Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie reeks liturgiese voorstelle oor Galasiërs fokus spesifiek op die identiteit van gelowiges, en in vandag se gedeeltes kan afgelei word dat die identiteit van gelowiges aan die wel en weë van ander verbind is.

In die sleutelteks Galasiërs 6:(1-6) 7-16 lê Paulus klem op gelowiges se identiteit in die kruis en op hulle  liefdesdiens aan mekaar. In 2 Konings 5:1-14 kan die verbintenis (en ook liefdesdiens) tussen die betrokke persone in die genesingsproses van Naäman gesien word. Met die vertelling in Lukas 10:1-11, 16-20 stuur Jesus spesifiek sy volgelinge na dorpe uit in voorbereiding (en diens) van ander.

Psalm 30 is ‘n lofpsalm waarin die psalmdigter veral op blye wyse woorde soos “vir altyd sal ek U loof” uiter.

 Ander tekste

2 Konings 5:1-14
Naäman word genees van melaatsheid
5 Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ’n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ’n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ’n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.

2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ’n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”

4Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.

5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met ’n brief na die koning van Israel toe.”

Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

7Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”

8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ’n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ’n profeet in Israel is.”

9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ’n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”

11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”

So het hy woedend daarvandaan teruggery.

13Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”

14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ’n klein seuntjie en hy was weer rein.

Psalm 30
Vir altyd sal ek U loof
30 ’n Psalm. ’n Lied vir die inwyding
van die tempel. Van Dawid.2Ek wil u lof verkondig, Here,
want U het my gered
en my vyande nie laat bly wees
oor my nie.
3Here my God, ek het
na U geroep om hulp
en U het my gesond gemaak.
4Here, U het my gered
van die doderyk,
my aan die lewe gehou toe ek
al op pad was na die dood toe.
5Sing tot eer van die Here,
julle wat Hom getrou dien,
loof sy heilige Naam!
6Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik,
maar sy goedheid lewenslank.
Gisteraand was daar nog trane
en vanmôre lag ek al weer.
7Toe dit goed gegaan het,
het ek wel gesê:
“Niks sal my ooit laat wankel nie.”
8Deur u goedheid het U my
op ’n veilige berg laat staan, Here.
Maar toe U U aan my onttrek het,
het ek baie bang geword.
9Ek het na U geroep, Here.
Ek het U om genade gesmeek:
10“Watter voordeel is daar
in my ondergang
as ek die graf moet ingaan?
Kan stof U loof?
Kan dit u trou verkondig?
11Luister, Here, en wees my genadig!
Help my, Here!”
12Ek was in die rou,
maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek
en vir my feesklere aangetrek.
13Daarom sal ek sing tot u eer;
ek sal nie stilbly nie.
Here my God, vir altyd sal ek U loof!

Lukas 10:1-11, 16-20
Die sending van die twee en sewentig
(Vgl Matt 11:20–24)
10 Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. 2Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.

4“Moenie ’n beurs of ’n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie. 5As julle in ’n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’6As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom. 7Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon. 8As julle in ’n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit. 9Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ’Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’10Maar as julle in ’n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: 11“Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’

12Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp.

13“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. 14Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle. 15En jy, Kapernaum, dink jy jy sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal!
16“Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”

Die terugkoms van die twee en sewentig
17Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.”

18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val. 19Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. 20En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.”

Fokusteks

Galasiërs 6:(1-6) 7-16
Dra mekaar se laste
6 Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. 2Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. 3As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself. 4Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ‘n ander te vergelyk. 5Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het.

6Iemand wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het.

7Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. 8Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. 9Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. 10Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.

Laaste waarskuwing en groet
11Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters!

12Daardie mense wat so daarop aandring dat julle julle ook moet laat besny, wil maar net uiterlik ‘n goeie indruk maak, sodat hulle nie vervolg sou word ter wille van die kruis van Christus nie. 13Al het hulle hulle laat besny, onderhou hulle self nie die wet van Moses nie, maar hulle wil net hê dat julle julle moet laat besny sodat hulle kan roem oor wat met julle liggaam gebeur het. 14Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. 15Of ‘n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ‘n nuwe mens is. 16En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel—mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys.

17Niemand moet dit vir my verder moeilik maak nie, want ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam.

18Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle gees wees, broers! Amen.

Ekstra stof

GALASIËRS 6 – Ons dra mekaar se laste – Soli Deo Gloria
Daar word vandag baie geskryf oor die liefde en dat die liefde die sleutel tot die Christelike lewe is.    Heel gepas sê mense dat hierdie liefde “nie ‘n wettiese soort gehoorsaamheid” is nie, soos ‘n mens dit in Galasiërs 2 tot 5 hoor.  Soos Paulus in Galasiërs 5 sê: “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.”  En: “Al wat van belang is, is die geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”  Liefde word dus verstaan as ‘n dienende ondersteunende gesindheid wat die belange van ander op die hart dra.

En dit is reg so.

Die liefde word in die konteks van die sonde uitgeleef
Maar waaroor daar nie genoeg geskrywe, gedink en gepraat word nie, is die konteks waarbinne dié liefde uitgeleef moet word.  Die konteks in Galasiërs 5 en 6 is die konteks van die sonde.  Paulus skryf oor die stryd tussen die Gees en die vlees, die stryd tussen die vrug van die Gees en die sondige praktyke van die vlees.

En die liefde waartoe ons opgeroep word, is om juis in die konteks van die sonde wat só maklik op ‘n persoonlike, gemeentelike en sosiale vlak hand uit ruk: “deur die liefde tot dade” oor te gaan.  Ons moet genoeg omgee om mekaar se laste te dra, en dan praat Paulus nie van die las van een of ander behoefte nie, maar baie spesifiek die las wat die sonde op ons plaas, soos hy in Galasiërs 6 baie pertinent gaan skryf.

Die liefde vir mekaar beteken dus in Galasiërs 5 en 6 dat ons nie onsself of ander mense toelaat om in die stryd tussen die Gees en die vlees in die sonde te val en daarin te bly nie.  Ons liefde roep ons op om só veel om te gee dat ons bereid sal wees om met sagmoedigheid iemand wat in een of ander sonde val, reg te help, en so die las van iemand te help dra wat gebuk gaan onder die uitdaging van versoekings en vasgevang is in die worsteling tussen die Gees en die vlees wat só heftig in ons kan woed.  “Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus“, die wet van die liefde, sê Paulus in Galasiërs 6:2. Terwyl ons versigtig is dat ons self versoek word.

Neem persoonlik en as geloofsgemeenskap verantwoordelikheid in die stryd teen die sonde
Dit gaan dus nie hier in Galasiërs 5 en 6 oor die hulp aan behoeftiges of lydendes nie, hoewel daar natuurlik baie ander gedeeltes in die Bybel is wat dít beklemtoon.  Hier is Paulus egter besig om te sê dat die liefde ons oproep om aan die een kant persoonlik verantwoordelikheid te neem om die suigkrag van die sonde deur ‘n wandel in die teenwoordigheid van die Gees (peripateō) die hoof te bied (vers 16).  Aan die ander kant moet ons as geloofsgemeenskap ons ten doel stel om saam soos in ‘n peleton te marsjeer in gelid met die Gees (stoicheō) om volgens sy waardes op te tree (vers 25).

Dit sluit in dat ons persoonlik sorg dat ons nie verval in die sondes van onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap, en orgies nie.  Dit sluit ook in dat ons in ons gemeenskap met mekaar sal sorg dat ons mekaar lief het deur nie in vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring en afguns te verval nie.

Uiteraard moet ons ook nie by afgodery en towery betrokke raak nie, maar eerder fokus daarop om die vrug van die Gees in ons lewe toe te laat:   die gawes vir jou innerlike lewe: liefde, blydskap, vrede;  die gawes vir jou gedrag in die gemeente: geduld, vriendelikheid, goedheid; en die gawes vir jou gedrag in die gemeenskap: getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Net soseer dat ons as ‘n geloofsgemeenskap moet waak daarteen dat ons onsself in die hok waarin die wet ons kan toesluit, bevind, só moet ons waak teen die moeras van die sonde wat ons kan verstrik en in losbandigheid kan laat verval.

Kom ons lees hoe Paulus dit in Galasiërs 6 verwoord.

1 Broers, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat die Gees het, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp; maar let op jouself dat ook jý nie versoek word nie.  2 Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus. 3 As iemand meen dat hy iets is terwyl hy niks is nie, bedrieg hy homself. 4 Elkeen moet sy eie dade beoordeel; dan sal hy sy trots net vir homself kan hou sonder om by ander daaroor te spog, 5 want elkeen moet sy eie las dra.  6 Wie onderrig ontvang, moet die een wat hom onderrig, laat deel in al die goeie dinge wat hy besit.  7 Moet julle nie laat mislei nie —God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai. 8 Hy wat in sy sondige aard saai, sal uit sy sondige aard vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes. 9 Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes. 10 Daarom: Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan ons geloofsgenote.

Finale waarskuwing
11 Kyk met watter groot letters skryf ek nou vir julle in my eie handskrif. 12 Mense wat deur die uiterlike ‘n indruk wil maak —dit is hulle wat julle probeer dwing om besny te word, net sodat hulle nie ter wille van die kruis van Christus vervolg sal word nie. 13 Want diegene wat ten gunste van die besnydenis is, onderhou self nie die wet nie, maar hulle wil hê dat julle besny word sodat hulle oor julle uiterlike kan spog. 14 Maar wat my betref, mag dit my tog nie oorkom dat ek spog nie, behalwe oor die kruis van ons Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld. 15 Want besnedenheid of onbesnedenheid beteken hoegenaamd niks nie, maar wel die nuwe skepping. 16 Vir hulle wat volgens hierdie beginsel leef: vrede en barmhartigheid —en vir die Israel van God!  17 Ten slotte, niemand moet my verder moeite gee nie, want ek dra die littekens van Jesus aan my liggaam.

Seëngroet
18 Die genade van ons Here Jesus Christus bly met julle gees, broers! Amen.   (BDV)

Dra mekaar se laste wanneer die sonde iemand oorval
Ek wonder hoeveel van julle het gedink dat Paulus hier van laste in die konteks van sonde praat.  Ek dink ons almal het eintlik dié frase los van die konteks gehoor, soos ‘n koringkorrel, en verkeerdelik aanvaar dat Paulus hier doodgewoon praat van die laste van die lewe, dié dinge wat verkeerd gaan, die uitdagings van siekte, of finansiële nood, of watter ander krisis mense ook al tref.

Maar, dit is nie waaroor Paulus hier praat nie.  Hy praat van dié gevalle van ons geloofsgenote wat deur een of ander sonde oorval word, hetsy persoonlik in onsedelikheid, onreinheid of losbandigheid of in die gemeenskap deur vyandskap, tweespalt of selfsug.

En sy opdrag aan ons is om met groot versigtigheid in liefde en sagmoedigheid – as deel van die vrug van die Gees – betrokke te raak en só iemand reg te help, terwyl jy versigtig is dat jy nie self in sonde val, deur bv. by die vyandskap betrokke te raak of self in losbandigheid te verval nie.

Dit is dié tipe liefde waarvan hy praat as hy sê dat as ons só mekaar se laste help dra, dan is ons besig om die wet van Christus, die wet van die liefde uit te voer.  “Caring enough to Confront“, soos iemand een keer gesê het.

Paulus beklemtoon dus in hoofstuk 6 hoe ons mekaar lief moet hê, hoe ons mekaar moet help, veral as iemand in sonde val.  Dra mekaar se laste, die laste wat kom as die sonde ons oorval. Dit is die essensie van ons liefde vir mekaar.

Help mekaar reg in ‘n gees van sagmoedigheid
Help mekaar reg in ‘n gees van sagmoedigheid.  Dit is só ‘n belangrike deel van ons Christelike lewe.  Maar dit is natuurlik ook iets wat regtig baie van jou vra, want dit beteken jy moet afstand doen van jou eie behoeftes en ander s’n eerste stel.  Jy sal die versoeking moet weerstaan om ander se probleme te gebruik om jou eie beeld, hetsy persoonlik of publiek, te bou.

Want, dit is hoe ons baie keer reageer op ander se probleme.  Ons dink nie daaraan hoe ons hulle kan help nie. Eerder hoe ons daaruit baat kan vind.

Jy sal sien dat mense wat aan ‘n minderwaardigheidskompleks ly, hulle sal verheug oor ander se skande, want dit bring die sondaars nader aan hulle eie vlak.  Mense wat aan ‘n meerderwaardigheidskompleks ly, sal hulle weer verheug oor ander se skande, omdat dit dan duidelik blyk dat hulle beter is as die sondaars.  Nee, ons moet ander reghelp in ‘n gees van sagmoedigheid, sonder om ons eie beeld daardeur te probeer bou. Terwyl ons ook versigtig is dat ons nie self in sonde val nie.

Ons moet dus nie ander mense se probleme gebruik om ons eie beeld te bou nie.  Ons moet mekaar se laste dra.  Dit beteken dat jy ‘n deel van hulle las jou eie maak.  Jy kan immers nie iemand help dra aan iets, sonder dat ‘n deel van hulle las ook joune word nie.  Dit is soos om ‘n swaar ding soos ‘n tafel te dra.  As dit 50 kg weeg as jy dit self dra, dan weeg dit eintlik net 25 kg as twee van julle dit dra.  Dit is wat gebeur as jy iemand se laste dra.  ‘n Deel daarvan word jou las.  En ons moet dit ons missie in die lewe maak. Ons moet mekaar se laste dra.

Maar, Paulus is heel duidelik hieroor.  As jy te veel van jouself dink, dan sal jy dit nie doen nie.  Dit is wat vers 3-5 sê.  Daarom, moet jouself nie mislei nie.  As jy iets doen wat goed is, reg so.  Geniet dit, maar moenie jouself begin vergelyk met ander nie, want dan sal jy net begin om jouself te mislei, en nie bereid wees om ander te help nie.

Leef die kruisevangelie
Onthou dat jy self ook blootgestel is aan die stryd tussen die Gees en die vlees, dat die sonde ook vir jou loer om jou in sy mag te kry, soos die Here vir Kain gewaarsku het al in Genesis 4.  Jy moet self sorg dat jy in die Gees wandel en in gelid met die geloofsgemeenskap volgens die waardes van die Gees, terwyl jy uitreik na dié wat dit moeilik vind in die stryd teen die sonde.

Dit is hoe die kruisevangelie daar uitsien, soos Paulus in vers 11 en verder aanvoer.  Mense probeer deur die eeue die kruis uit die evangelie uithaal.  Dit is in effek wat Petrus en Barnabas gedoen het deur hulle met die Jode en nie die gelowiges uit die heidene te assosieer nie.  Hulle het probeer om die Jode te beïndruk, om op hulle ‘n goeie indruk te maak, om populêr te wees. Hulle het egter daarmee die besnydenis, die kenmerkende identiteitsmerker van die Jode, verheerlik, en dit as iets waarop ‘n mens trots kan wees, vir ander voorgehou.

Want, hulle het geweet, as hulle dit nie doen nie, sal die Jode hulle aanvat en vervolg.  Hulle het dus die populêre weg gevolg.  Met die gevolg, dat hulle die kruis van die Here Jesus daardeur ontwyk het, nie die pyn gevat het van die assosiasie met die gelowiges uit die heidene nie.  En só het hulle ontrou geword aan die kruisevangelie van hulle Heer en Meester, Jesus Christus.

Al wat van belang is, is dat ons as nuwe mense leef
Die enigste ding wat vir hulle belangrik moes wees, is of mense nuwe mense is of nie.  Of hulle dit regkry om in die Gees te wandel en die vrug van die Gees dra, of hulle oorwin in die stryd tussen die Gees en die vlees.  En as hulle nie slaag nie, moet hulle met sagmoedigheid reggehelp word.  Of die gelowiges vroeër Jode was of heidene het nie ‘n snars saak gemaak nie.  Die ware Israel was dié mense wat nuwe mense geword het, en wat in Christus geroem het, nie in die besnydenis of die wet nie.  En verseker nie die genade misbruik het om in sonde voort te leef nie.

Daarom, sê Paulus, is dit so belangrik om op die akker van die Gees te saai, en nie op die akker van die vlees nie, hetsy op die akker van die sondes waaroor hy in Galasiërs. 5 geskryf het nie, óf op die akker van die gehoorsaamheid aan die wet waaroor hy eintlik amper tot vervelens toe in die hele brief skryf.

Wat jy saai, sal jy maai
Moenie jouself mislei nie.  God laat nie met Hom spot nie.  Wat jy saai, sal jy ook maai.  As jy saai op die akker van die sondige vlees, sal jy die dood en die verderf oes.  As jy saai op die akker van die Heilige Gees sal jy die ewige lewe oes.  Die eer behoort altyd en alleen aan God.  Soli Deo Gloria.

Dus, moenie moeg word om goed te doen nie.  Moenie verslap nie.  Moenie terugdeins nie.  Dra mekaar se laste.  Help mekaar reg in ‘n gees van sagmoedigheid.  Doen goed aan almal, veral aan die medegelowiges.

Dit is die vryheid waartoe ons geroep word, om mekaar te dien en mekaar reg te help, uit liefde.

Dit is waarvoor Jesus Christus aan die kruis gesterf het.  Hy het gesterf sodat ons God se guns kan verwerf.  Hy het ons sondeskuld gedra sodat ons vry kan raak van die strik van die wet en die sonde.  Hy het die prys vir ons betaal sodat ons die ewige lewe kan beërwe.

Dit is die enigste ding waarop jy trots kan en mag wees.  Die kruis van die Here Jesus Christus.  Niks anders tel nie.  Dit is die beginsel waaruit ons almal moet lewe.  Want, dit is net diegene wat vasstaan in die vryheid wat God vir ons in Christus gegee het, wat die vrede van God sal ervaar en sy barmhartigheid sal beleef.

Soos in van sy ander briewe (1 Kor. 16:21; Kol. 4:18; 2 Tess. 3:17) sluit Paulus dié een af in sy eie handskrif.  En dit is heel gepas ‘n snydende aanval op die besnydenis voorstanders.  Hy wys onder andere uit dat hulle dit eintlik om selfsugtig redes doen, om met hulle beheer oor die liggaam van ander te kan spog.  “Of ‘n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ‘n nuwe mens is“.

Hierdie nuwe mense, mense wat vry gemaak is deur Christus, is die ware Israel – die eerste keer dat hy so prontuit hierdie term gebruik en op die kerk van toepassing maak (Romeine 9-11 brei hierop uit).

Soli Deo Gloria!

Liturgie

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord
Seëngroet 

Sang: Lied 198 “God is my lied 1,2,3”

Verootmoediging: Voorgangers uit die gemeente lees uit Psalm 30

Geloofsbelydenis: (Maretha Martens) of
NG Gemeente Wellington het ’n besonderse weergawe van die Apostoliese Geloofsbelydenis wat op Bybel-Media se profiel op YouTube beskikbaar is, en wat ook in hierdie geval treffend gebruik kan word. Hier is die skakel vir die video.

Loflied: Lied 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Galasiërs 6:7-16

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord
Voorganger: En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.
Gemeente: Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

Seëngroet
Geliefdes, kinders van God, daar is vir julle genade en vrede van God ons Ewige Versorger, en die Here Jesus Christus wat Homself vir ons sondes gegee het sodat ons nie meer self hoef te probeer nie, sodat ons nie meer tekort skiet nie, sodat ons genoeg kan wees – omdat Hy genoeg is. “Aan God kom alle heerlikheid toe tot in alle ewigheid. Amen” (uit Gal 1:5).

Sang: Lied 198 “God is my lied 1,2,3”

Verootmoediging
Voorgangers uit die gemeente lees uit Psalm 30:
Voorganger 1: Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered en my vyande nie laat bly wees oor my nie.
Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak.

Here, U het my gered van die doderyk, my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe.
Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof sy heilige Naam!
Gemeente: Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy goedheid lewenslank.
Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.

Voorganger 2: Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê: “Niks sal my ooit laat wankel nie.”
Deur u goedheid het U my op ’n veilige berg laat staan, Here.
Maar toe U U aan my onttrek het, het ek baie bang geword.
Ek het na U geroep, Here.
Ek het U om genade gesmeek: “Watter voordeel is daar in my ondergang as ek die graf moet ingaan? Kan stof U loof? Kan dit u trou verkondig? Luister, Here, en wees my genadig! Help my, Here!”

Gemeente: Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek en vir  my feesklere aangetrek.
Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie  stilbly nie.
Here my God, vir altyd sal ek U loof!

Geloofsbelydenis: (Maretha Martens)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
en in U , Jesus Christus, sy eniggebore Seun, my Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die jong meisie, Maria. Ek glo dat u, Jesus, gely het onder Pontius Pilatus;
dat U onskuldig gekruisig is en gesterf het
omdat U dit wóú doen, vir sondaars, vir my ook.

God het U op die derde dag tussen die dooies uit laat opstaan.
U het aan meer as 500 mense verskyn en nog baie met hulle gepraat. Daarna het God U, wat sy Seun is, van die Olyfberg af
opgeneem in die hemel en die apostels het dit gesien.
Ek glo U is nou by God, wat alles gemaak het en alles kan doen.
Ek glo U praat elke dag met God oor my. U pleit vir my en vir al my maats.
Ek glo U kom terug as Koning. Die Bybel sê U gaan die Regter wees
voor wie almal wat ooit geleef het, gaan verskyn.
Maar dat ons wat in U glo, niks het om voor bang te wees nie.
U het klaar ons straf gedra.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo ek kan net geestelik groei in ‘n gemeente waar mens hoor
wat in die Bybel staan; waar U, Jesus altyd in die middel is.

Ek glo dat U my gered het toe die Heilige Gees my oortuig het
dat ek moet begin sê U is my enigste Redder.
Ek weet ek sal op die aarde doodgaan, maar nooit dood wees nie.
Ek sal vir altyd en altyd by U wees.
Ek wil vir U iets sê, Jesus van Nasaret, één met die Vader.
Ek wil vir U sê… U is my lewe.
of
NG Gemeente Wellington het ’n besonderse weergawe van die Apostoliese Geloofsbelydenis wat op Bybel-Media se profiel op YouTube beskikbaar is, en wat ook in hierdie geval treffend gebruik kan word.

Loflied: Lied 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Liedere

F52. “Laat Almal Weet”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Diens / Getuienis)
Teks en Musiek: Deon Roberts
© 2000  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Laat almal weet dat Jesus waarlik liefde is.
Laat almal weet dat Jesus die Koning is.

Ons kan so gou vergeet dat daar ‘n God is wat van alles weet,
Wat almal elke dag van liefde leer, sy vrede gee,
die wêreld in sy hande hou
En soms vergeet ons weer
dat ons ‘n ander van ons God moet leer,
sy wonderliefde wat geen grense ken en harte vir Hom wen.

F212. “Die Here Het Hom Nodig”
(RUBRIEK: Flammiekidz – Diens & Getuienis)
Musiek: Neil Büchner & Lizette Louw
Teks: Louis Dressel
© 2008 MAR Gospel Music Publishers
Vgl 2 Kon 5:3,15; Joh 6:9; Mark 11:3 (NLV)

Naäman het die Here nodig
Dis wat die dogtertjie hoor.
Ek het ook die Here nodig
Dis wat ek steeds hoor.

REFREIN:
Here, lei my
Heer, gebruik my
Here, stuur my.
Dis wat ek steeds hoor

Sy brood en vissies het Hy nodig
Dis wat die seuntjie hoor.
Die Here het my alles nodig
Dis wat ek steeds hoor.

REFREIN:

Die Here het ons almal nodig
Dis wat dissipels hoor.
Die Here het ons alles nodig
Dis wat ons steeds hoor.

RFREIN:
Here, lei ons
Heer, gebruik ons
Here, stuur ons

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Uit Psalm 119
105U woord is die lamp
wat my die weg wys,
die lig op my pad.
106Ek het ’n eed afgelê,
en daarby sal ek bly,
om my aan u bepalings te hou;
hulle is regverdig.
van u bevele wyk ek nie af nie.
111U verordeninge maak ek altyd my eie,
want hulle is vir my ’n vreugde.
112Ek lê my daarop toe om u voorskrifte
altyd uit te voer,
tot die einde toe.
Amen

Skriflesing: Galasiërs 6:7-16

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vir kindertyd kan sade aan die kinders uitgedeel word wat hulle by die huis in klam watte kan laat groei. Daar kan klem daarop gelê word dat wanneer ons wéét dat ons kinders van Jesus is, wanneer ons wortels in die wete geanker is, groei ons. En wanneer ons groei (soos die plant) kan almal dit sien in die manier waarop ons teenoor ander optree. Plante in verskillende stadiums van hul groeiproses kan ook hier ingespan word (bv sade, ontkiemde sade, volgroeide plante).
of
Demonstreer die storie van Chris Jones wat in die preekriglyn vertel word.  Kry ‘n kind of twee om eers een emmer te dra, en dan twee, en laat hulle kommentaar lewer oor watter manier makliker is.

“Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (6:2)  “Wanneer ek hierdie opdrag hoor,” vertel hy, “dink ek altyd terug na my kinderdae toe ek ’n swaar emmer water vir my pa moes aandra.  Ek het skeef-skeef aangesukkel.  Die emmer het kort-kort teen my knie gekap en ek het water gemors.  Ek was ongebalanseerd.  Ek het soms van die water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp nie.  Al wat regtig gehelp het, was om nog ’n emmer water op te tel en die twee emmers op een slag te dra.  Op die manier was jy meer gebalanseerd, het jy makliker geloop en niks water gemors nie.”

Pas dit dan toe deur hulle aan te moedig om dieselfde met mekaar se laste te doen.

Preekriglyn

Die brief aan die gelowiges in Galasië het een deurlopende tema: die gelowiges se identiteit in Christus. In hierdie brief is dit vir Paulus van besondere belang dat die lesers (en hoorders) van die brief sal begryp dat Christus, deur sy kruisdood en opstanding, vir gelowiges ‘n ánder en nuwe lewe bewerkstellig het – nie een wat deur gehoorsaamheid aan Joodse wette en gebruike soos die besnydenis verkry word nie, maar ‘n lewe van vryheid wat reeds aan gelowiges gegéé is.

Ons teks staan aan die einde van die Galasiërbrief. Paulus is hier besig om die belang van Christus se gawes aan ons uit te wys, en die hoofargumente van sy brief saam te vat.

Komende oordeel

In verse 7-10 praat Paulus oor die komende oordeelsdag; ‘n tyd wanneer die dade en lewe van alle mense (insluitend gelowiges) beoordeel sal word. Hier gebruik die apostel ‘n beeld uit die landbou met die oes-tema, wat voortdurend in die Bybel vir die finale oordeel gebruik word.

Paulus se verwysing na die finale oordeel het egter nie ten doel om vrees by gelowiges te wek nie. Dit is eerder motivering vir gelowiges om sover moontlik volgens die “Wet van Christus” te leef om sodoende in liefde goed aan ander te doen.

Groot letters!

Vers 11 is ‘n interessante gedeelte waarin Paulus na sy eie handskrif verwys. Daar is twee moontlike redes vir hierdie opmerking.

  • Eerstens kon Paulus ‘n skriba gebruik het om die brief te skryf en dat hy by hierdie persoon oorgeneem het om die slotrede te skryf. Daarmee sou hy dan bevestig dat hy die outeur van die brief is.
  • Die tweede rede kan wees dat hierdie gedeelte vir Paulus so belangrik is, dat hy dit in groter letters geskryf het. Beide verduidelikings dui aan dat dit vir Paulus belangrik was dat sy gehoor van die inhoud van die slotrede sou kennis neem.
Slotrede

Die Galasiërbrief sluit af in vers 12-17 met Paulus se slotrede. Die slotrede is ‘n formele element vn ‘n brief uit die antieke tyd. Dit bied ‘n puntsgewyse opsomming van die argument om die gehoor opnuut aan te vuur om die argument met passie ter harte te neem.

Vers 12 en 13 vorm ‘n eenheid waarin Paulus twee van sy hoofgriewe met betrekking tot die geloofsgemeenskap in Galasië aanspreek:

  • Hier gaan dit oor Christene (uit die heidendom) wat die besnydenis gebruik om ‘n goeie indruk te skep (vermoedelik om vervolging en swaarkry deur die Joodse leiers vry te spring omdat dit sou blyk dat die persoon wat besny is, ‘n proseliet tot die Jodedom is).
  • Tweedens fokus Paulus op Christene wat daarop aandring dat nuwe gelowiges hulle laat besny en daaroor roem.

In vers 14 stel Paulus sy eie lewe teenoor die dade van diegene wat in vers 12 en 13 genoem is. Paulus beklemtoon die enigste rede vir roem, naamlik die kruis van Christus en later (17) sy littekens (ter wille) van Jesus.

In vers 15 en 16 maak Paulus dit duidelik dat die identiteit van gelowiges nie in die uiterlike besnydenis (en die voordeel wat hulle daaruit trek) lê nie, maar dat hulle identiteit deur die kruis van Christus bepaal moet word.

Hierdie identiteit veronderstel ‘n nuwe mens en ‘n nuwe wêreld; een wat nie deur die uiterlike moralistiese gebruike en reëls beheers word nie, maar wat daarin bestaan om die “Wet van Christus” deur die leiding (en in die vrug van die Gees) te gehoorsaam. Diegene wat só leef, sal God se vrede en barmhartigheid ontvang en is deel van gemeenskaplike lewe in Christus; deel van die ware Israel.

Lewe in Christus

Hierdie laaste gedeelte (12-16) is ‘n voorbeeld van Paulus se uitstekende redevoering. Hy stel telkens die nuwe, vrye lewe in Christus teenoor die moralistiese, wettiese lewe van die dag, deur die volgende antiteses uit te lig:

  • om te roem oor die besnydenis, teenoor om te roem oor die kruis;
  • om vervolging ter wille van die kruis te vermy, teenoor die dra van die merke van die kruis;
  • om aan te dring daarop dat ander besny word, teenoor die wete dat dit nie saak maak of mense besny of nie;
  • ‘n lewe onderhewig aan ‘n vorige era se denkwyse, teenoor ‘n nuwe lewe wat met Christus se kruisiging en opstanding aangebreek het.

Paulus maak in sy slotrede opnuut die sentrale punt van hierdie brief aan gemeentes in Galasië: Die identiteit van gelowiges lê nie in hulle onderhouding van wette en gebruike nie, maar begin en eindig slegs by die kruis van Jesus Christus.

Oor geloof

Kom ons pas  nou die betekenis van ons teks toe deur na te dink oor die betekenis van gelof.

Ons is goed vertroud met die woord “geloof”. Ons gebruik die woord dikwels in die kerk en godsdienstige gesprekke. Ons gebruik dit egter ook gereeld in ons alledaagse lewe, met frases soos “ek glo in jou”, “ek glo in die liefde”, of “ek glo nie dit gaan môre te koud wees nie”. Die vraag is wat dit sou beteken “om te glo”, of om jou “geloof in iets te plaas”.

Wat bedoel Paulus wanneer hy byvoorbeeld aanvoer dat dié wat glo “nuwe mense” (Gal 6:15) is?

Wanneer ons oor hierdie vrae nadink, is dit handig om oor die Griekse woord pistis (geloof) te dink, wat Paulus so gereeld in sy briewe gebruik, ook in sy brief aan die Galasiërs (vgl 2:16, 20; 3:11).

Die interessantheid aangaande Griekse woorde is dat een woord ‘n wye betekenis kan dra. Alhoewel pistis as “geloof” vertaal word (wat goed en reg is), dra die woord ook ander betekenisnuanses:

  • om jou vertroue in iemand te plaas;
  • om iets as ten volle waar te aanvaar;
  • om iets of iemand as betroubaar te sien, en;
  • om daaraan getrou te wees.

Aan die hart van die woord pistis, is die eienskap van vertroue: om met alles wat jy het, en alles wat jy is te vertrou. Dit is wat Paulus hier sê. Hy vra van die mense wat sy brief lees (ook vir ons nou), om God en die kruis van Christus te vertrou. Ja, om sodanige vertroue volkome in die waarheid van Christus te plaas.

Waarop ons vertrou

Alhoewel die Galasiërs geweet het dat hulle hulle vertroue in die kruis van Christus moes stel – dat hulle met hulle volle gewig op die waarheid van die evangelie moes steun – het baie van die nuwe gelowiges hierin gefaal.

Hulle het eerder hulle vertroue gerig

  • op sigbare tekens;
  • op onderhouding van wette;
  • op dinge wat hulle in die oë van ander (veral hulle teenstanders en vervolgers) as “gelowig” sal laat tel;
  • op dinge wat hulle posisie by ander sal versterk; wat hulle persepsie van ander sal verander/verbeter;
  • op dinge wat hulle lewe as gelowiges makliker sal maak.

Dit is hierdie dinge wat Paulus aanspreek in die sleutelteks. Vers 12 en 13 het direk betrekking op hierdie leefwyse, terwyl die eerste gedeelte van ons Skrifgedeelte deurlopend hierteen waarsku.

Ons doen dikwels dieselfde. Ons stel ons vertroue op sigbare dinge wat ons in die oë van ander laat geld en wat ons veilig laat voel:

  • Vertroue op dit wat ons besit,
  • op die neseiertjie wat ons dalk vir eendag wegbêre;
  • ons jeugdigheid, uiterlike voorkoms, onafhanklikheid, mag by die werk, gesondheid, intellek, vriende en familie
  • Ons stel dalk selfs ons vertroue op ‘n reeks “godsdienstige gebruike” (wat ander kan raaksien) eerder as om ons vertroue in die waarheid van die evangelie te plaas.

Ons leun nie met al ons gewig op die kruis nie. Ons, soos die mense in Galasië, rig eerder nóg nuttelose stutpilare op ander plekke op.

Bygestaan deur die Gees

God weet egter dit is vir mense moeilik om hulle vertroue volkome op Hom te plaas. Daarom stuur God sy Gees om in ons harte te werk om ons te leer en te lei. So is geloof iets wat God in ons lewe kom doen; iets wat God aan ons gee deur sy genade. Selfs ons antwoord op God se genade is genade wat moontlik gemaak word deur die Gees. Daarom is verlossing uit genade en verlossing deur geloof, één en dieselfde ding. Dié twee uitdrukkings is sinonieme. Geloof is die werking van genade, en genade word deur geloof ontvang. Dit is hierdie waarheid van die evangelie wat Paulus voortdurend deur die brief aan die Galasiërs bevestig. Dit is hierdie vertroue wat God aan ons gee, wat van ons nuwe mense maak.

Werke?

Wat nou gemaak met werke? Maak dit glad nie meer saak hoe ons leef of wat ons doen nie? Nee, want sien, dit waarin jy glo, dit waarin jy jou vertroue stel, dit waarvoor jy jou lewe gee, dit waarop jy met alles wat jy het, met jou volle gewig leun, bepaal hoe jy optree; hoe jy leef. As jy iemand of iets “vertrou”, is jy ook “getrou” daaraan.

Ons is immers hele mense. Ons leef nie ‘n dualistiese lewe waar dit wat in ons kop aangaan los van ons lyf en dade is nie. Ons is nie net ‘n kop wat ronddryf waarin ons geloof bedink nie. Nee. Omdat ons op God vertrou, word die vertroue sigbaar in dit wat ons doen. Ons word nie gered op grond van ons goeie dade nie, maar omdat ons deur genade in God glo; in Christus glo, met ons hart, siel en liggaam aan Hom behoort.

Daarom kan ons nie anders as om aan Hom en dit wat Hy van ons vra, gehoorsaam en getrou te wees nie. Hierdie lewe van getrouheid word in die sleutelteks verwoord met die opdrag om die “Wet van Christus” uit te voer deur mekaar se laste te dra (6:2), om ander wat struikel “in sagmoedigheid reg te help” (6:1), en om goed te doen aan almal (6:9, 10).

Uitgenooi om te vertrou

Galasiërs is ‘n brief wat diep by ‘n mens moet insink. Geloof i om weg te kyk van jouself en jou eie verdienste, en om Christus te omhels as die Gewer én inhoud van ons geloof.

Geloof is om op God en die waarheid van die kruis te vertrou. Om met ons volle gewig op God en sy werk deur Jesus Christus te steun. Om te weet dat dit wat God vir ons sê en wat Hy gedoen het en steeds doen, betroubaar is. En dat hierdie vertroue nie net ‘n kop-ding is nie, maar die geheel-mens insluit, deur die werking van die Heilige Gees wat van ons nuwe mense maak.

Aangesien ons Christus vertrou, begin ons volgens die Wet van Christus te leef, soos die Woord ons leer.

God stuur ons om te leef

Gebed
Jesus Christus, ons weet wat u opdragte is.
Laat dit dan ons lewenswyse bepaal:
laat ons die wat honger is iets te ete gee,
laat ons die wat dors het, iets te drinke gee,
laat ons klere gee vir hulle wat sonder klere is,
laat ons vreemdelinge verwelkom,

laat ons siekes en gevangenes besoek.
Dan sal U wat regverdig oordeel vir ons sê:
Kom, julle wat deur my Vader geseën is!
Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei.
Neem dit as erfenis in besit. Amen.
(Bisantynse vespers/gebede)
Uit Woord en Fees 2018/19

Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën
Die liefde van God Drie-enig lei jou
van dood na lewe;
van dwaling na waarheid;
van onrus na vrede;
van wanhoop na hoop.
Die Here is by jou en sal jou seën,
van nou af tot in ewigheid.
Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.