as een wonderwerk gebeur. Jesus genees aan die een kant hierdie man se fisieke vermoë om deur sy oë beelde na sy brein te gelei. Tweedens gee Jesus vir hom die vermoë om met sy brein sin te maak van sy waarneming.

Ons gewone mense besef dit nie, maar om te kan sien is deels die fisieke vermoë om beelde waar te neem en deels die vermoë, in die brein self, om sin te maak van wat jy sien. Om as ‘n siende mense te funksioneer, moet jy toegang hê tot visuele ervaring wat oor ‘n lang tyd opgebou en in jou brein gestoor word.

Weens ‘n gebrek aan visuele ervaring kan blinde mense wat vandag nog skielik begin sien, soos deur chirurgie, nie dadelik soos gewone siende mense optree nie. Sonder dat hulle enige vorige ervaring van dinge, soos diepte-waarneming, gehad het, sal hierdie mense hulle hande reik na ‘n voorwerp wat eintlik te ver is vir hulle om op te tel. In die proses sal hulle ‘n glas water wat direk voor hulle staan – en nader is as wat hulle gedink het – omstamp. Net so sal eens blinde mense hulle met trappe misgis en teen mure stamp, net omdat hulle nog nie geleer het hoe om visuele data te interpreteer nie.

Sommige voormalige blindes hou vir die eerste ruk aan om hulle wit kieries te gebruik, sodat hulle brein die verbintenis kan maak tussen hoe die wêreld deur die punt van ‘n kierie voel, en hoe dit lyk deur die informasie wat nou deur hulle oë kom. Daar is ‘n verskil tussen voel en lyk. Dit neem ook tyd om te leer hoe om voorwerp te herken. Dinge was voorheen herkenbaar deur hulle vorm en tekstuur in jou hande. Die voormalige blinde mag weet hoe ‘n telefoon voel, maar moet dan leer hoe ‘n telefoon lyk, wanneer hulle dit die eerste keer sien. Hulle herken nie noodwendig bekende voorwerpe wat hulle die eerste keer sien nie.

Sien is kompleks

Die vermoë om te kan sien is ingewikkelder as wat mens besef. Dit is wat Johannes 9 wil sê. Fisiese sien is volgens Jesus ook nie die enigste soort sien nie. Daar is ook nog jou geestelike gesigsvermoë: om die waarheid te kan sien en eien.

Soos in baie klassieke Griekse dramas, word ironie in Johannes 9 bewerkstellig deur die man wat fisies blind was, maar geestelik baie beter kan sien as die mense wat nooit enige probleme met hulle sig gehad het nie. Aan die ander kant is daar die Fariseërs wat dink hulle kan geestelike sake besonder helder sien, wat uiteindelik blyk die ware blindes te wees. Die hele storie is deurspek met ironie en ook humor, as mens sien hoe die blinde ongeduldig raak met die lawwe ondervraging deur die Fariseërs.

Dis tans Lydenstyd. Hierdie is ‘n drama vir Lydenstyd. In Lydenstyd word gefokus op Jesus Christus wat ter wille van ons sonde gely en gesterf het. Kom ons kyk vanuit die perspektief van sonde na hierdie gedeelte.

Ironies, weer eens, leer hierdie teks ons om nie meer oor sonde te praat en sonde te sien as wat ons moet nie.

Sonde en my omstandighede

Soos die dissipels aan die begin van ons teksgebeure, soek baie mense vandag nog na ‘n eenvoudige lyn tussen ons sonde en ons omstandighede. Ons werk met ‘n skema van oorsaak en gevolg.

‘n Klompie jare gelede het ‘n gedeelte van Kalifornië ‘n ernstige aardbewing beleef wat aanleiding tot groot skade en ook lewensverlies gegee het. ‘n Gemeente in Kalifornië wou sin maak van die verskriklike gebeure. Hulle nooi toe die bekende teoloog (en president van Fuller Teologiese Skool) Richard Mouw om in die week na die aardbewing te kom help om te hoor wat God vir die mense van hierdie gesekulariseerde omgewing sê.

As verantwoorde teoloog wou Mouw nie saamspeel om naïef te sê die aardbewing is God se oordeel en straf oor die mense se sonde nie. Hy kies toe as teks daardie deel van God se verskyning aan Elia, terwyl hy vlug vir Isebel, waar dit sê: “Maar in die aardbewing was die Here nie!” (1 Kon 19:11).

Natuurlik is daar gedeeltes in die Bybel waar God self sê dat daar ‘n verband tussen ‘n tragedie en God se straf van sonde is. Wanneer God self sê Hy straf, kan ons dit as betroubaar aanvaar. Die ballingskap was God se straf. Dinge wat baie van die konings getref het, was vanweë hulle sonde.

Daar is ook baie gevalle in die Bybel waar mense sê slegte omstandighede is die gevolg van sonde. Dan het hulle dit meestal verkeerd. Een so ‘n voorbeeld het ons in ons teks. In Johannes 9 sien die dissipels ‘n man wat blind gebore is, en hulle neem sy blindheid is die gevolg van iemand se sonde.

In Johannes 9:3 trek Jesus ‘n streep deur die eenvoudige verband wat baie mense tussen sonde en swaarkry trek:

Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”

Op ‘n algemene manier is die blinde man se tragiese omstandighede deel van die wêreld wat in sonde geval en gebreek geraak het. Dit was egter nie die gevolg van ‘n spesifieke sonde nie, nie sy eie nie en ook nie sy ouers s’n nie.

Jesus leer ons om baie versigtig oor mense en hulle sonde te praat. Ons moenie te vinnig tot konklusies kom nie.

Godsdienstige oordele

Miskien is dit die mees onaantreklike kenmerk van godsdienstige mense: dat hulle baie vinnig is om sonde en die gevolge daarvan uit te wys. Ons kan altyd vir ander sê wat fout in hulle lewe is en wat die gevolge daarvan is.

Die Fariseërs is glad nie bang om dit te doen nie. Hulle kan nie aanvaar die blinde man se genesing kom van God nie, want dit het op die Sabbat gebeur. Genesing is werk en niemand mag op die Sabbat werk nie. In vers 24 noem hulle Jesus sommer direk ‘n sondaar. Volgens hulle definisie het Jesus die Sabbatswette oortree en daarom kan Hy nie ‘n profeet van God wees nie, Hy is ‘n sondaar.

Die Fariseërs het natuurlik ‘n probleem, want niemand kan ‘n blinde volkome genees tensy hy of sy ‘n gestuurde van God is nie. Daarvoor het hulle ‘n Plan B. Hulle vra die geneesde man herhaaldelik uit om twyfel te probeer saai dat dit Jesus is wat hom genees het. Of dalk gee die man maar net voor hy is genees, dalk kon hy nog al die jare sien. Hulle wil die wonderwerk en die man self bevraagteken, anders kry hulle teenstander – Jesus – ekstra punte by die mense omdat dit duidelik blyk Hy is wel deur God gestuur.

Plan B wil ook nie werk nie. Dit is gou duidelik dat die geneesde man nie ‘n kulkunstenaar is nie. Almal ken hom as die dorp se blinde bedelaar. Daarom, soos ons teks vorder, val die Fariseërs terug en gebruik weer Plan A. Plan A is om Jesus skeldname te noem en te ontken dat Hy van God kom:

Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man – ons weet nie waar hy vandaan kom nie.” (29)

Die voormalige blinde man is nie op sy mond geval nie (9:30v):

“Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom.”

Die Fariseërs hou egter nie op oordeel nie. Hulle dink ook soos die dissipels aan die begin. Hierdie man is ‘n sondaar, en daarom gaan hulle nie na hom luister nie. Hulle is so oortuig die man is ‘n sondaar, want hy is blind gebore, hulle ban hom sommer net daar uit die kerk uit (9:34):

Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?” En hulle het hom uitgeban.

Die man hier voor die Fariseërs kan sien. Dit weet almal. Deur hom ‘n sondaar te noem omdat hy oorspronklik blind gebore is, erken die Fariseërs en Joodse leiers eintlik dat Jesus hom werklik genees het. Hulle onderstreep die geneesde man se woorde in vers 33: “As hierdie man nie van God was nie, sou Hy niks kon doen nie.”

Verharde sondaars

Jesus het aan die begin van die gebeure die dissipels se maklike aannames oor sonde afgewys. Dit was maar net aannames.

Nou, aan die einde van die episode, takel Jesus die eintlike verharde sondaars (9:39-41):

Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ‘n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”
Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!”
Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”

Jesus sê:

  • As die Fariseërs werklik onkundig was (geestelik blind) oor die verband tussen sy goddelike oorsprong en sy vermoë om te genees, sou hulle nie skuldig aan sonde wees nie;
  • Jesus het egter geweet (en die Fariseërs daar diep binne-in hulleself) dat hulle die implikasies van sy genesingskrag gesien en verstaan het: Hy was inderdaad van God. Hulle vermoë om geestelik te kan sien, was piekfyn.
  • Die Fariseërs het Jesus egter hardnekkig bly verwerp – en dit was nie vanweë geestelike blindheid nie, maar vanweë hardkoppige sonde.

Sonde is ten diepste om Jesus te verwerp. Sonde is om Jesus nie as die gestuurde van God te erken en in Hom te glo nie.

Die blinde man sien ook geestelik

Anders as die Fariseërs, leer die blinde man nie net fisies sien nie, maar ook geestelik. Jesus kry die man weer nadat die Jode hom uitgeban het en vra of hy glo: “Glo jy in die Seun van die mens?” (35).

Toe die man wil weet wie die Seun van die mens is, sê Jesus dit is hy, Jesus, wat nou met die man praat. Die man antwoord toe “Ek glo, Here,” en hy aanbid Jesus.

Op ‘n merkwaardige manier sien die blinde man twee keer die lig. Sy begrip van Jesus groei deur die gedeelte:

  • In vers 11 praat hy van die “man met die naam Jesus”;
  • In vers 17, in gesprek met die Fariseërs noem hy Jesus ‘n profeet;
  • In vers 33 bely hy dat Jesus “van God af kom”;
  • In vers 38 bely en aanbid hy Jesus as Here.

So sien die blinde man twee keer die lig. Eers word sy fisiese oë geopen. Dan word sy geloofsoë geopen. Hy herken die Lig vir die wêreld.

Hy is nou inderdaad ‘n man sonder sonde, want Hy herken en bely Jesus as die Here. Hy aanvaar Jesus. Sonde is ten diepste om Jesus te verwerp. Sonde is om Jesus nie as die gestuurde van God te erken en in Hom te glo nie.

Versigtig met sonde

Die Fariseërs het beterweterig en onversigtig oor ander se sonde gepraat, en daarom meer oor ander se sonde gesê as wat van pas is. Op ‘n gemaklike en selfregverdigende manier het hulle beide Jesus en die geneesde man as sondaars verwerp.

Hulle verwerp Jesus, en Jesus se werk, die genesing van die man met wie hulle in gesprek is. Pleks leer hulle by Jesus en by die eenvoudige, maar begenadigde bedelaar. Dit is vir vroom en godsdienstige mense moontlik om mense as sondaars te verwerp by wie ons belangrike dinge kan leer – ook oor God kan leer.

Aan die einde van ons teks kry mens hoendervleis. Spesifiek die mense wat die meeste oor sonde praat (ander mense se sonde), is self die mees blinde en sondige mense van almal.

Te veel fokus op sonde

Lydenstyd gaan oor sonde. Dit gaan oor die sonde van die wêreld, en ons sonde, wat Jesus se dood gekos het. In sy dood het Jesus die sonde van die wêreld op Hom geneem, sodat ons met God versoen kan word. NT Wright sê die kruis is die dag waarop die goddelike revolusie begin het: die revolusie om die wêreld se sonde te vergewe en die wêreld nuut te maak soos God beloof het.

As ons te veel op die sondes van die mense rondom ons begin fokus, en as ons mense begin uitban omdat hulle vir ons sondaars is, mis ons die betekenis van Jesus se lyding. Dan sien ons sondes in plaas van God se genesing. Wie die sondes van ander raaksien, verval maklik in ‘n selfregverdigende gemaklikheid. Dit maak ons blind vir ons eie behoefte aan genade. Dit maak ons suinig en blind om genade te deel met die mense rondom ons, mense wat desperaat is om die goeie nuus te hoor dat die lig van die wêreld in Jesus gekom het.

Jesus se gratis lig van genade en vergifnis is juis vir blinde mense – nie vir mense wat dink hulle kan sien nie. Dit is vir gevalle mense, nie mense wat dink dat hulle staan nie. Ons is geroep om die lig van die heerlikheid van God in die lydende Jesus te sien, en dit vryelik met mekaar te deel. Ons is geroep om oop te wees vir ander, en Jesus se genesing, lig en hoop met hulle te deel.

Die lydende Seun van die mens deurbreek grense en maak nuwe moontlikhede oop sodat elkeen wat Hom aanroep, verwonderd mag staan oor wie Hy is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.
(William Temple, uit:  Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)
of
Die Here verlig jou verstand en jou interpretasie.
Die Here verlig jou oë en die manier waarop jy kyk.
Die Here verlig jou mond en jou woorde.
Die Here verlig jou hart en dit wat jy dink.
Die Here sal met jou wees waar jy nou hiervandaan vertrek.
(15de eeuse gebed, aangepas uit 2001 Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi.BM)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.