Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die tematiese kleur van Koninkrykstyd is groen en simboliseer groei en lewe. In hierdie tyd fokus ons op die koninkryk van God hier op aarde, en wat dit vir die mens, die samelewing en die wyer wêreld beteken om in die teenwoordigheid van God te leef.

Die deurlopende tema in al vier tekste is van gehoorsaamheid, bereidwilligheid en diensbaarheid aan God (Rom 6:13) – selfs te midde van ongelooflike beproewinge (Gen 22:2 en Ps 13:1). Die uitkoms is die Here se ewige troue liefde, teenwoordigheid (Matt 10:40) en voorsiening (Gen 22:14).

Ander tekste

Psalm 13
Hoe lank nog, Here?
13 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Hoe lank gaan U my nog
bly vergeet, Here?
Vir altyd?
Hoe lank gaan U nog
van my af weg kyk?
3Hoe lank moet ek nog
my eie planne maak
en my dae met kommer deurbring?
Hoe lank sal die vyand my nog
oorheers?
4Luister tog en antwoord my,
Here my God!
Gee my tog nuwe lewenskrag.
Ek wil nie sterwe nie,
5anders sê my vyand hy het my oorwin
en juig my verdrukkers
oor my ondergang.
6Ek hou vas aan u troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee,
juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here,
omdat Hy aan my goed gedoen het.

Romeine 6:12-23
12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

In diens van wat God wil
15Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. 16Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. 17Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. 18Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.

19Weens julle beperkte begrip gebruik ek ’n beeld uit die alledaagse lewe: soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe. 20Toe julle slawe van die sonde was, was julle nie in diens van God nie. 21Wat was die vrug wat dié dinge waaroor julle nou skaam kry, toé vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood. 22Maar nou—julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Matteus 10:40-42
Beloning
(Mark 9:41)
40“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal ’n profeet se beloning ontvang; en wie ’n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal ’n goeie mens se beloning ontvang. 42Wie aan een van hierdie geringstes net ’n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

Fokusteks

Genesis 22:1-14
Abraham moet vir Isak offer
22 ‘n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!”

Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

2God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

3Vroeg die volgende môre het Abraham ‘n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het. 4Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien. 5Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.”

6Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en ‘n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, 7sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?”

Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

8Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”

Daarna het hulle twee saam verder gestap. 9Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar ‘n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout. 10Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, 11roep die Engel van die Here uit die hemel na hom:

“Abraham, Abraham!”

Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

12Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

13Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom ‘n skaapram wat aan sy horings in ‘n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. 14Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.”

15Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep 16–17en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê ‘n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”

19Daarna is Abraham terug tot by sy slawe, en hulle het almal saam na Berseba toe gegaan. Abraham het daar gewoon.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 22

Seëngroet: Romeine 1

Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Wet: Romeine 6

Skuldbelydenis
’n  Verwerking van Romeine 6:13b-14 en die Iona-belydenis (sien die Handleiding vir die Erediens) kan na die wetsvoorlesing as skuldbelydenis hardop saam gelees word:

Loflied 209 “Heer met my hele hart 1”

Epiklese

Skriflesing: Genesis 22:1-14

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
O
ffergawes

Wegsending: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1” (herhaal)

SEËNBEDE: Num 6 BDV en Gen 12

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 22
6Ek hou vas aan u troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee,
juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here,
omdat Hy aan my goed gedoen het.

Seëngroet: Romeine 1
7Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Wet: Romeine 6
12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

Skuldbelydenis
’n  Verwerking van Romeine 6:13b-14 en die Iona-belydenis (sien die Handleiding vir die Erediens) kan na die wetsvoorlesing as skuldbelydenis hardop saam gelees word:

Voor God en saam met die gemeente van God bely ek my gebrokenheid: dat ek op verskillende maniere my eie lewe verwond; die lewe van ander en die lewe van die wêreld. Mag God my vergewe.

Ek stel myself in diens van God as mens wat dood was maar lewend gemaak is. Mag Christus my so vernuwe.

Ek stel elke deel van my liggaam in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Mag die Gees my help om dan te groei in liefde.
Amen.

Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afr + Latyn

Vryspraak: Romeine 6
22Maar nou—julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Spaanse Geloofsbelydenis
Ons glo in God die Almagtige,
Skepper van die hemel en die aarde;
Skepper van alle nasies en kerke;
Skepper van alle tale en rasse.

Ons glo in Jesus Christus, sy Seun, ons Here,
God wat mens geword het as ’n mens vir die mensdom,
God wat mens geword het in tyd vir alle tye,
God wat mens geword het in een kultuur vir alle
kulture,
God wat mens geword het in liefde en genade vir die
hele skepping.

Ons glo in die Heilige Gees
deur Wie God in Jesus Christus sy teenwoordigheid
bekend maak in ons mense en in ons kulture,
deur Wie God, die Skepper van alles wat bestaan, aan
ons die krag gee om nuwe skepsels te word,
Wie se oneindige gawes ons een liggaam maak: die
liggaam van Christus.

Ons glo aan die kerk wat universeel is, omdat dit die
teken van God se heerskappy is,
Wie se getrouheid in al sy skakerings getoon word
waar al die kleure saam net een landskap teken, en
alle tonge dieselfde lof besing.

Ons glo aan die (finale) heerskappy van God –
die dag van die groot Fiesta
wanneer al die kleure van die skepping ’n harmoniese
reënboog sal vorm,
wanneer alle mense sal deelneem aan ’n vreugdevolle
feesmaal,
wanneer alle tonge in die heelal dieselfde lied sal
sing.

En omdat ons glo, verbind ons ons:
om te glo vir hulle wat nie glo nie,
om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie,
om te droom vir hulle wat nie droom nie,
tot die dag wanneer hoop ’n werklikheid word.

Loflied 209 “Heer met my hele hart 1”

Liedere

F10. “Jesus, Alles Gee Ek U”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Jesus, all for Jesus
Teks en Musiek: Robin Mark & Jennifer Atkinson
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1991  Authentic Publishing

1. Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Al my hoop, my planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.
Al my hoop en planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.

Refrein:
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
en wat ek ooit sal wees.

F71. “U Is Vir My Genoeg”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Vertroue/ Votum)
Teks en Musiek: Louis & Hettie Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Uit U deur U tot U is alles in my hele lewe
U is die bron van al my vrede
Vader, U is vir my genoeg

Elke hartklop elke asem elke oomblik van my lewe
Elke vreugde elke rede om te lewe kom uit U
Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U

Elke dankie elke loflied elke amen halleluja
Elke woord wat U verheerlik elke offer is vir U
Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U
U is vir my genoeg!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
O Here, onuitputlike bron van alle goeie dinge,
ons eer U vir die gawes van u liefde.
Gee dat ons u Woord hoor
met die opregte begeerte om te ontvang wat dit belowe
en te gaan doen wat dit van ons vra.
Grafeer u Woord nie net in ons verstand nie,
maar ook in ons harte.
Verander ons deur die Heilige Gees
om al hoe meer aan die beeld van u Seun gelyk te word.
Ons wil ons verwonder aan u heerlikheid
terwyl ons in die helder spieël van u evangelie kyk. Amen.
(Liturgie van die Gereformeerde Kerk in Frankryk)

Skriflesing: Genesis 22:1-14

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Carolyn Brown meen dat hierdie verhaal die grusaamste verhaal in die Bybel is vir kinders wat mag wonder of hullle ouers hulle dalk ook sal offer! As die verhaal oor vertroue gaan, meen sy dat daar beter opsies is om te gebruik.

Die onderstaande is egter so ‘n tema- besluit maar self.

Wie vertrou jy?
Lees onderstaande teks:
Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”
8Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”
Daarna het hulle twee saam verder gestap.

Vandag gaan ons ‘n speletjie speel oor vertroue… Wie vertrou jy?

Kies ‘n kind (Pieter) uit die gehoor om voor in die kerk te kom staan. Hy (of sy) kry nou ‘n kans om iemand in die kerk te kies wie hy of sy kan vertrou. Want Pieter gaan op die regte oomblik agteroorval, en die persoon wie hy gekies het moet hom vang dat hy nie agteroor op die grond val nie. Wanneer alles gereed is, maak Pieter sy oë toe en val agteroor. Die persoon wat hy gekies het vang hom (hopelik). Indien tyd dit toelaat, gee geleentheid aan nog kinders om iemand te vertrou om hom of haar te vang. Belangrik: Jy gaan tog nie iemand kies wat jou dalk gaan misvang nie- jy gaan iemand kies wat jy kan vertrou!

Dit is die storie van Isak. Abraham was Isak se pappa. Isak is gebore na Abraham en Sara baie jare moes wag vir ‘n seun. Een dag het God met Abraham gepraat en hom aangesê om sy seun op die berg te gaan offer. God se bedoeling was nie regtig om Isak te laat doodmaak nie, God wou Abraham se gehoorsaamheid toets. En so is Isak se vertroue ook getoets.

Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

8Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”

Daarna het hulle twee saam verder gestap.

God het toe ‘n offerlam voorsien soos Abrahham aan sy seun belowe het.

12Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

13Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom ’n skaapram wat aan sy horings in ’n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer.

Die verhaal van Abraham en Isak is ‘n verhaal wat ons leer van vertrou. As ons God vertrou sal Hy altyd voorsien.

Gebed: Dankie Here dat ons U vir alles in ons lewens kan vertrou. Amen

Inkleurprent is hier beskikbaar.

Twee animasie weergawes (engels) oor Genesis 22 is ook op youtube beskikbaar:
Video 1
Video 2

Preekriglyn

Hier is ek!

Die sweet begin pêrel teen die ou man se slape.  Die berg is steil. Hy gaan staan om asem te skep.   Sy oë dwaal terug.  Sy mense is net ‘n veraf spikkeltjie in die dynserige hitte van die vlakte.  Hy weet hulle sal vir hom wag. Hy sluk swaar. Wat sê hy vir hulle as hy leë hande terugkeer?

Hy draai om. Daar is nie meer tyd vir draal nie. Die tyd het gekom. Hulle moet die berg uit. Hy trek sy gordel reg waaraan die mes hang. Hy versit die potjie met kole na sy ander hand. Dan kyk hy links. Sy seun het darem regtig sterk geraak. Hy dra die hout met gemak. Sy treë is lank. Die man weet hy sal homself al hoe meer moet inspan om by te hou. Sy hart swel van trots.

Dan bars die bewussyn weer helder deur in sy gedagte. Dit is vir dié seun van hom, dié een wat hy liefhet, wat hulle hier is. Hoe kan dit wees?  Hoe kan God dit van hom vra?  Hoe kan hierdie geskenk, hierdie voorsiening vir sy toekoms, net so weggeneem word van hom?  Sommer so. Sonder rede. Sonder verduideliking.

Terwyl sy voete hulle pad begin vind tussen die klippers deur, gaan sy gedagte terug na vier dae gelede.

Die aand was koud. So asof die aandluggie geweet het wat kom. “Abraham!” het God gesê. “Hier is ek!” het hy geantwoord. “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

Sy wêreld het vir ‘n oomblik gaan stilstaan. Dit was asof sy verlede en sy toekoms in een verstikkende oomblik tot stilstand gekom het. Asof niks van voorheen meer enigiets getel het nie. En sy hele toekoms in die weegskaal gekom het. Net die ontsettende bewussyn van die belang van die hede. Die wete dat hierdie oomblik lotsbepalend is.

Miskien moes hy God ingevra het, soos die keer met Sodom en Gomorra, verwyt hy homself. Dit woel weer in sy hart. Miskien moes ek weer gevra het: “Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig?” Want, onthou hy, die Here het nie kwaad geword nie. God was geduldig met hom. Elke keer het die Here hom geantwoord. Sy voorstelle eerbiedig. Selfs vir Lot gered, soos hy later gehoor het, al was daar toe nie eens tien regverdiges in die stad nie, soos hy in sy vrymoedigheid gevra het.

Maar, onthou hy, hy het onmiddellik geweet dat hierdie eis van God onverbiddelik was. Dat hy nie met dié God kan redeneer nie. Dat daar vir hom net die pad van gehoorsaamheid voorgelê het. Sommer so. Sonder rede. Sonder verduideliking.

En Sara?  Hy kon haar nie in die oë kyk nie. Nie na sy saam met hom só lank vir Isak gewag het nie. Dié dat hy vroeg die volgende oggend weg is sonder om met haar te praat. Sommer so. Sonder rede. Sonder verduideliking.

Deur die wasigheid, voel dit vir hom, kom Isak se vraag: “Pa?  “Ja, my seun?” antwoord hy. “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?” 

Abraham kry dit reg om die bewing uit sy stem te hou: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”  En dis asof sy woorde ander ore vind. Asof dit eggo van die berg af in ‘n ander werklikheid in.

Hy buk om die eerste klip op te tel. Sy seun se vraende oë volg hom. Met die twaalfde een is die altaar klaar. Groot is sy verbasing toe Isak toelaat dat hy hom op die altaar vasbind. Net sy oë wyk nie van sy pa s’n nie.

Abraham steek sy hand uit na die mes … en meteens vul die stem van God die lug hier om hom. Roep die Engel van die Here uit die hemel: “Abraham, Abraham!” Soos vier dae terug antwoord Abraham: “Hier is ek!”

En voordat die stem kom, weet Abraham al, die Here het voorsien: “Los jou seun!  Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom ‘n skaapram wat aan sy horings in ‘n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer.

En hy het geweet wat hy sy twee slawe, en later vir Sara, moes antwoord op sy terugreis; “Die Here voorsien. Op die berg van die Here word voorsien.”

Dit is ‘n ontstellende en netelige verhaal

Dit is ‘n ontstellende verhaal dié, die verhaal van Abraham en Isak op die berg Moria in Genesis 22, soos ek dit met digterlike vryheid vertel het. Dit is een van die netelige tekste in die Bybel. Dit is een van daardie tekste wat jou voorveronderstellings van God uitdaag. Wat jou laat wonder oor God. Wat jou laat wonder oor Abraham. Wat jou selfs laat wonder oor Isak. Dit is ‘n gedeelte wat jy eintlik anders wil uitlê, sodat dit aanvaarbaar kan raak vir ‘n moderne lewensgevoel.

Vir kritiese geleerdes is dié gedeelte daarom in ernstige konflik met die moderne begrip van die wêreld en die mens. Waar is die naasteliefde in dié verhaal?  En die versoeking is dan om die teks te herinterpreteer dat ‘n mens die konflik met die moderne lewensgevoel kan verwyder, selfs met ‘n beroep op die Bybel en die liefdesgebod. Alles om die ontstellende en netelige kante van die teks en van wat dit oor God en menswees sê, aanvaarbaar te maak vir hoe ons vandag oor die lewe dink.

Maar, dan sal ons die drie uiters belangrike boodskappe van hierdie teks mis. ‘n Teks wat geëggo word in die boodskap van Jesus aan die skare mense wat Hom gevolg het. ‘n Boodskap wat juis óns voorveronderstellings wil uitdaag. Wat ons pogings om die Skrif mak te maak, ontbloot. Wat ons moderne lewensgevoel in lyn wil bring met wie God regtig is, eerder as om die teks anders uit te lê.

1. Geloof is vir Abraham ‘n ernstige saak
Hierdie verhaal konfronteer ons met die erns van geloof. Die verhaal wys ons hoe ernstig geloof is. Vir Abraham. Hierdie toetsing van sy geloof was ‘n saak van lewe en dood vir hom.

Nie maar net sy fisieke lewe en dood nie. Nee, die voortbestaan van sy geloof in God.

Abraham word gekonfronteer met hoe ver hy dit met God sal waag in geloof. Sal hy in God glo al word die mat volledig onder sy voete uitgeruk? Al verdwyn al die sekerhede en selfs die beloftes van God? Al maak niks meer sin nie? Al word van hom goed gevra wat teen alle menslike wysheid indruis?

Soos Derek Kidner sê: “Abraham’s trust was to be weighed in the balance against common sense, human affection, and lifelong ambition; in fact against everything earthly.”

Vir Abraham was sy geloof in God dus op die spel, en alles wat tot dusver in die geloof met hom gebeur het, selfs al het die opdrag van die Here vir hom geen sin gemaak nie. Trouens, al het dit teen die karakter van God ingegaan, altans soos hy gedink het dat God is, want daar was nog min van God se wil vir die mens op skrif gestel vierduisend jaar gelede.

Dit is hoe ernstig geloof is. Indien Abraham nie hierdie toets sou slaag nie, sou sy hele geloofslewe tot niks gekom het nie. Van nul en gener waarde gewees het. ‘n Moeisame oefening in futiliteit. Alles verniet. Van begin tot einde. En daarmee sou hy verder moes saamlewe, ‘n lewe van verwyt, ‘n lewe van verlies. Van wat kon gewees het. En wat in die niet verdwyn het.

Abraham het dus iets verstaan van wat Jesus later sou sê in Lukas 14:26-27:

26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.

Dit is hoe ernstig geloof is. Wat Jesus in die NT vra, het Abraham lank terug al in die OT gedoen. Hy het gedoen wat Jesus hier vra. Hy het afstand gedoen van sy eie kind. Want God het dit van hom gevra.

Dit is die waarheid van hierdie netelige en ontstellende teks in die Bybel.

En hoekom is dit só belangrik?  

Want, ons moet die boodskap van die Bybel goed hoor, iets wat in die wet van God as ‘n reël vir alle tye en omstandighede neergelê is. God vra onverdeelde lojaliteit. Hy is ‘n jaloerse God. Hy duld geen konkurrent nie. Hy soek nie mededingers in ons lojaliteit nie. “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ (aangehaal uit Deut. 6:5) en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.” (Matt. 22:37-38).

Soos Jesus sê: 26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie. (Luk. 14).

Soos dit die geval was met Abraham, só vra Jesus dit van elkeen van ons. Hy vra ‘n dissipelskap wat bereid is om jou eie kruis te dra, om te sterf vir jou eie belange en God se belange absoluut eerste te stel, selfs al is dit netelig, selfs al is dit ontstellend, selfs al kos dit jou wat ook al. Jesus vra dat daar ‘n afstand kom tussen jou lojaliteit aan God en alle ander dinge in jou lewe.

Ons probeer dikwels sin maak van hierdie teks deur dit te versag met die idee van sirkels van lojaliteit. God in die middel. Dan die res – jou pa en ma, jou vrou en kinders, jou broers en susters – en dan jou eie lewe. Dit klink netjies. Dit klink haalbaar. Dit sit alles mooi in vakkies.

Maar diep binne in jou weet jy dat só ‘n verklaring net ‘n stukkie van die waarheid kan bevat. Ons is net te geneig om balans in ons lewe te probeer bring. Ons gee God wat Hom toekom. So ook vir jou familie. En laaste vir jouself en jou besittings.

Die probleem is net, dan raak die deel wat God kry eintlik al hoe minder en al hoe kleiner. Hy bly in die middel soos ‘n Bullseye op ‘n Dartboard, maar ook net so klein soos ‘n Bullseye. God soek nie die middelpunt van jou lewe nie. Hy soek die hele bord, jou hele lewe.

Hoekom?  Want, die idee van sirkels van lojaliteit help jou min as jy iets gevra word wat niemand anders se goedkeuring gaan wegdra nie. Ook nie jou familie se goedkeuring nie. Trouens, wanneer gehoorsaamheid jou diep in die moeilikheid kan bring as jy aan God gehoorsaam is. As jy dit waag om Hom op sy Woord te neem en dit probeer uitvoer. Soos ‘n Abraham.

Dit is waarom Jesus in Lukas 14 sê dat jy baie goed moet gaan sit en dink wat jy doen as jy agter Hom wil aankom. As jy ‘n dissipel wil wees. As jy bekend wil staan as iemand wat die Here Jesus volg. 

Jesus sê vir jou:

  • Moenie uitgevang word dat jy ‘n huis probeer bou sonder genoeg geld nie. Dit is nie die moeite werd nie.
  • Moenie oorlog maak met te min mense nie. Dit is ook nie die moeite werd  nie.

Bly dan liewers in jou ou huis. Maak vrede met jou vyande sodat jy nie op jou baadjie kry nie.

En net vir in geval jy gedink het jou besittings is van hierdie uitdaging uitgesluit, sê Jesus: “So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”

Die punt is. Daar is net een persoon in die sirkel van lojaliteit. Dit is God. Hy alleen. Dit is wat Abraham se verhaal ons leer. Dit is hoe ernstig geloof is. Dit is wat die wet van die Here in Eksodus 20:4-5 van ons vra. “Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.”  Dit is wat Jesus van ons vra: “Niemand van julle kan my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”

Dit is alles of niks. Dit is nie God in die middel met alle ander verantwoordelikhede netjies daaraan ondergeskik gerangskik nie. Dit is God in die sirkel. Of nie.

Dit is hoe ernstig geloof is.

2. Geloof is vir God ‘n ernstige saak
Die ander kant van hierdie boodskap is dat soos geloof vir Abraham ‘n ernstige saak is, só is geloof ook vir God ‘n ernstige saak.

Daar is ‘n Joodse legende oor die rede waarom Abraham in hierdie krisis beland het. Die legende word op die patroon van die verhaal van Job vertel.

Op ‘n dag toe Satan ná ‘n inspeksietoer van die aarde met God aan die gesels raak, sê Satan dat hy ‘n vinnige verrassingsbesoekie aan Abraham gebring het.

“Toevallig was dit juis Isak se verjaardag en yslike feesvierings was aan die gang. Groot vrolikheid, ‘n yslike maaltyd, almal was uitgenooi. Maar, vertel Satan, hy het ook slegte nuus vir God. Dis nou nie dat hy wil stories aandra nie, maar sy indruk is dat Abraham besig is om die Here te vergeet. Die hele dag, sê Satan, is daar nie ‘n enkele offer vir die Here gebring nie – nie eens ‘n ou lammetjie nie. Dis nou net Isak voor en Isak agter; Isak is al wat nog vir Abraham saak maak. Maar, so lui die storie verder, die Here was nie oortuig nie. Hy het vir Satan bly sê dat hy ‘n fout maak, dat dit nie kan wees nie, dat dit veral van Abraham nie waar kan wees nie. Abraham het Hom lief, het die Here gesê, so lief dat hy vir Hom enigiets sal gee indien Hy daarvoor sou vra. Kom ons toets dan vir Abraham, het Satan vinnig gereageer. Kom ons kyk of hy bereid is om enigiets te gee wat U vra. Wat van Isak? Vra hom om Isak vir U te gaan offer! Dan sal ons weet; dan sal ons mos kan sien of hy regtig alles, ook sy kind, in u hande sal plaas – hierop volg dan, volgens die legende, die geskiedenis van Genesis 22.” (Coenie Burger).

Nou, dit is net ‘n legende. Maar, dit onderstreep die erns van Genesis 22. Dit help ons verstaan dat  Abraham se geloof uiteindelik nie net vir hom ‘n saak van lewe en dood was nie. Abraham se geloof was ook vir God geen speletjie nie. Dit was ‘n saak van dodelike erns. Ook vir God.

Daarom is dit van soveel belang om God se stem aan Abraham te hoor: “Nou weet ek dat jy My dien …”

Die hemel het ‘n sug van verligting geslaak toe Abraham in God geglo het ten spyte van die toets wat vir hom gestel is.

3. Geloof is vir jou ‘n ernstige saak
Wat ons bring by vandag en ons eie geloof in God. Geloof is ook vir jou ‘n ernstige saak.

God sal waarskynlik nie van jou vra om jou seun of dogter fisiek te offer nie.  Hy kan en sal egter van jou vra dat jy Hom eerste stel in jou lewe. Dat jy in die eerste plek lojaal aan Hom sal wees en bly. Selfs al word jy daarin getoets.

Dit gebeur dikwels in ons persoonlike lewe en in die lewe van die kerk dat daar sulke tye van toetsing kom. Dit is die tye waarin ons lojaliteite en prioriteite opnuut geweeg word.

Die grootste gevaar vir die kerk is dat ons lojaliteite en prioriteite maklik skeef getrek word. Ons begin leef asof ons die beloftes van God besit. Ons begin leef en optree asof ons die beskikkingsreg het oor die gawes van God.

Iemand vertel die verhaal van kinders wat ‘n jakkals probeer vang het. Die een seun het die jakkals gejaag tot in sy gat en daar ‘n deel van die jakkals beetgekry. Hy het geskreeu: “Ek het hom! Ek het hom!” Kort daarna het sy wysie verander: “Hy het my! Hy het my!” 

Net so kan dit maklik gebeur dat die Here se mense mag dink dat hulle nog in beheer van ‘n situasie is, terwyl hulle lankal vasgevang is in die spinnerak van nuwe lojaliteite. Prof Bethel Müller skryf in ‘n preekstudie oor die teks:

“Daar is baie dinge wat ons kan opbou in ons land: ons bodem, taal, kultuur, wetenskap, ekonomie. Dis alles belangrik … Maar dan moet ons oppas dat ons nie so besig is net met die opbou van hierdie dinge ter wille van hulleself nie, dat ons ons daarmee so afsloof dat ons te moeg en te lusteloos is vir die eintlike bouwerk aan die tempel van die Here.”

Jy sien, die kerk mag nie dubbelvisie hê nie. Die kerk kan nie twee Here dien nie. Jesus waarsku dat ons altyd die een bo die ander sal stel (Matt. 6:19-33). Die kerk se hoogste lojaliteit is altyd om haarself vir die koninkryk van God en vir sy wil te beywer. God sal vir die ander dinge sorg.

Die toets waarvoor ons dikwels gestel word, is of ons bereid is om die Here onvoorwaardelik te volg. Om sy stem in die Skrif nie net te hoor nie, maar ook te doen, selfs as dit netelig is, selfs as dit ontstellend is.

As die Here vandag vir sy kerk vra om sy opdragte in die Skrif bo alle ander opdragte en lojaliteite te stel – bo ons toekoms, kinders, man, vrou, werk, die heersende moraal van die samelewing – wat sal die kerk se pad wees?

Martin Luther King het tereg eenmaal gesê: “The ultimate measure of a man is not where he stands in times of comfort and convenience, but where he stands in times of challenge and controversy.” So word die kerk ook uitgeken. So word jy ook uitgeken.

Johannes Hus

Ons sluit met die verhaal van Johannes Hus, een van die eerste Hervormers wat op Maarten Luther só ‘n groot impak gehad het, al het hy meer as ‘n honderd jaar vroeër geleef. Johannes Hus se moed van oortuiging het Luther geïnspireer om sy eie pad met die Here voluit en enduit te volg.

Johannes Hus, die Boheemse Hervormer, is 601 jaar gelede, op 6 Julie 1415, finaal gevonnis tot die dood. Sy kettery was dat hy die Skrif se gesag bó dié van die kerk geag het en geleer het dat ‘n mens nie iets ander as Christus nodig het vir sondevergiffenis nie. Hy het sterk teen die aflaatstelsel (indulgences) en die verering van heilige objekte (relics) in opstand gekom.

Voor keiser Sigismund het die biskoppe sy siel aan die duiwel toevertrou, waarop Hus geantwoord het: “En ek wy dit toe aan die mees barmhartige Here Jesus Christus.”

Op pad na die brandstapel het Hus verby ‘n “bonfire” van sy boeke gestap. Hy het gestop, gelag, en vir die omstanders gesê, moenie al die leuens glo wat oor my vertel word nie.

Toe hy by die brandstapel kom, het hy gekniel en gebid. Vir die laaste keer is hy gevra of hy sy besware teen die kerk terugtrek. Hy het geantwoord: “God is my getuie dat die getuienis teen my vals is. Ek het nooit iets gedink of gepreek wat nie gemik was daarop om mense te red, indien enigsins moontlik, van hulle sondes nie. Ek het die waarheid van die evangelie geskryf, geleer en gepreek; vandag sal ek met vreugde sterf.”

Hulle het sy kleed uitgetrek, sy hande agter sy rug vasgebind, en sy nek met ‘n geroeste ketting aan die brandstapel vasgemaak. Hy het daarop kommentaar gelewer met ‘n glimlag dat sy Redder met ‘n swaarder ketting geboei was. Toe die vuur aangesteek is, het Hus ‘n weergawe van die Jesus-gebed begin sing: “Christus, Seun van die lewende God, wees ons genadig.” en toe: “Christus, Seun van die lewende God, wees my genadig.”

Hy het met ‘n gebed begin wat hy nie klaar gemaak het nie, want die wind het die vlamme in sy gesig gewaai.
(Lutzer, Rescuing the Gospel, in die hoofstuk A Morning Star (John Knox) and a Goose and Swan (Hus en Luther).

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1” (herhaal)

SEËNBEDE: Num 6 BDV en Gen 12
Mag die Here jou seën en jou beskerm.
Mag die Here Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.
Mag die Here Sy gesig na jou toe lig en aan jou vrede gee.
En mag jy vir ander tot seën wees. Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.