Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Preekstudie - 1 Samuel 17

1 Samuel 17:(1a, 4-11, 19-23) 32-49

Teks

In vers 32 reageer Dawid nadat Saul hom laat haal het deur te sê ’n mens moet nie oor Goliat moed verloor nie. Hy bied dan aan om teen hom te veg. Beide die Masoretiese teks en Kodex Vaticanus is onduidelik daaroor of dit ’n algemene stelling is, en of Dawid spesifiek wil hê dat Saul nie moed moet verloor nie. Dit is opvallend dat Dawid Goliat nie by die naam noem nie, maar na hom as “die Filistyn” verwys.

Saul het van Dawid gehou (16:21). Hy het geweet hy is “dapper en ’n goeie vegter” (16:21), maar het gemeen Dawid is te jonk om teen Goliat te veg. Met die klem op Dawid se jeugdigheid, wys hy daarop dat Goliat al veg sedert hy jonk (“van kindsbeen af”) is (v 33).

Dít het Dawid nie afgesit nie. In vers 34-36 motiveer hy sy beskikbaarheid aan Saul en noem ’n aantal redes waarom hy glo hy “mans genoeg” vir die taak is. As skaapherder het hy al leeus en bere verjaag en doodgeslaan. Dawid beklemtoon hy het hulle nie net doodgeslaan nie, maar hy het eers die skape bevry en beveilig. Net soos wat hy met leeus en bere gedoen het, sê hy, sal hy ook met Goliat doen.

Dawid noem hy Goliat nie net “die Filistyn” nie, maar wys daarop dat hy “onbesnede” is. Die rede waarom dieselfde lot wat die leeu en die beer getref het ook vir Goliat sal tref, is omdat hy “die linies van die lewende God verkleineer” het. Die kontras tussen “doodmaak” en “God, die lewende” is opvallend.

In vers 37 benadruk Dawid dit is die Here wat hom uit die kloue van die leeu en die kloue van die beer gered het. Dáárom sien hy vir Goliat kans. Dawid glo die Here “sal my red uit die mag van hierdie Filistyn”. Vir die verteller is dit nie Dawid teen Goliat nie, maar eerder ’n besnede Israeliet teen ’n onbesnede Filistyn. Die verbondenheid tussen God en Dawid – en ook met Israel – word op dié manier uitgelig.

Saul gee toe en verleen sy goedkeuring aan Dawid met die seën: “Gaan … En mag Jahwe met jou wees.” Dit bou voort op 1 Samuel 16:12: “Toe sê die Here: ‘Staan op, salf hom, want dis hý.’”

Verse 38 en 39 vertel hoe Saul sy goedkeuring en seën volvoer deur Dawid sy eie uitrusting te laat aantrek en sy swaard om hom vas te gord. Só wil Saul sy wapendraer sy vegter maak. Dit pas en geval Dawid egter nie en hy trek die (waarskynlik Persiese) woljas uit. Dawid het alreeds Jahwe “aan sy kant”. Hy het nie Saul se bemagtiging en wapen nodig nie. Dawid gaan Goliat nie as vegter tegemoet nie, maar as skaapwagter-herder.

In vers 40 neem Dawid sy kierie, soek vyf geskikte klippies in die spruit uit en stap met sy vertroude wapen – sy slingervel – slagveld toe. Hy doen dus waarmee hy goed is en waarmee hy vertroud is.

In vers 41-44 val die kollig op Goliat en sy reaksie op die naderende Dawid. Die verteller fokus eerstens op die kloof tussen die Filistyne en die Israeliete en die minagting wat Goliat teenoor Dawid het. Die verteller wys daarop dat Goliat na Dawid kyk net soos Samuel vroeër (16:7). Hy sien Dawid se uiterlike en kyk dáárin vas. Soos tydens die vroeëre ontmoeting met Samuel, word Dawid se jonkheid en sy “rooi gelaatskleur en mooi voorkoms” raakgesien.

Goliat sien ook Dawid se kierie en slingervel. Dit is dinge waarmee mense honde, wat in die destydse Nabye-Oosterse wêreld as aasdiere en peste beskou is, verjaag het. Daarom is dit vir Goliat vernederend om Dawid so te sien. Goliat vervloek hom in die naam van die Filistynse gode. Sy bedoeling is duidelik: Hy wil Dawid verslaan en sy vleis vir die roofvoëls en wilde diere voer.

Die woord “minag” (bzh) word selde in Bybelse vertellings gebruik. In die Samuelboek word dit op drie ander plekke ook gebruik: waar die lummels nie vir Saul geskenke neem nie (1 Sam 10:27), waar Saul se dogter Mikal, Dawid deur haar kamervenster aangluur terwyl hy voor die ark dans toe hulle Jerusalem met die verbondsark binnekom (2 Sam 6:16), en toe Dawid Jahwe (se Woord) oor hom aangaande Urija en Batseba minag (2 Sam 12:9-10).

In vers 45-47 reageer Dawid sterk. Hy laat hom nie deur Goliat se vernederende relaas – wat destyds ’n algemene inleiding tot ’n tweegeveg was – afsit nie. Goliat se vervloeking is veronderstel om Dawid teen die grond plat te vee, maar bereik die teenoorgestelde resultaat. Dawid slaan nie eens ag op die vervloeking nie. Anders as Goliat, wat Dawid as ’n liggewig beskou en sy wapens as té lig vir die taak, kyk Dawid nie in Goliat se swaar wapens vas nie. Hy fokus op die Here die Almagtige, God van die linies van Israel. Goliat “die magtige” se teenstander is nie Dawid en sy wapens nie, maar die Here wat hy wou verkleineer.

Dawid se respons oortref Goliat s’n verreweg. Goliat sal deur die Here aan hom oorgegee word, hy sal hom verslaan en hy sal sy kop afkap (teenoor v 44 waarin Goliat sê hy sal Dawid onbegrawe in die veld laat lê). Dawid gaan nóg verder: Eerstens sal die roofvoëls en wilde diere nie net Goliat se oorskot opruim nie, maar ook dié van die hele Filistynse leer. Tweedens sal die hele land – eintlik die hele wêreld! – dan besef Israel het inderdaad ’n God. Derdens sal almal weet dat Jahwe sonder spiese of swaardeverlossing bewerk.

Dié oorlog, sê die verteller, is nie tussen Dawid en Goliat of die Israeliete en die Filistyne nie, maar “behoort aan Jahwe” Hý sal die Filistyne oorlewer. In die Ou Testament is dit net hier waar hierdie uitspraak voorkom. Die naaste daaraan wat dit elders voorkom, is “hierdie oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n” (2 Kron 20:15).

Die teks sluit dramaties in drie fases af (v 49). Eerstens steek Dawid sy hand in sy sak, neem ’n klip daaruit en gooi dit met die slingervel. Dan tref die klip die Filistyn teen sy voorkop en dring dit binne. Laastens val Goliat vooroor op die grond.

Konteks

1 en 2 Samuel is deel van die literatuur waarin Israel se verenigde koninkryk (1020-922 vC) tot verhaal word. Dié teks is in leeseenhede (lectios) vanaf die Pinksterfees tot met die Judeërs se Groot Dag van Rou (op 9 Ab) op sabbatsdae in die samekomste van die destydse geloofsgemeenskappe voorgelees, saam met Genesis 37 tot Levitikus 11. Dié teks moes die geloofsgemeenskap begelei om die Tora in hulle tyd en omstandighede te verstaan, te interpreteer en tot uitlewing te bring.

Nader beskou, is die teks deel van die groter geheel van 1 Samuel 16 tot 2 Samuel 8, waarin die salwing van Dawid en sy magsopkoms vertel word. In hoofstuk 11-31 neem die spanning tussen Saul en Dawid toe. Hier in hoofstuk 16-18, word vertel van Dawid aan Saul se hof (16:14-23), sy botsing met Goliat (17:1-54) en hoe hy in Saul se diens gestel is, asook van sy huwelik met Saul se dogter Mikal (17:55-18:30).

’n Aantal stellings oor eer word oor Dawid gemaak. Die verteller-skrywer vertel hoe Dawid se optrede weer en weer bevestig dat hy dié eer waardig is. Terwyl Dawid se eer toeneem, daal Saul s’n. Die lesers-hoorders moes verstaan waarom Dawid, en nie een van Saul se seuns nie, Saul as koning opgevolg het.

Daar is in 1 en 2 Samuel ’n reeks van 45 vertellings waarin daarop gewys word dat God herhaaldelik verleenthede in goeie uitkomste omskep. God doen dit elke keer deur die ingryping van ’n persoon se optrede. Dawid word voorgehou as ’n persoon in en deur wie God ingrypend ter wille van die groep handel.

Dit is onkonvensioneel dat Dawid in die situasie inisiatief neem, maar hy is deurgaans onkonvensioneel in sy denke én optrede. God, sê die verteller-skrywer, bewerk op ’n onverwagse en onwaarskynlike wyse uitkoms. Daarom is Dawid se onkonvensionele optrede, alhoewel onverwags en onwaarskynlik, vir die hoorders-lesers bemoedigend en aanmoedigend.

In ’n wêreld waarin mense sekuriteit in sekerheid en voorspelbaarheid soek – veral in voorspelbaarheid van God – is hierdie vertelling vars, net soos die ander vertellings oor Dawid. Dit wil mense vanaf ’n gesindheid van “só is God”, bring tot “hoe kan God dit só vermag?” Die verteller-skrywer wil hulle help om in hulle situasie anders te dink en te doen. Hy daag hulle uit om weg te beweeg van ’n gesindheid van stelligheid af tot ’n gesindheid van openheid en ondersoek.

In dié situasie sou niemand kon dink dat uitkoms moontlik sou wees nie. Die Filistynse bedreiging (wat in Goliat se grootte en vermoë uitgedruk word) was onoorkombaar. En tog – lees en hoor die hoorders-luisteraars jare later – was daar uitkoms. “Ons kan nie hierdeur kom nie!” word “Hoe gaan ons hierdeur kom?” Dit word uiteindelik: “Ons is daardeur!” Die skarnier in hierdie swaai lê aan die an

Mense wat tydens hulle worstelings met die alledaagse in ’n wêreld leef waarin hulle nie in hulle land (koninkryk) leef en deur iemand uit eie kring (hulle koning) regeer word nie, word deur dié vertelling verseker dat daar steeds hoop en ’n toekoms is. Daarom is die hede nie betekenisloos en leeg nie. Hulle het die verlede rooskleuriger geskets as wat dit werklik was en hulle prentjie daarvan geïdealiseer. Dié prentjie verhinder hulle om in hulle huidige konteks te lééf.

Die skrywer wil hierdie paradigma verander. Daarom neem hy ’n skynbaar bekende vertelling uit die hoorders-lesers se geïdealiseerde verlede en vertel dit oor op ’n manier wat nuwe insig moet bring. Dié insig moes hulle help om te transformeer. Uitkoms en toekoms het nie vir hulle in ’n (nuwe) koning en koninkryk gelê nie, maar in ’n herontdekking en herwaardering en uitleef van hulle identiteit. Betekenis (verlossing, uitkoms en bevryding) lê nie buite hulleself nie, maar binne hulleself.

Húlle, sê die skrywer, is in hulle konteks en omstandighede wat Dawid in die teks is (en Moses in die vroeëre teks, Eks 6-9). Alhoewel hulle te midde van die groter wêreldmagte as klein en onbenullig beskou en gereken is, is hulle eintlik méér as die oënskynlike. Hulle moes hulle identiteit – die Dawid in hulle – ontdek en tot belewing en uitlewing bring.

Preekvoorstel

Ons het dit met die skrywer-verteller en die lesers-hoorders gemeen dat ons wêreld oor die afgelope aantal dekades in baie opsigte radikaal verander het. Selfs vóór die pandemie van Covid-19, was daar reeds geen sekerhede meer nie. Dit het vanselfsprekend ook ’n invloed gehad op die waarom, hoe en wat mense glo en leef. Mense het méér nodig as om in moeilike omstandighede te hoor “moenie moedeloos word nie”.

Dié teks kan ons baie help om goeie vrae te vra en om nuwe varsheid en lewenskragtigheid te stimuleer. Indien ons dit wil doen, sal ons – net soos Dawid – onkonvensioneel moet dink en optree. Ons kan dít doen deur die manier na te speur waarop die skrywer geloof prakties maak en op sy lesers se geloofsgrond inspeel.

Die prediking kan by die verleentheid aansluit waarmee die Israeliete gelaat is. Sonder om reglynige afleidings tussen die teks en óns te probeer maak, kan van die verleenthede waarmee ons stoei betrek word. Elke prediker moet hierin die gemeente se konteks verreken. In die prediking kan die teks aktueel hanteer word. Waak daarteen om nie die teks as antwoord te hanteer oor hoe ons in ons omstandighede Dawid kan nadoen en uitkoms bewerk nie. Die teks is allermins ’n resep vir alle tye en omstandighede.

Een van ons grootste uitdagings in die lewe en om verbý moedverloor te kom, sê die skrywer van hierdie teks. Dit is om verby die oënskynlike te kyk. Die Filistynse bedreiging was vir die Israeliete oënskynlik té groot om te oorkom. Die grootte van die oormag deur die groot gestalte van die reus Goliat word groter gemaak as wat dit regtig is. Op die oog af, is Dawid ’n liggewig. Hy is jonk en nie ’n soldaat nie. Hy kan nie eens met ’n soldaat se wapenrusting aan gestap kry nie, hoe gaan hy kan veg? Vir die destydse Israeliete het die vooruitsig op ’n toekoms onmoontlik gelyk.

Vir die lesers-hoorders van die teks was die lewe en toekoms uitsigloos. Hulle kon niks anders as ’n geïdealiseerde verlede voor oë roep en op ’n nuwe uitkomsbewerker hoop nie. Daarom was die skrywer-verteller briljant om hulle eerder verbý die oënskynlike te laat kyk. Ja, die reis na buite is belangrik, maar net so ook die reis na binne.

Baie van ons glo dat veg – eerder as vries of vlug – in bedreigende omstandighede die beste uitweg is. In die destydse wêreld het konings gewoonlik in die lente opgetrek om oorlog te maak (2 Sam 11:1). Omdat hulle in alles God se hand gesoek het, was die uitslag van ’n veldslag ’n uitspraak oor God. As een volk ’n ander een in oorlog oorwin het, was dit ’n bewys dat dié volk se god die ander een se god verslaan het. Daarom vervloek Goliat Dawid en die Israeliete se God en sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here by jou wees” (v 37).

Dawid het die Here se hand in sy verlede raakgesien en benader die geveg met “… ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel” (v 45). Dawid het geglo dat die Here Goliat (en die Filistyne) in sy mag sou oorgee én dat dit sou wees “sodat die hele wêreld kan besef dat Israel ’n God het” (v 46). Dit is in elk geval wat die Israeliete sou glo, en waarskynlik ook die teks se lesers-hoorders (v 47).

Die afloop van die teks sou dié oortuiging kon onderskryf. Maar as dit al is wat ons uit hierdie teks uithaal, kon dit nie regtig vir die destydse lesers aktueel wees nie en kan dit ook nie vir ons tot hoop wees nie. Dawid en Saul-hulle was in ’n oorlog tussen die Israeliete en Filistyne gewikkel. Die lesers-hoorders van die teks was egter nie in ’n oorlogsituasie nie (alhoewel hulle nog baie volks- en groepsbewus was). So ook is die vroeë Christene wat hierdie teks in hulle kanon opgeneem het, ná die verwoesting van die stad Jerusalem en die tempel daarin, onderdruk. Hulle was nie in staat tot oorlog nie. Boonop het hulle leiers afgesien van geweld en vir liefde, vrede en ander gepaardgaande waardes gekies en dit bevorder.

Die roete vir interpretasie van hierdie teks wat – ook vir ons – aangedui word, is om ons nie teen die oënskynlike blind te staar nie. Jahwe is vir die skrywer-verteller die konstante en rigtinggewende element in die teks. Dawid het op sy ervarings in die verlede teruggekyk en gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer.” Hy was oortuig, “Hý sal my red” (v 37). Hierdie redding was konkreet. Dit was verlossing “… uit die mag van hierdie Filistyn” (v 37).

Was dit Jahwe wat Dawid telkens gehelp het, of het hy dit met krag en vernuf gedoen? Was dit Jahwe wat aan hom en die Israeliete oorwinning gegee het? Was dit nodig dat ’n méns – al is dit ’n vyand – doodgemaak word om te bewys dat Israel ’n God het? Ons kan hierdie en nog baie ander vrae vra. Ons kan welklinkende antwoorde hierop uitdink en gee. Dawid se woorde in vers 47 toon weer eens ’n ander rigting aan: “Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie …”

Hoe ons onsself, ons omstandighede – bedreigings ingesluit – en mense sien en beskou, bepaal ons ingesteldheid, reaksies en optrede. Dawid se pro-aktiewe optrede blyk daarom ’n prominente fokuspunt in die teks te wees. Hy tree tot die toneel toe en bemoedig Saul en ander aanhoorders. Hy herinner hulle aan Jahwe en dat Jahwe in die verlede uitkoms gebring en gegee het, veral in oënskynlik onoorkombare situasies. Dié uitkoms het nooit sonder menslike medewerking plaasgevind nie. God bewerk déúr Dawid se optrede ’n beter uitkoms.

Alhoewel Dawid geweet het waar sy hulp vandaan kom en dat hy behendig was met sy slingervel, tel hy vyf klippies op. As lesers-hoorders moet ons dít onthou, nie sodat ons hieroor kan spekuleer en allegoriseer nie, maar omdat Dawid voorsiening wou maak vir ingeval hy misgooi. As hy die eerste maal sou misgooi – wat onwaarskynlik was – sou hy nog vier kanse gehad het. Die verteller-skrywer wys daarop dat Dawid Jahwe vertrou het, maar ook op sy vaardigheid en vernuf staatgemaak het.

Oor watter vernuf beskik jy? Watter vaardighede het jy? Ander ménse en volkere is nie ons vyande nie. God is nie uitsluitend aan enigiemand of enige volk se kant nie. God het niks om te bewys nie. God hoef niemand aan ’n ander se mag oor te lewer nie.

Alhoewel ons nie in ’n oorlog – wat ons oënskynlik gaan verloor – gewikkel is nie, is God nóú hier. God is ín en déúr ons besig. Ook ons kan God vertrou. Ons kan daarom ook ons vaardighede en vernuf ontwikkel – veral wanneer dit voel asof ons moedeloos raak. Ons kan weet dat God beter uitkomste bewerk – of vind! – al het ons nie in onsself of in ons omstandighede sekerheid en hoop nie.

© Missio 2024 | All rights reserved.