Vierde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Numeri 21:4-9
Die koperslang
4Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword 5en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”

6Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf. 7Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”

Moses het toe vir die volk gebid, 8en die Here het vir Moses gesê: “Maak ’n beeld van ’n giftige slang en sit dit op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”

9Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit. As iemand wat deur ’n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.

Psalm 107:1-3, 17-22
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.

17Party het dwaas opgetree,
en deur hulle rebelse optrede,
hulle sonde,
het hulle in die ellende beland.
18Alle kos het hulle laat walg,
en hulle het by die dood omgedraai,
19maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle bevry
van hulle ellende,
20Hy het hulle met ’n enkele woord
gesond gemaak,
hulle aan die dood laat ontkom.
21Hulle moet die Here loof
vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade
wat Hy aan mense doen.

Efesiërs 2:1-10
Lewe uit die dood
2 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Fokusteks

Johannes 3:14-21
Jesus en Nikodemus
3 Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”

3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”

5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”
10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens.

14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog cword, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Ekstra stof

Johannes 2:23–3:36 – As iemand nie van bo-af gebore word nie
Drie reaksies op Jesus word in hierdie gedeelte vertel: 1) mense wat tot geloof in Hom kom op grond van die wondertekens wat Hy gedoen het – 2:23-25, en 2) die gesprek wat Nikodemus, die Fariseër en bekende leermeester, met Jesus een nag kom voer het – 3:1-22 en 3) die getuienis van Johannes die Doper oor Jesus – 3:22-36.

Let op dat die wonderteken van die water wat in wyn verander is, hou verband met die persoonlike geloofsvernuwing wat in die beoordeling van die wondergelowiges sowel as die geloofsgesprek met Nikodemus aangeroer word.  Net so hou die reiniging van die tempel verband met die godsdiensvernuwing wat in die gesprek met die Samaritaanse vrou by die put net hierna in hoofstuk 4 aangeroer sal word.

Die Paasfees in Jerusalem – die tyd waarin ons ook nou is – is die agtergrond vir die eerste twee gedeeltes.  Die getuienis van Johannes die Doper vind in die platteland in Enon naby Salim by die Jordaan plaas.

2:23-25: Jesus het meer wondertekens gedoen as die 7 wat uitgelig word in Johannes se evangelie.  Dit wil egter duidelik blyk dat geloof wat op wondertekens gebaseer is, nie standhoudend is nie.  Jesus “verlaat” Hom nie op hulle nie.  Die rede vir hierdie mening word later in die evangelie gegee, waar Johannes skryf oor baie van dié mense wat Hom uiteindelik “verlaat” (6:66 – baie van sy dissipels het omgedraai en nie meer met Hom saam gegaan nie, toe hulle besef dat geloof iets is wat gegee word, en nie iets wat jy self kan opwek nie – uiters interessant, maar daaroor later!).  Ons sien hier ook een van die voordele van God se menswording – niemand hoef vir Jesus te vertel hoe mense is nie.  Hy weet dit omdat Hy self een is.

3:1-21: Nikodemus kom in die nag – dit kan wees om uit die oog van die Joodse Raad te wees of net bloot om ’n ononderbroke gesprek te hê – om met Jesus gesprek te voer, interessant genoeg, ook oor die wondertekens wat Jesus doen.  Hy sit sy kaarte op die tafel, en sê, God moet by Jesus wees, anders sal Hy nie hierdie wondertekens kan doen nie.

Jesus se antwoord is dat niemand die koninkryk van God kan sien, as hy of sy nie anothen gebore word nie. Die Griekse woord wat Jesus hier gebruik, kan twee betekenisse hê: opnuut of van bo.

  • Dit is uit vers 5 -8 duidelik dat Jesus die woord anothen in die betekenis “van bo” gebruik.
  • Dit is uit Nikodemus se antwoord duidelik dat hy die woord anothen  in die betekenis van “opnuut” verstaan.

Jesus se gebruik van anothen wil dus sê, jy kan God en sy koninkryk net sien as jy deur God aangeraak word, as geloof in jou hart deur Hom aangesteek word, as jy kindskap as ’n gawe van Hom ontvang.

Nikodemus is dus verward met Jesus se antwoord, en vra hoe ’n mens “opnuut”, “’n tweede keer” gebore kan word (waarvandaan ons interpretasie van wedergeboorte kom, wat eintlik foutief is, gegewe Jesus se antwoord).  Jesus antwoord hom dan dat daar ook ’n geestelike geboorte moet wees.

  • Die eerste geboorte is uit water – menslik (sommige interpreteer dit as die doop, maar vers 6 wys dat die natuurlike geboorte is wat met die water bedoel word).
  • Die tweede geboorte is uit Gees – geestelik.  Dit doen die Gees in ’n mens se lewe.

Nikodemus sou moes leer om nie langer “van onder” af oor dinge te dink nie, maar “van bo” af.

Nikodemus se volgende vraag: “Hoe is dit moontlik?” dek dan die tafel vir ’n uitgebreide antwoord van Jesus waarin hy uitbrei oor die raakvlakke tussen God se wêreld en die aardse wêreld  wat met mekaar in stryd is:

  • die aardse vs die hemelse,
  • die wat glo vs die wat nie glo nie,
  • die verlorenes vs mense wat die ewige lewe kry,
  • veroordeeldes vs gereddes,
  • die lig vs die duisternis.

En die spilpunt waarom alles draai, is die reaksie op Jesus, die een wat uit die hemel kom sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê.  Dié wat nie glo nie, bly in die duisternis wat hulle verkies.

Dit alles word begrond in die liefde van God, die sentrum van die spilpunt, by wyse van spreke.  God gee sy enigste Seun, doen afstand van sy innige verhouding met Hom, gee Hom oor aan die dood aan ’n kruis (“verhoog” aan die kruis), omdat Hy ’n passie het vir verlorenes.  Hy kan dit nie oor sy hart kry dat mense verlore sal gaan nie, en gee liewer sy eie Seun aan verlorenheid oor, sodat Hy die ewige lewe kan gee aan dié wat in Sy Seun glo.

God is dus nie op die veroordelingspad nie, maar op die liefdespad.  Dat daar dan nog mense is wat verlore gaan, is te wyte aan hulle eie voorliefde vir die duisternis, en hulle weiering om na die lig te kom wat Hy gestuur het.

Let op hoe Jesus Nikodemus aanspreek oor hulle verskil oor aardse dinge (Jesus verwys hier na hulle verskil oor die woord anothen wat Nikodemus as “opnuut” en Jesus as “van bo” verstaan), wat beteken dat dit byna onmoontlik raak om oor hemelse dinge te praat .

Die einde van die gesprek word nie vertel nie.  Ons lees egter dat Nikodemus hierna vir Jesus opkom in die Joodse Raad (7:50), en die mengsel van mirre en aalwyn bring om Jesus se lyk mee te balsem, voorsien (19:39).  Dit maak dit waarskynlik dat hy ’n gelowige word, een van die weiniges uit die skare van wondergelowiges.

Die metafoor van die koperslang op die paal in die woestyn (Num 21:9) word gebruik om die noodsaak van geloof te illustreer. Net soos die Israeliete gesond geword het van die slanggif as hulle na die koperslang op die paal van Moses kyk, so kry gelowiges die ewige lewe as hulle glo in Jesus as die Seun van die mens.

3:22-26: Jesus en sy dissipels is nou terug in die platteland in Judea waar hulle soos Johannes die Doper mense doop (Jesus het nie gedoop nie – 4:2). Johannes die Doper tree by Enon naby Salim op.

Die woordewisseling tussen Johannes die Doper en ’n Jood oor die effektiwiteit van Johannes die Doper se bediening (die reiniging) gee Johannes die Doper die geleentheid om die kollig te laat val op die meerdere waarde van Jesus se bediening as dit met sy eie vergelyk word.

Johannes vertel dan ’n kort gelykenis om die verskil tussen hom en Jesus as dieselfde tussen die vriend van die bruidegom en die bruidegom self te verduidelik.  Sy bediening word dus oortref en vervang deur dié van Jesus.  Hy moet meer word, en ek minder word dus op sy bediening van toepassing gemaak.

Die bediening van Bo af (vers 31 – onthou dieselfde gedagte wat in die gesprek met Nikodemus op die voorgrond was) gee toegang tot die ewige lewe wat God aan elkeen gee wat in die Seun glo.

Numeri 21 – God bring verlossing vir dié wat op Hom vertrou
Die pas begin versnel met die trek langs die Dooie See op aan die oostekant van die Jordaan.  Die eerste oorwinning wat die tweede generasie van Israel behaal, is teen die Kanaäniete van koning Arad wie se stede hulle met die banvloek tref – Numeri 21:1-3.  Dit word opgevolg deur nog ‘n tranedal van verset oor kos en water wat die skrywer met ‘n perfekte idioom weergee: “diesiel van die Israeliete het kort geraak.”  Die Here se oordeel van giftige slange word opgevolg met die verlossing van die koperslang vir dié wat op Hom vertrou, iets wat in die NT deur Johannes, Paulus en Judas in hulle boodskappe ingetrek word – Numeri 21:4-9.  Uiteindelik kry die Israeliete wel water waarvan hulle die herinnering met ‘n besondere lied verewig – Numeri 21:10-20.  Die eerste grondgebied wat hulle nie net inneem nie, maar bewoon is dié van die Amoriete van koning Sihon en die Refaïete van koning Og wat ook met ‘n lied verewig is – Numeri 21:21-35.

Die koperslang bring verlossing – Numeri 21:4-9
Die blydskap oor die oorwinning oor koning Arad was egter van korte duur.  Die reis het uiteraard ook van die tweede generasie ‘n hoë tol geëis.  In die oorspronklike Hebreeus word hulle ongeduld beskryf met die idioom: “diesiel van die Israeliete het kort geraak“.  In plaas daarvan om egter soos met die bedreiging van koning Arad van die Kanaäniete tot die Here te bid, vaar hulle uit teen Moses en die Here oor hulle omstandighede.

Die Here se reaksie om giftige slange onder hulle in te stuur, word genadiglik begroet met skuldbelydenis deur die volk – teenoor die Here sowel as teenoor Moses! – en voorbidding deur Moses wat op bevel van die Here ‘n koperslang maak met die belofte: “Elkeen wat gepik is en daarheen opkyk, sal lewe.”

Die slang het die vloek voorgestel wat hulle getref het.  Deur die slang “op te lig” teen die paal is die vloek weggeneem, sodat, wanneer hulle daarheen gekyk het, ‘n teken van geloof en vertroue, hulle genees sou word.

Die simbool van die koperslang is later in die tempel geplaas, maar mettertyd aanbid as Negustan (‘n samevoeging van die Hebreeuse woorde vir koper en slang), sodat koning Hiskia uiteindelik besluit het om dit met sy hervormings te verwoes in die laat agtste eeu v.C.: “Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem.” (2 Kon. 18:4).

In die NT gebruik Jesus in sy gesprek met Nikodemus die koperslang as ‘n OT skadubeeld van die verlossing wat Hy bring en koppel daaraan die bekende uitspraak van Joh. 3:16.  Soos Moses die koperslang in die woestyn op ‘n paal opgelig het en dit genesing van die dodelike gif van die slange in die woestyn gebring het, sê Jesus vir Nikodemus, só bring Hy verlossing deur sy dood aan die kruis: “sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.  God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3:14-16).

Ook Paulus verwys na die koperslang van Numeri 21, maar gebruik dit as ‘n waarskuwing dat God nie deur afgodsdiens en onsedelikheid uitgetart moet word, want só ‘n verset teen God sal jou dood beteken, omdat dit ‘n verset en verwerping van Christus inhou (1 Kor. 10:9).

Let op dat vir Paulus Christus dus die een was wat die volk in die woestyn laat omkom en laat lewe het.  ‘n Duidelike verwysing na die dubbele betekenis wat Jesus vir mense het in terme van verlossing en oordeel.

Dit is hieruit ook duidelik dat Paulus Christus as preëksistente teenwoordigheid van die Here Jesus in die woestyn beskou.  Soos dit ook in Judas 4-5 die geval is waar Judas selfs die woord “Jesus” gebruik om te verwys na die Een wat die volk uit Egipte verlos het en dié wat nie in geloof aan Hom vasgehou het, laat omkom het in die woestyn.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 329 of 331 of Flam 70

Votum en Seëngroet: nav Ps 107:1-3 en Lied 221

Lofsang: Lied 324 of Flam 270

Toewyding: Lied 271 of Flam 246

Genadeverkondiging: Efesiërs 21-10

Geloofsbelydenis: Lied 167 of VONKK 213 [kinderlied, kan ook by Familie-oomblik gesing word]

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 3:14-21

Familie-oomblik: VONKK 213 [as dit nie by die geloofsbelydenis gesing is nie]

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 488 of Flam 334

Seën

Respons: VONKK 83

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 329 of 331 “Want so lief het God die wêreld gehad” of
Flam 70 Lig Vir Die Wêreld

Votum en Seëngroet
Liturg:   “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”
So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide.
Gemeente:  “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” Amen
Of Lied 221 “Loof die Heer omdat hy goed is”

Lofsang
Lied 324 “So lief het God die wêreld”
Flam 270 U Is My God

Toewyding
Lied 271 “Heil’ge Jeus, wat my lewe”
Flam 246 Lig Van Die Wêreld

Genadeverkondiging: Efesiërs 21-10

Geloofsbelydenis
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”
VONKK 213 God Is Lief Vir My [kinderlied, kan ook by Familie-oomblik gesing word]

Liedere

F70. “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid) Teks en musiek: Louis Brittz © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk.
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk.
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop.
Week ons met waarheid breek ons bekers oop.

Lig vir die wêreld, kom skyn deur ons.
Skyn in die donker met liefde wat verlos.
Stuur ons met lewe vol van helder hoop.
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees.
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons.

Heer, ontmoet ons hier, woon in ons lofgesang.
U is die rykdom waarna ons verlang.
As u lig ons lei, ons na die wêreld stuur.
Seën ons met volheid vul ons met u Vuur.

Kom Jesus skyn laat donker verdwyn,
skyn in die nag, laat breek die dag.
Vader salf ons oë raak ons met deernis aan.
Ons wil u hart vir verlorenes verstaan.

Laat ons u wyn en melk neem vir dié sonder geld
en lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop.
Lig vir die wêreld
kom skyn deur ons!

F270.”U Is My God”
(RUBRIEK: Flam – Lof) Teks en musiek: Derek de Bruin    © 2006 NG Moreleta Publishing (geadministreer deur Urial Publishing)

U is my God; ek sal U loof,
my God, u grootheid sal ek besing.
Ek loof U, Here, want U is goed
aan u liefde is daar geen einde nie.

U is my God; ek sal U loof,
my God, u lof sal ek besing.
Heer, ek loof U, want U alleen is goed
aan u liefde is daar geen einde nie.

U alleen, ja, U alleen is goed.
Aan u liefde is daar geen einde nie.
U alleen, ja, U alleen is goed
aan u liefde, aan u liefde,
aan u liefde is daar geen einde nie.

F246. “Lig Van Die Wêreld”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklik: Here I Am To Worship (Light of the World)
Teks en musiek: Tim Hughes Afrikaanse vertaling: 2008 Johan Engelbrecht © 2000 Thankyou! Music

1. Lig van die wêreld, U skyn in my duisternis;
nou kan ek sien wie U is.
Liefde wat maak dat ek U wil ken, Heer,
by U elke oomblik wil wees.

Refrein:
Voor U wil ek my neerbuig,
U wil ek aanbid en
U wil ek verheerlik as my Heer.
Want U alleen is waardig,
heilig en regverdig,
U is so genadig, so goed vir my.

2. Hemelse Heer, wat hoog en verhewe is,
Koning vol glorie en mag,
U’t na die wêreld as Kind gekom en
u heerlikheid afgelê.

Refrein:

Brug:
En nooit besef hoe U gely het,
daar aan die kruis was als vir my.

Refrein:

F334. “Want So Lief”
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis) Teks en musiek: Louis Brittz Kopiereg:  2009 Urial Publishing
(Opgeneem op By die Kruis)

Want so lief,
want so lief het God die wêreld.
Het God die wêreld gehad.
Want so lief
want so lief het God die wêreld,
het God die wêreld gehad.
Dat Hy sy enigste Seun gegee het
en elkeen wat in Hom glo
nie verlore mag gaan (x3)
maar die ewige, die ewige lewe kan hê.

VONKK 213 “God Is Lief Vir My”
Nav Johannes 3:16 Teks: Alwena van der Vyfer 2012  © Melodie: ALWENA –  Alwena van der Vyfer 2012 ©
Orrel- en klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2012
© Teks en melodie: Alwena van der Vyfer 2012 (geregistreer by SAMRO). Met toestemming gebruik
© Orrel- en klavierbegeleiding: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Kinderlied – Advent / Geloof en Vertroue / Kindwees

God is lief vir my,
God is lief vir jou.
Die wêreld het Hy so lief gehad,
Hy gee sy enigste Seun.

God is lief vir my,
God is lief vir jou.
Ek lees in die Bybel
en weet dit is waar:
God is lief vir my!
God is lief vir jou!
God is lief vir ons!

VONKK 83 “Siyahamba / Kom Ons Wandel In Die Lig Van God”
Johannes 12:25 en Jesaja 2:5
Teks: Tradisioneel Suid-Afrika (isiZulu);  Afrikaanse weergawe Werkgroep VONKK 2009; Engelse teks oorgelewer.
Melodie: Tradisioneel Suid-Afrika. © Afrikaanse teks en begeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: openbare besit RUBRIEK:  Multikultureel – Liefde, Dankbaarheid en Diens

isiZulu
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’,
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamba, siyahamba,
siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.

Afrikaans
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel, kom ons wandel,
kom ons wandel in die lig van God.

English
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching,
we are marching,
we are marching in the light of God.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 3:14-21

Familie-oomblik
VONKK 213 God Is Lief Vir My [as dit nie by die geloofsbelydenis gesing is nie]

Preek

Familie-oomblik

Johannes 3:16 is van die bekendste verse in die Bybel, maar die kanse is goed dat die meeste kinders dit nog nie ken nie.  So memoriseer dit saam!  Sê dit oor en oor, met gebare:
God  – wys na bo
het die wêreld – maak ‘n grooooooot sirkel met julle wysvingers
so lief gehad – sit julle armes om jul lywe en swaai jul lywe – soos ‘n stywe drukkie vir jouself
dat Hy sy enigste Seun gegee het, – maak jou wysvingers in die vorm van ‘n kruis
sodat dié wat in Hom glo, – hou jou hande bak voor jou
nie verlore sal gaan nie – skud jou kop en swaai jou wysvinger
maar die ewige lewe sal hê. – rol jou hande oor mekaar om ewigheid te simboliseer
Jy kan ook vir elke lidmaat ‘n groot leë kruis gee wat op ‘n vel papier gedruk is – dalk agter op die afkondigingsbladjie.  Laat almal ‘n klomp name daarop skryf van mense vir wie die vers waar is – ook hul eie name.  Daag veral volwassenes en tieners uit om die name neer te skryf van mense van wie hulle nie baie hou nie.

Daar is so baie pragtige stories van kinders wat vir ouers vra oor liefde.  Die pragtige “Raai hoe lief is ek vir jou” gaan oor ‘n hasie wat vir sy pa vra hoe lief sy pa hom het.  Hier is ‘n video daarvan. Beskikbaar by loot.

Preekriglyn

In hierdie Skrifgedeelte ontmoet ons sekerlik die mees bekende vers in die Bybel (3:16):
God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Vir Johannes se eerste lesers, mense uit die Grieks-Romeinse wêreld, was dit ‘n ondenkbare en rewolusionêre gedagte: dat God mense kan liefhê. Vir die Grieks-Romeinse wêreld was die gode in hul eie wêreld en hul intriges geïnteresseerd, en ingestel op mense se diens aan hulle. Anders het hulle die wêreld bygekom met rampe en ellende.

Die evangelie is dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het.

In ons tyd het hierdie vers en boodskap oorbekend geraak. Die woorde word orals gesien, op T-hemde en bufferplakkers gedruk, en selfs in politieke toesprake gebruik. Belangrik: die teks word ook konteksloos aangehaal. Die gebeure en gesprek waaruit dit kom, word weggelaat. Wanneer dit gebeur, kan ons verstaan van God se liefdespad met die wêreld skraler en vlakker raak as die wonderlike diepte wat dit eintlik verteenwoordig.

Konteks

Ons teks kom uit die begin van die Johannes-evangelie se vertelling oor Jesus:

  • Die evangelie begin met die betekenisryke proloog wat vertel hoe Jesus beweeg het van sy posisie by God in die begin, om tussen mense te kom woon (1:1-18);
  • Daarna word vertel van Johannes die Doper se getuienis en die roep van die eerste dissipels (1:19-51)
  • Jesus begin sy bediening deur die nuwe wyn van God se koninkryk na ‘n huweliksfees in Kana te bring, en
  • Deur die nuwe lewe van sy sterwe en opstanding na die aanbidding by die tempel in Jerusalem te bring (2:1-22).
  • Tog het Jesus Homself nie toevertrou aan mense wat hul vertroue in Hom gestel het bloot op grond van sy tekens nie (2:23-24)

In die daaropvolgende hoofstukke vertel Johannes hoe baie mense na Jesus kom op grond van sy tekens:

  • Die Samaritaanse vrou (4:29)
  • Die amptenaar wie se seun genees word (4:47)
  • Die verlamde man (5:9)
  • Die skare wat gevoed word (6:14)
  • Die blinde man (9:25)

Al hierdie mense moes nog beweeg van belangstelling in die tekens van Jesus na geloof in Jesus self.

Nikodemus

Nikodemus kom ook uit belangstelling in Jesus se optrede en groei op pad met Jesus. Hy is ‘n Fariseër en ‘n lid van die Joodse Raad. Hy was dus ‘n man met gesag, ‘n lid van die Sanhedrin. Nikodemus is nie net invloedryk nie, maar ook ‘n vermoënde man (wat speserye in 19:39 koop), volgens Jesus ‘n “leermeester van Israel.”

Hy kom in die nag met Jesus praat, miskien omdat hy bang man of dalk omdat hy ongestoord met Jesus wou praat. Soos hy vorder op sy pad met Jesus praat hy later in die openbaar ter ondersteuning van Jesus (7:50v), en word hy die persoon wat Jesus begrawe (19:39).

Vannag – hier aan die begin van die Johannes-evangelie – is Nikodemus nog nie daar nie. Hy voer ‘n private gesprek met Jesus oor hoe mens die koninkryk van God binnegaan, weer gebore kan word, en nuwe lewe in die Gees ontvang (3:3-13).

‘n Skuif

Dan vind daar ‘n merkwaardige skuif in die gesprek plaas. Dit is asof Nikodemus op die agtergrond verdwyn. In vers 11 sê Jesus nog: “Dit verseker ek jou.” Die voornaamwoord is in die enkelvoud, Nikodemus is die een wat aangespreek word. Maar dan verwissel die voornaamwoorde na die meervoud: dit word “ons” en “julle”.

‘n Groter groep word nou aangespreek.

Dit is ook nie duidelik waar Jesus se woorde eindig nie. Antieke manuskripte het geen punktuasie, aanhalingstekens, kommas en punte nie. Moderne vertalers moet uitwerk waar om die aanhalingstekens te plaas, want dit is ‘n moderne gebruik. Gewoonlik is dit duidelik waar die spreker ophou praat, en waar die verteller van die verhaal aan die woord kom (in hierdie geval Johannes).

In Johannes se Evangelie is die plaas van die aanhalingstekens nie so maklik nie. Sommige vertalings eindig die aanhaling van Jesus se woorde aan die einde van vers 15, terwyl ander (soos die Afrikaanse vertaling) dit laat deurloop na vers 21. Daar is goeie rede vir laasgenoemde, omdat Jesus se woorde en deurgaans dieselfde styl en woordkeuse gebruik. Dit is net die geadresseerde, Nikodemus, enkelvoud, wat skuif na die meervoud: “Julle”.

Die effek is egter dramaties. Die stil, nagtelike gesprek tussen Jesus en Nikodemus word vervang met Jesus wat deur Johannes met die hele Joodse volk, en met die mense van die hele wêreld praat. Jesus vra mense (van alles tye en plekke) om “ons getuienis” te aanvaar.

Alle mense word genooi om God se geliefde Gestuurde, Jesus Christus, se getuienis en werk te aanvaar, deur die lewegewende werk van die Heilige Gees.

Grootste boodskap

Verse 14-21 is van die mees invloedryke dele van die Nuwe Testament.

Johannes is hier op sy beste. Hy is lief daarvoor om teenoorgesteldes te balanseer: van bo en van onder; lewe en dood, waarheid en leuen. Hierdie opstel van pole word algemeen in die Griekse filosofie en ook in die Qumranrolle wat in die woestyn van Judea gevind is, weerspieël. Dit is hoe die mense van destyds gedink het. Deur hierdie kontrasterende woordpare te gebruik, word die evangelie aan mense verduidelik in woorde en begrippe wat hulle kon verstaan. Hierdie woorde het ook diepgaande invloed tot vandag uitgeoefen.

“Verhoog”

Die gedeelte begin met ‘n herinnering aan die gebeure waarvan Numeri 21:4-9 vertel. Die Israeliete kla teenoor Moses en God en word gestraf deur ‘n plaag giftige slange. As geneesmiddel gee God aan Moses opdrag om ‘n slang van brons te maak en dit “hoog op ‘n paal” te vertoon. Almal wat die verhoogde slang gesien het, is genees.

Die bronsslang is later deur Hiskia vernietig omdat mense dit soos ‘n afgod behandel het (2 Konings 18:4). Die “Boek van Wysheid”, ‘n apokriewe boek uit die tydperk tussen die Ou en Nuwe Testament, beskryf die slang as ‘n simbool van redding. Johannes gebruik die slang hier op dieselfde manier, die slang wat hoog op ‘n paal gesit is, oftewel “opgelig” is.

Net so, sê Jesus, sal die Seun van die Mens “opgelig” of “verhoog” word. Ons weet dat Jesus aan die kruishout “opgelig” is. Net soos sterwende Israeliete die slang “verhoog” op die paal gesien en gered is, net so sal ons in Jesus se gebreekte liggaam wat “verhoog” of “opgelig” is op ‘n martelinstrument ons eie heling vind, die bron van die ewige lewe (3:14-15).

Mense kan dus kies: om te sterf van die slang se dodelike byt, of om te kyk na God vir lewegewende genesing; om te sterf of om die ewige lewe in die verhoogde Christus aan die kruis te ontvang.

“Die wêreld”

God se liefde is groter as sy genade aan ‘n klompie sterwende Israeliete in die woestyn. Wanneer Jesus aan die kruis opgelig word, word God se liefde vir “die wêreld’ openbaar.

Die wêreld, met al sy sonde en tekortkominge, is die voorwerp van God se liefde.

Christene is lief daarvoor om die wêreld te verwaarloos. Ons kan maklik dink die teks sê: So lief het God die kerk gehad dat Hy…. Ons teks maak dit duidelik dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het.

Vir Joodse lesers sou vers 16 dadelik die Abraham-verhaal in herinnering geroep het. Abraham word aangesê om sy enigste seun berg-op te neem en hom daar te offer (Gen. 22:2, 12). Terwyl Abraham hierdie hoogste offer gespaar word, het God nie sy enigste Seun gespaar nie, maar Hom gegee sodat die wêreld nie sou sterf nie.

Dit is die keuse waarvoor die Evangelie mense plaas: om te sterf weg van God af, of om die gawe van die ewige lewe in sy Seun te ontvang. Daar is nie ‘n ander moontlikheid nie. Daarom het God sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur (17).

“God stuur”

Dei woordkeuse dat God Jesus “stuur” kom dikwels by Johannes voor, meer as 50 keer. Hy is baie duidelik oor die motief waarom God Jesus stuur: nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dit te red (17).

Die Griekse werkwoord wat vir oordeel gebruik word, is krinein. Die woorde “krisis” en “kritiese / kritieke” is hiervan afgelei. Die koms van Jesus skep ‘n krisis vir al die mense van die wêreld, ‘n “kritiese oomblik” van oordeel en beslissing. Jesus kom nie om die wêreld te oordeel nie, want diegene wat nie glo nie is alreeds verlore in hul duisternis en slegte dade (3:17-19). Hy kom om te red, sodat mense die ewige lewe kan ontvang.

Ons dink dikwels oordeel is iets wat aan die einde op die Oordeelsdag gebeur. Johannes wys egter duidelik uit dat die oordeel, die beslissing, reeds nou gebeur in elke “kritieke moment” in die hede. Vir Johannes is die dinge van die laaste dae (eskatologie) iets wat reeds in die hede ‘n werklikheid is, aangesien Jesus nou reeds in die wêreld aanwesig is om ons te red.

Aangesien die lig in die duisternis kom, skep die lig skaduwees. Die krisis en die oordeel is dat sommige mense kies om in die skaduwees te bly (3:19).

Hier skep Johannes nog ‘n kontras: diegene wat volgens die waarheid handel, en na die lig kom, teenoor diegene wat kwaad doen en in die duisternis bly (20-21). Aangesien Jesus kom om die wêreld te red en nie te veroordeel nie, hoef nie net diegene wat die waarheid doen vorentoe te kom nie Ook diegene wat in die duisternis rondstruikel kan ook na die lig kom.

Nikodemus kom in die nag, en soek die Lig op. Hy kom in die duisternis en vind God se liefde. Algaande beweeg Nikodemus meer en meer na die Lig, en kom in die ope oor Jesus.

Teenoor Nikodemus is Judas iemand wat die duisternis opsoek. Hy verlaat Jesus en betree die duisternis van die nag (13:30).

Die opsies, die opponerende moontlikhede, is altyd met ons in elke kritieke oomblik. God het daarom sy enigste Seun gestuur sodat ons nie sal sterf nie, maar die ewige lewe kan hê.

Toepassing

Ons teks begin ons alreeds voorberei vir Goeie Vrydag, wanneer ons aandag fokus op Jesus wat aan die kruishout “verhoog” is, sodat daar vir ons lewe en genesing kan wees.

Ons staan stil voor die misterie van God se liefdevolle teenwoordigheid in die wêreld. Ons sien dit gedemonstreer aan die kruishout, die plek van verhoging, die plek van oorwinning.

Ons besef Jesus se woorde aan Nikodemus, is Jesus se woorde aan ons.

Die kruis plaas ons voortdurend op losse skroewe. Dit lok ons uit die duister skaduwees na die lig, die waarheid, die lewe. Dit soos die sonde en kwaad in ons, en soek na die genesing in Christus.

Die vraag is nou of Johannes 3:16 net ‘n spreuk is wat op T-hemde of op bufferplakkers aangebring moet word? Hierdie vers is ingebed in God-in-Jesus se program om lewe vir die wêreld te bring.

Johannes 3:16 is deel van God se program vir die wêreld. Daarom is dit meer as ‘n spreuk, dit is deel van die kerk se roeping in die wêreld.

Die kerk se roeping is om die getuienis van die gekruisigde en lewende Jesus Christus lewend te hou in die wêreld. Ons leef vanuit hierdie werklikheid, waarin ons ons genesing vind.

Iemand skryf:
Wanneer ons elke dag by die kruis kniel, ons sondes bely, vergifnis ontvang en opstaan as verlostes, groei die liefde tussen God en ons, groei die liefde tussen ons en ons medemens. Daar by die kruis besef ons hoe broos en boos ons is, en hoe broos en boos andere is. Daar leer ons hoe groot die liefde van God en sy vergiffenis werklik is.

Dit gee ons “hoop” – vir onsself, maar ook vir andere, vir die wêreld. Net soos die bronsslang Israel se hoop op genesing en lewe was, so is die verhoogde/gekruisigde Christus die wêreld se hoop op die ewige lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 488 “Helder skyn u lig vir die nasies” of
Flam 334 Want So Lief

Seën

Respons: VONKK 83 Siyahamba / Kom Ons Wandel In Die Lig Van God

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.